Читать книгу Eiland van vervulling - Elize Mitchell - Страница 4
2
ОглавлениеToe Karina eindelik haar woonstelvoordeur agter haar toemaak, sug sy verlig. Net eers koffie in haar lyf kry, dink sy terwyl sy tam die ketel aanskakel. Daarna krul sy haar op in haar geliefkoosde leunstoel en neem klein teugies koffie terwyl sy elke stukkie van die wonderlike nuus oor en oor deurdink. Sy is die erfgenaam van ’n eiland! Miskien kan sy selfs haar werk bedank! Stadig, Karina, maan sy haarself dan, die boedel is sekerlik nie so groot dat sy soos ’n celeb heeldag op die strand of in die winkels kan rondlê nie. Het sy nie dalk die prokureur verkeerd verstaan nie?
En wat die vreemdste is, hoekom het haar ma haar nie laat weet van Katriena se dood nie? Sy moet haar ma sommer nóú bel, dink sy, en staan op. Die telefoon lui lank en net toe sy dink haar ouers is nie tuis nie, antwoord haar ma. Karina glimlag vir haar uitasem-stem.
“Hallo, Mams, seker weer in die tuin gewerskaf?” vra sy gewoonweg, om eers die nuus ’n bietjie te vertroetel. “Gaan dit goed daar?”
Daar is ’n stiltetjie en dan haar ma se bekommerde stem. “Karina? Hoekom bel jy in die middel van die week? Is iets verkeerd?”
Karina glimlag. Haar ouers kan so gou op hol raak. Net omdat sy gewoonlik naweke bel, neem haar ma sommer aan daar moet fout wees. Maar hoekom sê haar ma steeds niks oor Katriena nie?
“Nee, Mamma, bedaar. Ek het wonderlike nuus. Maar het Ma niks om my te vertel nie?”
“Jy’s verlief of jy wil geld leen,” sug haar ma verlig. “Dis al rede hoekom jy nou skielik bel.” Sy ignoreer skynbaar Karina se vraag.
“Verkeerd geraai, dis groter nuus.”
“Praat, Karina, jy maak my bang. Met jou weet mens nooit wat om te verwag nie.”
“Sê my eers, Mams, hoekom het niemand my dan vertel dat tant Katriena oorlede is nie? Mamma het tog … o gats, Mamma hét geweet daarvan?”
Sy hoor hoe haar ma haar asem intrek. “Ja, maar ek het ook maar pas daarvan gehoor. Ek het ’n paar maal probeer bel, maar dis so moeilik om jou in die hande te kry, jy weet mos ek haat selfone. Hoe weet jy tog daarvan, kind?”
“Omdat ’n prokureur my vandag vertel het. Blykbaar het sy al vir ’n lang tyd na my gesoek, maar sy’t nie vir julle gevra nie, ek weet nie hoekom nie. En weet Ma wat? Ek is haar erfgenaam!” blaker sy dit uit en skaterlag dan van opgekropte lekkerkry. “Sy het al haar besittings aan my nagelaat. Wat sê Ma daarvan?” giggel sy opgewonde. “Ek is skatryk, Mams sal nóóit raai wat ek alles erf nie.”
Sy wag vir ’n opgewonde reaksie, maar dis doodstil op die lyn. “Mamma? Is jy nog daar?”
“Ja, Karina.”
Hoekom klink haar ma dan so afgehaal? “Is Ma nie eens ’n bietjie bly vir my nie?”
“Natuurlik is ek, my kind. Wat het die prokureur gesê?”
“Dat ek ook haar verblyfreg op ’n eiland erf, waar sy gebly het. Ons kan almal daar gaan vakansie hou! Het Ma geweet daarvan?”
“Ja, maar sy het nooit baie oor haar privaat lewe gepraat nie. In die laaste tyd was dit asof sy haar nog meer onttrek het en ons het min gepraat. Ek het gedink dis hoe sy dit verkies.”
Karina hoor hoe haar ma sug en sy voel skuldig dat sy so uit haar vel wil bars. Hulle was immers susters.
“Wat gebeur nou, Karina?”
“Ek moet so gou moontlik besluit of ek dit aanvaar, anders verbeur ek alle regte daar en gaan dit na die eilandbewoners toe. Maar nie die res van die boedel nie. Ek wou juis hoor – ek wil vir so twee weke gaan kyk hoe dit daar lyk, waarmee tant Katriena alles doenig was. Dink Ma dis die regte ding?”
Hoekom is haar ma skielik so terughoudend, sonder die opwinding wat sy verwag het om te hoor?
“Ja, Karina, jy moet gaan. Dis die regte ding.” Daar is ’n snik in haar ma se stem.
“Huil Mamma? Ek weet sy was Mamma se suster, maar julle het mekaar so min gesien. Ek is jammer, Mamma.”
Haar ma blaas haar neus. “Ja, sy was maar ’n alleenmens. Ons het mekaar hopeloos te min gesien. Sien ons jou voordat jy gaan?”
“Ek glo nie. Ek wil so gou as moontlik daar kom en hier is hope goed wat ek eers moet afhandel. Wil Mamma nie saamkom nie?”
“Ai, nie nou met die parsery nie, kind. Ek kan Pa nie alleen los nie. Wie anders het jy in gedagte?”
“Hopelik Liesl, maar sy weet nog van niks. Wanneer ek terug is, kom ek kuier en dan gesels ons ’n week lank aanmekaar, Mams! Dink net al die nuus wat ek sal hê.”
“Dis goed so, ons gaan baie hê om oor te praat. Belowe my, Karina?”
“Natuurlik, Mams! Ek mis julle al klaar. Sê liefde vir Pappa.”
“Pas jou op, my kind.”
Karina sit die foon neer en frons, haar geesdrif effens gedemp. Sy moet meer gaan kuier, haar ma klink glad nie lekker nie.
Liesl kom met ’n groot lawaai in en gooi haar handsak dat dit daar trek.
“Hoe ek nog nie ’n aar gebars het met ou Jeremia se ewige gekla nie, weet ek nie. Eendag is eendag, dan …” Liesl se gesig is die ene ergernis. “Jy luister nie eens nie.”
Karina neem inderdaad skaars notisie. Sy ken teen hierdie tyd Liesl se tirades oor Jeremia se klaery, soos sy bynaam aandui.
Karina spring op en begin met uitgestrekte arms en rollende heupe soos ’n wafferse Hawaise meisie ronddans. Liesl staar haar aan asof sy die kluts heeltemal kwyt is.
“Jy sal nooit raai wat vandag met my gebeur het nie, Liesl! Ek is skatryk! Is jy nie lus om saam met my op ’n tropiese eiland te gaan kuier nie?”
Liesl is nog besig om ’n skoen uit te trek, maar begin opgewonde op die ander voet trippel. “Is jy ernstig? Het jy uiteindelik geld op die Lotto gewen?” Haar opgewondenheid droog vinnig op toe iets anders haar byval en sy frons. “Sê my eers, wat was die storie met die prokureurs? Ek worry al heeldag oor jou.”
“Om my te vertel van die testament, dis hoekom hulle so dringend na my gesoek het! Ek het ’n stuk van ’n eiland geërf, Liesl, met ’n huis daarop en mense en ’n trustfonds om aan die gang te kom!” borrel die sappige nuus uit. Karina sien met genot hoe Liesl se omgekrapte uitdrukking verander na een van ongeloof.
“Nou is jy heeltemal van jou trollie af. Weer een van jou onmoontlike dagdrome, Karina?” vra Liesl gelate.
Karina bars uit van die lag. “As jy nie ophou frons nie, sal jy kort voor lank ’n botox-inspuiting moet kry om daai onooglike vou tussen jou oë op te pof. Ek brand om te vertel, maar die ketel het gekook, maak eers vir jou koffie.”
Liesl lyk besluiteloos. “As ek my nie soos ’n moederhen oor jou ontferm en jou in toom hou nie, weet ek nooit wat jy alles aanvang nie.”
“Moenie jok nie. Ek is net partykeer bietjie impulsief.”
“Presies,” sê Liesl kwaai, “dis die regte woord.”
’n Minuut later kom Liesl oorkant Karina sit met haar koffie. Sy maak haar eers gemaklik, kyk dan nuuskierig na Karina.
“Toe, vertel, maar praat die waarheid. Partykeer hol jou verbeelding heeltemal met jou weg.”
“Tant Katriena, die tante na wie ek genoem is, is onlangs dood, hoor ek vandag, en het haar hele boedel aan my bemaak. Dis blykbaar ’n groot erfenis, en onder andere het sy verblyfreg op ’n eiland by die Seychelle gehad, met ’n huis daarop, en dis ook myne!”
“Sommer net so?” Liesl se oë trek skrefies. “Ek weet jou werk frustreer jou, maar het dit jou nou sommer kens gemaak voor jou tyd?”
Karina lag lekker. “Nee man, hierdie een is rêrig! Al vereiste is dat ek moet aangaan met die werk waarmee sy daar besig was, daarom moet ek soontoe gaan om te sien wat dit is en of ek daarvoor kans sien.” Sy gooi haar hande uitbundig in die lug. “Hoe moeilik kan dit nou wees, Liesl? Ek soek ’n maatjie om saam te gaan om te sien hoe dit daar lyk. Is jy lus vir ’n vakansie?”
Liesl sit met mening vorentoe. “Jy vra nog? As dit waar is, kan dit nie op ’n beter tyd gekom het nie. Maar wat gaan jou ouers sê?”
“Ek het netnou met Mamma gepraat en sy is natuurlik hartseer, dit was haar suster, maar sy is heel inskiklik. Sy stem saam dis wat ek moet doen.”
“As jy ernstig is, sit ek môre verlof in! Wanneer wil jy gaan?”
“So gou as moontlik. Dink net aan die oulike ouens met bruingebrande lywe in stywe Speedo’s wat dalk daar vir ons wag, Liesl,” antwoord Karina droomverlore.
“Karina, ek weet jy is nou in die sewende hemel, maar het jy goed oor alles gedink? Wat van die funksie waaraan jy so hard werk? Jy kan nie bekostig om onverantwoordelik te wees net omdat jy ’n wendy-huis op ’n eiland geërf het nie,” sê Liesl, immer nugter.
Karina se glimlag sypel weg. “Is dit nou nodig om my so hard terug te bring aarde toe, Liesl? Maar jy’s reg, soos altyd. Ek sal eers moet sien wat in my dagboek aangaan, ek kan nie alles net so los nie. Dalk is die eiland-ding ’n hele ontnugtering en dan moet ek darem nog ’n werk hê om na toe terug te kom.” Vir die eerste keer begin sy werklik twyfel. “Dink jy ek doen die regte ding, Liesl? Sê nou dis ’n spul barbare en ons is twee weerlose meisies met niemand om ons te beskerm nie?”
“Hoe het jou tante dan vir soveel jaar veilig daar gewoon?”
“Sy was van ’n ander stoffasie aanmekaargesit, amper ’n soort Voortrekkertannie. Sy het van uitdagings en goed gehou.”
Liesl staan op om haar beker kombuis toe te vat, en staan hande op die heupe na Karina en kyk. “En jy sit daar met jou vroom gesiggie en probeer my wysmaak dat jy nie nét so avontuurlustig soos sy is nie? Ek bly al te lank saam met jou, Karina, ek ken jou beter as wat jy dink.”
“Dankie tog, Liesl, dat jy so ’n praktiese mens is. Op die oomblik sien ek net wit strande en palmbome. Ek weet jy kyk verby dit en sal seker maak van alles wat belangrik is.”
“Ja, ek wil eers seker maak van ’n paar goed. Aangesien jy daarheen móét gaan, moet ons in elk geval solank inligting bymekaarkry.”
“Fantasties, dan gaan ons! Kyk hoe dit by jou werk lyk, en ek moet ten minste eers die funksie agter die rug kry, dan kan ons op ’n datum besluit. Ek sal die prokureur solank laat weet ek gaan.”
“Hoeveel verlof? Ek het net omtrent twee weke.”
“Dis genoeg vir eers. Ek gaan al my verlof neem ingeval ek langer moet bly. Ek wil my nie halsoorkop in ’n ding begewe nie. Die kat goed uit die boom kyk.”
Sy gryp Liesl om haar lyf en draai verspot in die rondte. “Ons twee gaan die jol van ons lewe hê!”