Читать книгу Eiland van vervulling - Elize Mitchell - Страница 5
3
ОглавлениеVandat Katriena dood is, is dit asof ’n gees van verslaenheid oor die eiland en sy mense toegesak het. Niemand kan glo dat die bleekvrou, die een met die helende kragte, soos hulle haar gedoop het, vir ewig weg is nie. Sy was nie net die Mirami-stam se hoëpriesteres nie, maar in hul oë onsterflik. Niemand weet wat nou gaan gebeur nie, want sý was die een wat vooruitgang en voorspoed na die eiland gebring het.
Ook vir Arno Rosseau, die man wat sterwend op Katriena se voorstoep afgelaai is, is dit steeds onwerklik. Dit voel asof hy enige oomblik haar borrelende laggie sal hoor wanneer een van die kinders vir haar ’n kleidiertjie bring omdat sy sy seerkry beter gemaak het.
Sy gedagtes vat vanself koers. Hy kan steeds nie glo sy het ’n hartkwaal gehad nie. Eers met die nadoodse ondersoek het hulle ontdek hoe verswak haar hart was. Vir die soveelste maal tob hy oor hoekom sy niemand van haar toestand vertel het nie, maar vir die trotse Katriena Malan was dit ondenkbaar om ander met haar probleme op te saal. Haar vurige geaardheid sou nooit so ’n swakheid duld nie.
Nou ná haar begrafnis werk Arno soos ’n besetene aan die patio wat hy belowe het om vir haar te bou. Dis asof iets hom jaag om as laaste eerbetoon haar wense uit te voer. Hy kyk om hom rond en kap ’n spyker vas wat effens uitsteek. Katriena sou trots op hom gewees het, dink hy aangedaan, net jammer sy sal dit nooit sien nie.
Hy draai verras om toe Zeena, haar jare lange huishoudster, hier agter hom begin praat asof Katriena oorkant haar in die skommelstoel sit.
“Ai Katriena, die stoep is mooi, soos jy dit wou sien. Hoekom is jy so gou weg? Hoekom wag die voorvaders nie nog so bietjie voor hulle jou kom haal nie?” gesels Zeena met haarself. “Hulle het mos geweet jy’t nog werk hierso.”
Arno luister treurig, maar geamuseer na Zeena se praatjies. “Amper dink ek sy is terug, Zeena. Ek is bly jy hou van die patio,” sê hy tevrede.
Dis lekker om te hoor hoe Zeena sy taal praat, so op haar eenvoudige manier. Vir iemand wat haar nie ken nie, klink haar sinne snaakserig, omdat haar tongval swaar dra aan die Franse aksent. Buiten die eilandbewoners se eie taal, en ’n bietjie Engels, is dit die taal wat hulle tydens die Franse besetting aangeleer het. Katriena het gesorg dat Zeena en haar man ook Afrikaans leer praat, en Zeena kom goed reg.
Arno pak sy gereedskap sorgvuldig weg en kyk of hy nie iets laat rondlê het nie.
“Drink iets,” nooi Zeena, en skink ’n glas vol vars vrugtesap.
“Dankie, dit sal lekker wees.” Hy drink dorstig terwyl hy ingedagte na haar sit en kyk.
“Hoe lank is dit al dat jy hier by Katriena woon?”
Sy vou haar hande plegtig en haar bruin oë word vogtig. “Baie jare. Ons hoofman, hy gee haar die deel van die eiland, toe hy sê vir my en Pierre om saam met haar te loop. Vir ons mense, die hoëpriesteres se grond is interdite, hulle bly hier weg.” Sy vee ’n druppel van die glas af. “Ek was lief vir haar. Sy leer my so baie goed, oor ons mense, oor alles wat sy hier wil doen. Nou alles is verby. Soos die son sink in die see, so vinnig sy’s weg.” Sy ruk haar reg. “Hoe gaan jou siekte, Arno? Drink jy jou medisyne?”
Hy lag verleë. “Nou klink jy soos sy. Party dae is ek ekstra moeg, maar dis seker die klimaat. Die laaste van die medisyne wat sy gemaak het, is lankal op, en daar is nie nog nie.”
Zeena se gesig is strak. “Ek onthou die dag toe jy kom hier. As Katriena Malan jou nie gedokter het nie … Nou jy’s amper reg, voor die voorvaarders weggevat met haar medisyne.”
“Ek weet alte goed dat ek my lewe aan haar te danke het, Zeena.”
“Moenie bekommer nie, Zeena sal sorg jy bly gesond,” sê sy beslis. “Ons nie alleen hier los nie.”
Sy oë is troebel. “As dit maar so maklik was, Zeena,” antwoord hy afgetrokke. “As ek weer siek word, sal dit dié keer nie so goed gaan nie.”
“Pourqoui … Hoekom?” As sy skielik iets wil sê, glip Zeena se Frans dikwels deur die ietwat moeisame Afrikaans.
“Omdat daar niemand is wat die medisyne kan maak soos sy nie.” Hy skink nog sap. “Net sy het geweet wat om te doen.”
“Ek vra mooi, jy moet nie ook loop agterna nie.” Zeena se oë is groot van bekommernis. “Hoe maak ons sonder haar, Arno? Sy het slim kop.”
“Ons sal móét, Zeena, daar’s niks anders wat ons kan doen nie. Kan jy dink wat gaan gebeur as ons al haar werkery tot niet laat gaan? Nee, ek wil my nie vasloop in haar gees hier op die strand op ’n maanlignag nie. Jy weet mos hoe vinnig haar humeur opgevlam het,” probeer hy sy eie onsekerheid wegsteek. “As ek net geweet het, sou ek haar soos goud opgepas het,” verwyt hy homself.
Zeena skud haar kop. “Sy hou dit binne-in hart, hoe is die woord … geheim.” Iets anders hinder haar. “En wat van die een wat haar plek moet vat? Wanneer sy kom hier?” vra sy benoud.
Daar trek ’n skaduwee oor Arno se gesig. “Ek wag nog om van die prokureur te hoor, maar dit sal nie meer lank wees nie.”
Zeena lyk baie ongemaklik. “Ek bekommer, Arno, wat as sy is … nie reg nie. Mense kom van groot lande, soek groot huise.”
Arno het sy eie bedenkinge, maar probeer haar gerusstel. “Dalk is dit nie so erg nie, Zeena, sy is darem Katriena se eie susterskind. Miskien is sy net so plat op die aarde en glad nie vol fieterjasies nie.”
“Of ’n regte madame. Ek was baie op die groot eiland, die mense lyk soos film stars.”
Arno lag. “Wel, ons sal maar moet wag en sien, nè.”
“Jy belowe jy is hier as sy kom, Arno?” dring sy aan.
“Ek glo nie, Zeena. Van die manne gaan môre na die oorkant van die eiland om aan die houthuise te werk en het gevra ek moet help. Een van die dae is die groot reëns hier, en as die dakke nie minstens op is nie, gaan ons baie skade hê.”
“Nou ek sit met die vrou. Hoe lank jy gaan weg wees?” vra sy kwaai.
“Ek weet nie. Dit sal lekker wees om bietjie weg te kom.”
Zeena tuur bekommerd oor die see asof sy iets in die dieptes kan lees. “Die reëns is laat, as dit kom, daar’s baie water. Die maan is rond, die water maak riviere see toe. C’est un mauvais temps,” skud sy doemprofeetagtig haar kop.
“Dis waarvoor ons moet keer.” Hy tel sy gereedskap op. “Moenie jou nou al bekommer oor die meisie nie. Jy sal regkom, en Pierre is mos hier om te help.”
“Ja, loop weg,” mor sy, “niemand bekommer oor my nie.”
Sy gaan die huis brom-brom binne en Arno glimlag agter haar rug. Hy sien regtig nie kans vir besoekers nie. Hy wonder of die kamstige erfgenaam van hom weet, en hoe lank dit sal wees voordat sy besluit hy is nie deel van haar erflating nie. Sy oë rus op die blouselblou see en die verlange na Katriena se teenwoordigheid word ’n fisieke pyn. Sy skouers hang terwyl hy aanstryk kliniek toe.