Читать книгу As liefde ontwaak - Elsa Hamersma - Страница 5
3
Оглавление“Ek het ’n vis wat knibbel aan die hoek,” rapporteer Danielle aan Jesse.
“Sowaar?” Jesse is opreg verstom. “Iemand wat op jou advertensie gereageer het?”
“Ja. Hy wil my ontmoet voordat hy besluit,” vertel sy met ’n koppie stomende koffie in haar hand.
“Dit klink belowend. En in watter van al daai beautiful huise bly hy toe?”
“Weet jy, ek het nie ’n idee nie. Toe hy bel, het ons oor ander goed gepraat. Dit sou ongeskik geklink het om dit sommer trompop te vra. Maar ek kon hom seker sy adres gevra het,” voeg Danielle verleë by. Dit was die laaste ding waaraan sy gedink het.
“En hoeveel kinders het hy?”
“Ek … ek het nie gevra nie. Hý het mý eintlik tot in my onderklere uitgevra. Daar was nie juis kans om hóm iets te vra nie,” probeer sy verduidelik.
“Tot in jou onderklere?” Jesse lag uit haar maag uit. “Dit klink belowend.”
“Moenie idees kry nie,” waarsku Danielle vinnig.
“Hmm. Ek dink nou net: hoekom het die man gebel en nie sy vrou nie? Dis tog seker sý wat ’n substituut wil hê sodat sy kan, wel, wie weet wat? Brug speel? Tennis speel? Met haar minnaar kafoefel?”
“Ek weet nie,” moet Danielle weer eens erken. “Soos ek vir jou gesê het, het hy die woord gevoer en my met honderd en twaalf vrae bestook. Dit het nie eens by my opgekom om hóm iets te vra nie. In elk geval is daar nog baie tyd om alles oor hom en sy huishouding uit te vind. Dis nie asof ek klaar die joppie gekry het nie.”
“Nee, maar miskien moet ek saamgaan wanneer jy hom ontmoet. Dalk is hy ’n opperste skelm en ontvoer hy jou helder oordag. Mens kan deesdae nie versigtig genoeg wees nie!”
“Oukei. Wanneer, of liewer ás hy weer bel en ’n afspraak maak, sal ek jou laat weet.”
Met Jesse stry ’n mens nie as sy eers iets in haar kop gekry het nie.
Meyer dink die volgende paar dae oor Danielle se advertensie. Tot sy argwaan wonder hy egter meer oor die vrou as oor haar bekwaamheid. En of dit die vrou in die straat was. Op die selfoon was haar stem heserig, amper ’n Laurika Rauch-stem, wat sal pas by warm goudblonde hare.
Etlike kere kyk hy na sy selfoon en die nommer wat in die geheue gebêre is, maar onderdruk die begeerte om Danielle te bel. As hy ’n au pair aanstel, sal dit ’n belangrike verandering in hulle lewe beteken. Dit is dus nie iets waaroor hy ligtelik kan besluit nie. Wat hy behoort te doen is om op die internet te soek na ’n agentskap wat opgeleide kinderversorgers adverteer. En dan ’n ouer dame met grys hare aan te stel om Nina se behoeftes te hanteer. Om die dertigjarige Danielle Krause weer te bel sou wees om sy nuuskierigheid te bevredig.
Hy sug en staan op. Wanneer hy saans by die huis is, verwag die kok en die huishoudster dat hy saam met sy dogter sal aandete eet. Dis ’n ligte ete, maar die ritueel is vir die dogtertjie belangrik, want dis soos dit in haar ma se tyd gedoen is. Vir hom is dit amper ’n marteling, want die ritueel herinner hom te veel aan sy verlies.
Elke aand volg hulle dieselfde patroon. Hulle skep vir hulleself sop of slaai in en dan gaan hulle by die tafel sit.
“Het jy ’n lekker dag gehad?” vra hy altyd.
“Ja, Pappa,” antwoord sy gewoonlik.
“Wat het jy vandag in die skool geleer?” vra hy daarna asof dit baie belangrik is.
Vanaand verras Nina hom egter. Na die twee gebruiklike vrae en antwoorde, het sy nog ’n vraag.
“Pappa? Het my mamma geleer dans?”
“Geleer om saam met my te dans, bedoel jy?” vra hy en sien pynlik voor sy oë hoe hy en Estelle op hulle troudag die dansbaan open.
“Nee. Ballet gedans. Toe sy nog klein was, soos ek.”
“O!” hy dink ’n bietjie na. “Ek weet nie.” Selfs die bekentenis dat hy nie alles van Estelle geweet het nie, maak seer.
“Ek wil balletleste toe gaan.”
Hy dink onmiddellik aan haar beserings en die breuk in haar arm wat met terapie tog mettertyd genees het. Gelukkig dat dit nie haar bene was nie. Balletoefeninge kan seker nie skadelik wees nie? En in alle waarskynlikheid sal sy een of twee keer gaan en dan sal haar belangstelling kwyn.
“Dis nie leste nie, maar lesse, en jy kan as jy wil,” antwoord hy. Innerlik sug hy. Nog een van daardie onbegryplike behoeftes waarvan hy geen kennis dra nie.
“Al die ander maatjies in my klas neem ballet. Mart-Marie sê dis net ek wat nie ballet neem nie. En dis baie lekker. Mens kry spesiale sagte, swart balletskoene en pienk kouse en wanneer dit konsert is, kry jy pienk skoene en ’n mooi rokkie wat wýd uitstaan.”
“Dit moet mooi wees,” sê hy stug. Dit word by die oomblik meer gekompliseerd. En wie gaan dié klere en skoene koop of maak?
“En as ek verjaar, wil ek ’n koek hê wat soos pienk balletskoene lyk. Die sewe kersies moet langsaan staan, nie op die koek nie, want anders sal dit snaaks lyk.”
Die kind het ’n aktiewe verbeelding, en dis vir hom verstommend dat sy al so ver soos haar verjaardagpartytjie gedink het. Dis seker nie onmoontlik om op die internet in te gaan en uit te vind waar so ’n koek bestel kan word nie, maar nadat hy die koek bestel het, is daar nog ’n spul ander goed wat sal moet gebeur. Iemand sal die partytjie moet bestuur en reël. Iemand sal die ma’s van die ander dogtertjies ook moet tee en koek gee. Hy het darem nou al vir Nina na genoeg van dié partytjies geneem om te weet wat dit behels.
“Nina,” sê hy op die ingewing van die oomblik, “ek het gewonder of ons nie ’n tannie moet kry om by ons te kom bly wat jou skool toe kan vat en met jou huiswerk kan help en sulke goed nie? Jy weet, iemand wat vir jou ook ’n lekker verjaardagpartytjie kan gee … en wat jou ballet toe kan vat.” Die laaste paar woorde is suiwer inspirasie.
Die kind lig haar kop en vestig haar blik op hom sodat sy hom in die oë kyk. “Gaan sy vir altyd en altyd bly en in Pappa se bed slaap?”
“Nee.” Hy is totaal geskok oor die antwoord. “Hoekom vra jy so iets?”
“Mart-Marie sê Pappa gaan weer trou en dan gaan die ander tannie in Pappa se kamer bly en in Pappa se bed slaap. Sy sê haar mamma sê … sy weet van tannies wat hulle tande slyp …”
“Mart-Marie is ’n snip,” sê hy kwaai. “Ek gaan nie trou nie. Nooit weer nie.”
“Hoe slyp mens jou tande, Pappa?” kom die volgende vraag.
“Mens kan nie. Dis wat ek vir jou probeer sê. Jou maatjie praat oor goed waarvan sy niks weet nie.”
Die dogtertjie kyk af op haar skoot. “Is Pappa nou kwaad?”
“Nee.” Hy sug saggies. “Ek hou net nie daarvan dat jou maatjie se mamma oor my praat nie. Die tannie waarvan ek praat, sal ’n oppasser wees. Au pair, is die deftige naam daarvoor. Dis iemand wat na jou kan omsien.”
“Sy moet net nie oud wees nie,” verras Nina hom weer.
Meyer byt op sy onderlip. Hierop het hy nie gereken nie. “’n Ouer tannie sal amper soos ’n ouma wees,” probeer hy.
“Oumas word gou moeg wanneer hulle saam met jou in die winkels loop. As haar ouma saamgaan winkel toe, sê Nelda, loop sy net ’n klein entjie en dan wil sy eers rus of gaan piepie.”
“Lyk vir my asof jy die handboek oor oumas en au pairs kan skryf,” sê Meyer met ’n stywe glimlag. “Ons sal maar moet kyk wat ons kan kry, nè? Maar nou’s dit slaaptyd.”
In sy studeerkamer sit hy eers lank en trommel met sy vingers op sy lessenaar se blad. Hy kan nie onthou wanneer hy en Nina laas so ’n lang gesprek gevoer het nie. Al wat hy nou sterker as tevore besef, is dat daar báie en góéie redes is waarom hy ’n vrou moet aanstel om Nina se behoeftes te hanteer.
Daar is baie en net sulke goeie redes waarom hy nie die onbekende, ongekwalifiseerde en redelik onervare Danielle Krause moet aanstel nie. Maar dan is daar sy instink.
Sy sukses in die lewe het hy grotendeels te danke aan instink: hy weet wanneer iets gaan werk en wie hy kan vertrou. Daardie selfde instink, en sy dogtertjie se woorde, erken hy halfhartig aan homself, laat hom nou besluit om die vrou met die heserige stem tog wel te bel en ’n kennismaking te reël. Hy sal kan sien of dit die blonde vrou is en as hy nie hou van wat sy sê of doen nie, is daar tog geen skade gedoen nie?
Doelgerig en met ’n vaste hand druk hy dan die knoppies op sy selfoon om ’n afspraak te reël.
Danielle is senuweeagtig terwyl sy die volgende middag in die koffiewinkel sit en wag vir Meyer Senekal. Sy voel sommer vies vir haarself daaroor; soos sy vies vir haarself was nadat sy aangebied het om haar groen baadjie te dra sodat hy haar kan eien. Sy weet die groen baadjie pas haar goed: die kleur is dieselfde groen as haar oë en die snit beklemtoon haar kurwes. Waarom sy juis ’n voornemende werkgewer met dié besondere fisieke bates wou beïndruk, weet sy nie. En daarom is sy vir haarself kwaad.
Sy wonder of sy vrou gaan saamkom. En hoe hulle lyk? Met die vrou het sy nog nie gepraat nie, maar aan sy stem sou sy raai dat hy ’n ouer man is, waarskynlik middeljarig, spikkelgrys hare, skatryk en gewoond om die kitaar te slaan. Dalk oorgewig? Baie geld koop mos ’n lekker lewe, en ryk is hy beslis, anders sou hy nie die groot huis en sprokiestuin kon bekostig nie. Hy slaan nie net die kitaar nie, hy koop dit ook. Hy is waarskynlik ’n beheervraat. Sy vrou was seker eers sy sekretaresse en gewoond daaraan om “ja, baas” en “nee, baas” te sê. Nou verwyl sy haar tyd met sosiale aktiwiteite en liefdadigheidswerk. Dalk is dit die rede hoekom hý gebel het. Hy’s bekommerd omdat die kinders op hulle eie moet aankarring …
“Is jy Danielle Krause?”
Sy was so diep in gedagte versonke dat sy wip van die skrik toe die ryk, diep stem langs haar praat.
“Dis ek.”
Die man wat haar hand skud en daarna die stoel oorkant haar uittrek en gaan sit, toon nie baie ooreenkomste met die fantasie wat Danielle oomblikke tevore gehad het nie. Eerstens is hy baie jonger as wat sy gedink het. Hy het die sterk lenige lyf van ’n jong man en ’n dik bos donker hare waarin daar nie ’n enkele grys haar sigbaar is nie. Sy vierkantige kaak wys dat hy nie nonsens vat of hom laat voorskryf nie, en sy priemende oë lyk asof hulle dwarsdeur haar kyk. In daardie één opsig was sy reg. Dié man beheer sy lewe met ’n ysterhand. Dis net die duikie in sy ken wat sy gesig enigsins versag. Effens.
“So, Danielle, is jy oorval deur oproepe? Staan die mense tou om jou dienste te bekom?”
Sy kan nie agterkom of hy spot en of hy net belangstel nie, maar sy oë ondersoek haar gesig asof hy wil seker maak dat sy wel Danielle Krause is.
Daar was vier oproepe benewens die een van Meyer Senekal. Een, kon sy hoor, was ’n opregte navraag, want dit was ’n vrou wat die oproep gemaak het en sy het die regte vrae gevra. Toe sy egter agterkom dat Danielle dertig is, was sy dadelik nie meer entoesiasties nie. Die vorige au pair het glo net ses maande gebly en is toe weg om te trou. Twee ander oproepe was van mans wat wou weet waar sy bly en wanneer hulle kan kom kyk hoe sy lyk. Syf wat haar lyf soek, bel so gereeld in sy dronkmanstem dat sy die nommer herken en eenvoudig nie antwoord nie. Ongelukkig laat hy gereeld ’n smerige boodskap. Dié inligting gaan sy egter nie vir Meyer Senekal gee nie.
“’n Paar,” sê sy ontwykend en kyk af om sy oë te vermy.
“Enigiets wat jy oorweeg?”
“Nie regtig nie,” antwoord sy eerlik. “Maar jy … sou dit nie beter gewees het as jou vrou die onderhoud met my gevoer het nie? Sy ken die kinders se behoeftes tog seker beter?”
’n Spier in sy wang spring. “Kan ek vir ons koffie bestel voordat ons praat? Of verkies jy tee?”
“Koffie, dankie.” Sy is effens verbaas dat hy nie net bestel het sonder om haar te vra nie.
Nadat hy die koffie bestel het, sit hy terug in sy stoel en kyk takserend na haar. “Daar is nie ’n vrou wat die onderhoud met jou kan voer en ook nie kindérs nie. Ek het een dogtertjie wat sewe jaar oud is. Sy is in graad een. Ek het tot die besef gekom dat daar sekere ingeboude tekortkominge in my … um, kom ons sê maar, persoonlikheid is. Ek beskik glad nie oor die vaardighede wat uniek aan vroue is nie, en dis wat sy nodig het.”
Danielle kyk woordeloos na hom. Dít het sy nie verwag nie. “Is jy en jou vrou geskei?” vra sy pront.
“Sy’s dood.”
Dit het sy óók nie verwag nie. Hy kyk vir die eerste keer weg, en sy verstaan dat dit ’n onderwerp is wat nie oop is vir bespreking nie.
“Ek’s jammer,” sê sy sag. “Die ma van die twee seuntjies na wie ek omsien, is van hulle pa geskei en landuit. Hulle sien haar dus nooit nie. Dis swaar vir ’n kind om een ouer te verloor.”
“Watter soort ma doen so iets? Die wet sal altyd toesig aan haar toestaan, tensy sy regtig nie belangstel nie.” Sy frons laat haar in geen twyfel oor sy gevoelens nie.
“Sy wou die kinders landuit vat, en haar eksman, wat nou my swaer is, het dit reggekry om ’n stokkie daarvoor te steek.”
“En toe bly sy nie in die land ter wille van haar kinders nie?”
“Nee. Sy het glo nie twee keer gedink toe daar ’n keuse tussen haar minnaar en haar kinders kom nie. Dit moes Dawid seker baie ontstel het.”
“Dawid?”
“My swaer. Dawid Aucamp. Professor Dawid Aucamp.”
“Ek sien,” sê hy met ’n effense glimlag. “En toe trou hy met jou suster wat ook nie die moederlike tipe is nie. Snaaks hoedat sommige mense keer op keer dieselfde foute maak.”
“Ja, daaroor kan ek nie met jou stry nie. Magdeleen leef net vir haar loopbaan. Tog dink ek sy sou alles feil gehad het vir haar eie kinders. Ás sy gehad het.” Sy dink ’n oomblik na. “Maar jy praat asof jy my suster ken?”
“Nee, ek ken haar nie, ons is net sakekennisse. Ek sien haar van tyd tot tyd by sosiale geleenthede. Maar volgens wat jy my vertel het, het ek haar reg opgesom.”
“O!” Sy sit haar koffiekoppie versigtig neer. Hy hét Magdeleen reg opgesom. Sou hy besig wees om háár ook op te som terwyl hulle oor ditjies en datjies gesels? Daardie oë van hom lyk asof hulle dwarsdeur haar kyk. Tot watter gevolgtrekking het hy gekom? Of besluit hy nog?
Sy het self nie die vermoë om mense dadelik op te som nie, maar sy hoef nie ’n profeet of sielkundige te wees om die eienskappe van die man voor haar te herken nie. Hy is die tipe wat nie foute maak in sy besluitneming nie, want hy oorweeg al die feite noukeurig. Daarom is daar geen kans dat hy ’n au pair sommer so oor ’n koppie koffie sal aanstel nie.
Dis dalk beter as sy die werk nie kry nie. Hy is die tipe man waarop sy sou kon verlief raak. Sy hou van ’n man wat weet wat hy wil hê. ’n Sterk man. En mooi was nog nooit lelik nie. Van sy netjies geknipte bos donker hare tot by die punte van sy elegante Italiaanse skoene, is hy die essensie van manlikheid. En die duikie in sy ken …
“En jy? Pla dit jou nie om hierdie kinders wat nie ’n ma het nie, ook in die steek te laat nie?”
“Nee.” Sy kyk hom reguit in die oë. “Die kinders is nie wesies nie. Hulle bly in ’n liefdevolle huis saam met hulle pa en ’n stiefma. Dis natuurlik nie hulle skuld dat die situasie so ontwikkel het dat dit vir my onaanvaarbaar geword het nie. Ek het ook die afgelope maande lief geword vir hulle, maar ek is enkellopend en dis net ek en ek alleen wat na my belange kan omsien. My suster en swaer neem eenvoudig aan dat ek vanselfsprekend nie omgee om my lewe aan die tweeling te wy nie. Dit pla hulle hoegenaamd nie om my soos ’n huurling te behandel wat niks beter het om te doen nie. Veral pla dit hulle nie dat ek nie tyd kry om my eie ding te doen nie. Selfs al het ek dit keer op keer vir hulle gesê.” Sy haal haar skouers op. “Daarom pla hierdie keuse my glad nie.”
“Wat dink jy gaan hulle doen? Sal hulle jou miskien kan ompraat om te bly?”
“Al wat sal gebeur, is dat hulle ook ’n au pair sal aanstel, haar vir haar dienste sal betaal en ’n ooreenkoms met haar oor haar werkure sal moet aangaan. In ’n kontraktuele situasie sal hulle vir seker anders optree en respek vir die au pair moet toon, die ure wat sy werk en die tye wat sy vry is.”
“Jy het nog nie gesê wat die eie ding is waarvoor jy tyd nodig het nie?”
Danielle sluk vervaard aan die warm koffie. Sy moes die vraag verwag het, want vanselfsprekend sal hy wil weet waarmee sy haar besig hou. Dis net dat sy nie daarvan hou om uit te lap dat sy ’n boek probeer skryf nie. Sy sou dit graag stil wou hou totdat sy die storie ten minste eers een maal neergeskryf het en die karakters goed ken.
Sy wil nie so voortydig vrae beantwoord oor die tema en die genre nie. Sy wíl eenvoudig nie. Daarom weet net haar familie en Jesse daarvan, en hulle is reeds drie te veel.
“Ek studeer,” glip die noodleuentjie uit.
“Waarvoor?” vra hy met opregte belangstelling.
Danielle sluk weer aan die koffie. Sy is in ’n hoek, want sy het geen idee wat om te antwoord nie en sy voel hoe ’n warm blos in haar nek op kruip. “Oukei,” sê sy ongemaklik. “Jy het my vasgetrek. Ek studeer nie; ek probeer ’n boek skryf. ’n Speurverhaal. En ek hou nie daarvan om daaroor te praat nie, want ek het nog nooit iets gepubliseer nie en weet nie eens of ek hoegenaamd daarin gaan slaag om dit uitgegee te kry nie.” Sy sal liewer nie noem dat daar ook ’n romanse in die boek aan die ontwikkel is nie, want sy is baie seker iemand soos Meyer Senekal sal dit nie verstaan of goedkeur nie.
Die skerp oë oorkant haar versag effens, en sy mondhoeke lig ’n bietjie. “Ons is almal bang dat ons sal misluk wanneer ons iets op onbekende terrein probeer bereik. Dis nie ’n unieke vrees nie. En dan is die gedagte dat ander mense van jou mislukking sal weet, natuurlik ook nie lekker nie.” Hy speel met sy teelepeltjie en kyk opsommend na haar. “Jy wil dus soggens skryf? Jou advertensie het gespesifiseer dat jy in die middae beskikbaar sal wees?”
Sy knik. “Dis wanneer ek die beste dink. Party mense skryf in die nag – dan is dit natuurlik heerlik stil – maar ek is ’n oggendmens. Ek staan veel eerder vroeg op en skryf, as om laataand te sit en werk.”
“Kan ek net weer seker maak? Jy’t gesê jy is ongetroud. En jy’s nie verlief of verloof nie?”
“Nee.” Sy voel hoe die warm blos weer teen haar nek opkruip.
“Daar’s ook nie ’n eks wat die voordeur een nag gaan probeer afbreek om jou terug te kry nie?”
“Nee.”
Sy oë talm sekondes lank op haar gesig, maar hy is skynbaar tevrede met haar antwoorde.
“Ek sal jou aan Nina moet voorstel voordat ek finaal besluit,” sê hy dan. “As sy nie van jou hou nie, sal ek jou natuurlik nie kan aanstel nie.”
Nog ’n komplikasie waaraan sy nooit gedink het nie. “Ek verstaan. As sy my nie aanvaar nie, sal dit nooit werk nie.”
Hy kyk op sy horlosie. “Ongelukkig moet ek nou gaan. Ek sal bel en ’n afspraak reël.” Hy sit ’n paar note op die tafel neer en met ’n beleefde knik van sy kop staan hy op en stap uit.
Danielle kyk die elegante figuur in die donker pak agterna totdat hy by die deur uit verdwyn. Sy weet nie mooi wat sy verwag het toe sy haar advertensie geskryf het nie, maar Meyer Senekal is meer as enige van haar verwagtings.
Nee, besluit sy, ánders as al haar verwagtings wat gedraai het om ’n lekker blyplek in ’n mooi huis in ’n mooi omgewing en met vaste werkure. Kinders na wie sy sou omsien. ’n Egpaar wat soos Magdeleen en Dawid hulp nodig het. Beslis nie ’n wewenaar nie. Vir seker nie.
“Ek kan nie glo jy het die man ontmoet sonder om my daarvan te sê nie,” mor Jesse toe Danielle haar met die nuus bel.
“Dit het vinnig gebeur,” verweer Danielle haarself. “Hy het die aand laat gebel en reëlings vir die volgende dag getref.”
“En? Het jy nie ’n selfoon nie?”
Danielle sug. “Jy werk bedags, Jesse. En eerlik, vriendin, ek sou nooit ’n onderhoud met die man kon voer terwyl ek weet jy sit in die agtergrond nie. Ek kan nie maskers en geheime doen nie. Jy ken my. Ek is ’n oop boek.”
“Gelukkig vir jou was hy darem nie ’n skurk wat jou ontvoer het nie.”
“Inderdaad nie. Hier praat ek nog met jou,” skerts Danielle.
“En? Het jy toe die joppie gekry?”
“Nee,” antwoord Danielle versigtig. “Hy het een dogtertjie en ek moet haar eers ontmoet en goedgekeur word deur die klein juffrou.”
“Spaar my dit. Gelukkig vir jou dat daar net een brat is wat jou moet goedkeur.”
“Ek dink dis ook sy manier om self nog daaroor te besluit.”
“Het hy gesê hoe oud die kind is? Die hemele behoed jou as sy ’n tienderjarige is.”
“Sy’s sewe en haar ma is dood. Verder weet ek nie eintlik iets van haar nie. Meyer het van unieke probleme gepraat. Of was dit nou unieke talente wat hy nie het nie? So iets.”
“’n Wéwenaar?”
“Ja.”
“Donderweer en bliksemstrale. En jou stem klink klaar so dik soos stroop wanneer jy van die wewenaar met die sewejarige dogtertjie praat.”
Danielle lag onseker. “Jong, laat ek eerlik wees. Hy’s ’n hunk. Baie aantreklik. Die soort man wat duisend en twaalf vroue het wat agter hom lê. Maar hy’s nie in my liga nie. Daarvoor is hy te ryk, te selfversekerd, te slim, te goed aangetrek, te … alles.”
“Maar wat gaan die ménse sê, veral daardie duisend en twaalf vroue, as jy by die te ryk, te slim, te alles wewenaar intrek? Dit gaan mos ’n vreeslike geskinder afgee.” Vir dramatiese effek het Jesse se stem twee oktawe gesak.
“Daar is regtig niks wat iemand kan sê nie. Ek sal ’n werknemer wees in sy huis, en hy het seker ander mense wat ook vir hom werk. Duisende mense het au pairs. Dis niks snaaks nie.”
“Duisende couples het au pairs. Hy’s single.”
“Hier’s vir jou nuus. Ons leef in die een en twintigste eeu waar ongetroude mans en vroue saamlewe sonder dat ’n haan daarna kraai. Die Middeleeue lê ver in die verlede. Halleluja.”
“O, hel! Waar val jy uit, Dani? Gaan jy, single vrou, saam met die single man onder een dak bly en dink mense gaan nie wonder nie? Korreksie, nie mense nie. Daardie duisend en twaalf vroumense wat agter sy bloed lê. Húlle gaan jou beskinder sodat jy so swart soos die nag daarvan gaan afkom.”
“Ag, Jes,” vervies Danielle haar, “ek verstaan nou nie hierdie gekarring van jou nie. Jy het saam met John gebly sonder dat julle getroud was. Hoekom pla my reëlings jou nou so?”
“Ek en John, bless his soul, was verlief. Dan verstaan almal wanneer mense saambly. Wat mense van julle reëling gaan dink, is dat dit ’n undercover romance is. Iets romanties gaan aan, en nou steek julle dit weg en gee voor jy kom werk vir hom.”
“Dit lyk my die verkeerde een probeer die speurroman skryf. Jou verbeelding hardloop met jou weg. Niemand gaan so iets dink nie. Dit is algemeen onder ryker mense om ’n au pair aan te stel om na hulle kinders om te sien. Of hulle nou single of ’n couple is. Die single persoon is die een wat hulp die meeste nodig het. En basta nou met hierdie storie.”
Daar is ’n kort stilte. “Kan ek saamgaan wanneer jy die kind ontmoet? Sê vir hom jou vriendin wil sien wat die opset is, want sy is bekommerd oor jou reputasie.”
“Genade, Jesse. Ek sal so ’n boodskap beslis nie vir hom gee nie. Dit bevat die innuendo dat ek en hy romanties gekoppel kan word, en niks is verder van die waarheid nie.”
Jesse se stem word sagter. “Laat ek dan saamgaan, Dani? Ek voel nie gerus oor hierdie storie nie. Vandat ek jou advertensie gesien het, het ek my bedenkinge oor dié projek van jou gehad en die moeilikheid wat dit kan bring.”
“Goed,” sug Danielle. “As hy bel om reëlings te tref, sal ek vra of ek jou kan saambring. Daar is egter ’n kans dat ek nooit weer van hom sal hoor nie. Miskien wou hy my nie beledig deur sommer reguit te sê dat ek nie in sy planne pas nie?”