Читать книгу Horrelpoot - Eben Venter - Страница 4

2

Оглавление

Often far away there I thought of these two, guarding the door of Darkness, knitting black wool as for a warm pall, one introducing, introducing to the continuously unknown, the other scrutinizing the cheery and foolish faces with unconcerned old eyes.Dis nie Heleen nie, maar haar huishulp, Jocelyn, wat in die vroeë oggend die voordeur vir my oopmaak. Ek is yskoud van min slaap.

“Oh, good morning, Marlouw, up so early?” Haar bolip lig ’n fraksie van haar gebit af weg en krul teen haar neus op.

“Môre, Jocelyn. Lyk of jy self vroeg begin het.” Dit traak haar min of ek haar bolip opgemerk het. En ek sit ons ou speletjie voort en weier om met haar Engels te praat. Jocelyn reken eers as ek Engels met haar praat, ag ek haar as my gelyke. Maar sy moenie vir my kom vertel dis wat sy by haar eie huis praat nie.

“Your sister is out, I don’t think she was expecting you so early. Oh, this rain,” sê sy dan, tog meer toegeeflik. “I discovered mould on my leather pumps the other day.” Sy’t die toy pom teen haar bors, en dié spartel en grawe om by my uit te kom.

“Stop it, Henrie, stop it immediately,” beveel Jocelyn, benoud die hond trap nat pote op Heleen se bokhaarloper.

“You know where to hang that dripping coat of yours, or I can take it for you,” maar sy maak slegs ’n halfhartige gebaar, kyk af na my, draai om sonder om hand te gee en loop eerste aan na die kombuis.

“Is JP hier?” vra ek teen haar ronde moedersrug.

Sy gaan staan net links van Heleen-hulle se Alexis Preller en pers haar lippe saam: “Mister Spies has been away for more than two weeks. And we’re not expecting him back for some time.”

In die kombuis het Jocelyn op een van die stoele by die ontbyttoonbank plaas geneem toe ek inkom. Daar is breiwerk op haar skoot en sy gaan aan waarmee sy skynbaar besig was toe ek die klokkie gelui het. Henrie spring teen my broekspype op en hang ’n pienk tong uit.

Sedert Jocelyn vir Heleen-hulle begin werk het, het haar velkleur al hoe bleker geraak. Dis die werk van salwe en rome, ek weet nie watter moderne wondermiddele is alles deesdae beskikbaar nie. Sy’s oorspronklik ’n bruin vrou van die Oos-Kaap, van Aliwal-Noord, nie ver van waar ons grootgeword het nie. Maar sy laat val nooit ’n woord oor haar herkoms teenoor my nie. Ons het albei iets waaroor ons verkies om te swyg.

Ek loop na die kas waar Heleen hulle koffie- en teegoed hou. Daar is ’n fles duur poeierkoffie met ’n merk wat ek herken. Ek haal egter ’n teesakkie uit.

“Wanneer gaan julle regte koffie in die huis begin drink?”

“The coffee here is good enough for us, thank you very much. Can I tell you one thing, Marlouw? You’re a terrible snob and you couldn’t give a damn.” Haar wimpers wat welig na bo krul, flikker oor haar gitswart oë.

“Jocelyn, ek gee nie om wat jy van my dink nie.”

“That’s what I mean, see.” Sy maak dat ek omkyk na haar, waarop sy dadelik weer haar oë afwend en voortbrei. Die wol is swart en sy het reeds ’n allamintige stuk van die breiwerk klaar, dit tuimel tussen haar knieë deur en val in sleepsels tot op die steriele kombuisvloer. Sy gebruik ’n dik en ’n dun naald, die dikke pienk, die dunne ligblou. Sy loer na my totdat ek dit agterkom, kyk dan weer vinnig op haar breiwerk af. Sodra ek van haar af wegkyk, loer sy weer terug, ek kan dit aanvoel.

Terwyl ek wag vir die water om te kook, raak ek bewus van die stadig stygende uitwerking van Heleen-hulle se ondervloerse verhitting.

“There’s Hertzog cookies in the cupboard above you.”

My linkerkuit begin ontspan. Omdat my linkervoet na binne en afwaarts gedraai is en ek altyd op die buitenste rand van die punt van die voet moet loop, is die kuit onderontwikkel, al moet hy hard werk. Dis die algemeenste voorkoms van die mankvoet, van talipes equinovarus. Woorde wat die meeste mense nie ken nie, en as hulle dit dalk nog te hore kom, dink hulle jy’t nog ’n krakie ook by.

“What’s the matter, Jocelyn? Vertrou jy my nie, of wat?” Ek het omgedraai na haar, sy kyk my so dwingend aan.

Jocelyn het haar plomp voete in twee merinowol-pantoffels ingeprop en sy swaai hulle nou heen en weer, nes ’n dogtertjie. Haar enkels het tog nog ’n sanderige bruin gebly.

“Cookie?” vra sy en beduie met haar oë na die kas.

“Dankie, Jocelyn.” En so kom daar tog ’n meelewing tussen ons los.

“Wanneer verwag jy vir Heleen terug?”

“She won’t be long at all, she had an appointment at the clinic that she couldn’t miss, but she won’t be too long. She wants to see you.”

“Die reën sal die verkeer ophou. Dis gevaarlik, ek verkies om op sulke dae net by die huis te bly.”

“Well, some of us have to get to their work. I stick to the tram in this weather. Much safer. I love watching the school children on the trams, they’re so mischievous.” Sy hou op toe ek nie saamlag nie.

“But no, I don’t think she’ll be long. She wants to see you. She can’t wait to know what you’re going to say. Since Koert stopped calling, Heleen has not been herself. She doesn’t sleep at night. She’s got her cigarettes and her drink, and not much else. I am worried about your sister.” Sy draai haar op die regop stoel om na my, ek het voor die venster gaan staan.

Die vlak van die swembad haal asem onder die gietende wolke, ek kan hom sien styg en daal teen die kant. In die versorgde Brighton-tuine maak die rose swartkol, vanaf die grond af boontoe begin die stamme van Heleen se Just Joey-rose verrot.

“Lekker.” Ek kyk na die koekie in my hand. Jocelyn kook al Heleen-hulle se kos. Haar soetgoed is voortreflik. Maar waarom Heleen altyd so gaande oor Jocelyn se grootkos is, weet ek nie. Persoonlik dink ek Jocelyn se boboties is ’n oordaad van witsuiker en sout en ook nie veel meer nie. Maar sy’s sielslojaal teenoor Heleen. En eintlik is ek en Jocelyn op ’n taaierige manier self verknog aan mekaar.

“Marlouw,” sê sy skielik hard agter my, “ek het van Koert gehoor, weet jy.” En vir die eerste keer ooit praat sy Afrikaans met my, sodat ek daarvan skrik.

“Maar laat dit tussen my en jou bly, asseblief tog. Ek het nie jou suster laat weet nie, orraait. Ek wil haar nie verder ontstel nie. Sy is reeds by haar laaste kragte. Ek voorspel niks goeds vir haar gesondheid nie. Ook die mental compartment, jy weet,” en sy tik met die dunner, ligblou breinaald teen haar slaap.

“Mister Spies is in Maleisië,” sy trek haar skouers op en bly stil sodat ek kans kry om in te neem wat sy blykbaar nie durf sê nie. As JP in die huis is, sal Jocelyn haarself nie toelaat om op die Spiese se stoele te sit soos nou nie, veral nie as JP nog in dieselfde vertrek as sy is nie.

“Mister JP en jou suster, Marlouw, sy’t seker al vir jou in no uncertain terms laat weet wat aangaan.” Sy kyk nie op haar breiwerk nie, maar hou my fyn dop. Haar insinuasie het my onkant betrap. Ons was nog altyd versigtig om nie te veel sê nie, wat nog oor my suster en JP.

“Wat het jy van Koert gehoor, Jocelyn?”

“My niggie sê die mense het bang geword vir Koert. Krista sê hy dryf handel met vleis en hy beheer alles daar. As jy wil vleis hê, moet jy in sy goeie boekies wees. Die hele distrik staan bakhand voor hom.”

“Bang? Vir Koert?” Ek bly stil en dink oor die moontlikheid dat iemand vir ’n seun soos Koert bang kan wees. Koert en ek hét al oor bang gepraat. Wat ek die graagste van Koert onthou, is die wit van sy biseps as hy op die Yarrarivier roei. Soms, as Heleen van al die aangeplaktheid van haar vriendinne wou walg, het sy my genooi om na die kanovaartwedrenne tussen die privaat skole te kom kyk.

Die wit, die wit van sy biseps. Dit was vir my mooi. Koert was ’n uitmuntende roeier. En sy pa het hom aangemoedig, al hou Heleen vol dis twak. Koert wou dit ook so hê, dit was die kind in hom, die seun wat hy was, in vadersnaam. JP Spies het net te veel verwag. Toe’s Koert hier uit Melbourne weg. Ek het dit sien kom.

Een aand kort voor sy vertrek het hy sommer by my woonstel ingeval. Koert hét iets aan my gehad, dit weet ek. “Bier?” vra ek, tog verbaas oor sy besoek. Ek gaan haal sommer dadelik twee biere vir ons uit my nuwe vlekvryestaalyskas. Koert het huiwerig in my teenwoordigheid voorgekom, ’n bietjie onseker oor waarom hy nou eintlik kom kuier het. Dit was nie soos hy nie. Ek kon hom sommer teen my vasdruk. Ek moes, ek moes.

Maar daar staan hy toe: jonk en fris in sy Billabong-hemp en bietjie gerook. Skelm genoeg om wins uit sy onsekerheid te slaan. Met sy oë lok hy my nader, nog nader, en laat los. Ek moet erken: Koert het ’n krag gehad waarvoor mens kon terugskrik as jy nie besef het dat hy nog maar aan die heel begin van sy manslewe gestaan het nie. Sy ma het hom nie verniet “my koning” genoem nie.

“Ek wil bietjie gaan swerwe,” sê hy toe. “Eintlik het ek g’n clue waarheen nie. En moenie vir my vra waarvoor en waarom nie. Natuurlik wil ek graag hier wegkom. Wie sal nie wil nie? Melbourne maak my naar.” Hy sluk helfte van sy bier met een teug weg. Hy kyk na my asof ek moet weet watter beeld van hom die ware een is, dat sy onsekerheid net gemaak is. En dat dit net ’n kwessie van tyd is, dan’s dit oor. Koert se oë fokus skerp en word glaserig en ek herken toe iets van Heleen en Pappie en ons lang, uitgerekte voorgeslag in sy blik.

“ ’n Perd moet darem maar baie olie in sy vel hê om so aanhoudend in die reën te kan bly staan,” praat Pappie ’n ou, ou sin in my kop los en beduie met sy hande. Oortuig van sy saak en simpatiek sien ek hom praat en dan vaag iewers heen verdwyn. Tussen die twee pole van Pappie se gemoed is daar die branding wat loskom, die wil wat hyg en almal wil hiet en gebied net om te oorleef. Maar dan tree daar die wankeling in, die huiwering en die twyfel.

“Jy hoef nie nou al presies te weet wat jy met jou lewe gaan aanvang nie, Koert. Jy’s nog jonk. Doen waarvoor jy lus het. Dis wat ék sou, as ek in jou skoene was.” Maar ek kon sommer sien hy kry niks uit my praatjies nie, en ek het maar aangehou: “Jy ken jou fondasie, jy weet wat jou ma jou geleer het. Sy gee bitterlik baie om vir jou, jong, al druk sy jou op die stadium bietjie vas.”

“Weet jy wat dink ek gaan ek doen, ek gaan na julle plaas in Suid-Afrika soek en kyk hoe lyk dit nou daar,” kondig hy toe aan, lekker gung-ho en al. “Julle wou my mos nooit vat as ek gekerm het om te gaan nie.” En toe hy sien hoe ek na hom kyk: “Waarvoor moet ek bang wees?”

“Ja, waarvoor?” vra ek en sak lammerig in my stoel terwyl ek dink aan die grond en die opstal waar elkeen van ons ons geheime gehad het. Alles, selfs die geheime, behoort lank nie meer aan ons nie. “Waarvoor?” vra ek toe weer.

Kliek-liek-klak, brei Jocelyn op die hoë kombuisstoel.

“Ons ken mos almal vir Koert,” sê ek vir haar. “Hy’s nog te veel van ’n liggewig, hoe kan jy vir hom bang word? Jy praat nou sommer nonsens, Jocelyn. Hy’t dan altyd hier voor op die strand met Henrie gaan speel. En die olie van pikkewyne gaan was en sulke klas goed. Koert is so ’n saggeaarde kind. Nee wat, Jocelyn.”

Ek weet wat ek besig is om te doen. Ek wil die uitlating oor Koert teruglei na die vlak van ’n gewone gesprek. Wat wil Jocelyn van my neef maak? ’n Boer met vlesige oogbanke en dik nek wat sy beeste een vir een met ’n elektriese knuppel op die boud skok en by ’n drukgang inforseer? Die ding is, ék wil normaal bly. Binne ’n paar dae vertrek ek, waarna my lewe op sy kop gekeer gaan word. Dis waarteen ek nog probeer skop.

“Jy sal sien, Marlouw. Of liewer, jy sal maar self moet gaan kyk. Ek sê net wat ek self gehoor het. Krista is my suster se oudste en hulle is nie mense wat stories aandra nie. Hoekom sal sy nou vir my wil jok?”

“Ek sê nie sy’t leuens vertel nie.”

“Ons is ’n familie wat op ons eer gesteld is. Sy skryf vir my alles wat sy weet, want ek het uitgevra oor Koert Spies. Krista is mos al lank by die abattoirs daar. Vreeslik smerig, glo. Sy worrie oor siektes, maar daar’s nie ander jobs nie. Sy hoor wat in die distrik aangaan. Mense praat. En sy sê sy was een keer daar op julle pappie en mammie se Ouplaas. Maar moenie dink sy’t ooit vir Koert te siene gekry nie. Al wat sy sê is dat hy nou ’n man met mag geword het. Mense kom vra vir hom dinge en dan sê hy so en so. Hy het glo troppe skape en hy beheer die vleis wat inkom na die abattoir. Krista sê hy het ’n anderster soort mens geword, Marlouw. En daar’s nog ander goed ook. Daar’s glo mense wat eenvoudig verdwyn as hulle nie maak soos hy sê nie. Maar hieroor shut-up ek liewer. Dis nou nie vir my om te sê dit ís so, en dan te veroordeel nie.” Sy pluk aan ’n string wol om die bolletjie effens los te wikkel waar dit in haar geblomde sak vasgepak is.

“Van watter soort mense praat jy, Jocelyn?”

“Ek is baie lief vir jou suster. En mister JP vir wie ek ook sorrie voel, hoor. Ek sal alles vir hulle doen, jy weet mos, maar ek sal nie na daai land gaan om hulle kind vir hulle te gaan haal nie. Marlouw, jy moet jou kop laat lees voor jy dit aanpak.”

“Waar bêre Heleen haar sigarette?” Jocelyn wys met haar breinaald na die jungle room. Haar oë is so groot soos pierings, en verslae. Langs Heleen se leunstoel, gestoffeer met faux luiperdvel, is ’n snuifhoutboks wat nog deur ons oom Wallie gedraai is, ek herken die ding.

“Ek sal sorg dat jy by my siener uitkom om ’n voorspelling te kry, want ek sien jy gaan nie na my luister nie. Ek kyk in jou oë en ek sien jy’t jouself in ’n foolishness beyond words vasgeloop. Moenie gaan nie, Marlouw. Ek gee om vir julle, en vir jou ook.” ’n Emosie oorval haar sodat die sensitiewe toy pom met keffies teen haar wolpantoffel opspring.

Jocelyn kon nie meer helder dink nie, het ek daardie dag gereken. Nog later, toe ek besef dat Jocelyn my teen die waansin gewaarsku het, het ek my “rekening” hersien. Ver heen op daardie reis, diep in die binneland, het ek besef hoe naby ek aan die waansin gekom het. En al het ek uiteindelik nie mal teruggekeer nie, sou die gevolge van daardie reis my altyd bybly.

Maar nou, sal ek eers Jocelyn se siener besoek voor ek vertrek? Mammie kon ook so grondig twyfel en eerder haar vertroue op tekens plaas. Op haar doodsbed, haar vel soos uitgewaste moeselien, het sy voorspel hoeveel dae ná haar dood Pappie sou bly lewe. Op haar aandrang moes ek dit net so in haar Bybel neerskryf, langsaan Psalm 23, langs “die groen weivelde”, het sy versoek. Sy het dit tot op die dag reg gehad.

“Marlouw, kom hierso, kom laat ek jou palms sien.”

Ek loop stadig na Jocelyn, sy het haar massa swart breiwerk op die toonbank langs haar opgebondel.

Van vandag af maak ek vrede met Jocelyn. My hart het tog nooit teenoor haar verhard nie. Sy bleik haar omdat mense dalk iets oor haar gaan kry om te beskinder. Wat sê hulle nie alles wanneer jy hulle nie kan hoor nie? Ek lê my regterhand in hare soos sy gevra het.

“O, ek sien iets soos ’n yslike rugbyveld met spelers, holderstebolder. Daar is plasse, daar is ’n hele klomp woelwaters. En jy’s iewers tussenin. Kyk, hier loop jy sommerso deurmekaar.” Sy volg ’n lyn met haar nael, die lyn vertak en hou op en ’n tweede een loop regs ondertoe. “Hierso kan jy die los gemaal sien. Die reëls is totaal vergete.”

Ek weet dit gaan oor my voet, maar sy kan haar nie sover bring om dit te sê nie.

“Dis Koert se digression dié. Laat hy dit vir homself regmaak.” Sy fluister, haar asem vol spoeg en vanilla: “Laat hy self terugkom, as hy wil. Jy sal hom nie maak kom nie, Marlouw.” Sy hou my hand in hare, nie in die minste ongemaklik so digby my nie. En ek ook nie by haar nie.

“Jocelyn?” My stem breek sodat ek moet wegkyk van die liefde wat sy vir my gee. Haar hart is soveel groter as myne, Jocelyn Albertse kon my ma gewees het.

“What, my darling?”

“Ek moet gaan, dis al wat ek weet.” Ek kyk buitentoe. Die water het nou oor die swembadrand gestoot en begin dam op die grasperk wat die bad omraam. Die gras skyn slymgroen deur.

Sy bring my hand tot teenaan haar kloppende hart en laat rus hare nog lank bo-op myne. “Dis sy eie besluit, dis sy digression waarop hy homself gevat het. Orraait, Marlouw? Onthou dit net.”

Ons kyk albei op toe ons die voordeur hoor. Jocelyn laat my hand los. Henrie skiet uit die kombuis weg en blaf vir die bekende voetstappe. Dit sal Heleen wees. Ek retireer, Jocelyn neem weer haar breiwerk op. Heleen sal ons waarneem soos sy daaraan gewoond is.

“Is jy sterk genoeg hiervoor?” Sy wys met die breinaald na my voet: “Hulle sal jou nie respekteer nie. Dis nie ’n marshmallow-land waar almal ewe soet wag sodat die wit meneer eerste kan inklim nie. Het jy al gedink hoe daardie mense jou gaan sien? Jy kan ’n victim word.” Sy praat vinnig om klaar te maak. “Ek bedoel nie om jou te beledig nie, Marlouw,” toe sy sien hoe ek na haar kyk.

“Shame man, Marlouw, moenie dít nou van my dink nie. Daardie mense het self soveel behoeftes, dit weet jy. En wat beteken ’n cripple” – dat sy dit kan sê – “se lewe as jy eers so down en out soos hulle is. Ek druk dit maar net op jou hart. Krista sê daar sterwe elke dag baie ma’s en baie jongmeisies en baie kinders. Hulle het al opgehou om hul dooies te tel.”

Sy kyk my weer reg in die oë: “Nog iets: Sal jy kan cope as jy iets van jouself sien wat jy nog nooit gesien het nie? Het jy die mental strength? Ek weet nie. Wie van ons is sterk genoeg vir sulke goed?”

“Weet Heleen niks van dié dinge wat jy oor Koert gehoor het nie?”

“No. And it’s better like this. She loves Koert, she adores him more than anyone else. We must give her hope, Marlouw. That is all she needs. A little bit of hope dat die arme mens weer kan slaap.”

“En JP?”

“Mister JP.” Sy trek haar skouers op. Heleen kom binne met die trippelende hond agter haar skene.

“Ag, jirretjie tog, Marlouw,” en sy mik dadelik na my en soen my op albei wange soos sy dit hier in Brighton leer naboots het.

“Jocelyn, maak vir ons ’n lekker pot tee. Hoe ver het jy gevorder,” en sy kyk na Jocelyn se breiwerk. “Marlouw, bring jy vir my goeie tyding? Sal ons iets sterkers drink? Haal eerder vir ons ys uit, Jocelyn.” Sy tiek teen ’n pas, haar nek is uitgeslaan.

“Sit daai broek dan nie te los aan jou nie, Marlouw, ek vra maar net.” Sy probeer lag, haar hande met die geskulptuurde naels word ’n oorlas. Hulle bewe. Sy het tot op haar grense gekom.

“Ek sal, Heleen. Ek sal gaan kyk of ek Koert kan kry en doen wat ek kan. Ek beloof niks nie – hoe kan ek? – maar ek sal nogtans gaan kyk.”

“Ag, Marlouw,” en sy omhels my en soen my soos in die ou dae, haar parfuum wolk om my. Sy vee haar gesig af.

“Hier, ek moet jou dié wys sodat jy kan weet wie’s die Koert waarvan ek praat. Voor julle dink ek het mal geword.” Uit ’n laai in die jungle room kom ’n vel papier met Koert se laaste e-pos daarop:

Hey die mense van doer onner

Daar’s a max weight auf maaine Herz . . . hier kom hy

Ek het doubts oor cummin back to Auzzie, o joi joi

Booom ***shakalak

ek wil julle sooo graag uittjek, die ace familie, ek bemin . . . mmm

Mmmisss julle en Henrie . . . but rite now wis

ekke

ek maak net die move cause some people demand dit en dat, aber es ist kein muss . . . Count yours Koert-truly out . . . dis 50/50 ek sê julle bradders, BUT

is net dat ek sort of a thingy oppie boiler het

startin’ from scratch in Auzzie isse zero option

het ek nog nooit geconfirm ek kom one day terug . . . nou hoekom menace party

bradders en swisters daar by julle my so . . . so confusin!!!

Ek het courage vir alle decisions op my ace

How’s that soundin for my JP daddy?

Ekke vat responsibility for whatever might go wrong

Vanaf hierso is dit THE option

includin includin

takin responsibility vir die mense right here, maaine bradders.

Die mense die need me like the earth needs the rain

Ek is nie bang vir making mistakes

Ekke leer van hulle ’cause ek het hulle self gemaak

they give me POWER, can youz feel it?

dis my 1ste keer mos dat ek so voel

sonder om geswael te gewees het

as ek nou trugkom sal ek a failure inklok

Ek wil goed voel, my confidenz = right up there

love die eternal familie. Runnin out of 02

miskien vir xmas an’ new years I’ll be cummin, who knows

you never know, ekke weet nie myself. Dis die waar.

Koert S?ieS

Ek en Jocelyn proes, maar dis niks snaaks nie. Heleen het haar gesig weggesteek en sien nie eers ek hou die papier uit sodat sy dit kan terugvat nie. Nou sal niemand meer weet watter soort mens Koert geword het nie.

“Kyk hoe spel hy sy naam. En sy taal. Maar hy’s nog nie van sy kop af nie, dit weet ek.” Heleen kyk na my en Jocelyn en ons knik. “Kyk die datum, kyk daar. Hierdie email is stokoud. Niks nie, ek het al probeer terugskryf maar al my mails kom net so terug.”

Jocelyn het haar mond met haar hand bedek. Stadig, soos teer wat gegiet word, gly haar breiwerk van haar skoot af en bondel misvormd op die vloer. Die hond kom skielik agter daar is ’n rivier van swart breiwerk tussen hom en sy miesies en probeer deurkom, maar die wol maak branders en gooi hom elke keer toe. Ons kyk almal af na Henrie wat besig is om in Jocelyn se breiwerk te versuip, die hond jammer soos ’n kind.

“Look what’s happening to little Henrie!” Jocelyn woel die hond los, staan op en kyk dan reguit na my. Sy waai my met ’n klomp onderstebo vingers uit, uit, buitentoe. Oorkant toe.

“Go then,” sê sy, “just go.” So spreek sy die laaste woord.

Horrelpoot

Подняться наверх