Читать книгу Horrelpoot - Eben Venter - Страница 3
1
ОглавлениеOnly the gloom to the west, brooding over the upper reaches, became more sombre every minute, as if angered by the approach of the sun.
Die oproep betrap my onkant: ek staan op my knieë voor die rusbank. Dis al laat. Buite het Melbourne koud en bitter geword van die onafgebroke reën.
“Marlouw, luister nou mooi, jy moet teruggaan Suid-Afrika toe en Koert vir my uit daai donnerse land gaan uitgrawe.” Dis my suster op die foon. “Daar’t fout gekom,” sê sy, “ek weet dit voor my siel. Jirretjie, Marlouw, hy’s al wat ek het en hy’s besig om al verder en verder weg te raak. In sy dinges in,” en sy trek haar asem hard teen haar verhemelte in.
Eers antwoord ek Heleen nie, ek kan hoor sy’s histeries. Dis ook geen versoek dié nie, dis ’n opdrag. Een wat my lewe van koers af gaan dwing.
Agterna sou die betekenis van die houding waarin ek op daardie oomblik gestol het, duidelik word. Maar daar is ek toe, op my knieë met my wang plat teen die vloer, my rug hol en my boude dakwaarts gerig, besig om ’n albaster onder die rusbank uit te vis.
“Wat vang jy aan? Is dit jy, Marlouw?” Dis asof sy my in die koddige posisie betrap het, en ek bloos.
“Waarom bel jy so laat, Heleen?” My stem klink wollerig. Ek is oorstuur, nie myself nie. Ék teruggaan en Koert probeer uitgrawe? En waar is hy miskien? Sal Koert hom nou aan my steur – dis buite die kwessie. Dit wil ek sê, maar met predestinasie lol jy nie. Ek weet klaar ek moet gaan, dit sal niks help om teë te stribbel nie.
“Weet jy wanneer laas het ek van Koert gehoor?” Heleen blaker alles uit, uitasem. Sy’t gedrink.
“Ek het Koert al hoeveel keer op daai nommer probeer bel: The number you have dialled, is not available. Wat het van hom geword? Wat maak jy, Marlouw?” vra sy weer, angstig dat ek dalk sal ophou om na haar te luister.
Stadig staan ek op sonder om verkeerd te trap. In dié weer het my voet gevoeliger en blouer geword, al het my woonstel ondervloerse verhitting. Die albaster onder die rusbank, een uit my kinderdae, bly net so lê. Ek is nie sentimenteel oor sulke dinge nie. Wel, miskien so ’n bietjie.
“Hoekom saal ek jou tog hiermee op,” vra Heleen nou. Sy kan haarself nie meer help nie, haar nood is te hoog.
Ek voel self die dringendheid aan, met elke woord van Heleen raak ek meer vroetelrig. Boonop is my roetine versteur. Dié tyd van die nag maak ek gewoonlik ’n bietjie melk warm. Wag tot net voor die melk begin kook en giet dit dan stadig op ’n teelepel bloekomblomheuning.
“Elke liewe oggend hol ek na my rekenaar toe om my email te lees,” sê sy. “Asseblief tog, Here, laat Koert dit tog oor sy hart kry om vir sy ma te skrywe. Ek gaan nie eers af kombuis toe om koffie te maak nie, my mail kom eerste. Jocelyn roep van onder af: Will I bring your coffee up, Heleen? Maar ek antwoord haar nie, wat. Is daar nuus van my enigste kind op aarde? Jirretjie, kan hy hom nie oor my verwerdig nie, wat is die woord tog? Niks, niks. Dis nou al hoeveel maande.
“Smiddae hier teen etenstyd se kant as ek altyd vir hom sy toebroodjie gemaak het, gerookte salm en slaaiblare, hy was tog so lief vir mayonnaise, dan begin ek skoon bewe en hardloop boontoe en check weer my email. Niks, Marlouw, niks, sê ek vir jou. En dan begin dit donker raak en die reën wil nie ophou nie. Is daar vanaand iets in my inbox? Weer niks. Weet jy hoe dit voel? Kyk, as hy hier was, het ek al lankal sy ore vir hom afgedraai. O, daai ore van hom, nes ou skulpies.”
“Heleen, asseblief.” Ek ís nie een vir te veel sentiment nie.
“Marlouw, luister …” sy is so bang sy verloor my oor. “Jy móét Koert gaan haal. Ek sal sorg dat jy genoeg geld op jou kredietkaart het. Hy is nog op Ouplaas, hy moet nog daar wees.”
Ek het haar, enigiemand, so lanklaas “Ouplaas” hoor sê. Alles ontstel my nou.
“Wat vra jy my tog, Heleen, jy weet mos ek het besluit ek sit nooit weer my voet in Suid-Afrika nie.”
“Wat ek nie alles vir daardie kind gedoen het nie,” hou sy vol. “En hy’t so goed met sy Duits gevaar. Skrander. Maar hy’t ook ’n wil van sy eie; hy’t goed aangevang waaraan g’n ander kind eers sou dink nie. Weet jy, ek het van die begin af gesien hy’s wild verby – en ek het hom nie kortgevat nie.”
“JP was streng met hom.”
“Rubbish. Sy pa was nooit daar om te help nie. Sy pa! Ag asseblief, help my net voordat ek by die drein afspoel. Marlouw, luister, ek is oortuig Koert is nog daar op Ouplaas. Waar anders sou hy ’n heenkome gevind het? En daar hét iets met hom gebeur. Ek kan dit aanvoel. Hoekom hoor ek niks van hom nie? Hy’t altyd so gereeld gebel en toe hou dit op. Nee, hy kry nie meer ’n sein nie. Toe mail hy elke dag. Klokslag. En toe droog dit ook op. Ek het ’n gevoel Koert is siek en hy’s daar op Ouplaas en daar’s niemand om ordentlik na hom te kyk nie. Jy weet, daar’s siekte in daai land wat handuit geruk het. Die Here hoor my gebede nie meer nie, Marlouw. Hoe sal ek weet wat met my kind gebeur?”
“Wat van JP? Hoekom stuur jy hóm nie om te gaan kyk waar Koert is nie?”
“Ag, jirretjie tog. JP! Not available, soos in forever. Gister bel meneer my kamtig op sy selfoon. Hy’s op die boonste verdieping van die Petronas-torings. Jy weet mos, Koeala Loempoer. Nou bel hy eers om te brag. Nou wat doen jy miskien daar, JP? vra ek vir hom. Heleen, ek wens jy was hier – hy lieg dat hy bars – die hele stad, die hele wêreld strek hier voor my uit, sê hy. Siestog. Weet jy, ek voel die meeste van die tyd jammer vir hom.
“En wat doen JP miskien daar op die toppie van die Petronas-torings? O, hy’s die gas van hulle minister van opvoeding. Hy’s besig om studente te werf vir die ingenieursfakulteit hier in Melbourne. Grootmeneer met sy strikdassie, de lot. Altyd besig om sy eie nessie in te rig. Heleen, jy begryp eenvoudig nie. Dis ons botter en brood, man. Jy weet, as hy my eers man, wil ek die horries kry. Ek is sy donnerse vrou en ons kind is besig om tot niet te gaan.”
“Dalk is Koert orraait, wie weet,” probeer ek nog. Ek is self nie oortuig van wat ek sê nie. En wat JP betref – nou die dag nog sê hy vir my: Jy moenie dat jou voet jou lewe bedonder nie, Marlouw. Kom ek vat jou een aand saam met my na die Daily Planet – so ’n luukse hoerhuis met alles. Nee, ek het nie dieselfde opinie oor JP as Heleen nie.
“Tot niet!” gaan Heleen aan. “Niks gaan van Koert oorbly nie. Man. Verbeel jou, dis hoe JP met my onder die omstandighede praat. JP Spies is al een wat nie weet nie dat die hele Brighton by cocktail parties oor ons skinder: sy kombers en haar matras. Hoekom het ek tog ooit vir daai bene van hom geval? Nee wat, JP gee net mooi sweet blue all om vir sy seun. Hy praat van Koert se sojourn.” Sy aap die stem van haar man na: “Laat die mannetjie gaan as hy dan so graag wil gaan, Heleen. Van my kry hy niks verder nie. Ons sal sien wie kom eendag teruggekruip en tjank oor die vark se peule.”
Ek hoor hoe sy aan haar drankie slurp. Ná al die jare in Australië het sy nog nie die boeregewoonte afgeskud van brandy en Coke nes die son sak nie. Sy’s dronk, soos ys so hard en skerp, want o hel, Heleen kan ’n teefkat wees as sy wil. Ek stel voor dat ek gou oorkom, ’n taxi bestel. Die warm melk moet maar wag, ek is bereid om ’n uitsondering te maak.
“Marlouw, dis onnodig dat jy hierdie weer trotseer. Al wat ek wil hê, is dat jy my moet belowe jy sal gaan en gaan kyk waar Koert is en hom vir my terugbring. Dis al wat ek vra. Is dit te veel gevra? Is dit?”
“En wat van my lewe? Wat van my verpligtinge? Hoe lank gaan dit miskien neem om Koert op te spoor? Maande en maande dalk, wie weet. Ek het mos ook ’n lewe, Heleen. Jy bel my in die middel van die nag.” En toe weet ek dis ’n glips, dis presies wat sy wil hê sodat sy my siel kan uittrek.
“Jou lewe, Marlouw? Jirre, moenie dat ek lag nie. Jy met al jou boekgeleerdheid wat hier in Australië ’n pottesmous kom word het.”
“Jy’s vol stront, Heleen. “ ’n Rukwind gooi stortreën reg teen die volmuurvenster. My hele woonstel sidder. Laat sy maar te kere gaan. So maklik kry sy my nie kwaad nie. Dit gaan beter met my as met haar. Ek is ’n agent vir Paderno-vlekvryestaalpotte en ek was nog nooit skaam daaroor nie. Heleen kan self nie eers sulke potte bekostig nie. Dis van die luuksste kookware op die mark en Melbourne se toprestaurante tel onder my klante. Om eerlik te wees, daar was al kere dat ek gedink het sjefs skaf net van my nuwe potte aan omdat hulle jammer vir my voel. Oor die voet. Maar dan dink ek weer: Ag, nee wat, Marlouw, moenie vir jou laf hou nie.
“Ek weet nie wat het ek en my werk met jou uit te waai nie,” sê ek nou.
“Marlouw, luister na my. Ek sal na jou belange omsien terwyl jy weg is. Jy kan my voorstel aan jou sjefs en ek sal sorg dat jou sake nie skade ly nie. Ek sal hulle om my pinkie draai. Dink jy miskien ek kan dit nie doen nie? Jy’s nie die enigste een met ’n kop vir besigheid nie. As jy dan nie ter wille van my wil gaan nie, gaan ter wille van Koert. Ek weet jy gee om vir hom. Gaan haal hom, waag iets wat jy nog nooit vantevore probeer het nie.”
“Gaan slaap liewer, Heleen. Jy’t heeltemal te veel gedrink.”
“En jy? Ek het jou een aand toevallig gesien, weet jy, dwalend in die strate. ’n Uur of twee later stap jy terug na daai grand woonstel van jou, botteltjie wyn onder die arm vasgeknyp. Die eensaamste mens op aarde.”
“Jy gaan nou te ver, Heleen. Jy praat oor goed waarvan jy niks weet nie. Buitendien, hoekom wil jy so graag vir Koert terughê? Hoekom? Het jy al mooi daaraan gedink?”
“Hoe sal jy tog weet, jy wat nooit ’n kind gehad het nie. Kan ek vir jou sê wat ek nog nooit voorheen durf sê het nie, Marlouw? Daar’s ’n ding wat aan jou knaag. En weet jy wat dit is? Weet jy? Dis ’n woede wat saam met jou sal oud word … oor Pappie en Mammie nooit jou voet laat regmaak het nie.”
Nou’t sy my getrap: sy verstaan my altyd aspris verkeerd. Van kleins af maak sy so. “Ek gaan nou slaap, wat. Ek is nie lus vir jou stront nie. Hoe laat is dit al? Dis al oggend. Nee wat.”
Ek het gedink ons twee is te vervreem van mekaar en dat sy my nie kan omkrap nie, maar sy het. Laas nag het ek weer gedroom dat dit maar net ’n kramp is wat ek in my voet het en toe ek wakker skrik, die wakkerskrik was nog steeds binne-in my droom, toe’s my voet reg en ek kan nes alle ander normale mense wegstap. En toe word ek regtig wakker. Dis ’n ou droom.
’n Hele ruk sê ek niks meer oor die foon nie. Ek hoor hoe Heleen sluk en asemhaal. Ek sien haar in haar jungle room met die sebravel op die teëlvloer en die kieries en skilde en maskers teen die mure, en die gemanikuurde voete en gelakte toonnaels ingekrul onder die boude op Pappie se stinkhoutstoel – sy het toe maar die stoel gekry, ek het tog nie omgegee nie. Sy’t haar toy pom in die waai van die bene, haar brandy en Coke in die een hand, Courtleigh in die koker in die ander hand, volmaakte simmetrie. En ek verbeel my dat ek haar van agter af bekruip en dat sy net so wel doof kon gewees het, sy’t g’n idee wat gaan kom nie. Van agter af kom ek en verwurg haar net daar, sy hét te ver met my gegaan. Niemand praat so met my nie.
Die stilte oor die foon duur te lank na haar sin en Heleen raak doodsbenoud: “Marlouw, asseblief, moenie my nou wegsmyt nie. Vergewe my, ek smeek jou. Kyk, ek is op my knieë. Enigiets. Ter wille van Pappie en Mammie dan. Martin Jasper Louw,” hef sy aan om die erns van haar oproep te beklemtoon.
“Vra my enigiets,” fluister sy, tel sy my nou teen haar op soos jy met ’n kleinboetie sou maak sodat ek haar heerlike brandewynasem teen my wang kan verbeel. “Doen net hierdie een, laaste guns vir my.”
“Jy weet nie wat jy van my vra nie. Wie’s so mal om dit te wil doen?”
“Ék kan tog nie gaan nie. Hoe kan ek, Marlouw?” Sy verstik in haar gretigheid om die situasie weer om te keer. “Ek mis jou, weet jy. Jy kom kuier nooit by my nie. Weet jy dan nie wie ek is nie? Marlouw, hoor my. Luister net die een slag na my, al is ek nie slim genoeg vir jou nie.”
Sy praat ál vinniger: “Onthou jy die keer toe ek en jy saam in die modderdam geswem het en jy skielik begin skree tot jy blou word, die trekkertube het ’n gat in gekry en hy’t begin sink soos ’n klip, jy was al besig om water te trap. En ek roei na jou toe op ’n stomp en ek gryp jou slap arms en slaan dit om die stomp en red jou lewe. Onthou jy dan nie daai dag nie?”
“Oukei dan, Heleen. Ek sal daaroor dink en jou môre laat weet.” Ek wag nie vir haar om te antwoord nie, ek weet sy hang aan haar kant van die lyn. Aan dié kant bly ek net so sit. Wat my maag laat draai, is hoe die opdrag reeds besig is om van my besit te neem. Ek wou nooit weer teruggaan na ’n land waar ’n wit vel as teken van bevoorregting gesien word nie.
“Nag, Heleen,” en ek sit die telefoon neer om van haar ontslae te raak en gaan haal my japara van die haak in die ingangsportaal en trek dit haastig aan en laat die deur agter my toegly op sy sagte, geoliede skarniere nes al die deure in my lieflike wit woonstel. Ek loop uit in die verdrinkende stad, die kraag van die oliestofjas hoog teen my nek opgeslaan.
Dit sous nog steeds, sou Pappie gesê het, maar hierdie plaagreën is nie reën wat hy ooit geken het nie. Ek hou teenaan die heining op die sypaadjie al langs Dandenongweg af. Calistemum en lilli-pilli piets teen my japara. Die struike het lyf gekry en swaar geword van al die water. As dit so nat is, raak ek tog lomp, al erken ek dit nie maklik nie. Dis asof die sypaadjie onder my beweeg soos die water opdam en nie meer koers weet nie. Hinkepink. Ek is bang ek gly en val my disnis en daar is niemand om my dié tyd van die oggend op te help nie.
Ek klim die trap om op die voetbrug oor Dandenongweg te kom. Binne die japara sweet ek, maar ek gaan nie in die reën verpoos om eers my trui uit te trek nie. Onder op die sesbaanweg roei die motors en die bande spuit water omhoog. Dit is die begin van die nanagverkeer van vragmotors en dronkerige taxi’s.
Die reën sak swaar soos gordyne neer, asof die suiderhemel besig is om vertikaal in ’n gleuf weg te sak en vir oulaas sy water siedend wil spu. Agtertoe sein die middestad nog net ’n onheilige gloed deur die stortreën. Ek trek die kap om my kop vas, moet selfs met my arm voor my oë skerm om die water uit te hou.
Môre sal ek Heleen van my besluit laat weet. Ek weet nie mooi of ek self my mening kan peil nie. Dis nie ’n opdrag waaroor mens klaar kán besluit nie. En hier dan, op hierdie patetiese brug oor hierdie slagaar van ’n weg, wat is daar nog hier wat tot my saligheid kan bydra? Die stad wou my nog nooit omhels en teen haar boesem vastrek nie. Ek kan net so wel hier padgee. At arm’s length, twintig jaar al. Dis Melbourne. Ek en Heleen en JP was almal jonk en slank toe ons saam hiernatoe geëmigreer het. The brilliance of the move, het ons vir mekaar gesê. Ons kon almal so goed Engels praat, almal so driftig.
My oë raak nat van sweet en water wat tog inkom, my gedagtes al minder georden, meer vloeibaar asof hulle die omgewing wil naboots. Ek raak daarvan bewus dat my gedagtes stroom en dat my greep daarop verslap en my blik op die weg voor en agter my verdof sodat die voertuie net nog as waterhondjies registreer, elk roeiend op sy waterweg.
Plotseling is daar die skrik van ’n vragmotor met lewende hawe: beeste, skaap liewer. Die reuk van deurdrenkte wol stuif na my toe op ten spyte van die reën; die maaksels van God, sekerlik verskrik tot op hul beendere. ’n Yl geblêr hoor ek, ’n laaste oorblyfsel van hulle oorspronklike taal op ’n stuk oop veld.
Here, laat ek die vaderland en Ouplaas nooit weer sien nie, laat ek my vir die res van my kortstondige aardse bestaan daarvan losmaak. Heregod, help my! Die foto’s van ons op Ouplaas: ek met drie spreeueiers in my hand op Pappie se skoot. Dis tog alles weggesit tussen kladpapier in die drooglaai in die negentiende-eeuse Japannese kabinet wat ek net vir dié ewige wegbêre aangeskaf het. Hoekom anders so duur betaal vir ’n paar stukkies plank?
Pappie se kis wat in die koue aarde afgesak het – ons is ’n wintersdag gegun om ons vader te begrawe sodat ons onsself vir eens en altyd kon uithuil. Ek het die dag deur my donkerbril beskou, oor die koppe van die omstanders gekyk tot waar ’n groenigheid om die nuwe begraafplaas aan die oorkant aangeplant was: verwaaide ou sipressteggies. Dit sou leeftye neem voordat hulle skadu oor die grafte gooi. Dis toe dat ek besluit het: Ek wou van daardie barre stuk aarde niks meer weet nie.
“Hierso, asseblief.” Ek het die graaf geneem en self begin toegooi. Ons s’n was ’n geskiedenis wat vir goed verby was. Daar was ’n gesnik om my en ’n verlatenheid, ons pa was die laaste van ’n geslag wat daar voortgeplant en geleef het. Toe het dit vir my nog duideliker geword: Ouplaas het lank nie meer aan my en Heleen behoort nie. Dit moes bemaak word aan die drie families wat dertig, veertig jaar lank al daar gewerk het.
Wat wil ek en Heleen met ’n bleddie plaas maak? Laat húlle dit oorneem: November Hlongwane, hoofman oor die skaapkuddes, en sy twee kinders: Pilot en Esmie Phumzile, en Nombulelo Mildred, die ou vrou wat ons boude vir ons afgevee het, en haar seun Lehlono, en ouma Zuka en Frans en Sindiswa Zuka en hul seuntjie Headman, en die res van hulle kroos. Laat hulle almal vir Ouplaas kry en iets daarvan maak.
Heleen het die dag van haar kop af geraak toe ek dit voorstel. Ná die begrafnis was daar ’n teedrinkery by tannie Driekie-hulle en Heleen het haar bordjie met die melktert net so neergegooi en my aan my arm buitentoe gepluk. Reken ’n bietjie, daar word haar eie plan deursigtig: sy wou my oorhaal om onmiddellik die familieplaas in die mark te sit sodat sy haar aandeel kon kry, na haar Australiese rekening kon laat oorplaas en die en suite in hulle Brighton-huis met marmer laat oordoen. Ek kon haar deur haar gesig klap.
“You’re so righteous, Marlouw. Little twit,” het sy dié dag vir my gesê. Sy’t daai tyd meestal Engels gepraat. Sy het my eers verag, daarna toegegee.
Kaart en transport van Ouplaas is aan die drie families oorgedra. Mildred, ons het haar mos nooit Nombulelo genoem nie, het daardie dag haar fisieke terughoudendheid teenoor wit mense laat vaar en arms seningrig soos osrieme om Heleen se nek gegooi. Mildred het gehuil, en Heleen naderhand ook.
My hartklop wankel. Die lug wat ek intrek, is te klam. Ek voel hoe ek hier, in die middel van die brug oor ’n helse weg, die angs van die skaapdiere op die vragmotor deel, angs wat nou in my opwel: die verskrikking van hierdie opdrag van Heleen. Tot nou toe het ek net skrams oor die uittog gedink, maar die realiteit daarvan is besig om groot en misvormd voor my oop te bars.
My veilige, beteuterde stadsbestaan moet ek verruil vir ’n land wat ek besluit het ek glad nie meer wil ken nie. Dié taak gaan my heeltemal wegvoer. Ek het myself aan iets toegesê waarvoor ek nou bang geword het. En as jy vooraf vir iets bang is én daarvan weet, kan jy dit tog oorwin. Ek sal. En ek sal dit glo. Maar my hart klop swak, my gemoed is geslote oor die moontlike uitkoms van die soektog. En dan is daar my gebrek. Ek sukkel ’n ent verder oor die brug aan.
Wat weet ek tog van die mens wat Koert geword het, of van die redes wat hom twee jaar al van sy ma af weghou? Nou moet ek hom daar gaan staan en uitgrawe. Sy kruppel oom met twee leesbrille in die tas: een vir lees en een vir die onwis. En wat bly dáár nog oor om te lees? Ek weet niks meer van daardie land nie. Koert sal my waarskynlik vanaf Ouplaas verskreeu en ek sal soos ’n hond moet terugkruip.
Gepoleer en al, kan my skoene uiteindelik nie die vloed weerstaan nie en nattigheid sypel by my kouse in. My hande voor my gesig drup stroompies teen my moue af. Ek ril vir die nag wat met die dooie kleur van lood oor my neersyg.
Daar het nou niks meer vir my oorgebly nie as om my hieraan oor te gee. Dit is my eer, ek het myself reeds belowe ek sal gaan, al het ek nog nie vir Heleen laat weet nie. Sy lê teen hierdie tyd uitgemergel op haar bed met net die toy pom om haar bors bietjie te verwarm.
Onder die voetbrug slaan ’n vragmotor sy lugremme aan, kom glyend tot stilstand en motors spat benoud weerskante van die kolossale voorwerp verby. Kortstondig sien ek hoe ’n kneukel wit om ’n stuurwiel klem.
Ek slaan weer die twee pante van my japara om my liggaam vas, ek is van sweet en sypelwater deurdrenk en bewe sonder ophou. Eens en vir altyd wil ek my rug op die brug en die stad draai, ook op die skrik wat die opdrag in my lewe laat opspring het, maar dis nou onmoontlik. Dit het ’n vasgelegde onmoontlikheid geword. Ek kan net nog daarvan probeer weghardloop en begin dan ook na links oor die brug hink terwyl ek my balans op die loopoppervlak behou deur my hand al langs die heuphoogtereling te laat gly.