Читать книгу Omdat jy jy is - Elsa Winckler - Страница 4

1

Оглавление

Kathleen draf die trappies op na die prokureur se kantoor waar sy die voordeursleutel van ta’ Peet se huis moet gaan haal. Die kantore, eens ’n ou huis wat in ’n werkplek omskep is, is in die hoofstraat van Greyton en sy het dit maklik gekry. Dis al vieruur en sy wil nog die nodige gaan koop voor die winkels toemaak. Sy het ’n supermarkie langs die pad gesien waar sy alles behoort te kry wat sy sal nodig hê, maar as sy reg onthou, maak besighede op Greyton vyfuur toe.

Sy is nog altyd vies vir haar twee susters wat dinge so bewimpel het dat sy wat Leen is eerste haar maand lange ballingskap, soos Livie daarna verwys, op Greyton kom deurbring. Sy het probeer keer, maar uiteindelik was dit duidelik dis doodeenvoudig vir haar makliker om nou weg te kom as vir Livie en Bella.

Maar sy hanteer alle moeilike situasies op dieselfde manier – sy maak ’n plan en sy hou by die plan. Dinge val gewoonlik dan in plek. Sy moes in elk geval tyd hê om haar besigheidsplan vir haar aanlyn-onderneming op te stel en hoewel dit makliker sou wees as sy in Johannesburg gebly het, maak tegnologie dit moontlik om ’n besigheidsplan op enige plek op te stel.

En hier is sy nou. ’n Maand weg van alles, het sy redeneer, is eintlik net wat sy in hierdie stadium in haar lewe nodig het.

Omdat haar aanlyn-onderneming so half uit nood ontstaan het, het sy nooit kon droom dat dit so sou floreer nie. Sy wou net iets doen om haar pa en susters te ondersteun nadat sy klaar geswot het, en ta’ Peet teruggetrek het Greyton toe. Dit moes iets wees wat sy van die huis af kon doen sodat sy seker kon maak haar pa eet gereeld en dat daar vakansies ’n tuiste vir Livie en Bella sou wees om na terug te keer.

Kathleen glimlag toe sy onthou hoe sy op soek was na kombuisware wat moeilik bekombaar is en dit haar getref het – sy gaan ’n aanlyn-besigheid begin om sulke ware te verkoop. Oor die afgelope drie jaar het die besigheid sowaar ’n lewe van sy eie gekry.

Dis lankal nie meer uit nood dat sy ’n aanlyn-onderneming bedryf nie. Livie en Bella het klaar geswot en hul eie blyplekke gekry. Haar pa het aangekondig hy gaan ’n kleiner plek koop en sy hoef hom nie meer te “babysit” nie en sy het ’n plek naby Livie en Bella gekoop. Nou moet sy ’n duidelike sakeplan vir die toekoms van die besigheid opstel.

Nee wat, dis eintlik nie so sleg om die eerste een te wees wat in ta’ Peet se huis kom bly nie. Sy frons. Buitendien, Livie se lewe is stadig maar seker besig om na normaal terug te keer ná ’n verhouding wat verbrokkel het, sy wil nie die een wees wat haar dwing om iets te doen waarvoor sy nie nou kans sien nie. Haar sus praat nooit oor wat presies gebeur het nie, maar hulle almal het bekommerd toegekyk hoe die man in haar lewe haar so gemanipuleer en afgekraak het dat daar baie min van hul sorgelose, vrolike sus oorgebly het. Dis ’n jaar later en ’n mens kry gelukkig al hier en daar glimpe van die ou Livie.

Kathleen sug. Sy is ’n bietjie bekommerd oor Bella, maar miskien sal haar kleinsus een van die dae gereed wees om te praat oor die rede hoekom sy alle mans op ’n afstand hou. Dis nie asof sy nie met mans uitgaan nie, inteendeel.

Oor hul pa is sy baie gerus, hy is baie gelukkig in sy kleiner huis en het iemand aangestel wat kos maak en die huis aan die kant hou.

So, hier is sy nou, op Greyton. Hoekom hul geliefde tante wou hê hulle moet elkeen vir ’n maand hier kom bly, is nog vir niemand duidelik nie. Dalk is daar tog ’n brief vir hulle in haar huis of by die prokureur wat lig op haar voorwaarde kan werp.

Die deur na die prokureur se kantoor staan oop en Kathleen stap in. Die sleutel vir ta’ Peet se huis is hopelik by die ontvangsdame, vir lang geselse met die prokureur het sy nie nou lus nie. Waarskynlik is hy besig, want haar haastige oproep vanoggend van die lughawe af het hulle nie juis baie tyd gegee om vir haar koms voor te berei nie. Gewoonlik is sy meer georganiseer, maar nadat sy binne ’n week besluit het om af te kom, moes sy so baie dinge gereed kry vir haar besigheid dat sy eers vanoggend onthou het sy moet reël vir die sleutel vir ta’ Peet se huis.

Agter die toonbank sit ’n jong meisie met ’n groot glimlag.

“Middag, jy is seker Kathleen Mulder?” vra sy vriendelik.

Kathleen glimlag vir die ontvangsdame. “Ek is. Kan ek die voordeursleutel van my tannie se huis by jou kry, asseblief?”

Sy oorhandig ’n bos sleutels. “Hier is dit, maar meneer Terblanche wil graag met u gesels.”

Agter haar gaan ’n deur oop.

“Ek is bietjie haastig –” begin sy, maar word deur ’n stem agter haar onderbreek.

“Juffrou Mulder? Kathleen?”

Sy draai om. Agter haar staan twee mans, een staan met sy rug na haar toe, besig op sy selfoon. Die ander een steek sy hand uit.

“Ek is Koos Terblanche, die prokureur. Welkom in ons dorp. Het jy die sleutel gekry?”

“Dankie, ja, ek het. Ek …”

“Kan ons ’n paar minute gesels?” vra hy. “Ek belowe dit sal nie lank neem nie.” Hy kyk na die man langs hom. “Steyn, dis die dame van wie ek jou vertel het.”

Steyn hoor Koos se stem, maar hy tik die boodskap op sy foon klaar en stuur dit weg. Sy ma kry seker weer die piep, maar hy wil eers seker maak van sy blyplek voordat hy met haar praat. Sy is kapabel en stuur al drie sy susters om te kom kyk of hy oukei is. As hulle hom nou moet sien, sal hulle hom dadelik in die naaste bed stop. Hy voel ellendig en bly met groot moeite regop.

“Steyn …” sê Koos weer en half geïrriteer draai Steyn om.

“Kathleen, dis Steyn Erasmus. Steyn, Kathleen Mulder.”

’n Oomblik kantel die wêreld om hom. Magtig, hy moet slegter voel as wat hy gedink het. Om met ’n pynlike arm so ver te bestuur was beslis nie baie slim nie, maar hy moes net wegkom. Ten spyte van die helse pyn in sy skouer en die longontsteking wat hom nog nie heeltemal gelos het nie, kan hy sy oë nie van die vroumens afhaal nie.

Kathleen. Die naam pas by haar porseleinfyn gesig. Sy’s lank. En mooi. Vrek mooi. En sy ruik na blomme. Landerye vol blomme. Lang, reguit blonde hare hang laag af teen haar rug. ’n Paar ligblou jeans met ’n skeur bokant die een knie pas netjies om ’n baie sexy lyf. Mooi skouers steek bokant ’n wit kanttoppie uit. Blou oë kyk hom koel aan. Sy steek haar hand uit. Hy huiwer ’n oomblik, want iets sê vir hom dis nie ’n goeie idee om aan haar te raak nie.

Sy lig haar ken, haar arm begin sak. Eers toe steek hy sy hand uit. Haar vingers fladder soos ’n verskrikte voël se vlerke onder sy hand. Interessant. Toe nie so koel en kalm soos wat sy voorgee nie.

Voor hy iets kan sê, trek sy haar hand vinnig uit syne en kyk na Koos. “U wou gesels, meneer Terblanche? Soos ek gesê het, ek is haastig …”

Koos sit ’n hand op haar skouer en stuur haar in die rigting van sy kantoor. “Ja, ja, net ’n paar minute. En sê asseblief Koos. Op Greyton is ons baie informeel. En op Greyton, Kathleen, sal jy agterkom, het ons baie tyd.”

Koos draai skuins om die deur toe te maak en sien nie hoe die vrou haar oë rol nie. Steyn grinnik. Hy verstaan haar irritasie baie goed en ’n maand gelede sou hy heel waarskynlik net so geïrriteer gereageer het. Sy’s haastig, sy het dinge wat sy wil gaan doen, sê haar hele lyf.

“Steyn hier soek ’n blyplek vir twee maande. Jou tante het gereeld die klein kothuisie in haar tuin uitverhuur en ek het die verhurings vir haar hanteer. Steyn het so tien dae gelede gevra om die kothuis vir die volgende twee maande te huur en ek …”

“Die kothuis? Ek kan nie ’n kothuis onthou nie?” vra sy fronsend.

“Ja, jou tante het die vervalle geboutjie op die erf laat regmaak en die afgelope paar jaar het sy dit gereeld uitverhuur. So, wat sê jy?” Hy glimlag. “Jou tante het my oordeel vertrou. En jy het my ietwat onkant betrap toe jy van die lughawe af bel om te sê jy is op pad. Ek weet natuurlik jy en jou susters gaan elkeen hier kom bly vir ’n maand, maar ek het nie gedink een van julle sal dadelik wil kom nie. Ek weet ek moes dit met julle bespreek het, maar …” Hy sprei sy hande voor hom uit. “Ek hoop ons kan mekaar tegemoetkom.”

Sy maak haar oë ’n oomblik toe, pers haar lippe saam en druk twee vingers teen haar slape. Die girl is duidelik nie baie opgewonde oor die idee nie.

“Ek is jammer, Koos, dit gaan nie werk nie. Maar ek verstaan die probleem. Meneer Erasmus kan in die kothuis bly totdat hy ’n ander plek gekry het om te huur. Ek is hier vir ’n maand en dan gaan my twee susters ook elkeen ’n maand lank hier wees. Ek … ons sal verkies dat daar nie ander mense op die perseel is nie.”

“Maar, Kathleen –” begin Koos.

Steyn sit sy hand op Koos se arm. “Dis fine, Koos. Ek sal môre ’n ander plek soek.”

“Maar jou arm …” kap Koos teë en beduie na die hangverband waarin sy een arm rus.

Steyn ignoreer hom en draai na Kathleen. “Sal ons ry?” vra hy en lig sy hand op met die tuinwoonstel se sleutel daarin.

Al haar aandag is nou egter net by die prokureur. “Meneer Terblanche, ons het gewonder – my tannie het nie dalk ’n brief by julle vir ons gelos nie?”

Koos skud sy kop. “Nie by my nie. Maar as jy iets kry, laat weet my tog. Ek is net so nuuskierig oor hoekom sy julle –”

“Dankie,” onderbreek Kathleen hom. “Kom ons ry.”

Sonder om weer in sy rigting te kyk, draai sy op haar hak en groet vir Koos oor haar skouer. Steyn stap agterna, sy oë sak af na waar die punte van haar lang hare wip-wip bokant ’n netjiese sitvlak. Hy sluk ’n kreun in. Vrek. Hy kan skaars regop bly, sal hy nou waaragtig soos ’n tienerseun oor ’n vroumens se agterstewe loop en kwyl.

Kathleen kyk in die truspieël van die huurmotor of die plat, swart sportmotor haar nog volg. Sy leun vorentoe en stel die lugverkoeling in die motor op. Haar hele lyf gloei en vandat Steyn Erasmus haar hand in sy groot ene toegevou het, het haar hart nog nie ophou rondspring in haar binneste nie.

Sy is nege-en-twintig, goeiste, nie ’n lawwe bakvissie nie. Ja, hy is ’n mooi man, maar sy is hier om ’n besigheidsplan op te stel, nie om haar te vergaap aan mooi mans nie. Vir tall-dark-en-handsome-met-viooltjieblou-oë het sy beslis nie tyd nie.

Veral nie een met ’n hangverband om sy een arm nie. Wat sou die man oorgekom het? En hoe bestuur hy met die een arm?

Sy hou die stuurwiel stywer vas. Dit het niks met haar te doen nie. Hy is ’n groot man, hy kan na homself omsien. Buitendien, sy gaan so besig wees die volgende paar weke, sy het eenvoudig nie tyd om nog by iemand anders se beseerde arm betrokke te raak nie.

Ta’ Peet se geld gaan baie help met haar planne, maar sy sal ook hulp van die bank moet kry en hulle wil ’n mooi uiteengesette besigheidsplan hê. Sy het iets daarvan op universiteit geleer, maar dit was baie lank terug en sy onthou nie veel daarvan nie. Presies wat dit is en hoe ’n mens dit doen, sal sy van voor af moet uitvind, maar sy het ’n maand om dit uit te pluis en die BCom-graad sal hopelik iewers inskop.

Wat maak die vent op Greyton? Hy is groot en gespierd, maar daar is donker kringe onder sy oë en hy is blekerig. Miskien is dit maar hoe hy lyk, hoe sal sy weet?

Sy skud haar kop, vies vir haarself. Hy reken hy kan môre ’n ander blyplek kry, so sy sal hom nie gou weer sien nie.

By die oprit na ta’ Peet se huis draai sy in en beduie deur die venster Steyn moet agter haar aanry. As sy reg onthou, is daar baie parkeerplek op die erf. Sy parkeer voor die huis.

Soos baie van die huisies op Greyton is hierdie een ook tot sy oorspronklike glorie herstel. Sy en haar susters het baie naweke vir ta’ Peet help verf en gordyne maak. Die resultaat herinner ’n mens aan ’n prentjie van huise op die Engelse platteland. Die hele dorpie is boomryk en hier voor ta’ Peet se huis is ook baie bome. Maar anders as gewoonlik, is die tuin verwaarloos.

’n Oomblik vergeet sy van die man wat agter haar aangery het en staar na die plek wat soveel heerlike herinneringe vashou. Sy was seker vier jaar laas hier. Hoekom het sy so lank gewag?

Sy onthou nog hoe ta’ Peet sak en pak by hulle kom intrek het om na haar, Livie en Bella om te sien ná hul ma aan borskanker dood is. Kathleen het nog verslae gewonder hoe sy haar pa kan help, toe ta’ Peet daar opdaag. Leen en haar twee susters was toe nog op laerskool, en ta’ Peet het gebly totdat Bella klaar matriek geskryf het. Eers toe het sy weer die drade van haar eie lewe opgetel en teruggetrek Greyton toe.

Ta’ Peet is nooit getroud nie en vir hulle was sy altyd ’n tweede ma. As studente op Stellenbosch het sy en haar susters gereeld kom kuier. Soms een-een, soms was hulle al drie saam hier. Maar vandat hulle begin werk het, het die lewe sy loop geneem en het hulle al minder tyd gehad om te kom kuier. En nou is ta’ Peet dood.

Hartseer kom sit in ’n knop in haar keel, maar sy gryp haar handsak en klim sluk-sluk uit. Daar was nog nie tyd om regtig oor ta’ Peet te treur nie, maar sy wil eers die man in die kothuis kry voordat sy haar aan haar trane kan oorgee.

Hy het reeds uitgeklim, sien sy en stap oor na waar hy parkeer het.

“Die woonstel behoort hier aan die agterkant van die garage te wees,” beduie sy.

Of die lig nou snaaks val of wat weet sy nie, maar hy lyk besonder bleek. Hy lig ’n sak stadig uit die motor met sy gesonde arm.

“Kan ek help?” vra sy.

Hy skud sy kop. “Ek kom reg.”

As die trek om sy mond enige aanduiding is, het hy baie pyn, maar hy begin stap in die rigting wat sy beduie het en sy volg hom. Hardekwas, wil nie gehelp wees nie – sy is vir net ’n paar minute bewus van die man se bestaan, maar sy weet reeds watter karaktereienskappe hy besit.

“Toe ek laas hier was, was dit net ’n vervalle kamer …”

Sy kyk op en gaan staan stil. In die plek van die vervalle gebou wat sy onthou, is ’n netjiese kothuisie, kompleet met ’n vriendelike stoep en staandak. Sy lag. “En nou is dit ’n pragtige plek.”

Steyn stap by haar verby en laat val sy sak op die stoep. “Ek … ek sal regkom, dankie.”

Voor sy ’n woord uitkry, is hy in die huis en trek die voordeur agter hom toe. Die sak bly staan op die stoep.

Kathleen staar na die deur. Het hy iets om te drink vir die pyn? Moet sy die tas inneem? Moet sy ’n dokter vir hom kry? Sê nou …?

Sy draai effens besluiteloos om en stap na haar motor toe. Dit het niks met haar te doen nie, sou haar susters vir haar preek. Moenie jou almal se ellende so aantrek nie, sou haar pa sê. Maar het die man ooit iets om te eet?

Kos. O, aarde. Haar horlosie wys sy het nog net ’n paar minute oor om die nodige te koop. Miskien moet sy net vir die man melk en brood kry of …?

Niks met jou te doen nie, niks met jou te doen nie. Al prewelend ry sy vinnig terug na die hoofstraat.

Omdat jy jy is

Подняться наверх