Читать книгу Nina en die funky eksperiment - Elizbè van der Colff - Страница 5

2

Оглавление

'n Nuwe avontuur


Later die middag sit Nina kruisbeen op die stowwerige houtvloer op hulle solder. “Ek kan nie glo die vakansie is al weer verby nie. Ek’s glad nie lus om Maandag weer terug skool toe te gaan nie.” Sy trek haar neus op ’n plooi. Deur die solderopening hoor sy hoe haar pa en Tiaan juig. Iemand het seker ’n drie gedruk.

“Ek stem, een ou wekie vakansie is hopeloos te kort,” beaam Jessie. Sy vroetel met ’n swart-en-rooi pet tussen haar vingers.

“Gelukkig is daar darem iets om na uit te sien hierdie laaste kwartaal,” sê Nina. Haar neus jeuk van die stof. “Atsjoe!” nies sy.

“O, en wat nogal?”

“Die atletiekbyeenkoms!” verduidelik Nina en vryf haar neus. “Laas jaar was ek te bang om deel te neem aan die hoogspring, maar hierdie jaar wil ek probeer!”

Jessie kyk kamma streng na haar en aap hul klasonderwyseres, juffrou Steenkamp, in ’n formele stem na: “Dan sal jy maar net eenvoudig jou sokkies moet optrek, Nina de Jager! Ek gaan geen laksheid duld nie!” Sy beduie met haar wysvinger nes juffrou Steenkamp altyd maak. Die twee meisies bars uit van die lag.

“Sjoe, jy’s goed, Jes. Eendag gaan jy nog ’n beroemde aktrise word en ’n Oscar wen!”

Steeds giggelend neem Nina die swart-en-rooi pet by haar vriendin. “Onthou, na presies een minuut moet jy die pet weer van my kop afhaal, hoor jy, Jessie! Ek wil nie agterbly daar by wie-weet-waar nie. Veral nie by daardie mal professor en sy rot nie.” Sy beduie met haar kop in die rigting van ’n groot houtkis. Die deksel staan oop en daar lê ’n klomp ou hoede rondom die kis gestrooi. Nina en Jessie het vroeër die jaar hierdie kis met die vreemde pet in Nina-hulle se solder ontdek. Die pet, wanneer hulle dit opsit en na die spieël in die houtkis kyk, neem hulle op die wonderlikste avonture.

“As daar iets vreemds aan die gang is by die fabriek, sal ons dit nou tjop-tjop agterkom.” Sy tik op die pet.

“Pinky promise!” Oudergewoonte krul Nina en Jessie hul pinkies om mekaar. Jessie gee ’n laggie. “Is jy tog nie al weer bang nie?”

“Nee, jong, net versigtig … hierdie hele ding met die pet bly maar so ’n bietjie freaky,” sê Nina grootoog en druk die pet op haar blonde hare. Sy draai na die houtkis, maak haar oë toe en konsentreer so hard sy kan. Hopelik neem die pet haar na W & Z Beperk en die vreemde professor en sy rot.

Versigtig maak sy eers haar een oog en dan die ander een oop. Sy sien haarself in die spieël aan die binnekant van die deksel. ’n Skewe kraak laat dit lyk asof sy twee neuse het. Net soos al die vorige kere hoor sy ’n suisgeluid en voel ’n ligte windjie teen haar vel. Al het sy dit al ’n paar keer in die verlede beleef, vang dit haar tog onkant.

Die spieël verander in deursigtige jellie. Die jellie beweeg, soos ’n lewendige kaleidoskoop. Dit voel asof ’n reuse-magneet haar in die kraak intrek! Haar hart klop in haar keel terwyl sy ingesuig word.

Nina ruik vanielje en aarbeie en vol afwagting beweeg sy deur die jellie. Lekker! Aan die ander kant is die lig verblindend helder. Woep-woep-woep, word sy rondgeskommel. Sy kyk om haar rond. Haar oë rek.

Nina sien ’n paar bruin haarslierte wat voor haar waai. Sy kyk af en sien ’n onderstebo gesig. Dis ’n ouer seun wat sy nog nooit gesien het nie. Sy is al weer ’n pet bo-op iemand se kop. Net soos al die vorige kere.


Die seun se voorkop, neus en wange is vol knoppe – party is rooi; ander is gelerig. Jig, dis puisies! En daar is baie van hulle. Ghloemps-ghloemps-ghloemps, neem hy gulsig ’n paar groot slukke uit ’n deursigtige bottel. Die koeldrank binne-in is geel en ’n paar druppels gly teen die buitekant af. Hy vee sy hande aan sy maroen sportklere af en smyt die bottel eenkant neer.

“Bam!” Nina se ore tuit. Sy wip op en af. Sy kan sy hardlopende bene duidelik van bo af sien. Genugtig, maar hy hardloop vinnig, puisies ofte nie! Die wind suis by haar ore verby.

“Jy’t nog ’n rekord gebreek! Mooi so!” hoor Nina iemand uitroep toe die seun ná ’n paar sekondes tot stilstand kom. Sy hik soos die persoon hom teen die skouer klop. “Jou vordering is werklik merkwaardig. Jy gaan ’n superster word!”

Die volgende oomblik word Nina weer deur die spieël getrek en kyk sy vas in Jessie se gesig. Sy is terug op die deurmekaar solder bo hulle huis. Die swart-en-rooi pet lê op haar skoot, waar Jessie dit seker neergesit het toe sy dit van haar kop afgehaal het.

“Toe, vertel, wat het jy gesien?” Jessie kyk haar vol afwagting aan.

“Puisies!” lag Nina.

“Puisies? Wie het puisies? Die professor of die rot?”

“Nee, man. Ek was toe glad nie by W & Z Beperk nie. Ek het ’n seun gesien, maar ek ken hom nie!” Nina vertel wat sy gesien het. “Die pet werk duidelik nie meer so lekker nie – dit het my glad nie geneem na waar ek wou wees nie!” sê sy teleurgesteld. Sy mik om dit weer terug in die kis te gooi, maar dit beland met ’n ligte plof op die vloer langsaan.

“Of dalk is daar niks fout by die fabriek nie en het ons ons verbeel. Miskien wou die professor maar net vriendelik wees. In elk geval, hierdie is ’n splinternuwe avontuur! Maar wat sou dit beteken?” vra Jessie. Sy tel die pet op en druk dit op haar eie donker hare. “Dalk moet ek ook gaan kyk.”

“Nina! Kom gou hier, asseblief!” hoor Nina haar ma se stem vanuit die rigting van die solderopening. Verskrik kyk die twee na mekaar. Vinnig prop Jessie die pet terug in die houtkis.

“Jy sal maar moet wag tot ’n ander keer,” fluister Nina.

Nina en die funky eksperiment

Подняться наверх