Читать книгу Glimlag van die sekelmaan - Elize Mitchell - Страница 5
~ 2 ~
ОглавлениеNina maak huiwerig ’n afspraak by die werkverskaffingsburo. Die oggend van die onderhoud probeer sy om met die karige klere in haar kas so goed as moontlik te lyk. Sy het geen selfvertroue nie, maar wend ’n daadwerklike poging aan om doelgerig en entoesiasties te lyk.
Uiteindelik sit sy in die ontvangskamer van die agentskap. Sy maak asof sy verdiep is in ’n tydskrif, maar loer onderlangs na die stylvolle meublement wat so ’n rustige en ontspanne atmosfeer skep. Die ontvangsdame is ’n prentjie uit ’n boek.
Skielik besef Nina dat hierdie nie ’n instansie vir mense soos sy is nie. Wat soek sy hier? Sy moes liewer by een van die plaaslike restaurante gaan aanklop het. Sy is so uit haar plek soos ’n vis uit die water. Sy sit die tydskrif neer en staan saggies op om ongemerk weg te glip, maar dan gaan die groot kantoordeur oop en ’n elegant geklede dame maak haar verskyning.
Die ontvangsdame vlieg gedienstig op met ’n lêer in haar hand. “Mevrou Immelman is volgende, Tessa.”
Sy oorhandig die lêer aan die gesofistikeerde dame, wat beurtelings na haar en dan na die lêer in haar hand kyk. Dan kyk sy op haar goue polshorlosie.
“Goed, Emma, ek kan haar nog gou te woord staan, maar my ander afspraak is oor ’n halfuur. Hou asseblief my oproepe terug, anders gaan ek dit nie ingepas kry nie.” Haar stem is beheers, maar dwing respek af.
Sy draai na Nina, wat soos ’n steeks donkie vasgesteek het. ’n Beleefde glimlaggie raak skaars aan haar mondhoeke.
“Kom gerus binne.” Tessa beduie na ’n stoel voor die lessenaar.
Nina sou veel eerder vinnig by die deur wou uitglip, maar daarvoor is dit nou te laat. Sy gaan sit so stil soos ’n muis op die punt van die gemaklike stoel, haar hande inmekaargevleg.
Tessa blaai vinnig deur die papiere in die lêer. Uiteindelik kyk sy met ’n effense suggie op.
“Kan ek asseblief jou CV kry sodat Emma fotostate daarvan kan maak?” Sy hou haar hand afwagtend uit.
Nina oorhandig ’n paar dokumente. “Ek is jammer, dis al wat ek het. Ek het geen ander dokumentasie nie,” stamel sy verbouereerd.
Tessa maak die lêer sorgvuldig toe en vou haar hande. Haar lyftaal spreek boekdele en Nina se moed sink in haar skoene.
“Wat is jou kwalifikasies, Nina? En wat bedoel jy jy het nie ’n CV nie?”
Nina se oë sak voor die deurdringende blik. “Ek het slegs ’n diploma in binnehuisversiering, maar ek is getroud voordat ek enige praktiese ondervinding kon opdoen.”
Sy probeer nie verder verduidelik nie en staan op. “Ek besef nou hierdie is nie ’n plek vir iemand soos ek nie. Dankie vir u tyd, mevrou.”
Tessa antwoord nie. Sy tel die telefoon met haar goed versorgde hand op en sê met dieselfde beheerste stem: “Emma, herskeduleer my volgende afspraak, asseblief. Hierdie onderhoud gaan ’n bietjie langer duur. Dankie.”
Sy draai terug na Nina en ’n professionele glimlaggie raak die perfek gegrimeerde mond. “Sit asseblief, Nina, ons is nog nie klaar nie. En noem my sommer Tessa.”
Nina sak terug in die stoel. Sy is skielik lewensmoeg, asof die gebeure van die afgelope tyd en die futiliteit van die onderhoud haar finaal gedreineer het.
Tessa tik met haar lang, geverfde nael op die vel papier, ’n ligte fronsie tussen haar wenkbroue. Hier is absoluut niks waarmee sy kan werk nie. Sy loer onderlangs na Nina se bloes en romp waarvan die fleur lankal verby is, hoewel die klere skoon en netjies is.
Haar gedagtes flits onwillekeurig terug na jare gelede toe sy ook, tas in die hand en met niks anders as haar drome nie, hier in die stad beland het. Haar deursettingsvermoë en vasberadenheid om bo haar omstandighede uit te styg het haar gedryf om een van die prestige-agentskappe vir werkverskaffing in die korporatiewe wêreld tot stand te bring en op te bou tot wat dit vandag is.
“Nou goed, kom ons begin weer by die begin. Gee my asseblief ’n bietjie meer agtergrond sodat ek ’n beter prentjie kan vorm waarvoor ek op die uitkyk moet wees. Jy besef natuurlik sonder die nodige ondervinding is dit vandag haas onmoontlik om in enige beroep geholpe te raak?” Tessa se netjiese wenkbroue vorm ’n vraagteken.
Nina knik. “Ek besef dit nou. ’n Paar jaar gelede moes my ma in ’n tehuis opgeneem word. Om te help met die uitgawes het ek somtyds as kok in die kombuis gewerk.”
Sy byt hard op haar lip om die hartseer te keer. Watter vernedering is dit nie om jou haglike lewensomstandighede hier voor ’n ander oop te vlek nie.
“My man is ’n paar dae gelede in ’n motorongeluk dood, en ek moet dringend ’n werk kry. Ek is verantwoordelik vir my ma, en ek gaan boonop my huis verloor.” Sy staan op. “Ek is jammer ek het jou tyd gemors en dat jy jou afspraak moes kanselleer.”
Tessa skuif die papiere voor haar reg en maak asof sy die laaste sin nie gehoor het nie.
“Nie so haastig nie.” Haar stem is gelykmatig terwyl sy ongesteurd voortgaan: “Ek sal begin rondkyk vir iets in die restaurant- of hotelwese, desnoods ook as ontvangsdame. Net die ander dag het ’n firma so iemand gesoek. Miskien kan jy intussen daar geholpe raak, totdat iets beters opduik. Ek sal dit opvolg en jou laat weet.”
“Ek sal dit waardeer. Ek’s bereid om enigiets te doen.”
“Goed.” Tessa staan op en steek haar hand uit. “Dis vir eers genoeg. As jou kontakbesonderhede intussen verander, moet jy ons asseblief laat weet. Laat dit sommer by Emma, sy sal vir die res sorg. Tot siens, Nina.”
Nina neem die hand wat na haar uitgehou word en druk dit vlugtig. Sy verlaat die kantoor sonder om weer om te kyk.
Tessa kyk haar ingedagte agterna. Sy het veel meer tussen die lyne gelees as wat Nina laat deurskemer het. Hoe kan sy hierdie vrou help? Sy weet uit ondervinding dat werkgewers vandag kan kies en keur tussen applikante, en as hulle nie tevrede is met een nie, wag daar ’n honderd ander. Maar iets in hierdie vrou se pragtige oë bly haar by, en sy neem haar voor om haar oë en ore oop te hou.
Nina stap uit in die helder sonlig. Oral beweeg mense om haar, maar sy sien niks raak nie. Wat gaan sy doen? Hoe begin ’n mens ’n nuwe lewe met niks? Dis amper so erg as om sonder ’n identiteit te wees. Sy weet so seker as wat die son skyn dat hierdie onderhoud vandag ’n mors van tyd was.
Sy glimlag meewarig. Ten minste weet sy nou hoe skromelik sy tekort skiet. Sy voel nog die simpatieke blik van die smaakvol geklede vrou op haar skamele kleredrag en sy krimp ineen oor haar minderwaardige voorkoms. Sy moes nog altyd elke sent tien maal omdraai, en daar was nooit iets oor om op haarself te spandeer nie.
Leon Immelman, jy het nie net jou eie lewe verwoes nie, maar baie seker gemaak dat jy dit met myne ook doen, dink sy bitter. Al verskil is dat joune aan ’n einde gekom het, maar ek moet nou aangaan met nog minder as wat ek gehad het toe jy nog geleef het. Jy het seker gemaak dat ek alles verloor.
Sy vee driftig die trane af.
Sy is moeg toe sy by die huis kom. Sy gaan lê in ’n klein bondeltjie op haar bed en gee haar oor aan baie jare se opgekropte hartseer.
Dis met ’n loodsware hart dat Nina ’n paar dae later voor Betsie sit.
“Gee my raad, asseblief, Bets. Ek weet nie meer wat om te doen nie. Niemand stel belang om my in diens te neem nie, en ek moet die huis begin ontruim.”
“Daar sal wel iets opduik, Nina. Moenie so gou moed opgee nie,” probeer Bets teen haar beterwete troos.
“Ja, maar waar begin ek? Daar by die agentskap het my oë gou oopgegaan.”
Die telefoon lui en Bets antwoord. ’n Frons verskyn tussen haar oë en sy oorhandig die foon aan Nina. “Hier, dis vir jou.”
Nina kyk skuldig op. “Ek hoop nie jy gee om nie, maar ek het hierdie telefoonnommer as alternatief gegee as iemand my dringend soek. Dis seker die bank wat bel oor die ontruiming van die huis.”
“Dis als reg. Hoor maar wat hulle te sê het.”
Nina luister met ’n beklemming om haar hart na die onbekende stem aan die ander kant.
“Goeiedag, Nina, dis Emma van die personeelagentskap. Mevrou Barnard het gevra ek moet jou laat weet dat die pos van ontvangsdame waarvan sy gepraat het, ongelukkig reeds gevul is. Sy sal laat weet as iets anders opduik. Tot dan.”
Nina kry nie eens kans om daarop te antwoord nie. Sy sit die foon terug.
“Daar gaan nog ’n moontlikheid, Betsie. Jy sien, dís wat ek bedoel het. Ten minste laat hulle my darem nog weet.”
“Ons moet glo en aanhou soek, iewers sal iets wel opduik. Ek sal met dominee Theron ook praat.”
Elke dag wat verbygaan, voel asof dit Nina ’n dag nader bring aan die einde van die lewe soos sy dit geken het. Alhoewel sy baie male opstandig was oor haar miserabele bestaan, was daar darem ’n mate van sekerheid. Maar nou is haar moed besig om haar te begewe.
“Ruk jou reg, Nina, jy kan nie bekostig om ineen te stort nie. Kry die koerant en begin soek werk. Enigiets is beter as om hier met jou gedagtes te sit en jouself te bejammer,” praat sy hardop met haarself.
Sy gryp die plaaslike koerant en begin daarin rondblaai. Daar word ’n pos vir ’n sjef by een van die tophotelle geadverteer en sy bel dadelik vir ’n afspraak. Opgewondenheid pak haar beet. As sy die pos kry en versigtig met haar geld werk, sal sy goed vir haarself kan sorg. Sy sal ook kan bekostig om haar ma in die tehuis te laat aanbly, waar dinge darem vir haar bekend is. Sy sien eintlik uit na die onderhoud.
Ná ’n week kom die brief. Sy skeur dit met bewende hande oop en haar oë vlieg oor die paar reëls. Alhoewel sy goed gevaar het in die onderhoud, vereis die pos ’n gekwalifiseerde sjef en daarom voldoen sy nie aan die vereistes nie.
Nina is heeltemal ontnugter. Die benardheid van haar posisie word ’n klinkklare feit. Boonop is daar slegs ’n week oor, dan moet sy uit die huis wees. Sy was so vol hoop, maar dit voel asof elke deur in haar gesig toegemaak word, asof elkeen sy rug op haar draai. Was haar offers deur die jare dan tevergeefs? Wat het sy gesondig dat haar lot so galbitter moet wees?
Die telefoon se skril gelui ruk haar terug na die werklikheid. Sy haas haar om te antwoord, bevrees dat iets met haar ma gebeur het. Sy antwoord met opgehoue asem. Dis ’n gemoduleerde, vaagweg bekende stem aan die ander kant.
“Nina? Goeiedag, dis Tessa Barnard. Ek hoop dit gaan goed?” gaan die gesofistikeerde stem voort. “Ek weet nie of jy nog belangstel in ’n betrekking nie, maar indien wel, moet jy my so gou as moontlik kom sien. Iets het opgeduik, en miskien is dit nie heeltemal wat jy in gedagte het nie, maar ek wil dit graag met jou bespreek.”
“Ja, natuurlik. Wanneer het jy gedink is ’n gepaste tyd?”
“Net nie vandag nie. Ek is vol bespreek. Wat van môreoggend negeuur?”
“Goed. Watter soort werk is dit?”
Daar is ’n kort stilte aan die ander kant. “Kom ons bespreek dit wanneer jy hier is. Dis nie ’n uitgemaakte saak dat daar iets van sal kom nie, maar ek het gedink dis dalk ’n moontlikheid.”
“Goed, dan sien ek jou môre.”
Nina plaas die foon ingedagte terug op die mikkie. ’n Sprankie hoop wil opvlam, maar sy onderdruk dit. Tessa het glad nie entoesiasties geklink nie.
Die volgende oggend is Nina vroeg reeds by die agentskap vir haar afspraak. Sy raak verdiep in ’n tydskrif, en veels te gou roep Emma haar.
“Mevrou Barnard wag vir u.”
Tessa staan op toe Nina binnekom. “Dag, Nina. Ek is bly jy het gekom. Sit, asseblief.”
Nina neem plaas, haar blik afwagtend op Tessa, wat ietwat onseker lyk.
“Ek weet nie eintlik waar om te begin nie. Hierdie pos is propvol kompleksiteite, en miskien is dit glad nie wat jy in gedagte het nie.”
“Wat behels die werk?” vra Nina effens ongeduldig.
“Die advertensie praat van ’n gasvryheidsbestuurder,” sê Tessa taktvol. “Soos ek kan aflei, moet die persoon ’n huishouding kan bestuur, toesig hou oor die personeel en voorraad en –”
“ ’n Soort huishoudster? Is dít wat dit is?” val Nina haar in die rede.
“Dis glad nie so ’n eenvoudige werk soos dit klink nie. Natuurlik is daar ’n paar kinkels, daarom is die pos vakant. Maar laat ek liewer voor begin.”
Nina strengel haar hande ineen. Sy moes dit verwag het, seker ’n huishoudsterpos vir een of ander bedlêende ou tannie.
“Die pos is op ’n afgeleë landgoed, net voor die Mosambiekse grens. Blykbaar is dit ’n klein paradys in die subtropiese klimaat. Dit grens aan die see, maar is baie ver van enige dorp af. Dis waarom die vorige dame dit nie lank daar kon uithou nie – die afsondering het vir haar te veel geword. Die geskikte kandidaat sal in beheer wees van al die personeel in die huis, en vir die saamstel van spyskaarte en beheer van voorrade. Sy moet ’n begroting kan opstel, en sy sal direk aan die werkgewer rapporteer.”
Nina begin met al meer belangstelling luister.
Tessa glimlag bemoedigend. “Jy sê mos jy kan kos maak, so dit tel darem in jou guns. Is daar enige vrae sover?”
“Baie, maar gaan maar eers voort.”
“Wel, al die detail sal volledig in die pligstaat genoem word, maar hoofsaaklik is dit wat die werk behels.”
Tessa aarsel ’n oomblik. “Die salaris is nie te waffers nie, maar vir iemand sonder enige werklike ondervinding is vyfduisend rand ...”
Nina slaan haar hand voor haar mond en Tessa frons.
“Ek weet dis miskien nie wat jy in gedagte gehad het nie, maar hierdie is die aanvangsalaris, en jy moet onthou dit sluit jou verblyf in.”
Nina probeer haar asemhaling onder beheer kry, sy is skoon kortasem. “Dis nie wat ek bedoel het nie, Tessa, dis wonderlik! Niemand verdien soveel geld net om toesig te hou nie.”
Tessa skud haar kop. “Luister eers klaar. Omdat jy nie oor die kwalifikasies beskik wat die werkgewer as vereiste stel nie, is hy bereid om jou vir ’n proeftydperk van drie maande aan te stel. As julle daarna nog tevrede is met mekaar en jy nie intussen tou opgegooi het nie, word die pos permanent. Dan sal jou salaris en byvoordele dienooreenkomstig hersien en aangepas word. Daar tree ook ’n persoonlike toelae in werking, maar presies waarvoor en hoeveel dit is, weet ek nie. Indien jy binne die proeftydperk sy diens verlaat, sal alle onkoste soos jou vliegtuigkaartjie en ander uitgawes wat aangegaan is van jou verhaal word. Daar sal ook losies geëis word, teen ’n vasgestelde bedrag soos in jou kontrak uiteengesit. Ons het tot môremiddag tyd vir ’n finale antwoord.”
Tessa aarsel. “Die werkgewer voel net dat jy te jonk is. Hy het eintlik ’n ouer dame in gedagte gehad, maar omdat jy dadelik diens kan aanvaar, is hy bereid om jou ’n kans te gee.”
“Wat het my ouderdom daarmee te doen?” bars Nina los. “Twee-en-dertig is darem ook glad nie meer ’n uilskuiken nie.”
“Dis sy reg om voorwaardes te stel, Nina. Onthou net dat jy in beheer van ’n hele span werkers sal wees, en jy moet oor die nodige outoriteit beskik om dit te kan hanteer. Die vraag is: sien jy kans vir die verantwoordelikhede en die afsondering?”
“Natuurlik. Vir daardie salaris sal ek self die huis skoonmaak en vloere skrop,” verseker Nina haar.
“Gaan dink eers goed daaroor. Onthou, dis ver van alles wat vir jou bekend is, en eensaamheid is ’n wrede metgesel. Dis harde werk, met lang ure, en ek weet nie hoeveel vrye tyd jy gaan hê nie.”
“Ek verstaan,” sê Nina.
“Wel, kom sien my môreoggend sodat ons alles kan finaliseer. Jou reisreëlings moet so gou as moontlik getref word.” Sy kyk af en gaan voort: “Dis seker net reg dat ek jou waarsku dat die werkgewer maar taamlik ... uhm, befoeterd klink. Blykbaar is daar boonop ’n rebelse seun, en die meeste van die werknemers is mans. Dis hoekom hy ’n ouer dame in gedagte gehad het.”
“Dit sal meer as ’n befoeterde baas en sy seun kos om my af te skrik. Ek het hierdie werk broodnodig, en my lewe tot dusver was ook nie met rose besaai nie. Ek sal my nie laat onderkry deur ’n spul mansmense nie. Hulle is in elk geval nie my geliefkoosde spesie nie.”
“Dan is dit goed so. Ek wou net hê dat jy sover as moontlik op alles voorbereid moet wees.”
Nina staan op. Haar oë blink met ’n glinstering van nuwe hoop. “Baie, baie dankie. Dis asof die gode uiteindelik na my kant toe glimlag.”
Tessa se oë is skielik tranerig. Sy maak asof daar iets in haar oog is, vryf liggies daaroor om die glinstering van aangedaanheid te verberg.
“Stadig nou! Onthou, dis nie ’n uitgemaakte saak dat jy wel aangestel gaan word nie. Dit sal ons eers môre weet. Kom ons kyk maar wat gebeur. Tot dan.”
Hierdie keer stap Nina in die helder sonlig uit en haar hart sing ’n lied. Sy was in ’n donker dal van moedeloosheid en skielik is dit helder lig rondom haar. Sy sien sommer kans vir die hele wêreld se sorge.
Maar terug by die huis oorval die twyfel haar. Wat as iets met haar ma gebeur en sy is so ver weg?
Gelukkig is Betsie darem daar. Sy vertrou haar ten volle; sy weet Betsie sal na haar ma omsien asof sy haar eie ma is. Haar ma leef in elk geval in haar eie wêreld en sal seker nie eens weet dat sy weg is nie. Sy doen dit juis om ’n beter toekoms vir hulle al twee te verseker.
Nina vertel opgewonde vir Betsie van die nuutste verwikkelinge, en die ouer vrou luister aandagtig sonder om haar te onderbreek.
“Ek weet hierdie moet vir jou soos ’n antwoord op jou gebede wees, Nina, maar jy moet goed dink alvorens jy jou daarin begewe. Jy was nog altyd soos ’n gevangene in jou huis; jy het nog skaars ’n voet buite hierdie stad gesit. Ons ken nie die werkgewer nie, en dis op ’n ver en godverlate plek, amper aan die ander kant van die land. Jy sal geheel en al aan hulle genade uitgelewer wees. En wat as hulle jou soos ’n slaaf laat werk? Besef jy hoekom ek bekommerd is oor jou?”
“Ek weet, Bets, maar as ek nie hierdie kans aangryp nie, gaan ek altyd ’n gevangene van my omstandighede bly. Ek is net so onseker oor baie dinge, maar het jy vergeet ek sit op straat, en ek weet nie waarheen nie?”
Betsie kyk skuldig weg. “Ek wens ek was in staat om jou te help, maar jy weet self ons het nog ’n huis vol kinders. Is daar geen ander familie tot wie jy jou kan wend nie?”
“Nee. Leon is onterf en die plaas belet ná alles wat hy destyds aangevang het, en ek sal my nooit so verneder om sy familie om hulp te vra nie.” Sy vryf oor die lelike litteken op haar voorkop en haar mooi blou oë is skielik kliphard. “Ek sal dit máák werk, Bets. Ek sal die uitdaging aanvaar en daardie mense gaan wys wat in my steek. En my bombastiese baas moenie dink hy gaan ’n tweede Leon Immelman wees nie!”
Betsie knik. “Ek sien jy het klaar besluit. Moenie oor jou ma bekommerd wees nie. Ek sal na haar omsien asof sy my eie is, dit weet jy.”
“Dankie, Betsie, vir alles wat jy deur die jare vir my gedoen en beteken het. Eendag as ek baie geld gespaar het, gaan ek jou wegneem vir ’n hele naweek. Dis ’n belofte.”
“Ja, toemaar, loop nou voor ek aan die tjank gaan.”
Die volgende oggend toe die deure van die agentskap oopmaak, is Nina die eerste wat binnegaan. Emma neem haar dadelik na mevrou Barnard se kantoor.
“Kom sit, Nina. Ek kan nie wag om te hoor wat jy besluit het nie.”
Tessa kyk afwagtend na Nina.
“Dit was nie veel van ’n besluit nie. Ek het nie ’n keuse nie, ek moet dit aanvaar. As ek die werk kry, kan ek jou verseker dat ek alles in my vermoë sal doen om ’n sukses daarvan te maak.”
“Dis wonderlike nuus. Ek gaan sommer nou die werkgewer skakel sodat ons dit kan finaliseer. Gaan wag solank binne. Ek het nog ’n paar dingetjies waaraan ek eers moet aandag gee.”
Tessa laat nie blyk dat sy eers privaat met die werkgewer wil praat nie. “Kry solank vir jou ’n koppie tee. Terloops, jy het mos gesê dat jy onmiddellik kan begin?”
“Dis reg, daar is niks wat my langer hier hou nie.”
Dit voel vir Nina soos ’n ewigheid totdat Emma haar roep. Tessa is steeds besig op die telefoon en beduie vir haar om te sit. Nina is amper te bang om die finale antwoord te hoor. Sy dink aan al die dinge wat sy vinnig sal moet afhandel indien sy die werk kry.
Tessa sit die gehoorbuis neer en draai na haar. “Baie geluk, Nina, jy is aanvaar vir die pos. Diensaanvaarding moet so gou as moontlik geskied.”
Nina sit vorentoe. Het sy reg hoor? Skielik raak sy paniekbevange. Dis nog nie te laat vir omdraai nie. Wat as ...?
Tessa glimlag gerusstellend. “Ek kan sommer sien jy is nie meer so seker van alles nie, maar moenie nou begin twyfel nie. Ek moes baie hard hiervoor baklei. My onderhandelingsvermoë is tot die uiterste beproef.”
Nina knik bewerig. “Baie dankie, maar ek het nooit daaroor getwyfel nie. Vertel my meer, asseblief.”
“Goed. Jou werkgewer se naam is Charl Beaumont. Hy is die eienaar van een van die bekendste perdestoeterye in die land, en hy is ook baie betrokke by die perdetelersvereniging. Hier is jou kontrak. Lees dit asseblief sorgvuldig deur voordat jy dit onderteken, en vra as daar onsekerhede is. Jou vliegtuigkaartjie is bespreek vir oormôre, so dit gee jou darem ’n dag kans om alles gereed te kry. Hy sal jou op die lughawe ontmoet. Soos ek kan aflei, is dit meer van ’n landgoed as ’n plaas, en hy beoog baie nuwe dinge in die toekoms.”
Tessa bly verbaas stil. “En nou? Hoekom die trane?”
Nina vee dit met die agterkant van haar hand weg. “Aag, sommer van verligting, en omdat ek nie weet hoe om dankie te sê nie. Ek wil hê jy moet weet: sover dit my lojaliteit teenoor my werkgewer aangaan, sal ek jou nie in die steek laat nie.”
“Dankie, Nina, dit beteken ontsettend baie vir my. My maatskappy is nie verniet so hoog aangeskrewe nie. Ek hoop dat jy gelukkig sal wees, en dat ’n hele nuwe toekoms op jou wag. Miskien kan jy eendag vir my ’n e-pos stuur om te sê hoe dit gaan?”
Sy hou ’n koevert na Nina uit. “Hierin is al die tersaaklike inligting, asook my besonderhede. Kontak my gerus as jy enigiets anders benodig, of sommer net wil gesels.”
Nina staan op. “Ek is seker ek sal van die uitnodiging gebruik maak, veral as ek raad soek. Ek is soveel aan jou verskuldig.”
Die telefoon se gelui beëindig die gesprek. Tessa beantwoord dit met haar goed gemoduleerde stem. Die onderhoud is verby.
Terug by die huis kyk Nina oor en oor na die vel papier met haar werkbesonderhede daarop. Haar hande streel en vat daaraan asof sy nie genoeg van die inligting kan kry nie.
Sy kan nie glo dat sy vir die heel eerste keer in haar lewe gaan vlieg nie. Maar wat wag vir haar aan die ander kant? ’n Nuwe lewe, of ’n wrede ontnugtering?
Sy maak die huis van hoek tot kant skoon. Stap vir oulaas deur elke vertrek van die huis waar sy soveel pyn en hartseer verduur het.
Toe sy die oggend van haar vertrek die voordeur finaal agter haar toetrek, weet sy dat hierdie hoofstuk van haar lewe afgesluit is, dat die gordyn finaal daaroor gesak het.