Читать книгу Glimlag van die sekelmaan - Elize Mitchell - Страница 4
~ 1 ~
ОглавлениеNina Immelman lê met oop oë en staar nikssiende na die plafon. Onrustig draai sy om en sien dat dit reeds drieuur in die oggend is. Waar bly Leon vannag so laat? Sy het deur die jare al gewoond geraak aan die baie aande se alleenwees, maar gewoonlik is hy darem vroeër terug.
Sy hoor ’n voertuig in die straat afkom en sit regop. Dit beweeg al stadiger, totdat dit in hulle oprit tot stilstand kom. Haar hart begin woes klop. Sal hy vanaand weer in die gang afstrompel en hom met sy mislike drankasem aan haar opdring?
Liewer as om sy woede te trotseer, het sy lankal geleer om dit gelate te aanvaar, bloot af te skakel en haar gedagtes te verplaas na waar sy ook al in die wye wêreld wil wees. Sy ril. Miskien is hy vanaand só besope dat hy van haar vergeet en sommer net aan die slaap raak.
Sy luister na die voetstappe op die sementpaadjie en wag vir die geknars van die sleutel in die voordeur se slot. Maar in plaas van die gewone geraas en growwe taal, is daar ’n harde geklop aan die deur. Liewe vader, is hy vannag so besope dat sy vriende hom moes huis toe bring?
Sy sukkel om haar kamerjas aan te trek terwyl die geklop al dringender word. Sy maak met bewende hande die voordeur oop en verwag om hom met ’n slap liggaam tussen sy ewe dronk vriende te sien hang, maar voor haar staan twee polisiemanne in uniform.
“Goeienaand, mevrou. Jammer om u op hierdie ontydige uur te moet steur, maar is dit die huis van meneer Leon Immelman?”
Nina trek haar asem in. “Ja, ek is sy vrou.” Dit ook nog! dink sy kwaad. Hulle kom haar seker sê dat hy vir dronkbestuur opgesluit is. “Waar is my man?”
Die polisieman vermy haar blik. “Ek is inspekteur Bezuidenhout, en hierdie is sersant Malloyi. Mevrou, jy moet sterk wees, daar was ’n ongeluk. Ek is jammer dat ek die een is wat hierdie tyding moet bring, maar jou man het op slag gesterf.”
Nina voel hoe sy lighoofdig raak. Haar verstand weier om te aanvaar wat sy so pas gehoor het.
“Wat bedoel jy met ’n ongeluk? Daar moet ’n fout wees. My man is saam met sy vriende uit!” ’n Skielike duiseligheid oorval haar en sy hou aan die deur vas om te keer dat sy val.
“Hy het beheer oor die motor verloor, mevrou, en reg van voor teen ’n vragmotor gebots. Daar is nie ’n fout nie. Voordat ons hierheen gekom het, is die nodige verifiëring eers gedoen. Sy lyk is na die lykshuis geneem, waar dit uitgeken moet word. Is daar iemand wat ons kan kontak om jou by te staan?”
“Nee, baie dankie. Ek kan dit steeds nie glo nie. Dis die laaste ding wat ek verwag het om te hoor. Wie moet ek kontak?” Sy kyk hulpsoekend na die man in die blou uniform.
“Maar hoe seker is julle hiervan? Is daar nie iewers ’n fout nie?” vra sy weer. Sy weet sy praat onsamehangend, maar sy is so verward dat niks sin maak nie.
“Nee, ongelukkig nie, mevrou. Hier is my kontakbesonderhede. Skakel gerus as daar enigiets is waarmee ons behulpsaam kan wees, en aanvaar asseblief ons medelye.”
Nina loop strompelend terug na die sitkamer nadat sy die deur agter die mans gesluit het. Sy ervaar ’n onbedwingbare drang om histeries aan die lag te gaan. Medelye met wat? Dat sy uiteindelik bevry is van die aanrandings, beledigings en afjakke wat deel van haar daaglikse bestaan was? Nee, inspekteur, jou medelye moet wees met daardie armsalige skepsel wat sy hele lewe voor die swyne gewerp en alleen in sy ellende gesterf het.
Sy skud haar kop driftig. Kry beheer oor jouself, Nina, probeer om helder te dink. Wie is daar wat sy moet laat weet wat genoeg sal belangstel in sy afsterwe? Hulle het lankal geen vriende meer nie, en vandat sy ouers hulle destyds die plaas belet het, is alle kontak met die familie verbreek.
Sy maak koffie en gaan sit in die skemer sitkamer. Wat sou laas nag gebeur het? Wie was verantwoordelik vir die ongeluk? Met Leon se onbeheerste drinkery moes so iets seker een of ander tyd gebeur het. En al het sy hoe hard by hom gesoebat om nie te bestuur wanneer hy besope is nie, was dit asof hy haar wou uittart en wys hoe min haar oordeel beteken het.
Die werklikheid van Leon se dood dring drupsgewyse tot haar deur terwyl sy gekonfronteer word met die implikasies van die nag se gebeure. Sy kyk om haar rond na die karige meubels, sien die afgeleefde sitkamerstel en die sonverbleikte gordyne wat plek-plek deurgeskif is, die mat met die lelike vlekke waar Leon sy glas drank laat val het. Sy is bly dat niemand hulle meer kom besoek nie, want ten minste is dit net sy wat elke dag daarin moet vaskyk.
Hoe het dit gebeur dat hulle so verarm het? Maar sy ken die antwoord alte goed. Leon se drank en dobbellus was veel groter as sy inkomste en het alles voor die voet opgeslurp. Sy het geen benul wat hulle finansiële posisie is nie, maar sy troos haar daaraan dat hy voldoende voorsorg getref het deur die baie versekering wat hy uitgeneem het. Hy kon nooit ophou spog oor hoe welaf hy gaan wees die dag wanneer sy polisse uitbetaal nie, dan kon hy ophou werk en die wêreld deurkruis soos wat hy nog altyd wou doen. Sy glo nie vir een oomblik dat sy planne háár ingesluit het nie.
Sy weet nie eens waar Leon se dokumente is nie, dink sy paniekerig. In een van die min oomblikke toe hulle nog ’n sinvolle gesprek gevoer het, het hy laat blyk dat sy testament en al die polisse by die bank is, en sy neem maar aan dat hulle ook die eksekuteur van sy boedel is. Ook maar goed so, want Leon was nooit juis gesteld op die veilige bewaring van dokumente nie.
En nou is dit neusie verby vir hom. Hoe ironies dat hy, weens sy roekelose leefwyse, niks van daardie rykdom gaan hê nie. Deur sy jaloerse obsessie met haar het hy seker gemaak dat sy niks anders as ’n kluisenaarsbestaan gevoer het nie. Maar die wiel draai, stadig maar seker. Nou is dit sý wat die vrugte gaan pluk van al sy geld en wat gaan geniet wat hy haar deur die jare ontsê het. Hoe wonderlik sal dit nie wees om vir die eerste keer in haar lewe finansieel onafhanklik te wees en ook ’n sinvolle lewe te kan lei nie!
Sy sal nooit weer aangewese hoef te wees op die aalmoese wat hy na haar kant toe laat val het nie. Daarmee moes sy die huishouding aan die gang hou en ook probeer voorsien in die behoeftes van haar ma. As dit nie was vir die goedhartigheid van die matrone van die tehuis waar haar ma is nie, sou sy nooit die geleentheid gehad het om ’n paar rand te verdien om in daardie broodnodige ekstratjies vir haar ma se versorging te voorsien nie. Betsie Smit het goedgunstig toegelaat dat Nina somtyds as kok in die kombuis werk, wanneer daar ’n personeeltekort was.
Nou sal sy kan bekostig om haar ma in ’n inrigting te sit met voldoende fasiliteite, sodat sy kan ophou om haarself te verwyt oor haar ma se versorging. Daarna sal sy besluit wat sy gaan doen, want sy sal sekerlik nie hoef te werk nie. Haar hartsbegeerte is om haar studies te voltooi en haar te bekwaam in ’n rigting waarin sy haarself sal kan uitleef.
Skaam jou, Nina! Jou man is laas nag dood, en hier maak jy al klaar planne vir die toekoms en hoe jy sy geld gaan bestee, raas sy met haarself. Maar sy kan nie langer huigel nie. Daar was niks meer tussen hulle as die dag toe hulle getroud is nie – nie eens respek nie, verdedig sy haarself. Hy alleen is die oorsaak daarvan dat sy dood vir haar ’n verlossing uit hierdie ellendige huwelik is. Die eerste ding wat sy moet doen, is om reëlings te tref vir sy verassing, en daarna sal sy rustig oor haar toekoms besluit.
Sy sluit haar oë en wag vir die dag om te breek, want buite is dit vinnig besig om lig te raak. Sy staan traag op. Daar sal gewis nie veel mense wees wat in die verassing belangstel nie, maar sy sal die familie moet laat weet.
Sy glimlag hartseer terwyl sy botter op ’n stukkie roosterbrood smeer. Miskien as sy iets eet, help dit om haar gedagtes te orden sodat sy tot ’n daadwerklike besluit kan kom. Daar is so baie vrae en so min antwoorde. Sy moet die bank bel en solank ’n afspraak maak. Hulle sal al die inligting hê, en daarna kan sy haar besluite neem.
Sy gryp haastig haar handsak. Sy moet haar ma gaan vertel. En miskien het matrone, wat deur die jare al ’n vriendin geword het, raad.
“Wat is vanmôre fout, Nina? Dit lyk asof jy op ’n ander planeet is,” terg Betsie Smit goedig. “Jy hoef nie oor jou ma bekommerd te wees nie, sy het ’n rustige nag gehad.”
Nina se kop sak en sy byt op haar lip. Moet net nie begin grens nie, maan sy haarself.
“Leon is laas nag in ’n motorongeluk dood, Betsie.”
Betsie steek geskok vas. “Hemel, Nina, wat praat jy? Dis verskriklik, ek is so jammer! Wat het gebeur?”
“Ek weet nie presies nie, maar blykbaar was dit ’n kop-aan-kop-botsing.”
“Genade toggie, wat nou? Is daar iets wat ek kan doen?”
“Dankie, Bets, nie op die oomblik nie. Ek moet vir Mamma gaan vertel, maar sal sy ooit weet wat ek sê?”
Betsie sug. “Dit weet ek net so min soos jy. Partykeer dink mens hulle weet niks wat om hulle aangaan nie, maar ander tye is daar iets in hulle oë wat anders lyk, so asof hulle verstand nooit weg was nie. Kom, ek sal saamgaan, of wil jy liewer alleen met haar wees?”
“Asseblief, kom saam. Laat ons eers sien hoe sy vanoggend reageer.”
Hulle stap saam na haar ma se kamer. In die deur steek Nina vas en kyk na die brose mensie in die bed. Haar vel is wasbleek en sy lyk soos fyn porselein. Sy lê met oop oë, maar Nina weet teen hierdie tyd dat sy van niks om haar bewus is nie.
Sy gaan sit langs haar ma en neem haar koue hand in hare. Betsie wag eenkant.
Nina probeer praat, maar die woorde wil nie kom nie.
“Mams, probeer asseblief na my luister,” kry sy uiteindelik gesê. “Leon is laas nag dood, Ma, hy het verongeluk.”
Sy wag op ’n wonderwerk, enige reaksie, maar die stil liggaam beweeg nie. Nina wil verstik in die hartseer wat haar keel toedruk. Hoeveel smart het sy nie oor haar ouers gebring deur haar troue met daardie haatlike man nie? Sy vou haar hande styf om haar ma se hand, probeer om ’n bietjie lewe daarin te bring.
Dan, asof in stadige aksie, sluit haar ma haar oë. Sy knik haar kop en dis asof ’n beduidenis van ’n glimlaggie aan haar mondhoeke raak terwyl sy floutjies Nina se hand druk. Nina kyk gehipnotiseer daarna, wag op enige ander teken, maar dan gaan haar ma se oë weer oop en kyk sy emosieloos voor haar.
“Ma, Mamma, jy het verstaan?” sê Nina oorstelp. “Hy is dood! Ons is uiteindelik verlos van sy jare lange tirannie. Hy sal my nooit weer aanrand en daardeur vir Ma ook seermaak nie, want hy het goed geweet wat dit aan jou doen.”
Nina begin huil onbeheers. Sy gee uiting aan al die opgekropte woede en skuldgevoelens wat oor die jare opgebou het.
Betsie verlaat die kamer en trek die deur agter haar toe. Sy bestel solank tee en wag geduldig totdat Nina ’n rukkie later haar kantoor binnekom. Sy gaan sit en neem dankbaar die koppie tee.
“Ek is seker sy het verstaan, Bets. Daar was iets op haar gesig wat gelyk het asof sy vrede gevind het, asof sy besef het dat Leon ons nooit weer sal treiter nie.”
“Ek dink ook so, Nina, dis lank laas dat sy soveel emosie getoon het. Wat gaan jy nou doen?”
“Ek moet by die bank kom; ek dink hulle is die eksekuteurs van die boedel. Leon was vir heelwat verseker, want hy wou seker maak dat hy sy aftrede in weelde kan geniet. Eers daarna sal ek weet wat om te doen.”
“Goed, kry dit so gou as moontlik agter die rug. Het jy hulp nodig met die reëlings vir die verassing?”
“Nee wat, ek is gewoond om dinge self te doen, maar ek sal praat as ek vashaak.”
Betsie druk haar styf teen haar bors vas. “Sterkte, en laat weet my wat aangaan.”
Nina nader die bank en verkyk haar aan die imposante gebou. Gelukkig kon sy vroeg ’n afspraak kry.
Sy stap huiwerig deur die swaaideure. Sy was jare laas in ’n bank en haar blik soek angstig na die inligtingstoonbank. Sy is skielik oorbewus van die welgeklede kliënte, en haar eie klere wat al ’n hele paar seisoene beleef het. Dit voel asof alle oë op haar gerig is, maar sy lig haar kop moedig en volg die selfversekerde ontvangsdame.
Uiteindelik sit sy in die privaatheid van Wim Prinsloo se kantoor. Nadat hy die gewone niksseggende woorde van simpatie uitgespreek het, bestudeer hy die dokumente voor hom aandagtig. Sy raak ongeduldig. Hoekom neem dit so lank? Sy verwag nie dat daar skielik hope geld tot haar beskikking sal wees nie, maar die polisse is tog seker standaard en die boedel eenvoudig?
Uiteindelik kyk hy op. “Ek is verskriklik jammer oor jou verlies.” Hy vroetel met die papiere toe sy niks sê nie. “Volgens hierdie testament erf die langslewende alles.”
Nina slaak ’n sug van verligting.
“Ek wens dit kon anders wees, maar eintlik beteken die testament in sy geheel absoluut niks. Jou man het die maksimum verbande op die huis geneem, en die polisse is jare gelede al afgekoop.” Hy maak keelskoon. “En hy was boonop die laaste drie maande werkloos, gevolglik is sy oortrokke fasiliteite summier gestaak. Ek is so jammer, mevrou, maar wat sake nog erger maak, is die feit dat die bank op die punt was om beslag te lê op julle huis in ’n poging om van die skulde gedelg te kry. As die huis verkoop word en die verbande daarop afgelos word, sal daar bitter min, indien enigiets, oor wees om van sy skuld te betaal. Die boedel is geheel en al insolvent.”
Nina spring op. “Dit kan nie waar wees nie, meneer Prinsloo! Hy is dan elke dag werk toe. En die huis? Dis onmoontlik. My ma het dit met haar laaste bietjie geld gekoop sodat sy die gemoedsrus kon hê dat ek altyd ’n dak oor my kop sal hê,” stamel sy verbouereerd. Sy bly verdwaas stil toe die man voor haar sy kop skud.
“Het jy nie geweet nie, mevrou? Omdat julle binne gemeenskap van goedere getroud was en alles op sy naam was, het hy alleen volmag daaroor gehad. Verstaan jy die implikasies hiervan?”
Sy kyk hulpsoekend na hom, maar sy blik vermy hare en sy lyftaal spreek boekdele.
Sy trek haar skouers terug. “Dankie vir jou tyd, meneer Prinsloo, ek verstaan.”
“Daar is nog iets. Ek weet nie of hy jou gesê het nie, maar die einde van hierdie maand word die huis op ’n vendusie verkoop.”
Sy verstar soos ’n soutpilaar. “Só gou? Dis heeltemal buite die kwessie,” sê sy beslis.
Die man sukkel om haar in die oë te kyk. “Ek het gedink jy weet, want jou man het reeds talle aanmanings daaroor ontvang. Dit moes al ses maande gelede gebeur het, maar elke keer het hy iets op die skuld kom afbetaal en sodoende weer ’n bietjie tyd gewen. Ek is bevrees dis hierdie keer finaal. Om die waarheid te sê, daar is reeds ’n datum vir die veiling vasgestel. Dit sal goed wees as jy die huis so gou as moontlik kan ontruim. Ek is vreeslik jammer hieroor ...” Sy woorde droog op.
Nina voel hoe trane van vernedering in haar oë brand en draai haar rug op hom. Sy is tot in haar siel geskok deur die nuus. Sy probeer om haarself te beheer, maar die trane stroom oor haar wange toe sy vinnig die bank verlaat. Leon het dan tog die finale hou ingekry, daarin geslaag om haar heeltemal te ruïneer, dink sy bitter.
Sy sien of hoor niks om haar nie, net Wim Prinsloo se eentonige stem wat oor en oor verduidelik dat sy niks het nie, nie eens meer ’n dak oor haar kop nie. Al haar drome vir ’n beter lewe vir haar en haar ma is daarmee heen.
Terug by die huis skakel sy die ketel aan en sit ’n teekoppie reg. Die een plek wat sy gedink het aan haar behoort, waar sy veilig sou wees, is nou die bank se eiendom. Hoe is dit moontlik dat sy alles oornag verloor het? En sy het nooit eens vermoed dat Leon werkloos is nie, want hy is elke oggend werk toe en het saans – of snags, soos dit hom gepas het – huis toe gekom.
Geld vir huishoudelike noodsaaklikhede het wel minder geword, maar daaraan was sy gewoond, omdat dit nooit volop in hierdie huishouding was nie. Sy buie het wel in die laaste tyd vererger, maar ook dit was niks anders as wat sy deur die jare beleef het nie. Sy vryf moedeloos oor haar hare. Miskien was die ongeluk nie werklik ’n ongeluk nie, skiet dit deur haar kop. Miskien het hy geweet dat hy met sy rug teen die muur te staan gekom het en wou hy liewer ’n einde aan alles maak.
Sy laat haar kop op haar arms rus en ’n siddering gaan deur haar lyf. Sy moenie eens daaraan dínk nie, dis te verskriklik! Selfs vir hom om iets so drasties te doen, is ondenkbaar, al was hy ’n selfsugtige en hardvogtige mens. Waar gaan sy die geld vandaan kry om te betaal vir haar ma se verblyf, en om haarself ook nog te onderhou as sy nie eens meer ’n woonplek het nie?
Die harde werklikheid van haar omstandighede tref haar vir die eerste keer voluit. Sy moet so gou as moontlik ’n werk kry. Miskien sal Betsie kan reël dat sy ’n pos in die kombuis kry, want sy is ten minste op hoogte van hoe dinge daar gedoen word. Sy weet die salaris is maar skraps, maar daarmee kan sy ten minste vir haar ma se verblyf betaal.
“Wat is fout, Nina? Hoekom is jy so bleek? En hoe het dit by die bank gegaan?” vra Betsie bekommerd.
Nina vee eers die trane af, terwyl sy probeer om haar gevoelens onder beheer te kry. Sy is al soveel kere verneder en seergemaak, maar om nou aan Betsie te moet verduidelik dat sy bankrot en hulpbehoewend is en boonop vir ’n werk moet bedel, is soos om op die straathoek te staan en aalmoese van verbygangers af te smeek.
“Bets, volgens die eksekuteur het ek alles verloor – daar is niks, net ’n klomp skuld. Selfs my huis het hy op sy naam gesit, en die einde van die maand word dit op ’n vendusie verkoop om van die skuld te delg. Dan sit ek letterlik op straat.”
“My goeiste, Nina, hoe is dit moontlik? Wat gaan jy doen?”
Nina slaan met haar vuis op die lessenaar. “Ek weet nie, maar ek het vandag ’n eed geneem, Betsie: hy sal my nie breek nie. Hy is dood, maar hy sal nie die finale hou inkry nie. Ek sal opstaan uit hierdie gemors waarin hy my gedompel het, al is dit die laaste ding wat ek doen.”
Betsie knik instemmend, haar blik bewonderend op die vasberade mooi vrou hier voor haar.
“Ek sal vinnig ’n werk moet kry, maak nie saak wat nie. Al kwalifikasie waaroor ek beskik, is my diploma in binnehuisversiering – nie dat dit my enigsins baat nie, want voordat ek my prakties kon doen en ondervinding opdoen, is ons getroud. Leon wou my nooit toelaat om te werk nie, en die enigste rede waarom ek somtyds hier mag gehelp het, was om in die broodnodige goedjies vir Mamma te voorsien. Daarvoor het hy geweier om te betaal.”
Betsie draai die pen om en om in haar hand voordat sy na Nina kyk.
“Ek wou nog nooit uitvra nie, maar hoekom is jy met die skarminkel getroud? Julle verskil so hemelsbreed.”
“Omdat ons moes trou, Bets, ek was swanger,” sê Nina sag.
“Was daar geen ander uitweg nie?”
“Nee, ek was nog nie mondig nie, en toe sy ouers uitvind, was die gort gaar. Hulle was vooraanstaande mense in die gemeenskap, en hulle sou die skande nooit oorleef het as dit moes uitkom dat daar iewers ’n onegte kleinkind is nie. Kort daarna is Pappa dood, en Mamma het by die dag agteruitgegaan. Ai, Bets, ek was so naïef om te dink as ons eers getroud is en die baba is daar, sou hy verander en kon ons ’n gelukkige huwelik hê.”
“En die baba? Wat het gebeur?”
Nina se lippe bewe en sy byt hard daarop voordat sy sê: “Ek het op ses maande ’n miskraam gehad. Ek het my pragtige seuntjie met die bos pikswart haartjies verloor. En daardie nag het die lig in my ma se oë doodgegaan en sy het in ’n zombie verander. As ek nie na haar moes omsien nie, het ek sweerlik van my kop af geraak.”
“Jou arme ding, ek het nie woorde om jou te troos nie. Hoe kan ek help?”
Nina se oë soebat. “Betsie, ek het gewonder of jy nie dalk ’n pos in die kombuis vir ’n kok het nie. Ek het mos darem al ’n paar keer daar uitgehelp.”
“Ai, kind, ek wens ek was by magte om ’n werk te kon skep, maar die beheerraad van die tehuis is ook maar besig om hulle rieme te sny. Op die oomblik is hier niks nie, miskien vorentoe, maar almal klou maar vas aan wat hulle het. Jy weet mos hoe dit deesdae gaan. Ek sal jou aanraai om ’n betrekking te vind waar jy jou kwalifikasies kan verbeter. As jy hier werk, gaan jy in ’n doodloopstraat beland en nooit verder as hierdie kombuis en sy outydse kospotte kom nie. Hier is geen vooruitsigte nie.”
Nina sug hardop. “Ek het nie die moed om dit aan te durf nie, Bets. Ek is hopeloos uit voeling met die wêreld daar buite.”
“Wel, jy sal maar net moet deurdruk, anders gaan jy omkom van ellende. Dink aan jou ma, Nina, jy is al wat sy het. As jy nie kans sien vir die uitdaging nie, wat gaan van háár word? Komaan, jy het gesê Leon gaan jou nie onderkry nie, so ruk jou reg. Ek weet van ’n uitstekende werkverskaffingsburo. Gaan sien hulle en hoor wat hulle sê.”
“Goed, laat ek net eers die verassing agter die rug kry.”
“Dis reg, begin daarmee. Ek sal help waar ek kan, jy moet net praat.” Maar Bets se oë is vol twyfel terwyl sy Nina agternakyk.