Читать книгу Sophie en Sophia (Ultrasatyn) - Elizabeth Engela - Страница 5

Twee

Оглавление

“Hallo, is jy Sophie?” vra ’n vriendelike stem.

Sophie kyk vinnig op en glimlag. Ná ’n paar dolle dae by die werk het sy uiteindelik gister die vriendin van Belinda se ma, die een wat ’n webwerf wil hê, geskakel. Sy wag al ’n rukkie in die koffiewinkel waar hulle afgespreek het om te ontmoet. Dit moet seker sy wees.

“Ja, ek is. En is ta …”

Die vrou gaan sit regoor haar. “Nee, o aarde, mens, moet asseblief nie vir my tannie sê nie. Ek is Sophia. Toe ek hoor wat jou naam is, het ek sommer geweet ons sal lekker kan saamwerk.”

“Nou goed,” glimlag Sophie en hou dadelik van die ouer vrou. Sophia is seker in haar sestigerjare, maar is vrolik aangetrek in jeans en ’n los wit hemp. Groot, ronde silwer oorbelle hang aan haar ore en haar lippe is ’n helderoranje geverf.

“Hallo, Sophia. Ek het ongelukkig nie baie tyd vandag nie, maar ek het gedink as jy net so min of meer vir my kan sê wat jy in gedagte het vir jou webwerf, kan ek solank begin dink en oor ’n week of so vir jou ’n paar idees wys.”

“Belinda verseker my jy is die beste. My kinders skaam hulle natuurlik gereeld vir hulle ma wat love stories skryf, maar ek is mal daaroor en hoef my gelukkig nie aan hulle te steur nie. In dié stadium is hulle glo net dankbaar my kleinkinders is nog te klein om dit te lees,” lag sy

“Hoeveel kleinkinders het jy?” vra Sophie terwyl sy begin dink aan moontlikhede vir die webwerf.

“Ses. Te pragtig. Maar hulle bly so ver, ek sien hulle te min. Gelukkig hou my skrywery my besig.”

“Skryf jy net liefdesverhale of ander goed ook?”

“Nee, mens, net liefdesverhale. Ons lees genoeg van die nare werklikheid in die pers, ek wil regtig nie ook daaroor skryf nie.”

Sophie knik haar kop. “Watter tipe liefdesverhale?”

Sophia se oë begin vonkel. “Lees jy liefdesverhale?” vra sy vir Sophie.

“Soms. Maar ek hou meer van whodunnits en rillers, veral sielkundige rillers.”

Sophia ril ooglopend. Sy lig ’n sak wat langs haar op die grond was op en sit dit op die tafel. Duisende duiweltjies dans in haar oë.

“My voorstel is dat jy eers van my boeke lees. Sien jy dan nog kans, laat weet jy my en dan praat ons weer.”

“Maar …” begin Sophie, maar die ouer vrou is reeds aan die opstaan.

“Ek skryf nou nie jou gewone tipe liefdesverhale nie. Lees maar eers,” lag sy en met ’n vrolike wuif van haar hand stap sy uit die koffiewinkel.

Sophie trek die sak nader en haal ’n paar boeke uit. Die voorblaaie is heel onskuldig. ’n Vrou wat wegstap. Die geklede bolyf van ’n man, das en al. ’n Handsak op ’n bank.

Ag nee wat, ’n liefdesverhaal is mos maar ’n liefdesverhaal.

Waddehel? Sophie se oë rek. Is dít hoegenaamd moontlik? Sy lees die gedeelte weer deur, maar dit bly ewe koelbloedig. En skynbaar ís dit moontlik! Die pols in haar nek begin klop, haar asemhaling is hortend, hoor sy, en haar gesig sekerlik bloedrooi.

Sy druk die boek toe en skep ’n slag asem.

Nou verstaan sy die duiweltjies in Sophia se oë, en haar stout glimlag. Die vrou is in haar sestigs en ’n ouma, grote Griet! Sophia hét gesê sy skryf nie gewone liefdesverhale nie, maar Sophie het aanvaar sy skryf onskuldige romanses, sweet romance, die soort wat sy self soms lees. Wat kan vreemd daaraan wees?

Die allerlaaste ding wat sy verwag het toe sy die eerste boek optel, is die stomende erotika weggebêre tussen die buiteblaaie. Vanaf die heel eerste bladsy is sy gekonfronteer met baie eksplisiet beskrywende sekstonele. Posisies waarvan sy in haar wildste drome nie gedroom het nie, word in grafiese besonderhede verwoord.

In die eerste stomende toneel, druk die held die girl teen die muur vas. Dit kan tog nie moontlik wees om so staan-staan te vry nie, of hoe? Maar nou ja, wat weet sy? En die beskrywing van daardie toneel was nog oukei.

Toe is daar ’n toneel in ’n restaurant. Onder ’n tafeldoek. Sjoe! Doen mense so iets actually in die openbaar? En die toneel in ’n motor! Dat die ou nie ’n ongeluk gemaak het terwyl sy hande so besig was nie, is net ’n wonderwerk.

En o, liewe aarde, die laaste toneel waar die twee uiteindelik in die bed beland. Dis die een wat haar finaal van suurstof beroof het. Elke sintuiglike waarneming is in die fynste detail beskryf, die uitwerking van elke aanraking delikaat verwoord. Sophia flans nie net woorde saam nie, haar beskrywings is soms amper poëties.

Sophie frons. Orgasmes is moontlik, sy het al genoeg daaroor gelees om dit te weet. Tydskrifte vertel gedurig vir jou hoe om dit reg te kry. Maar ervaar almal dit? Is die ekstase wat Sophia beskryf werklik vir aardse wesens beskore? Is dit menslik moontlik om so intens te beleef? En as paartjies wel gereeld orgasmes bereik, as mense sulke vreugde kan ervaar, hoekom is daar so baie ongelukkige mense in die wêreld?

Voorheen het sy haar nooit aan die woord gesteur nie. Dis iets wat sy wel eendag sou ervaar. Maar nou, hier gekonfronteer met Sophia se sekstonele, wonder sy. Wat presies is ’n orgasme?

Sy gaan bietjie die woord “orgasme” google. In hierdie stadium is dit vir haar net ’n woord, iets waarvan sy bewus is, maar beslis nog nooit ervaar het nie. Haar vingers vlieg oor die toetsbord en sy klik op die skakel waar een of ander professionele berader daaroor skryf. Dit klink asof hy behoort te weet waarvan hy praat. Die man het baie te sê, maar haar oë val op ’n paar paragrawe laer af in die berig.

Die Franse noem dit “la petit mort”, oftewel “the little death”, lees sy. Yuck, dit klink morbied, glad nie ekstaties nie. Laat sy verder lees, dit raak dalk beter.

“During orgasm, it is as if time stops. It is a transcendent experience which may bring feelings of clarity and lower self-consciousness.”

Sjoe! Sy druk haar hand teen haar hart. Dié is op ’n frenetiese galop vandat sy Sophia se boek begin lees het. Liewe aarde, as sy so reageer op net lees van die besigheid, wil sy liewer nie weet hoe sy sal voel wanneer die real thing met haar gebeur nie.

Gebeur dit werklik met mense, net soos hier beskryf word? Skrywers en fliekmakers dis dit gereeld op as ’n werklikheid, maar sy wonder darem. Is dit nie iets wat almal maar fake soos wat Meg Ryan gedoen het in die onvergeetlike When Harry Met Sally nie? Sy kan nie dink dat iemand haar so sou kan wegvoer dat dit voel asof sy ’n “little death” ervaar nie.

Onmiddellik duik Derek se laggende oë en sexy lyf voor haar op. Aargh, nee! Hy is die laaste mens aan wie sy nou moet dink. Sy gryp weer Sophia se boek.

Vandat Derek en haar broers haar verlede Sondag gehelp het, het sy hom nog net ’n paar keer gesien. Hy het elke keer vriendelik gegroet, en elke keer was daar ’n ander girl aan sy arm.

Sy het al begin dink sy onthou sy laaste woorde verkeerd. Maar hy hét haar wang gestreel en hy het benadruk dat hy nie haar broer is nie. Hy wou heel waarskynlik net seker maak sy pla hom nie met onbenullighede nie. Ja, dis seker wat dit was. Want hy sal nooit anders aan haar kan dink as sy pelle se kleinsus nie.

Die boek vir die oomblik vergete, tuur Sophie oor die see sonder om regtig iets raak te sien. En sy dink mos maar eintlik aan hom as een van haar broers. Wel, sy hét altyd so aan hom gedink. Wanneer het dit verander?

Die aand toe hy haar in sy arms opgetel het? Ná al die drome wat sy van hom gehad het die afgelope vier jaar?

Vandat hulle saam aan haar bra gevat het? Haar gesig word warm.

Haar selfoon lui. Belinda.

“Jy kon my darem gesê het,” sê Sophie sonder om te groet.

“Wat gesê het?” vra Belinda verbaas.

“Dat Sophia de Winter hot en steamy erotika skryf.”

Belinda lag. “Ja, ek weet. Haar dogter wil die piep kry, maar ek geniet die tannie se boeke. Wat dink jy daarvan?”

“Ek het nie geweet die goed wat sy beskryf, is moontlik nie!” roep Sophie uit.

“Mens, maar dan het jy baie om te leer en dan is haar boeke dalk net wat jy nodig het. Gebruik dit as ’n soort how-to guide,” giggel Belinda. “En ek weet van net die regte ou met wie jy bietjie kan eksperimenteer.”

“Nee, dankie,” sê Sophie ferm.

“Moet nou nie weer so koekerig wees nie. Dis hoekom ek jou bel. Michael se neef is hier vir besigheid en hy gaan by ons oorbly. Ek ken hom nie regtig nie, maar hy is aantreklik en lyk heel nice. Kom eet môreaand saam met ons?”

“Ek het te veel werk,” probeer Sophie keer. “Ek moet ’n erotiek-webwerf ontwerp, onthou?”

“Ons gaan Café Paradiso toe,” sing Belinda. “Wat gaan nou lekkerder wees as ’n heerlike ete op ’n Sondagaand?”

“Lae hou, vriendin, lae hou. Oukei, jy weet ook net hoe om my te oorreed,” stem Sophie met ’n glimlag in.

“Ek ken jou mos en ek weet hoe graag jy eet. Ons kom laai jou so teen halfagt op. En gaan koop vir jou ’n slag ’n sexy outfit.”

Sophie en Sophia (Ultrasatyn)

Подняться наверх