Читать книгу Eiland van vervulling - Elize Mitchell - Страница 3
1
ОглавлениеKarina Greyling vleg deur die druk oggendverkeer en sug. Sy is al só moeg om dag na dag van die een kliënt na die volgende te jaag. Dit maak haar sommer mistroostig. Sy is lankal nie meer gelukkig in haar werk nie, maar totdat iets anders opduik, moet sy vasbyt.
Haar hand vlieg na die toeter toe ’n taxi doodluiters voor haar inswaai en op sy tyd aankruie. Sy hou haar hand daar totdat hy uiteindelik inderhaas wegswenk.
“Dêmmit, jy’s nie al een op die pad nie!”
En nou is daar nog die afspraak met die prokureur wat sy net eenvoudig vandag móét inpas. Sy wonder regtig waaroor dit gaan – dis nou al die derde brief wat sy van hulle kry. Sy voel skuldig dat sy nog nooit eens die moeite gedoen het om te bel en verskoning te maak nie, maar totdat die volgende geleentheid waarvan sy die koördineerder is, verby is, het sy nie ’n oomblik tyd vir haar eie dinge nie. Haar dae is propvol afsprake.
Toevallig is sy egter vandag in hul geweste en kan sy gou by die prokureurs inglip. Maar nou sal sy wéér nie kan middagete neem en by haar geliefkoosde boetiek inloer om ’n rok vir die funksie te kry nie. As daar een ding is wat haar moreel altyd ’n hupstoot gee, is dit om iets nuuts vir haar klerekas te koop.
Karina kyk na die voertuie om haar, en na die stroewe gesigte wat stip voor hulle uitstaar. Liewe hemel, is dit hoe ék ook lyk? dink sy geskok. Die verkeer is ’n nagmerrie en sy ís so siek van die dolle gejaag. Die verkeerslig slaan die soveelste keer oor en sy beweeg nie ’n enkele tree vooruit nie.
Uiteindelik bereik sy die prokureurskantore en moet daar lank bontstaan vir ’n parkeerplek. Ná ’n gesukkel drafstap sy die trappe op en meld by ontvangs aan.
“Goeiemôre, ek is Karina Greyling. Ek het ’n brief ontvang dat julle my wil sien.”
Die ontvangsdame kyk ligweg verbaas op en blaai deur haar afspraakboek. “Karina Greyling … Het u ’n afspraak?”
Karina se moed sak in haar skoene. “Nee, ek het nie gedink dis nodig nie.”
“Ek sien. Het u enige dokumentasie saamgebring?”
“Ja, hier’s die brief,” sê Karina.
Die ontvangsdame se oë gaan vlugtig daaroor. “Ek sien u verwysing is meneer Bart Hanekom. Hy’s nogal besig vandag, maar sit gerus.”
Karina kyk half benoud op haar horlosie. “Is dit regtig nodig dat ek hom persoonlik moet sien? Die verkeer was so erg dat ek reeds laat is vir ’n ander afspraak.” Mens kan net probeer!
’n Glimlaggie pluk aan die ontvangsdame se mondhoeke. “Dit sou beter gewees het as u ook vir hierdie onderhoud ’n afspraak gemaak het,” sê sy, “dan was dit nie nodig om u tyd te mors nie. Meneer Hanekom behoort nog so ’n halfuur besig te wees. Ek sal hoor of hy u daarna kan inpas; so nie sal u ’n afspraak móét maak.”
Karina gaan sit op ’n gemakstoel en blaai futloos deur een van die glanstydskrifte wat netjies daar lê. Sy’s bewus daarvan dat die ontvangsdame haar dophou, geamuseer. Dít ook nog! Nie lank nie of ’n deur gaan agter Karina oop en sy spring verlig op. ’n Aantreklike man stap nader en sy flits haar innemende glimlag na hom. As daar dalk moeilikheid is, moet sy seker haar bes doen om vriendelik te wees.
“Meneer Hanekom, aangename kennis. Ek is bly u kan my sien,” glip sy by die ontvangsdame verby en draai die sjarme wyd oop.
Hy kyk verras na haar, dan na die vrou by ontvangs. “Annelie, ek het nie geweet ek het nog ’n afspraak nie?”
“Jy het nie, Theuns,” keer sy, “die dame is jou pa se kliënt en ons sukkel al geruime tyd om haar hier te kry. Nie waar nie, me Greyling?” sê sy met nadruk.
Karina voel nou sommer baie skuldig. “Ja … wel, ek ís nou hier, ek kan netsowel wag,” gee sy gedwee toe. Maar Annelie antwoord die foon en Theuns Hanekom neem sy kans waar.
“Ek kan altyd vra dat jou lêer na my toe oorgeplaas word, maar dit hang af van hoekom die grootbaas jou persoonlik wil sien. Dit moet ’n gewigtige saak wees,” skerts hy met Karina.
“Me Greyling, meneer Hanekom wag nou vir jou,” steek Annelie ’n stokkie voor Theuns se plan, en stap vooruit. Karina volg haar, maar in die verbygaan glimlag sy met Theuns. Hy kyk haar geïnteresseerd agterna, sy kan dit voel. Sy sou veel eerder met dié mooie man sake wou doen!
“Meneer Hanekom, hier is Karina Greyling eindelik. U onthou mos, ons sukkel al lank om haar hier te kry. Vandag daag sy uit die bloute op, sonder ’n afspraak,” sê Annelie droogweg.
Die gryskopman agter die blink lessenaar kyk op en beskou Karina so intens dat sy ongemaklik raak. Hy staan stadig op en steek sy hand uit. “Aangename kennis, Karina. Sit gerus. Jy gee nie om dat ek jou op jou naam noem nie?”
“Glad nie.”
Bart Hanekom vryf oor sy ken terwyl hy gaan sit, ’n veraf uitdrukking in sy oë. Karina kyk doelbewus vlugtig op haar horlosie, en dan na hom.
“Meneer Hanekom, verskoon tog, maar waaroor moet u met my praat? Ek hoop nie ek het iewers verbrou waarvan ek nie weet nie,” sê sy.
Die ouer man lyk hartseer, begin stadig blaai deur ’n dik lêer wat hy uit ’n laai gehaal het. “Het jy dan geen idee waarom jy hier is nie, Karina?”
“Nie in die minste nie, meneer Hanekom, so ek sal bly wees as ons tot die punt kan kom. Ek het ongelukkig ’n besige skedule vandag.”
“Ek is jammer, vir ’n oomblik was ek weggevoer. Noem my Bart, asseblief.” Hy vryf sy brillense skoon. “Hoekom het jy tot dusver ons skrywes geïgnoreer?” vra hy dan fronsend. “Dis al ons derde brief aan jou.”
Karina skuif ongemaklik rond. “Ek weet, ek’s jammer, maar ek werk aan ’n projek wat regtig al my tyd opvreet. Ek is dikwels in hierdie omgewing en elke keer het ek gedink daar sal tyd wees om hier aan te doen, maar as ek my kom kry, is die dag om.”
“Dis jammer dat jy nie net gebel het nie, dan kon ek jou inlig, hoewel mens nie sulke sake oor die foon bespreek nie. Maar wag, kom ons begin liewer voor.”
“Asseblief – dit sal seker nie lank neem nie?”
“Jy onthou natuurlik jou tante, Katriena Susanna Malan?”
“Ja, my ma se suster.”
Sy raak kriewelrig onder Bart se deurdringende oë.
“Dit lyk my jy het haar nie baie goed geken nie, Karina?”
Die verlede tyd dan? “Nee, nie regtig nie. Al wat ek van haar onthou, is die kere wanneer sy op die plaas kom kuier het en die baie presente wat sy saamgebring het.”
“Wat van haar, Bart?” vra sy bedees toe hy niks sê nie.
“Ek is al vir baie jare haar prokureur en behartig al haar sake. ’n Paar maande gelede het sy my opdrag gegee om jou in die hande te kry, sonder om haar suster in kennis te stel. Sy wou nie uitwei nie, maar het laat blyk dit het iets te doen met jou vyf-en-twintigste verjaardag oor ’n paar maande.”
“Ek was seker sy het nie eens geweet wanneer ek verjaar nie,” sê Karina verbaas.
“Miskien wou sy iets spesiaals reël. Hoe dit ook al sy, ek het haar laat weet dat jy nie op ons briewe reageer nie. Sy het volgehou dat dit dringend is. Wanneer ons van jou hoor, sou sy my vertel waaroor dit gaan.” Hy vryf oor sy voorkop. “Ongelukkig het ek slegte nuus. Sy is verlede week oorlede, Karina.”
Karina trek haar asem skerp in. Sy voel hoe klop haar hart vinniger, en kyk liewer na die groot skildery agter Bart, want – sy verbeel haar seker – dit lyk kompleet of hy haar oor iets verwyt.
“Ag nee! Hoe kon my ma my dan nog nie gesê het nie? Maar met al tant Katriena se gerondritsery, die wêreld oor, kon sy seker nie byhou nie. Sy was soos ’n verlangse familielid, ons het bitter min kontak gehad. As ek geweet het hoe ernstig die rede vir die briewe is, sou ek vroeër gekom het,” sê sy dan sag.
“Natuurlik, nie een van ons het verwag haar tyd sou so kort wees nie. Dis ’n groot jammerte dat haar laaste wens om jou persoonlik te ontmoet nie vervul is nie, maar dis gedane sake.” Sy gevoude hande rus liggies op die dokumente voor hom. “Ek is die eksekuteur van haar boedel, Karina. Jy is jou tante se enigste erfgenaam. Die dag van jou vyf-en-twintigste verjaardag erf jy alles. Ek glo dis hoekom sy so dringend na jou gesoek het. Sy wou jou seker voor dan ontmoet om alles te bespreek.”
Karina se oë is wyd gesper. “Ék haar erfgenaam? Dit moet ’n fout wees, ek het haar beswaarlik geken!” Sy byt op haar lip. “Sy was net … my eksentrieke tante. Ek is vir haar ’n vreemdeling, eintlik, dit kan tog nie wees nie?”
“Wel, so is dit, ek verseker jou. Sy was gewis eksentriek.” Hy maak kruisies op die papier voor hom – soos soentjies onderaan ’n brief, dink Karina. Kon daar iets hier gewees het? Haar tante en die prokureur? “Haar uiterlike en boheemsheid het mense nogal laat dink dat sy anders is.”
Karina voel of sy duisel. “Ek verstaan net nie hoekom ék haar erfgenaam is nie!”
“Jy het haar name, Karina, en sy het ’n besondere sagte plekkie vir jou gehad. Sy het altyd gesê sy kan in haar ingewande voel dat jy haar wilde bloed het.”
Karina se wange gloei rooi. Dis dan seker waar haar moedswillige streep vandaan kom, dink sy skuldig, haar impulsiwiteit om buite die norm te handel, waarmee sy al ’n paar keer haar vingers verbrand het. Haar ma noem dit haar “onblusbare passie vir die lewe”.
“Karina?” roep Bart haar terug uit haar gedagtes.
“Ekskuus,” sê sy onthuts. “Uhm … waaruit bestaan die boedel? Ek glo nie sy het veel gehad nie, met al haar geswerwery.”
“Jou tante het aan jou ’n stewige portefeulje nagelaat, Karina, een wat nie te versmaai is nie. Jy erf onder andere haar gedeelte van ’n eiland by die Seychelle, waarop sy verblyfreg gehad het. Sover ek weet, is daar ook ’n huis.”
Karina sit vorentoe in haar stoel en lag senuweeagtig. “Ag nee, dis seker ’n grap, nè? Mens erf tog nie sommer ’n eiland nie!” Sy sluk hard. “Is dit ’n regte eiland, soos mens op poskaarte sien?”
Bart glimlag. “Ek bedoel presies dit. Sy het ook wonings in ’n paar oorsese lande gehad, en heelwat beleggings, aandele. Jy sal verbaas wees hoe groot hierdie boedel is, Karina. Jy is ’n baie vermoënde jong dame, of sal binnekort een wees.”
“Ek kan dit regtig nie glo nie! Netnou was ek nog so arm soos ’n kerkmuis. Dis te goed om waar te wees.” Karina skud haar kop om van die spinnerakke ontslae te raak. Vanoggend, nou-nou net nog, was sy so opgesukkel met haar gejaagde lewe en veeleisende werk, en nou het alles in ’n oogwink verander! Voor haar sien sy haar tante se mooi oë wat dikwels vol hartseer na haar gekyk het, sodat sy as kind skoon ongemaklik was. Wanneer Karina haar ma daarna gevra het, het sy gesê dis omdat haar suster nie self kinders het nie – en nou gaan staan Katriena en maak haar haar erfgenaam!
Karina sien hoe die prokureur vraend na haar kyk. “Dis amper onmoontlik om aan tant Katriena as ’n ryk oujongnooi te dink,” sê sy oplaas. “As sy dan so vermoënd was, hoekom wou sy so afgesonder lewe?”
“Hoe het ’n mens ooit geweet wat haar beweegredes was? Jou tante het vreeslik baie gereis, totdat sy jare gelede op daardie spesifieke eilandjie verlief geraak het.”
Háár eiland! “Hoe groot is dit?”
“Nie baie groot nie, hoor, en daar’s nie baie inwoners nie, omdat water op die eiland skaars is.”
“En … wat behels die testament nog?”
“Jy sal my weer moet kom sien, Karina. Ek moet dit in detail met jou bespreek. Jou tante stel dit onomwonde dat dit haar wens is dat jy met alles moet voortgaan wat sy op die eiland tot stand gebring het. Daar is ’n klousule wat vereis dat jy eers vir ’n tyd daar moet bly voordat jy finaal besluit of jy kans sien. Nogtans is jy onder geen verpligting nie.”
“En as ek nie daarvoor kans sien nie?”
“Dan verbeur jy jou verblyfreg op die eiland en gaan alles daar na die plaaslike stam. Die res van die boedel word egter nie geaffekteer nie.”
“Wat het sy dan daar gedoen? Sover ek weet, is sy as apteker opgelei.”
“Blykbaar was daar verskeie projekte, maar ek het nie al die besonderhede nie, dít sal jy daar uitvind.” Bart vroetel deur die lêers voor hom. “O ja, daar is nog iets.”
“Ja?” vra Karina versigtig.
“Daar is iemand, ’n Westerling, wat in die laaste tyd by Katriena gebly het. Hy was siek, en sy het hom behandel. Dis juis hy wat my van haar afsterwe laat weet het.”
Karina word sommer oombliklik wrewelig. Sy het gedínk daar sal iewers ’n vlieg in die salf wees! In haar gedagtes sien sy net die spierwit strande en asuurblou see – daar is definitief nie plek vir kranklikes nie.
“Maar … ek is baie jammer as hy siek is, maar hy het tog seker familie na wie hy kan gaan?”
“Dit weet ek nie, maar dit klink asof daar ’n hegte band tussen hom en jou tante was. Hy was aan die herstel, maar nog glad nie gesond nie. Niemand kon natuurlik raai dat haar einde so naby is nie.”
“Erf ek hom nou saam met die eiland?” vra sy skepties.
Bart lag. “Natuurlik nie! Dalk is hy selfs al weg as jy daar aankom.”
“Beteken dit ek moet aan hom verslag doen?”
“Ek glo nie dis wat sy in gedagte gehad het nie, Karina,” sê Bart paaiend, “maar dink net van hoeveel nut hy kan wees. Niemand beter om jou touwys te maak nie.”
“Miskien,” gee sy suur toe. “Dit het alles so idillies geklink, maar ek wil nie die verantwoordelikheid van ’n sieklike ou man op my neem nie.” Sy druk ’n krul agter haar oor in; sy weet sy maak altyd so as opstandigheid in haar aan die oplaai is. “Dit bederf sommer die hele avontuur.”
Die telefoon lui en Bart kyk op sy horlosie terwyl hy luister. “Goed, Annelie, ons is amper klaar.” Hy maak die lêer toe. “My volgende kliënt wag ongelukkig. Hoekom gaan kuier jy nie eers vir ’n week of twee en kry ’n gevoel vir die plek nie? Sien dit as ’n salige vakansie, neem iemand saam. Dalk jou ma?”
“Dit klink wonderlik, maar ek het nie genoeg geld vir so iets nie. Ek maak dit skaars na die einde van die maand toe,” lag sy verleë.
“Ek sê mos, jou tante het jou beter geken as wat jy dink. Daar is ’n trust met voldoende fondse om in al jou behoeftes te voorsien, vir ’n onbepaalde tyd.”
Sy lag liggelowig. “Dit lyk my tant Katriena was nie so eksentriek soos ons gedink het nie. Sy het dan vir alles voorsiening gemaak.”
“Presies. Kan ek Annelie vra om solank die nodige inligting te kry?”
“Dit sal baie help, dankie.”
“Gaan geniet dit. Jy is dalk baie aangenaam verras as jy eers daar is. Daarna kan jy finaal besluit.”
“Baie dankie, Bart. Hoe vinnig moet jy ’n antwoord hê?”
“Hoe gouer, hoe beter, dan kan die boedel afgehandel word.” Hy staan op en druk haar hand innig. “Ek wens ons het meer tyd gehad, maar ek moet ongelukkig gaan. Ek is bly ons het ontmoet, Karina, en onthou tog om ’n opvolgafspraak te maak.”
Karina huppel byna by sy kantoor uit en wil sommer die groot nuus aan die koerantverkoper in die straat uitblaker. Sy voel kompleet soos ’n Rockefeller-erfgenaam!