Читать книгу Die Daniël-vas vir geestelike oorwinning - Elmer L. Towns - Страница 8
Оглавление1
Wat is vas?
Hulle het vir my gesê niemand het die afgelope 100 jaar ’n topverkoper oor die dissipline van vas geskryf nie. Nadat ek in 1996 my boek Fasting for Spiritual Breakthrough geskryf het, wou ek dus terugvoering hê. Ek stuur toe ’n eksemplaar van die getikte manuskrip vir Ron Phillips, leraar van Abba’s House in Chattanooga in die deelstaat Tennessee. ’n Paar dae later het ek ’n vreemde telefoonoproep ontvang.
“Jy is so skelm,” het die stem aan die ander kant gesê.
“Wie noem my skelm?” wou ek weet.
“Dis Ron Phillips wat praat,” het die man laggend gesê. Ron is my vriend, en ek was al twee of drie keer by sy gemeente om Sondagskool-ontwikkelingskampe aan te bied. “Ek is by ’n konferensie van die Suidelike Baptiste-kerk,” het hy gesê en toe sy grappende opmerking verduidelik. “Ek is veronderstel om vergaderings by te woon, te stem en met my vriende in die gange te staan en gesels. Maar nou sit ek in hierdie hotelkamer vasgenael op my stoel en lees jou boeiende boek. Dit is so goed, dit sal my lewe verander.”
Voordat ons die gesprek beëindig het, het Ron my oortuig om in sy gemeente ’n Saterdag-seminaar oor die beginsels van vas aan te bied. Ons het ’n datum gekies en hy het die uitnodigings uitgestuur. Hy het verwag 800 mense sou dit bywoon, maar net 157 het opgedaag. Die rede vir die swak bywoning was dat Ron hulle gevra het om daardie dag te kom vas. Baie mense was te bang om te kom omdat hulle nie geweet het hoe om te vas nie, of omdat hulle nie verstaan het wat God vir hulle kon doen as hulle vas nie. Dit het my oortuig dat daar meer oor die dissipline van vas geskryf behoort te word, of dit nou ’n topverkoper sou wees of nie.
Nou kan jy wel vra: Wat beteken dit om te vas?
Vas:
Om jouself kos te ontsê, of om jouself tot ’n karige dieet te beperk, hetsy as ’n godsdienstige gebruik of as ’n seremoniële uitdrukking van rou smart; om sonder kos te bly; ook (kontekstueel) om niks te drink nie; om ’n tyd lank te vas; om (’n dag, ens.) as ’n tyd van onthouding te onderhou of te vier.
God het die mens se liggaam só geskep dat dit kos nodig het om te funksioneer. Om seker te maak die liggaam kry genoeg brandstof, het God in ons ’n aptyt vir kos geskep. Ons noem dit “honger”. Om te eet bevredig ons aptyt en gee ons die krag vir die take en aktiwiteite wat ons gedurende die dag moet voltooi. Hoekom sou iemand dan kies om te vas – om vir ’n bepaalde tydperk nie te eet nie?
Vanuit God se perspektief is die rede eintlik eenvoudig. Ons vas om ’n geestelike doelwit te bereik. In die Ou Testament het die Israeliete die opdrag ontvang om een keer per jaar te vas: “Julle moet dit as ’n vaste instelling handhaaf dat julle almal … moet vas en alle werk moet staak op die tiende dag van die sewende maand” (Lev 16:29). Hierdie vas het op die Groot Versoendag (Jom Kippoer) plaasgevind. Op dié dag het die hoëpriester spesiale offers gebring om versoening vir die volk se sonde te doen. Tydens die ritueel het die hoëpriester by die Allerheiligste in die kern van die tempel ingegaan. Dit was die enigste tyd van die jaar dat hy daar toegelaat is. God wou hê sy volk moet op hierdie dag vas sodat hulle die ervaring van hul verlossing kon onthou. Almal het gevas om hulle te vereenselwig met die hoëpriester wat ’n lam vir die vergifnis van hul sonde geoffer het.
Vandag leef ons as Christene onder die genade van God. Daar word nie meer van ons verwag om te vas nie. Jesus sê egter baie duidelik in Matteus 6:16 dat ons om sekere redes toegelaat word om te vas: “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.” En in Matteus 9:15 sê Hy: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.” Ons sien ook dat die apostels in die vroeë kerk vir ’n geestelike doel gevas het: “Toe hulle op ’n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.’ Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan” (Hand 13:2-3).
Baie mense wat nog nooit gevas het nie, raak gespanne wanneer hulle daaraan dink dat hulle nie mag eet nie. Hulle wonder of hulle baie honger gaan word, en of die hongerpyne dit vir hulle te moeilik sal maak om met die vas te volhard. Hulle verwag dit gaan ’n onaangename ervaring wees. Dit was waarskynlik wat die lidmate van die Sentrale Baptiste-kerk gedink het toe Ron hulle vra om daardie dag te kom vas. Hou egter in gedagte dat vas nie pynliker sal wees as om op ’n dieet te gaan om gewig te verloor nie. Dit sal jou ook nie skade berokken nie. Eintlik is daar studies wat toon vas is goed vir jou liggaam omdat dit die liggaam help om van gifstowwe ontslae te raak.
Die doel van vas is nie om jou godsdienstige toewyding aan God uiterlik aan almal te vertoon nie, maar eerder om ’n persoonlike verbintenis tussen jou en God te vestig. Dit is nie altyd maklik nie. Soos met enige ander geestelike dissipline sal jy ongetwyfeld weerstand en teenstand ervaar. Begin daarom jou Daniël-vas – of enige ander vas wat jy onderneem – met ’n volledige begrip van wat jy doen. Jy moet ook weet: Al is die pad moeilik, sal die beloning wonderlik wees.1
My gebedstyd
Here, ek bid dat U my sal lei wanneer ek met hierdie vas begin.
Amen.