Читать книгу Omdat jy my liefhet - Elsa Winckler - Страница 3

1

Оглавление

Livie trek vinnig van die pad af. Die afgelope veertig minute is die onrustigheid binne haar aan die opbou en sy weet nou dit gaan nie verdwyn nie. Bella. ’n Groot skroef is los. Sy moet haar kleinsus bel. Teen dié tyd ken sy die tekens – dit help nie sy probeer dit ignoreer nie. Seker “die helm”, soos tant Peet dit altyd genoem het, waarmee sy gebore is.

Van kleins af het sy net altyd geweet wanneer iets met een van haar mense skort. Lank voor haar ma die verskriklike nuus by die dokter gekry het dat sy borskanker het, het sy wat Livie is, geweet iets is fout.

Dankie tog, dié voorgevoel wat sy kry, is net ten opsigte van hulle gesin. As sy só moes voel oor almal wat sy ken, sou sy seker heeltyd bekommerd gewees en mense gebel het.

Vinnig haal sy haar foon uit. Sy is baie naby aan Greyton en behoort oor ’n halfuur of so daar te wees, maar sy moet eers seker maak Bella het nie ’n krisis nie.

Bella antwoord na die tweede lui. “Ek is oukei, Livie.”

Livie ignoreer haar versekering. “Wat is fout?”

Bella sug. “Ek wil baie graag weet hoe jy weet wanneer iets met my of Leen gebeur het.”

“Ek kan nie vir jou ’n verduideliking gee nie, ek weet net. Wat is fout?”

“Leo het weer gebel,” sê Bella.

“Ek dog die man is finaal uit jou lewe!” raas Livie dadelik. “Nie ek of Leen of Pa het ooit van hom gehou nie. Hoekom jy toegelaat het dat hy jou só lank manipuleer, sal altyd vir my ’n misterie bly. Gewoonlik is jy so hardekwas. Ek kon die man se nek ’n hele paar keer sonder gewetenswroeging omdraai.”

“Hy is uit my lewe, hy sukkel nog net om te glo ek wil niks meer met hom te doen hê nie.”

“Belowe my asseblief jy gaan hom nie weer sien nie? Jy het so pas weer begin lag.”

“Ek? Lag?” brom Bella.

“Bella.”

“Oukei, oukei, jy’s reg. Maar dis nou genoeg van my swak oordeelsvermoë. Het jy al klaar ingepak vir jou maand lange ballingskap op Greyton?”

“Ek is al amper daar,” sê Livie.

“Wat bedoel jy? Vertrek jy nie eers môre nie?”

“Ek het so baie wat ek moet doen wanneer ek weer terug is in Johannesburg en toe ek my bespreking kon verander, het ek dit gedoen. Hoe gouer my maand dié kant verstryk, hoe gouer kan ek weer met my lewe aangaan.”

“Tensy jy natuurlik, soos ons sus Leen, ’n sexy man sien, verlief raak en sommer binne ’n maand of wat trou,” giggel Bella.

“Gmf,” snork Livie, “’n man is die laaste ding wat ek nou nodig het. Mans is die rede hoekom ek ’n plek van veiligheid vir mishandelde vroue in Johannesburg wil oprig. Ek het eerstehands gesien wat die spesie aan vroue kan doen. Buitendien, ek het nog nooit ’n man ontmoet wat my kortasem maak nie. Party van ons is maar dalk net bestem om enkellopend te wees – en om baie eerlik te wees, dit klink vir my soos ’n bargain.”

“Ná my ondervinding met Leo Bruwer stem ek saam met jou. Leen lyk darem happy. Steyn is so mal oor haar, hy sal vir haar oor warm kole loop.” Sy giggel. “Hy maak haar beslis kortasem.”

“Ek is so bly vir haar onthalwe. Ek het natuurlik so ’n vuil spesmaas onse tant Peet dwing ons in haar testament om ’n maand in haar huis tussen niks en nêrens te gaan bly, in die hoop ons kry elkeen ’n man. Maar omdat Leen vir ’n man geval het, beteken dit nié ek gaan ook nie,” sê Livie.

Bella lag. “Sy dwing ons darem nie om in haar huis aan te bly nie.”

“As ons nie die maand in haar huis bly nie, kry ons nie ons erfporsie nie – wat noem jy dit? Absoluut Middeleeus!”

“Dalk raak jy net so lief vir die plek soos Leen. Het jy weer oor haar voorstel gedink dat ons nie tant Peet se huis verkoop nie, maar dit liewer hou?”

“Ek het en nee, ek het nog nie van plan verander nie. Greyton is pragtig, haar huis is soos iets uit ’n prenteboek, maar ek stel nie daarin belang om ’n huis te hê op ’n plek waar ek na die volgende maand nooit weer sal kom nie. Dit was lekker toe tant Peet nog geleef het. Toe was daar die vooruitsig van haar heerlike melkkos of souskluitjies of pannekoek wat vir ons wag, maar hier is regtig nou niks wat my kan oortuig ek wil ooit hier bly nie, nie eens vir ’n vakansie nie. En as ek nie die vyf miljoen rand nodig gehad het vir die plek van veiligheid nie, het ek sowaar nee gesê vir die geld.”

“Daar is soveel mooi memories in daardie huis. Ek onthou weer die lekker, dik sop wat sy in die winter gemaak het. Maar ek voel ook soos jy, sonder tant Peet is dit maar net nog ’n huis en een wat baie ver is van Johannesburg. Ons kom selde, indien ooit, deesdae op Pa se plaas wat nie baie ver hiervandaan is nie, so om te dink ons gaan gereeld Kaap toe vlieg, ’n motor huur en Greyton toe ry, is nie realisties nie. Sterkte, Livie. Maar nou ja, ek sal seker ook ’n plan moet maak om my maand so gou moontlik daar deur te bring, want ek gaan beslis nie nee sê vir so baie geld nie.”

Livie kyk deur die voorruit na die pragtige Riviersonderendbergreeks wat voor haar uittroon. “Dalk begin skilder jy weer wanneer jy hier is. Dit is regtig so mooi hier, ek het al vergeet hóé mooi.”

“O, aarde, dit klink my die Greyton magic werk klaar op jou!”

Livie skud haar kop en skakel die motor weer aan. “Ek is hier vir ’n maand. Dis al. Nou toe, ek moet ry, ek moet nog die sleutel by die prokureur gaan afhaal. Belowe my jy sien nie weer vir Leo nie?”

“Ek belowe,” sê Bella ewe plegtig.

Livie groet en skakel die motor aan. Haar foon bliep. Dis ’n boodskap van Leen. Hulle is seker terug van die lang wittebrood.

So pas terug, so, só gelukkig, ek bel later. Onthou, Bart sal eetkamermeubels aflaai, stuur asb foto, wil graag sien hoe dit lyk.

Livie frons. Vrek, sy het vergeet sy sal noodgedwonge die vent moet sien. Bart Coetzee. Sy het die man ontmoet toe sy en Bella in April vir Leen kom kuier het. Arrogant. Oorvatterig. Beterweterig. Tipies man. Van die eerste oomblik af het hy haar verkeerd opgevryf.

Die feit dat hy dodelik aantreklik is, maak haar rug net nog stywer. Sy het op universiteit al haar les geleer – ’n aantreklike man soek gedurig aandag van die teenoorgestelde geslag. Eers maande nadat Rynard Spies haar voete onder haar uitgeslaan het met sy kyk-hoe-wit-is-my-tande-glimlag, het sy ontdek sy is nie die enigste girl in sy lewe nie.

Dit was een van daardie klassieke gevalle waar almal in die koshuis geweet het hy verneuk haar, net sý nie. Hy kon so neul sy is nie “spontaan” genoeg nie. En toe sy hom een aand “spontaan” wou gaan verras in sy koshuiskamer, is sý die een wat verras is.

Een van sy vele flossies het sy kamerdeur oopgemaak en al wat sy aangehad het, was ’n hemp wat Livie vir hom gekoop het.

Sy reaksie? ’n Skewe glimlag en ’n skouerophaling.

En, het sy agtergekom, dis waar van die meeste aantreklike mans – hulle kan nooit genoeg aandag kry nie.

Wel, haar doel op aarde is beslis nie om mans blink te lek nie – of hulle nou mooi is of nie. Sy het ’n plan, ’n doelwit en daar is eenvoudig nie plek om ’n needy man met ’n wavrag behoeftes of bagasie ook nog te akkommodeer nie. Sedert Rynard het sy nog nie weer ’n vaste verhouding gehad nie. Dis nie asof sy mans afgesweer het nie, maar sy het nog nie ’n man ontmoet by wie sy langer as ’n uur wil wees nie, wat nog te sê vir ewig en altyd.

Sy hoop vuriglik die meubels is al afgelewer en dat sy die man nie weer in die loop van die volgende maand hoef te sien nie.

Laggende bruin oë skuif voor haar in en sy klik met haar tong. Dis erg genoeg dat sy oor die vent se oë droom, sal dit nou sowaar helder oordag ook by haar kom spook?

Bart beduie vir Jakob watter stoele hulle op die bakkie moet laai. Leen, tant Peet se broerskind, was so in haar skik met die sitkamermeubels wat hy oorgetrek het, sy het sommer gevra dat hy die eetkamerstoele ook regmaak en stoffeer. Leen het die meubels laat oortrek ondanks haar twee susters, Livie en Bella, se besware.

Dis al ’n geruime tyd klaar, hy was nog net so besig en het nie tyd gehad om dit vroeër af te lewer nie. Maar hy weet die volgende suster kom môre en hy wil dit vroeg môreoggend gaan aflaai. Leen het vir hom ’n sleutel gelos en hy wil seker maak hy is weg voordat Suster Twee opdaag.

Dokter Olivia Mulder, Livie, soos haar susters haar noem, het hom al heelwat slapelose nagte besorg, ’n baie goeie rede om uit haar pad te bly. Sy’s vrek mooi, en oukei, ja, daar was die onverwagse vuishou van begeerte toe sy haar groot blou oë die eerste keer na hom oplig, maar ’n mens kan sommer op ’n afstand al sien sy is vol draadwerk en van draadwerk bly hy sover moontlik weg.

Hy het Greyton toe gekom om stil te lewe, om van die gejaag, die frenetiese tempo van die lewe in Johannesburg, weg te kom.

En om te probeer ontsnap van die een gebeurtenis wat hom byna vernietig het.

Daarin het hy nog nie geslaag nie en daarom vermy hy enige verdere komplikasies in sy lewe. En vroumense, het hy lankal agtergekom, het nou maar eenmaal die manier om alles te kompliseer.

Vier jaar gelede het hy die handyman op Greyton geword. Hy is die man wat rekenaars regmaak, internetprobleme uitstryk, meubels maak, meubels oortrek, na tuine omsien wanneer eienaars nie hier is nie. Dis die soort probleme waarmee hy gemaklik voel om mense te help. Om met rekenaars te werk, met masjiene, met materiaal – dis maklik. Dit raak nie jou hart nie.

Hoe langer hy egter hier bly, hoe meer word hy bewus van mense se probleme en hulle seer. Maar weer ’n praktyk oopmaak? Weer waag om mense te sien, te probeer help? Sien hy kans daarvoor?

Die enigste mense op Greyton wat weet hy is eintlik doktor Bart Coetzee, ’n kliniese sielkundige, is Wian, die apteker wat die afgelope paar jaar ’n goeie vriend geword het. Was dit ook nie vir twee glase rooiwyn te veel nie, het Bart dalk nooit vir hom vertel nie. Maar hy vertrou Wian om nie stories rond te vertel nie.

Hy moet mos darem iewers die punt bereik waar die gebeure uit sy verlede hom nie meer lamlê nie. Hy bly op die hoogte van nuwe bevindinge in sy veld, is ingeteken op al die belangrike tydskrifte, woon gereeld konferensies by en betaal jaarliks sy registrasiefooi. Maar hy tree nie meer as spreker op nie, al word hy nog dikwels uit Johannesburg gevra. Hoe kan hy hom as sogenaamde “ekspert” voordoen as hy nie soos een opgetree het nie?

Sy foon lui en hy haal dit uit sy sak om te kyk wie bel. ’n Oomblik maak hy sy oë moedeloos toe. Wanneer gaan dit ophou? Magtig, dis al vier jaar, maar klokslag, een keer per jaar op hierdie spesifieke datum, bel Petronel du Plessis.

Dis tyd dat hy aanbeweeg, die hartseer van vier jaar gelede begrawe. Aanvanklik was sy skuif na hierdie pragtige dorpie wat hy tydens ’n Wines to Whales-fietsresies ontdek het, tydelik. Hy wou sy wonde kom lek en besluit wat hy vir die res van sy lewe wil doen.

Nou weet hy: Hy wil hier nesskop, en wat hy nóú doen, is wel nie waarvoor hy jare lank geswot het nie, maar dis ’n manier om mense te help sonder dat hy by hulle lewens betrokke hoef te raak.

En wie weet, dalk kom hy op ’n plek waar hy weer ’n spreekkamer kan oopmaak.

Wat hy wel besluit het, is om sy eie huis te koop. Die plek wat hy huur vandat hy hier is, is klein en het aandag nodig. Wanneer hy ’n groter plek het, sal dit ook makliker wees om sy ouers en sus te nooi vir ’n kuier.

Vandat hy hier is, het hy min kontak met hulle – iets wat deur en deur sy skuld is. Sy ma bel hom gereeld; sy pa stuur boodskappe; Yvette, sy suster, bel gewoonlik diep in die nag. Sy is ’n onderwyseres en dis dikwels die enigste tyd wat sy het om met hom te gesels. Hy weet hulle wag vir hom om die seer op sy eie manier te verwerk. Hulle wag dat hy hulle nooi om te kom kuier.

Hy druk sy foon dood en help Jakob om die twee ander stoele ook in te laai. Hy gebruik sy spiere en hoef nie vreeslik te dink nie. Wat hy weet van houtwerk, het hy by sy pa geleer. Sy pa is ’n ginekoloog, maar om met hout te werk was nog altyd sy stokperdjie. Die lang dae oor vakansies en naweke in sy pa se werkswinkel terwyl hy vir Bart die fynere kunsies van houtwerk leer, is tye wat Bart steeds koester.

Tog vreemd hoe die lewe jou paadjie bepaal. Vyf jaar gelede het hy as baie suksesvolle kliniese sielkundige in Johannesburg gepraktiseer. Toe was alles nog moontlik, het hy nog in sy opleiding geglo en gereken hy kan mense help om die lewe beter te hanteer.

Maar toe word Kyle du Plessis sy pasiënt. Bart vryf oor sy bors waar die seer steeds talm.

Ten minste kan hy niemand leed aandoen wanneer hy hulle rekenaars of meubels regmaak nie.

Hy druk sy hande in sy broeksakke en sy vingers raak weer aan sy foon. Hoekom probeer Kyle se ma hom nog bel? Hy het nog nooit haar oproepe beantwoord óf haar boodskappe of e-posse gelees nie, hy weet presies wat sy wil sê. Hy verwyt homself nog elke dag, vir ander mense se beskuldigings en verwyte het hy nie ook nog krag nie.

Hy kan die vrou seker blok, maar hy kon dit nog nie regkry nie. Net soos hy dit ook nie kan regkry om haar naam van sy foon te verwyder nie.

Maar hy kán aangaan met sy lewe. Hy gaan sommer nou oorstap na Koos Terblanche. Afgesien daarvan dat Koos ’n prokureur is, is hulle ook groot vriende en Koos is boonop ’n kliënt van hom. Koos ken die dorp en sal moontlik raad hê oor watter eiendom die beste kopie sal wees.

Livie tik geïrriteerd met haar vingers op die toonbank voor die ontvangsdame. Hoe lank kan ’n afspraak met ’n prokureur op dié klein plekkie nou neem? Ja, oukei, sy moes vooraf gebel en gereël het vir die huis se sleutel, maar sy het aanvaar die ontvangsdame kan haar help. Maar meneer Terblanche wil self die sleutel oorhandig en meneer Terblanche het ’n kliënt by hom, het die ontvangsdame beduie. ’n Kliënt wat skynbaar ’n baie lang asem het. Sy wag al ’n halfuur.

“Meneer Terblanche is nou-nou by u,” koer die ontvangsdame vir die soveelste keer. “Sit gerus.”

“Dankie, ek staan.” Livie weet sy is kortaf, maar sy gee nie om nie. G’n wonder tyd staan stil op dié plek nie.

Agter haar gaan die kantoordeur uiteindelik oop.

“Meneer Terblanche,” roep die ontvangsdame verlig. “Olivia Mulder is hier vir die huis se sleutel.”

Livie draai vinnig om, haar enigste doelwit om die sleutel so vinnig moontlik te gryp sodat sy kan ry. Sy moet nog die nodige gaan koop en Leen het haar gewaarsku die winkels maak vyfuur toe. Maar haar woorde steek in haar keel vas. Die prokureur se kliënt is niemand anders nie as Bart Coetzee, die allerlaaste mens wat sy wou sien.

“Olivia!” groet die prokureur gul en steek sy hand uit. “Ek het jou eers môre verwag.”

“Ek ook,” sê Bart stug en steek sy hand ook uit om haar te groet.

Sy huiwer voor sy haar hand uitsteek. ’n Groot, warm hand vou hare vir ’n oomblik toe voor Bart terugtree en sy arm laat sak. Heerlike tintelings dans teen haar arms op. Sy gryp haar handsak wat oor haar skouer hang met al twee hande styf vas.

“Ek is haastig, meneer Terblanche, kan ek asseblief die sleutel kry?”

“Natuurlik,” glimlag hy en verdwyn in sy kantoor.

“Ek het gedink om môreoggend die meubels te kom aflaai, ek het aanvaar jy kom eers later in die dag,” sê Bart.

“Vroeër is beter as later,” sê sy kortaf.

“Hierso,” sê die prokureur en stap nader met die sleutel. “Ek hoop jy is so gelukkig soos wat jou suster was en ek hoop êrens in haar huis is daar vir jou ook ’n brief van Peet. En wie weet, dalk ontmoet jy ook jou trouman op Greyton soos jou suster.”

“Dankie,” sê Livie en probeer nie eens die irritasie uit haar stem hou nie. “Ek stel egter nie belang in ’n man nie – nie om mee te trou of om enige ander rede nie. Tot siens.”

So vinnig soos wat sy kan, stap sy by die kantoor uit na haar motor, oorbewus van die twee paar oë wat haar heeltyd dophou.

Haar irritasie met die prokureur en sy kliënt verdwyn toe Livie stilhou. Met haar oë stip op die pragtige huis, klim sy uit en sluk-sluk aan die lastige trane wat in haar keel opdam.

Tant Peet het die geskiedenis van die ou dorpie goed geken en graag vertel hoe Herbert Vigne in 1846 die oorspronklike Weltevreden-plaas gekoop het, twee kleinerige stukke grond vir homself gehou en die res van die grond beskikbaar gestel het as gemeenskaplike landbougrond.

Hy was die een wat die dorpie Greyton gedoop het, genoem na sir George Grey wat in daardie stadium goewerneur in die Kaap was.

Vigne se erfgename het die plaas ná sy dood onderverdeel en tant Peet se huis is een van die oorspronklike ou Victoriaanse huise wat naby die destydse ingang van die dorpie gebou is.

Tant Peet is weg sonder dat sy haar kon groet. Hulle het almal gedink daar sal weer ’n geleentheid wees om hulle geliefde tante te sien, sy was altyd so vol lewe. Tant Peet het by hulle ingetrek ná hulle ma se dood. Sy het huisgehou en die drie sussies versorg totdat hulle uit die huis is. Terwyl hulle op universiteit was, was hierdie plek hulle naweek- en soms ook vakansiehuis.

Maar toe het hulle begin werk en almal het so besig geraak. Daar was altyd ’n goeie rede hoekom hulle nie kon kom kuier nie. En nou is tant Peet weg.

Livie stap om na die kattebak en haal haar tas uit. Wat sou hulle tante besiel het om die vreemde bepaling in haar testament te plaas dat hulle elkeen vir ’n maand hier moet kom bly? Leen het nou wel ’n brief ontdek terwyl sy hier gebly het, maar dit was net aan haar gerig. Of tant Peet vir haar en Bella ook een gelos het, weet hulle nog nie. Daar is baie skoonmaakwerk oor, het Leen beduie. Hopelik kry sy ook ’n brief van tant Peet wanneer sy die res van die kaste uitpak en skoonmaak.

Die tuin lyk versorg, sien sy. Vrolike gesiggies pryk kleurvol in die een bedding. Sy moet tog vir Leen ’n foto aanstuur van die blomme wat sy nog geplant het. Dis duidelik iemand versorg die tuin. O, ja, iewers in al die deurmekaarspul tydens Leen en Steyn se troue, het Leen genoem sy het iemand gevra om na die tuin om te sien, onthou sy nou.

Sy sleep haar tas voordeur toe. ’n Rustigheid wat sy lanklaas ervaar het, spoel oor haar toe sy die deur oopsluit. Tant Peet het dalk tóg iets beet.

Omdat jy my liefhet

Подняться наверх