Читать книгу Sophie en Sophia (Ultrasatyn) - Elizabeth Engela - Страница 3

Proloog

Оглавление

“Sophie? Waar is jy? Wat gaan aan? Sophie?” Dis Josh se stem oor die foon.

Sophie giggel en ’n hik ontsnap tussen haar lippe. “Oeps, skies, ouboet. Dis ons laaste aand oppie Bos en ek wil sommer vir julle sê hoe lief …” Nog ’n hik glip uit en sy giggel harder, “… hoe lief ek vir my boetas is. Ek is fine,” eindig sy op nog ’n laggende noot.

“Waar is jy?” vra ’n ander manstem. Dis Chris.

“Chris!” roep Sophie oor haar foon. “Ek wou so graag ook …” Sy hik weer en probeer die giggel onderdruk, “… met my ander ouboet praat. Ek is lief vir julle, hoor?”

“Sophie, waar is jy?” vra Chris hard en stadig.

“Belinda, waar is ons?” vra sy en gee die foon vir haar kamermaat terwyl sy na haar glas tequila soek.

Dis dan leeg. Hoekom is dit leeg? Sy is seker daarvan dit was netnou nog vol.

’n Lang ou met ’n wit kuif skuif langs haar by die kroegtoonbank in. “Hallo, mooiding, wat drink jy?” vra hy en glimlag.

Sy gryp Belinda aan die arm. “Dié ou gaan vir ons nog tequilas koop,” probeer sy hard en duidelik sê. Belinda druk haar selfoon dood en skuif ook nader.

“Skryf julle nog eksamen?” vra Witkuif.

Sophie lig haar glas. “Ons is klaar met ons studentedae. Vir altyd. Van môre af is ons grootmense. Maar vanaand …” Sy hik. “… vanaand neem ons afskeid van ons sorgvrye bestaan oppie Bos. Cheers!” roep sy. En dis vir haar so snaaks, sy begin van voor af giggel.

Witkuif lag en trek haar nader. “So, jy’s ’n girl vir sports, lyk dit my,” glimlag hy.

“Op sports!” giggel Sophie en hou haar glas in die lug. En haai, die lig, die dag weerkaats dan nou glad in haar glas tequila. Of is dit iets anders wat sy sien?

“Waarna kyk jy?” vra Belinda langs haar.

Witkuif skuif ook nader.

“Kyk, die lig weer … weerkaats in die glas,” sê sy en wil na die lig beduie, maar in die proses tiep sy die glas, en die tequila beland op die vloer.

“My tequila,” kerm sy en gryp vir Witkuif aan die arm. “Kan ek nog enetjie kry, asseblief?” smeek sy.

“Natuurlik,” glimlag hy breed, “maar nie voordat ek ook iets gekry het nie.” Hy trek haar hardhandig nader en probeer haar soen.

Sophie druk hom met mening weg van haar af, maar hy trek haar net stywer teen hom vas. “Los my, j …” sê sy, maar voordat sy hom kan wegstamp, trek hy deur die lug.

Haar benewelde brein probeer verstaan wat sopas gebeur het. Witkuif val tussen die stoele. Sy kyk verbaas op, vas in Derek Steyn se woedende blou oë.

“Derek!” roep sy. “Wat maak jy hier?”

“Jou broers het my gebel, hulle is bekommerd oor jou. Oor die foon het dit geklink asof hulle kleinsus te veel gedrink het,” pers hy die woorde deur stywe lippe uit. “En hulle is skynbaar reg.”

“Wie? Ek?” vra sy en probeer regop staan, maar die wêreld om haar draai al in die rondte.

“Ja, jý,” grom Derek, en die volgende oomblik tel hy haar op in sy sterk arms.

Hy kyk oor sy skouer. “Kom, Belinda,” sê hy en met lang treë stap hy met haar tussen die mense deur.

Buite die kuierplek verstewig hy sy greep en haar arms slaan vanself om sy nek. Gefassineerd kyk sy hoe ’n spiertjie in sy wang spring.

“Wat het julle gedrink? Hoeveel?” vra hy bars.

Belinda trippel agter hulle aan. “Uhm … tequilas. En ek weet nie, drie of vier. Sophie?”

Sophie frons en probeer onthou. “Vyf of ses?” Sy lig haar hand op en druk met haar vingers teen die kloppende spier op Derek se kakebeen.

Hy kyk vinnig af na haar, sy oë smeulend. “Moenie,” sê hy kortaf en sy laat sak haar hand stadig. Dit beland teen sy bolyf. Onder haar vingerpunte klop sy hart teen ’n tempo. Haar vingers gly oor sy T-hemp. Sjoe, die man het darem spiere. Snaaks, sy was nog nooit so naby aan hom nie.

Haar hand beweeg stadig oor sy breë borskas. Sy voel so veilig by hom. Hy’s Josh en Chris se groot pel, eintlik haar ander ouboet. Behalwe dat sy nie op die oomblik vreeslik susterlik teenoor hom voel nie. Heeltemal ander, vreemde gevoelens wil-wil haar oorrompel.

Maar dalk is dit die tequila. Sy probeer weer onthou hoeveel glase sy gedrink het, maar met Derek se gesig so naby aan haar, is dit moeilik om aan enigiets anders te dink. Sy baard is lank. Hoe voel dit? Sy lig haar hand weer op na sy gesig toe, maar die volgende oomblik laat gly hy haar amper hardhandig teen hom af.

“Klim in,” sê hy kortaf en maak die agterste deur van die motor vir haar oop. Hy druk haar op die sitplek neer en maak die deur toe.

Belinda klim voor langs hom in.

Sophie laat val haar kop agteroor op die agterste sitplek. Haai, kyk die sterre, hulle beweeg glad vanaand. Sy hik en begin weer giggel.

Van môre af is sy ’n regte, egte grootmens. Oor twee weke begin sy met haar nuwe werk in Johannesburg. Sy gaan seker nie gou weer vir Derek sien nie. Maar sjoe, daai spiere. Sy glimlag. Haar oë val toe.

Sophie en Sophia (Ultrasatyn)

Подняться наверх