Читать книгу As liefde ontwaak - Elsa Hamersma - Страница 3
1
ОглавлениеDie selfoon op die tafeltjie agter haar vibreer skielik. Danielle swaai die stoel om en kyk geïrriteerd na die verligte skerm. Magdeleen. Een lang oomblik oorweeg sy om nie te antwoord nie, maar druk dan tog die knoppie.
“Danielle? Hallo, jong! Pla ek?”
Danielle trek skewebek vir die selfoon. Haar suster weet sy pla. “Ja,” antwoord sy kortaf.
“O!” Kastige verbasing. “Ek het gedink jy maak al reg om die tweeling by die skool te gaan haal.”
“Genade! Is dit al twaalfuur?” Sy kyk vinnig op haar selfoon.
Magdeleen lag asof iets haar amuseer. “Wel, amper.” Daar is ’n oomblik stilte. “Maar laat ek vinnig praat. Ek het nog baie om te doen.”
“Ek is self besig,” antwoord Danielle bietjie dikbek.
“Natuurlik. Skryf is harde werk,” antwoord haar suster saaklik.
Asof sy wat Danielle is dit nie weet nie. Natuurlik kan jy net ’n boek skryf as jy ure en ure op jou boude agter ’n rekenaar sit. Sy het, om die waarheid te sê, reeds heelwat ondervinding daarvan. Maar nie genoeg nie. Sy het ononderbroke tyd nodig as sy iets wil bereik.
Danielle oorweeg weer ’n oomblik lank om te reageer, maar sien nie kans vir die kille atmosfeer wat sy dan dae lank sal moet trotseer nie. Haar suster vererg haar gou wanneer Danielle ’n opmerking maak oor al die ekstra take wat sy bygekry het vandat Magdeleen met Dawid Aucamp getroud is, en hy en sy tweeling by hulle ingetrek het. Daarom bly sy stil.
“Ek bel eintlik om ’n guns te vra. Sal jy nie sommer Dawid se pak by die droogskoonmaker oplaai wanneer jy die kinders gaan haal nie? En die paar goedjies op die lysie koop? Ek maak later reg met jou. Ek gaan regtig nie vanmiddag tyd hê om nog draaie te ry nie. Ek moet by die haarkapper uitkom, en Dawid het sy pak nodig vir vanaand se funksie.”
“Watter funksie?” Danielle voel hoe ’n frons haar voorkop saamtrek. Gister, toe sy en Jesse, haar beste vriendin, op die telefoon geklets het, het hulle gereël om vanaand teen sesuur vir ’n drankie en ligte ete te ontmoet. Jesse is al een wat haar moed inpraat. As dit nie vir haar was nie, dink Danielle baie dae, het sy al die idee om ’n speurroman te skryf lankal laat vaar.
“O! Het jy vergeet? Of het ek nie gesê nie? Die dekaan en sy vrou het ons vir drankies en ete genooi. As jy net vroegaand ’n ogie oor die kinders sal hou, sal Katrina vir hulle kos gee en sorg dat hulle gebad kom. Hulle gaan vroeg slaap, en daarna kan jy lekker skryf.”
Magdeleen weet goed sy het Danielle nooit gevra nie. Daar word eenvoudig aanvaar dat sy beskikbaar is en nie ander planne het nie.
Die bloed stoot in Danielle se kop op en spoel warm oor haar gesig. Soos Magdeleen dit stel, is sy wat Danielle is vergeetagtig en gaan sy eintlik nie veel doen buiten toesig hou nie – wat eenvoudig nie waar is nie.
Hoe op aarde het sy in dié situasie beland? Dit wonder Danielle vir die soveelste keer, en telkens kom die antwoord: geleidelik en ongemerk. En omdat sy van dag een af nie vaste reëls neergelê het nie.
“Ek maak so.” Sy byt op haar tande om verdere woorde te keer. Haar planne vir die aand is daarmee heen. Na ’n geringe aarseling, trek sy die middelste laai van haar lessenaar oop, vat die bruin koevert wat heel bo lê en gooi dit in haar handsak. Op pad na die motor toe bel sy haar vriendin. “Haai, Jes,” sê sy oomblikke later. “Ek kan vanaand se afspraak nie meer inpas nie, maar kan ons asseblief vanmiddag saam ’n koffietjie drink?”
“By Koffietroos?” Jes was nog altyd vlug van verstand. “As jy dit vieruur kan maak, loop ek net bietjie vroeër.”
“Vieruur,” bevestig Danielle.
Nadat Danielle die tweeling by die skool opgelaai en, met vele beloftes van lekkergoed, by Katrina afgelaai het, koop sy die kos en skoonmaakprodukte wat haar suster op die lys in die kombuis geskryf het en gaan haal sy Dawid se pak by die skoonmaker.
Sy is nie eens jammer vir die twee onnutte toe sy by die huis wegry en hulle met ’n pak lekkergoed aan hulleself – en Katrina – oorlaat nie. Wat haar betref, kan hulle die huis afbreek. Hulle is baie lewendig en hoogs intelligent, maar lekker stout – soos seuntjies dikwels is. En as hulle iets breek wat Magdeleen as kosbaar beskou, het Danielle vrede daarmee. Dit het tyd geword dat haar suster op die harde manier leer dat sy nie ’n onbetaalde kinderoppasser het nie.
Jesse wag reeds toe Danielle by Koffietroos aankom. Sy staan dadelik op toe sy Danielle sien en druk haar etlike oomblikke teen haar ruim boesem vas. “Ek hoef nie te vra nie. Ek kan sommer sien Her Majesty and His Lordship, the professor, het jou weer op kort kennisgewing opgekommandeer.” Sy gaan sit oorkant Danielle en wink ’n kelner nader.
“Ja.” Danielle sug. “Ek wil nie so by jou kla nie, maar jy’s al een met wie ek hieroor kan praat. Die waarheid is dat dit by die dag erger word, Jes. Soos ek al soveel kere vir jou gesê het, ek kan nie ’n boek op dié manier skryf nie. Ander mense kan dalk; ék nie. Miskien omdat dit my eerste poging is, en ek so onseker is of ek dit regtig kan doen, maar die situasie met Dawid en sy kinders werk nie vir my uit nie.”
“Dit hoef nie vir jou uit te werk nie. Dis nie jý wat met Dawid getrou het nie.”
“Ek weet. En dis seker my eie skuld dat dinge so ver gegaan het. Magdeleen is nie die moederlike tipe nie en het beslis nie vir die instant family met Dawid getrou nie. Dis lelik om te sê, maar die kinders is die opoffering wat sy moes maak om Dawid voor die kansel te kry.”
“Opoffering, my alie! Watter opoffering het sý gemaak? Waar ek met jou saamstem, is dat hy wragtie ’n hunk is en dat sy hom teen elke prys wou hê. Maar dat jý die prys moet betaal, is verregaande.”
Danielle trek ’n gesig en sit terug sodat die kelnerin die koppie koffie voor haar kan neersit. “Dis wat my ook kwaad maak.” Sy lag teësinnig – eintlik vir haarself. “Ek sou nie omgegee het om kinderoppasser te speel en my boek in die wye oseaan te gooi as ek die een was onder wie se bed hy elke aand sy netjiese skoene parkeer nie.”
Jesse kyk opsommend na haar. “Jy’s nie ernstig nie? Ek bedoel, jy het nie regtig die hots vir jou swaer nie, het jy?”
“Natuurlik nie. Ek sê net dat Dawid die soort man is vir wie enige warmbloedige vrou opofferinge sal maak.” Danielle waai met haar hand deur die lug om te wys hoe belaglik dit is dat sy iets vir Dawid voel, maar diep in haar hart is sy nie so seker dat sy heeltemal eerlik is nie. Wanneer hy op ’n Sondagoggend ongeskeer en met net sy slaapbroekie aan in die kombuis staan en koffie maak, weet Danielle vir seker dat daar niks met haar hormone skort nie. Sy spierwit glimlag laat al sy studente se bene swik, vertel Magdeleen graag met smaak, en Danielle verstaan dit heeltemal. En, al probeer sy haar bes om die held in haar boek nie op Dawid te skoei nie, lyk die man in haar verbeelding baie soos hy, praat hy soos Dawid en tree hy so op. Wat sy gaan doen wanneer dit by die liefdestonele kom, weet sy nie, want sy beskik nie oor inligting omtrent Dawid se slaapkamertegniek nie. Dié brokkie gaan sy egter nie vir Jesse gee nie, want sy skaam haar. Verder vermoed sy ook dat sy Dawid as model gebruik omdat sy nie op die oomblik ’n man in haar eie lewe het nie.
Jesse sit haar hande plat voor haar op die tafel neer. “Wanneer gaan jy besluit om plan B te oorweeg? Jy het tog gesê jy het ’n plan B?”
“Ek dink elke dag daaraan. Die ding is net dat Magdeleen ’n koronêr gaan skiet.”
“Daarvan lei ek af dat jou plan B beteken dat jy gaan trek. Dink so daaraan: as jy nié trek nie, kan jy maar die boek koebaai wuif. Of anders vermoor jy dalk eendag jou suster wanneer frustrasie die oorhand kry, beland jy in die tronk, skryf jy die hele sordid storie neer – en word dit oornag ’n bestseller.”
Danielle kan nie anders as om te lag nie. “Jy’s reg, ou drama queen, maar die huis bly die groot probleem. Dit behoort mos gesamentlik aan my en Magdeleen, maar ek kan jou nou al sê dat sy my nie my deel sal uitbetaal as ek verhuis nie. Sy sal dit nie eens oorweeg nie – al het sy, haar man en sy kinders alles oorgeneem.”
Danielle se kamer en badkamer is al waar sy nog gemaklik voel. Dit maak haar hartseer, want dis die huis waarin sy grootgeword het en waarvan sy mede-eienaar is.
“Jy kan haar hof toe vat.”
“Ja. En ’n lang, morsige, duur hofsaak teen my suster maak? Wanneer ek trek, gaan ek klaar meer moeilikheid hê as wat ek kan hanteer. Dink jy eerlik ek wil dinge nog erger maak? Wat staan op my voorkop geskryf?”
“Sucker,” antwoord Jesse met ’n breë glimlag.
“Ek weet,” sug Danielle.
Jesse teug fronsend aan die groot koppie koffie voor haar. “En as jy nou trek, waar gaan jy duisende rande per maand vir huur kry? Het jy sulke geld?”
“Natuurlik nie.”
“Wanneer jou boek eers verskyn het, gaan jy geld kry. Veral as jy dit oorsee kan verkoop. Dalk kan jy intussen ’n lening iewers aangaan? Of ’n voorskot by die bank gaan vra?”
Danielle glimlag floutjies. “Dankie vir die mosie van vertroue, maar nee, ek gaan nie geld leen nie. Ek haat skuld. Daarom moet ek op ’n ander manier regkom.”
“Wat van jou aandele? Kan jy hulle nie verkoop nie?”
“Nooit! Dis my pensioen. Ek het myself belowe dat ek nooit daaraan sal raak nie, want as ek nie trou nie, moet ek vir myself kan sorg wanneer ek oud is.”
“Get real, girl!” lag Jesse en vee haar wilde bruin krulle uit haar gesig uit. “Die regte man sal jou nog van jou voete af vee. Maar daar moet ’n manier wees waarop jy van vloerlap na outeur van formaat kan vorder. Jy behoort nie op aandag te spring vir daai demanding suster van jou nie.”
Danielle byt op haar lip en trek die bruin koevert uit haar handsak uit. Sy vroetel in die koevert en kom dan met ’n velletjie papier te voorskyn. “Hier is my plan B. Lees en sê my wat jy dink.”
Jesse se wenkbroue spring binne sekondes hemelhoog. “Goeie donder … weer en bliksem! Jy kan nie ernstig wees nie.”
“Ek is.”
“Wat gaan jy hiermee doen? Ek weet nie hoeveel mense nog sulke advertensies in die koerant lees nie en as jy dit op die internet sit, soek jy moeilikheid. Dit is hopeloos te gevaarlik om …”
“Ek het vyftig kopieë laat druk. Ek gaan elke advertensie persoonlik in mense se posbusse sit. Of onder hulle voordeure instoot. En ja, ek weet dit gaan nie maklik wees nie. Daar is soveel sekuriteitsmaatreëls in veral meer gegoede buurte dat mens nie na aan ’n huis se voordeur kan kom nie.” Sy kyk Jesse reguit in die oë. “En ek gaan my advertensie net los by huise wat vir my mooi is en waar ek graag wil bly.” Sy trek haar skouers op. “Arm mense kan dit in elk geval nie bekostig nie.”
Jesse se mond val letterlik oop. “Maar … sê nou een of ander perv kry jou advertensie in die hande? En, besides, dit lyk nie vir my na ’n veel beter deal as wat jy tans het nie.”
“Dit is. Ek adverteer my dienste in ruil vir verblyf en ’n salaris, máár dit is op my voorwaardes en in my ure. Ek het jou al baie gesê ek skryf op my lekkerste van sesuur in die môre tot en met middagete. Dan roep ek halt. Dis soos ek die vertalings ook nog altyd gedoen het. Middae het ek nog altyd gebruik om ander goed te doen en saans en snags dink ek oor die storie, of nié – dit hang af.”
“Nou wat’s die probleem? Is jy nie in elk geval nou soggens vry om te skryf nie? Die tweeling is mos in die kleuterskool?”
“Dit het van dag een af my joppie geword om die tweeling soggens by die kleuterskool af te laai, wat beteken ek moet aantrek en ordentlik lyk teen halfagt, want dan moet ons ry. Nadat ek hulle afgelaai het, is dit weer ’n halfuur terug huis toe. Dis ’n onderbreking van sewe tot halfnege. Teen twaalfuur moet ek weer ry om hulle halfeen op te laai. My skryfdag is dus min of meer van nege tot twaalf. Dis drie ure, Jes, en dis nie genoeg nie. Ek het al probeer om smiddae bietjie te werk, maar omdat dit net ek en Katrina by die huis is, dink Ben en Bert dat ek eintlik vir hulle daar is. Magdeleen en Dawid skroom ook nie om my te vra om hulle rond te ry na ander maatjies toe nie.” Sy sluk swaar. “Ek is soos hulle ma in die huis en daarom gaan hulle die swaarste kry as plan B ’n werklikheid word. Ek is regtig jammer vir hulle.”
“Ag, nonsens,” proes Jesse. “Ek bedoel, as dit nou Magdeleen se eie kinders was, kon ek dalk nog verstaan dat jy so verantwoordelik voel, maar hulle is mos nie jou bloed nie.”
“Hulle is eintlik baie dierbare seuntjies,” verweer Danielle vinnig. “En dis nie hulle skuld dat hulle ma met ’n Italianer weggeloop het en hulle pa met Magdeleen gestaan en trou het nie. Hy moes wragtie blind verlief gewees het, want anders sou hy besef het dat sy ook nie ’n ma vir sy kinders gaan wees nie.”
“Mans is blind wanneer hulle verlief raak, of so sê hulle,” sug Jesse. “Ongelukkig sien die mans waarmee ek deurmekaar raak altyd my foute raak. Maar magtig, as Dawid nie agtergekom het hy trou met ’n bloeming ysberg nie, moes hy regtig blind gewees het. Sorry, maar jy kan nie stry nie.”
Danielle lag verleë, want sy kan dit nie ontken nie. Magdeleen is die redakteur van ’n modetydskrif. Toe sy en Dawid oorsee gaan wittebroodvakansie hou het, het Danielle na die kinders gekyk. Sy het gereken daarmee het sy haar kant gebring. Die ontnugtering was egter dat sy permanent die rol van oppasser moet speel – en dít sonder vergoeding of haar goedkeuring.
“Sê net vir jouself die tweeling is nie jou verantwoordelikheid nie. Magdeleen manipuleer jou, en jy weet dit.”
Danielle knik gelate. “Ek wroeg nou al weke lank. Sy sal ’n ander plan moet maak as ek net eers uitgetrek het: ’n au pair kry of so iets.” Sy dink ’n oomblik. “En dan sal hulle natuurlik nog ’n motor moet koop, want ek doen al die op- en aflaaiery met my motortjie.”
“Sucker,” is al wat Jesse weer sê, en haar kurktrekkerkrulle dans om haar kop. “Wanneer gaan jy hierdie pamflette versprei?”
“Môreoggend. Ek gaan die tweeling net eers by hulle skooltjie aflaai en dan gaan ek na die suidelike voorstede van Kaapstad toe ry. Dis waar ek wil bly.”
“Dis nogal ver van Stellenbosch af.”
Danielle trek haar skouers op. “Dit help nie ek trek net om die draai nie. Daar moet afstand tussen my plek en dié van my suster wees. Anders gaan dit mos maklik wees om gou te bel wanneer hulle ’n babysitter soek.”
“Jy’s reg. Jy wil al die moeite nie verniet doen nie. Dis net dat die suidelike voorstede van Kaapstad ook vir my nogal ver is. Ons sal nie sommer vinnig ’n koffietjie kan drink nie.”
“Dit is so, vriendin. Maar as ek hierdie skuif nie ordentlik doen nie, gaan die hele ding misluk.”
“Hmm. Dis desperaatheid wat ek hoor. Jy speel nie meer nie. Dis doodsake dié.”
“Dis al waaraan ek gedink het die afgelope tyd. My gedagtes dwaal selfs wanneer ek probeer skryf,” erken sy.
“I wish you luck, hoor? Ek hoop net nie jy laai te veel op jou vurk nie.”
Die volgende oggend neem Danielle die tweeling na die kleuterskool wat ’n hele ent van die huis af is. Soos elke ander oggend is dit ’n nagmerrie in die verkeer.
“Hoekom sit jy die kinders nie in die kleuterskool twee strate van hier af nie?” het sy – toe nog onbewus van die feit dat sy die taxi sou word – gevra nadat Dawid en die tweeling by haar en Magdeleen ingetrek het.
“Hulle is gewoond aan die skool en hulle maatjies is daar,” het hy kortaf geantwoord. Voor hy en Magdeleen getroud is, het hy op Somerset-Wes gewoon, en dis ook waar die kleuterskool is.
Dis alles goed en wel, dink Danielle nou suur, maar dan moet hy ook bereid wees om hulle soontoe te neem en te gaan haal. Voorheen was dit maklik vir hom om hulle op pad na die Universiteit Stellenbosch af te laai. Nou beteken dit dat hy in die teenoorgestelde rigting moet ry. En so het dit Danielle se werk geword.
Sy hou voor die skool stil en klim uit. Sy wil hulle nog groet, toe trek hulle al by die skoolgebou. “Lekker skoolgaan,” sê sy in die wind. Seuns is anders as dogtertjies, dit weet sy nou.
Die buurt wat Danielle vir haar plan gekies het, is eksklusief, duur en boomryk. Die huise skuil agter hemelhoë mure en elektriese drade, maar binne is daar groot groen tuine. Sy weet, want sy het op Google Earth gekyk.
Die verkeer is swaar dié tyd van die oggend, veral in die rigting wat sy moet ry. Sy wag totdat daar ’n gaping kom en swaai haar motortjie in die pad in en trap die petrol.
Vandag is die dag waarop sy haar lewe nuwe rigting gaan gee.