Читать книгу Omdat jy jy is - Elsa Winckler - Страница 7
4
ОглавлениеKathleen probeer konsentreer op die papiere wat sy by die bank gekry het oor hul vereistes vir ’n besigheidsplan, maar sy is nog so ontsteld, die lettertjies wip net op en af voor haar.
Dis al amper twee-uur en sy het nog nie middagete gehad nie. Sou Steyn al geëet het? Sy is onmiddellik opgewerk. Hier sit sy al weer en dink aan hom. Soos wat sy die afgelope paar uur gedoen het.
Hy het dit duidelik gemaak hy het nie haar hulp nodig nie.
Maar sy onthou hoe styfgespan sy lyf vanoggend was, hoe bleek hy was.
Dis nie haar probleem nie, dit is nié haar probleem nie. Sy ma en susters het vir hom kos gebring, hy kan op sy knieë soontoe kruip vir al wat sy omgee. Dis erg genoeg dat hy haar vrede versteur, sy gaan haar nie oor hom bekommer nie.
Maar toe sy haar kom kry, het sy twee toebroodjies gemaak – sonder ’n plan. Die kos wat sy ma-hulle gebring het, is vars en moet nog voorberei word en van wat sy kon sien, kan die man nie eens lank regop staan nie, wat nog te sê kos maak.
Voor sy van plan kan verander, sit sy ’n servet oor die bordjie en stap by die agterdeur van die huis uit. En steek in haar spore vas. Op die onderste trappie lê Hond.
Toe hy haar sien, wip hy regop en lag met sy tong wat uithang. Dis in elk geval soos wat dit vir haar lyk.
“En toe, jy laat my bo-op die man val en maak jou toe uit die voete, nè?” raas sy.
Hond gee ’n kermgeluid en gaan lê met sy kop op sy voorpote.
Sy snork verontwaardig. “Ek is vies vir jou, dit help nie om my met sulke oë aan te kyk nie. Wat moet die man van my dink?”
Die hond sit al twee voorpote oor sy snoet, so asof hy ook vir haar skaam kry.
“Dit was nie ek nie, dit was jy!” Hond kantel sy kop. “Jy’s vuil,” sê sy en stap vinnig by hom verby. “Bly net daar, ek vat net kos vir die man, dan kom bad ek vir jou.”
Toe sy die woord “bad” sê, spring hy op en verdwyn om die hoek van die huis.
“Ha!” roep sy agter hom aan. “Nou weet ek hoe om van jou ontslae te raak.”
Sy stap vinnig tot by die kothuis. Kyk nou net na haar – sy praat met ’n vreemde hond en dra kos aan vir ’n vreemde man wat nie haar hulp wil hê nie. Pateties, dis wat sy is.
Sy klop, maar toe sy niks hoor nie, draai sy die voordeurknop. Die huis is nog steeds nie gesluit nie. Die ellendige mansmens. Nou sal sy haar daaroor ook bekommer.
“Steyn!” Sy stap in. Sy sit die broodjie op die kombuistoonbank neer. “Hier is ’n toebroodjie. Sluit jou deur!” Sonder om te luister of hy haar hoor, maak sy haar vinnig uit die voete.
Steyn hoor Kathleen se stem verlangs, maar hy raak weer aan die slaap. Toe hy uiteindelik wakker skrik, is hy ’n oomblik lank gedisoriënteer. Operasie. Longontsteking. Greyton. Hy is op Greyton. Hy swaai sy bene oor die rand van die bed en staan op.
Volgens sy horlosie is dit halfvier. Sy instink is om om te draai en verder te probeer slaap, maar sy skouer is vrek seer. En hoewel hy glad nie honger voel nie, weet hy hy moet iets eet.
Hy haal ’n broek en ’n T-hemp uit sy sak. Om die broek aan te trek, is nie ’n probleem nie, maar hy moet eers sy arm uit die hangverband haal om die T-hemp aan te trek. Sy arm is wragtig seerder vandag as gister.
Magtig, hy kan nie glo hoe min krag hy het nie. Dis asof sy lyf hom wil terugkry ná gister se mishandeling. Dit was ’n sotlike ding om self so ver te bestuur, hy besef dit nou. Die verstandige ding sou gewees het om by sy ma te gaan bly totdat hy meer mens voel voordat hy die amper twee uur lange trippie Greyton toe aangepak het. Maar hy was so keelvol van mense om hom, hy wou net wegkom.
Dis beslis weer tyd vir ’n pynpil. Kathleen het vroeër vir hom pille gegee, dis seker nog in die sitkamer. Hy is verbaas dat hy, ten spyte van die pyn in sy skouer, weer aan die slaap geraak het nadat almal hier uit is, maar nou moet hy beslis iets eet en weer ’n pil drink. Hy kners op sy tande en stap stadig sitkamer toe. Verdomp, hy beweeg soos ’n ou man.
Die houers met medikasie staan nog steeds op die tafel. Hy tel dit op en stap kombuis toe om water te kry. Dis toe dat hy die netjies toegemaakte bordjie sien staan. Kathleen het iets gesê van ’n toebroodjie. Sy maag grom. Hy ís bleddie honger.
Hy is net klaar met die toebroodjie, toe hoor hy ’n gekrap aan sy voordeur. Wat de hel? Dis seker ’n tak of iets. Hy gaan in elk geval nou weer slaap. Maar halfpad terug kamer toe, begin die krappery in alle erns. Vies ruk hy die deur oop.
“Woef,” hoor hy van onder en toe hy afkyk, staan ’n hond met sy tong wat uithang vir hom en kyk.
“Wie’s jy?” brom hy vies.
“Woef.”
“Dieselfde vuil brak van vroeër?” Verbaas hurk hy af en krap die hond onder sy ken. “Iemand het jou gebad, lyk dit my.”
Die hond gee sy hand ’n lek en draai weg. Hy begin teen die trappies af draf. Steyn leun teen die deur en kyk hom agterna. Hy verlang sommer na Kolle, die hond wat hy op skool gehad het. Vandat hy op sy eie bly, is daar skaars tyd om na homself te kyk, wat nog te sê van ’n ander lewende wese.
Die hond kyk terug oor sy skouer en blaf weer. Hy draf weer terug tot voor Steyn en sy geblaf is nou dringender.
“Wat is fout?”
Die hond draai weer weg en storm blaf-blaf teen die trappies af. Aan die onderkant kyk hy terug, gee weer ’n paar blaffies en draf omkyk-omkyk in die rigting van die groot huis.
Iets moet fout wees. Steyn stap so vinnig soos wat sy wankelrige bene hom toelaat agter die brak aan, om die hoek van die huis tot voor die voordeur. Die hond krap-krap teen die voordeur en begin met ’n allervreeslike geblaf.
Die deur word oopgeruk. “Hond, sjuut!” raas Kathleen.
Steyn gryp die pilaar aan die bokant van die trappies vas. Bliksem. Die vroumens beroof hom van sy laaste bietjie asem. Vandag het sy ’n kort rompie aan wat bokant haar knie sit. Daarby het sy ’n ligblou toppie aan wat styf om haar bolyf pas en elke kurwe beklemtoon. Haar hare is deurmekaargekrap en sy het ’n gefrustreerde uitdrukking op haar gesig, maar dis heel waarskynlik omdat sy hom weer sien.
“Steyn!” roep sy bekommerd uit en kom vinnig nader. “Wat is fout? Is jy oukei?”
“Dankie, ja.”
“Wat soek jy hier?”
Hy beduie na die hond. “Hy het my kom haal.”
Sy glimlag, die kuiltjies maak vir ’n paar millisekondes hul verskyning.
“Hy het my ook vroeër kom haal. Maar ek is nie siek nie …”
“Enige ander probleme?”
“Ek sukkel met ’n besigheidsplan, maar jy moet in die bed kom, dink ek. Kyk hoe bleek is jy.”
“Ek het jou broodjie geëet, dankie. En ek voel nou beter, hoewel ek eerder moet sit as staan.”
Sy klik met haar tong en trek hom aan sy gesonde arm die huis in. “Ek verstaan nie hoekom ’n groot man nie na homself kan kyk nie. Kom sit. Kan ek iets vir jou kry? Koffie? Tee?”
“Net ’n glas water, asseblief.” Hulle stap deur die sitkamer na die eetkamer wat daaruit vloei. Hy gaan sit op ’n stoel by die eetkamertafel. Haar selfoon lê langs ’n skootrekenaar wat oopgemaak staan. Hy hoor haar nog in die kombuis en voordat hy mooi nadink oor wat hy doen, stuur hy vir homself ’n boodskap van haar foon af. Dalk moet hy haar die een of ander tyd bel. Hy sit die foon neer en draai die rekenaar sodat hy kan kyk wat daarop staan.
’n Besigheidsplan. Dit lyk asof sy op die internet gaan soek het na voorbeelde.
“Hier is jou water … Wat doen jy?” Sy klik vies met haar tong, stap vinnig nader, sit die glas water langs hom neer en draai die rekenaar terug.
“Ek sien jy kyk na besigheidsplanne?”
“Ek het jou gesê ek het nie jou hulp nodig nie.”
“En ek het vir jóú gesê ek het nie jou hulp nodig nie, maar jy bring in elk geval vir my ’n toebroodjie.”
“Enige mens sou dit doen –” begin sy heftig, maar hy skud sy kop.
“Nee, Kathleen, ek kan jou verseker, min ander mense sou so iets vir ’n wildvreemde doen.”
“My susters sê vir my Leen.”
Hy steek sy hand uit en raak aan haar hare wat oor haar skouer hang. “Jy’s ’n Kathleen.”
Sy ruk haar kop terug. “Kan ek jou help om terug te stap huis toe?”
“Ek het so pas weer ’n pynpil gedrink, ek is oukei vir die oomblik. Ek kan jou help, weet jy?”
Vies pers sy haar lippe saam. “Ek sê mos dis nie nodig nie, ek sal regkom.”
“Sien dit as ’n dankie vir die toebroodjie.”
Sy gluur hom aan. “Jy’s siek, ek het probeer help. Jy skuld my nie iets nie.”
“Jy’t ’n probleem, een waarmee ek kan help. Dis nou natuurlik as jy nie te hardekwas is om iemand anders se hulp te vra nie.”
“Ek is nie die een wat hardekwas is nie! Selfs jou ma dink dit van jou.”
“En wat sê jou ma van jou?”
Sy trek haar asem skerp in en vou haar arms. “My ma … my ma is lankal terug oorlede.”
Hy sit agteroor, voel soos ’n idioot. “Ek is jammer.” Met sy gesonde arm se hand druk hy op die tafel voor hom en kom orent. “Nou maar goed, ek sal jou nie verder pla nie.”
Die hond blaf opgewonde onder sy bene terwyl hy voordeur toe stap. By die deur draai hy terug om te groet. Kathleen het agter hom aangestap en staan reg agter hom. Daar is ’n frons op haar voorkop en sy kou aan haar onderlip. Haar vol, sagte onderlip. Bliksem. Sou dit so sag wees soos wat dit lyk? En wat sal sy doen as hy haar soen?
Die hond blaf vrolik en die volgende oomblik beweeg hy so vinnig tussen Steyn se bene, dat hy sy balans verloor en voel hoe hy begin val.
Maar Kathleen spring vorentoe, glip onder sy gesonde arm in en saam val hulle teen die muur, haar lyf so gedraai dat sy teen die muur beland en hy bo-op haar sagte kurwes.
Verdwaas kyk hy af na haar. Albei se asem jaag nou, sy gesonde arm se hand stut hom teen die muur langs haar.
Sy sluk, haar oë rek en haar tong glip uit om oor haar onderlip te lek. Bliksem.
“Is jy … is jy oukei?” Haar stem is hees.
Met ’n kreun sak sy kop af en hy soen haar. Dis nie iets wat hy ooit in normale omstandighede eens sou oorweeg om te doen nie. Maar omstandighede is weke lank al nie meer normaal nie. En sy is beautiful. Haar mond is warm, haar lippe bewend onder syne.
Die hond blaf vrolik onder hulle en dans oor hul voete.
Hy lig sy kop op en glimlag. “Ek dink die brak hou daarvan as ek jou soen.” Sy stem klink ook hees in sy ore.
Sy hart hamer teen sy borskas. Hy het al vroumense gesoen in sy vyf-en-dertig jaar. Baie vroumense. Maar hy kan nie onthou van een wat sy knieë so lam gemaak het nie. Of is dit omdat hy longontsteking gehad het en deur twee operasies is? Moeilik om te weet.
“Woef-woef”, gesels die hond saam.
Kathleen staar nog ’n oomblik oorbluf op na hom voordat sy onder sy arm deurglip. “Jy kan my nie sommer net so … soen nie!” raas sy en stap terug tot by die eetkamertafel waar sy sit en werk. Haar hande beweeg rusteloos oor die stoel se leuning.
“Ek wonder al van gister af daaroor. En toe vat jy vanoggend aan my …”
“Ek het nié doelbewus aan jou … aan jou gevat nie! Dit was die hond!” Haar asem jaag nog steeds. “Ek kan jou verseker dis beslis nie iets wat ek ooit doen nie.”
Hy sluk sy lag en maak die deur oop. Die hond blaf, hardloop weer onder sy bene in en Steyn wil-wil weer sy balans verloor.
“Brak!” roep hy geamuseer, maar dié keer hou sy hand gelukkig stewig aan die deurknop vas sodat hy sonder moeite regop bly.
“Hond!” roep Kathleen vies en die hond gaan lê met sy kop op sy pote en loer in haar rigting.
Hy lag. “Hond? Is dit sy naam? Is dit ooit ’n hy?”
Kathleen knik styf. “Ek het hom gebad. Dis beslis ’n hy. Ek weet nie wie se hond dit is nie of wat sy naam is nie, maar hy luister na ‘Hond’.”
Steyn buk af en vryf oor die brak se kop. “Ons sal vir jou ’n ander naam moet kry, wat sê jy?” Hy dink ’n oomblik. “Wat van Skim? Jy verskyn en verdwyn soos ’n skim, ek dink dis heeltemal gepas.”
Kathleen kom weer nader gestap. “Skim?”
Die hond spring op en blaf opgewonde. Steyn lag, Kathleen glimlag styf.
Hy steek sy hand uit na haar. “Skietstilstand?” vra hy.
Sy steek haar hand versigtig uit en hy vou sy vingers om hare.
“Solank jy belowe om my nie weer te … te soen nie.” ’n Blos kruip op teen haar wange, maar sy kyk nie weg nie.
Hy wil lag, maar maak eerder keel skoon. “Dis ongelukkig nie iets wat ek kan belowe nie. Jammer.”
Sy ruk haar hand uit syne. “Tot siens.”
“Ek kan jou help met jou besigheidsplan, Kathleen. Dis onder meer wat ek vir ’n lewe doen. Jy het my gehelp. Jy het vir my pille gegee, vir my ’n toebroodjie aangedra … Dis nou wel nadat jy na my onderbroeke gekyk het.”
Sy snak na asem en haar mond val oop toe hy van sy onderbroeke praat. Hy verwag sy gaan hom van ’n kant af inklim, maar die volgende oomblik begin sy lag. Die twee kuiltjies in haar wange maak diep kepe, haar helderblou oë vonkel soos die see wanneer die son laatmiddag sy laaste streep oor die water trek. ’n Oomblik is dit asof sy hart uit sy borskas geruk word en verstom in ’n lugleegte hang.
Verleë druk sy haar hande teen haar rooi wange. “Ek weet nie wat my besiel het nie en as my susters dit moet uitvind …” Sy skud haar kop. “Nou maar goed. Maar nie vandag nie. Sit jou arm om my skouers, jy lyk weer vir my koorsig. Ek stap saam met jou om na die kothuis toe. Ek sal vanaand vir jou iets bring om te eet en as jy môre beter voel, kan jy my help. Maar daar is heelwat inligting op die internet.”
Terwyl sy praat, het sy weer onder sy arm ingeskuif. Haar blommegeur omsweef hom. Hy probeer antwoord, maar dis asof sy brein sukkel om meer as een woord aaneen te skakel.
Een ding is duidelik – hy het nie koors nie. As hy koorsig is, is sy die rede.