Читать книгу Die Daniël-vas vir geestelike oorwinning - Elmer L. Towns - Страница 5
Voorwoord
ОглавлениеDie impak van ’n Daniël-vas
In die eerste drie weke van Januarie 1998 het ons as gemeente met ons Daniël-vas begin. Ons het ’n hele paar jaar vroeër reeds met hierdie dissipline begin en ’n kringloop van seën en vermenigvuldiging in ons kleingroepe beleef.
Op die vyftiende dag van hierdie vas het ek en my vrou Baton Rouge verlaat en in die pad geval na San Antonio, waar ons mense sou bedien. Toe ons om die draai kom van waar die goewerneur se herehuis duidelik sigbaar was, het ek in my geestesoog gesien hoe ’n wind die deur oopwaai (’n beeld hiervan het vlugtig deur my gedagtes geflits terwyl ek na die herehuis gekyk het). Ek het vir Melanie, my vrou, gesê: “Ek glo God gaan ’n deur na die goewerneur se huis oopmaak sodat ons daar kan gaan Bybelstudie hou.”
Op die een en twintigste dag van die vas het ons San Antonio verlaat en na Baton Rouge teruggekeer. Dáár, op my lessenaar, was ’n nota dat die goewerneur se sekretaresse my gebel het. Toe ek haar terugbel, sê sy die goewerneur het ’n week vroeër op sy trapmeul geoefen terwyl hy na een van my 90 sekondes lange programme gekyk het. Ek het daardie program jare lank vir ’n plaaslike stasie behartig. ’n Stem in die goewerneur het vir hom gesê: “Bel hierdie man en vra hom om jou die hele Bybel in vier sessies te kom leer.”
Hierdie uitnodiging was besonder spesiaal omdat ek nog nooit die goewerneur ontmoet het nie. Op die vasgestelde dag het hy en 15 van sy toppersoneellede vir die geleentheid bymekaargekom. Ek het hulle vier lesse uit die Bybel geleer: “die skepping”, “die uitverkore volk”, “Christus” en “die kerk”.
Aan die einde van daardie maand het die goewerneur gevra ek moet asseblief met hierdie Bybelstudies voortgaan. Ons het vir die res van sy termyn bymekaargekom, en ook vir die vier jaar van sy tweede termyn. Ek kon dikwels saam met hierdie groep bid vir wonderwerke wat orkane weggekeer, droogte in die staat verbreek en die goewerneur groot guns laat wen het. Voor sy aftrede in 2004 was hy die gewildste goewerneur wat ons staat in jare gehad het.
Ek is oortuig hierdie deur het danksy die magtige krag van gebed en vas vir ons oopgegaan. Terwyl Daniël gebid en gevas het, het God deure na die hoogste vlakke van die regering vir hom oopgemaak. Nadat Paulus in Antiogië gevas het (Hand 13), het God die deur na die hoogste amptenaar op Siprus, Sergius Paulus, vir hom oopgemaak. Net die krag van ’n Daniël-vas kan ’n deurbraak in ’n land en ’n regering bewerkstellig, en my ervaring met die goewerneur van Louisiana is ’n treffende bewys van hierdie waarheid.
Larry Stockstill
Senior leraar, Bethany World Prayer Center
Baker, Louisiana