Читать книгу Diepsee - E. Kotze - Страница 6

Bloedige dag

Оглавление

Lya Solms skud die laaste stuk wasgoed met ’n driftige klapgeluid oop en pen die twee broekspype aan die draad vas. Dan buk sy en kantel die badjie blouwater in die gras om, gryp ’n stuk staalwol, skraap dit oor die seep en begin skuur die wateremmers en baddens met kort, haastige hale.

Sy hou die sonskaduwee dop wat om die watertenk se hoek kom. Sy het vanoggend vroeg, voordat sy plaas toe gekom het, haar eie bad wasgoed ingeseep en die suurdeeg net met meel deurmekaar gemaak en ’n bol gerol. Sy moet nog gaan knie.

“Wit en bont is op die bos,” rym sy, “en hard en sag is in die pot,” loop sy die tyd vooruit. Daar word agtermiddag geslag. In haar gedagtes ryg sy reeds die hamelskaap se binnevet van die derms af, ruik sy die bruingebraaide kaiings van die vetstert.

Die bloedige son brand haar tussen die blaaie. Dis ’n gruwelike dag. Met die draai van die somer kom daar soms sulke dae wanneer daar eintlik ’n swaelreuk uit die kliprantjies opslaan. Wanneer dit voel die duiwel krap vir oulaas kole uit voor die herfsgeel vlam in die bome. Glad nie ’n dag vir slag nie. Sulke dae dam die swoelte in die grasdak op en slaan snags binnetoe. Straks word die vleis bedompig. Maar daar is oesmense in die boorde wat rantsoen moet kry.

Lya sleep die blinkgeskuurde emmers deur die syferdam, keer hulle op die wasklip om en maak die blousellappie in ’n hoë mik sit. Dan sluk sy die laaste bietjie afgekoelde middagkoffie weg, spoel die bekertjie uit en begin haar eie goed bymekaarmaak.

Eenkant in die son lê haar kinders: die klein-kind aan die slaap onder ’n luier, en die lam enetjie met sy vuil gevreetjie. Hy loer vir haar met helder wakker oë en lig sy lyf toe hy gewaar dis looptyd. Sy maak die kleintjie in die abbakombers agter haar rug vas, tel die lamme op haar arm en gaan sê vir die boervrou sy loop eers.

By die agterdeur kry sy haar wasgeld en ’n treksel koffie-en-suiker deurmekaar in ’n vaalkardoes, ’n dubbele sny vis-en-brood daarby. Die oorskietsplinter seep kan sy maar vat om haar eie goedjies mee te gaan uitvryf.

“En onthou nou van die slagtery, kom maar deur as jy die veewagter met die skaap op die werf gewaar,” word sy herinner.

Met die uitgetrapte voetpad stap sy af rivier toe, oor die damwal en anderkant teen die skuinste uit, verby die ry enerse lae rietdakhuisies. Die Solmse woon in die heel laaste huis, langs die olienhoutbos, effens apart. ’n Kamer en kombuis is dit, met ’n venster en ’n deur en ’n skoorsteen. En ’n uitgetrapte stoep wat net hoog genoeg is om die vark uit die agterdeur te hou.

Die skoorsteen rook en die bodeur is oop, dus weet sy die skool is al uit.

Die opgeskote Mietjie het klaar geknie: ’n dubbele brood in ’n paraffienblikpan.

“Ma,” begroet sy Lya toe dié onder die lae kosyn inbuk en die lam kind op die drumpel laat sak, “Lewies-goed het weer aartappels in die as.”

Lya gryp die houtriem agter die deur en slaan ’n lang hou oor die tafel, maar die twee onkruide spat by haar verby en sy kry net ’n windhou in. “Hoekom is julle so ongehoorsamig? Vanaand kan julle met jul bekke teen die wind sit!” Die boer is deesdae strik met die aartappeluithalery en staan self by om te kyk dat daar nie te veel raak gesteek word nie. Dis nie meer net vir loop haal nie.

En dit word al hoe moeiliker om die kinders elke aand dik te kry. Nié op geel skorsies en uitskottamaties nie.

Vanaand kan sy darem reken op die harslag. In die groot huis eet hulle mos nie long nie, en as sy die kop kap, val die koker ook nog haar kant toe. So prakseer sy terwyl sy die klein-kind losknoop en laat drink.

“Jy moet maak en winkel toe hol,” sê sy vir Mietjie, “en vir my kom water dra. Ek weet nie of ons gespoel kom voor ons begin slag nie.”

Die paar muntstukke wat sy met die was verdien het, lê op haar handpalm en sy stoot die kleingeld met ’n flitsbeweging van haar duim oop, oorlê dan prakties: Twee kerse, bottel lampolie, boksie mêtjies, pakkie twak, pakkie kerrie. Suiker? Maar nee, dan kom dit kort vir koffie, en die trekseltjie uit die plaaskombuis is mos darem soet gemaak. Nietemin is sy skielik watertand vir ’n lekker ding. Sy voer ’n kortstondige stryd, swig dan voor die versoeking. “Bring ’n pakkie tjips.”

“En ’n muis vir my? Vir die loop?”

“Muis!” Die lam kind lig sy bolyf. Hy roei homself voort met sy elmboë en kom hang halfmas aan die tafelpoot.

“Bring maar twee muise. Maar jy moet maak en kom. Jakkie, sie jy die kleidjie los, as jy Ma se breekgoed daar aftrek …! Lewies, kom vat die kind!” Maar Lewies is weg en sy sit Jakkie by die deur uit tussen die hoenderkuikens. Sy kan dit nie waag om hom alleen in die huis te los nie, hy pluk alles om.

Wat sy het, het sy swaar bymekaargekry, en geld om ander te koop, het sy nie. Sal daar ook nooit weer wees nie. Hulle is arm. Jan Solms loop dik gelap en Mietjie se klere span, die jongetjieskinders se goed is gaar gedra. Hulle is deesdae aan alles kort: kooigoed en warmgoed, en agter met hul klops. Dis ’n treurigheid as jy daarmee agter is, as jy die dag moet rondval om jou dooies begrawe te kry.

Daar is nie ander genade nie, sy sal die naweek maar die kinders moet vat en gaan besemriet pluk. Hulle betaal nou ses sent vir ’n ordentlike bos en Mietjie pluk al fluks. Sy kan nog wasgoed ook vat en partymaal stuur missies Radyn van die bruin skool lap- en stopwerk.

Vir die afval se skraap word sy darem ook betaal.

Daar hang ’n donderweerbenoudheid in die lug en die wolke pak so wit soos blomkole oor die berg saam.

Lya staan teen die wasbad met ’n verwyt.

Dis sy wat die ongeluk oor hul huis gebring het. Dit was met Jakkie se kleinte. Sy het melkkoors gekry en moes hom hans grootmaak. Jan Solms het ’n varksog en jongetjies verruil vir ’n versie wat in die melk was en so het hulle genoeg melk vir die kleintjie en vir hulself gehad. Jakkie was rondvet van melkpap en hulle het dwarsdeur die winter snysels met kaneelsuiker geëet. Hulle het dit breed gehad daardie tyd.

Maar op ’n middag, toe die kind al ’n kruipkind was, staan sy voor die stoof die pot en roer toe sy iets agter haar hoor. Eers dag sy dis die kind onder die tafel, maar toe sy omkyk, sien sy dis ’n vrou, en toe sy weer kyk, sien sy die vrou se oë, en dis twee vlamme. En sy skrik en sy skree: “Jou mame se moer!” En met dié dat sy skree, kook die melkpot agter haar oor en toe sy weer kyk, is die vrou weg.

Dis die vuurgees, sê antie Kaatjie toe vir haar, en sy’s nou kwaad, want jy’t haar gevloek.

Op ’n middag toe die mansmense in die perskebome is en sy onder by die fontein met die wasbondel, maak die weer uier en las aan en raak aan die grom. Toe gee die wind een warreling en slaan daar ’n blits uit die lug uit en in die bloekom waaronder die koei op lyn staan. Net ’n vuurstreep en ’n swaelruik, toe staan die boom pikswart geskroei en lê hul melkkoei gaar verbrand.

Daarvandaan ry die ongeluk hulle.

Sy moes voetval vir ’n bietjie afgeroomde melk vir Jakkie. En die kind begin sommer agteruitgaan. Op ’n dag het hy net ’n koors en sy en antie Kaatjie staan bont, maar hy bly siek, tot hulle hom dokter toe vat en weg hospitaal toe. Toe hy terugkom, lyk hy soos hy vandag nog lyk, sy beentjies uitgeteer en hy sleep waar hy moet wees.

Sy kry swaar onder die vloek.

Sy staan en was met een oog op die plaaswerf.

Toe die slagtery begin, moet sy nog net spoel. “Ons sal nie nog vanaand daarby haal nie, vat maar in,” sê sy vir Mietjie, “anners slaap die hoenders vannag daarop.”

“Lewies,” skree sy toe sy afsak rivier toe, “as ek skree, kom haal jy die harslag. En sôre dat daar water in die huis kom en kyk na die kinders!”

Sy’s oorlams met ’n slagtery. Sy stook eers onder die swart driebeenpot met skraapwater en vat dan die slagding uit die mansmense se hande.

Die boervrou kom met ’n skottel vir die lewer en niertjies. “Vat jy maar die hart ook en die binnevette. Braai vir julle uit.” En die lekker-lekker soetvleis.

Lewies kom haal die koerantpapierpak. “Loop gee vir Mietjie, sê sy moet solank opsit,” sê Lya.

Kortendag hang die skaap. Toe pak sy die afval. Daar is niemand op hierdie plaas wat ’n afval uit Lya se hande kan kom vat nie. Maar vanaand sukkel sy.

“Ek sal nog ’n blyts moet kry,” bely sy met ’n skaam gesig, verleë oor die oponthoud. “Hy maak swaar skoon.”

Daar het mettertyd ’n weer aangegroei en die wind warrel kort-kort onder die pot in. Sy druk die uitgebrande stompies dieper in en verskuif die blou skottel met die skoon pens en pootjies.

Af en toe blits dit. Maar ver weg. Die mense het uitgeval en staan en wag vir hul dop voor die wynkamer.

Die boervrou kom ’n slag kyk. “As jy nou met die kop klaar is, moet jy maar los tot môreoggend toe, dan kan jy mos maar kap en verder afwas.”

Maar môrevroeg wil sy spoel en dan die kinders vat en kloof op om te gaan hoor of sy nie iewers ’n los werk kan kry nie – uie skoonmaak of twak ryg dalk … Sonder om op te kyk of op te hou met krap, sê sy: “Nee wat, ek maak gou klaar, die kind het gedrink voor ek gekom het.” Sy sukkel met die pluis wol tussen die ore, kry dan tog die oorhand en eindelik lê die kop by die res van die afval in die kom.

Sy keer die pot water oor die vuur uit en maak die messe bymekaar. Net toe sy die kom optel om kapblok toe te stap, slaan daar ’n donderslag wat die grond laat tril. Op die dreuning volg ’n rukwind wat die papier op die blok verflenter. Lya kap kort, haastige houtjies, elkeen sekuur waar sy hom wil hê. Sy kap die koker weg en vlek die kop oop, kap die holtes bokant die oë af en rond nog hier en daar af, haastig deeglik.

Iewers kletter ’n paar los sinkplate.

Dan volg daar ’n geskreeu. Die hel breek los. “Die weerlig het Jan Solms se huis aan die brand geslaan!” roep iemand. “Hardloop, Jan!”

“Lya!” skree die mense. “Jou huis!”

Sy staan met die skottel afval in haar hande en sy sien die donker rookwolk bokant haar huis, met hier en daar ’n oranje vuurstreep daarin. Dan jaag die wind die vlamme op en brand die dak hoog.

“My huis brand!” Lya gee ’n tree vorentoe, steek dan vas, trap rond met die afvalkom in haar hande. Die vuurtonge skiet in die lug op, vlamrooi teen die donker donderwolke. “My kinders, waar’s hulle?”

Jan Solms steek kortpad tussen die nartjiebome deur.

Die plaasbakkie dreun met die vrag werkers en grawe agterop.

“Sit neer die kom en gaan kyk wat van jou kinders geword het. Hardloop, Lya!” skreeu iemand.

Sy voel skaars die gekrap van die wilde brame. Sy storm teen die rivierwal af en anderkant uit. Sy’t eenmaal ’n kind gesien wat vooroor in ’n kolebak geval het. En die bees onder die boom met die swart weerligmerk oor sy vel.

Een van die vroue het haar klein-kind. En die lammetjie hang aan Mietjie. Hy val na haar toe en sy gryp hom, kaalstert en bewend. Nie van koue nie, want die vuur skroei op ’n afstand. “Ma,” skree hy, “Ma!” en hy klou met sy taai lekkergoedhande om haar nek. Sy ruik die skroei in sy kop toe sy hom teen haar aansus. Die vuur dreun in die dak. Alles aan die huis is oud en horingdroog en dit brand soos petrol. Die mansmense slaan die droë gras rondom plat sodat die vuur nie kan versprei nie.

Dan stort die dak stuk-stuk in. Wanneer die wind stoot, gloei die dakbalke in die donker en vonke skiet soos vuurwerk in die lug op. Te mooi.

Tante Raal sê: “Mietjie is nog met die twee kanne af water toe. En wat ek weer hoor, toe skree sy net en toe ek kyk, toe sien ek hoe gooi sy die kanne weg en sy hol en toe sien ek alles is onder rook. En ek skree vir haar: ‘Gryp die kinders.’ Ampers het ons vir Jakkie nie uitgekry nie, hy was agter in die kamer onder die kooi in. Dit het min geskeel of Mietjie het hom nie daar uitgekry nie, want die vuur was toe al by die deur.”

Mietjie gaan hard aan die huil.

“Bring die suikerwater, sy het sleg geskrik.”

“Hulle kon algar doodgebrand het.”

In die nagloed van die vuur staan die geraamte van hul lantern op die lae muur tussen die slaapkamer en kombuis.

Van alles wat in die huis was, is dit die enigste ding wat sy kan eien. Verder het alles uitgebrand. Lya staan sonder taal.

Haar kinders is veilig, maar hulle het nie ’n kooi om vannag op te lê of ’n beker om uit te drink nie. Nie ’n kers of ’n treksel koffie of ’n sent geld nie. Die vuur het alles gevat: haar tafel met breekgoed, die portrette aan die muur, die stuk tapyt op die kamervloer, die kleretrommel agter die kooi met haar beste rok en Jan se swart pak …

Lya maak haar gesig met haar hande toe. Twintig rand by die plaaswinkel; rand ’n week, maar meer as een week was die rand nie daar nie … amper ’n jaar voor sy die skuld dood gehad het. Hoe kry sy dit weer bymekaar?

“Tot die stouf ook,” sê tante Raal.

“Met die brood nog in die oond. En die harslag en vette van die slagding.” Potte en panne ook, die waterskepper, sitgoed, voetwasbad, slaapvelle … Lya Solms staan en kyk met nat wange na haar huis se murasie. Dit kraak en val binnetoe. Daar is niks meer aan te doen nie.

Slegs rook trek uit die puin op.

Hierdie skuld is nou gelyk gemaak, dink Lya en draai weg.

Om haar is die mense wat sy ken. Hulle gooi saam. Almal is goed vir haar. Die boer het iemand aangesê om die leë huis langs Anneries en Griet uit te vee en hulle is agter op die bakkie terug plaas toe. Daar kry hulle aandkos en ’n bietjie van alles om saam te neem: mieliemeel en koffie en kerse. En die komberse van die buitekamer se bed af. Kos en slaapplek.

Soos brand maar maak, trek die nuus vinnig in die kloof af. En almal wat vir Lya ken, die gee. Hulle kry kos. Kaas en botter en konfyt, tee en blikkiesmelk en rys. Hulle kry klere. Bokse vol. Somergoed en wintergoed, en alles bruikbaar.

’n Ketel en ’n emmer en skottelgoed. Die ou man van die winkel stuur twee geblomde enemmelborde en bekertjies. Een vrou glad vadoeke en ’n skottel. Iemand dra ’n tafel aan wat Jan net so effens moet kalfater. Lya kan met mening nesskop.

Toe die boervrou teen die laat agtermiddag met ’n emmertjie melk kom verneem of sy wel regkom, ruik dit na stowekool wat oor die oop herd stadig gaar word, staan die mank tafel vas teen die muur gestoot met ’n geruite doek oor wat tot op die grond sleep.

En Lya gloei, want gisteraand het sy op die vlak gestaan, so kaal soos sy van haar mame af gekom het. Toe het sy op ’n kol gewens die vuur moet haar maar vat en klaarkry. Nou het sy van alles en nog meer. Tot ’n kooi met ’n springmatras. Streepsak ken sy, velle op die vloer, die angels van rogstrooi … nou het sy ’n hopkooi en ’n so te sê nuwe wolkombers.

Sy het fynmeel in die huis en melk en alles. Sy gaan snysels met pypkaneel en baie suiker maak. “Mietjie, bring hout in en kom vat vir Jakkie onder die tafel uit, hy’s in die suikersak. Ek slat jou!” Jakkie word muisstil onder die lang tafeldoek.

Lya sing terwyl sy die deeg ooprol en meel strooi en weer toerol. “Liewer Heer wees ons naby, met hierdie grote fees, maak ons harte waarlik bly, met u goeie Gees …”

En sy probeer dink aan ’n hol ding om die melk in te kook. Aan potte is sy nog kort.

Dan, bo die skerp reuk van Fe’erwariemaand se kool, ruik sy onmiskenbaar rook. Behoedsaam kyk sy dak toe, snuif ’n slag, sien dan die vloer. Daar het fynhout uit die vuur geval en ’n hopie vuilgoed wat sy bymekaargevee het, aan die brand gesteek. Nou vreet die vlammetjie al aan die groen-en-rooi ruitjiesgoed van die lang tafeldoek.

Lya kyk na die vinnig groeiende gat in die tafeldoek. Vuur, dink sy en loer vinnig oor haar skouer. Sy voel ’n warmte in haar opstoot en ’n woede pak haar. Sy hét mos al betaal. Haar skuld is klaar betaal. Wat soek die vuur nou nog? Sy gryp die bak met soetmelk en skiet dit met ’n boog onder die tafel in, oor die brandende doek en oor die koletjies van die fynhout.

Toe Jakkie met ’n verskriklike geskreeu en druipnat tussen haar bene deur peul, staan sy hygend en kyk na die nat kol waar hul aandmelk in die grondvloer intrek.

Sy sit die bak op die tafel neer, buk af en tel die kind sorgsaam op. Toe gaan sy buitentoe, waar die koelte van die aand reeds in ’n sagte lugstoot met die vallei afgestroom kom.

Diepsee

Подняться наверх