Читать книгу Sophie en Sophia (Ultrasatyn) - Elizabeth Engela - Страница 4

Een

Оглавление

“Miskien moet ek ook so ’n blog begin,” sê Sophie en druk die knoppie op die afstandbeheer om die DVD te stop.

“Oor kos? Jý?” lag Belinda terwyl sy opstaan. “Daar is gewoonlik net koffie en suiker in jou kombuiskaste, en melk en gaar Woolies-kos in jou yskas. Ek was jou kamermaat vir vier jaar, onthou?”

Sy beduie na die DVD waarna hulle sopas gekyk het. “Dié Julie in Julie & Julia hou actually van kosmaak, net daarom toets sy Julia Child se resepte. Jy, my liewe vriendin, soos ons almal weet, is ’n gevaar in die kombuis. Begin gerus ’n blog, dis ’n baie goeie idee. Kies asseblief net ’n ander onderwerp.”

“Ag, toe nou, ek is nie heeltemal so hopeloos nie,” sê Sophie verontwaardig en staan ook op.

Belinda lag en gee haar ’n drukkie. Sy beduie na die boks wat in die kombuisgedeelte van die woonstel staan. “Jy het een boks vir jou kombuisgoed, wat meer kan ek sê?”

Belinda vat haar handsak en stap voordeur toe. “Ek moet gaan. Is jy seker jy is oukei? Ek kan môre weer kom help uitpak.”

Sophie se oë gly oor die vertrek, wat nog vol bokse staan. “Nee wat, die res moet ek maar self doen. Jou verloofde gaan nie baie daarvan hou as ek jou nog ’n dag van hom af weghou nie.”

“Nee wat, Michael gee glad nie om nie, hy werk in elk geval so baie, ek sien hom selde.”

“Dankie dat jy vandag hier was, jy het my regtig gehelp. En baie dankie vir die pizza en die DVD. Ek is bly ek kon net ’n slag heeltemal afskakel. Vandat ek ’n maand gelede gehoor het ek het die pos in die Kaap gekry, het alles teen die spoed van lig gebeur.” Sophie maak die voordeur oop.

Belinda stap uit in die ruim portaal voor die hysbakke. “Ons het nog glad nie oor jou nuwe werk gesels nie. Die ouens in Johannesburg is seker spyt dat hulle jou verloor het.”

Sophie haal haar skouer op. “Dis so ’n groot firma, ek het net programme geskryf, maar ek wil ook graag behoeftes analiseer en hier sal ek betrokke kan wees by die behoefte-ontleding van kliënte. Ek wil nie die res van my lewe net een ding doen nie.”

Belinda trek haar mond skeef. “Ek het, soos altyd, groot bewondering vir jou wat weet wat in ’n rekenaar aangaan. Ek wil dit net kan gebruik.”

“Ag man, eenvoudig gestel, ons stel die kliënt se behoefte vas en ontwerp die nodige sagteware deur data-modelle, logiese vloeidiagramme en spesifikasies op te stel. Dit word dan deur programmeerders omskep in ’n program wat deur ’n rekenaar of slimfoon werk. Nie so moeilik om te verstaan nie.”

“Nou ja, jy was darem gelukkig om hier in Groenpunt ’n blyplek te kon kry, so lekker naby aan jou nuwe werk. En jy het so ’n wonderlike uitsig op die see!”

“Dit is ’n nice plek, nè? Dis die voordeel van ouer broers. Hulle kan my soms mal maak omdat hulle so oorbeskermend is, maar ek het skaars gesê ek trek Kaap toe, of Josh en Chris laat weet hulle het vir my ’n woonstel gekry. Een wat oor die see kyk. Ek het die plek nie eens self voor die tyd gesien nie. Vier jaar in Johannesburg, ver van die see en die berge en julle almal af, was genoeg.”

“Ek moet sê, dis vir my vreemd dat jou broers nie vandag hier was om jou te help nie.”

“Glo besig met werkgoeters. Hulle kom môre help, sê hulle.”

Sophie stap saam met Belinda tot by die hyser wat so skuins oorkant haar woonstel is.

“Ek is net bly jy’s weer nader. Ek het so na my kamermaat verlang.” Belinda druk die hyser se knoppie en kyk na die deur van die volgende woonstel. “Dit lyk asof jy net een buurman of -vrou aan dié kant van die gang het.”

Die hysbakdeure gaan oop en Belinda klim in. Die deure begin toeskuif, maar sy keer dit met haar hand. “Amper vergeet ek. ’n Kollega se ma is ’n skrywer en sy is op soek na iemand wat vir haar ’n webwerf kan ontwerp. Sy sal dit self in stand hou. Ek het gewonder of jy so iets nog ná werk sal doen?”

Sophie lag en knik haar kop. “Ja, wat, jy ken vir my. Ek moet besig bly en om webwerwe te ontwerp is nie vir my werk nie. Ek geniet dit. Stuur haar inligting vir my, ek sal kontak maak.”

“Rus ook ’n bietjie, hoor!” roep Belinda voordat die hyserdeure toemaak.

Nou gaan sy slaap. Sophie rol haar skouers terwyl sy terugstap na haar woonstel. Sy en Belinda het die hele dag gewerk en sy besef skielik hoe moeg sy regtig is.

“En toe, is jy tevrede met jou blyplek?” vra ’n manstem agter haar.

Is dit nie … ? Sophie draai vinnig om, haar oë op skrefies. Dit is hy. In lewende lywe. Derek Steyn, haar broers se groot pel. Lank, groot. Pikswart hare, blouselblou oë. Nes sy onthou. Onmoontlik aantreklik.

En natuurlik die rede hoekom haar broers nie vandag hier was nie. Hulle wou seker maak sy koel af voordat hulle dit weer hier waag. Net toe sy dink hulle besef uiteindelik sy is groot genoeg om haar eie potjie te krap, blyk dit toe glad nie die geval te wees nie! Hulle het seker gemaak hulle groot pel is haar buurman sodat hy hulle op hoogte kan hou van haar doen en late. Oe, hulle kan haar so vies maak!

Soos gewoonlik hang ’n girl aan Derek se arm.

“Derek,” sê sy koel. “Wat maak jy hier?”

Derek lig ’n wenkbrou. “Ek bly hier. Om die waarheid te sê, ons is bure.” Hy beduie na die meisie langs hom. Dis …” Hy frons effens. “… uhm … Debbie.” Die girl kruip nog dieper onder sy blad in en staan op haar tone om hom in sy nek te soen.

“Jy is natuurlik die nice pel wat my broers van die woonstel vertel het?” vra Sophie met ’n stywe glimlag terwyl sy eintlik op haar tande wil kners. Die meisie begin die boonste knope van Derek se hemp losmaak.

“Josh het gevra of ek van ’n blyplek weet. Hierdie woonstel het toe net beskikbaar geword. Ek het hulle daarvan vertel. Hy en Chris het kom kyk. Toe eers het ek gehoor dis vir jou.”

Sophie rol haar oë en draai terug na haar woonstel. “Ja, right,” sê sy oor haar skouer. “Dalk moet julle tweetjies ’n kamer kry,” voeg sy sarkasties by net voordat sy by die deur inglip.

Haar bleddie broers. Sy moes geweet het hulle sal nie tevrede wees om haar alleen iewers te laat bly nie. In die tyd wat sy in Johannesburg gewoon het, was daar kort-kort een van hulle pelle wat kom inloer het. Kamma om te kuier, maar sy het goed geweet haar broers het hulle eintlik gestuur om te kyk of sy orraait is. Hulle het dit elke keer ten sterkste ontken, maar teen dié tyd weet sy presies hoe hulle twee se koppe werk.

En nou is Derek Steyn haar buurman. Die laaste keer wat sy hom gesien het, het hy haar soos ’n wafferse Rhett Butler in sy arms opgetel en uit ’n kuierplek gedra.

Die res van daardie laaste aand op Stellenbosch is net ’n blur. Wat sy wel onthou en waaroor sy nou nog soms stomende drome het, is Derek se sterk arms om haar, sy bonsende hart onder haar hand. Sy sexy, gespierde bolyf.

Sy vryf oor haar gesig en kreun. Dis nou wat gebeur as ’n mens op sewe-en-twintig nog nooit seks gehad het nie. Haar enigste verwysingsraamwerk vir haar drome is die sterk arms van ’n ou wat haar gedra het toe sy te veel tequila ingehad het.

Geïrriteerd stap Sophie kamer toe. Sy moet in die bed kom, môre moet hier nog baie gewerskaf word. Sy weet haar broers bedoel dit goed, en sy is mal oor die woonstel, maar hoekom langs Derek?

Hulle het almal op Wellington grootgeword. Derek was die bure se enigste seun, maar was eintlik maar deel van hulle gesin, want hy was meestal by hulle huis. Sy ouers is al twee dosente by die Universiteit Stellenbosch en was selde tuis.

Vir haar was hy soos nog ’n ouboet en toe hulle drie weg is Stellenbosch toe, was die dae vir haar baie leeg en lank. Sy kon nie wag om naweke al hulle stories te hoor nie.

En skielik was hulle huis naweke ook vol vreemde girls wat die drie saamgebring het. Derek het elke keer ’n ander meisie by hom gehad.

Van wat sy oor die afgelope vyf jaar uit haar broers se gesels kon aflei, het dit nie verander nie. Meisies vrek skynbaar steeds oor hom. Veral noudat hy ’n bekende advokaat is.

Sy wonder wat hier langsaan aangaan? Sophie klik haar tong hardop en gryp haar badkamersakkie. Of Derek nou een girl of ’n harem in sy woonstel het, dit het niks met haar uit te waai nie.

“Nee, julle, draai die bank sodat dit hier staan. As dit daar staan, gaan ek die see nie kan sien nie,” sê Sophie, in dié stadium hoogs geïrriteerd met haar twee broers. Hulle bly met haar stry oor waar die meubels moet staan.

“Soph, dink nou bietjie mooi,” begin Chris geduldig, maar voordat sy iets kan sê, is daar ’n geklop aan die voordeur.

Sy draai vinnig om terwyl sy haar vuiste bal. As sy die meubels self kon skuif, het sy hulle nou hier uitgejaag. Sy pluk die voordeur oop.

“Wow!” lag Derek en hou sy hande in die lug. “Skietstilstand?” terg hy en sy vervies haar sommer van voor af. “Ek het kom help.”

“Great. Nóg een.” Sonder om hom in te nooi, draai sy om en stap terug sitkamer toe. “Hier is my oppasser,” sê sy sarkasties en beduie in Derek se rigting.

Haar broers kyk vinnig na mekaar. “Dit was heel toevallig …” begin Josh, maar sy lig haar vinger om hom stil te maak.

“Niks wat julle twee doen, is toevallig nie. Vir ingeval julle vergeet het, kan ek julle daaraan herinner dat ek sewe-en-twintig is, nie sewentien nie? Ek kán na myself kyk.”

“Soph,” paai Josh. “Ons is maar net bekommerd oor jou veiligheid. En Derek is tog soos nog ’n broer vir jou. Ons wil maar net seker maak jy’s oukei. Ons het nie bedoel …”

“Moenie vir my kom ‘Soph’ nie,” raas sy. “Julle drie hoef my nie meer op te pas nie, oukei? Dis wonderlik dat ek drie broers het wat bekommerd is oor my, maar ek sal self regkom,” eindig sy en kyk ergerlik in hulle rigting. Maar nie een van die drie steur hulle meer aan haar nie.

Derek bekyk die bank wat haar broers sopas teen die een muur neergesit het. “Dink julle nie dit sal beter werk as dit hiér staan nie? Anders mis ’n mens die ongelooflike uitsig,” vra hy en haar twee broers gaan staan langs hom en kyk na die ruimte waarna hy beduie.

Sophie kyk hom verras aan. “Dankie!” roep sy en gooi haar een hand in die lug. “Dis wat ek ook sê, maar dink jy die twee wil luister?”

Derek stap nader en tel die bank aan die een kant op. Die spiere op sy arms bult onder die wit T-hemp wat hy aanhet en Sophie se mond word kurkdroog.

Josh en Chris brom en kla, maar tel die bank aan die ander kant op en saam dra hulle dit tot waar sy dit oorspronklik wou hê. Sophie kyk lankal nie meer na die bank nie, haar oë is vasgenael op Derek se gespierde arms.

Sjoe, sy onthou daardie arms. Sy onthou die gespierde bolyf. Sy …

“Sophie?” vra Chris en stap fronsend op haar af. “Is jy oukei? Ons praat met jou en jy is skoon afwesig. Waarna staar jy so?” vra hy en kyk om.

Sophie knip haar oë. Gelukkig het Derek wegbeweeg. “Ek is fine, net dors. Wat van ’n bier? Ek het spesiaal vir julle gaan koop.”

Sy stap kombuis toe, maak die yskas oop en druk haar gesig vir ’n oomblik in die koelte. Sjoe, die man gee haar glad gloede.

Toe sy die bier uithaal, is Derek reg agter haar. Hy vat die drie bottels by haar. Sy vingers raak vir ’n oomblik aan hare en sy ruk haar hand vinnig weg. Die een bottel kantel en hulle gryp saam daarna.

Dié keer vou sy hele hand om hare.

’n Heerlike tinteling spoel oor haar hele lyf en sy kyk op. Derek het ’n effense smile op sy gesig en sy oë vonkel. Die pes, hy het dit moedswillig gedoen.

Die drie mans sluk die biere vinnig weg. Josh beduie na die klomp bokse wat oral rondstaan. “Moet die bokse almal in die vertrek bly? Is daar nie van hulle wat na jou slaapkamer toe moet gaan nie?” vra hy.

Sophie kners op haar tande. Sy wil eintlik net van hulle drie ontslae raak sodat sy rustig kan uitpak, maar sy ken haar broers goed genoeg om te weet hulle sal haar nooit los om die bokse alleen te dra nie.

“Die groot tas en daardie twee bokse kan kamer toe gaan,” sê sy.

Josh en Chris dra die bokse af in die gang en Derek tel die groot tas op.

“Dié een?” vra hy.

Sy knik, haar oë weer op die beweging van sy spiere terwyl hy die tas optel.

Chris en Josh kom teruggestap en sy loop voor Derek uit met ’n kleiner boksie wat ook in haar kamer moet kom.

Sy sit die boksie op die tafel neer en beduie na haar bed. “Sit die tas sommer daar neer.”

Derek verwissel sy hande en lig die tas op, maar om die een of ander rede glip die knip los en val die deksel oop. Sophie onderdruk ’n kreun. Dis die tas waarin sy haar onderklere gepak het. Dat Derek van alle mense dit nou moet sien!

Derek sit die tas vinnig neer en probeer keer dat nog iets uitval. Sophie kom terselfdertyd nader om ook te keer. Hulle hande gryp saam na ’n bloedrooi kant-en-satynbra. Verbouereerd kyk sy op na hom.

Die spiertjie in sy wang spring en sy oë word donker. Hy trek sy asem vinnig in en laat los. Die volgende oomblik is sy alleen in die vertrek. Sophie sak op die bed neer. Sjoe! Dis asof die lug om haar steeds sis.

Dis Derek. Waaroor gaan haar hart so tekere? Sy wag nog ’n paar oomblikke totdat dit voel asof daar weer krag in haar bene is voordat sy opstaan.

Derek tel bokse op, help skuif die laaste meubels en probeer verstaan wat de hel met hom aangaan. Sophie was nog altyd vir hom soos ’n sussie. Wel, behalwe die aand van die tequila. Toe het hy hom ook vir ’n vlietende oomblik verbeel hy voel iets anders vir haar as broederlike belangstelling.

Maar toe is sy weg Johannesburg toe en het hy feitlik daarvan vergeet …

Totdat hy gekonfronteer word met haar bloedrooi kant-en-satynbra. Helder beelde van haar soepel lyf in kant en satyn, en niks anders nie, het onmiddellik voor hom verbygeflits en hy moes ál sy selfbeheersing gebruik om uit haar kamer te stap. As haar broers nie hier was nie …

“Dankie, julle!” roep Sophie en beduie na haar voordeur. “Maar nou sal ek regkom. Julle was awesome en alles, dankie. Ek weet nie wat ek sonder my boetas sou doen nie.”

Onwillig beweeg Josh en Chris voordeur toe, hy agterna. “Is jy seker?” vra Chris.

“Onthou, Derek is net hier langs jou. As jy bekommerd is of nie veilig voel nie, bel hom, oukei? Het jy sy nommer?” vra Josh.

Sophie sug dramaties. “Ai, julle, regtig?” vra sy, maar haal haar selfoon uit en tik sy nommer in.

“Jy het haar selnommer?” vra Chris vir Derek. Hy knik.

Haar broers buk af om haar te soen en sy gee vir elkeen ’n stywe drukkie. “Baie dankie,” sê sy weer.

Hulle is uit by die deur en dis sy beurt. Soos honderde kere vantevore buk hy ook af vir ’n drukkie. Dié keer huiwer Sophie egter ’n oomblik voordat haar arms vinnig om sy skouers vou.

“Dankie, ander ouboet,” lag sy.

Hy lig sy kop op en laat gly die agterkant van sy hand teen haar wang af. “Ek is nié jou ouboet nie, Sophie,” sê hy voordat hy wegdraai. Hy weet nie regtig hoekom hy dit gesê het nie, maar om die een of ander rede is dit belangrik dat sy weet.

Sophie en Sophia (Ultrasatyn)

Подняться наверх