Читать книгу Omdat jy my liefhet - Elsa Winckler - Страница 6
4
ОглавлениеDit het liggies begin reën teen die tyd dat Bart sy medikasie het en terugstap na sy bakkie. Hy kan nie wag om hom horisontaal op sy bed uit te strek nie. En flip, ja, hy sal die bleddie pille drink. Wian kan so te kere gaan.
Hy maak die bakkie se deur oop en wil inklim, maar skielik is daar weer ’n wriemeling tussen sy bene.
“Hond!” raas hy en gryp die deur vas in ’n poging om regop te bly. Hy wil beslis nie weer val nie. “Waar de hel kom jy nou weer vandaan?”
Die hond gaan lê met sy kop op die grond en sit sy pote oor sy snoet. Dis so ’n patetiese gesig, Bart kan nie help om te lag nie. “Dis jou skuld dat ek rugpyn het. Ek kan nog nie uitmaak of jy Skim is of nie …”
Die hond spring op en blaf vrolik.
“So jy ís Skim,” grinnik Bart. “Jy’s so vuil, ek was nie seker nie. En wat maak ek nou met jou?”
Voor hy nog klaar gepraat het, spring die hond in die bakkie en gaan sit op die passasierskant van die sitplek. Bart skud sy kop en klim ook in. Die hond kan saamkom huis toe, hy kan hom net beslis nie nou bad nie. Hopelik voel hy môre beter.
Hy het vroeër vandag musiek geluister en toe hy sy motor aanskakel, vul klanke dadelik weer die klein ruimte van sy motor.
And when you smile
The whole world stops and stares for a while
’Cause girl you’re amazing
Just the way you are
Met ’n swetswoord druk hy die musiek dood. Die woorde laat hom verdomp weer aan Olivia dink. Wanneer sy smile, sien hy niks anders raak nie. Nie dat sy dit al ooit in sy rigting gestuur het nie, maar hy het op Leen en Steyn se troue amper oor sy voete geval toe hy haar die eerste keer sien glimlag. Dis asof ’n lig aanskakel en alles ligter, helder en moontlik lyk.
Bart draai links in die hoofstraat en kyk vinnig na Skim. Die hond sit met sy snoet teen die ruit, kompleet asof hy na iets soek. Dit reën nou harder en die voorruit slaan aan. Bart probeer met sy hand die vogtigheid wegvee – dis darem nie te ver wat hy moet ry nie, sy huis is net om die draai.
Langs hom begin Skim verwoed blaf.
“Wat gaan met jou aan?” raas Bart, maar Skim kyk na hom oor sy skouer voor hy sy snoet weer teen die venster druk en aanhou blaf.
Bart ry ál stadiger en terwyl hy voor hom in die pad kyk, loer hy ook na die sypaadjie om agter te kom wat Skim so laat blaf. En toe sien hy haar. In die linkerkantste truspieëltjie. Dis Olivia. Livie. Hy kan net haar buitelyne uitmaak, maar hy weet dis sy – daai silhoeët sal hy in enige omstandighede herken.
Geïrriteerd met sy reaksie op die vroumens, hou hy stil en druk die knoppie wat die ruit afdraai. “Klim in,” beveel hy.
Maar natuurlik steur sy haar nie aan hom nie. Sy is papsopnat en stap met haar arms om haar lyf gevou. Dis heelwat kouer as vroeër vanoggend toe die son nog geskyn het. Haar hare hang in slierte oor haar rug.
Hy hou stil. “Livie, klim in die bakkie. My rug is vrek seer, my moermeter baie hoog en as ek moet uitklim om jou in te laai …”
Voor sy sin klaar is, vlieg die deur oop. Skim blaf opgewonde. Livie se oë blits weer bliksemstrale na Bart se kant toe voor sy die deur hard toetrek.
“Ek het nie gedink jy sal iemand vol draadwerk wil oplaai nie.” Sy pers die woorde tussen dun lippies uit en sit twee sakke en haar handsak voor haar neer.
“As die skoen pas …” prewel hy wrewelrig. Skim het van die sitplek af gespring en sit by Livie se voete. Sy kop beweeg heen en weer tussen Bart en Livie terwyl hulle praat.
Bart trap die petrol in en die bakkie skiet vorentoe. Hy wil so gou moontlik die vroumens aflaai. Hoe dit moontlik is dat susters in een gesin so kan verskil, gaan sy verstand te bowe. Leen is vriendelik, behulpsaam en vrolik. Dié suster, daarenteen, het gedurig haar swaard omhoog en soek net baklei. Wel, sy moet maar verder soek.
Teen die tyd dat hy voor tant Peet se huis stilhou, is die temperatuur in die bakkie by kookpunt. Livie pluk die deur oop en spring uit, Skim agterna. Sonder om weer om te kyk, sluit sy die huis oop, storm in en trek die deur hard agter haar toe.
Moerig sit hy die bakkie in trurat. Behoede hom van beneukte vroumense. Voor hy egter die pedaal kan trap, sien hy die handsak langs hom raak.
Bliksemblerriehel. Hy trap die rem, maak die deur oop, klim met moeite uit terwyl hy verder onderlangs swets. Sy het die sakke opgetel, maar in haar viesgeit nie haar handsak gevat nie.
Hy is halfpad teen die trappies op toe die voordeur oopvlieg.
Livie stop in haar spore en haar asem haak in haar keel vas. Sy was skaars in die huis toe sy besef haar handsak is nog in Bart se bakkie. Haar foon is in haar handsak en haar hele lewe is op haar foon, sy kan nie daarsonder nie. Maar hier is Bart nou op pad om dit vir haar te bring en sy was so bitchy.
Hy klim die laaste paar trappies en stap tot voor haar. Dis vir haar duidelik elke tree wat hy gee, is pynlik. Sy wil nog vashou aan haar irritasie, maar sy kyk af na haarself, trek haar top van haar lyf af weg en begin lag. Sy kan net dink hoe sy lyk. Skim blaf opgewonde saam.
“Wat is so snaaks?” vra Bart met ’n frons en druk haar handsak in haar hande.
Sy wil praat, maar ’n volgende lagbui oorval haar en dit neem ’n rukkie voor sy die woorde kan uitkry. “Ek kan nie baklei wanneer ek soos ’n nat hoender lyk nie,” lag sy. “Ek is jammer ek was so katterig en gemeen vroeër. Kom in. Ek het heerlike brood by die mark gekoop. Ek kan nie kosmaak nie, maar ek maak ’n mean toebroodjie. Wag net ’n oomblik, ek gaan net droë klere aantrek.”
Terwyl sy praat, begin stap sy in die rigting van haar kamer, maar sy kom agter Bart het nog nie beweeg nie. Sy kyk oor haar skouer. “Kom in, hoekom …?”
Sy oë is amper pikswart, die vieserige trek van netnou weg en vervang met … Haar asem raak sommer weg. Begeerte. Dís wat sy in sy oë lees.
Sonder om sy oë van haar af te haal, stap hy in, trek die deur agter hom toe en stap tot voor haar. Hy lig sy hand en raak aan die punte van haar nat hare. “Jy’s beautiful.” Sy stem is heserig. “Ek het nog altyd so gedink, maar wanneer jy lag …” Hy laat sak sy hand en trek sy asem diep in. “Wel … wanneer jy lag, Olivia Mulder, ruk jy my hart uit my borskas.”
“Sê vir my Livie,” kry sy deur droë lippe uit.
Bart draai weg en stap in die rigting van die kombuis. “Ek sit die ketel aan. En as jy nie gesoen wil wees nie, moet jy ander klere gaan aantrek wat nie so deurskyn nie.”
Livie vlug kamer toe. En in die spieël sien sy wat Bart bedoel. Die toppie wat sy vanoggend aangetrek het, is roomkleurig en omdat dit nat geraak het, feitlik deursigtig. Hoe op aarde het sy dit nie besef voor sy hom ingenooi het nie?
Met vlammende wange pluk sy haar nat klere uit en trek ’n paar jeans en ’n ligblou rolnektrui aan. Sy kyk weer na haarself in die spieël.
Bart dink sy’s beautiful. Hy het dit sowaar wéér vir haar gesê. En hy praat van ’n soenery. Sy druk haar vingers teen haar lippe. Soen. Vir Bart soen. Sy wil haar eers vererg, maar sug dan. Dis nie asof sy nog nooit daaraan gedink het nie. Inteendeel. As sy nou eerlik moet wees, het sy al baie daaroor gedink. En gedroom. Dis hoekom sy altyd vies is wanneer sy hom sien. Want sy wíl nie voel wat sy voel nie, sy wíl nie dink hoe dit kan wees as hy haar soen nie.
Maar dis dalk maar die line wat hy by alle vroue gebruik. Sy sal vir hom sy toebroodjie maak en hom bedank, en hopelik hoef hulle mekaar nie weer te sien nie.
Die hond sit en kyk aanbiddend op na Bart toe Livie terugstap in die kombuis. Bart het die koffiemasjien aangesit en is besig om die kaste een vir een oop te maak. Sjoe, die man het breë, breë skouers, kyk hoe styf span sy T-hemp.
“Die bekers is in die kas bokant die koffiemasjien,” beduie sy en trek die brood vinnig nader. Dis baie beter vir haar gemoedstoestand om brood te smeer as om na Bart se skouers te staar. Wat ís dit met haar? Sy is ’n dokter. Die manlike lyf is nie vir haar vreemd nie, sy het al honderde gesien. Almal is nou wel nie breed geskouerd nie, maar goeiste, sy hoef darem nie so te staan en kwyl nie.
“Sal ons sommer hier sit?” vra sy terwyl sy van die ham en tuisgemaakte mosterd wat sy by die mark gekoop het, op die brood sit.
“Dis makliker om te staan,” sê hy en bring twee bekers met stomende koffie nader.
Sy sny die brood en skuif een bordjie tot voor hom. “Leen sê sy het jou nie gevra nie, maar jy is die een wat gesorg het dat die huis so mooi skoon is. Baie dankie.”
Hy sit die bekers neer en tel die toebroodjie op. “Ek het iemand gereël, dit was nie ’n probleem nie. Jy’s reg, dis ’n mean broodjie,” glimlag hy en vat ’n hap. “Dankie, ek besef nou eers hoe honger ek is.”
“Sê asseblief net vir my jy was by die apteek?” vra sy.
“Jou boyfriend het my saamgesleep, ek het die voorskrif.” Bart tik teen sy broeksak.
“Boyfriend? Praat jy van Wian? Waar kom jy –?”
“Dit lyk so,” val hy haar kortaf in die rede. “Hy vat aan jou.”
“Wian is nice. Hy’s ’n vriend. Dis al,” kners sy uit. Sy sit haar broodjie neer en maak ’n glas vol water. Vies sit sy dit voor hom neer. “Drink die medikasie.”
“Ek sal by die huis …”
Sy hou haar hand uit. “Gee vir my die houer.”
Hy haal die houer uit sy sak, gee ’n tree nader en sit dit in haar hand. Sy kyk vinnig af, die man is darem nou baie naby aan haar. Hoendervleis slaan op haar arms uit. “Neem met etes,” lees sy en druk die houertjie terug in sy hand voor sy vinnig wegbeweeg en voor haar bord gaan sit.
Sonder om sy oë van haar af te haal, sluk hy die tablette af.
Haar mondhoeke pluk-pluk weer boontoe en sy glimlag breed. “Jy’s nes ’n stout kind, weet jy dit?”
Sy oë vernou, maar hy reageer nie op haar woorde nie, eet net sy toebroodjie klaar. Hy draai weg, sit sy beker en bordjie in die wasbak. “Ek moet gaan.”
Verbaas sit Livie haar halfgeëte broodjie terug in die bord. “Ek is nog nie klaar nie,” sê sy, maar hy is reeds uit die kombuis.
Skim blaf en wag totdat sy opstaan voordat hy agter Bart aandraf. Die man het beslis ’n paar hang-ups, lyk dit vir haar. Wel, sy het nie gevra hy moet haar oplaai nie en as hy nie ’n broodjie wou hê nie, kon hy lankal gery het.
“Dankie dat jy my opgelaai het en dankie vir my handsak,” sê sy styf.
Met sy hand op die deur draai hy terug en skielik is hulle weer baie naby aan mekaar. Sy wil terugtree, maar Skim blaf al wriemelend tussen haar voete en sy steier eenkant toe. Bart se hand skiet uit, hy gryp hare vas, ’n kreun ontsnap tussen sy tande.
“Skim! Wat dóén jy? Gaan lê!” raas sy oorbewus van Bart se groot hand om haar arm. Hy moes weer sy rug seergemaak het.
“Is jy oukei? Jou rug?” vra sy bekommerd en sit haar ander hand simpatiek op sy skouer. “Ek is jammer oor die hond, ek weet nie …”
Haar woorde droog op. Bart se bruin oë is warm sjokolade. Gefassineer hou sy sy mond dop. Haar hart gee ’n allemintige skop teen haar ribbes en vanuit ’n diep-diep plek glip ’n sug uit.
Sy asem blaas oor haar gesig. “Jy moes nie agter my aangestap het nie. Dan sou die hond nie onder jou voete beland het nie en ek nie jou hand gegryp het nie. Maar nou het jy, die hond het en ek het en nou …” Sy hand vou om haar nek en hy trek haar nader. “Nou gaan ek doen waaroor ek al maande lank droom.” Hy buk af en vang haar lippe met syne vas.
Hemels. Dis hoe sy smaak. Die geur op haar lippe is suiwer, soet en vol beloftes. Haar hand het teen sy bors beland, so asof sy hom wil keer, maar sy druk hom nie weg nie. Hy was seker sy sou, hy het gehoop sy sou, dan was dit maklik om weg te stap. Maar sy ontmoet sy dringende soen vol passie van haar eie.
Hy hou op dink. Dis in elk geval onmoontlik met haar lippe, haar hande, haar lyf teen syne. Hy lig sy kop, sy hand nog verstrengel in haar hare. Hulle albei se asems jaag. Haar oë is kobaltblou, haar lippe geswel. Iets wat vir baie lank styf opgerol binne hom was, gee skiet.
Dis nou die oomblik om weg te draai en by die voordeur uit te stap, maar hy kan nie beweeg nie.
“Ek het jou gesê jy’s beautiful wanneer jy glimlag. Ek het nie die reg nie, maar ek kan nie anders nie,” prewel hy voor hy haar weer soen.
Sy skouers is styfgespan, sy wil sy angstigheid wegvat, maar hy gee haar nie kans nie. Soos netnou, jaag sy mond haar na ’n plek waar die lug swaar hang, ’n plek waar net sensasie saak maak.
Nou weet sy: Sy mond is ferm, meedoënloos en onweerstaanbaar. Sonder om te huiwer, sonder ’n gedagte aan selfbeskerming, maak sy haar mond vir hom oop, vat gretig wat hy aanbied en gee onselfsugtig waarop hy aandring.
Op die een of ander manier het haar rug teen die muur langs die voordeur beland. Die ferm lyne van sy lyf hou haar in posisie. As dit moontlik was, sou sy hom nóg nader aan haar trek.
Sy baard krap-krap teen haar gesig, ’n heerlike rilling gly deur haar lyf. Half desperaat byt sy sy onderlip. Hy kreun, opwinding bruis deur haar terwyl hy die bodemlose soen verder verdiep.
Haar lyf smag na sy aanraking. Sy wil vir hom sê waarna sy soek, maar al wat sy uitkry, is ’n kreun. Haar behoefte na hom is ’n kloppende pyn. Net die gedagte dat sy hande oor haar lyf kan gly, laat haar sidder. Onder haar vingers klop sy hart teen dieselfde wilde, ongetemde ritme as haar eie.
Vir een heerlike oomblik vou sy hand om een bors voor hy sy mond wegskeur en agteroor steier. Hy druk sy hande in sy hare. “Bliksem, vroumens. Ek moes dit nie gedoen het nie, ek is jammer. Jy’s net hier vir ’n paar weke, ek …” Hy skud sy kop. “Ek het ’n wavrag vol bagasie. Jy … ons … Dit kan nie werk nie.” Vir ’n oomblik brand sy blik ’n pad tot in haar hart voor hy ’n swetswoord afbyt en by die voordeur uitstap.
Haar bene weier om verder saam te werk en Livie sak af op die grond. Skim is dadelik by, sy snoet teen haar gesig. Sy snik ’n lag uit. “Jy stink, sies,” raas sy, maar druk die hondelyf styf teen haar vas.
Hoe is sy nou veronderstel om ná daardie soen enigiets konstruktiefs te doen? Sy staan stadig op. Lyflike lus. Dis al. Hy was miskien ook, soos sy, lanklaas so naby aan iemand. Wel, sy wou mos weet hoe hy soen, nou weet sy. Hopelik sal hy nie meer so by haar spook nie en kan sy begin met haar beplanning vir die plek van veiligheid.
Skim blaf. Kompleet asof hy “yeah, right” sê.
“Kom ons gaan bad jou.” Sy tel die hond op en stap met rubberige bene na die opwasbak in die waskamer.
Een ding is egter baie duidelik: al word sy honderd, dié soen sal sy nooit vergeet nie.
Dit was ’n fout. Om te dink hy kon Livie soen en ewe vrolik met sy lewe aangaan. ’n Helse fout.
Bart hou voor sy huis stil, maar hy klim nie uit nie. Dis ’n plek wat hy huur. Dis nie sy huis nie. Toe hy vier jaar gelede hier aangekom het, sou dit tydelik wees. Baie dinge is nog onseker, maar een ding is vir hom kristalhelder – hy wil nooit weer lewe teen die tempo wat hy in Johannesburg gelewe het nie. Hierdie klein dorpie aan die voet van die berge is waar hy wil woon en werk, hier wil hy vir hom ’n huis koop.
Hy klim uit, vir ’n oomblik skoon lighoofdig. Hy het wragtig ’n besluit geneem.
Wat ook vir hom duidelik is, is dat hy uit dokter Olivia Mulder se pad moet bly. Sy laat hom dink aan dinge wat hy tog voor sy siel weet nooit gaan gebeur nie. Dinge soos ’n gesin, ’n hond of ’n kat en …
Met ’n swets sluit hy sy motor en stap huis toe.