Читать книгу Die dingesfabriek 4: Jannus en Kriek en die tydmasjien - Elizabeth Wasserman - Страница 7
’n Uitstappie word beplan
Оглавление“Dit was heeltemal onnodig!” raas Kriek en druk ’n pak bevrore ertjies teen Jannus se blou oog.
Knersius Knoets kyk op van
sy koerant. “Julle kinders moet
leer dat die woord meer kragdadig
is as die vuis.”
Jannus wonder of sy ma sou saamstem. “Ek dink nie Ma moet die warm skottel daar neersit nie,” maan hy en loer met sy een oog na die landmyn wat op die tafeldoek lê.
“Toemaar, ek het die plofmiddel uitgehaal om ’n oliekol op die sitkamer se mat uit te was.”
“Het dit gewerk?” wil Kriek weet.
“Wel, ons het nie meer ’n mat óf ’n oliekol nie!” sê Soetlief Knoets.
Kriek loer wantrouig na die opskepskottel. “Wat eet ons vanaand?”
“O, ’n heerlike tamatiebredie. Maar daar was ongelukkig niks tamaties in die huis nie. Ek sal moet gaan inkopies doen.”
“Vertel my, Jannus, hoekom het jy in ’n bakleiery by die skool beland?” wil sy ma weet toe sy begin opskep.
“Wel, ons het gestry oor watter dinosourus die grootste is …”
Die stoofdeur gaan oop en Oupa spring daaruit. Sy yl grys hare staan regop van sy rit deur die antiswaartekragtonnel tussen sy laboratorium onder die huis en die kombuis.
“Het iemand ‘Gondwanaland’ gesê?” vra hy.
Die kinders kyk verbaas op, bly om hul oupa te sien. “Waar is Gondwanaland?” vra Kriek.
“O, jy sit daar binne-in, Kriekie! Gondwanaland was die ou vasteland voor die kontinente uitmekaar geskuif het om Afrika, Indië, Madagaskar, Australië, Suid-Amerika en Antarktika te vorm. Dit was die land van die groot dingesse!”
“Oupa bedoel seker dinosourusse?” vra Kriek.
Jannus gooi sy bevrore ertjies neer. “Ek het mos vir daai simpel Dries gesê daar was groter dinosourusse hier in die Suidelike Halfrond as Tyrannosaurus rex!”
Oupa glimlag en knik sy kop. Hy trek ’n bord nader en snuif versigtig aan die bredie wat Soetlief vir hom ingeskep het.
“Môre is Saterdag. As julle wil, kan ek julle vat om my vriend Arnoldus Snol te ontmoet. Hy is die kurator van die museum in die stad, en hy weet alles van die dinosourusse van Gondwanaland af.”
“O ja!” roep Kriek bly. “Ons moet ’n opstel skryf en dit sal baie help.”
“Ek wou juis vir Arnoldus gaan kuier het. Julle weet, hy is ’n merkwaardige man. Hy is bekend daarvoor om altyd die heel beste dingesse vir sy museum in die hande te kry. Maar hy antwoord nie in die laaste tyd my e-posse nie, en dit is dalk net ’n goeie plan dat ons self gaan kyk wat hy aanvang.”
Oupa maak vir hom ’n toebroodjie met Jannus se bevrore ertjies. Mens weet nooit wat Soetlief Knoets in haar bredies gooi nie!