Читать книгу Nina en die funky eksperiment - Elizbè van der Colff - Страница 9
6
ОглавлениеDie ontploffing
“Sal dit nie lekker wees om op TV te verskyn nie?” sug Jessie daardie middag. Nina en Jessie sit weer, soos Saterdag, op die houtvloer voor die kis met die gekraakte spieël.
“Toemaar, die vrou het mos gesê almal gaan in die advertensie wees,” sê Nina. Sy teken ingedagte stofprentjies op die vloer.
“Ja, maar ek sou nie omgegee het vir ’n nabyskoot nie! Al genade vir my is oefen, oefen en oefen.” Jessie plak die swart-en-rooi pet op haar donker hare. “Ná een minuut, nè?”
“Pinky promise!” Hulle krul hul pinkies om mekaar. “In elk geval, ons het nie baie tyd nie, ek wil nie weer soos gister byna laat kom vir atletiekoefening nie,” sê Nina. Sy is nuuskierig om te weet wat Jessie van die nuwe avontuur gaan dink. Wie is daardie seun wat sy gesien het?
Jessie loer na die gekraakte spieël in die ou houtkis. Dan raak sy tjoepstil en staar soos ’n pop na die spieël. Haar mond hang effens oop.
“Jessie?” sê Nina saggies. Jessie reageer nie. Nina giggel. Ek hoop nie ek het so simpel gelyk terwyl ek op ’n avontuur was nie, dink sy.
Nina tel Jessie se arm op. Jessie sit nog steeds tjoepstil. Sy kyk op haar horlosie. Gits, ’n minuut is pas verby. Sy pluk die pet van Jessie se kop af.
Jessie roer nie. “O, jittetjie, Jessie, word wakker!” Nina skud Jessie se skouer. Alhoewel dit effens skemerig hierbo op die solder is, kan Nina sien dat Jessie se gesig verkleur – geel! Haar hele gesig, selfs haar donker hare, het ’n goudgeel poeierlaag op.
Jessie se oë fladder oop en sy kyk verdwaas om haar rond.
“Dankie tog, vir ’n paar oomblikke het ek gedink jy’t daar agtergebly.” Nina blaas haar asem verlig uit. “Wat het jou oorgekom? Dit lyk of jy in ’n bak geel poeierverf geval het!”
Jessie krap haar kop. “Ek het gedink my laaste dag het aangebreek!” Sy sien haarself in die spieël. “Genadetjie tog, maar ek is omtrént vuil!”
“Wat op dees aarde het gebeur?”
“Daar was ’n ontploffing!” sê Jessie met pieringoë. “’n Yslike ene!” Sy vryf haar ooglede en gee ’n hoesie.
“’n Ontploffing? Watse ontploffing?”
“Daar was allerhande botteltjies en goeters en … Nina! Ek dink dit was die professor van nou die dag by W & Z Beperk! Ek is seker ek was binne-in daardie vertrek waarheen hy ons wou neem. Dit het gelyk of hy een of ander eksperiment doen. Hy het sulke snaakse vloeistowwe en poeiers bymekaar gegooi, toe begin dit borrel en bruis en toe hoor ek net BOEM!” Afgesien van haar vuil gesig, lyk dit darem nie asof sy iets ernstigs oorgekom het nie.
Nina is nou nuuskierig. “’n Eksperiment? Ek’s mál oor eksperimente. Laas het ek ’n vulkaan gemaak deur koeksoda, asyn en rooi kleursel …”
Jessie rol haar oë en val haar in die rede: “Ja, Nina, jy en jou alewige eksperimente.” Sy leun nader aan die spieël en probeer haar gesig met ’n snesie skoonvryf.
“Wag, laat ek help.” Nina vryf agter Jessie se ore. “Dit kom darem gelukkig maklik af,” sê sy en wys die geel vlekke op die snesie vir Jessie. “Waarom het die pet jóú na die koeldrankfabriek toe geneem? Dis ook vreemd, jy was nie waar ek Saterdag was nie. Wat dan van die seun met die puisies? Die een wat so vinnig gehardloop het?”
Jessie trek haar skouers op. “Ek weet nie. Dalk moet ons maar net wag en sien wat gebeur …”
“So gepraat van eksperimente, Jessie – weet jy al wat ons kan doen vir ons natuurwetenskaptaak? Ek het nog geen idee watter eksperiment om daarvoor te gebruik nie.”
Jessie trek ’n gesig. “Ons sal vinnig aan iets moet dink. Die vraag is net wat? Dit sal lekker wees om die beste punte hiervoor te kry – ek sal glad nie omgee om daardie kaartjies na die ekspo te wen nie.”
“H’m, dit moet iets supercool, iets funky wees. Dit moet almal se asem wegslaan! Anders kan ons maar daarvan vergeet. Ciska het juis gespog dat sy en Beldine een of ander wonderlike eksperiment gaan gebruik. Maar sy wou niks verder sê nie …”
“Ninaaaa!” kom Tiaan se stem deur die solderopening. Die twee meisies kyk verskrik na mekaar. Vinnig prop hulle die hoede in die kis en skarrel na die opening.
Nina loer ondertoe. “Wat wil jy hê? Ons is besig!”
Tiaan staan onder by die trapleertjie met iets in sy hand toegevou. “Ma soek jou! Sy sê sy sal julle gaan aflaai by die skool vir julle atletiekoefening.”
“Oukei.” Nina begin by die leertjie afklim. Tiaan speel met die ding in sy hand. “Wat’s dit?” Nuuskierig probeer sy loer wat in sy hand is. Al wat sy kan uitmaak, is ’n klein groenerige voorwerp.
“Wat?” hy kyk af. “O, Brommels? Ek het hom by die visdammetjie in die parkie gekry. My nuwe troetelpadda!” Aspris hou hy die diertjie nader aan Nina.
“Ugh!” gil Nina en spring agteruit. “Oppas net dat Brommels jou nie soen nie – dalk verander jy ook in ’n padda!” Van ’n afstand af bekyk sy die diertjie. Dit is grasgroen met swart kolletjies. Hy lyk vir Nina nogal heel oulik – solank hy net nie te naby haar kom nie.
Tiaan steek vir haar tong uit. Hy dop die padda om en Nina sien die onderkant van die paddatjie is rooi met swart vlekke.
“Ja, man, eers krimp jy tot jy piepklein is …” wei Nina uit. Sy begin die speletjie geniet.
“… en dan raak jy al hoe groener en slymeriger,” voeg Jessie by.
“Maahaaa, Nina en Jessie terg my!” gil Tiaan. “Al weer!”