Читать книгу Ultrasatyn 3 - Elsa Winckler - Страница 6

3

Оглавление

Toe Bianca nie meer die geluid van die motorfiets kan hoor nie, val sy op die bed neer. Hoe sy gaan slaap, weet sy nie. Sy is seker as al die diere hul geluide begin maak, sal sy kiertsregop sit en wag dat die son moet opkom. Daar is selfs ’n buitestort, maar dié sal sy definitief nie gebruik nie. Dis nie nodig dat al wat ’n kreatuur is haar aankyk terwyl sy skoon word nie.

Met dié gedagte besluit Bianca om water in die bad te tap. Haar wit broekpak sal seker nooit weer skoon word nie. Sy voel al klaar taai van die bosveldstof aan haar lyf.

Terwyl haar badwater in skuimbolle omgetower word, maak Bianca haar tas oop. Sy giggel onverwags. Sy het amper vergeet van die ekstra paar kledingstukke en interessanthede wat sy in haar bagasie gepak het. Gelukkig het Gideon nie aangebied om haar tas te help uitpak nie.

Stadig lig sy die duur satyn-en-kant-korsette uit die tas. ’n Paar nuwe deurtrekkers en kousgordels. Die boeie wat met swart fluweel oorgetrek is, weet sy, sal vir Tess ’n hartaanval gee. En wag tot haar vriendin die smoorsnoer met die rye steentjies sien! Dít alles het sy saamgebring vir Tess se hennepartytjie. Al die vriendinne het gelas vir ’n boudoir-fotosessie. Dit gaan baie pret wees.

Tess kan haar album vir Dan as ’n trougeskenk gee. Al probleem is, sy moet nog vir Gideon vra waar hulle dit hier op die plaas kan hou. En soos dit nou gaan, sal hy seker nooit weer met haar praat nie.

Met ’n glas sjerrie in die hand sak Bianca in die skuim weg.

Vanaand sal sy omtrent moet kruip om als in die reine te bring. Sy sal begin deur vir Gideon te sê dat sy wel saam met hom troue toe sal gaan. Dit sal haar olyftak wees. Dalk sal hy haar dan vertel presies wat daardie aand met die verlowing gebeur het.

Begeerte slaan Gideon se wind asof met ’n vuisslag uit.

Bianca kom oor die grasperk aangestap. Haar rooi hare wip oor haar skouers, nes vanmiddag toe sy soos ’n stoute kleuter voor haar tent gestaan het. Dit het alles van hom geverg om sy hande nie op die plek in daardie bos rooi hare te druk en haar te soen soos hy graag wou nie … wel, hy kon darem ’n rukkie uitgehou het. Hy kan haar lippe nou nog onder syne voel.

Wat het hom besiel om haar te soen? Haar lippe was net te naby en haar geur so aanloklik, haar oë so uitdagend. Nie alle vroue wat ’n vloermoer gooi, laat sy onderlyf lewe kry nie, maar Bianca doen goed aan hom waaraan hy eerder nie wil dink nie. Al waaraan hy kon dink om haar stil te maak was om haar in sy arms te vat en te soen.

As hy net kan wegkyk, maar die beeld voor hom roep hom soos die lokstem van ’n meermin. Haar kort swart rok maak skaars haar sitvlak behoorlik toe, verdomp. Die swart skoene met hul hoë wighakke laat haar lang bruin bene ekstra sexy lyk. Hoe loop sy op die goed? Die lippe waarin hy hom vanmiddag so verlustig het, is nou karmosynrooi, nes die blomtrosse van die huilboerboonboom hier in die Bosveld.

Op die gras keer Dan se meisiekinders haar voor. Albei die kinders gee haar ’n druk. Die oudste een stap nou saam met haar stoep toe. Bianca knik aandagtig vir die kind en glimlag.

Toe sy naby kom, kyk sy op in Gideon se oë.

Die kwaai uitdrukking van vroeër in die groen oë is weg, daar dans op die oomblik goddeloosheid in haar blik. Beteken dit sy is nou kalmer? Toe haar lyf verby syne druk, neem elke sel in sy lyf haar sitrusgeur op.

Om te verhoed dat hy aan haar vat, druk Gideon sy hande eerder in sy broeksakke. “Tess en Dan is hier,” sê hy gou.

Bianca haal diep asem. “Ek sien so.”

As dit nou nie die simpelste opmerking was wat hy al ooit gemaak het nie. Komaan, Vermeulen, ruk jou reg.

“Sê vir my die trourok het veilig hier aangekom.” Bianca omhels vir Tess, die vrou wat sy broer se hart gesteel het. Gideon is bly vir Dan se onthalwe. ’n Beter vrou sou hy nie self vir sy broer kon kies nie.

“Natuurlik! En jy moet sien hoe pragtig lyk Emma se blommemeisie-rok. Die ontwerper het tot vir ons ’n pragtige goue strik om die middel vasgewerk. Sy is gek oor die lae en lae net. Dit lyk te fraai.”

“Wonderlik,” sê Bianca en vryf oor klein Emma se kop. Dan se kind hou aan Tess vas asof dit haar eie ma is.

Bianca soen sy ma en Tess se ma om die beurt. Tot Dan kry ’n druk, en Gideon is oombliklik jaloers. Waarom weet hy nie.

“Ek hoor Gideon steek jou in die bos weg?” sê-vra Dan.

Bianca se lag weerklink klokhelder oor die stoep en golf oor Gideon. Sy klink sowaar nie meer vies nie.

“Hy het ons vertel hoe jy jou gewip het,” sê Anette.

Bianca kyk na hom.

“Jy moet oppas. Ek hoor hy duld nie temperamentele koeie op sy plaas nie, Bianca,” sê Tanya en vat nog ’n sluk wyn.

Almal lag.

“Toemaar, Sondag is dié temperamentele koei uit jou pad uit,” spot Bianca. “Ek het so amper in die skemer hiernatoe verdwaal. Gelukkig het die liggies daar van die laagwaterbrug af my op my pad hierheen gelei, anders sou julle my moes kom soek het.” Bianca lek oor haar rooi lippe.

Gideon sluk die kreun wat uit sy keel wil bars. Hy was vanmiddag so kwaad dat hy nie eers gedink het hoe sy weer tot hier sal kom nie. Maar toe al die gaste op die stoep bymekaarkom vir vanaand se braai, het hy besef iets … iemand … ontbreek.

Bianca! het dit hom meteens getref. Hy was net op pad om haar te gaan haal, toe sy aangestap kom.

“Ek sal jou vanaand terugvat met die quad en dit daar vir jou los. Dan hoef jy nie elke keer hierheen te stap nie. Jammer …”

“Dankie.” Bianca se oë talm ’n oomblik in syne.

“Ek hoor jou plek het die mooiste uitsig,” sê Tess.

Dis die eintlike rede hoekom hy daardie tent vir haar reggekry het. Soggens kan sy haar koffie en beskuit daar buite geniet terwyl sy kyk hoe die son oor die berge en die dam opkom.

“Dit is asemrowend. Veral met die asaleas wat nou al om die dam blom. Die kleure vat mens se asem regtig skoon weg. Ek weet net nie hoe ek in die bos gaan slaap nie … ek het nog nooit nie.” Bianca byt haar lip.

Wat? Sy het nog nooit in die buitelug geslaap nie?

“Soos ek vir Gideon ken, werk hy nou weer met ’n plan.” Sy ma knipoog vir Bianca.

Gideon besef sommer hier kom ’n ding. Sy ma en tannie Dina, Tess se ma, het ook vanmiddag gearriveer. Die twee het saam van Lanseria-lughawe af tot hier gery.

“Het hulle nie altyd planne nie?” las tannie Dina by. Haar grys hare is in ’n kort moderne styl gesny. Haar baadjie teen die koel aandlug hang oor haar skouers.

“Watse plan nogal, tannie?” vra Bianca glimlaggend vir sy ma.

“Hy wil jou net vir homself hê. Dis hoekom hy jou daar in die bos wegsteek … dis maar net my opinie.”

Bianca se oë flits na syne.

Sy ma druk nou weer haar neus in waar dit nie hoort nie. Sy en Tess se ma raak hul wynglase teenmekaar voor die twee te lekker lag. Miskien moet hy die wyn wegsteek voor hulle hom en Bianca behoorlik laat skaamkry.

“Is dit so?” Bianca het weer daardie ondeunde blik in haar oë en as hy nie wegkyk nie, gaan al die bloed wat veronderstel is om deur sy hart te pomp binnekort na sy onderlyf beweeg. Sy ma is reg. In sy agterkop het hy dalk gehoop … nee, dis malligheid.

Bianca is sy aanstaande skoonsus se vriendin, maar dit beteken nie sy is off limits nie. Of dalk wel?

“Ma is laf. Ignoreer haar asseblief, Bianca.” Hy pak die hout op die braaier en steek dit aan die brand. “Buitendien sal sy van Vrydag af nie meer alleen wees nie. Dan kom van die ander gaste ook in die chalets daar naby bly.”

“Dit gee hom mos genoeg tyd om sy move te maak,” sê tannie Dina. As sy ma nie keer nie, gaan haar kunstande nou in haar glas wyn val soos sy lag.

“Jy bedoel seker tente?” Bianca se oë terg hom, en hy kan net sy kop skud.

“Tente?” vra Tanya nuuskierig.

“Ja, Gideon, hier, het dit goed gedink om my in ’n tent te laat slaap.”

“Luukse tent,” korrigeer hy haar.

Nou is dit Anette en Tanya wat lag.

“Dis nie snaaks nie,” sê Bianca ernstig. “As ek nie môreoggend vir ontbyt opdaag nie, moet julle my maar kom soek. Dan weet julle ek is deur ’n luislang of iets opgevreet.”

Tanya sit haar hand op Bianca se skouer: “Ai, Bianca, dis tyd dat jy en moederaarde bietjie kennis maak. Wie weet, dalk hou jy van die buitelewe.”

Bianca gril. “Nee, dankie. Ek weet nie hoe enigiemand vrywillig so tussen niks en nêrens kan bly nie.”

Haar woorde steek Gideon dwars in die krop. Hy kan hom ’n lewe sonder die natuur nie indink nie. Dit bewys net weer vir hom dat hulle twee niks gemeen het nie, maar vir wat hy in gedagte het, is gemeenskaplikheid nie iets om oor te bekommer nie.

Na die troue sal hulle mekaar waarskynlik nie gou weer sien nie. Hy sal vanaand met Bianca moet praat. Hoe sal sy reageer oor wat hy wil voorstel? As haar reaksie van vanmiddag enige voorspelling is, sou hy sê sy sal hom eerder ’n goeie klap gee as om in te stem.

Tog … dit het vir ’n oomblik gevoel asof haar lyf teen sy lyf wou smelt. Hy is nie seker nie, maar hy gaan beslis vasstel.

“Wil jy inkom vir koffie?” vra Bianca vir Gideon wat met een voet op die trappe voor haar tent staan. Die hele aand was hy geheel en al ’n heer. Nie een parmantige opmerking het eers oor sy lippe gekom nie. Selfs op pad terug met die motorfiets het hy nie eintlik veel gepraat nie. Sy moet erken vanaand het sy die geskerts tussen hulle nogal gemis. Hy was heeltemal te ordentlik.

Van sy ma hou sy beslis. Sy wou hardop lag toe Gideon sy ma se opmerking so vinnig afskiet. Mens sou sweer daar steek waarheid in.

“Sjerrie eerder?” vra hy.

Sy knik en stap na binne. Die kraffie met die sjerrie staan op ’n pragtige silwerskinkbordjie wat met ’n spieël op die bodem versier is. Die lig wat deur die twee kristalglase skyn, gooi weerkaatsings teen die dak van die tent. Hulle albei vat gelyk aan die prop van die kraffie.

Bianca se asem steek in haar keel vas nes vanmiddag toe hulle albei aan die tas gevat het, maar dié keer hou sy haar hand daar. Gideon se hand bly roerloos op hare. Die geur van muskaat en seder omring haar onverwags. Sy naskeermiddel. Hy is heeltemal te naby. Net soos vanmiddag toe hy haar gesoen het.

Stadig skuif hy sy hand al met haar arm langs boontoe.

Haar hart begin al hoe vinniger klop. Wat gaan met haar aan? Toe sy mond vroeër vandag aan hare geraak het, was haar hart net so rebels.

“Ek moet met …” praat hulle albei tegelyk. Toe lag hulle.

“Praat jy eerste,” sê hy.

Bianca knik. Sy los die sjerrie eers en draai na hom: “Gideon … ek,” dis moeiliker om die woorde te sê as wat sy gedink het dit gaan wees. “Ek is jammer oor vanmiddag. Ek moet eerlik wees … ek kan glad nie onthou wat daardie aand met die verlowing tussen ons gebeur het nie. Al wat ek onthou, is dat die sjampanje onverwags na my kop toe gegaan het. Jy moes my huis toe vat en toe word ek in ’n vreemde bed wakker. Ek het my eie afleidings gemaak … en ek moes nie.”

“Jy het gedink ek en jy?” Hy beduie heen en weer tussen hulle met sy hand. Bianca knik: “Ja. Ek is jammer.”

Dit lyk of Gideon aan haar woorde herkou: “Jammer omdat niks tussen ons gebeur het nie? Of jammer dat jy gedink het iets het tussen ons gebeur?” vra hy nou ernstiger.

Bianca ignoreer vir eers die vraag. “Ek sal graag saam met jou troue toe wil gaan,” sê sy eerder. Sy het die hele middag daaroor nagedink. Dit sal fine wees. ’n Paar danse, ’n ete aan dieselfde tafel. Wat kan verkeerd gaan? Vir Gavin sal sy net laat weet dat hy nie meer nodig het om te kom nie.

Toe Gideon se hand nog hoër beweeg, ontglip ’n kreun haar lippe. Sy vingers druk nou in haar stywe nekspiere. Dit voel fantasties.

“Jy antwoord nie my vraag nie … is jy nie ook net so ’n klein bietjie teleurgesteld omdat niks tussen ons gebeur het nie?”

Bianca byt op haar lip. Iets in haar is teleurgesteld, maar hoekom? Hulle verskil dan so van mekaar? En sy het haarself mos belowe die aangetrokkenheid sal sy ignoreer nes ’n mens vir jou eie beswil uit die pad bly van iemand met ’n hoogs aansteeklike siekte.

“As daar niks gebeur het nie … hoekom het ek in my onderklere wakker geword?” Dié raaisel kwel haar al maande lank en as sy nie nou haar kans benut om al die detail uit te vind nie, sal sy dalk nie weer die moed hê om te vra nie.

“Jy onthou regtig nie?”

Sy skud haar kop.

Albei sy hande is nou op haar skouers. “Wat wil jy maak as jy weet?” Nou is dit Gideon wat lag.

“Komaan, Gideon. Jy skuld my. Ek gaan mos nou saam met jou troue toe. Jy moet my sê. Ek haat myself al maande lank oor wat ek raai ons gedoen het. Die res van daardie aand is net ’n blur. Nou sê jy niks het gebeur nie! Ek dog jy weet … ek dog jy sê ek het ’n geraas gemaak?”

Gideon lag, hy leun nader en praat langs haar oor: “Nie dat ek jou nié wil laat skree van ekstase nie, maar niks het gebeur nie.”

Hy bly ’n oomblik stil.

Haar hart hamer toe sy stem oor haar lyf speel. “Dink jy regtig dis so ’n absurde idee?”

“Ek en jy?” Bianca neem liewer ’n tree agtertoe en kyk vraend na hom. Voel hy ook die elektrisiteit tussen hulle aan? Haar keel is skielik dor. Sy het al in haar verbeelding gesien wat sy vermoed het dalk kon gebeur het. Daar was selfs nagte van stomende drome wat sy begin dink het dalk herinneringe was. En ’n vonk tussen hulle is daar beslis, maar vir haar eie beswil sal sy daardie vonk ignoreer. Daar kan tog buitendien niks van kom nie.

Hy is ’n boer, en sy is ’n sakevrou. Hy hou van die plaas en sy van inkopiesentrums. Meer verskillend kan mens nie kry nie.

Voordat sy hom kan antwoord, fluister hy langs haar oor: “Ek weet jy voel ook die vonke, Bene. Hoekom doen ons nie iets daaromtrent en kry klaar nie? Jy wil weet hoe dit voel en ek wil weet hoe dit voel.”

Bianca se asem jaag nou. Dat daar iets tussen hulle is, kan sy nie ontken nie. Haar borste beweeg op en af, die punte meteens kliphard vir hom. Die man se stem alleen sal haar na ongekende hoogtes dryf. Hoe hy dit regkry, weet sy nie. Hoe dit moet voel as hy aan haar vat, kan sy haar net indink … en hy het ’n punt beet. Sy voorstel is prakties. Iets wat sy kan waardeer, want sy is na alles baie prakties, maar sy het reëls, standaarde.

Soos om iemand te date wat niks van haar verwag nie, want dít het sy haarself lankal belowe, is al waarvoor sy kans sien. Nooit verraai sy ’n greintjie van haar innerlike nie.

“Ek weet nie … om mee te begin is jy beslis nie my tipe nie. Buitendien kan dit net awkward word, of hoe dink jy? Jou broer trou met my beste vriendin.”

Bianca hou Gideon se hand dop. Hy lig haar hand na sy mond en soen haar kneukels sag. Haar oë is nou vasgenael op sy lippe. Hulle is voller as wat sy onthou het. As hy so aanhou, gaan al die logiese redenasie nog uit haar kop verdamp.

“Net vir die week,” sê Gideon. “Ek en jy soek nie een na ’n vaste verhouding nie.”

Gideon slaan die spyker op die kop. Al wat sy kan doen, is knik. ’n Week is seker nie te onredelik nie.

“Dit is dalk die ideale geleentheid om van al die elektrisiteit tussen ons ontslae te raak. Dit gaan ons die hele week lank gek maak … jy weet ek is reg wat dit betref. Daarvoor hoef ek nie jou tipe te wees nie. Ek gaan jou nie vra om te trou wanneer die week verby is nie. Ek sal jou ma nie wil ontmoet nie. Volgende keer wanneer ons mekaar sien, kan ons maak of niks gebeur het nie … soos jy al die afgelope agt maande doen.”

Net om hom van haar ma te hoor praat laat haar stresvlakke styg. Maar miskien is hy reg. “Net vir die week?” vra sy om seker te maak dat hy niks agterna van haar sal verwag nie. Soos haar hart byvoorbeeld.

“Net vir die week.”

Bianca skreef haar oë. Hoekom nie? Daar is iets gerusstellends aan die feit dat nie een iets meer sal verwag wanneer die week om is nie. En dan kan sy haar nuuskierigheid dalk stilmaak oor die bosbrand in haar sodra hierdie man naby is.

“Oukei.” Toe die woord uit is, besef sy diep binne-in haar sy gaan dit berou. “Maar net as jy my uiteindelik vertel wat regtig daardie aand gebeur het. Anders kan jy daarvan vergeet.”

Gideon druk ’n weerbarstige krul agter haar oor in. “Nou goed dan, as jy moet weet.” Hy glimlag. “Eers was dit baie snaaks … jy het my in sirkels laat rondry.” Hy lag. “Toe besef ek jy kan my nie jou adres gee of wys waar jy bly nie. Ek wou Tess en Dan se aand nie bederf deur hulle te bel en te vra waar jy nou eintlik woon nie. Toe vat ek jou na die gastehuis waar ek die aand oorgeslaap het. Jy het self jou rok uitgetrek, my amper ’n hartaanval gegee met daardie sexy onderklere van jou. Toe belowe jy my jy gaan my aan die bed vasmaak.” Gideon glimlag breër en sy wenkbroue lig speels.

Wat? Bianca se wange is skielik vuurwarm. Dit klink soos iets wat sy dalk saam met een van haar kêrels in die Armani-pakke sou wou gedoen het, nie saam met dié plaasjapie nie.

“Ek het toe nie?” Sy vat aan haar nek.

“Jy’t gevra waar my das is. Gelukkig … of ongelukkig, dra ek nie dasse nie.” Gideon se borskas vibreer van die lag. “Toe jou kop die kussing tref, was jy uit soos ’n kers. Ek het jou toegegooi en op die vloer geslaap. Die einde.”

Bianca druk haar hande oor haar gesig. Sy kan nie glo wat sy gedoen het nie.

’n Laggie glip uit haar keel. “Ek is so jammer.” Haar lyf skud soos sy lag. “Sjoe. Wat kan ek sê? Na daardie petalje skuld ek jou sowaar.” Sy neem haar heimlik voor om nooit weer sjampanje te drink nie.

Sy hou haar hand na hom uit.

Hy skud dit.

“Deal. So hoe presies sal dit …” Bianca beduie met haar vinger tussen hulle, “werk?”

“So, Bene,” antwoord hy.

Met sy vingers in haar hare, gly sy lippe teen haar nek af.

Haar hart jaag vinniger toe hy haar rok se ritssluiter stadig aftrek. Hy vee die bandjies van haar skouers af.

Toe die rok op haar voete glip, dans sy oë oor elke millimeter van haar vel. Met sy wysvinger omlyn hy die tatoeëermerk van ’n swaeltjie wat teen haar ribbes afgeëts is.

Haar lyf ruk.

“Dis nuut.”

Bianca trek haar asem skerp in. Toe hy haar ’n paar maande gelede in haar onderklere gesien het, was dit nog nie daar nie. So hy het tog opgelet. Die idee wil haar laat glimlag.

’n Ondeunde glimlag trek ook om sy mond.

Dit laat die opwinding in Bianca se binneste opvlam. Wat doen die man tog aan haar? Haar kop draai asof sy op die rand van ’n afgrond staan. Sy wil aan hom ook vat, maar hy gryp albei haar polse stewig in sy een hand vas voordat haar vingers aan sy hemp se knope kan raak.

Gideon vee vlindersag met sy wysvinger teen haar nek af, tussen die gleufie van haar borste deur. Haar tepels druk kliphard teen die swart kant van haar bra. Dan gly sy vinger nog verder af.

Sy kyk gehipnotiseerd hoe sy vinger oor haar naeltjie gly en dan al teen die rand van haar broekie speel en op haar heup stop. Haar lyf pleit vir meer.

As sy net sy sexy hand kan sit presies waar sy dit op hierdie oomblik wil hê! Maar, asof hy haar gedagtes kan lees, verstyf hy sy greep om haar gewrigte. Dit lyk of hy haar kontoere in sy geheue vasbrand.

Bianca glimlag onseker. Die week gaan dalk beter wees as wat sy verwag het.

“Ek wil aan jou ook vat, Gideon,” sê sy asemrig. Sy moet net weet hoe hierdie man se lyf onder haar vingers voel.

Gideon lig haar hande bo haar kop. Met sy oë nog op haar lyf, praat hy: “Goed gespierd, minimum vet, goeie breedte tussen die heupbene.”

Wat?

Die volgende oomblik land ’n sweepslag van ’n hou op haar agterstewe.

“Argh!” snak sy na haar asem. Onverwagse hitte poel in haar onderlyf.

“Trek jou aan. Ek het gesien wat ek wou sien.”

“Maar …” Bianca het skielik nie woorde nie. Het hy haar so pas geklassifiseer soos ’n blerrie bees op ’n vendusie?

“Wat de hel, Gideon?”

Hy is klaar besig om haar rok op te tel. Hy trek die bandjies weer netjies oor haar skouers. Haar lyf smag na hom, en hy trek haar rok weer aan?

“Ek wou voorstel dat jy dalk tog maar die week in die groot huis kom bly. Dat ek en jy kamers kan ruil …” Hy trek met sy vinger ’n streep teen haar arm af. “Maar as ek met jou wil maak wat ek wil maak, sal hier die beste plek wees om dit te doen.”

Sy bewe innerlik by die gedagte.

“Geduld, Bene.”

Sy kyk verbaas hoe sy mond nader kom vir ’n soen. Sagte lippe wat oor hare beweeg, voer haar mee. Toe sy tong verby haar skanse druk, laat sy hom toe om haar mond te verken.

Verdomp, skrik wakker, Bianca! Gideon Vermeulen smokkel met jou kop. Sy druk haar hand stewig teen sy borskas. “Hokaai,” keer sy gou.

Stadig lig hy sy mond op sodat hy dit dié keer teen haar slaap druk. Sy lippe talm langer daar as wat hulle moet.

Bianca trek haar asem in en sy aangename reuk benewel haar sinne. Wat doen die plaasboer met sy vellies tog aan haar?

“Nag, Bene. Sien jou môre.” Met dié woorde is Gideon by haar tent uit. Sommer net so.

Ultrasatyn 3

Подняться наверх