Читать книгу Om Amelie se tafel - Elsa Winckler - Страница 6

2

Оглавление

“Bedaar, Amie, bedaar. ’n Mens sal sweer hulle stuur jou oorlog toe soos jy tekere gaan. Dis ’n spanbousessie, nie ’n martelsessie nie,” lag Natalie.

Omgekrap kyk Amelie na haar vriendin. “Een en dieselfde ding, sê ek jou. En vir wat? Om ‘span te bou’?” vra sy sarkasties en maak die aanhalingstekens met haar hande.

“Baie maatskappye doen dit, dis nie ’n vreemde konsep nie,” probeer Natalie paai.

“Wel, dis vir my vreemd. Om ’n hele naweek tyd saam met mense deur te bring, mense saam met wie jy heeldag en aldag werk, terwyl jy aan allerhande simpel goed deelneem, is nié normaal nie. Dis belaglik!” roep sy gefrustreerd uit.

Natalie vat die hand wat beduie in hare vas. “Amelie,” sê sy en druk ’n glas wyn in Amelie se ander hand. “Neem ’n sluk en ontspan. Wat presies ontstel jou so van die hele ding?”

Amelie teug aan haar wyn en probeer kalmeer. “Ons moet soontoe ry. Ek sal saam met iemand anders moet ry, iemand wat ek nie ken nie. Dis ver. Jy weet hoe ek daaroor voel. En …” Sy sug. “En dis iewers op die vlaktes, ver, ver van geriewe. Ek hou van my bad. Ek hou van warm water en elektrisiteit. En as ek nou nog saam met jou of ander pelle kon gaan, is dit ’n ander saak. Maar dis die mense saam met wie ek werk. Ek het niks met een van hulle gemeen nie.”

Natalie sug en hou een vinger in die lug op. “Goed, kom ons praat oor jou eerste probleem. Jou ouers is in ’n motorongeluk oorlede toe jy baie klein was en jy was al een wat oorgebly het. Maar jy het daai aanvanklike vrees oorkom, jy ry maklik saam met mense. Jy sukkel nog net om self te bestuur.”

“Ek het darem al vir my ’n motor gekoop.”

“Presies. Dis vordering. Jy bestuur darem al tot by die eerste stopstraat voor jou deur. Ons volgende mikpunt is dat jy verder as die straat voor jou huis ry,” sê sy met ’n glimlag.

Amelie gee haar ’n kwaai kyk, maar Natalie praat verder. “Almal van ons wat in die weeshuis grootgeword het, het een of ander huge issue, maar ’n mens moet leer om dit te hanteer, anders gaan jy nooit kan groei nie.”

“Al weer Oprah gekyk?” vra Amelie snedig.

Natalie glimlag. “Nee, Amelie, dis gesonde verstand. Wanneer ’n mens jou situasie op ’n afstand beskou, kry jy tog perspektief en dan is baie dinge nie meer so erg nie.”

Sy lig ’n tweede vinger op. “En jou tweede probleem. Ja, sover ek weet, is die Karoo Nasionale Park deel van Sanparke. Dus dink ek nie jy gaan dit heeltemal rough nie. Dis gewoonlik heel beskaafd.”

Amelie snork onvroulik, maar Natalie tel verder op haar vingers af.

“Wat jou laaste probleem betref: Jy is ’n spesiale vriendin en ’n nice mens, maar jy hou jou so eenkant dat mense nie die kans kry om jou te leer ken nie. En ons al twee weet hoekom. Jy is bang vir seerkry, bang om mense in jou lewe toe te laat, want netnou kom hulle iets oor. Maar jy kan nie die res van jou lewe so deurbring nie.” Natalie klink moedeloos. “Gesels met die mense, dalk vind jy uit julle het meer gemeen as wat jy gedink het.”

Amelie sug. “Ek is nie soos jy nie,” brom sy. “Ek hou daarvan om alleen te wees. Ek doen my werk en kom huis toe. Die mense saam met wie ek werk, is nie my pelle nie.”

Natalie staan op. “Jy werk saam met ander mense. Let op die ‘saam met’. Julle het mekaar nodig, of jy dit nou wil weet of nie. Jy hoef nie beste maatjies met hulle te wees nie, maar wees ten minste vriendelik. Ek weet presies hoe jy kan lyk wanneer jy jou Le Roux-gesig opsit. Die rede hoekom jou baas die spanbousessie reël, het heel waarskynlik iets daarmee te doen.”

“Ek hou van my Le Roux-gesig,” brom Amelie. “Dit is en bly ’n simpel idee. Ek is wie ek is, en ’n naweek op die vlaktes gaan my nie skielik in Miss Congeniality verander nie.”

Natalie glimlag. “Ek wonder of hulle al voorheen so ’n spanbousessie gereël het en of dit ’n nuwe ding is.” Sy gee vir Amelie ’n drukkie. “Probeer intussen uit jou dop kruip, gesels met die mense by jou werk, gaan drink ’n glasie wyn saam met een. Dis wat kollegas doen. By the way, wat het van die liewe Jan geword?”

Amelie klap haar tong. “Hy’t vir my ’n bos lelies gestuur.”

Kamma dramaties, trek Natalie haar asem in en hou ’n hand teen haar voorkop. “O nee, net nie dít nie. Net nie lelies nie!” roep sy uit. “Foeitog, dis nou al die tweede ou in ses maande wat die vreeslike fout begaan,” lag sy.

Amelie sug. “Ag, toe nou. Jy weet hoe ek oor bosse lelies voel.”

Natalie gee haar ’n drukkie. “Ek weet. Jou ouers se begrafnis. Maar,” glimlag sy, “dit bly maar vreemd.”

Amelie lig haar ken op. “Wel, dis soos dit is.”

“Ai, en ek het nogal van die liewe Jan gehou,” glimlag Natalie. “Nou nie die opwindendste peanut in die pakkie nie, maar nice.”

“Ek weet,” sug Amelie. “Maar …” begin sy en beduie met haar hande, “daar is net nie fireworks nie, jy weet? Ek het eintlik van die begin af geweet dit kan nie werk nie, maar …”

“… jy was jammer vir hom?” glimlag Natalie.

Amelie lig een skouer. “Seker maar. Anyway, ek het hom laat weet wat dit ook al was, is verby.”

Natalie skud haar kop. “Ten minste weet jy presies wat jy níe wil hê nie,” glimlag sy. Sy kyk op haar horlosie. “Dis later as wat ek gedink het en ek moet waai.”

Amelie glimlag verleë. “Ek is jammer. Ek is mislik vanaand en nou moet jy dit vergeld. Jy’s reg. Dis hoog tyd dat ek ten minste probeer om oor al my geite en issues te kom. Bly nog ’n rukkie, jy hoef nie nou al te gaan nie.”

“Ek gaan gym. En dis hoekom ek eintlik hier is. Ek het jou ook ingeskryf. Van môre af kom jy saam. Ek kom haal jou en,” glimlag sy, “ons gaan met jou motor ry. Jy gaan bestuur.”

Amelie trek haar asem in om te protesteer, maar sy sluk die angstigheid wat in haar opstoot en knik haar kop. “Ek weet nie van die bestuur nie, Nats, maar ek sal probeer. Ek het darem self besef ek moet oefening kry. Noudat dinge by die werk min of meer onder beheer is, hoef ek nie meer so laat te werk nie. Ek het verlede week al begin draf.”

Natalie knik haar kop. “Ek is bly. Die gym is twee blokke van jou huis af. Dis ’n maklike afstand vir jou om self te bestuur. Ons probeer net. Ek is mos by jou.” Natalie gee haar arm ’n drukkie.

Met haar verstand weet Amelie dis belaglik dat sy op agt en twintig nog nooit self bestuur het nie, en hoewel sy al minder paniekerig is by die gedagte aan bestuur, kan sy dit nog nie heeltemal ignoreer nie. Ja, sy ry darem al saam met ander mense, maar die idee dat sy self moet bestuur, freak haar nog bietjie uit.

Desondanks het sy, kort van asem en duiselig van senuwees, so twee maande gelede vir haar ’n motor gekoop. Die leerlisensie was nie ’n probleem nie, dit was en is die praktiese deel wat van haar ’n senuweebol maak. Met eindelose geduld het Natalie haar darem al sover gekry om in die straat voor haar huis te ry.

Elkeen van die prosesse is pynlik, maar sy besef dis nodig. Dit het ’n maand geduur voordat sy self agter die stuurwiel kon inskuif. Daarna het dit makliker gegaan, maar verder as die straat voor haar huis het sy dit nog nie gewaag nie.

“Jy’t nog ’n stoel bygekoop,” glimlag Natalie en vat aan die ruglening van Amelie se nuwe aankopie. “Jou plekkie is besig om huis te word, nes jy altyd wou hê.”

Amelie knik haar kop en kyk om haar rond. Met die geld wat haar ouers vir haar nagelaat het, kon sy gaan swot. Daar was ook genoeg oor vir ’n deposito op hierdie skakelhuisie in die Paarl.

Dis oud en was baie verwaarloos, maar die afgelope twee jaar het sy naweke hard gewerk. Dit begin al beter lyk. En dis háre. Niemand kan dit by haar afvat nie. Niemand kan vir haar sê sy kan nie meer hier bly nie of haar dwing om vreemde mense by haar te laat bly nie. Dis hare. Wel, hare en die bank s’n, maar uiteindelik sal dit net hare wees. Dit was haar vurige droom vandat sy die eerste aand in ’n lang saal saam met ander kinders moes slaap.

“Die tuin aan die agterkant is nog ’n woesteny.” Terwyl sy praat, kyk Amelie by die venster uit na die wildernis wat eens seker ’n tuin was. Wat haar hart gesteel het toe sy die eerste keer na die eiendom kom kyk, was die groot boom aan die een kant van die erfie. Ondanks die onkruid, kon sy ’n lang tafel in haar verbeelding daar sien staan.

Dít was haar huis, sy het nie verder gesoek nie.

Natalie lag. “Jy sal daarby ook kom. Onthou jy nog hoe dit die eerste ses maande gelyk het nadat jy ingetrek het?”

Amelie knik haar kop en kyk om haar rond. “Ek het van die vloer af gelewe. Maar ek kon van toe af elke maand ietsie koop en met my nuwe werk wat soveel meer betaal, behoort ek die plekkie vinniger vol te kry,” glimlag Amelie.

Sy stap saam met Natalie voordeur toe.

“Maak nou pelle met jou kollegas. Dit help nie jou huis is vol meubels en mooi goed en jy het nie mense met wie jy dit kan deel nie,” preek Natalie nog vir oulaas. Sy glimlag. “Jy het mense nodig wat om jou lang tafel gaan sit,” sê sy en sug. “Jy weet, die een waarvan jy altyd droom.”

Amelie sluk aan die knop in haar keel. Natalie ken haar so goed. Sy was die een vir wie sy in die donker ure in die weeshuis van haar droom kon vertel: Die een van die mense aan ’n lang tafel onder ’n groot boom. Dit was nooit nodig om vir Natalie te verduidelik hoekom sy hierdie huisie wou koop nie. Toe sy vir haar die boom wys, het sy geweet.

Hulle vee al twee oor hulle oë.

Natalie lag. “En wie weet, dalk ontmoet jy jou soul mate in die Karoo. Een wat sal weet hy moet liewer vir jou rose of ’n rekenaar present gee as lelies.”

Laggende bruin oë duik onmiddellik voor Amelie op, maar sy skud haar kop beslis. “Jy is die een wat op soek is na ’n soul mate. Ek stel nie belang nie,” terg sy en ignoreer die warm gevoel wat deur haar lyf beweeg.

“Jy’s te gekompliseerd?” lag Natalie.

“Soos jy alte goed weet,” sê Amelie. “Ons was tog van amper altyd af kamermaats.”

“Wie ken jy wat nie ’n bietjie complicated is nie? Die geheim is om nie toe te laat dat dit jou verhoed om gelukkig te wees en liefde te vind nie.”

Lank nadat Natalie weg is, eggo haar woorde nog in Amelie se kop. Liefde vind. Sy is maar skrikkerig daarvoor. En sy het nie ’n sielkundige nodig om te weet hoekom sy so versigtig is nie. Mense gaan weg, of nog erger, hulle gaan dood. Sy hou mense maar op ’n afstand. Op dié manier kan sy seker maak haar hart sal nooit weer so seerkry soos die dag toe sy moes hoor haar ma en pa is dood nie.

Jan het probeer, maar dit sou nooit met hom kon werk nie. Ná die bos lelies is dit vir haar duidelik hy weet nie hoe haar kop werk nie.

“Volgende keer. Ek belowe,” sê Amelie terwyl sy en Natalie tussen die ander mense hulle weg na die zumba-klas baan.

Natalie snork. “Gmf, jy vergeet elke keer van jou belofte. Nee, wat. Ek gaan jou eenvoudig agter die stuurwiel vasbind,” dreig sy en systap ’n paar mense wat van voor af aankom.

Amelie word eenkant toe gedruk en beland agter die breë rug van ’n man wat staan en gesels. Sy probeer om hom loop, maar aan weerskante drom mense. Haar oë sak af. Sy gymbroek pas netjies om ’n paar baie sexy boude. Sjoe. Sy is skoon kortasem.

Sy probeer weer om die man beweeg, maar die vorige zumba-klas het skynbaar so pas klaargemaak. Mense stroom verby. Geïrriteerd deur die man wat die plek vol staan en haar simpel reaksie op ’n netjiese lyf, beur sy weer, en dié keer gebruik sy haar elmboog om ’n pad oop te maak.

Die man beweeg effens weg en sy probeer verbyglip, maar sterk vingers vou om haar boarm.

“Woah, juffrou, dis ’n geniepsige elmboog wat jy daar …”

Sy ruk haar los en draai vies om na hom toe. “As jy nie …”

En toe slaan haar woorde agter in haar keel vas. Dis wragtig die man wat gister haar voetstampery gadegeslaan het.

Hy het ook opgehou praat, maar glimlag breed. “Ek moes geweet het dis jy,” lag hy. “Nog nie ontslae van al die aggressie nie?”

Vererg draai sy weg sonder om hom te antwoord. Simpel vent. Hy staan die plek vol en nou is sý die ene aggressie? Sexy boudjies of te nie, sy hoop regtig sy hoef hom nooit weer raak te loop nie.

Chris kyk die vroumens agterna. Sjoe, wat ’n lyfie. Kyk daardie lang, lang bene. En vir ’n vlietende oomblik het hy ’n glimps gehad van ’n paar baie sexy boobies. Maar o aarde, wat ’n beneukte entjie mens.

As sy nie haar voet uit frustrasie stamp nie, gebruik sy haar elmboë om ’n pad oop te baklei. Hy kyk rond. Hy het seker op ’n slegte plek staan en gesels, maar almal doen dit maar hier. Niemand raak opgewerk daaroor nie.

Hy het haar nog nooit by die gym gesien nie. Hy is ’n volbloedman en so ’n lyf sou hy nie misgekyk het nie.

Die musiek begin speel in die vertrek waarin die meisiekind verdwyn het en hy stap na die gewigte waar ’n klomp ander mans staan en oefen. Mmm, van hier af kan hy die groepie dophou sonder dat sy dit agterkom.

Hy is opgewonde oor die naweek. Sy werk maak hom opgewonde, maar hierdie keer is die vooruitsig dat hy dié enetjie ’n naweek lank kan dophou, ook daar. Hy glimlag.

Die klomp langsaan buk almal vorentoe, maar sy oë val net op een paar netjiese agterstewe. Begeerte slaan soos ’n vuishou teen sy maag en hy laat sak die gewigte vinnig. Bliksem. As hy nie vanaand ’n voet wil verloor nie, sal hy moet begin konsentreer op wat hy doen.

Om Amelie se tafel

Подняться наверх