Читать книгу Omdat jy my liefhet - Elsa Winckler - Страница 5
3
ОглавлениеSaterdagoggend slaan Livie gefrustreerd haar skootrekenaar toe. Die ellendige internet. Sy het die flippen dingetjie gekoop waarop sy kon data laai soos wat Leen beduie het, maar dit wil nie werk nie.
Nie een van haar susters kan verstaan hoe sy ’n dokter kan wees, maar nie aldag rekenaars verstaan nie. Sy weet genoeg om haarself te help, maar wanneer iets nie wil werk nie, sukkel sy nie, maar kry eerder hulp. In Johannesburg is dit maklik. Daar is verskeie plekke wat ’n mens vinnig kan help, maar op Greyton is daar skynbaar net een mens. En volgens Leen is die kenner juis Bart Coetzee, die laaste mens vir wie sy om hulp wil vra.
As sy nie so angstig was om haar e-posse te lees nie, het sy sommer die rekenaar weggepak.
Sy het gedurende die vorige maand briewe uitgestuur na almal wat sy ken om te bedel vir bydraes vir die plek van veiligheid wat sy wil oprig. Om geld te bedel, was aanvanklik vir haar baie, baie moeilik, maar haar pa het haar gehelp om die regte mense te identifiseer, mense wat ook, soos sy, ’n passie het om ander te help. Sy hoop om darem nou al terugvoering van ten minste sommige te kry.
Daar is staatshulp beskikbaar vir dié soort plekke, maar sy wil nie net daarvan afhanklik wees nie. Sy het al taamlike rillerstories gehoor van soortgelyke plekke wat sekere maande net glad nie die nodige finansiering ontvang nie.
Tant Peet se erfgeld gaan baie help, maar dis nie naastenby genoeg nie. Die geld kan gebruik word vir die aankoop van ’n eiendom, een wat sy reeds in die oog het, maar daar is baie meer behoeftes as net ’n dak oor die kop.
Sy staan op en strek haar uit. Die idee om so ’n plek te begin het verlede jaar by haar posgevat. Die dag toe Mientjie Botha dood is, om presies te wees. Die mooi, fyn vroutjie se lyf kon net nie meer weerstand bied teen die genadelose vuishoue van haar man nie. Vandag sit hy agter tralies en Livie hoop dis waar hy die res van sy dae op aarde sal deurbring.
Dit was nie die eerste keer dat Mientjie in die hospitaal opgeneem is met beserings nie. Livie en van die ander dokters het alles in hulle vermoë gedoen om Mientjie sover te kry om haar man te verlaat, maar Mientjie het nie familie óf geld gehad nie en die plekke wat wel sulke vroue help, was vol.
Sy is terug na haar man toe. Toe sy ’n week later weer opgeneem word, het sy niks meer oorgehad om mee te veg nie – sy is dieselfde dag nog dood.
Livie trek haar asem diep in en kyk op haar horlosie. Dis halftwaalf. Daar is mos ’n plaaslike Saterdagoggendmark, as sy reg onthou. Toe sy en Bella in April vir Leen kom kuier het, was hulle daar. Wat sy van die oggend onthou, behalwe natuurlik Bart Coetzee se bruin oë wat nooit van haar af weggeskuif het nie, is die heerlike eetgoed.
O aarde, sy raak sommer weer bewerig as sy Bart en sy bruin oë onthou. Sy trek ’n baadjie aan, gryp haar handsak en sit lipstiffie aan terwyl sy uitstap.
Dit het vroegoggend bietjie gereën, maar dis nou aan ’t ooptrek. Haar oë val op die bedding waarin sy en Bart gisteroggend beland het. Dit lyk behoorlik of daar ’n stoeiery plaasgevind het. Haar wange word weer warm. Sy kyk rond en roep, maar van die hond wat gisteroggend die chaos veroorsaak het, is daar geen teken nie. Met ’n sug stap sy in die rigting van die kerktoring. Die blomme wat Leen nog geplant het, het seergekry, maar die bedding sal moet wag vir later vandag, sy is nou honger.
Die mark is in die hoofstraat regoor die kerk, ’n blok van tant Peet se huis af. Sy het nie ’n sambreel saamgebring nie, maar dit sal darem seker nie weer reën nie. En hopelik loop sy iemand raak wat vir haar kan sê of daar nie dalk tog iemand anders is wat haar met haar internetprobleme kan help nie.
Sy lig haar gesig op na die son en trek ’n diep skoot vars lug in. Die wêreld is skoongewas na die reën, die berge glinster groen in die son se strale. Dalk is dit nie so ’n slegte idee om ’n maand af te vat en teen ’n stadiger pas te leef nie. Die lewe in die stad is baie gejaag.
Binne ’n paar minute is sy by die markie. Die plek is vol laggende, geselsende mense, en die donkiekar wat sy van die vorige keer onthou, staan weer gereed om belangstellendes op ’n rit deur die dorp te neem.
Sommige stalletjies verkoop eetgoed, enigiets van tuisgemaakte pasteie tot plaasvars brood en botter. ’n Paar plaaslike kunstenaars se werk word ook te koop aangebied, en daar is interessante klere en serpe. Om haar gesels mense oor die weer, die regering, die waterskaarste.
Pannekoek. Sy loop al agter die reuk van kaneel aan tot by die tou voor die tafels waar pannekoek gebak word.
“Livie?” vra ’n manstem agter haar.
Sy draai om en glimlag. “Hallo, Wian,” groet sy vrolik en leun vorentoe om hom ’n drukkie te gee. Sy en Bella het die apteker met die mooi glimlag ontmoet toe hulle vir Leen kom kuier het. Hy was ook op Leen en Steyn se troue.
“Dis lekker om jou weer te sien,” glimlag hy. “Ek het gehoor van tant Peet se bepaling dat julle elkeen hier kom bly vir ’n maand. Uhm … jou suster Isobel – wanneer kom sy?”
“Ek weet nie. Sy moet nog besluit. Ek hoop sy kan skilder wanneer sy hier is. Sy het soveel talent en hopelik dien die omgewing as inspirasie.”
Wian maak sy mond oop, maar pers sy lippe weer op mekaar. “Kan ek vir jou ’n pannekoek koop?” vra hy sonder om die frons op sy voorkop te verduidelik.
Livie sluk haar glimlag. Dit was duidelik met haar en Bella se vorige besoek dat Bella die apteker ietwat verkeerd opvryf. Dit lyk nie of dit al verander het nie. “Dit klink heerlik. Ek het juis kom soek na iets om te eet. Tot my susters en ons pa se verleentheid kan ek glad nie kosmaak nie. Toebroodjies is al wat op my spyskaart is. Ek is gelukkig mal oor toebroodjies,” lag sy.
“Ek wonder waar Bart vanoggend is?” sê Wian. “Ons kry mekaar gewoonlik hier vir pannekoek op ’n Saterdag. Het jy hom al gesien?”
“Nie vandag nie. Hy het gister stoele kom aflewer,” sê sy kortaf.
“Ek hoop nie sy rug lol weer nie. Hy sukkel die afgelope paar maande met ’n lae rug wat hom behoorlik opkeil.”
Livie frons. “Hy het gister sy rug seergemaak, maar ek het vir hom ’n voorskrif gegee …”
Wian skud sy kop. “Hy was nie by my nie.”
Sy rol haar oë. Hardekwas mansmens. “Wel, as hy nie die anti-inflammatoriese middel gekry het nie, aanvaar ek die pyn was nie so erg nie. Terwyl ons nou van hom praat, is daar iemand anders op Greyton wat kan help met internetprobleme? Ek wil nie vir Bart pla terwyl sy rug seer is nie.”
“Daar is ander mense, maar Bart is die beste. Ek het baie probleme in die apteek gehad totdat Bart en sy span my gehelp het. Vra hom in elk geval, ek is seker –”
“Nou toe, ek kwyl al, kan ons pannekoek kry?” val sy hom glimlaggend in die rede. Sy sal maar eers een van die ander mense vra. Iemand anders as Bart Coetzee kan tog seker ook help.
“Natuurlik,” sê Wian ewe galant en val in die tou voor die tafel.
Hy moes die medisyne gister gekry het. Bart skuif stadig agter sy bakkie se stuurwiel in. Wian sal wonder waar hy vanoggend is, maar om uit die bed te klim, te stort en aan te trek, het baie energie geverg. Sy huis is net ’n blok van die mark af, maar om vandag te probeer stap is buite die kwessie.
Gister was hy wel by die fisio en Simon het hom ook aangemoedig om die middel te kry wat Olivia voorgeskryf het, maar hy drink nie maklik medisyne nie. Dit laat hom net slaap en gisteraand was daar nog werk om te doen. In die middel van die nag, toe die pyn hom behoorlik opkeil, het hy eers besef hoe onnosel hy was.
Die feit dat hy weereens bitter min geslaap het, help ook nie. Olivia Mulder se sagte kurwes op sy lyf het hom heelnag uit die slaap gehou.
Hy sal kyk of Wian by die mark is en dan apteek toe ry vir die voorskrif.
Gelukkig is daar feitlik reg voor die mark parkering. Vrolike, harde musiek begroet hom toe hy sy deur oopmaak. Met moeite klim hy uit en sluit. Elke beweging is ’n pyniging, maar hy glimlag en wuif vir almal. Op so ’n klein dorpie ken almal mekaar. Hy was al in die meeste mense se huise om met die een of ander rekenaarprobleem te help.
Hy sien Wian se wit kop voor die pannekoektafel waar hulle mekaar gereeld kry. Hy is amper by hom toe Wian afkyk na iemand agter hom en glimlag. Bart herken dadelik die ligrooi hare wat vanoggend laag teen haar rug afhang. Is sy die rede vir Wian se warm glimlag?
Terwyl hy kyk, vou Wian sy hand om Olivia se elmboog. Voor enige boodskap by sy brein uitkom, beur Bart vorentoe totdat hy langs Olivia staan.
“Môre,” sê hy en glimlag stram.
Livie knik in sy rigting.
“Bart!” roep Wian vrolik uit. “Ek het so pas vir Livie gesê ek wonder waar jy is. Ek hoor jy het jou rug seergemaak. Wat het gebeur?”
“Ek het hulle eetkamerstoele afgelewer en wel, die hond wat sy verskyning gemaak het terwyl Leen in tant Peet se huis gebly en toe ná die troue spoorloos verdwyn het, was skielik op die stoep. Ek het hom nie verwag nie, hy was al tussen my voete en …”
“… toe beland jy in die bedding?” glimlag Wian en gee vir hom ’n pannekoek aan.
“So iets. Dankie vir die pannekoek.”
“Kan jy al werk? Want Livie hier het internetprobleme. Ek het vir haar gesê sy moenie eens moeite doen om enigiemand anders as jy om hulp te vra nie.”
“Watse probleme?” vra Bart terwyl hy sy pannekoek eet.
“Ek weet nie. Leen het gesê hier is nie internet nie, ek moet ’n …” beduie sy met haar hand, “dingetjie kry, een met data op. En dis wat ek het, maar dit wil nie werk nie.”
Bart sluk sy lag in. Wanneer iemand na ’n modem as ’n “dingetjie” verwys, beteken dit net een ding – die persoon weet hoegenaamd niks van rekenaars af nie. Natuurlik kan hy haar help, maar hy weet hoe minder hy in die vroumens se geselskap is, hoe beter vir hom. “Daar is gewoonlik ’n wagwoord of –”
Livie lig haar skouers geïrriteerd op en val hom in die rede. “Dit help nie om vir my te beduie wat om te doen nie. Ek werk op ’n rekenaar, maar as dit nie wil doen wat ek wil hê nie, kry ek iemand om te help. Van die binnegoed verstaan ek net mooi niks. Kan jy help?”
“Ja, ek kan help, maar ek is seker daarvan jy kan –”
“Vergeet daarvan, ek sal regkom,” sê sy kortaf en gooi die papier waarin haar pannekoek was in ’n drom. “Dankie vir die pannekoek, Wian, ek gaan kos soek vir vanaand, sien jou anderdag.” En met ’n wuif van haar hand verdwyn sy tussen die mense.
“Wat is fout met jou?” vra Wian geamuseer. “Hier is ’n kans om ’n mooi girl te help en jy sê sy moet haarself help. Jy sal nooit ’n vrou kry as dít jou houding is nie.”
“Sy’s mooi ja, maar so vol draadwerk!” roep hy uit.
Net Wian was veronderstel om sy woorde te hoor, maar die musiek stop in die middel van sy sin en toe raak dit eers duidelik hoe hard hulle nog heeltyd praat om hoorbaar bokant die musiek te wees. Skuins voor hom draai die rooikop vinnig om en blou oë blits een maal in sy rigting voor sy vinnig wegstap.
Wian lag en slaan hom op sy skouer. “Nou’s jy in die moeilikheid.”
Pyn skiet opnuut tot in sy lae rug en hy kreun. “Eina, vrek.”
Wian klik sy tong. “Oukei, jy kan anderdag macho wees, nou kom jy saam met my sodat ons vir jou die medikasie kan gee wat Livie voorgeskryf het. Is jou bakkie naby?”
Bart knik. “Hoe weet jy van die voorskrif?”
“Livie,” sê Wian terwyl hulle tussen die mense deur stap na Bart se bakkie toe.
“Is daar nie meer iets soos dokter-pasiënt-vertroulikheid nie?” brom Bart.
“Ons het oor jou gepraat, jou rug het ter sprake gekom. Klim in, ek sal bestuur,” sê Wian en maak vir hom die deur oop.
Bart wil eers stry, maar hy sak dankbaar terug teen die leuning.