Читать книгу Nina en die funky eksperiment - Elizbè van der Colff - Страница 4
1
Оглавление'n Baie donker geheime gang
Tiaan tel een van die leë koeldrankbottels op wat netjies in ’n ry langs mekaar staan. “Waar is die goed wat binne-in moet kom?” vra hy. Nina en Jessie rol hulle oë. Klein boeties kan só irriterend wees!
Dis die laaste Saterdag van die Septembervakansie en Nina se pa het gereël dat hulle W & Z Beperk se fabriek besoek. Hy skryf ’n storie vir hul gemeenskapskoerant oor die nuwe koeldrankfabriek.
“Die professor moes onverwags ’n klein aanpassinkie maak in die formule van die koeldrank,” verduidelik die voorman. “Dis nou jammer julle het vandag gekom in plaas van volgende week.”
’n Ouerige man met ’n wit jas kom by die lokaal ingestap. Daar sit ’n rot op sy skouer wat tussen sy woeste grys hare snuffel. Jig! Nina gril selfs nog meer vir rotte as vir paddas of kopluise! Sy pomp vir Jessie in die sy en beduie met haar oë in die rigting van die ou man en sy grillerige troeteldier. Sy sien sommer hoe haar vriendin ril toe sy die rot raaksien.
“Almal uit hier! Ek het werk om te doen. Ek soek privaatheid!” Die man waai vies met sy hand. “Wat soek julle kinders hier? As ek my sonde nie ontsien nie … Toe, skoert nou.”
“Maar Prof— …” probeer die voorman keer.
“Uit!” gil hy.
Die voorman frons, skud net sy kop en lei hulle by die deur uit. “Ook maar lekker onbeskof,” mompel hy binnensmonds. “Jammer, ouens, julle sal maar ’n ander dag weer moet kom. Die professor is weer in een van sy buie.”
Toe hulle in die voorportaal kom waar haar pa vir hulle wag, sit Nina haar hand op Jessie se skouer. “Uhm, Oom, ons wil asseblief gou kleedkamer toe gaan, waar is dit?”
“Dis net hier af in die gang,” sê hy en beduie na ’n sygang.
“Ek en Tiaan wag solank vir julle in die motor. Nie te lank draai nie, hoor. Die rugbywedstryd op TV begin nou-nou,” jaag haar pa hulle aan.
In die gang op pad kleedkamer toe, sê Nina: “Hier’s iets weirds aan die gang, Jessie! Vir wat het die professor ons uitgejaag? My pa het dan gereël dat ons vandag kom.”
“Ja, dit lyk asof hy iets het om weg te steek. In elk geval, daardie rot se oë sit te na aan mekaar. Ek vertrou nie iemand met sulke nou ogies nie.”
Nina giggel. “Jes, ’n rot is nie ‘iemand’ nie, maar ek stem saam, hulle lyk nie lekker nie.”
Op daardie oomblik gaan ’n deur ’n entjie laer af in die gang oop.
“Julle!” Dis weer die man met die wit jas. Die professor. “Wat soek julle nog steeds hier?” vra hy kwaai. Dreigend kom hy nader gestap. Die rot op sy skouer gluur hulle stip aan.
“W— water drink,” stamel Nina en beduie bewerig na die kleedkamer se deur. Sy sluk. “Ons is dors.”
“Julle moet nou loop, julle is regtig baie lastig.” Hy stoot hulle in die rigting van die voorportaal. Die rot maak ’n skreegeluid en Nina sidder. Jessie se oë is ook groot en vir ’n slag is sy stomgeslaan. “Of wag!” Hy gryp skielik die meisies aan hul boarms. “Julle sê julle is dors?” Hy klink effens vriendeliker. “Kom ek gee vir julle ’n bietjie koeldrank, van die spesiale sportdrankie wat ek hier ontwikkel het. Kom, kom gou saam!”
Nina kyk na sy gesig en sien hoe hy grynslag. Sy vertrou hom net mooi niks! Ongemerk vang sy Jessie se oog en skud haar kop.
“Nee dankie, Oom … e … Professor, my pa wag vir ons.” Maar haar pleidooi val op dowe ore en hy sleep hulle in die teenoorgestelde rigting.
“Nee, nee, kom proe gerus, julle sal baie daarvan hou.” Nina probeer losruk, maar die man se greep is te stewig. Sy kyk om haar rond. Daar is niemand anders in sig nie. Sal sy gil en ’n geraas maak? Sy voel bietjie simpel om dit te doen.
Die gang maak ’n draai. Daar is geen vensters meer nie. Dis skemer en alles lyk spokerig. Dit voel of die vloer met ’n helling afwaarts beweeg. Hoe verder hulle in die gang af loop, hoe donkerder raak dit.
“Julle is my spesiale gaste, julle sal die eerste kinders wees wat my heel nuutste resep beproef.”
“Maar ons wil nie,” keer Jessie.
Hulle het nou tot by ’n toe deur gevorder. Die professor haak sy een arm stewig om Nina en Jessie se boarms. Met die ander hand haal hy ’n sleutel uit sy sak en begin om die deur oop te sluit. Hier wil sy wat Nina is, nie ingaan nie. Genoeg is genoeg! Sy trek haar voet terug, gereed om hom op sy maermerrie te skop.
“O, daar is julle!” Dis die voorman wat hulle netnou gehelp het. Nina laat sak haar voet. “Jou pappie wag vir julle buite, hy is bietjie haastig.”
Dadelik los die professor hulle en glip by die deur in. Die sleutel steek nog steeds in die slot. Sonder om twee keer te dink, haal Nina dit ongemerk uit en glip dit in haar broeksak.
-oOo-
“Aarde, ek het byna ’n soekgeselskap vir julle gereël,” brom haar pa toe hulle ’n rukkie later in die motor klim. “Die rugbywedstryd het ook al begin.”
Nina kan sien haar pa is vies. Sy sug. Wel, liewer ’n omgekrapte pa as ’n mallerige ou man wat haar en Jessie as proefkonyne vir een of ander vreemde konkoksie gebruik!
“Vir wat lyk julle twee so bleek?” Hy loer in die truspieëltjie na hulle. “Is julle dalk siek?”
“Pa, hulle het netnou te veel koeldrank en tjips gehad. Hulle wou nie met my deel nie!” Tiaan kyk vies na Nina en Jessie. “Dis julle verdiende loon, ek hoop julle gooi op!”