Читать книгу Die Daniël-vas vir geestelike oorwinning - Elmer L. Towns - Страница 13
Оглавление6
Wat is die hoofdoel van die Daniël-vas?
Wanneer jy met die Daniël-vas begin, is dit maklik om net te fokus op die kos wat jy opoffer of die aktiwiteite wat jy prysgee. Dit is maklik om jou oë te rig op wat jy jou ontsê, en nie op die doelwit waarvoor jy vas nie. Onthou, God is nie beïndruk omdat jy heeltemal opgehou eet het of omdat jy opgehou het om sekere kossoorte te eet nie, selfs al doen jy dit ter wille van jou gesondheid. God is nie beïndruk met die uiterlike dade van jou vas nie. Die geheim van enige vas is nie wat jy uit jou maag hou nie, dis wat uit jou hart voortvloei. God stel hoofsaaklik in jou innerlike menswees belang, nie in jou uiterlike liggaam nie.
Jesus het die geestelike energie beskryf wat ons nodig het om geestelike hindernisse af te breek: “Maar hierdie goed kan net deur gebed en vas uitgedryf word” (Matt 17:20); daarom moet jy jou geheel en al aan gebed én vas toewy. Die verbintenis van jou uiterlike liggaam tot die vas is ’n weerspieëling van jou innerlike verbintenis tot gebed. Let ook op dat die frase “gebed en vas” in hierdie konteks op ’n voortgesette aksie dui. Dit beteken jy behoort meer as een keer te bid en te vas of dit ’n deurlopende dissipline te maak. Tydens jou Daniël-vas sal jou besluite oor wat jy eet of wat jy prysgee ’n groter invloed op jou gebedslewe hê as die meeste ander geestelike dissiplines. As jy ligtelik met die Daniël-vas omgaan, sal jy waarskynlik nie erns maak met jou toewyding aan gebed nie.
Die basiese beginsel van dissipelskap is nie ontkenning of selfdissipline nie, dis om Jesus Christus te volg. Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg” (Luk 9:23). Dit beteken jy moet na die Here draai en Hom eerste stel in jou lewe, en ook wegdraai van enigiets wat jou keer om Hom te volg.
Daar is drie woorde of frases in hierdie vers wat jou Daniël-vas behoort te beïnvloed. Die eerste woord is “verloën”. Dit beteken jy behoort ontslae te raak van enigiets wat jou verhouding met Christus benadeel. Klim van die troon in jou hart af, en laat Jesus daar sit en beheer wat jy eet en drink. Die tweede frase is “elke dag”. Om Jesus te volg vra ’n 24/7-verbintenis. Jou Daniël-vas vereis daarom ’n gelofte om 10 of 21 dae lank te vas, sowel as voortdurende gebed. Die derde woord is “volg”. Jesus het gevas om Hom vir sy geestelike werk voor te berei, en jy moet sy voorbeeld volg met ’n Daniël-vas vir jou geestelike gelofte.
My gebedstyd
Here, tydens my Daniël-vas sal ek myself genot ontsê sodat ek u wil vir my lewe kan soek. Dit is vir my ’n voorreg om lekker kos tot u eer prys te gee en as ’n teken van my verbintenis tot getroue gebed.
Here, ek het ’n gelofte aan U gemaak dat ek 10 of 21 dae lank getrou sal vas en bid.
Here, gee my die selfdissipline om my gelofte om te vas na te kom, en gee my die vasbeslotenheid om getrou te bid in my soeke na ’n antwoord.
Amen.