Читать книгу Horrelpoot - Eben Venter - Страница 5

3

Оглавление

A queer feeling came to me that I was an imposter.

Die laaste dag daag Heleen by my woonstel op, sy’t haarself sommer oorgenooi. Uit haar handsak haal sy reisgeskenke: ’n kompas, ’n flits wat met ’n sonbattery werk en ’n bottel met haar eie pille vir enige pyn op aarde – slegs op voorskrif verkrygbaar.

Noudat ek geen omdraaikans meer het nie, is sy kalmer. “Ek slaap selfs deur,” vertel sy en nies pateties. Sy gesels oor ditjies en datjies, maar haar stem is vol en moedig. Só laat sy my baie aan Mammie dink.

Sy neem die glas Chardonnay wat ek intussen geskink het en drink so vinnig dat dit haar onmiddellik van spoor bring.

“Kyk bietjie hierso,” en sy lig haar viskose-hemp op. In die middel van haar bruingebrande maag sit die kuil van haar naeltjie, nou met ’n diepgoue ring deurboor.

Sy’s bly sy kan dit vir my wys, dit ís ’n pragtige ring. Onnatuurlik vrolik, soos iemand op uppers, kom sy teenaan my staan. Sy gee haar reuke een vir een én tesame af: die rubber van haar goud-en-amandelbruin stapskoene, die dagparfuum wat ek aan haar vroueliggaam ken, en haar hare, appelsoet. Sy kan so impulsief wees dat dit my onverwags aantrek. Dit is waaroor JP ook wou dood. Dan onttrek ek my.

“Hoekom kyk jy so snaaks na my, Marlouw? Jy dink ek is simpel, nè. Jou simpel suster met haar huwelik aan skerwe en haar enigste kind moer toe. Ek weet dis wat jy nog al hierdie jare van my gedink het. Maar kan ek iets vir jou sê, Marlouw? Jy mag kamtig slim wees met al jou boeke en jou graad in ek-weet-nie-wat, maar dit het jou alles net mooi niks in die sak gebring nie. Kyk hoe’t jy geword, ek weet mos.”

Ek tree terug, ek wou haar nie verstoot nie. My reaksie het ook weinig met haar te make. Maar sy kan so knaend wees en my gemoed weeg klaar swaar. “Hoekom moet ek hierdie waansinnige uittog aanpak om jou kind te gaan soek as jy my altyd maar net wil uitskel,” slaan my stem teen die glansende oppervlakke van my kombuis vas. “Ek skuld jou niks nie, Heleen. En nou maak jy dat ek jou nie eers meer kan liefhê nie.”

“Jy is tog nie vir my lief nie.”

Ek antwoord haar nie. Sy lyk skielik afgerem met die hemp wat so skeef teruggeval het. Ek moet haar hier wegkry, ek’s nie in staat om haar enigsins op te beur nie. Vandat ek besluit het om te gaan, het ek te veel van myself om mee rekening te hou. Ék moet hier weg. Hierdie opdrag het net betyds gekom.

Sagter nou: “Wat wil jy van my hê, Heleen? Wat het ek aan jou gedoen, jong?”

“Sorrie, Marlouw. Sorrie-sorrie, honderd maal.” Sy soek haar sigarette. “Ek is besig om van my verstand af te raak. Ek steek niks vir jou weg nie, ek sweer dit. Is dit ’n sonde dat ek my eie kind wil terughê? Jy’s al een wat my kan help. Met wie anders kan ek praat? JP weet nie eers waar hou ons die spaar toiletrolle in die huis nie.” Sy begin huil en bêre haar hande diep in haar oksels. Een diékant, die ander een daardie kant in. Maak nie saak hoe gedaan sy is nie, sy behou haar simmetrie, en probeer so behoue bly. Dis al wat sy het.

Ek skink haar glas vol en sy krap ’n pil uit haar handsak voordat sy aanvat. Haar adamsappeltjie hop toe sy sluk. Ek vee haar oë met een van my ongebleikte swaar katoenvadoeke af.

“Hy weet nie eers waar hou ons ons toiletrolle nie,” begin sy giggel.

“Gee my net ’n kans, Heleen. Ek’s nou weer by jou. Ek moet net eers my eie kop agtermekaar kry. Kyk hoe laat is dit al.”

Ek draai my weg van Heleen wat met haar hand om die nek van die bottel Chardonnay gaan staan het en beskuldigend – sonder woorde – sê: Wat word nou van my, noudat jy weet wat om met jóú lewe aan te vang?

Ek maak my kamerdeur agter my toe en steek my hand voor by my oopgeknoopte hemp in omdat ek nie weet wat om anders te doen nie. Die woord waaraan hierdie reis soos aan ’n haak opgehang is, het op ’n afskrikwekkende manier by my posgevat: imposter. ’n Kroek. Iemand wat ’n vals identiteit aanneem om ander te kierang.

Heleen en ek deel dieselfde bloed, maar sy het in hierdie land en hierdie bedorwe voorstad haarself verpand vir ’n goue ring en ’n marmer-en suite – sy het dit toe in elk geval laat uitvoer – en nou’t sy ’n swakkeling geword. Sý beskou haarself nie so nie. En ek weet nie eers of dit dalk valse getuienis is om so oor haar te dink nie. Pappie en Mammie het so regop soos sipresse op die aarde gestaan, albei koppig én kragdadig. Hulle sou hulle nie kon voorstel dat hulle dogter dit bevrydend sou vind om op haar eentjie iewers in ’n vreemde stad met ’n koppie koffie te sit, skuim van die teelepel af te lek en inkopies – sy kort niks nie – te beplan.

Ter wille van Heleen kan ek tog onmoontlik die reis aanpak. Ter wille van Koert, glad nie. Daar stem ek met sy pa saam. Koert loop sy eie pad en hy moet maar opdonder. Ek kan nooit so hartstogtelik soos Heleen vir Koert terugwens nie. En dis ook nie nodig om dit vir haar te sê nie.

Ter wille van myself en my eie heil. Daar’s nou ’n rede. Daar is geen ander manier om die wil op te kommandeer om te gaan nie. Dit moet almal goed begryp. Imponere beteken nou wel om bewustelik te bedrieg, maar ek wil niemand bedrieg nie. Nie Heleen nie, en ook nie vir Koert nie. Dis te sê as ek hom ooit kry. En nie een van hulle hoef ooit in my bewussyn te kom rondkrap nie.

Dalk keer ek nooit weer van hierdie uittog terug nie. Maar laat ek nie nou al my missie verdoem nie. “Lag ’n bietjie vir ons, Marlo’tjie,” het Mammie altyd met my geprobeer, en dan kielie en kwaak sy vir ’n vale. “Trompetter bietjie vir Mammie soos ’n olifant toe, dan sien ons of jy nie begin lag nie.”

As ek maar kan wegbreek, as ek my kan oorgee totdat ek die klop in die pols voel, eerste die bloed ruik, van skok springlewendig begin dans en sing en selfs, as ek nie eers daarvan bewus is nie, bietjie lag.

“Hier het jy Paderno se reeks 6100, hier die colapasta per pentola, die vergiettes vir jou bouillon-pot. Onmisbaar in jou kombuis, dit weet jy tog. Lig slegs die vergiettes aan sy twee stewige handvatsels op, só, stadig, stadig.” So demonstreer ek vir die nuwe sjef van die Italiaanse restaurant in Fitzroystraat.

Die sjef se naam is Rosario en hy het ’n regte Romeinse neus. Teen vieruur die middag toe ek met my potte daar aankom, het Rosario reeds baardskaduwee by sy kennebak langs en hy ruik soos ’n sjef moet ruik. Sy naam het die sanderige geur van roosmaryn, ek hou van hom en probeer hom ten alle koste laat verstaan dat ek nie sy selfvertroue of kennis onderskat nie.

“Kyk,” probeer ek weer, “laat ek nou mooi vir jou verduidelik. Dit gaan oor die sóórt potte: die colapasta per pentola kom in deursnitte van 32, 36 of 40 cm. Jy lig hom stadig op vanuit jou bouillon-pot waarop hy net pas – dis die verskil wat Paderno maak – en al jou sopbene en groentestingels en peperkorrels, mosterdsaadjies selfs, bly in die vergiettes agter, jou aftreksel kant en klaar gedreineer. So, jy weet mos.” En ek laat die pragtige vlekvryestaal-vergiettes liggies op sy pot neer en gooi my hande omhoog soos ek gesien het Italianers maak: “Jy koop nie potte nie, jy koop tyd. Logies, dan nie?”

Die jongman kyk met stomme verbasing na my terwyl ek oor my potte uitwei, en verleentheid stoot in my op.

“Jy’s gelukkig om hier werk te kry. Jy’s by een van die toptien in die stad. Maar jy verdien dit ook,” vlei ek bietjie om hom tog aan my kant te kry. En nou het ek hom, nou kan ek ontspan. Jy moet met die sjef kan speel, as hy die speletjie snap en begin meedoen, dan het jy jou pot verkoop.

En ek wat Marlouw is, stap dié dag daar weg, hinkend en tevrede. Maar onder my frokkie slaan koue sweet uit, en die hele tyd kon ek nie wag om uit die bedompigheid van Rosario se kombuis pad te gee nie.

Ek kan alles verkoop, behalwe die leuen aan myself. Ek haat die leuen. Maar sê nou ek slaag daarin om op die reis ’n openhartiger mens te word, een wat sommer sy kous van sy mankvoet kan aftrek en voor die mense kan verbystap, lag-lag. En sê nou maar net ek kan boonop vir Koert terugbring na Heleen.

Ek kyk by die venster uit: die reënwater lê nou gelyk met die geutrand van my woonstel sodat dit met die geringste verlies aan ewewig kan begin rimpel en stort. Die opsigter is bewus van die dreigende vloedgevaar.

“Ons het hier in ’n moeras kom woon, Marlouw,” het hy reg aan die begin van die reënplaag vir my gesê. Daarna het ek hom nog nie weer gesien nie. In sy woonstel op grondvlak trek hy maar liewer sy gordyne pottoe. Onder sy deur sypel die benoude geur van ou, opgewarmde koffie na buite.

Heleen kom met ’n muskietnet by my kamer ingestap.

“Daar is tog nie muskiete op die plaas nie. Het jy dan vergeet, Heleen. Daar’s mos altyd ’n droogte. Gedurende ’n droogte is daar nie muskiete nie. Jy hét vergeet.”

“Hoe weet jy?”

“Ek vertel maar net wat ek kan onthou.” Sy moet my nou nie verder kom omkrap nie.

“Het jy al gedink oor slaapplek as jy daar aankom? Waar gaan jy slaap, Marlouw? Ag, ek hoop tog alles loop goed af. Ek hou my hart vas.”

Ek rol my onderbroeke een vir een in worsies op om in te pak en antwoord haar nie. Gisternag het ek wakker geskrik toe die reën so hard en aanhoudend geval het dat ek ’n wolkbreuk te wagte was. Iewers vóór my wakkerskrik – in die dieper domein waar ek soms flitse kry wat iets meer van myself belig – was daar ’n mensefiguur wat dom en astrant oor ’n ou, slapende man gebuig het. So dom was die uitdrukking in die figuur se oë dat hy nie tussen lewe en dood kon onderskei nie, hy sou enigiets aanvang. En op die gesig van die ou, slapende man was daar geen rus of duurte nie.

Die kwessie van slaapplek. As ek eers op Maitland aangekom het, sal daar tog vir my in die huis op Ouplaas plek gemaak word. Iemand anders slaap waarskynlik nou ’n gat op die klapperhaarmatras waarop ek myself destyds ryp gedroom het – ek kan my nie weer daar sien lê nie. In die hotel op die dorp dan, of by die mense wat destyds gastekamers aangebied het, as hulle nog daar is. Ek twyfel. Kos en slaapplek, dis die allerlaaste ding waaraan ek nou wil dink.

En dit maak tog nie saak hoeveel van ons mense daar nog op die dorp oorgebly het nie, in hemelsnaam. Koerante hier berig net oor die gruwelikste. Die groot ontploffing was knaend in die nuus. Altyd die ontsettende nood van die mense, die nood wat erger word totdat dit ’n ander vorm aanneem en in die gebied van vrees teregkom.

Maar daar móét tog mense oorgebly het wat nog eet en drink en slaap en omgee. Iewers sal ek wel slaapplek en iets te ete kry. Die ding is net dat ek niemand meer daar ken nie: uit, die onbekende in, en tuis. Ek kry al klaar lag.

Heleen se muskietnet is ’n teken van voorsorg. Dis ’n spesiale een van katoen. Die weefpatroon met sy piepklein gaatjies is te fyn vir ’n muskietlyf, maar so dat ’n luggie nog jou slapende liggaam kan bykom.

“Dis ’n goeie muskietnet, Heleen,” roep ek agter haar aan. Sy’t weer weggeloop, sy kan haar so ontstel en soveel dinge sê sonder om eers daaroor na te dink.

“Nou pak dit tog maar in, ek weet dit gaan jou beter laat voel. Wat van jou selfoon? Vat myne as jy wil.”

“Waar gaan ek die ding laai? Is daar elektrisiteit ná die ontploffing, is daar nog seine?”

“Magtig, Marlouw, Koert het tog vir my gemail.”

“Maar toe hou dit mos op,” val ek haar in die rede. “Daar moet ’n rede wees vir sy swye. Het jy al daaraan gedink? Mag ek op my eie klaarmaak, Heleen? Sal jy onder in die kar vir my wag? Ons het vyftien minute oor voordat ons moet vertrek.”

“Oukei dan. As jy jou nou so eenkant wil hou.” Sy raap haar handskoene en handsak en sambreel en jas by die deur op. “Ek laat ’n foto van my wat ek graag wil hê jy moet vir Koert gee. Nie vergeet nie, asseblief.”

Die laaste oomblikke in my woonstel. Die enigste lewende ding, my vis in die bolglasbak, is reeds onder in die kar. Jocelyn gaan vir hom kos gee. Ek loop doekvoet deur die vertrekke, vat en kyk: die harde steenkoolglans van die gelakte plankvloer, die seldsame tierlantyntjies, my biblioteek. Ek hou my asem op toe ek voor die rye en verdiepings van boekrakke verbykom. Ek het niks, nie ’n enkele boek, ingepak nie. Van nou af wil ek op my geheue staatmaak. ’n Laaste paar druppels spuit ek in die badkamer aan, maar laat ook die bottel agter. Nutteloos in die wêreld waarheen ek gaan – dit kan ek tog sien. My las is lig en ek voel opgewonde. Ek buk en raak aan ’n kelim wat ek onlangs gekoop het. Onder die rusbank, nes hy ingerol en gaan lê het, knipper die eenoog van die albaster.

Ek kom orent, vat my koffer, selfs nog ligter as wat ek verwag het, haak my handtas oor die skouer van die enigste warm baadjie wat ek saamneem. Agter my gly die deur geluidloos toe.

Daar gaan die telefoon nou aan die lui. Sal ek? Ek verwag geen oproepe van my restaurant-klante nie, alles is voorlopig afgesluit, almal is tevrede met hul voorraad. Met hulle bon voyage-wense het ontroerende geskenke gekom: pistachio-nougat van meneer Di Stasio, Rosario se baas, ’n fles rare, ekstra suiwer olyfolie van die eienaars van Cicciolina, nog ander dinge. Niks word saamgepiekel nie.

Nuuskierig, maar meer omdat die afskeid van my besittings my tog beproef, sluit ek gou weer oop en stap na die foon. Dis Jocelyn.

“Ja, Jocelyn?”

“Jy kan nog van plan verander, Marlouw.”

“Jy’s laf, Jocelyn. My goed is gepak, my vliegtuig vertrek binne enkele ure.”

“Waar is sy? Waar’s Heleen?”

“Sy wag onder in die kar, Jocelyn. Ek moet gaan, jong. Ek het my goed voorberei.” Wat het die vrou nou so ’n ertjie? Sy’t niks meer vir my aan te bied nie, ek het roekeloos geword. By die aanhoor van Jocelyn se verdoemende stemtoon, asof sy soveel meer as ek weet, word die allerlaaste tree uit my woonstel skielik die mees vanselfsprekende ding op aarde.

“As jy nou kop uittrek, gaan dit nie so swaar wees vir jou suster nie. Ek het ’n paar calls gemaak, daar’s ander maniere om hom terug te kry. Beter maniere. JP sal betaal. Ek het gisteraand met hom gepraat in Koeala Loempoer. He’s prepared to pay everything, Marlouw. Hy dink ook dis crazy dat jy daarheen toe wil gaan. Jy gaan in jou moer in, Marlouw. Luister nou na my. Heleen . . .”

“Ek doen dit nie vir Heleen nie.” Die blindings en gordyne is toegetrek sodat die woonstel in ’n heerlike lanfer agterbly.

“Ek weet jy gee om vir jou nefie en jy wil hom gaan red,” gebruik sy weer Afrikaans om my hart te steel.

“Ek gaan nie net ter wille van Koert nie. Ek het my eie redes. Ek gaan omdat ek wíl, ek doen dit vir myself, Jocelyn. En weet jy, ek is verlig dat ek dit darem vir iemand kan sê.”

Daarop het sy geen antwoord nie.

“Ek loop nou, Jocelyn. Dankie vir jou ontferming. Ek waardeer dit, jong. Sorg tog mooi vir my suster. En beste dan vir jou ook. Totsiens, Jocelyn.”

“Oukei, Marlouw. Hoop jy kan al jou varkies op ’n trop hou.” Ek voel aan hoe sy haar terugtrek en die afstand wat ons verhouding vroeër gekenmerk het, bevestig.

Toe ek op die sypaadjie trap, versigtig voet neersit, liewer – ek glimlag – is ek verras oor hoe sag die reën bo-op die stortende geute val, bo-op die riviertjies langs die strate en bo-op die watertuine voor woonstelblokke en huise, nes oumenstrane.

*

Ek moet tot op Fidji kom om ’n vlug na Johannesburg te haal. SAL-vliegtuie voldoen nie meer aan die standaarde van die Internasionale Lugvaartorganisasie nie en word my land se lugruim geweier.

Natgesweet stap ek op Nadi-lughawe aan boord. Die kajuit is so kokend soos die trope buite en giftig van stralerbrandstof wat ingesypel het. Die vliegtuig is ’n rammelkas, die uitvlug onrusbarend in die ware sin van die woord. Die passasiers om my in die eersteklaskajuit ervaar dit blykbaar ook so en drink meer as wat ek mense nog ooit op ’n vliegtuig sien drink het.

Toe die romp agtertoe weer onheilspellend kraak, takseer ek my buurman. Ek moet met iemand praat. Die man het al een maal oor my getree om sy dinge te gaan doen en teruggekom met die reuk van sigaarrook wat swaar aan hom hang.

Die naam wat in goue letters op sy aktetas gedruk is, verklap sy herkoms. Ek slaan versigtig oor na Afrikaans: “Dis ’n vlieënde doodskis, dié. Kyk hoe lyk die sitplekke. Ons moet seker maar ons gebede opsê.” En wag dat JL Smit moet antwoord. Daar is min van ons Afrikaners oor, en wie weet of dié een nog Afrikaans kan of wil praat.

“Maar my magties,” sê hy met so ’n koffiebruin stem, en ingenome. “Kyk wie het ons hier.” Hy steek die hand met ringe uit. “Smittie.”

Hy’s ’n Smittie, natuurlik. As jou van Smit is, maak dit nie saak waarvoor jou voorletters staan nie – ek wil byna huil oor die vertroudheid daarvan.

“Ja, man, die vliegtuig, hoe sal ek sê.” Hy lag. “Eintlik is ek via Johannesburg op pad na Lesotho en daarvandaan na Angola,” – ek het hom nie probeer uitvra nie – “laat ek dit so stel, ek het al op erger as dié gevlie en ek gaan nog baie vlie, op erger as dié,” en daar lag hy weer. Ek ruik die whiskey wat hy drink.

“Wat weet jy van die toestande daar oorkant? In die binneland bedoel ek.”

“Dollars en sindikate. Dis wat die land aan die gang hou. Daar is geen sentrale regering meer oor nie. Ná die ontploffing in die suide het dinge gou versleg. Meeste buitelandse beleggers het toe padgegee. Jobs het so skaars soos skoon poes geword. En hoe dieper jy die binneland invaar, hoe skaarser raak die dinge wat jy nodig het om te oorleef. En ek praat nou nie van ordentlik leef nie. Ek praat net van leef. Alles is op, my vriend. Behalwe die sindikate, hulle is ook op die platteland bedrywig. Dis my ervaring. Hulle het hul nette ver en wyd gegooi. Sorg dat jy ’n paar dollars op die lughawe in die hande kry, jy gaan dit nodig hê. Die afgelope paar jaar al verkies ek Angola. My vrou en kinders bly daar. Maar ek moet eers my tierboskatjies in Lesotho gaan opskep. Pragtig. En nog sommer jonk in die tand. Spotgoedkoop.” Hy knipoog. “Eers bietjie geld gaan maak.”

Sy weelderige, uitspattige ringe. Die goue kettings om sy nek. Sy tierboskatjies. Die ruie asem waarmee hy oor hulle praat, die speeksel op sy lippe. Ek maak optelsomme en kry sinistere resultate. Nie alle Smitties is Smitties nie, maar ek mag dalk verkeerd wees. As ek reg is, deins ek in elk geval nie terug nie.

“Maar is daar nog mooi goed oor? Die natuur was altyd so asemrowend – om nou dié woord te gebruik. Daar moet tog iets daarvan oorgebly het? Op daai eindelose pad tussen Beaufort-Wes en Aberdeen het ek altyd ’n sekretarisvoël gesien. Met sy onderbaadjie en veerpen. Altyd. En die graatjiemeerkatte, wat het van hulle geword?”

“Meerkatte?” Hy gee ’n suur smiletjie.

“Oukei, laat ek sê wat ek bedoel.”

“My liewe magtig, man!” val hy my in die rede. “Meerkatte sê jy. Daarvoor moet jy eerder Londen se dieretuin toe.” Smittie lag en lag. Sinies, jy kan dit nie glo nie.

Ek wil sy twee hande met al die ringe soos goue knaters vasgryp en vir hom sê: Kyk, neef, ek het dit nie só bedoel nie, ek is nie so naïef dat ek g’n idee het waarnatoe ek op pad is nie.

“Ek ry nooit Afrika toe om diere te kyk nie. Jou meerkatte en voëls skat ek is teen dié tyd almal in slagysters gevang en opgevreet. As hulle nog daar is, sien ék hulle nie raak nie. Dis nie die klas goed waarvoor ek kom soek nie. In die berge het daar dalk nog van hulle oorgebly. Hoekom wil jy weet?”

“Watter berge sou jy sê?”

“Pel, die goed raak my nie in die minste nie, verstaan jy dan nie vir my nie.” Hy raak sommer onbeskof.

“Hel, ek wou jou nie kwaad maak nie.”

“Kyk, Dinges, wat’s jou naam nou weer?”

“Marlouw.”

“Kyk, Marlouw, ek sien net raak wat ek wil sien.” Hy bly bietjie kortaf. “Ek weet eerlik nie wat van jou diertjies oorgebly het nie. As jy eers daar aangekom het, moet jy vir jouself kan sorg, dis die belangrikste. Vergeet maar van diere en so aan, anders kom nie jy weer daar uit nie. As jy te veel verwagtinge het, sorg maar dat jy gou-gou van hulle ontslae raak. Hou jou by jou basiese behoeftes: eet, drink, slaapplek en verligting vir dié,” en soos ’n matras wat met een slag gelig en omgedraai word, verander sy stemming en rats, speels, lê hy die linkerhand met die goue knoetse op my mik.

“Het jy dalk al van iemand met die naam Koert Spies gehoor?” vra ek net om iets uit te kry, ek is glad nie gewoond aan mense wat aan my wil vat nie, maak nie saak waar nie.

“Wat doen hy, waarom is hy daar, waar is hy? Plaas hom vir my, dalk kan ek jou een en ander vertel. Ons wittes verskil nie soveel van mekaar nie, ons kom maar almal dieselfde ding hier haal.”

Die man is sonder inhibisies, dis sy professie. Ek begin onbeheersd lag. Al die jare in die stad het ek plekke vermy waar ek moontlik mense soos Smittie sou kon ontmoet. Daar is die Daily Planet in Melbourne. “Kom ’n slag saam met my,” het JP hoeveel kere genooi. Ek het oorkant die ingang gaan sit en na die mans gekyk wat in- en uitgekom het, rooiversadig en sonder inhibisie, soos Smittie. Ek het nog nooit genoeg guts gehad om daar in te loop en ’n lê te bestel nie. Agterna, met soet, sterk koffie in die hand voor die vollengtespieël in my woonstel het ek na myself gestaar: nie meer jong haantjie nie, maar voller, hariger en darem nog broeis. Ek kyk na die man langs my: nie ’n enkele plooi nie, Smittie is gladbruin oraloor. En tussen die kettings in die voue van sy nek dam bane sweet.

My asem kom terug: “Ek is op ’n sending om Koert te vind en hom terug te bring. Laas wat ek van hom gehoor het, was hy op ’n plaas wat deur swart mense bestuur word.”

“Is dit hulle plaas?”

“Dit is.”

“Laat ek dit so stel: die wit mense wat oorgebly het, bly oor omdat hulle nie kan padgee nie. Hulle is laer as die armblankes van destyds, onthou jy hulle? Danville, Bez Valley, Government Village. Jy sal hulle onthou. Die wittes wat in Afrika oorgebly het, het geslepe geword, altyd besig om die tande te wys. Hulle bekruip jou van agter af en boetie, as hulle eers ’n vasbytplek gekry het, los hulle jou nie voor jy vrek is nie. En dan vreet hulle jou heel op. Die wit rotte van Afrika. Daar’s ’n handjie vol wat ’n beter lot het. Hulle staan gewoonlik in diens van een of ander sindikaat of ’n regeringsfaksie. Hulle’t óf IT-kennis óf geld oor wat hulle kan aanbied in ruil vir kos, sekuriteit, vervoer en die buit waarvoor hulle in die eerste plek gekom het. Dis nou mense soos ek en die man wat jy gaan soek. Maar dis net ’n kwessie van tyd, dan moet ook ons padgee. En gou ook, partymaal sonder om te kry waarvoor ons gekom het.”

Smittie roep een van die lugwaardinne nader. Sy baadjiemou gly terug en wys ’n hempsmou waarvan die mansjetknoop losgemaak is en oopval op sy tatoe, golwend en kobaltblou volgens Maori-styl. Hy bestel ’n ronde whiskeys vir ons sonder om eers vir my te vra watter soort goed drink ek en betaal vooraf vir die drank, met dollars.

“Hoe weet jy die man wat jy soek, is nog daar?”

“Sy ma glo so. Dis pynlik om haar toestand te sien, sy’t my gevra. Ek moet nou maar gaan kyk of ek vir Koert in die hande kry, tot die bitter einde toe.”

“Bitter einde?” Smittie lag oor alles. Toe die whiskeys kom, buig hy oor my om syne aan te vat: “Play the man, not the card, jy moet weet met wie jy daar te make het, anders gaan jy jou pad byster raak. Die man wat jy op pad teëkom, is jou teken. Jy moet hom kan lees, dan weet jy hoe om aan te gaan. En waarheen. As jy die mense op jou pad nie reg lees nie, gaan jy nooit by jou Koert uitkom nie. Vat dan maar eerder die eerste beste vliegtuig huis toe.”

“Ek verstaan.”

“Oorlewing, my pel, dis waarom alles wentel. Maar ek is vandag ’n hartseer man.”

Hy haal iets uit sy sak, ’n reuse pienk klont. “Roosdiamant,” sê hy. “Ek vat dit vir my vrou in ruil vir die kinders. As sy dié keer weier, moet ek vir altyd vir die bloedjies koebaai sê. Sy’t weggeloop Luanda toe met haar eks-baas, Alex Stavaros. Grootste Mafia-vuilgoed op aarde. Maar ek is hartseer, pel. Jy sien, my werk het altyd voorkeur geniet. Dit was moeilike tye, daar was nie genoeg geld nie. Vandag sal ek haar enige tyd terugvat. Sy’s die mooiste vrou op aarde, en die treurigste. As jy te lank in haar oë kyk, begin jy huil. Op nege sterf haar ma aan kanker. Toe’s sy voor ’n weeshuis afgelaai. Sy’s twee keer verkrag deur wardens. Twee mans. Op die ou einde loop sy toe van my ook weg, kinders, koffers, alles. Toe ek daai dag by die huis kom, wag net die boerboel vir sy kos. My keel het sommer toegetrek. Maar ek sal haar terugvat. Ek het haar afgeskeep, jy sien.”

Smittie vertel sy storie, ek simpatiseer. “Verskoon my.” Ek staan op om agtertoe te gaan. Ek weet nie wat ek verder vir die man moet sê nie.

“Te oulik,” skater Smittie agter my aan, “ek weet nie wanneer iemand laas ‘verskoon my’ vir my gesê het nie.”

In die toilet wil ek opgooi: laag op laag slymerige ekskrement en drolletjies opgefrommelde papier oral, selfs teen die mure. Ek trap versigtig en hou my asem op solank ek kan, hink paniekerig terug, skommel my glas om my neus in die weldadigheid van die whiskey te verfris. Die drank ruik na druiwepit. Ek snuif weer. Tussen die bruin golfies speel daar nog ’n walm, iets soets soos kinderroomys. Ek proe eers weer mooi en kyk na Smittie met sy goue kettings om die nek en wys na my drank: “Iets hier ingeval?”

Smittie lek sy lippe af: “Bietjie gedokter. Drink maar op, jy sal nie spyt wees nie,” sus hy.

Die gloed van die whiskey onder die dowwe nagligte, die weldaad ná my eerste sluk, die weelderigheid en uitwerking van die tweede. Sonder afkeer en sonder om te gretig te lyk, drink ek. Stadigaan word ek ingelyf by die kontinent waar ons binnekort gaan land. Dis nie soos ek dit bestel het nie, dis soos dit is. Laat ek eerder nou as later daaraan gewoond raak.

Tyd gaan verby, ek ook. Die vliegtuig raak aan die slaap en sweef sonder weg of wil oor berge sonder diere, oerwoude sonder bosse, riviere waar stokou visse hulle voortsleep na eilande van drywende oliekolle. Wys my die pad na Koert, vra ek vir een, ’n modderige ou baber. Maar hy draai sy kop sonder om te antwoord, nie gewoond aan ’n mensekind wat iets anders by hom wil hê as sy lewe nie.

Toe ek wakker word, loop die vliegtuigenjins op hul rustigste. Ek self is ontspanne langs hierdie man met die kettings wat so uitgelate op sy oorryp vel lê. Smittie se gesig is intussen oortrek met ’n gladde tweede vel van perspirasie. Sy oë val slap oop en korrel na my, hy glimlag en maak weer toe.

Dankie, Smittie, wil ek vir die drankie bedank. Kry jy nou lekker? wil ek sê, maar sê niks nie, want my woorde drywe en ek verloor my greep sonder om eers na vashouplek om my te kyk, en sonder om myself te veroordeel.

Ek sak dwarsdeur my lyf af totdat ek op my voete lê, dis moeilik om die lekkerte te beskryf. Weer val Smittie se oë oop en weer glimlag hy en dié keer weet ek waarna ek kyk: die grynslag van ’n pimp. Hy’s ’n handelaar sê maar, met sekerheid sou jy kan sê dat hy handel drywe met minderjarige meisietjies, niks ouer as so veertien, vyftien jaar nie, en dat hy hulle dan aan mans met behoeftes aanbied. Die pimp op pad na Lesotho om sy skatkis van meisieslawe aan te vul – dis geen geheim nie.

Hier sit hy langs my, Smittie op pad werk toe. Selfs as hy net ’n oomblik lank uit sy bedwelmende slaap kom, kom hy met die grynslag. In sy onmiddellike teenwoordigheid gee hy koejawel en whiskey en lyfwarm sykous af. Onmiskenbaar: die profiel van ’n pimp. Ek kan daarvan lag kry en wil my slaapdooie hand oplig om hand te skud en hom nogmaals bedank: Smittie het my ingelyf en ons twee bymekaargebring soos dit hoort. Die imposter en die pimp – gesellig saam.

Ek moet op my hoede wees, maar net tot op ’n punt. Anders mis ek die leidrade waarvan Smittie gepraat het. Leidrade wat my tot by Koert kan bring en my dalk selfs kan help om hom te verstaan. As ek maar soveel kan regkry, sal Koert na my luister en saam terugkom. Wat vang hy tog daar aan?

Toe ons land, is ek vas aan die slaap en kom by met die hand van my buurman op my arm.

Hier is ek nou, is die eerste gedagte wat by my opkom, en Smittie lewer my uit aan ’n volgende mens net soos hy. Ek gaan langs ’n rivier van mense afbeweeg, hulle bepaal my roete, stoot my stroomaf, vermoed miskien selfs waarvoor ek gekom het. Party mag dalk iets van Koert af weet. Natuurlik nie alles nie, maar net genoeg om my die pad verder vorentoe te wys. Party gaan my verfoei en my van die wal af in die sloot help. Ek moet wakker loop.

“Beste vir jou, my pel,” sê Smittie, skud hand, knipoog, glip ’n donkerbril met belaglik groot lense op en loop die paadjie af.

Daar is niks om te vrees nie, ek kan maar my goed vat, opstaan en die volgende skof van my reis aanpak. Hier is my handtas dan, hier my baadjie. My besittings, bekend en warm gebak van die vlug, laaste herinneringe uit die stad wat ek agtergelaat het. Ek kyk vir oulaas na die plek waar Smittie gesit het: ’n harem van heidense geure damp daaruit op.

Horrelpoot

Подняться наверх