Читать книгу Die dingesfabriek 4: Jannus en Kriek en die tydmasjien - Elizabeth Wasserman - Страница 8
Die museum
Оглавление“Jannus, wat het jy in jou rugsak?” vra Kriek toe hulle op die bus stad toe klim.
“O, dit en dat! Ek het ’n vergrootglas, ’n verkyker, ’n flitslig en ’n sakkie grondboontjies …”
“O ja? En wat is dit wat so kriewel?”
Kriek maak die sak oop en Meneer Snoek se koppie loer daaruit. Die meerkat knip haar ogies en lek haar lippe af.
“Snoekie, het jy al my grondboontjies opgeëet?” vra Jannus.
“Ek dink nie dit is so ’n slim plan om ’n meerkat na ’n museum toe te vat nie, Jannus!” raas Kriek.
“Ag, moet tog nie so kla nie. Sy raak verveeld by die huis. ’n Uitstappie sal haar goed doen.”
Oupa steur hom nie aan die kinders se stryery nie. Hy snork saggies op sy sitplek langs die venster. Sy skouersak rus op sy skoot.
Die bus stop by die park voor die museum.
“Oupa, ons is hier!” sê Kriek.
Oupa skrik wakker. “O, die dinges!” mompel hy en skuif sy bril reg op sy neus.
Hulle klim af en stap deur ’n lang laning akkerbome waar eekhorinkies rondskarrel.
“As jy nie al die grondboontjies opgeëet het nie, kon ons hulle nou gevoer het!” raas Jannus met Meneer Snoek wat nuuskierig by sy rugsak uitloer.
“Dink jy Meneer Snoek en die eekhorings is familie?” vra Kriek.
“O nee!” sê Oupa. “Eekhorings is knaagdiere. Meerkatte is nader verwant aan stinkmuishonde.”
“Muishonde!” sê Jannus verbaas. “Hoe weet die wetenskaplikes dit?”
“Diere word geklassifiseer volgens allerhande eienskappe – of hulle skelette het, of hulle soogdiere is, volgens wat hulle eet en allerhande ander dingesse,” verduidelik Oupa. “Hier is ons nou!”
Die museum is in ’n ou gebou met ’n groot gewel.
“O, ek kan nie wag om al die geraamtes van die dinosourusse te sien nie,” sê Jannus.
“Kyk!” roep Kriek uit en wys na ’n advertensiebord by die ingang. “Daar is ’n uitstalling oor heuningbye! Kan ons nie daar begin nie?”
Maar voordat hulle nog in die ry kan gaan staan om toegangskaartjies te koop, keer ’n sekuriteitswag hulle voor.
“Is u nie Bartholomeu Knoets, die beroemde wetenskaplike en uitvinder nie?” vra die man vir Oupa.
Oupa bloos effens. “Inderdaad, ja. Dit is ek!”
“Professor Snol praat dikwels van u,” sê die wag en skud Oupa se hand geesdriftig. “Ek is so bly om u te ontmoet!”
“En hoe gaan dit met my vriend Arnoldus Snol?” vra Oupa. “Ek het juis gehoop om hom vanoggend te siene te kry.”
Die wag se gesig val. “O!” sê hy. “Ons is baie bekommerd oor hom. U sien, professor Snol het so ’n week gelede spoorloos verdwyn!”