Читать книгу Te eenders, te anders - Elsa Winckler - Страница 6

Оглавление

2

“Die Myers-Briggs-indeling van persoonlikheidstipes is ’n psigometriese vraelys wat ontwerp is om mense se psigologiese voorkeure te meet – hoe hulle die wêreld beskou en die manier waarop hulle besluite neem.”

Aileen sluk ’n gaap in en knip haar oë. Nadia por haar met die elmboog en sy sit regop. Sy moet konsentreer. Die vrou kan haar dalk net help om Allen Muir reg te benader. Sy sal immers om verskoning moet vra vir haar optrede van twee dae gelede. Sy slaap sleg, sy oefen voor die spieël, maar sy kon haarself nog nie sover kry om spyt genoeg te lyk nie.

Want sy is nog altyd vies vir hom. Maar oukei, sy was verkeerd. Haar pa het wel met nog ’n paar voorstelle gekom, en sy het ewe hoopvol na die geboue gaan kyk. Maar sy weet ál meer vir seker dat die rooikopvent se gebou die beste ruimte het vir haar pâtisserie.

Nadia beduie kwaai vir haar om vorentoe te kyk. Sy vou haar arms en probeer luister. Die aanbieder beduie na ’n voorstelling wat sy met ’n projektor teen die een muur gegooi het.

“Belangrik vir die Myers-Briggs-indeling van persoonlikheidstipes is Jung se teorie oor sielkundige tipes. Hy maak die onderskeid tussen twee dichotomiese pare kognitiewe funksies. Eerstens die rasionele funksies – dink en voel – en verder die irrasionele funksies van aanvoeling en intuïsie. Die Jungiaanse teorie sluit in persoonliksheidsinstrumente soos ekstroversie en introversie, aanpasbaarheid, konsentrasievermoë, gevoel en intuïsie.”

“Waarvan praat die vrou tog alles?” fluister Aileen verveeld vir Nadia.

“Sjuut,” fluister Nadia en maak vir haar groot oë. “Luister net, dan sal jy agterkom waaroor dit gaan.”

Aileen vou haar arms en probeer weer fokus. Haar gedagtes is egter so besig met planne vir haar nuwe plek en frustrasie oor die man wat in haar pad staan dat sy sukkel om regtig op die praatjie te konsentreer. Sy sit naderhand vooroor en probeer weer iets inneem. Nadia sal haar sweerlik agterna toets en dan moet sy darem iets kan sê.

“Kom ons kyk eers na die basiese vier temperamente. Dan kan ons later na die Jungiaanse persoonlikheidseienskappe kyk. Die sanguiniese persone is warm, opgeruimd, lewendig en vol pret. Wanneer hulle ’n vertrek instap, word elkeen se gees opgevrolik deur hul uitbundigheid.”

Definitief nie die man aan wie Aileen dink nie! Hy sal niks en niemand kan opvrolik nie, net vies maak en omkrap.

“Die choleriese persoon is warm, vinnig, aktief, prakties en hoogs eiesinnig,” gaan die vrou voort, en Aileen spits haar ore. Eiesinnig. Dís nou wel ’n goeie woord om hom mee te beskryf. Maar sy weet nie van die “warm” nie. Hy was kil en saaklik.

“Hulle is natuurlike sterk leiers en floreer op aktiwiteite. Hulle het baie besliste menings oor kwessies. Gewoonlik het hulle nie maklik simpatie met ander nie, toon ook nie sommer meelewing nie en raak maklik kwaad. Die choleriese persoon het ’n goed georganiseerde intellek, hoewel hulle details vervelig vind.”

“Dit klink presies soos my seun!” roep ’n ouerige vrou uit.

“Dis nou Maria, die een wat trourokke maak. Ek het jou mos van haar vertel,” fluister Nadia.

“Wel, ek ken nie die tante se seun nie, maar wat die vrou pas gesê het, som Allen Muir in ’n paar sinne op.” Aileen tik op haar vingers af. “Eiesinnig, ’n besliste mening, raak gou kwaad. Dis mos nou presies hy.”

“Het jy al iets gehoor wat jouself beskryf?” vra Nadia saggies. “Konsentreer nou nog ’n rukkie, dit sal nie meer lank wees nie.”

Aileen probeer weer luister.

“Die sestien persoonlikheidstipes wentel rondom vier hoof­indikators. Kom ons kyk eers na die E en die I. Die E staan vir ekstroversie en die I vir introversie. Ekstroversie dui op die invloed van die eksterne wêreld op jou, goed soos aksies, dinge, mense en omstandighede. Introversie dui op die invloed van jou interne wêreld op jou, dis nou jou eie idees en refleksies. Mens kan met ander woorde sê die E dui op ’n basiese direksie na buite en I dui op ’n basiese direksie na binne.”

“Kan ons nie maar ’n glas wyn gaan drink nie?” sis Aileen, nou hartlik keelvol van al die gepraat.

“Sy’s nou klaar, man. Luister net nog ’n rukkie.”

“En Nadia, wie is dié mooi meisiekind dan wat jy vanaand saamgebring het?” vra iemand langs hulle toe hulle pas opgestaan het – uiteindelik is al die gepraat verby!

Aileen sug. Sy het gehoop hulle kan vinnig ontsnap. Sy is honger en het nou ’n groot glas rooiwyn nodig. Met ’n stywerige glimlag draai sy terug.

“Hallo, Maria,” groet Nadia vriendelik en vat Aileen aan die arm. “Dis my vriendin, die een van wie ek so baie praat, wat in Frankryk was en nou haar eie pâtisserie gaan oopmaak. Aileen, dis Maria.”

Die ouer vrou kyk glimlaggend na haar en Aileen se glimlag word vanself wyer. Maria se lippe is bloedrooi geverf en haar groot glimlag trek ’n mens in, maak jou lus om self te lag.

“Hallo, mevrou,” begin Aileen, maar sy word toegevou in ’n omhelsing voor sy verder kan praat.

“Nee, o aarde, kind, noem my asseblief Maria. ’n Ge-mevrouery maak my heel verbouereerd. Pâtisserie, sê jy? Dit klink wonderlik, so Frans! Waar is jou plekkie? Ek kom sommer môre ’n draai maak.”

Aileen lag effe senuweeagtig. “Ek is bevrees dit gaan nog ’n tydjie wees. Ek is nog op soek na die regte adres.”

Maria se glimlag word nóg breër. “Nou maar dan praat jy hier met die regte persoon. My –”

“Maria, kom hoor gou hier!”

Maria skud haar kop ongeduldig en kry half rigting na die een wat roep.

“Wag julle net gou hier, ek moet . . .”

Maar genadiglik vir Aileen, skud Nadia laggend haar kop. “Ons kan anderdag kuier, Maria. Ek het nog vir Aileen ’n glas rooiwyn belowe. Ek bel jou, dan maak ons ’n koffie-date.”

“Maria!” roep die stem weer ongeduldig van iewers in die bolling mense.

Maria beweeg daarnatoe, maar praat nog oor haar skouer met hulle. “Ag tog, ek moet nou gaan, maar ons moet praat kind, hoor?” roep sy vir Aileen.

“Gou, kom ons maak ons uit die voete voordat nog iemand jou vaskeer,” sê Aileen en stuur Nadia in die rigting van haar motor.

“Ja, ek het seker iets geleer, maar sjoe, sy’t ’n lang asem,” sug Aileen en lig haar glas rooiwyn vir Nadia. Hulle kon gelukkig nog ’n tafel kry in die besige Buena Vista Social Club. Die plek is duidelik nog net so gewild soos voor sy oorsee is.

Nadia lag haar uit. “Maar dis vir my vreeslik interessant. Gaan jy jou vraelys invul?”

“Ek sal maar sien. Dit was maklik toe sy net van die vier temperamente gepraat het. Maar toe is daar kombinasies en nou klink dit vir my net na ’n deurmekaarspul. En boonop sommer, wat, sestien persoonlikheidstipes! Ek is skoon deurmekaar, ek het geen idee in watter een van die blokkies ek myself moet sit nie, wat nog te sê daai simpel vent.”

“Nee man, die punt is juis dat g’n mens suiwer net een van die temperamente het nie. En dat persoonlikheid ook belangrik is.” Nadia haal ’n notaboekie uit haar handsak. “Kom ons neem vir jou as voorbeeld. As ek moet sê, sou ek dink jou temperament is die van ’n FlegSan. Jy kom gewoonlik goed oor die weg met mense – party rooikoppe natuurlik uitgesluit.” Sy glimlag stout vir Aileen en kyk weer af na haar boekie. “Jy het nie altyd die nodige motivering nie, want jy het die rustelose siel van die sanguin. Hoewel ek dink dat jy nou, ná die kursus in Frankryk, uiteindelik weet wat jy wil doen.”

Nadia frons en blaai om na haar volgende stel notas. “Maar ek weet ook nie. Die flegmaat word nie maklik versteur nie en het gewoonlik haar emosies onder beheer, maar ná Maandag weet ek nie meer of jy as flegmaties beskryf kan word nie,” sê sy doodernstig.

Aileen lig haar ken verontwaardig op. “Presies! Dit was nie in my aard nie, dis nie ek nie – dis daai man, ek sê jou! Oe, ek vervies my sommer weer van voor af.”

Nadia sit haar boekie neer en lig haar glas. “Soos ek sê . . .”Sy glimlag, tel die boekie op en blaai vinnig daardeur totdat sy vind waarna sy op soek is. “Ja, hier’s dit . . . as ons van persoonlikheidstipes praat, sou ek sê jy’s ’n ENFP.”

“Is dit nou een van daai blokkies? Darem snaaks om so as letters beskryf te word.”

“Dis omdat jy so sit en vroetel het dat jy niks hiervan weet nie, jy’t glad nie geluister nie! Ja, dis een van die blokkies. Die letters staan vir ekstroversie, intuïsie, gevoel en persepsie. Dit beteken,” sê sy met ’n vinger in die lug, “dat jy hou van mense, jy soek harmonie in jou lewe, jy maak vinnig konneksies tussen gebeure en inligting, jy wil van geweet wees, maar jy ondersteun ander mense ook. Jy’s spontaan, buigsaam en maak staat op jou vermoë om te improviseer. Die P vir persepsie is jou basiese modus waarmee jy met die wêreld daarbuite te werk gaan. Dit dui daarop dat jy jou oordeel uitstel of oophou en nie soos ’n J vir judgement vinnige afleidings maak en tot definitiewe konklusies kom nie.”

“En jy kan dit alles aflei ná een praatjie? Ek wens ons kon daai man ook so maklik opsom. Dan kon ek dalk weet hoe om hom te benader.”

“Wel, het jy nou al aan ’n manier gedink om om verskoning te vra sonder om om verskoning te vra?”

Aileen sug. “Nee, ek weet nog nie hoe ek dit gaan doen nie. Ek sal regtig iets moet uitdink.” Sy vat ’n sluk wyn en dink ’n oomblik voor sy weer praat. “Ek moet dalk by Julian hoor, dis ’n –”

“Hoor ek my naam?” vra ’n geamuseerde manstem langs hulle.

Aileen kyk vinnig op. Julian staan daar, reg langs hul tafel, met sy hande om vier bottels bier gevou.

“Dis nou ’n verrassing! Ons praat nou net van jou,” sê Nadia laggend.

“Ek hoor so. Ek sal graag hoor wat julle als oor my te sê het.” Hy hou sy hande met die bierbottels op. “Ek gaan net gou hierdie biere afgee, ek’s nou terug,” roep hy en verdwyn tussen die mense.

Aileen volg hom met haar oë totdat hy by ’n groepie aan die oorkant van die vertrek gaan staan. Daar is te veel mense wat rondstaan en sy kan nie uitmaak vir wie hy die bier gee nie.

Sy draai terug na Nadia en skep ’n slag asem. Haar hart klop vinnig, haar hande is skielik klam, haar mond droog – en dit net omdat sy gedink het die rooikopman is dalk in die omtrek. Sy kam haar vingers deur haar hare. Hierdie verspottigheid moet end kry!

“Hier kom hy. Gaan jy hom sommer nou vra?” fluister Nadia.

“Ek sal hoor of ons ’n afspraak kan maak. Ek wil nie sommer hier –” Aileen hou meteens op met praat toe sy sien hoe Nadia se wenkbroue die hoogte in skiet toe sy verby haar loer na Julian.

Nog voordat Nadia haar mond oopmaak, weet Aileen. Die een mens wat sy gehoop het sy nooit weer hoef te sien nie sal nou vanaand, van alle aande, uit al die honderde eetplekke in en om Stellenbosch, ook besluit om by Buena Vista te wees.

“Jy sal nooit raai wie’s ook hier nie,” fluister Nadia dringend voordat haar groot glimlag haar gesig verhelder.

“Ongelukkig kan ek. Dis daai vent,” sis Aileen, en vat ’n groot sluk van haar wyn.

Toe Julian vir hom tussen die skare mense deur beduie het om saam te stap, het Allen gedink hulle gaan buite asem skep. Die kos is baie lekker, die girls wat saamgekom het, is heel vriendelik en aantreklik en, te oordeel aan die enetjie wie se hand heeltyd op sy bobeen bly, heel gewillig, maar hy voel . . . ontspoor is dalk die regte woord om sy gemoedstoestand te beskryf.

Hy wil nog vir Julian beduie hy stap in die verkeerde rigting, toe sien hy haar. Die rooikopmeisiekind van ’n paar dae gelede.

Iets in sy binneste skuif. Vir ’n millisekonde ontmoet hul oë en sy mond is kurkdroog. Dan kyk sy vinnig weg en sluk aan die glas rooiwyn in haar hand.

Bliksem. Weer daai voorhamer-teen-die-voorkop-gevoel. Wat is dit met die vroumens? Sy is vrek mooi, ja, maar g’n mooi girl het hom al so verstrik in sy eie gedagtes en gevoelens gehad nie. Sy is al waaraan hy kan dink.

“Haai, kyk wie’t ek saamgebring,” sê Julian en gaan sit op een van twee oop stoele by die meisies se tafel. Die enigste stoel wat oorbly, is reg langs die rooikop. Allen gaan sit. Die rooikop kyk af in haar glas.

“Naand, juffrou McLachlan,” groet hy moedswillig en sy kyk vinnig op na hom. Selfs in die halflig van die restaurant is haar oë so blou soos hy onthou. Hy het al begin dink hy’t hom dit verbeel.

“Hallo,” byt sy af en skuif in haar stoel sodat sy effens van hom wegbeweeg.

“Dis wonderlik dat ons julle hier raakloop. Aileen het nou net vir my vertel sy wil graag ’n afspraak met jou maak, Julian,” gesels Nadia vrolik. ”Dis hoekom jy jou naam gehoor het.”

“Ja?” sê-vra Julian.

Allen is net betyds om te sien hoe die rooikop haar vriendin aangluur, maar dan trek haar mondhoeke op en sy glimlag in Julian se rigting.

“Ek sal jou bel vir ’n afspraak.”

“Gaan dit oor die ruimte waarna jy gekyk het?” vra Julian en sy knik. Julian slaan met sy hand op Allen se skouer. “Dan moet jy met die baas praat. Ek doen ook maar wat hy sê.”

Voordat Allen kan reageer, staan Julian op. “Nadia, kom help gou vir my, ek koop vir ons ’n rondte drankies.”

Die rooikopmeisiekind hap in die lug en ’n blos klim teen haar hals op. Gefassineerd hou Allen die proses dop terwyl die ander twee kroeg toe stap. Sy het ’n lang, slanke nek en dis asof ’n sagte gloed stadig reg onder haar vel versprei.

“Ek is jammer,” begin sy, en hy sit terug op sy stoel. Dít wil hy nou geniet. Sy vou een hand ongemaklik om haar nek. “Ek wou jou nie hiermee hinder nie. Ek . . .”

Hy lig sy skouer op en vat ’n sluk van sy bier. “En toe is dit nou nie jou pa se gebou nie,” sê hy en hou weer haar nek dop. Sowaar. Hierdie keer is die blos duideliker en versprei dit tot op haar wange.

Haar oë trek op skrefies. “Ek het so agtergekom,” pers sy uit. “Ek het gehoop ek kan met Julian daaroor praat.”

Hy sit sy bier op die tafel neer en vou sy arms. “Jy sal maar met my moet praat. Dis nou natuurlik as jy nog die plek wil hê. Daar is ander mense wat ook belangstel, so jy sal baie gou ’n besluit moet neem.”

Aileen voel hoe haar hele gesig warm word. Wat ’n mislike mansmens! Sy staan op en vat haar handsak.

“Jy was mos in elk geval niks lus vir iemand wat . . . Hoe het jy dit nou weer gestel? O ja, koekies bak in jou gebou nie. Ek sal ’n ander plan maak, dankie,” sê sy deur opmekaar geperste lippe.

Hy staan ook op en steek sy hand uit om haar te keer. Maar net toe storm ’n kort, blonde meisie met baie min klere aan by haar verby en gooi haar arms om Allen se nek.

“Allen, ek wag en wag vir jou,” pruil sy en trek sy kop af.

Iets kouds vou om Aileen se hart en sy draai vinnig weg. Waar is Nadia? Hulle moet hier wegkom.

“Hier’s jou wyn,” sê Nadia se stem agter haar.

“Kan ons asseblief net ry,” sê Aileen kortaf en stap deur se kant toe.

“Aileen, wag nou!” roep Nadia agter haar aan, maar sy stap vinniger. Buite die kuierplek trek sy haar longe vol koel lug. Nadia kom uitgehardloop en Aileen is bly om te sien sy’t haar handsak by haar.

“Wat op aarde het gebeur? Ek het gehoop jy kan die ou sommer so oor ’n glas wyn om verskoning vra en dinge finaliseer.”

“Wel, jou plannetjie het nie gewerk nie,” se Aileen terwyl sy vinnig na Nadia se motor stap. Hoe gouer sy hier kan wegkom, hoe beter. Die prentjie van die blonde girl in Allen se arms laat ’n bitter smaak in haar mond. En vir wat?

“Wag ’n bietjie,” roep Nadia agter haar en gryp haar aan haar arm. “Wat het gebeur?”

“Hy was net sy gewone mislike self, dis al. Ek moet eenvoudig ’n ander plek gaan soek en klaar. Vir daai vent sien ek nie kans nie. Hou my dop soos ’n slang wat iets wil pik en . . . en . . .” Aileen is so opgewerk, sy stap ál vinniger.

“Leen, jy is so oorhaastig. Het hy nie maar net ’n grappie gemaak nie?”

Hulle is by die motor en Nadia druk die knoppie sodat die deure ontsluit. Aileen klim vinnig in. Sy sug en probeer haarself kalmeer terwyl Nadia nog in haar handsak vroetel voordat sy inklim.

Aileen kan nie onthou dat iemand haar al ooit so vies gemaak het nie. Normaalweg kom sy goed oor die weg met enige mens. Maar hierdie man maak haar woedend, sommer as sy hom net sien. En hy is alewig besig om aan haar te karring. En dan word haar mond droog, haar handpalms klam en haar hart verloor sy ritme.

Nadia klim in en skakel die motor aan. Terwyl sy haar gordel vasmaak, kyk sy spottend na Aileen.

“Soos ek sê, die man druk behoorlik jou knoppies.”

Aileen wil haar vervies, maar dan glimlag sy eerder half verleë. “Twee rooikoppe. Wat kan jy anders verwag? Ek sal maar môre weer na die plek in Andringastraat gaan kyk. Dalk lyk dit nou vir my beter.”

“Kom laai my etenstyd op, ek kom saam. Ek dink steeds Dorpstraat is ’n beter adres, maar ons gaan kyk.”

Te eenders, te anders

Подняться наверх