Читать книгу Ultrasatyn 3 - Elsa Winckler - Страница 5
2
ОглавлениеDie Sondagmiddag voor die troue begroet ’n streep stertswaaiende brakke hulle buite Gideon se huis. Bianca huiwer voor sy uitklim. Sy kan nog steeds nie glo sy het haar laat ompraat nie. Die video van die saal en kapel het sy goed bestudeer. In haar verbeelding kon sy al redelik beplan wat waar sal moet staan. Sy het selfs op Modimolle ’n bloemiste en verhuringsagentskap gekry wat aan haar hoë standaarde voldoen.
Met haar een voet uit die motor, besef Bianca sy moes seker nie ’n wit langbroekpak aangetrek het nie, maar nou is dit te laat. ’n Sjokoladebruin Labrador is klaar besig om sy nat neus aan haar been af te vee.
“Wow. Dis ’n mansion,” sê Tanya toe sy uitklim. Sy staan nou hande op die heupe en staar na die huis.
Bianca rol haar oë. ’n Sandkleurige dubbelverdiepinghuis toring agter die groen grasperk. Tess was reg: die asaleas en bougainvillea is in blom. Bont blomtrosse hang in hellings langs die huis en op die werf. Dit lyk of die asaleas sommer wild hier groei.
By haar meenthuis in Bloemfontein het al wat ’n rododendron is, al van pieperigheid gevrek.
Die hond voor Bianca draf na die ander kant van die kar. Anette is geduldig besig om almal se koppe te vryf, en hy wil seker ook sy beurt kry. Dankie tog. Nou kan sy hopelik gou in die huis kom sonder om aan een van hulle te vat. Mens sal dink as jy weet jy kry kuiergaste, sal jy jou honde toemaak. Wat gaan Gideon Saterdag met die brakke doen wanneer die gaste vir die troue opdaag?
Bianca klim uit en maak die motordeur sag toe. ’n Oomblik staan sy na die huis en kyk. Dit lyk glad nie soos sy haar dit voorgestel het nie. Die video wat sy gesien het, het net die saal en kapel gewys. Nie dié paleis van ’n huis nie. Voor die houtraamvensters is ruim balkonne. Deftige meubels staan op die stoepe. Hier en daar is die tekstuur van klipwerk teen die mure aangebring. Die plek is pragtig. Van buite af in elk geval.
Die binnekant is seker lekker kitsch en kommin, maar dit sê sy nie vir Tanya en Anette nie. Sy het Tess belowe sy sal haar dié week gedra.
“Welkom dames … en Bianca.” Gideon se stem spoel oor Bianca se sintuie.
Haar mond is skielik droog toe sy hom sien.
’n Bruingebrande Gideon Vermeulen kom met ’n breë glimlag na hulle gestap.
Bianca trek haar asem stadig in. Sy donker hare is effens langer as wat dit agt maande gelede was. Het sy haar vingers dalk al daardeur getrek? Nee, hemel. Dis nie waaraan sy nou moet dink nie.
Dié week moet sy op Tess se troureëlings fokus.
Gewig wat skielik teen haar bobene land, trek haar aandag. Toe Bianca buk, is dit in vriendelike donker oë waarin sy vaskyk. ’n Wit Labrador eis dié keer haar aandag. Sy tik die hond se kop sag. Dis nie nodig dat Gideon agterkom sy is nie lus vir hom of die spul honde nie.
“Roxy!” raas hy.
Die hond gaan sit gehoorsaam en maak ’n ongeduldige kreungeluid wat vir Bianca amper oulik klink.
Sy verander gou van mening toe sy die bruin merke sien wat nou netjies oor haar spierwit langbroek lê. Vies probeer sy dit afvryf en toe sy opkyk, is Gideon by haar.
“Jammer,” sê hy, maar die duiwels wat in sy oë dans, laat haar dink sy verskoning is nie opreg nie. Hy glimlag sowaar, kyk skrams na Bianca voor hy na Tanya en Anette stap. Hy slaan sy arms om hulle en gee elkeen ’n druk.
Bianca trek haar skouers uitdagend reguit. Hy moet net nie dink hy gaan haar ook so druk nie.
Toe Gideon na haar draai, hang spanning soos ’n vraagteken tussen hulle. Die skadu van sy donker stoppelbaard beklemtoon sy ken en sterk kakebeen. Haar maag fladder by die gedagte dat sy al in haar drome daardie stoppels in haar nek gevoel het.
Vir ’n oomblik staan hy doodstil voor haar.
Bianca besef te laat hy staar na haar mond en voor sy kan keer, is sy mond op hare. Sy warm, sagte mond. Wat vang haar weerspannige hart tog aan wat sowaar vinniger klop?
Teen haar lyf kan sy die sterk kontoere van sy borskas voel. Sy is bewus van die hand wat haar stewig teen hom vasdruk.
Bianca druk haar hand teen sy borskas van staal in ’n poging om hom weg te stoot, maar sy lippe talm nog ’n oomblik op hare.
Toe Gideon sy mond wegtrek, moet Bianca keer of sy wil haar mond afvee. Hoekom is hierdie man so aspris? Sy byt eerder die binnekant van haar wang voordat sy iets sê wat hom ’n greintjie genot sal gee.
Sy wens Tess was nou hier om dit te sien, maar sy, Dan en die meisiekinders sal eers laatmiddag arriveer. Dalk sal sy dan verstaan hoekom die man haar so doelbewus verpes. Of haar moermeter dit die week met Gideon Vermeulen gaan hou, is sy nie seker nie. Hy begin dan al klaar met sy twak.
Haar twee vriendinne giggel. Hulle mans kom eers Vrydag, en skielik wens Bianca sy het ook dan eers gekom. Om haar besig te hou maak sy die kattebak oop. Sy vroetel aan die bagasie, maar haar troebel brein wil nie helder dink nie.
Hande wat haar ’n oomblik gelede nog vasgehou het, druk verby haar lyf en reik na die bagasie.
’n Kuggie ontsnap uit haar keel.
Gelyktydig gryp hulle albei na haar groot tas. Daardie sexy hand van hom vou om hare. Haar oë beweeg op na die gespierde arm voordat sy die tas los asof dit ’n warm kool is.
Tergend flits hy ’n glimlag. Hy is wragtig aspris.
Met gemak lig Gideon die gewigtige tas uit voor hy Tanya s’n ook aflaai.
Anette kan seker die spanning aanvoel, want sy duik na die kattebak. “Myne is lig. Ek dra dit sommer self.”
Tanya lag weer en pomp Anette in die ribbes. Sy vat twee van die smuktasse.
“Ek is verbaas die kar kon die grondpad hiernatoe ry,” sê Gideon. Hy kyk weer na die Mini Cooper in sy oprit.
Bianca rol net haar oë en mompel sag. Sy dink weer aan sy onnosele voorstel dat hulle twee mekaar na die troue moet vergesel. Absurdste idee nog! Nee, Vrydagaand sal Gavin sy opwagting hier maak en Saterdag sal hy haar date vir die troue wees. Hy het haar behoorlik na haar asem laat snak toe sy hom ’n week gelede in haar winkel gehelp het. Hy het ’n handsak vir ’n vriendin kom koop. Meneer Geld-vir-verstand het haar beïndruk met sy platinum-kredietkaart, breë glimlag en sterk lyf. Dit behoort vir Gideon Vermeulen ’n boodskap te stuur. Daar sal nie weer ’n herhaling wees van wat daardie aand tussen hulle gebeur het nie.
As hy gedink het Saterdag is sy gelukkige dag, kan hy maar weer dink. Miskien was dit so aaklig saam met Gideon dat geheueverlies haar liggaam se manier is om met die slegste seks van haar lewe te cope. Ja, dit klink na die logiese antwoord.
Bianca gooi ’n rooi lok oor haar skouer. Gideon het nou ’n tas in elke hand. Sy gryp die laaste sak uit die kattebak en hang dit om sy nek. “Daarso, Spiere. Maak jouself dan maar nuttig,” kners sy dit uit.
Met die eerste tree op die gras voel dit of die aarde skielik onder Bianca bewe. Sy kyk af. Haar lyf wieg vorentoe en agtertoe. Met ’n paar armswaaie behou sy uiteindelik haar ewewig. Haar geliefde paar spykerhakke van grys blinkleer met die bruin leerenkelbande sak in die dik grasperk weg. Sy staan ’n oomblik stil voordat sy haar voete vies een vir een uit die skoene glip.
Laat Tanya en Anette dit nou net waag om iets voor die man te sê.
“Nice Cinderella-skoene, Bene. Ek hoop jy beplan nie om heelweek op daai polvye rond te loop nie.” Gideon stap met sy arms vol tasse verby haar.
Bianca knyp die skoene ergerlik onder haar arm vas. Amper soos die oggend toe …
Toe sy opkyk, is dit vas in Gideon se bruin oë wat speels op haar gerig is. Hy kyk oor sy skouer na haar, en haar asem wil-wil in haar keel vassteek. Sy kan sien hy sluk sy lag weg.
“Nou waar het ek dié prentjie al gesien?” spot hy en stap kalm voort huis se kant toe. “O ja …”
Bianca is onmiddellik langs hom. “Waag jy dit nou net,” sis sy vir hom. Haar vingers is dom toe sy die sak vat wat om sy nek hang. Met ’n ekstra swaai in haar heupe klim sy die trappe vooruit.
Gideon se harde gelag klink agter haar op.
Sy voel hoe hitte teen haar nek opstoot. As Gideon dink hy gaan haar die hele week spot oor wat tussen hulle gebeur het, moet hy weer dink.
Sommer met die intrapslag besef Bianca sy sal haar woorde moet sluk. Hier is sowaar niks kitsch of kommin aan die plek nie. Die gastehuis is met presisie ontwerp. Die dekor is … verrassend mooi. Hoë wit plafonne met wit geverfde balke vorm ’n pragtige kontras teen die olyfgroen mure.
Marokkaanse lanterns dien as versiering sowel as beligting.
Voor Bianca strek breë trappe van glas en hout na ’n tweede verdieping waar dakligte die sonlig laat instroom. Hier is wel bokkoppe – daaroor was sy reg! – maar hulle is wit geverf en van draad gemaak; die tipe wat sy dalk ook in haar huis sal hang. In piouterblompotte pryk koningsproteas. Pragtige retromeubelstukke is saam met moderne donkerhoutmeubels gerangskik. En is dit Spaanse musiek wat in die agtergrond speel?
Tanya stamp haar liggies in die ribbes: “Maak toe jou mond, Bianca,” fluister sy by haar oor.
Hoe het dit gekom dat sy Gideon se smaak so onderskat het? ’n Antieke platespeler word slim gebruik as ’n TV-kas. Op die grond langs ’n ou haarkapperstoel staan metaalkiste in verskillende groottes. Bianca vee oor die swart-en-wit leer van die stoel en voel asof sy ’n oomblik terug in tyd meegevoer word.
“Kom,” sê Anette langs haar.
“Ons kan Bianca se tas sommer eers hier los. Ek het vir haar iets anders gereed gemaak,” sê Gideon.
’n Chalet?
“Ek neem aan die swaarste tas is joune?” Hy wys na die groot sjampanjekleurige Rockland-tas.
Bianca kan net knik. Haar gedagtes wentel soos ’n maalkolk. Vir wat kan sy nie ook net sommer hier slaap nie?
“Hier sal ongelukkig nie genoeg plek wees nie,” sê Gideon asof hy haar gedagtes kan lees. “Ek het gedink Anette en haar man kan die een kamer vat. Tanya met haar man en kids die gesinskamer. Tess en die meisiekinders die een langs myne. En dan moet my ma en Tess se ma elk hul eie kamers hê. Vanselfsprekend deel ek nie ’n bed met Dan nie, so hy bly langs Tess. Die twee het besluit hulle sal hul hande die week voor die troue van mekaar afhou.” Gideon druk sy duime in sy kakiekortbroek se sakke.
Waarom kan Dan nie in die boendoes bly nie? wil sy hom vra, maar byt die vraag terug. Soos sy aangaan, sal sy binnekort bloed proe. “Whatever.” Bianca stap na die reuseboekrak wat nou haar aandag trek.
“Ek is seker dit is reg so,” sê Tanya opgewonde. “Boontoe?” vra sy en beduie met haar kop in die rigting van die trappe.
“Ja. Die eerste deur op linkerhand.”
“Dankie vir jou gasvryheid, Gideon,” sê Anette en begin agter Tanya aan stap. “Ek voel sommer klaar tuis.”
Bianca se borskas brand. Snaaks genoeg voel sy ook tuis. Die hele atmosfeer hier is huislik. Dis die tipe plek waar mens kinders kan grootmaak … en gelukkig kan wees.
Waaraan dink sy tog? Dis die laaste ding wat sy in die lewe wil doen.
Aandagtig kyk Bianca na die titels op Gideon se boekrak. Sy smaak in prosa is beslis beter as dié in klere. Vies omdat sy steeds wag, val sy in die haarkapperstoel neer. Met ’n skop draai sy ’n keer of wat in die rondte.
Sy kan hoor hoe Anette en Tanya komplimente oor hul kamers uitdeel.
Bianca rol net haar oë. Sy wil nie eers gaan kyk hoe dit daar bo lyk nie. Seker ook asemrowend mooi, nes die res van die plek.
Foto’s teen die oorkantse muur vang haar oog. Sy staan op en stap nader. Gideon, Dan en ’n ouer man, wat baie na hulle lyk, hou almal een reusagtige vis vas.
Dan vang Bianca se oog ’n ander foto. ’n Vrou wat op die enjinkap van ’n sportmotor sit. ’n Ou model. Toe besef sy dis Dan se ma, tannie Amorie. Op die foto was sy nog jonk. Bianca het haar by Dan se huis ontmoet toe sy daar was vir ’n braai. Op die foto is haar rok effens opgelig en wys sy ’n stukkie been. Haar hare is in ’n kort krullerige styl gekam en haar lippe is donker. Seker rooi, met die swart-en-wit foto is dit moeilik om te sê. Sy lyk soos ’n regte pin-up model.
“Daarso, kom ek vat jou gou na jou slaapplek toe.”
Gideon se stem laat haar wip. Sy het hom nie eens die trappe hoor afkom nie. Hy vryf sy hande onhebbelik saam.
Sy huiwer voor sy saam met hom stap. Die laaste ding wat sy nou wil doen, is om alleen saam met hom iewers heen te gaan. Sy wou nog self haar tas opgetel het, toe het Gideon dit en is hy by die deur uit. Sy gee ’n laaste kyk in die rigting van die trappe.
Kan Tanya of Anette tog nie saamkom nie? Maar daar is geen teken van haar vriendinne nie.
Sy sal deksels gou moet maak as sy by Gideon wil bly. Hy stap al ’n ent flink oor die grasperk.
Met lang treë val Bianca uiteindelik langs hom in. Sy hou elke beweging van Gideon Vermeulen fyn dop. Haar blik talm by sy biseps wat sy T-hemp se moue skoon laat rek. Sy vel is bruingebrand en daar is fyn, donker haartjies op sy voorarm. Ongemaklik maak sy keel skoon en stap vinniger.
Voor ’n groot rooi skuur kom Gideon se drafstap uiteindelik tot stilstand. “Wag sommer hier,” sê hy en sit haar tas langs haar neer. Dit sal haar nie verbaas as hy haar hier in die skuur laat slaap nie. Hy skuif ’n swaar staaldeur oop, en Bianca betrap haar dat sy sowaar weer merk watter sterk, mooi hande die man het. As hy net nie ’n flippen boer was nie, kon hulle dalk … Nee, magtig, sy kan nie so iets dink nie.
Onthou die aand van Tess se verlowing, Bianca, moet sy haarself tugtig. Buitendien, hy is nie jou tipe nie. Punt.
En binne sekondes bevestig hy net weer dat sy reg is. Gideon stoot ’n vierwielmotorfiets met ’n klein sleepwa in haar rigting.
Sy grinnik. Hy moet net nie dink sy gaan op daardie ding klim nie.
Met een swaai van sy sterk arm is haar tas agter op die sleepwa. Hy swaai sy been met gemak oor die sitplek en sit sy hande op die handvatsels.
“Kom jy of bly jy, Bene?”
Bianca vou haar arms voor haar bors. “Ek …” Magtig, die man het haar sprakeloos. Wat bedoel hy met Bene? Natuurlik, hy het haar dan amper kaal gesien. Of heeltemal kaal – ag, genade, watter een van die twee is dit tog?
Kan hy nou net van daardie aand vergeet!
“Ek klim nie op daai ding nie,” sê sy vies.
“As jy nie saamry nie, gaan jy lank stap. Ek het die heel verste plek vir jou gereed gekry … net ingeval jy lawaaierig sou wou raak.”
Bianca snak na haar asem. Verdomp! Haar wange word vuurwarm. Nog hitte stoot teen haar nek op, en as sy nie nou kaalvoet was nie, het sy die vervlakste wiel geskop. Wat de hel het presies daardie aand tussen hulle gebeur? Wat weet die vent nou alles van haar?
“Klim,” sê hy kwaai.
Bianca pers haar lippe saam. Haar lyf ruk toe hy die enjin laat brul. Haastig glip sy ’n skoen aan elke voet. Teen haar sin skuif sy agter Gideon se rug in.
“Hou lekker styf vas,” skerts hy.
As sy nie so bang was om van die vervlakste ding af en op haar mond te val nie, het sy sowaar loshande gery, maar haar glimlag is haar grootste bate.
Met mening sit sy haar hande eers op sy skouers. Toe is dit sy wat glimlag. Sy kan mos sý siel ook uittrek. Hy is maar net ’n man, en om mans in die verderf in te lei, was nog altyd vir haar so maklik soos asemhaal. Femme fatale het haar ma altyd gesê wanneer sy Bianca se rooi krulle uitgeborsel het. Dis te sê die kere wat haar ma by die huis was.
Met stadige bewegings laat Bianca haar hande teen sy sye afgly.
Gideon se lyf ruk effens.
Twee kan mos dié speletjie speel.
Hy sit sy hand op hare om haar te keer.
Bianca lag en fluister langs sy oor: “Bang?”
Hy skud sy kop. Sonder om haar te antwoord, versnel hy.
Haar rooi naels grawe dieper in sy T-hemp.
“Gaan jy saam met my troue toe, Bene?” vra hy oor sy skouer.
Nóú vra hy haar. Hy het sommerso saam met Tess langs die boodskap gestuur en nie eens die moeite gedoen om haar self te vra nie.
“Ek besluit nog,” lag sy by sy oor. “Wat is dit vir jou werd?”
“Ek sien nie jou date nie. Tensy dit is wat jy in daardie moewiese tas gepak het.”
Bianca lag.
“Laat weet my wanneer jy besluit het.”
Sy knik, al weet sy klaar wat haar antwoord is.
Die grondpad na haar chalet kronkel voor hulle uit. “Hoe ver is dit nog?” vra Bianca, nou bekommerd. Hy steek haar sowaar in die bos weg.
“Naby genoeg om te stap … net nie met die tas wat jy gebring het nie.”
Sy trek haar asem in toe hulle oor die smal laagwaterbruggie ry.
“Daar is die troulokaal.” Hy beduie na die oorkant van die dam.
“Spoggerig.” Van hier af lyk dit selfs beter as op die video wat sy daarvan gesien het. Later, wanneer haar senuwees bedaar het, sal sy die plek van naderby gaan bekyk. Voorlopig wil sy net daarop fokus om nie van die dekselse motorfiets af te val nie.
Onder ’n groot ou tambotieboom hou Gideon uiteindelik stil. Hy klim af en tel die swaar tas van die sleepwa af. “Kom jy?” vra hy toe Bianca net bly sit.
Sy het nie woorde nie. Die volgende oomblik spring sy van die motorfiets af en storm sy soos ’n wit blits verby hom die trappe op. “Dis dan ’n verdomde tent!”
“Dis ’n luukse tent, met lugreëling en jou eie badkamer. Hier is ’n houtplatform waar jy soggens kan koffie drink,” paai hy.
Asof dit haar beter moet laat voel.
“Ek doen nie die plaasding nie en ek kampeer beslis nie. Ek het geweet ons moes die troue in Bloem gehou het, maar, nee.” Bianca byt haar lip. Hoe de hel gaan sy hier slaap? Sy vou haar arms ergerlik en staan doodstil voor die toe tent.
Gideon skud sy kop.
“Nét ’n ritssluiter?” merk sy op terwyl sy na die rits staan en kyk asof dit vanself gaan oopgaan soos ’n glasdeur in ’n inkopiesentrum. “Hoe moet ek leeus en goed hier uithou? Of is dit jou plan – laat die roofdiere vir Bianca opvreet?”
Gideon bars uit van die lag. “Watse leeus? Die enigste leeuwyfie hier is jy, Bene.”
Bianca trek haar asem skerp in. Sy is lus om in haar kar te klim en huis toe te gaan, want sy kan nie glo sy moet sy optrede verduur nie. Hy sluk ’n glimlag terug toe hy die rits stadig ooptrek. Pes.
“Dames eerste.” Hy hou die tentflap oop.
Bianca klik haar tong. Dis seker hier waar hy die regte bokkoppe vir dekor gebruik. Met ingehoue asem stap sy die tent binne, gaan staan en kyk na haar blyplek vir die volgende week, haar arms gevou.
Verlig blaas sy haar asem stadig uit. ’n Koningsgrootte-bed van gegote yster met sneeuwit linne staan in die middel van die tent. Uit die dak val ’n muskietnet, nogal swart, heel romanties tot op die vloer. Die bed is versier met rooi en bruin strooikussings van pels en satyn. Daar is ’n vierpootbad met kraakvars wit handdoeke en rye heerlike badmiddels wat wag om gebruik te word. Die lugverkoeling is reeds aan en ’n lafenis in die bosveldhitte.
Bianca byt haar lip. Die plek is pragtig. Skielik voel sy sleg omdat sy netnou so tekere gegaan het.
Sterk hande wat om haar skouers vou, laat haar skielik ruk. Gideon draai haar na hom: “Dis die wittebrood-suite.”
Iets in sy stem laat haar goed voel, asof dit deur haar hele lyf op al die regte plekke resoneer. Sy trek haar asem stadig in. Moet die man se stem dit nou aan haar doen?
Dan sink sy woorde in. Wat probeer hy vir haar sê?
“Wittebrood-suite?” Bianca druk haar vinger onder Gideon se neus. “Luister nou mooi, as jy dink wat in Bloem gebeur het, gaan hier ook gebeur, kan jy dit vergeet. As dit is hoekom jy my dié week hier in die uithoeke van die bos in ’n tent in prop omdat jy dink jy gaan iets by my kry, is jy verkeerd! Jý was veronderstel om my huis toe te vat daardie aand, toe …” sy huiwer voor sy verder praat, “toe …” Verdomp! As sy net kan onthou wat toe gebeur het.
“Toe wat, Bianca?” Gideon vou sy hand sag om haar vinger. “Kan jy ooit onthou wat gebeur het?” Hy kyk na haar deur skrefiesoë.
Bianca druk haar vingers in haar hare voor sy oor haar nek vryf. “Wel …”
Meteens is Gideon Vermeulen se hande om haar gesig gevou. Sy lippe vryf oor hare voordat sy tong verby haar verstomde lippe glip. Sy kan hoor hoe die bloed deur haar are bruis. Haar asemhaling raak luid, maar sy mond is warm en gerusstellend. Hy beweeg sy mond met presisie teen hare. Elke sel in haar lyf spring orent.
Toe hy wegtrek, wil sy hom terugruk. Sy wil hom nog soen. Dié begeerte vang haar onkant. Albei die Vermeulen-broers is ’n fees vir die oog, dit het sy al besef die eerste dag wat sy hom gesien het. Maar sy het haarself belowe uit dié broer se pad sal sy bly. Die gevoel wat hy in haar ontlok, sal sy ignoreer, want hy is nie haar tipe ou nie; dís wat sy haarself belowe het, maar na daardie soen wil sy haar simpel idee heroorweeg.
Bianca vat nog aan haar lippe, toe draai Gideon klaarblyklik vererg oor haar houding na haar tas wat nog op die stoep staan. Hy tel dit op en sit dit hard in die tent neer. “Vir die rekord, Bene. Dít was ons eerste soen.”
“En die laaste een,” mompel sy deur geklemde tande. Maar eintlik was dit hul tweede soen as hulle die een tel wat hy haar ’n halfuur gelede voor sy huis gegee het.
“Ek kan jou verseker dit was beslis nie die laaste een nie. Ek weet jy kan nie onthou nie … en jy sal my dalk nie glo nie, maar niks het in Bloem gebeur nie!” roep hy oor sy skouer.
Haar brein is nog wasig, toe hy hande in sy hare by die trappe af draf en wegstap.
Wag! Wat bedoel hy met niks het in Bloem gebeur nie? Bianca hardloop agter hom aan, maar hy is klaar op die motorfiets.
“Ons eet sewe-uur. Sorg dat jy daar is!” skree hy bo die gebrul van die enjin.
“Gideon!” roep sy, maar dis vergeefs. ’n Stofwolk bol agter hom toe hy wegry. Kan sy hom glo? Het daar regtig niks tussen hulle gebeur nie?
Hoe sy weer by die plaashuis gaan kom, weet sy nie. Al die skoene wat sy gebring het, het hoë hakke. Sal sy ooit die regte pad kry? Moedeloos sak sy in die stoel op die stoep neer.
Met haar hand oor haar oë tuur sy oor die water.
Die troulokaal weerkaats op die dam se oppervlak. Die groot deure van hout en glas skep ’n asemrowende prentjie. Sy kan haar al klaar die liggies in die bome op die grasperk voorstel. Die romantiese lig van kerse op lang houttafels kan sy ook al in haar verbeelding sien.
Die troue gaan prentjiemooi wees, daarvoor sal sy sorg.
Sy sal vanaand met Gideon moet praat. Vrede maak. Vir Tess en Dan se onthalwe. Haar keel is skielik droog toe sy weer aan die soen van netnou dink. Wat het hom besiel? Hitte het soos ’n veldbrand agter haar naeltjie gesmeul en sy kon dit nie keer nie. Dat daar ’n vonk tussen haar en Gideon Vermeulen is, is nie altemit nie, maar as mens met vuur speel, verbrand jy mos altyd jou vingers.