Читать книгу Diepsee - E. Kotze - Страница 3
Voorwoord
ОглавлениеAs kind in Namakwaland had ek min leesgoed, maar darem elke week Die Huisgenoot. Dis waar ek Sussie Kotze se verhale in my vroeë tienerjare leer ken het. “Winters en tant Fien”, “By Franken se pan” … En dan die onvergelyklike “Halfkrone vir die Nagmaal”. Ek onthou tot vandag toe die gevoel wat daardie verhaal in my losgemaak het, hoe dit dae lank in my gemoed bly draal het. Eers ’n hele paar jaar later, op universiteit, het ek agtergekom dat die gelyknamige bundel die Eugène Marais-prys gewen het. En dat André P. Brink in sy resensie in Rapport geskryf het: “Liewe Here, maar dis ’n mooi boek!”
Sussie se verhale speel meestal in ’n baie spesifieke ruimte af, naamlik die Weskus, ook bekend as die Sandveld. Geografies gesproke is die Weskus die hele strook land wat aan die see grens van noord van Kaapstad tot aan die Oranjerivier, maar die Weskus waaroor sy skryf, strek rofweg van Velddrif en Laaiplek, verby Lambertsbaai, tot by Doringbaai neffens Strandfontein. Hier begin die Namakwalandse Sandveld, sodat daar ’n baie groot ooreenkoms is tussen die taal van die Weskus en dié van die groter Namakwaland, oftewel die Hardeveld.
Vir vele mense is streektaal hoofsaaklik ’n kuriositeit; skrywers wat dit gebruik, word maklik in ’n boksie genaamd “kontreiverhale” geplaas. Maar afgesien van die dialektiese kenmerke is dit die áárd van hierdie Afrikaans wat uitstaan: die unieke uitdrukkings en die besonderse grinterigheid van die taal wat ’n dorre, harde, ongenaakbare wêreld moet verbeeld. Om nie te praat van die terloopse, onderbeklemtoonde humor nie. In elke vertelling slaan dit uit soos die helderrooi spatsels van ’n vygiebos, want die mense van hierdie streek is gebore storievertellers – hulle kan jou laat lag sonder om ’n spiertjie te vertrek.
Haar seeverhale is Sussie se belangrikste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Die bekroonde digter en literêre kenner Petra Müller het by geleentheid gesê dat sy die skrywer is wat omtrent eiehandig gesorg het dat ’n seewoordeskat in Afrikaans behoue bly – ons taal stam immers uit dié van ’n seevarende nasie. Woorde soos “kenter”, “loom”, “halfsee”, “bonks”, “banklêer”, “seebaard” en “bokstang” staan vandag opgeteken danksy haar boeke.
’n Mens moet Sussie se verhale fyn lees, want dis fyn geskryf – só fyn dat die haastige of ongeduldige leser maklik die waarde daarvan kan miskyk. Dis stories oor mense wat die spreekwoordelike sout van die aarde is – of dan silt, soos in een van haar verhaaltitels. Eenvoudige mense, arm mense, mense wat almaardeur vorentoe beur en planmaak om te oorleef. Dis die geboë rug van die soutraper, die bloedbevlekte hande van die snoekvanger, die sonverbrande arms van die wasvrou met haar gesig diep in die kappietuit versteek, die stoïsynse oë van die ouvrou wat taks om taks siekte en dood moet aanskou.
Sussie Kotze se werk is ’n kosbare skat vir Afrikaans en vir ons letterkunde, en hierdie bundel wil bydra tot die waardering en behoud daarvan.
SUZETTE KOTZÉ-MYBURGH