Читать книгу Te eenders, te anders - Elsa Winckler - Страница 5
Оглавление1
“Dit moet die gebou wees,” sê Aileen en leun oor die stuurwiel om beter te kan sien.
“Wel, die ligging is regtig onverbeterlik,” sê Nadia en maak die deur oop toe Aileen stilhou. “ ’n Winkelruimte in Dorpstraat, Stellenbosch – jy kan nie verkeerd gaan nie. Is dit een van jou pa se geboue?”
Aileen klim uit. Die imposante nuwe kantoorblok het opgeskiet in die afgelope jare wat sy oorsee was. Dis glad nie ’n onooglikheid soos so baie van die ander nuwe geboue op die dorp nie. Die argitek het moeite gedoen om die styl te laat inpas by die historiese karakter van die omgewing.
“Ek neem so aan. Ja, die feit dat dit nie ultramodern lyk nie, sê ook vir my dat dit een van my pa s’n moet wees. Jy weet hoe opgewerk hy raak as ’n plek verrys wat glad nie by die dorp se kultuur inskakel nie. Nou wonder ek waar kry ek die ou wat my pa gesê het ons sou rondwys. Kom ons gaan kyk.”
Nadia gryp laggend haar hand en saam draf hulle oor die besige straat. “Ek kan nog altyd nie glo dat jy jou eie winkel gaan oopmaak nie. Dis al waaroor jy die laaste paar jaar gepraat het, Leen!”
Aileen giggel saam. “Ek het al amper my winkel! Maar ek moet nog eers kyk of hierdie ruimte kan werk voor ek te opgewonde raak. Ek kan nie glo dis binnekort ’n werklikheid nie!”
“Dink net, jou eie-eie fyngebak-plekkie. Net joune. En alles wat jy die afgelope jaar in Frankryk geleer het, kan jy gebruik om die hogere vrouens van Stellenbosch te beïndruk.”
Aileen lag. “Daar moet nog baie dinge gebeur voordat ek iemand kan probeer beïndruk.” Sy kyk op en af in die straat voor die gebou. “Sien jy iewers mense?” Sy begin stap na die hoek van die gebou. “As ek reg onthou, het my pa van die plek hier op die hoek gepraat, dalk is hier . . .”
“Cupcakes. Is jy ernstig?” Aileen en Nadia steek in hul spore vas. Die manstem, wat bo die gekap van die bouers hoorbaar is vanuit die ruimte op die hoek van die gebou, is hard en duidelik.
“Maar natuurlik. Hoe kan ek so dom wees? Hoekom sal ons nie in hierdie stylvolle, luukse kantoorblok ’n cupcake-winkel wil hê nie? Dis presies wat ons nodig het om professionele sakemanne te oortuig dat hierdie ’n gebou is waarin slegs uitsoekmaatskappye hulle sal bevind.” Die sarkasme drup behoorlik.
’n Sagter manstem antwoord die eerste een, Aileen kan nie uitmaak wat hy sê nie. Sy trek haar skouers terug en stap vinnig nader.
“Wel, jy moet eenvoudig ontslae raak van haar,” val die harde stem die sagter stem in die rede. “Die laaste ding waarvoor ek nou krag het, is om met die een of ander ryk, oorgewig, spoilt daddy’s girl te onderhandel. Jy sal haar maar net moet oortuig dat sy haar koekies iewers anders moet gaan bak.”
Aileen gee nóg langer treë, maar Nadia rem aan haar arm. “Diep asemhaal, Leen, diep asemhaal. Moet nou nie dat jou rooi kop die oorhand kry nie,” sê sy dringend.
Aileen trek haar arm los. “Om my te vervies vir ’n chauvinistiese idioot het niks met my rooi hare uit te waai nie. Dis ’n beginselsaak.”
Die eerste ding wat sy sien toe sy in die hoekvertrek kom, is die breë rugkant van ’n baie groot man. Een met rooi hare. Nie brons of voskleur nie. Rooi. Baie rooi. Vir een onbesonne oomblik wonder sy hoe haar vingers daarin sal voel.
Sy probeer so kalm as moontlik praat. “Wel, ek is nou hier, jy kan netsowel probeer onderhandel. Dis nou as jy nog ’n bietjie krag oorhet,” sê sy sag, maar haar stem is klokhelder in die kaal ruimte. “Ek is miskien wel ’n daddy’s girl, maar nie spoilt nie, en sover ek weet nie oorgewig nie. En ek sou myself nie ryk noem nie.”
Haar woorde raak weg toe sy ordentlik fokus op die groot man, wat nou omgedraai het. Die groenste groen oë wat sy nog in haar lewe gesien het, pen haar vas. Ten spyte van die honderde sproete oor sy gesig, is die man dodelik aantreklik. En hy het ’n kuiltjie in sy ken. Haar swak hart . . .
Sy hande is op sy heupe, sy hemp se boonste knoop is los en die losgetrekte das, wat seker iewers vroeër die dag netjies was, hang laag teen sy bors. Hy maak sy mond oop, maar maak dit weer toe.
Die ander man kom glimlaggend nadergestap na Aileen. “Middag. Ek neem aan jy is Mac se dogter?”
Aileen knik koeltjies en vermy die groot man se oë. “Ja, dis reg. Ek is Aileen McLachlan. Hierdie is my vriendin Nadia Schoombie.”
“Julian Maree. En hierdie kwaai man is my vennoot, Allen Muir.”
Aileen vou haar arms voor haar bors en kyk na Allen. “Het ons ’n probleem, meneer Muir?”
Allen knip sy oë. Dis heel waarskynlik hoe ’n mens voel as iemand jou met ’n voorhamer tussen die oë slaan. Dronk. Onnosel. Verstom. Verward. Verslae. Dis wat die meisiekind reggekry het deur net hier in te stap. Hy is tussen die oë gemoker en heeltemal uitgeboul. Soveel so dat hy vir ’n paar sekondes nie seker is wie hy is of wat hy hier maak nie.
’n Rooikopmeisiekind met ’n melkwit, amper deurskynende Keltiese vel en blou oë wat hom laat dink aan landerye vol diep-pers laventel, en sy kyk hom uit die hoogte aan. Haar gesig is lank en fyn, en ellelange rooi hare voltooi die prentjie. Die top wat sy aanhet, vou netjies om haar lyf en beklemtoon elke kurwe. En het sy nie kurwes nie. Hel. Hy was nog altyd ’n boob-man en dié girl is baie goed bedeeld. Báie goed bedeeld.
Geleidelik val sy deurmekaargeskommelde breinselle weer in plek en hy besef ’n hele paar goed gelyktydig. Sy is die mooiste vrou wat hy nog in sy lewe gesien het. Sy het rooi hare. Nie ’n skelrooi soos sy eie nie, maar vosrooi. Soos Boerneef se nooi. Sy is Mac se dogter. Sy wil in sy gebou kom winkel-winkel speel. Hy het nog nie ’n woord gesê vandat sy hier ingestap het nie.
Hy rek homself uit en probeer professioneel klink. “Ja, juffrou, ons het ’n probleem. Hierdie is ’n kantoorgebou.”
“My pa se kantoorgebou,” spring sy met ’n stywe glimlaggie in.
Julian skud sy kop dringend. “Uhm, Aileen, ek dink –”
Maar Allen kan uiteindelik weer taamlik normaal dink. Die klein snip! “O?” val hy Julian in die rede, maar Aileen draai net haar rug op hom en stap vinnig op en af in die ruim vertrek.
“Dis absoluut perfek. Dankie, Julian. Ek sal verder met my pa hieroor onderhandel.”
Die volgende oomblik is sy en haar vriendin by die deur uit. Die laaste ding wat Allen sien voordat sy om die hoek verdwyn, is ’n sliert van haar lang, rooi hare.
Julian lag en klap hom op die skouer. “Hoekom sê jy toe nie vir haar nie?”
Allen staar nog na die hoek waar die meisiekind nou net verdwyn het. ’n Glimlag begin speel om sy mondhoeke. “En bederf al die pret? Nee wat, kom ons kyk wat gebeur.”
“Ja?” vra Julian en kom staan voor hom. “Kan ons stylvolle kantoorblok nou skielik wel cupcakes verkoop?”
“Dis nie wat ek gesê het nie,” keer Allen, maar hy vermy sy vennoot se oë.
Julian lag. “Mac gaan bel. Ons moet ’n antwoord gereed hê.”
“Ek het so ’n idee ons gaan sy rooikopdogter weer sien voordat hy met ons praat,” grinnik Allen.
“Stadig, Leen, jy gaan jou splinternuwe karretjie afskryf. Ontspan nou!”
Aileen vou haar vingers styf om die stuurwiel. “Argh! Ek kan my so vervies vir sulke mans! Wie is hy om vir my te vertel waar ek ’n winkel mag hê en waar nie? En wat is verkeerd met ’n stylvolle pâtisserie vol heerlike fyngebak in ’n kantoorblok? Koekies bak! Ek kan nie glo die man is so . . . so onopgevoed nie!”
“Sjoe, ek het jou nog nooit só opgewerk gesien nie,” sê Nadia. “Jy is gewoonlik koel en kalm. Jy word miskien gou vies, soos dit ’n regte, egte rooikop betaam, maar jy koel net so vinnig af ook. Dit lyk my dié man het knoppies gedruk wat nog nooit gedruk is nie.”
Aileen kyk vererg na Nadia en sien hoe haar vriendin styf aan die paneelkissie voor haar vashou. Sy haal haar voet van die petrolpedaal af. Sy ry te vinnig. En sy ís opgewerk. Dit is heeltemal buite haar aard. Die simpel man het haar behoorlik omgekrap.
“Niemand het my nog ooit ’n ryk, oorgewig, spoilt daddy’s girl genoem nie.”
Nadia lag. “Dit was darem voordat hy jou gesien het. En toe kon hy vir ’n tydjie nie ’n woord uitkry nie. Het jy agtergekom?”
“Jy’s laf, man. Hy het seker net aan nog beledigings staan en dink. Ek hoop regtig nie dat ek nodig sal hê om verder iets met hom te doen te hê nie. Hy het my heeltemal verkeerd opgevryf.”
“Soos ek sê . . . jy reageer darem baie heftig op die arme man. Ek het gewag en gehoop dat jy vir die een of ander sexy Fransman sou val terwyl jy daar was, maar lyk my hierdie rooikop het iets reggekry wat nie een van daai ouens kon doen nie.”
“Moenie verspot wees nie, Nadia. Al wat hy reggekry het, is om my vies te maak. En dis definitief nie die regte knoppie om by my te druk nie. Hy is absoluut die laaste soort man in wie ek sal belangstel. Hy’s bossy, beledigend, maak wilde afleidings . . . En om alles te kroon het hy bloedrooi hare.”
“Klink vir my asof julle perfek by mekaar sal pas.”
“Jy moet vir jou snaaks hou.”
“Nee, regtig! Ons besprekingsgroep kry ’n gasspreker wat oor hierdie soort ding gaan kom praat. Ek het solank daaroor begin lees. Mense se persoonlikhede en temperamente verskil radikaal.”
“Presies. Daarom sal party mense net nooit oor die weg kom nie.”
“As jy weet wat iemand anders se swakpunt is, kan jy . . .”Nadia vat skielik aan Aileen se arm. “Sê jou wat! Die gasspreker kom praat Donderdagaand met ons groepie. Sy gaan oor mense se verskillende persoonlikhede en temperamente gesels, dit sal baie interessant wees. Kom saam, toe! Ja, sure, daar is ’n klomp bibliotekaresses, maar daar is ook baie ander interessante mense, jy sal dit geniet.”
Nadia giggel effens. “En hierdie een vrou, Maria, móét ek jou aan voorstel. Ek weet nie eens wat haar van is nie, maar ons almal hang altyd aan haar lippe. Sy moes ook op haar dag rooi hare gehad het, hier en daar slaan dit nog deur. Sy is histeries! Haar lippe is altyd bloedrooi geverf, jy kan haar nie miskyk nie. Sy maak trourokke en daar’s altyd snaakse stories oor haar seun en dogter. Die dogter maak ook klere en die seun is een of ander sakeman. Sy het hoeka vir ons hierdie spreker gereël, glo’n kennis van haar. Maria sê sy hoop om haar seun beter te leer verstaan.”
“Gmf. Ek weet nie of enigiemand die vent wat ons nou net gesien het, beter kan of wil verstaan nie. Dis duidelik dat hy simpel vooropgestelde idees het en afleidings maak voordat hy al die feite het. En ek het nie nodig om te hoor hoekom ek nie van die man hou nie. Ek weet hoekom.”
“Kom in elk geval saam. Ek dink ’n mens kan net iets leer. Toe man, ons kan agterna iets lekkers gaan doen. Dis gewoonlik nie baie lank nie, dan kan ons by Buena Vista ’n draai gaan maak vir ’n nightcap.”
“Nou maar goed. Maar as dit my verveel, loop ons gouer.”
Nadia lag. “Ek twyfel. Jy leer dalk iets oor jouself. Maar vertel nou eers vir my, wanneer trek jy in jou nuwe huisie in?”
“Dit word op die oomblik uitgeverf en –”
“Jy wil natuurlik die kombuis heeltemal oordoen,” terg Nadia.
“Natuurlik! Ek is so opgewonde daaroor. Dankie tog vir my ouma se erfporsie en die drie jaar se Engels-gee in Korea, anders sou ek nooit vir my eie plekkie kon betaal het nie. Ek het regtig baie skraps gelewe in Korea, eintlik nou in Frankryk ook, maar dit was die moeite werd. My spaarvarkie is tot barstens toe vol. Ek sien só uit daarna om my eie ding te doen! Al die groot veranderings is klaar gedoen, my pa was ’n absolute champ en het gesorg dat alles in is wat moet in wees. Dis nog net die laaste verfwerk wat oorbly. Ek kan hopelik teen volgende naweek intrek, wanneer ek meer hulp van my familie en van my pel kan hê.” Sy kyk tergend na Nadia.
“Natuurlik sal ek help, ja. Jy het so rondgerits die laaste paar jaar, ek is baie bly jy’s terug. Ek dink regtig Frankryk en Korea het nou genoeg van jou gesien, dis nou eers ons beurt.”
Aileen glimlag vir haar. “Ja, dit was ’n dolle paar jaar, maar anders as jy wat altyd geweet het wat jy wil doen, het ek het regtig nie ’n clue gehad toe ek klaar geswot was nie. Ek het net geweet ek wil nie ’n ingenieur wees nie.”
“Nog iets wat jy beter sal verstaan ná die praatjie Donderdagaand. Hoekom jy in elk geval ingenieurswese gaan swot het, bly vir my ’n misterie. Dis net glad nie jy nie. En al daai somme!”
“Ek hou van somme, dis die hoofrede hoekom ek daarvoor ingeskryf het. En ek is nie spyt nie. Dis net nie wat ek vir die res van my lewe wou doen nie. Maar ek het baie geleer, en baie daarvan is kennis wat ek ook kan gebruik wanneer ek die nuwe winkel inrig.”
“Ek het vrede oor hoe jou winkel ingerig word, ek stel net belang in die lekkertes wat jy gaan verkoop. Ek kwyl by voorbaat as ek dink dat ek elke dag iets by jou plekkie kan kom eet. Ek is so opgewonde saam met jou! En ek dink die perseel is net reg. Dit lê teen die pad waarop al die toeriste beweeg na Oom Samie se Winkel en die res van die dorp se dinge. Ek het net nie gedink jy sal so ’n groot ruimte wil hê nie.”
“Ek het eintlik iets kleiners in gedagte gehad, maar noudat ek gesien het hoe groot dit is, het ek sommer nuwe idees bygekry. Ek gaan ’n regte, egte Paryse pâtisserie daar staan maak.” Sy klik haar tong. “Koekies! Simpel man. Wat dink hy gaan ek verkoop, flippen lamingtons? Ek vervies my sommer van voor af.”
Nadia lag. “Los nou maar die arme man. Hy gaan nie weet wat hom tref as jy eers volstoom aan die gang is nie.”
“Nee wat, ek dink nie ek hoef hom ooit weer te sien nie. Hiervandaan sal ek met my pa of Evan onderhandel. Julian lyk vir my ten minste na ’n redelike mens, ek’s nie seker presies wat hy vir my pa doen nie. Die gebou bestuur, dalk.”
“Wat sê Evan van jou planne?”
“Jy ken mos vir hom. Regtig die ideale ouboet. Altyd ondersteunend.”
“Is hy nou voltyds saam met jou pa in die besigheid?”
“Ja. Die nuwe naam, McLachlan en Seun, is al opgesit. My pa is so trots.” Sy hou naby die studentesentrum van die universiteit stil en Nadia klim uit. “Baie dankie dat jy jou etenstyd opgeoffer het om saam met my te kom kyk, Nadia. Dis nice van jou.”
“Jy was lank genoeg weg, dis lekker dat ons weer dinge saam kan doen. Ek kom laai jou Donderdagaand op, hoor, jy kan nie uit-chicken nie,” sê sy laggend voordat sy tussen die studente verdwyn.
Aileen kyk haar blondekopvriendin glimlaggend agterna. Sy en Nadia is van die eerste dag op skool al maats. Sy het haar so gemis die laaste klompie jaar en dis so lekker om te weet sy is weer op dieselfde dorp as haar groot vriendin.
Terwyl sy tydelik by haar pa bly, probeer Aileen elke aand vir hulle kos maak. Dit lyk asof haar pa gewig verloor het. Hy was nog nooit die beste kok nie en hy en Evan het seker op wegneemetes en toebroodjies gelewe terwyl sy weg was.
Aileen kyk by die kombuisvenster uit terwyl sy die blaarslaai afspoel, na die boompies wat haar ma geplant het. Haar ma was so lief vir kosmaak. Aileen mis haar nog elke dag. Sy was twaalf en Evan vyftien toe haar ma die lang stryd teen borskanker verloor het. Haar mooi rooikopma sou nooit weer vir haar stories opmaak oor rooikopprinsesse en rooikopfeetjies nie. Maar sy sal dit altyd in haar haar hart saamdra.
Sy sluk teen die knop in haar keel en draai terug om die slaai klaar te maak. Haar pa en broer behoort enige oomblik hier te wees. Maar sy sou vanaand wat wou gee om ook met haar ma te kan gesels. Om te hoor wat sy dink van die rooikopman wat Aileen vanmiddag ontmoet het. Om te vra wat dit beteken dat haar hart so bollemakiesie geslaan het. Om haar te hoor lag.
“Hallo, hallo,” sê haar broer in die deur, en sy vee vinnig oor haar wang.
“Wat ruik ek?” vra haar pa, op sy seun se hakke.
“Lekker tamatiebredie vir die koue aand,” glimlag Aileen.
“Wonderlik! Evan, kry vir ons glase, ek kry die wyn.” Haar pa soek in die wynrak rond. “En toe? Het jy tyd gehad om te gaan kyk na die gebou waarvan ek jou vertel het? Wat dink jy?”
“Ek hou baie van die perseel, ek wil dit graag hê. Ek hoop net nie ek hoef weer met daardie onbeskofte vent te praat nie.”
Haar pa draai om en kyk haar verbaas aan. “Julian? Onbeskof? Dis darem baie –”
“Nee, nie Julian nie, die ander een. Met die rooi hare,” sê sy en voel hoe haar gesig warm word.
Evan kom nader gestap met die wynglase. “Hoekom is jy so rooi? Iemand jou vies gemaak?”
“Klink my so,” sê haar pa geamuseerd en maak ’n bottel wyn oop, maar sy voel sy oë op haar. “Was Allen Muir met ander woorde ook daar?” vra hy dan.
Sy knik en hou haar oë op die slaai. “Ja, wat ’n arrogante vent. Sê ek moet my koekies op ’n ander plek gaan bak. Bid jou aan! Asof wat ek doen, aan koekies bak gelykgestel kan word.”
“Maar is dit nie wat jy wil verkoop nie?” vra haar broer kamma onskuldig en koes net betyds vir die vadoek wat sy na hom gooi. Hy gooi sy hande laggend in die lug. “Ek speel net, man.”
“Ek het my so vervies vir hom, Pa! Wie dink hy is hy? Ek het dit baie duidelik gemaak dat ek van nou af net met Pa en, as dit nodig is, met Julian sal praat. Dankie tog dis Pa se gebou.”
Haar pa stik in sy eerste slukkie wyn. “Wat? Dis nie my gebou nie, Aileen,” proes hy. “Dis syne! Ek dink Julian het wel ’n aandeel daarin, maar Allen is die eienaar.”
Aileen kreun hard. “Moenie dít vir my sê nie! Hoekom het Pa my dan soontoe gestuur?”
“Omdat ek dink dis die perfekte ligging vir wat jy in gedagte het. Ons het nie nou openinge in enige van ons eie geboue nie. Ek het verlede week vir Julian raakgeloop en gevra of hulle nog ruimtes het om te verhuur. Ek het geweet die gebou is in Dorpstraat, en toe hy praat van die ruimte op die hoek, het ek gedink dis net die regte plek vir jou.”
Aileen voel soos ’n klein dogtertjie wat haar bene wil skop en haarself op die vloer wil neergooi van pure frustrasie. “Ek glo dit nie! Dit ís ’n wonderlike ligging, maar ek sal maar iets anders moet soek. Daardie man en ek sal nooit oor die weg kom nie.” Sy lig ’n stuk van haar hare op. “Twee rooikoppe kan net moeilikheid veroorsaak.”
Haar pa sluk aan sy wyn en kyk haar ondersoekend aan. “Regtig? Ek het gedink jy kan enige situasie en enige mens hanteer. Jou menseverhoudinge was nog altyd jou sterkpunt. Ek kan nie dink jy sal met iemand koppe stamp net omdat julle dieselfde haarkleur het nie. Maar nou goed, as jy klaar besluit het, moet ons maar verder rondkyk. Kan ons eet? Ek is rasend honger en jou bredie ruik hemels.”
Haar pa en Evan sit hul glase neer op die groot gedekte tafel. “Kan ons help opdra?” vra Evan, en Aileen beduie na die slaai.
Haar kop werk oortyd terwyl sy die bredie en bykos tafel toe dra. Dit is die perfekte ligging. Haar pa is, soos altyd, honderd persent reg. Maar dis daai man se gebou. Die een met die knalrooi hare en die groen, groen oë. Die een wat haar ’n spoilt daddy’s girl noem. Wat dink sy wil blote koekies verkoop.
“Jy hoef nie so te frons nie, Ounooi,” lag haar pa en sit sy hand op haar arm toe sy gaan sit. “Ons sal wel ’n ander plan maak.”
Hoe kan sy nou vir haar pa sê dat dit presies is wat haar so mateloos irriteer? Sy wil nie hê daar moet ’n ander plan wees nie. Hoe meer sy daaroor dink, hoe meer besef sy dat die ruimte presies is wat sy wil hê. Die ligging is perfek en daar is genoeg plek sodat sy ’n goed toegeruste kombuis daar kan inrig. Haar aanvanklike plan was om die meeste van die bakwerk tuis te doen. ’n Klein winkelruimte waar dit verkoop kon word, met ’n klein kombuisie waar sy net die versiering kon doen, was eintlik wat sy beplan het. Maar vandat sy vandag die plek gesien het, besef sy hoe lekker dit sal wees om ’n groter kombuis daar te hê.
Die vraag is nou net: Hoe gaan sy dit kry sonder om ooit weer met Allen Muir te praat?