Читать книгу Te eenders, te anders - Elsa Winckler - Страница 7

Оглавление

3

Allen draf die treetjies op na sy ma se voordeur. Hy is nie ’n oggendmens nie, en ná sy rondrollery van die vorige nag is hy in ’n vieslike bui. Maar vir sy ma sal hy enigiets doen en wanneer sy vra dat hy voor sy eerste vergadering by haar moet inloer, dan doen hy dit.

Sy ma is die glimlag in sy lewe, sy veilige hawe. Hy was in matriek toe sy pa skielik oorlede is. ’n Saketransaksie wat skeefgeloop het, het sy pa finansieel en emosioneel geknak. Van die groot, vriendelike man wat Allen voorheen geken het, het min teen die einde oorgebly. Al wat Allen vandag regtig onthou, is die waarskuwing wat sy pa tydig en ontydig aan hom en sy suster gerig het: Moet niemand vertrou nie. Veral nie in die sakewêreld nie.

Dis ’n waarskuwing wat hom al baie gehelp het in sy loopbaan en dis waarskynlik die hoofrede hoekom hy op vyf-en-dertig reeds finansieel so sterk is dat hy netsowel kan aftree.

Nog voordat hy kan klop, pluk sy ma die voordeur oop en is hy toegewikkel in ’n omhelsing. Vir ’n oomblik hou hy haar styf vas. Sy ruik na ma, na vars koffie en beskuit, na huis.

“Dankie dat jy ’n draai kom maak. Ek het vir jou ontbyt gemaak.”

“Ma, ek het nie tyd nie . . .” begin hy terwyl hy agter haar aanstap in die rigting van hemelse geure.

“ ’n Mens het altyd tyd om te eet. Sit,” beveel sy, en hy hou op stry. Sy maag het in elk geval nou oorgeneem en hy kwyl behoorlik.

“Hoe gaan dit met Marla? Ek het lanklaas met haar gepraat.” Sy suster is in elk geval nogal vir hom ’n misterie.

“Jou suster werk soos ’n besetene aan die nuwe reeks. Die modeweek is een van die dae en daar is glo nog vreeslik baie wat moet gebeur. Maar sy kom Sondag deur vir ete. Ek het gehoop jy kan ook kom?”

“Klink lekker. Ai, die Marla . . . Dat julle twee albei met BSc-grade sit en heel happy is om heeldag met lap te speel, sal ek nooit lekker verstaan nie.”

“Marla is ’n beroemde modeontwerper, sy speel nie! Om te skep maak ons gelukkig. Dis ons passie. Nie almal wil heeldag in ’n kantoor sit nie. Ons wil iets nuuts maak, of dit nou van lap of wat ook al is. O, wat my laat dink! Ek het ’n baie oulike meisiekind ontmoet,” sê sy ma terwyl sy vir hom spek en eiers skep. Sy skuif die roosterbrood nader en gaan sit.

“Ja?” Ondervinding het hom geleer wat om te doen wanneer sy ma van oulike meisiekinders begin praat. Hy moenie baklei nie, sy steur haar niks daaraan nie. Hy kan ook nie te geïnteresseerd lyk nie, want dan het hy ’n afspraak nog voordat sy klaar gepraat het. Die beste is om so min as moontlik te sê.

“Ag toe, jy. Ek probeer nie vir jou ’n date reël nie, jy het genoeg los flossies wat om jou ronddans. Hierdie meisie sal in elk geval glad nie by jou pas nie. Wat jammer is, want sy is die mooiste meisiekind wat ek in jare gesien het.”

Allen se wenkbroue skiet op. “Dis die eerste keer dat ek daardie woorde uit Ma se mond hoor! Gewoonlik is die meisie waarvan Ma praat net die regte een vir my.”

“Ja, maar dit was voor ek geweet het watter tipe temperament jy het en watter persoonlikheidstipe jy is.”

“Waarvan praat Ma nou?” Hy kry dit nie heeltemal reg om die irritasie uit sy stem te hou nie. Ai tog, dié ma van hom!

Sy ma fladder haar hande in sy rigting. “Ek het my altyd so verknies oor jou. Jy werk so hard en sulke lang ure en die ou meisietjies wat jy date, is sulke ou leëkop-goedjies en hou nooit lank nie. Maar nou verstaan ek.”

Allen glimlag. “Watter kwasisielkundige se boek het Ma nou weer beet? Ma het nou maande lank oor die ‘secret’ gepraat wat Ma glo gekry het. Was dit toe nie die laaste antwoord nie?”

Sy ma lig haar wysvinger kamstig streng in sy rigting. “Hierdie is honderd persent wetenskaplik. Volgens die Myers-Briggs-indeling van persoonlikheidstipes het mense nou eenmaal verskillende persoonlikhede. Daarom weet ek jy sal nie by daai oulike kind pas nie. Tog jammer, maar nou ja.”

Hoogs geamuseerd eet Allen die laaste happies van sy ontbyt. “O, ja? En watse soort persoonlikheid sou Ma sê het ek?”

Sy spring op en gryp ’n notaboekie wat op die kombuisrak lê. “Ons het gisteraand by die besprekingsgroep ’n baie interessante spreker gehad wat vir ons die hele ding verduidelik het. Eers van temperamente en toe van persoonlikhede. Laat ek sien,” prewel sy en lig haar leesbril wat altyd om haar nek hang op.

“Hmmm, hier is dit. Jy het die temperament van ’n ChlorMel,” roep sy ma triomfantlik uit. “Dis hoekom jy so ’n onmoontlike mens is. Luister hier,” en met haar vinger in die lug begin sy lees: “Die ChlorMel is hardwerkend, ingestel op detail, verbaal aggressief, baie outokraties en eiewys. Klink iets hiervan vir jou bekend?” vra sy en kyk hom bo-oor haar bril aan.

Allen lag. “Die eiewys-deel? O ja, vir seker. Dis my ma daai!”

Sy ma pluk haar bril af en kyk hom vies aan. “Dis jý wat hier beskryf word! Luister,” en sy lig weer haar bril op om te lees: “Choleriese mense is geneig om dominerend te wees en wil in beheer wees van alles. Die melancholiese persoon is weer perfeksionisties. Dink jy nie die twee saam som jou perfek op nie? Dis hoekom jy vir jou meisietjies uitsoek wat nie veel tussen die ore het nie. Hulle val in by al jou planne en wil nie in beheer wees nie. Voeg daarby jou fobie om enigiemand te vertrou . . .”

“Dis nie waar nie.”

“Ek was baie lief vir jou pa, maar vandat hy so ingeloop is, het hy baie bitter geword. En ek weet baie van wat hy gesê het, het jy absorbeer.”

“Die rede hoekom ek suksesvol is in besigheid, is juis omdat ek versigtig is. Jy kan nie elke mens vertrou nie. Ja, ek het dit by Pa geleer, maar ek glo nie dis ’n slegte ding nie.”

“Dit raak ’n slegte ding as jy niemand naby jou wil toelaat nie. Daarom die flossies. Jy weet jy sal nooit oor een van hulle ernstig raak nie. En jy is altyd in beheer.”

Allen glimlag. “In beheer wees, sê Ma? Ek ken nog so iemand . . .”

Sy ma ignoreer hom en lees verder uit haar notas. “En jou persoonlikheidstipe sou ek sê is ENTJ. Die E staan vir ekstroversie – dit dui op die invloed van die eksterne wêreld op jou, jou ingesteldheid op die dinge buite jou. Die N is vir intuïsie, dit gaan oor die manier waarop jy inligting versamel. Jy is meer geneig om inligting te vertrou wat abstrak en teoreties is. Jou benadering tot probleemoplossing is intuïtief en innoverend. Die T staan weer vir Thinking. Anders as die J-persoonlikheid, neem jy besluit op ’n objektiewe, rasionele, logiese en konsekwente manier. Die J staan vir judging. Dit dui daarop dat jy tot definitiewe konklusies en waarde-oordele kom. J-persone is gewoonlik ook meer linkerbrein-georiënteerd. Jy is een van life’s natural leaders. En jy’s reguit,” sy skep asem en loer na hom oor haar bril. “Natuurlik ’n eufemisme vir iemand wat soms maar net ongeskik is.”

Maar sy’s nog nie klaar nie, daar loer sy al weer notas toe! “Jy sien dadelik onlogiese en oneffektiewe prosedures en standpunte raak, jy kan die nodige sisteme ontwerp en implementeer om organisatoriese probleme op te los – dié dat jy so hou van baas wees. Jy hou van langtermynbeplanning. Ai, dis so waar – jy sukkel om sommer net spontaan iets te doen. En natuurlik hou jy daarvan as ander mense saam met jou stem. Jy is ook skoorsoekerig en kan onbevoegdheid en onbekwaamheid nie verdra nie.” Triomfantlik hou sy die papier in die lug. “Wat sê jy daarvan?”

Allen staan op en buk om sy ma ’n soen te gee. “Ek weet nie waarvan jy praat nie, Ma, maar as jy my nou klaar ontleed het, moet ek gaan werk. Ek gaan vandag seker maak dat ek beheer uitoefen, baasspeel en . . . wat nou weer alles?”

Sy ma druk hom weg en staan ook op. “Toemaar, jy hoef nie te wonder nie, vir jou kom dit sommer vanself. Maar dis nie hoekom ek jou gevra het om ’n draai te kom maak nie.”

Allen begin aanstap voordeur toe, sy ma kwetterend langs hom. “Wat ek jou eintlik wou vra, is of jy nog ’n spasie in jou nuwe gebou het wat jy wil verhuur? Die oulike meisiekind waarvan ek nou net gepraat het, sy soek ’n plek.”

Sy bui is dadelik opgemors. Hy maak die voordeur oop en draai terug na sy ma. “Daar is ’n vroumens wat belangstel. Sy wil glo cupcakes verkoop. Bid jou aan! Dis bedoel om ’n kantoorblok vir hoogs gesiene sakemense te wees, nie ’n speelgoedwinkel vir rykmans-rooikopdogtertjies nie.” Hierdie keer probeer hy nie eens om die irritasie in sy stem weg te steek nie.

“Rooikop?” vra sy ma met ’n verbaasde laggie.

Hy wys na sy eie hare, skud sy kop en buk om sy ma ’n drukkie te gee. “Twee rooikoppe. Geen manier waarop dit kan werk nie. Maar sy het in elk geval haar stert so in ’n krul getrek vir my, ek dink nie ek sal haar weer sien nie. Julian het my intussen oortuig dat ’n tipe eetplek nie so ’n slegte idee is nie. Die girl van wie Ma praat, waarvoor soek sy ’n winkelruimte?”

Sy ma glimlag breed en maak haar keel skoon. “Uhm . . . nee, weet jy, ek weet nie. Laat ek eers uitvind, ek bel jou,” sê sy vinnig en druk hom amper by die voordeur uit.

“Baai, Ma.” Allen draf by die trappies af, maar gou gaan die voordeur weer agter hom oop. Hy kyk om.

“Is jy vandag een of ander tyd by die nuwe gebou?”

“Ja, so oor die etensuur. Daar’s iemand wat na die kantoorruimte op die tweede verdieping wil kom kyk. Hoekom?”

“Nee, ek wonder maar net,” sê sy ma vinnig en druk weer die deur toe.

Sy ma is weer met die een of ander ding besig, Allen kan sy kop op ’n blok sit. Maar hy het ’n vergadering wat oor ’n paar minute begin, hy sal wel later uitvis wat sy in die mou voer.

“So interessant vir my dat dinge nou só uitwerk. Dink julle nie ook so nie? Jy soek ’n ruimte in ’n gebou, ek het ’n seun wat ’n plek wil verhuur en ons ontmoet mekaar net gisteraand?” babbel die vrolike vrou met die bloedrooi lippe.

Aileen is nog nie heeltemal seker hoe sy in Maria se motor beland het nie. Sy het vir Nadia gaan oplaai sodat hulle na die plek in Andringastraat kan gaan kyk. Nadia het dadelik opgewonde begin vertel dat Maria gebel het, gesê het haar seun het nog ’n ruimte in sy gebou en hulle moet dadelik kom, dan vat sy hulle soontoe.

Maria het daarop aangedring dat hulle met haar motor ry en het nog nie vir ’n oomblik ophou praat vandat hulle ingeklim het nie. Nadia sit voor langs Maria.

“Waar is die gebou?” vra Nadia haar vir die soveelste keer.

“Jong, ek sê vir jou, dit het die wonderlikste ligging. Net reg vir wat jy in gedagte het, Aileen. Aileen, so ’n mooi naam vir my. Is dit Skots?”

“Ja,” antwoord Nadia namens haar. “Haar van is McLachlan, pure Skots.”

“Nou toe nou! My man was ook ’n trotse Skot. Weet jy hoe lyk julle familiewapen?”

Aileen hap ’n paar keer in die lug op die agtersitplek. In haar hele nege-en-twintig jaar het niemand haar al ooit dít gevra nie. “Uhm . . . Ek weet daar hang ’n ding in my pa se studeerkamer, maar ek kan nie onthou presies wat daarop is nie.”

“Jy moet tog uitvind wat julle motto is, dis altyd so interessant. Die Muirs se familiewapen het die kop van ’n man op, die Skotte praat van ’n ‘savage’, en die leuse beteken iets soos “ek oorkom moeilikhede deur geduld”. Sy lag. “Nou nie dat geduld ’n eienskap is wat my seun op die oomblik het nie, maar dalk eendag . . . Hier is ons!” Sy hou vinnig stil. “Kom, julle!” roep sy en spring uit.

Die woord “Muirs” het in Aileen se brein ontplof op dieselfde oomblik dat sy opgekyk het en besef het hulle is byna voor dieselfde gebou in Dorpstraat waar sy ’n paar dae vantevore die mislike rooikopvent ontmoet het. Allen Muir. Hy het dieselfde van wat Maria nou net genoem het. Wat beteken . . . Allen is haar seun.

Nadia kyk om na haar, haar oë groot en vol lag. “Ek het nie geweet wat haar van is nie, ek belowe! Ek kan vir haar sê . . .”

Maar Maria pluk reeds Nadia se deur oop. “Kom, julle tweetjies, kom. Ek wil ook so graag sien hoe dit lyk. Ek dink dis die wonderlikste, wonderlikste ligging. Absoluut ideaal vir jou Franse plekkie, Aileen.”

Nadia klim uit, maar Aileen bly verdwaas sit. Hoe op aarde het sy in dié situasie beland? Sy was op pad om na die plekkie in Andringastraat te kyk, en nou sit sy weer hier. Voor daai man se gebou. Die laaste plek waar sy wil wees.

Sy klim stadig uit. Daar is nie ’n manier waarop sy met grasie uit hierdie situasie kan wegkom nie. Hopelik is hy nie hier nie. Sy kan rondkyk en al die regte geluide maak en dan net later laat weet dankie, maar nee dankie.

Die motordeur is halfpad oop langs haar toe sy sy stem hoor.

“Nadia?” hoor sy hom verbaas uitroep. “Is dit jý wat belangstel?”

Aileen klim maar uit die motor en Allen se kop swaai in haar rigting. Sy oë rek.

Nadia lag verbouereerd. “Ons het nie geweet Maria is jou ma nie. Toe sy sê haar seun het ’n plek beskikbaar, het ons nie geweet jý is . . .” Nadia se stem raak weg en sy kyk smekend na Aileen.

“Wil jy vir my sê . . . Ag, ek glo dit nie!” Maria lag vrolik en wys met haar vinger tussen Allen en Aileen. “Is Aileen die rooikop van wie jy vanoggend gepraat het? Is dit nou nie toevallig nie! Wel, ons is nou hier, ons kan netsowel gou weer kyk.” Sy wink vir Aileen nader. “Kom, kind, ek besef nou jy het al die plek gesien, maar dis altyd goed om met nog ’n paar oë na so iets te kyk.”

Allen lyk net so oorbluf soos Aileen voel. Hy staan met sy hande op sy heupe en staar na sy ma. “Ma, ek het vir jou gesê dat sy –”

Sy ma druk vinnig haar hand oor sy mond. “Jy kan nie sê wat jy vanoggend gesê het nie, dan gaan sy nooit die plek vat nie.” Sy knipoog vir Aileen en vir Nadia. “Ek het vir hom gesê hy is ’n ChlorMel en hy val in daai laaste blokkie van die persoonlikheidstipes, ek kan nie nou die vier letters onthou nie. Maar ek onthou dat die persoonlikhede wat daaronder val, skoorsoekerig en eiewys is. Nadia, watse temperament sou jy sê het Aileen? Ek ken haar mos nog nie so goed nie.”

Nadia glimlag en vermy Aileen se oë. “Ons het net gisteraand daaroor gepraat. Ek dink sy is ’n FlegSan. En sy val ook onder een van die ekstroverte blokkies. Sy kom maklik met mense oor die weg, is baie gelukkig en is meer emosioneel as wat ’n mens dink as jy haar die eerste keer ontmoet. Sy is nie altyd vreeslik gemotiveerd nie, maar ek dink sy het nou haar nis gevind. Sy is spontaan en –”

Maria lag en gooi haar hande in die lug. “Maar dis g’n wonder julle het dadelik vasgesit nie. Alles bots. Allen het in sy lewe nog nooit iets spontaans gedoen nie. En dan het julle nog al twee rooi hare ook. Nou kyk, soos ek die ding sien, hoef julle nie van mekaar te hou om besigheid te doen nie. En wanneer die papiere geteken is, hoef julle mekaar nooit weer te sien nie. Aileen, het jy al iets gesien wat nicer is as hierdie plek?”

Is sy op ’n ander planeet, of wat op aarde gaan hier aan? Aileen kam haar vingers deur haar hare en probeer dink aan woorde wat sy kan gebruik. Enige woorde. Op die oomblik twyfel sy of sy hoegenaamd ’n logiese sin agtermekaar kan sit.

“Nie . . . nie regtig nie,” stamel sy uiteindelik. “Maar Allen wil nie so ’n plek in sy gebou hê nie.”

Maria trek haar aan die arm. “Hy het intussen van plan verander. Ook ’n wonderwerk, sê ek jou. Gewoonlik as hy op iets besluit het, laat hy hom deur niks en niemand van iets anders oortuig nie. Maar skynbaar het Julian dit reggekry om hom die sin van ’n eetplek te laat insien.”

Voor Aileen en Maria om die hoek stap, kyk Aileen terug. Allen se mond is halfpad oop, so asof hy iets wou sê, maar dan skud hy net sy kop en kyk hulle met ’n effense glimlag agterna.

Allen leun teen die deurkosyn van die leë vertrek en kyk met skrefiesoë na sy ma. Hy het mos geweet sy konkel met iets. Kamma vreeslik verbaas dat hy en Aileen mekaar ken! Sy moet twee en twee bymekaar gesit het. En sy het die een of ander plan met die meisiekind, daarvan is hy seker. Net snaaks dat sy vir hom bly vertel die girl pas glad nie by hom nie.

Sy ma het by Aileen ingehaak en is armswaaiend aan die babbel terwyl hulle twee deur die ruimte stap. Sover hy kan uitmaak, kry Aileen nie kans om ’n woord te sê nie.

Sy oë gly oor die rooikop se lyf. Haar reguit vosrooi hare hang laag af oor haar rug. Die jeans, wat styf om haar netjiese boudjies pas, beklemtoon haar lang, lang bene. En voorlangs vlei die sagte top haar wonderlike kurwes. Sy mond word droog en hy kyk vinnig weg.

Nadia kom stadig nader gestap. “Ek is jammer, Allen. Ek het werklik nie besef Maria is jou ma nie. Ons ken mekaar deur die besprekingsgroep, maar ons ken eintlik net mekaar se name. Toe sy bel en van hierdie plek vertel . . .”

Allen staan regopper en druk sy hande in sy broeksakke. ’n Vreemde soort opgewondenheid het in sy binneste kom nesmaak en hy weet regtig nie hoekom nie. “Moenie jou daaroor bekommer nie.” Hy kyk weer in sy ma en Aileen se rigting. “Maar jou vriendin het mos klaar besluit sy stel nie belang nie. Sy moet dit maar net duidelik maak vir my ma.”

“Uhm, sy wil eintlik graag –”

Sy ma kom handeswaaiend op hulle afgepyl. “Allen, skat, jy is mos die salesman. Vertel nou vir Aileen hoekom hierdie plek ideaal is vir haar. Nadia moet terug werk toe, ek neem haar gou. O gats, Aileen, jou motor is nog by my huis. Allen, wanneer julle tweetjies klaar is, sal jy so oulik wees en gou vir haar vat, ek het ongelukkig iets anders aan. Dankie, jy is so ’n ou staatmaker,” en sy gee hom ’n klapsoen.

Die volgende oomblik is hy en Aileen alleen in die leë vertrek. Sy maak haar handsak oop en soek na iets. “Dis orraait. My pa of my broer kan my gou kom haal,” sê sy vinnig en haal haar selfoon uit.

Met twee treë is Allen by haar en hy vou sy hand om hare en die selfoon. “Moenie laf wees nie, ek vat jou. Ons kan dadelik ry, jy stel mos nie belang in die plek nie, of het jy van plan verander?” Hy klink moedswillig, hoor hy.

Haar oë blits en sy probeer haar hand uit syne trek, maar hy hou vas. Hy hou daarvan om so naby aan haar te wees. Sy ruik na . . . Wat is die geur? ’n Sweempie roos, ’n titseltjie angelier, ’n knypie spesery? ’n Beeld van middernagswart satynlakens doem voor hom op. Haar rooi hare oor ’n kussing gesprei . . .

Haar oë vlieg op na syne. En word pers. Gefassineerd hou hy die proses dop. Hy onthou die blou van haar oë. Hel, dit spook nou al dae lank by hom. Maar hier, naby aan haar, word dit ’n dieper kleur. Sy asem raak weg, hy beweeg sy kop laer af na haar . . .

“Hallo, hallo,” roep Julian van die deur af. “Het jy toe ’n ander huurder gekry?”

Sentimeters voor sy lippe aan hare sou raak, tree Allen terug. Hy hou haar oë nog ’n oomblik lank vas voordat hy haar hand los en na Julian draai.

“Nee, die huurder waarvan my ma gepraat het, is toe al die tyd ook Aileen.”

Julian stap laggend nader. “Ja? Dis nou interessant. Wat sê jy vandag, Aileen? Of het jy iets anders gekry?”

“Ek . . . Daar is ’n plek in Andringastraat waarna ek wil gaan kyk. Maar ek het gedink dat julle nie van ’n pâtisserie in julle kantoorblok gaan hou nie. Wat het julle van plan laat verander?”

Julian lig sy hande verontskuldigend op, die pes. “Ek het nog altyd gedink dis ’n goeie idee. Allen is die een wat die probleem gehad het.”

Allen kruis sy arms voor hom. “Ek het mos gesê ons oorweeg dit nou wel.” Hoekom maak hulle dit so moeilik vir ’n man!

Julian lag hom uit. “Wel, julle moet dit maar uitstoei. Allen, die ou wat na die kantoorruimte wil kom kyk, is ook hier. Wil jy vir hom wys of kan ek sommer?”

“Ek vat gou vir Aileen na my ma se huis toe. Haar motor is daar. As jy hom solank rondwys, sal ek bly wees.” Hy kyk op sy horlosie. “Ek sal hoogstens tien minute weg wees. Aileen? My motor staan hier langsaan.”

“Totsiens,” groet sy stil vir Julian en stap voor Allen uit. Hy knik in Julian se rigting en is net betyds om te sien hoe sy oë ook vasgenael is op Aileen se agterstewe. Met ’n vies kyk in sy pel se rigting stap hy agter Aileen aan en byt ’n vloekwoord onderlangs af. Dit het mos niks met hom te doen as ander mans na haar kyk nie! Dis nie asof hulle saam is nie.

Hy skrik vir sy gedagtes. Wat de hel gaan met hom aan? Asof hulle ooit sal saam wees! Hy gee ’n paar lang treë en is net betyds om vir haar die motordeur oop te maak.

Hy stap om en besef eers die probleem toe hy reeds sit en die deur toe is. In sy plat, lae motor, is sy baie naby aan hom. Te naby. Haar geur vul die klein ruimte en elke sel in sy lyf slurp dit op totdat hy aan niks anders kan dink nie.

Hy trek vinniger weg as wat hy normaalweg sou en haar hande skiet na weerskante uit. Sy gryp die deur vas en haar ander hand beland bo-op syne op die rathefboom. Sy ruk haar hand vinnig terug.

“Moet jy so vinnig ry?” pers sy dit deur haar tande uit.

“Jy kan maar aan my vat as jy wil. Jy hoef nie verskoning te maak nie,” sê hy kamstig onverstoord. Hy hoop net dis hoe hy klink!

“Ek kan jou verseker dis die allerlaaste ding wat ek wil doen.”

Allen glimlag. Nie so koel en kalm soos sy lyk nie. Hy vleg behendig tussen die verkeer deur tot voor sy ma se huis.

Voordat hy nog sy deur oopmaak, spring Aileen uit en stap weg. Hy klim stadig uit. Sy het reeds in haar motor geklim en die deur toegemaak, en hy gaan klop daarom maar aan die ruit. Sy rol haar oë en draai dit af.

“Sê jy nie dankie nie?” Hy druk met sy hande teen die motordeur en leun in na haar. Om haar weer te kan ruik? Hy moet regtigwaar ’n grip kry!

Sy draai die sleutel. “Dankie,” sê sy. Hy haal nie sy hande van die motordeur af nie.

“Dankie, Allen,” hou hy aan.

“Ek het mos gesê, dankie.” Sy begin wegtrek.

“Allen. Sê my naam!” Hoekom karring hy so aan die meisiekind?

“Allen,” sê sy ná ’n paar oomblikke uitdrukkingloos en begin ry. Dan stop sy en loer by die venster uit. “Wat het jy vir jou ma gesê van my?”

Hy glimlag en drentel nader, moet nou nie lyk asof hy agter haar aan hardloop nie. “Net dat jy jou stert in ’n krul getrek het en daarom nie die plek sal vat nie.”

Sy trek haar asem diep in en met ’n laaste flits van haar persblou oë trek sy vinnig weg.

Haar motor is al om die draai voor Allen besef hoe breed die glimlag op sy gesig is.

Te eenders, te anders

Подняться наверх