Читать книгу Ultrasatyn 3 - Elsa Winckler - Страница 4

1

Оглавление

Bianca kyk na haar foon wat nou vir die derde keer lui: Dawid.

“Antwoord tog net,” brom Tess oorkant haar.

Bianca rol haar oë en beantwoord dié keer die oproep. So sal sy die gesprek tussen haar en Tess vir nog ’n minuut langer kan uitstel. Wat haar vriendin besig is om haar te vertel, wil sy regtig nie hoor nie.

“Dawid,” sê Bianca kamma vriendelik.

“Kan ek jou iewers ontmoet vir koffie?”

“Ek drink klaar koffie, Dawid.”

“Alleen?” vra hy nuuskierig.

“Nee, nie alleen nie. En nee, ek gaan jou nie sê saam met wie nie. Dit het niks met jou te doen nie.”

“Bianca, jy breek my hart.”

Sy lag en vorm die woord “siestog” met haar lippe sodat net Tess kan sien. “Later dan,” sê sy nou hardop en beëindig die oproep.

Tess se voorkop plooi toe sy die foon effens te hard op die tafel neersit.

“Wat?” vra Bianca.

“Jy kon hom ten minste gesê het jy is saam met my. Die arme ou.”

“Arme ou se voet. Ek stel nie meer in hom belang nie. Waar het jy gehoor iemand is so besitlik wanneer hy jou skaars twee weke ken? Nee wat. Dis nog ’n disaster wat wag om te gebeur.”

Tess druk Bianca se hand. “As jy so aangaan, sal jy nooit jou trouman kry nie.”

“Jy weet mos ek wil nooit trou nie.” Bianca lig haar wenkbroue. “Buitendien raak ek gou bored.”

“As jy so sê.” Tess druk haar blonde hare agter haar oor in. “So waar was ons …? O ja.” Sy maak keel skoon. “Wat dink jy van die idee?”

“Tess, nee.” Bianca skud haar kop soos ’n stout kleuter. Vir ’n oomblik oorweeg sy dit amper om haar arms sommer ook voor haar bors te vou. Sy trek haar groot groen oë op skrefies. “Is jy ernstig?” vra sy, benoud oor die nuus wat Tess haar meedeel.

As Tess en Dan op Gideon Vermeulen se plaas trou, beteken dit sy sal hom weer sien. En daarvoor sien sy nie kans nie.

Tess sit haar hand gerusstellend op haar vriendin se arm: “Komaan, Bianca. Dit sal perfek wees; jy sal sien. Klein en intiem. Buitendien beteken dit baie vir Dan dat hy op sy broer se plaas kan trou.”

Dan? Wie gee om oor Dan? wil sy vir Tess vra, maar sy byt haar onvanpaste woorde liewer terug. ’n Bruid se troudag moet mos spesiaal wees en wat is spesiaal aan ’n stowwerige bosveldplaas?

“En …” Tess byt haar onderlip.

Dit kan net meer slegte nuus beteken.

“Ek het gehoop jy sal alles vir my daar kan reël en organiseer.”

“Ek?” vra Bianca benoud. Hitte soos woorde wat warm teen haar vel gefluister word, kruip onverwags teen haar nek op. Alles te wyte aan die gedagte om weer vir Gideon te sien. Sy sien nie kans om die mense op sy plaas te gaan staan en hiet en gebied nie. Nie dat sy hom nie graag ’n paar instruksies sal wil gee nie, maar saam met hom sal sy nie kan werk nie.

Nie na wat die aand van Tess se verlowing gebeur het nie.

“Ja, jý. Bianca, jy weet hoe verstrooid ek is. Jy is die mees georganiseerde persoon wat ek ken. Jy reël altyd spogfunksies as jy nuwe ontwerpers se produkte in jou winkel bekendstel. Ek vertrou jou met my lewe.”

Bianca roer haar koffie terwyl sy ingedagte na haar foon kyk. Tienuur in die oggend is The Terrace nog stil. ’n Paar kelners is besig om die tafels af te vee. ’n Tuinier op ’n trekker sny die groot grasperk hier by Oliewenhuis.

Hoe gaan sy nou vir Tess verduidelik dat sy nie kans sien nie? Want die waarheid sal sy nooit vir haar vriendin kan vertel nie.

“Dis net … Gideon trek so Out of Africa aan. Ek wed jou die hele plek skreeu die groot vyf. En jy weet dat opgestopte diere my die horries gee. Daai oë. Boonop gaan ek seker die hele troue met ’n rooi neus van die hooikoors rondloop. Dis so warm en droog daar.”

Sy hoop Tess sal haar leuen glo, maar haar vriendin lag net.

Bianca se blik flits oor die groot grasperk voor hulle. “Trou eerder hier. Dié venue is perfek met dié dat dit ’n kunsmuseum en jy ’n kunstenaar is.”

“Ek het gedink jy sal dalk so voel … daarom het ek Gideon gevra om vir ons ’n video te maak.” Tess vat haar foon en begin iets daarop soek. “Dè,” sê sy en hou die foon na Bianca. “Gideon is ’n gawe ou. Ek verstaan nie hoekom hy jou so irriteer nie. Wat het sy smaak in klere in elk geval met enigiets te doen?”

Bianca vat die foon en lag effens verleë. Sy het nog nie een van haar vriendinne vertel wat daardie aand gebeur het nie. Vandat sy Dan se broer agt maande gelede ontmoet het, is hy ’n doring in haar vlees. Die laaste keer wat sy hom gesien het, was die oggend na Tess se verlowing.

Dié herinnering kom ongenooid by haar op. Langs haar op ’n vreemde bedkassie was ’n silwerblou lampskerm met vere en kristalle versier. Beslis nie hare nie. Toe sy regop sit, was daar niemand langs haar in die vreemde bed nie. Met afsku het sy die wit laken stadig opgelig. Sy was in haar onderklere van die vorige aand.

Toe onthou sy … Gideon Vermeulen! Sy het hom gevra om haar huis toe te vat, want sy het te veel sjampanje gedrink. Hulle het die hele aand onskuldig met mekaar geflirt.

Maar duidelik het hulle nie by haar huis uitgekom nie.

Beteken dit sy en Gideon het … of het hulle nie? Verdomp!

Stilletjies het sy uit die bed geklim en haar rok van die vorige aand weer aangetrek. Met haar hare deurmekaar en haar grimering gesmeer, het sy met haar skoene onder die arm deur toe gesluip. Sy het dit saggies oopgemaak en uitgeloer. Boheem Bed en Ontbyt het op die naambord aan die oorkantse muur gestaan. Hoe kon sy toegelaat het dat wat ook al gebeur het … gebeur het? Daarvoor kon sy net die sjampanje blameer, want Gideon Vermeulen is nie haar tipe man nie.

“Is jy oukei? Kry jy koud?” vra Tess skielik.

Bianca wip effens en probeer fokus op die foon in haar hand. Sy maak keel skoon: “Net ’n kat wat oor my graf loop.” Pas het die hitte eers oor haar lyf gebrand, en toe vryf Bianca oor haar arms wat nou weer die ene hoendervleis is. Sy het nagte wakker gelê en wonder wat hulle dalk gedoen het en sjoe, haar verbeelding was nogal kreatief!

Sy glimlag vir Tess. Sy weet sommer die glimlag kom nie naby haar oë nie.

Toe sy daardie oggend uiteindelik by die kamer uitsluip en die deur saggies agter haar toetrek, het ’n stem wat staal kon laat smelt, skielik agter haar gepraat: “Mooi oggend.”

Haar hele lyf het geruk van die skrik.

Met die omdraai het sy gesien dis Gideon wat agter haar staan, sy donker hare klam van die stort waaruit hy so pas gekom het. Met sy kort kakiebroek en rooi T-hemp met die prent van ’n Texas Longhorn daarop en sy veldskoene aan en ’n koppie koffie in die hand, het hy amper goed genoeg vir haar standaarde gelyk. Amper … as dit net nie vir die veldskoene was nie.

Wat het haar makeer?

“Hoe’s die walk of shame sover?” het hy agter haar aan geroep en gelag.

Met bene soos jellie het sy hom geïgnoreer en vinniger gestap. Sy het nie geweet waar om haar kop in te druk nie. Wat moet Dan se broer nou van haar dink? Sonder om om te draai het sy gemaak dat sy wegkom.

“Sê jy nie totsiens nie?” het die simpel vent geroep.

Vir die eerste maal in haar lewe het sy nie geweet wat om vir ’n man te sê nie. Hoe sal sy hom ooit weer in die oë kan kyk? Sy is seker daarna was almal in die gastehuis wakker. Sy het ’n taxi gebel om haar na die galery te vat waar haar kar nog gestaan het en gelukkig agterna nog nooit weer iets van hom gehoor nie. En vir haar vriendinne het sy nie ’n woord daarvan vertel nie.

Bianca dwing haar om op die video te konsentreer. “Die saal lyk soos enige ander saal. Mooi vloere, mooi kandelare, lekker spasie. Niks besonders nie,” probeer sy traak-my-nie-agtig klink.

“Jy soek nou na elke verskoning in die boek sodat ons die troue hier in Bloem moet hou, nè?” ruk Tess se stem haar terug na die voor die hand liggende probleem.

Bianca vat ’n groot sluk koffie en verbrand haar tong. Tess ken haar so goed.

“Hier ken ek die regte mense om ’n sukses van jou troue te maak.”

“Augustus wanneer ons gaan, is die asaleas en bougainvillea in blom. Dit gaan asemrowend lyk,” paai Tess.

“Hier is net soveel nice venues. Ek wil net die beste vir jou hê, Tess. ’n Muskietlose plek met lugreëling en so aan.” Bianca draai haar koppie om en om asof sy haar toekoms daarin kan sien, en sy wens sy kon. Daardie saal lyk eintlik regtig mooi, maar sy sien nie kans om alles vir die troue saam met Gideon reg te kry nie. Hy weet net hoe om haar knoppies te druk.

Gelukkig maak hy haar knieë nie lam nie! Bianca blaas verlig die sliert wat oor haar gesig val weg. Hy het wel mooi, sterk hande. En sy vrek oor ’n man met mooi hande. Veral as daardie mooi hand behoort aan ’n sterk arm met ’n duur horlosie aan. Maar Gideon Vermeulen is nie die tipe ou wat ontwerperspakke dra nie. Hy bestuur nie ’n maatskappy nie, maar ’n Ford-bakkie. Beslis nie haar tipe man nie.

“Gideon se plek is ’n beesplaas, ja, maar jy sien mos nou die onthaalsaal en klein kapel wat onlangs gebou is. Hy het tot chalets in die veld aangebring. Die plaas lê in die hart van die Waterberge. ’n Gedeelte van die plaashuis is onlangs in ’n gastehuis omskep. Van die gaste gaan daar bly, ander in die chalets. Jy sal sien dit gaan pragtig wees. Ek en Dan sal die eerste paartjie wees wat daar trou. Ons moet almal net so ’n week voor die tyd daar wees om alles eksie-perfeksie te kry. Komaan …” Tess se oë pleit.

Bianca blaas haar asem hard uit en val agteroor teen haar stoel se rugleuning. Sy kan net dink hoe die gastehuis se interieur gaan lyk. Een van daardie plekke wat mens rillings gee, seker met bruin lakens op die beddens om die kieme weg te steek.

Maar sy besef Tess gaan nie ophou vra tot sy haar sin kry nie. En diep hier binne wil sy eintlik vir Tess gee wat haar gelukkig sal maak. En dit is om op daardie stupid plaas te trou.

“Ag, hel tog. Oukei, maar as ek malaria kry en doodgaan, is dit jou skuld. En weet net, ek hang fairy lights aan enige opgestopte ding wat skeef na my kyk.” Sy sê dit met ’n knik om haar punt in te vryf. Vir haar vriendin sal sy oor kole loop, maar sy sal net moet uitpluis wat sy ’n week lank met Gideon Vermeulen gaan doen. “En ek bring sommer twee dates, nie die gebruiklike een nie,” terg Bianca. Om vir Gideon ’n boodskap te stuur, voeg sy in haar gedagtes by.

“Fantasties!” Tess gryp haar foon en begin boodskappe aan almal stuur.

“Jy skuld my.”

Tess glimlag vir Bianca en druk haar hand.

Dit beteken sy sal haar winkel vir ’n week in haar twee assistente se hande moet los.

Bianca kan haar kop net skud en lag. Sy moet erken dis vir haar lekker om Tess so gelukkig te sien. Wat sy omtrent Gideon Vermeulen gaan doen, weet sy nog nie. Om uit sy pad te bly sal die beste idee wees. As dit enigiemand anders was, sou sy die ou net een keer dik gevry en klaargekry het. Bianca glimlag heimlik. Nee wat, meneer Vermeulen sal nie weet wat om met haar te doen as hy haar in sy bed het nie.

Toe skok ’n gedagte deur haar lyf – sy was al in sy bed! As daar net ’n manier was om uit te vind wat sy daardie aand aangevang het, maar om hom te vra … dit sal sy nooit doen nie.

Gideon se foon vibreer in sy hemp se sak. Hy haal die lastige ding uit en lees die boodskap van Tess. Hy glimlag. Die troue gaan sowaar hier op sy plaas wees. Hy tik gou vir haar ’n boodskap terug dat hy nie kan wag nie.

Die volgende gedagte tref hom soos ’n skelm vuishou. Hy wonder of daardie sexy rooikopvriendin van haar saamkom. Natuurlik sal sy. Dan trou nie net met Tess nie, maar met haar lawwe vriendinne ook.

’n Bromgeluid klim uit sy keel toe hy aan die laaste keer dink wat hy vir Bianca gesien het. Haar lang kaal bene … aan daardie aand wil hy nie nou dink nie. Die volgende oggend het sy skaam, maar so sexy, met deurmekaar hare en skoene onder die arm by sy kamer uitgesluip.

Hy kon net lag.

Sou sy onthou het wat sy die vorige aand gedoen het? Verdomp. Dit beteken al daardie estrogeen gaan vir ’n week of wat sy plaas kom oorneem. Hy is seker vroue soos Bianca sal ’n man se hart vir ontbyt opeet. Sy is beslis nie die tipe meisie waarop jy ’n etiket kan plak nie.

Gideon skud sy kop.

Hy wonder of Bianca, soos hy, iemand is wat haar nie sal laat vastrek in ’n permanente verhouding nie. Dalk … Gideon lag. Dalk kan hulle mekaar na die troue vergesel? Dan hoef hy nie een van die bakvissies op Bela-Bela uit te vra nie, en hoef sy nie ’n vreemdeling vir ’n week al die pad na sy plaas toe te sleep nie. Dit klink … beheerbaar – sonder komplikasies. Hy is nou maar eenmaal ’n man wat daarvan hou om in beheer te wees. Maar terwyl sy hier is, sal hy dalk eers bietjie pret met dié prikkelbare, delikate blom hê.

Ultrasatyn 3

Подняться наверх