Читать книгу Die dingesfabriek 2: Jannus en Kriek onder die see - Elizabeth Wasserman - Страница 6

’n Skooltaak

Оглавление

“Vandag,” sê juffrou Frot vir die klas, “is Vrydag. En vir die naweek kry julle ekstra-spesiale huiswerk. Julle moet elkeen ’n koerantberig uitknip oor iets wat julle interesseer en dit Maandag saambring. Ons gaan dit dan in die klas bespreek.”

Die meeste van die kinders sug. Huiswerk op ’n naweek is altyd ’n slegte idee!

Maar ’n paar van hulle sien kans vir die uitdaging. “Lekker!” skree Dries Doringkop. “Daar is ’n groot rugbywedstryd Saterdag. Die Sondagkoerant sal daaroor skryf. Ek sal maklik ’n lekker storie kan kry!”

Juffrou Frot frons. “As jy dink rugbywedstryde is nuuswaardig, ja.”

Dries glimlag breed. Wat weet vroumense tog? Rugby is altyd nuuswaardig. Wat anders is belangrik?

Jannus dink aan die ruimtetuig wat onlangs op Mars geland het. Dalk is daar iets in vanmiddag se koerant daaroor. Dalk het vreemde ruimtewesens die tuig ontvoer, en . . .

Jannus se verbeelding gaan maklik op hol.


Kriek is bekommerd. Sy stel nie veel in sport belang nie, en die gewone goed oor politiek en finansies is ook vervelig. Die ander kinders sal al die ander dinge, soos bankrooftogte en geboue wat afbrand, kies. Miskien is daar iets opwindends in die rubrieke, soos ’n artikel oor tuinkabouters, of ’n interessante resep . . .

Kriek hou van die gewone dinge in die lewe. Dit laat haar veilig voel. In hulle familie is daar nooit ’n tekort aan opwinding nie en sy wens soms sy en haar tweelingbroer het in ’n huis gebly sonder weerligstrale wat altyd om die Oostelike Toring blits. ’n Huis met rose in die tuin en ’n ma wat koek versier in plaas van landmyne kamoefleer, en ’n pa wat in ’n bank of iets werk waar niemand bekommerd is oor die regte spelling van woorde soos “dividend” en “kredietoordrag” nie.

Maar haar oupa: van hom hou sy net soos wat hy is.

Nie dat hy enigsins soos ander oupas is wat sy al ontmoet het nie!

Die klok lui en die kinders bondel by die deur uit.

“Los al die berigte oor rugby vir my!” dreig Dries. Hy is die graad se boelie.

Almal koes en hy druk met sy groot lyf en sy swaar tas voor al die meisies verby om eerste uit die klas te kom.

Jannus en Kriek spring op hulle fietse en jaag huis toe.

Huis Deurmekruis is ’n hele entjie van die skool af. Hoe verder hulle ry, hoe besiger en hoe nouer word die strate. Die woonbuurt naby die hawe is deesdae nie meer deftig nie, en die tweeling moet koes tussen die swaar verkeer deur. Lorries vol steenkool, busse vol fabriekswerkers op pad na die laatmiddagskof en mans wat kruiwaens vol boumateriaal rondstoot versper gedurig hulle pad. Jannus draai af by die dokke om eers na die hyskrane te kyk wat groot vraghouers op die skepe laai. Kriek volg hom en kyk na die seemeeue wat baklei oor ’n halfgeëte hamburger wat ’n matroos langs ’n asblik laat val het.


Sy hou van die see.

“Kom, Jannus, ek is honger!” raas sy ná ’n rukkie en spring terug op haar fiets.

By Huis Deurmekruis stoot Jannus die krakerige hekkie oop. Die tuin is vol doringrige kaktusse en allerhande soorte koolplantjies geplant. Die klopper aan die voordeur is in die vorm van ’n bosvark se kop.


“Kyk, daar doen hy dit weer!” roep Kriek uit toe sy die voordeur oopstoot. Sy is seker die bosvark het vir haar geknipoog.

“Twak en nonsens,” brom Jannus en gooi sy skooltas in die voorportaal neer.

’n Harde knal ruk deur Huis Deurmekruis.

Die kinders steur hulle nie daaraan nie. Dit is niks ongewoons nie – in Huis Deurmekruis is vreemde geluide aan die orde van die dag.

Dit is altyd lekker om huis toe te kom, dink Jannus. Mens weet nooit wat hier kan gebeur nie!

“Wat ruik so na rook?” vra Kriek en snuif die lug.

“Ma is hier,” antwoord Jannus en beduie na die motorfiets wat langs die kombuisdeur geparkeer staan. Die bande het ’n dik streep modder van die voordeur af ingery, dwarsoor die wit-en-swart parketvloer van die voorportaal.

“Kinders!” roep Soetlief Knoets. “Kom eet.”


In die kombuis hang blou rook tot teen die plafon. Die kinders loer versigtig om die deur. Meneer Snoek skarrel hulle tegemoet.

Meneer Snoek is hulle huisdier. Sy is ’n meerkat en sedert die tweeling se oupa een of ander eksperiment op haar uitgevoer het in sy kelderlaboratorium diep onder Huis Deurmekruis, is sy groen. Nie sommer net groen sonder rede nie: sy kan fotosinteer. Dit beteken sy kan haar eie kos maak as sy in die son lê, net soos ’n plant.

Maar Meneer Snoek verkies steeds om aan ’n wurm of twee te smul, of dalk ’n paar lekker vet inseklarwes. Njam!


Die hare op Meneer Snoek se stert lyk vandag buitengewoon kroes.

“Ma, wat het met haar stert gebeur?”

“Wie se stert?” vra Soetlief Knoets en spuit ’n straal olie op die warm plaat met ’n waterkanon.

’n Vlambol rol deur die kombuis. Die kinders koes. Jannus gryp Meneer Snoek en druk haar voor by sy hemp in. Die meerkat loer met groot oë by sy kraag uit. Die rook laat haar nies en sy duik weg onder Jannus se hemp en krul haar teen sy maag op.

“Jy kielie my!” lag hy, maar Meneer Snoek raak gou-gou stil. Sy slaap.

“Wat maak Ma vir middagete?” vra Kriek. Sy is honger.


“Pannekoek!” kondig haar ma aan.

Kriek staan versigtig nader en loer in die reusepan op die stoof. ’n Verskrompelde bondel deeg lê en smeul in die pan.

“Is Ma seker?” vra sy, effe teleurgesteld. Haar ma is ’n goeie kok, maar soms ruk haar disse ’n bietjie handuit.

“Ja! Ek het die resep net so effens aangepas . . .”

Jannus tel ’n blik van die kombuistafel af op en lees die etiket:


Kriek loer oor sy skouer. Sy tel ’n gekreukelde resepteboek op wat langs die blik lê en lees:


“Ma!” raas sy, “het Ma die kanonkruit gebruik in plaas van bakpoeier?”


Die kinders duik onder die kombuistafel in.

Net betyds.

Die dingesfabriek 2: Jannus en Kriek onder die see

Подняться наверх