Читать книгу Diepsee - E. Kotze - Страница 4
Halfkrone vir die Nagmaal
ОглавлениеDaar was onteenseglik tekens van voorbereiding vir die Nagmaal: die rol rokgoed uit die plaaswinkel, die nuwe velskoene, die sambok en die uitgekeerde bokkapater.
En die Vrydagmiddag was daar twee bokke in die kampie onderkant die huis – een vir die Nagmaalbasaar, een vir slag.
Die Nagmaalbok sou moes oorstaan tot die volgende naweek wanneer hy saam met buurvee aangejaag word dorp toe, die slagbok is dieselfde aand nog keelaf gesny.
Frits was toevallig by die huis. ’n Kwaai see het die kreefvangers laat oplê en hy het kom kos haal en skoon klere.
Toe sy pa die bok slag, het hy ’n blik onder gehou om die bloed op te vang. Hy het nog ’n nuwe rol snoeklyn gehad.
Die bloed het hy oornag laat staan om goed te stol. Die volgende oggend is hy af strand toe waar hy die lyn ’n paar maal deur die nat seesand sleep om die wollerigheid wat ’n nuwe lyn aan hom het, af te maak. ’n Tydsame werk, maar hy het die hele Saterdag voor hom gehad.
Die lyn gaan span hy tussen die pale van die bokkamp. Toe vat hy ’n stuk ou lap en druk dit in die dik dooiebloed en met die bloedlap bewerk hy die lyn, smeer hy die bloed goed in totdat die vesels deurtrek is daarvan. Daarna rol hy dit in ’n stewige rol.
’n Snoeklyn wat jy bloed, hou soveel langer. Hy is wel ’n bietjie glad aan die begin, maar ná ’n paar maal se werk met hom kom hy reg. Jy vang ook beter met hom; ’n snoek sien altevol maklik ’n wit lyn in die water en dan kom vat hy nie die bokstang nie. Dit het ou Dampies hom van snoek geleer.
Hy maak ’n vuurtjie onder sy ma se driepootpot met ’n bietjie water in die boom. Bo-op sit hy droë takkies en daarop die gebloede lyn toegedraai in bruinpapier.
Hy hou ’n flou vuurtjie aan die gang onder die pot en die stoom trek deur die doringtakkies en sweet die bloed in die lyn in. Toe hy tevrede is dat dit goed deurgesweet is, haal hy die bolling lyn uit en hang dit oor die draad waaragter die bok staan.
Dis ’n vier jaar oue bokkapater, ’n mooi bok wat maklik sy neëntig pond sal uitslag.
Dis sy pa se bydrae tot die gemeentebasaar: die bok. Sy pa is ook nog ’n sambok aan die vleg. Hy is bekend vir sy swepe en peitse en sambokke. Hy vleg met twaalf rieme asof dit speletjies is, sestien ook. Die basaarsambok kry ’n handvatsel van gevlegte ystervarkpenne. Die son blink op die patroon waarin wit en swart deurmekaar loop, wit oor swart en swart oor wit. En Frits dink: Verlede jaar was dit ’n riempiesmatstoel, die jaar tevore ’n olienhoutkierie, vanjaar die sambok. Elke jaar stuur sy pa ’n stuk handwerk vir die dorpsbasaar sonder dat hulle ooit self gaan.
Hulle kan nie Saterdag dorp toe ry en Sondag wéér nie. Hulle het hul wyksbasaar twee keer in die jaar op ’n plaas in ’n waenhuis en dis genoeg.
Hulle sal wel Sondagoggend Nagmaal toe gaan en dan middag hou op die kerkwerf, eet van die kos wat sy ma voorberei en saamneem, die middag Nabetragting toe gaan, en dan dadelik inspan en ry sodat hulle nog voor sononder by die huis is om te melk en die diere te versorg. So is dit elke jaar.
Ander mense ry Vrydag al. Hulle gaan in ruskamers tuis en kuier oor en weer, hou basaar in die kerksaal: koektafels en lekkergoed en poeding. Buite bie die mans op slaggoed en handwerk, skiet skyf. En die meisiekinders loop rond met mandjies roosknoppe en angeliere wat hulle vir trippens een op jou baadjie vassteek.
Hy was eenmaal saam met Meester op so ’n basaar terwyl hy nog op skool was, verlede jaar Augusmaand. Sy ma het Meester se wasgoed gewas en hy het die bondel heeljaar lank gedra, huis toe en terug skool toe. Toe nooi Meester hom saam.
Maar hy kon niks koop nie, net kyk. ’n Mens moet geld hê. Jy betaal vir elke skoot wat jy skiet. Hy kon maklik ’n blik lekkers gewen het as hy net ’n trippens gehad het. Maar hy het toe nie.
Hy het wel die vorige week ’n vrag berghout vir Meester opgekap, maar die halfkroon moes hy net so in sy pa se hand gee.
Dit is die beleid; hulle eet en drink uit die huis en hul klere is skoon en heel.
Maar hy bring nou halfkrone huis toe, genoeg vir Nagmaal én basaar.
Sy snoeklyn het droog geword. Dit kraak onder sy vingers as hy daaraan druk. Hy neem die rol om dit te gaan bêre in die uitgewaste suikersak waarin hy sy seegoed hou.
Sy ma is in die kombuis. Sy het gebak: bruinbrood en beskuit met rosyne en kaiings. Die kombuis stoom van gebreekte beskuit.
Sy het die warm broodkorsie vir hom afgesny en smeer dit met vet en heuning. Sy skink vir hom ’n beker karringmelk. “Snoektyd is mos verby, vir wat bloed jy dan nou die lyn?” vra sy.
“Binne- of buitenstyds, ons dra mos altyd ons goed saam,” sê hy en lek die soet heuningstroop van sy vingers af. “Ma moet maar dié week ’n groot brood insit, ons loop môrenag vir die Wes.”
“Die Wes?” Die verskiete blou van haar voorskoot en die grys van haar rok word herhaal in haar oë en hare.
“Dis bokant die Grootrivier, Ma, in die Suidweswaters. Daar is baie kreef.”
“Maar dis mos ver, Frits, sal ’n brood dan genoeg wees? Jy kan mos nie ’n week lank op kale smeerbrood kreef vang nie!” Daar is nie eens ’n rafeltjie wildsvleis of ’n stukkie droëwors om by die brood saam te gee nie.
“Toe maar, Ma, Dampies kook vir ons. Die skipper sorg altyd vir uie en aartappels en die ou maak ’n lekker vissop.”
“Koppe en grate,” sê sy en rig gekwelde oë op hom. “Jy is nie daarop grootgemaak nie. Jy sal verswak.”
Daar gaan nie ’n maaltyd om dat sy ’n stukkie kos in haar mond steek en nie aan haar stomme kind dink nie, wie weet waar in die koue en nat tussen mense met ander maniere van doen, en hy so jonk nog …
As teenmaatreël kook sy die bokafval.
Van vroeg die Sondagoggend af is die afval op die vuur. Etenstyd is dit sag en lymerig gestowe. Hulle eet vaalafval en bruinbrood geweek in sous. Daar is klein stukkies opgesnyde long tussen die pens en pootjies om die kos te rek vir die baie monde wat moet eet. Hulle suig die beentjies af en vee die sous met die brood op.
Sy pak vir hom sy see-sak: growwe brood toegebind in ’n geruite doek, ’n klont plaasbotter in ’n stroopblik, koffie en suiker en ’n blikkie salf – sinksalf en harmansdrup wat sy self gemeng het vir die seerplekke. Sy weet hoe ’n kreef ’n mens kan stukkend steek.
Frits rol sy komberse op, en klere vir die natwordslag. Hy pak alles in die suikersak: bloedlyn, kos en klere.
Dan groet hy.
“Loop jy dan nou al?” vra sy pa.
“Ja, Pa,” sê hy, “ons moet nog die bakkies afdra. En aas vat.”
Hy swaai die sak oor sy rug en vat sy kierie. Dis ’n gewoonte; mens weet nooit wanneer jy ’n slang of ’n ding op die lyf loop nie. Sy pa het hom geleer hoe om ’n slang dood te gooi. Sy pa stuit vir niks, hy het eenmaal in die veld die stiebeuel van die saal afgeruk en ’n slang daarmee doodgeslaan toe hy niks anders byderhand gehad het nie. Hy het by sy pa geleer.
Dis by die agt myl Baai toe. Met die wapad tien myl, maar hy stap met die voetpad tussen die duine deur. Die wit gousblom begin toevou weerskante van die paadjie. As die son eers loop draai het, kom daar ’n klimaat oor die duine wat die blomme laat toetrek. Mens proe dié tyd van die jaar die bittergousblom in die melk, in die botter op die brood.
Op die kruin van die eerste hoë duin gaan hy staan om die see te bekyk. Dit het mooi afgekom. Aan die bamboes wat hoog teen die strand opgespoel lê, kan hy sien waar die branders loop draai het. Met die stormweer kon die skuite nie uitgaan om aas te vang nie. Vrydag sou daar ’n skuit uit die Bo-baai gekom het met masbanker.
So nie, het die skipper gesê, sal hulle self ’n plan moet maak om aas in die hande te kry. Hulle kan nie langer op die wal lê nie, hy wil onderwêreld toe loop.
Dis ver. ’n Goeie vyftig uur se loop. Twee dae en twee nagte. As hulle drie-uur vannag hier wegkom, kan hulle Dinsdagoggend gelyk met ligdag daar wees. Dinsdag vang hulle dan heeldag en die aand kan hulle oppak en draai. Woensdag, Donderdag kom hulle dan …
Hy self was nog nie verder as Jakkalshok teen die kus op nie, maar hulle vertel hom daar is sulke dik kreef in daardie wêreld. Sommer nou het jy ’n skuit vol gevang.
Hul skuit dra sewe-en-sestig kis. Met ses bakkies is dit elf kis vir ’n bakkie, na gelang jy werk. Hy en Dampies is saam in ’n bakkie. Hulle kan maklik hul veertien kis vang. Hy kan almal onder stof werk as hy net eers die slag het. Hy sal kreef vang tot die bloed uit sy hande loop. Vrydagaand sal hy by die huis kom en sy geld in sy pa se hand sit en hy sal sê: Pa, ek wil asseblief vir Pronk hê, Pronk stap en word spekvet in die vleikamp, g’n mens ry hom ampers meer nie (sy pa het te swaar geword vir ’n perd se rug), Pa sal seker nie omgee as ek dorp toe ry vir die Nagmaal nie, Pa … En sy pa sal sy hande sien en weet dat hy daarvoor gewerk het.
As hulle net met die aas regkom.
Jy moet aas hê om kreef te vang. Visaas. As die Bo-baaier nie uitgekom het nie, sal hulle eers vis in die hande moet kry.
Maar jy moet ’n kreefstertjie hê om vis mee te vang.
Hulle sal moet sukkel vir ’n krefie.
Kreef byt nie aan enigiets nie. Hy byt aan hotnotsvis en snoek en aan masbanker.
Kreef sal vleis ook vat, sweer Dampies. Hy het al gesien hoe lyk ’n man wat ’n paar dae verdrink was. Die ou het een uit die water gehaal eenkeer. Die lyk was bloedrooi soos die kreef aan hom gehang het. ’n Kreef is die vark van die see. ’n Vark vreet enigiets, sy eie kleintjies ook as dit daarop aankom.
Vleis …
Hy slaan die toppe van die slaaibosse met sy kierie uit sy pad uit. Die sak skawe agter sy blad, duin op en duin af. Hy betrap hom daarop dat hy vinniger stap as wat nodig is; eintlik hoef hy nie voor skemer onder by die afdraplek te wees nie.
Duskant Malkoppan loop die duine dood en sluit die voetpad by die wapad aan. Maar Frits hou strandlangs. Die witstrand word rotsagtig. ’n Gebroke rotsrif loop ’n ent weg die see in en krom dan weer binnetoe. Dit lyk asof ’n groot hand deur die rif gevat het soos ’n mens ’n stuk deeg sal vat en afknyp en eenkant toe stoot. Die afgemaakte stuk is die eiland waaragter die skuite lê, in die holte van die elmboog.
Laatmiddag gier die meeue oor die water en sit die ou swartvoëls sieklik op die klippe. Daar speel ’n rob agter die breek. Met sononder kom die voëls uit alle rigtings eiland toe: malgasse en pikkewyne, swartvoëls en seeduikers, in ’n menigte en lawaaierig. Hulle sirkel ’n paar maal oor die baai en kry dan hul sit tussen die klippe.
Die skuite lê almal voor anker. Daar’s nie ’n mens te sien nie. Behalwe Dampies wat agter ’n bos langs die sinkhuis op die strand sit en vuur maak. Die droë doringbos brand hoog en die koffiewater sing. Frits sit sy pak langs die huis neer.
Dis nie vir hom nodig om te vra of daar aas uit die Bo-baai gekom het nie. As dit so was, sou die plaat bakkies nie nou nog hoog en droog tussen die muisbosse gelê het nie, dan sou almal aan die gang gewees het.
Vier van hul eie bakkies is reeds gelaai. Die orige twee, waarmee hulle later moet deurroei skuit toe, lê agter die sinkhuis.
Hulle wag vir die donkerte. Hulle sal hier om die vuur sit tot hy doodgaan en by die koue as wag dat die maan ondergaan, en hul mense sal een vir een afkom ná twaalf.
Dis so afgespreek, dis Vrydag reeds uitgepraat. As daar nie aas kom nie, sal twee van hulle deurroei eiland toe in die donker en ’n paar voëls in die hande probeer kry – Dampies, wat die eiland ken, en hy, wat knaphandig met ’n kierie kan gooi.
Hulle kan met die voëlvleis vir ’n krefie traai, en as hulle eers ’n kreefstertjie het, vir hotnotsvis, dan het hulle ’n begin.
Hy hurk teen die vuur en eet van die brood wat sy ma vir hom ingepak het. Daar is ook ’n bottel melk waarvan hy drink.
Die donkerte kom geleidelik oor die see aan. Die voëls het tot rus gekom. Dis stil op die eiland.
Dis te betwyfel of ’n kreef aan ’n swartvoël gaan vat, sit en mymer Dampies. Hy sal eerder aan pikkewyn byt. Maar die pikkewyne sit dieper op die eiland, meer na die agterkant toe, en hulle kan so ’n bek opsit. “Ons kan nie bekostig om gevang te word nie.”
Hulle moet versigtig wees. Die eiland is staatseiendom en dis tronksake.
Dampies het een jaar help ghwano raap. Rob geslaan ook. Dit klink wreedaardig as hy vertel hoe die robkalfies se koppe pap geslaan word en van die gebulk – maar ’n mens moet lewe.
Om middernag trek Dampies die rieme dat daar skaars ’n rimpeling op die water wys. Terwyl die res van die bemanning op die skuit wag, beweeg hulle in die rigting van die punt waar daar ’n opklimplek vir die eilandwerkers aangebring is. Daar maak hulle die bakkie vas.
Dampies stap voor met sy kort snoekkierietjie. Trap versigtig, waarsku hy, daar is ’n moeserigheid aan die trappies. Die voëls moenie skrik nie. Hulle klouter skuins teen die rotse uit, hou links om ’n groot klip. As iemand van die wal af lig, sal hy hulle nou nie kan sien nie. Mens moet maar net bid dat daar nie ’n opsigter op die eiland slaap nie.
Frits vat sy knopkierie vas. Dis die eerste maal dat hy met ’n ongeregtigheid te doen het. Hy is bang.
Maar hy moet ook lewe.
Hy moet geld verdien … halfkrone wat hy in sy pa se hand kan gee … daar is agt halfkrone in ’n pond, tien trippense in ’n halfkroon. Wat is ’n swartvoël nou werd? Skaars die kieriehou wat jy hom gee. En so ’n danige sonde kan dit nie wees nie … skipper is kerkraad …
’n Klip rol onder sy velskoen.
Daar kom ’n beroering onder die voëls, ’n geruis van vlerke. “Nou!” sê Dampies. “Voor die hele kaboedel opvlieg. Slat!” Hy lig sy arm en slaan. Die kieriehoue val, ’n swartvoël skreeu, spartel. Hy gooi na een in die vlug. Nog een val. Dis soos ’n hoenderkamp waarin die muishonde gekom het. Dit raas en fletter. Hy slaan wild in die bondel. “Blikskottel, demmit, ga!” Iets smeer deur sy gesig.
Hulle maak bymekaar. Nege. Dis genoeg. Hulle gly agter mekaar aan teen die skuinste af met hul hande vol. Dan is hulle in die bakkie en roei hulle terug skuit toe.
Toe dit lig word daardie môre, trek hulle ver.
’n Bakkie word laat sak en hulle trek die swartvoëls vel-af. Dis ’n walglike besigheid. G’n wonder kreef byt langtand aan hulle nie, soos so ’n voël darem kan stink! Kry jy die stank ooit weer uit jou hande uit? En dan eet party mense nog, vee net effens aan die broek af en vat die kos volhand. Frits spoeg oor die boeg.
Hulle trek die voëls uitmekaar en stamp die vleis effens, maak dit dan aan die aastoutjies vas en laat sak die nette. Hulle moet ’n paar maal roei en laat sak voor hulle ’n kreef het. Hulle kry net die enetjie.
By die Twins is daar ’n knol waar altyd volop hotnotsvis en jakopewers hou. Daar kan hulle ’n vissie probeer trek, maar eintlik is dit nog te gou, want dan lê daar nog ’n dag en ’n half se loop voor voordat hulle by die Wes se kreef uitkom. Dis ’n vraag of die vis so lank goed sal hou. Want dis nou die verskil tussen fabrieksaas en vars vis; die fabriek s’n kom uit die yskamer, kliphard gevries, en dan laai jy nog blokke ys by om dit koud te hou. Vars vis is ’n ander saak.
Dit kan lol.
Help ook nie hulle probeer vang by Port Nolloth nie; die kreefvangers daarlangs maak skoon, dis nie die moeite werd nie. Nee, buig of bars, hulle moet op Wes toe.
Hulle vang ’n paar jakopewers, kry ’n paar krewe, gaan wei-wei verder. Die traaibakkies sleep ’n spoor agter die skuit aan en Dampies sit knaend voor op die kop die see en fynkam met sy skerp oë.
Maar dis eers die volgende dag dat hulle die voëls sien: malmokkies wat op die water sit en malbare en sterlinkies wat aas. Die malgasse val. Dis kompleet soos wanneer hulle op ’n skool snoek werk.
Dit ís snoek.
Die manne begin lyn werk. Frits het sy rol lyn in drie gemaak en sit haaiveldollie en bokstang aan. Terwyl die skipper stadig heen en weer laveer, gooi hulle hul lyne af en kry ’n klompie snoek, vyf, ses op ’n slag.
Dan meteens, is hulle in ’n skool snoek, is die water aangemaak met snoek en kan hulle skaars voorbly met uittrek. In ’n ommesientjie vang hulle by die driehonderd, ’n taamlike klas, maar oneetbaar maer. Maar dit maak nie saak nie, hulle wil eintlik net die koppe hê, die bloederigheid lok die kreef. Jy kan ’n snoekkop tot drie keer laat sak voor jy ’n nuwe moet aansit.
Om die bloed nie te verloor nie, hou hulle die snoek vir eers heel. Hulle pak dit in mandjies in die ruim. Nou het hulle oorteveel aas.
Dié nag gaan hulle Alexanderbaai se ligte verby en twee uur later gooi hulle anker in die wal.
Met ligdag kom hulle weer aan die gang.
Die snoekkoppe is dodelik. Met die eerste probeerslag het hulle ’n sak vol kreef. Ná slegs drie rondtes loop die ou groot-groot mannetjiekrewe van die bakkie af.
Mens moet dit sien om dit te glo. Daar is skaars tyd vir eet. As jy eet, verloor jy. Dis vol maak en aflaai en vol maak … Frits se broek is halfmas nat. Hy staan tot by sy knieë in die kreef wat rondom hom flap. Hy sien omtrent nie ’n kleintjie nie. Sterte so lank soos sy voorarm en knypers dié dikte. Die bloed loop uit sy hande. En hulle skuim om die bekke! Dis ’n voorteken, sê Dampies. As ’n kreef se bek so skuim, gaan dit kwaaisee word. Dis nie sommer bygelofies nie. Die smoetweer is verby.
Dis op die middag.
Hulle het die ruim vol gemaak en sit die hetjies op. Hulle kan nog op dek laai. Hulle werk ’n klompie kreef op die hetjies en laai die eerste twee bakkies. Die bankies en laaitjies kom uit en die volgende twee bakkies word binne-in hulle gelaai. Die kreef werk hulle weerskante onder die bakkies in, hulle maak van ’n kant af vol.
Drie-uur het hulle ’n dekvrag en steek hulle kop in die wind vir die huis. ’n Uur later begin gee die weer sulke swart koppe in die weste. En kort voor sononder moet hulle begin stadig loop, so groot is die dooiesee. Toe waai die suidwestewind dat hy huil.
Dié wat kan, maak beurte om te stuur, manne soos die skipper en Dampies wat verstand het van die see, wat weet van kop-aan hou en wat dwarsseë kan lees.
Die ander manne los mekaar af by die dekpomp wat die water uit die ruim en masjienkamer moet hou. Frits pomp water.
Hy is taai. Hy is van kleins af taai gemaak. Hy het bees opgepas van sy vierde jaar af, sy pinkie se kop met die sekel afgesny voor sy sewende jaar. Hy was nege toe hy vir die eerste keer skool toe is en was net mooi sestien toe hy vir ses klaar het. Toe moes hy op die oesland gaan inval, kromstaan vir daler ’n dag van ligdag tot donkeraand.
Ná die oestyd het hy ’n verdienste op die see kom soek. Snoektyd het hy snoek gevang vir trippens een; een uit die drie afgegee vir bakspaar. Later Bo-baai toe op ’n groot skuit om vir die fabriek te vang, vier oulap een, maar dan moet jy kop afsny en pens uithaal en sout.
Toe het die snoek se kuite bebroeid geraak en dit was winter. Die wyfiekreef het nog eier gehad. In dié tyd het hy geleer om kreefnetsakke te brei en om nette te bas, hy het geleer om ’n netsak hoepel om te sit, hoeveel maste op ’n simsteek kom, hoeveel vaam tou vir elke net, hoe jy die hanepoot knoop, hoeveel aastoutjies aan ’n hanepoot, hoe lank jou bottou kom. Hy het die skuit help regmaak, die ou kalfaatsel met ’n knipmes uit die nate gekrap en nuwe met ’n beitel ingekap, ysterwerk skoongekap en ou verf afgebrand, papegaai afgemaak en geskilder.
Toe het hulle begin kreef vang. Hy het ’n skof gekry van bakkie opdra. Sy rug het breed geword en sy arms seningrig, sy lyf fors van mannewerk.
Die blare in sy hande word bloedblare. Hy voel die tamheid deur sy lyf sonder dat hy weet hy’s moeg; hy ken nie vir moeg word nie. Hy hou aan met pomp. Dit help nie jy gaan lê nie, slaap slaap jy tog nie as die seë so rol nie.
Alles is buitendien deurnat; kooigoed en klere. Die brood word klam. Dit muf. Die blou skimmel staan op die geruite doek en hy moet die brood weggooi.
Hulle eet kreefkerrie, en toe die aartappels en uie gedaan is, eet hulle gekookte kreef. Kreef en pap. Dit val soos ’n klip in jou maag. Waar was sy gedagte dat hy nie van die snoekpense ingesout het nie? Al was hulle maer … dis beter as niks.
Want die kreef word stink.
Die rook trek daaruit toe hulle Vrydagnag in die Baai aankom. Die yslike dekvrag kreef vrot. Dit word net so weggery doppiesveld toe, ver buite die dorp, waar die brommers daarop pak.
Hulle word wel daarvoor betaal. Frits weeg die hand vol geld wat die skipper Saterdagoggend vir hom aftel. Hy en Dampies het toe nie veertien kis gevang nie, maar wel vyftien.
In sy gedagte maak hy vlugtig somme. Soveel vir sy pa, soveel vir die huis. Hy koop gewoonlik ’n bietjie provisie by die plaaswinkel op Wolfhuis, maar dit beteken ’n yslike draai padlangs. Die Baai se winkels is wel effens duurder …
Hy gaan binne en koop oor die toonbank: koffie en suiker, vuurhoutjies en kerse, ’n tol swart gare, peper. Dan kyk hy rond. Wat nog? Hy staan besluiteloos voor die verskeidenheid, dis ’n bietjie anders as Wolfhuis. Dan sien hy die tee. Sy ma sal bly wees oor die Engelse tee. Hulle brand vyeskille by hul pittekoffie en dit gee haar sooibrand. Hy koop ook kaas en rys. ’n Blikkie kondensmelk.
Met sy knipmes druk hy twee gaatjies in die deksel en suig sy mond vol. Hy gooi sy sak oor sy skouer. Dit sal toonnael trek kos as hy nog voor die middag by die huis wil wees. Hy sit af op ’n drafstap.
Die klam kooigoed in sy sak is swaar en hy trap diep weg in die los duinesand. Die sand val bo by sy velskoene in en skaaf sy voete. Is die sand swaarder as Sondagmiddag toe hy hier deur is? Weeg die winkelgoed soveel meer as sy ma se groot bruinbrood? Of voel dit maar so omdat hy lank laas goed geëet het? Dis ongelooflik dat kreefstert, wat so ’n kragtige kos is, ’n mens so flou kan laat voel.
Hy sleep homself teen die laaste steilte uit en sien dan hul huis op die gelykte tussen die twee koeltebome, die houthoop en die hoenders, die takkrale en bokkamp, die kafhok en tuinerye, die vleikamp waarin Pronk loop …
Heuwel af gaan dit voorspoediger en dan is hy in die skaduwee van die kombuisdeur.
Sy ma keer brood uit. Toe sy opkyk, staan hy daar. “Frits!”
Met kwistige hand skud hy die sak op die kombuistafel uit. Kerse en gare, rys en kaas en tee.
Sy vang na haar mond. “Frits!”
Hy gooi die sak eenkant toe, die suur klere en die bedompige kombers. In die punt van die geruite kosdoek het hy sy geld geknoop. “Waar is Pa?”
“Jou pa is by sy rieme.” By die paal waar hy sy rieme met ’n swaar klip opwen en loswentel en brei tot hulle sag is. “Jy is seker honger,” sê sy.
“Honger ja, en vuil ook, Ma. Ek wil bad. Ek wil nog vanmiddag basaar toe gaan.”
“Maar, Frits!”
“Ek sal self vir Pa gaan vra, Ma.” Hy drink die soetmelk wat sy vir hom skink en vee sy mond met die agterkant van sy hand af. ’n Oomblik kry hy die wilde ruik, olierig en visserig, wat heelweek reeds aan sy hande kleef, en hy dink: Ek sal moet skrop.
Hy gaan maak ’n vuur en dra die seeppot vol water. Dan gaan soek hy sy pa.
Hy knoop die geld wat hy verdien het uit die kosdoek los en sit dit in sy pa se hand. By die vier pond in silwer en note.
Sy pa kyk na die geld en dan na hom.
Sy pa kyk na hom asof hy vra: Hoe kom jy aan soveel geld? Waar kom dit alles vandaan?
“Ons was die week in die Wes op, Pa,” sê hy.
“O,” sê sy pa asof hy alles verklaar het, en hy steek die geld in sy sak.
“Pa,” sê hy, “kan ek vanmiddag vir Pronk kry, asseblief, Pa?”
Sy pa se velskoene het voor by die neus gaatjies in die sole waar die sand uitloop wat bo inval. “Om waarheen te ry?”
“Ek wil vir die Nagmaal dorp toe gaan, Pa …”
Sy pa draai die rieme op tot ’n stywe knoets. “Dorp toe? Om vir Pronk heelnag in die koud te laat staan?”
“Ek sal hom op stal sit by oom Daantjie-hulle. Tant Geesie het gesê net wanneer ek wil, kan ek by hulle kom oorbly, sy’t oestyd so gesê, Pa.”
“Op dié voorwaarde dan kan jy vir Pronk kry,” sê sy pa.
“Dankie, Pa.” Hy fluit vir die perd en vat hom stal toe, hy roskam hom en gee hom ’n bietjie hawervoer. Dan dra hy die sinkbad in buitekamer toe.
Sy ma kook ’n harpuisseep wat kapok maak soos dit skuim. Hy seep sy kop in en sy lyf, hy was die week se sout en sweet van hom af. Hy vat die skropborsel en skrop sy voete en naels. Hy spoel hom skoon af. Dan skud hy sy hare los en die druppels van hom af. Sy klere lê op die katel: Sondagsklere en ’n wit hemp. Sy beste skoene.
Hy kam ’n sypaadjie in sy hare. Hy skeer nog nie gereeld nie; daar is slegs die beduidenis van ’n snor op sy bolip, die res van sy gesig is blosend en glad.
Hy keer die badwater uit en dit loop oor die werf weg en sak in die sand in.
Nou is hy reg om te ry. Hy gaan saal vir Pronk op. Hy haak die halterriem om ’n paal en stap na die breiplek agter die kafhok.
In sy dorpsklere staan hy voor sy pa. “Is jy dan nog nie weg nie?” vra sy pa brei-brei.
“Nee, Pa, ek wil nou ry.”
“Goed, Frits,” sê sy pa sonder om sy oë van die rieme af weg te haal.
“Pa … dis basaar, Pa.”
“O.” Sy pa los die riembondel en die opwensel slinger los. Hy steek sy hand in sy sak. Hy voel met sy vingers tussen die silwer rond. “Hier,” sê hy en lê ’n geldstuk in Frits se hand. Dan vat hy weer die riem en begin wen.
Frits kyk na die sjieling in sy oop hand waarin die bloedblare swart geword het. Die seesiekknop waarteen hy heelweek gesluk het, sit hoog in sy keel. Die moegheid wat hom langs pad oorval het, pyn deur sy lyf.
Dis nie reg nie, dink hy en maak sy hand toe en draai om.
Hy gaan saal die perd af en jaag hom terug in die kamp, gaan hang die saal in die buitekamer op. Hy trek sy klere uit en vou dit op en bêre dit in die trommel weg.
Dit was nie reg van sy pa nie. Wat maak hy met ’n sjieling op die basaar? Vier trippense. Dis skaars genoeg vir ’n koppie koffie en ’n pannekoek. En ’n angelier? Hoeveel skote met die windbuks? Hy sou so graag die blik lekkers … of een van daardie dik koeke met ’n geel vulsel wat alkante toe uitpeul … hy wou dit huis toe bring en op die tafel neersit en sê: Eet. Dat almal hul eenmaal versadig kan eet aan soetgoed.
Hy gaan lê op sy bed en maak sy oë toe.
Agter sy toe ooglede lê hy in ’n vreemde, grysvaal donkerte; dis soos ’n toemis wat oor hom rol. Hy vee oor sy gesig en aan sy boerseephande ruik hy swartvoël … hy hoor hulle skreeu in die donker en die gulsige meeue wat op die weggooisnoeke toesak, hy sien hulle ruk en pluk aan dieselfde tros derms, gryp en vlug met ’n bekvol aas. Hy ruik die kreef. Die dekvrag mannetjiekrewe skuim en stink en die brood is draderig van blouskimmel.
’n Naar hongerkol vul sy maag. Hy draai hom op sy sy. Dit was nie reg nie, dink hy. Ek moes geweet het dis verkeerd. Dis nie soos Pa my geleer het nie.
Die katel kraak toe hy hom lig en onder die komberse inkruip. Sy ma se gansveerkussing is sag onder sy kop en die matras is met vars strooi gestop.
Sy ma sien die perd sonder saal in die kamp wei toe sy met ’n beker koffie omstap na die breiplek toe. “Is Frits dan toe nie met Pronk weg nie?” vra sy aan haar man.
Hy suig die swart koffie deur sy snor en kyk na die perd asof hy hom daarvan wil vergewis dat dit Pronk is. “Ek het gesê hy kan die perd maar vat. En ek het hom geld gegee,” sê hy. Dan kyk hy in die rigting van die toe buitekamerdeur. “Maar ek het gedink hy het die rus nodiger.”
Toe maak hy die rieme los en rol die doeksagte bondel op.
Sy neem die beker by hom en gaan terug kombuis toe om die aandmaal te gaan berei. En hy gaan kry die trekgoed gereed vir die Nagmaalkerk.