Читать книгу Om Amelie se tafel - Elsa Winckler - Страница 4

Proloog

Оглавление

Die spierwit tafeldoek oor die lang tafel hang tot op die grond. Pienk en wit rose is al langs die middel in groot koper-en-glashouers gerangskik. Die borde is fyn, die messegoed silwer, die servette spierwit, groot en van lap.

Op ’n sytafel staan bakke kos en die geur van skaapboud, gebraaide aartappels en stowepatats hang in die lug. In ’n langwerpige bak is boontjies en in ’n diep glasbak ’n bloedrooi aarbeislaai.

Die mense om die tafel lag, ander skep kos in, party lê op die koel gras.

Amelie lag en wil nader stap. Maar haar voete is swaar en sy kan nie beweeg nie. Sy wil na die mense roep en maak haar mond oop, maar geen klank kom uit nie. Sy steek haar hand uit. Miskien kan sy net aan die prentjie vat.

Maar toe is die tafel en die mense weg en staan die boom alleen en kaal op die werf.

Sy skrik wakker. Haar wange is nat van die trane en die groot gat in haar binneste is groter as ooit tevore. Vir ’n oomblik verbeel sy haar sy ruik haar ma en sit vervaard regop. Maar nee, sy is op een van die agt beddens in die lang saal waar die tienjarige dogtertjies slaap.

Haar mooi ma is dood. Haar sterk pa ook. Sy gaan hulle nooit weer sien nie, nooit weer onder die boom saam met hulle eet nie. Hulle motor lê ver onder in die sloot, het Matrone gesê. Hulle is dood. Sy het bly leef. Daar was niemand anders wat na haar kon kyk nie. Sy het nie tannies en ooms nie en haar oupas en oumas is ook al dood.

Amelie gaan lê weer en draai op haar sy. Sy trek haar bene op en vou haar arms styf om haar knieë. Miskien, as sy ’n rukkie so lê, sal die hol kol op haar maag weggaan.

Om Amelie se tafel

Подняться наверх