Читать книгу Emily Hobhouse: Geliefde verraaier - Elsabé Brits - Страница 7

2

Оглавление

Die wye wêreld in

“I feel as if I were in fairyland or the Arabian Nights and pens won’t tell adequately all I have seen and done … ”

Emily Hobhouse, 1895, New York

Emily het die stof van St. Ive van haar voete geskud en wil die wêreld sien – nie net Oxford waar sy gewoonlik by haar broer en sy gesin tuisgaan, of Londen waar haar oom Arthur, lord Hobhouse en tante Mary, lady Hobhouse woon nie. Langer as 1895 gaan sy nie wag om haar eie pad te stap nie, al is dit ongehoord vir ’n vrou van haar stand om op 35 jaar die wêreld in te vaar.

Sy het nog nie duidelikheid oor ’n loopbaan of haar lewenspad nie, maar twee dinge weet sy wel: Sy wil meer van die wêreld sien en sy wil mense help. Net soos talle myners – die “Cornish Jacks” soos hulle genoem is – van Cornwallis na Amerika geëmigreer het om daar ’n nuwe bestaan te maak, so slaan Emily dieselfde koers in.

Die Engelse mynwerkers het ervaring daarvan gehad om tin, koper en porseleinklei te ontgin en het in hul duisende na Amerika getrek. En vanselfsprekend sal hulle maatskaplike behoeftes hê. Met die hulp van die vrou van die aartsbiskop van Kantelberg, Edward Benson, maak Emily kontak met aartsdeken Appleby in Minnesota, Amerika sodat sy daar welsynswerk onder die Cornwalliese myners kan doen.

In Julie 1895 vertrek sy per boot na New York waar sy ’n paar dae oorbly. Sy is in die sewende hemel oor wat sy daar sien en ervaar en skryf aan Maud: “Ek voel of ek in feëland of die Arabiese Nagte is.”33 Daarna reis sy na Chicago en dan per trein na die myndorp Virginia in Minnesota waar sy op 14 Augustus aankom. Sy en haar bediende, Mary Scourney van Cornwallis, gaan tuis in Bodock House, ’n losieshuis, in Maplestraat. Gelukkig het hulle hul eie lakens en komberse saamgebring, want die losieshuis is aan die vuil kant.

“My eerste reaksie is om te hardloop en te vlug,” skryf sy aan Maud, maar hulle bly tog die nag daar oor.34 In die vuil losieshuis gaan sy nie langer bly nie; sy raap en skraap meubels bymekaar – twee ou hospitaalbeddens en ’n paar stoele – om in ’n kothuis in te trek.35

Die eerste aand in die kothuis, met die bed skoon oorgetrek met haar eie beddegoed, klim Emily moeg in. Maar die kooi wemel van luise!36 Die plek is oortrek van die goed. Sy gryp haar klere en ’n paar persoonlike besittings en hardloop in die nag terug na die losieshuis – die mindere van die twee euwels.

Myners en hul wilde gewoontes is nie aan Emily onbekend nie; daar is ’n paar myne naby haar ou tuisdorp en vanweë haar pa se werk in die gemeenskap weet sy maar te goed hoe die mans kan drink en dobbel. In Virginia is daar 42 drinkplekke en 12 myne in die omgewing. Dit is bitter koud en modderig in die winter en snikwarm in die somer. Die dorp het onder meer ’n saagmeule, winkels, ’n koerant, elektrisiteit en 5 000 inwoners.37

Emily begin in die gemeenskap werk, maar sy tref net 55 mense van Cornwallis aan. Wel, besluit sy, sy het haar woord gegee dat sy hier sal werk en daar moet ander mense wees wat haar nodig het. Baie mense sit net rond en doen niks, skryf sy. Met £20038 wat sy onder die inwoners insamel, begin sy ’n biblioteek, open ’n ontspanningsaal, stig ’n kerkkoor en Sondagskool.39 Haar blyplek stel sy vir algar oop en sy leer volwassenes lees en skryf. Wanneer die nood druk, laat sy tot van die mense op die vloer in haar kothuis slaap.

Die dokter in die hospitaal is eintlik ’n tandarts. Emily besluit om daar ook te help, want die pasiënte word gereeld verwaarloos. Sy ruil hul beddegoed om en sing vir die siekes.40 Sy neem ’n siek vrou wat ingewandskoors het na haar eie blyplek om haar daar te versorg en gee haar eie bed prys.41

Maar sy glo nie daarin om net pleisters op wonde te plak nie; sy probeer mense ophef deur blootstelling aan boeke, met sang, geletterdheid en eenvoudige programme om hulle weg te lei van die vergrype aan drank. Die kroegeienaars hou nie baie hiervan nie. “All the riff-raff, the rag-tag and bobtail of society, the dregs of population” kom hierheen, skryf sy. Die polisie doen nie eintlik hul werk nie en die lede van die stadsraad het tot daar gevorder deur mense om te koop. Daar is “four houses of ill-fame of large size” en mense dobbel dag en nag.42

Die eiewyse plaaslike predikant van die Episkopaalse Kerk, James McGonicle, meen Emily moet net vir hom werk en net kerkwerk doen, maar sy wil meer doen. Sy reik uit na die mans in die mynkampe in die woud en stap Sondae ver saam met Mary soontoe om vir hulle te gaan preek.

Die mans ontvang haar gul, bak tot vir haar koek en gee vir haar tee in ’n blikbeker. Sy sing vir hulle. Die “harde, ysige gesigte in die straat smelt voor my”. Gou het sy die geharde myners se vertroue gewen en die dorpsmense raak geheg aan haar. Geskenke word voor haar deur neergesit, soos ’n haas wat klaar reg is vir die pot, asook groente en hout.

Maar alles gaan nie net voor die wind nie en Emily moet op die harde manier leer dat ondanks haar goeie bedoelings en opbouende werk, sy maklik in botsing kom met mense in magsposisies wat haar as ’n bedreiging ervaar. En dis feitlik altyd mans. Een van die eerstes is eerw. McGonicle – hy sit ’n uur lank en raas met haar oor die werk wat sy doen.

“He did not think St. Paul would approve of my holding mission services in a log camp. I said I should do it all the same.”43

Die biblioteek is ’n groot sukses, maar die kerk is vies omdat hulle nie die eer daarvoor kry nie. Sy voel dit maak nie saak wie daarvoor geprys word nie. Sy wil hê dit moet ook op Sondae oop wees wanneer die mense nie werk nie, maar sy word aangesê om dit te sluit. Emily weier.44 Oor opvoeding en mense se toegang tot kennis sal sy haar nie laat voorsê nie, daaroor voel sy te sterk.

McGonicle wil ook hê net mense van sy kerk moet die soberheidbyeenkomste bywoon, maar Emily glo dit moet oop wees vir almal. Sy besoek ook vroue wat in die tronk gegooi word weens prostitusie. McGonicle trap haar ook uit omdat sy durf dienste gaan hou het vir die mans in die mynkamp. Uiteindelik versuur die verhouding tussen hulle so erg dat hy in sy kerk teen haar preek.45

Emily hou op haar eie soberheidvergaderings onder die vaandel van haar Virginia Temperance Union in sale waar tot 300 mans op ’n slag opdaag. Sy deel kaartjies uit waarop hulle ’n belofte onderteken om nie drank te gebruik nie. Ook hier sing sy vir die mans.46

Uit ’n onverwagse oord kry Emily steun vir haar werk in die persoon van John Carr Jackson, wat sy vroeër in die vuil losieshuis ontmoet het. Hy het in 1893 op die dorp aangekom en werk as ’n klerk gekry. Nou is hy die eienaar van Jackson & Co, ’n algemene handelaar wat ook kampgereedskap verkoop.47

Hy word die ondervoorsitter van Emily se biblioteek-komitee. Sy is beïndruk met hom, onder meer omdat hy sy oog op die Amerikaanse kongres het en die politiek interesseer haar. Boonop word hy in Julie 1896 tot die dorp se burgemeester verkies.

John en Emily sien mekaar gereeld en toe sy haar weer kom kry, is sy verlief. “Mr Jackson consumes a great deal of my time … and I respect and admire him more every time I see him … We are sort of half engaged and expect to be wholly so in a short while,” skryf sy aan haar tante, lady Hobhouse.

’n Paar dae later laat weet sy opgewonde dat sy pas “belowe het om met John te trou” en dat hulle verloof is. “Ek voel baie gelukkig daaroor en is op my gemak met hom, en omdat hy nooit ’n tuiste of gemak geken het nie, is hy nogal verbysterd van geluk.”48 Aan Maud skryf sy John is baie aantreklik en haar troetelnaam vir hom is “Caro”.49

Met die dorp gaan dit minder gelukkig. Daar is groot konflik tussen die mynbase en die een myn ná die ander sluit. John is in ’n geldelike knyp, omdat hy te veel goed op skuld aan mense verkoop het wat nie daarvoor kan betaal nie.

John en Emily besluit om Virginia te verlaat, maar dat hulle nie saam sal vertrek nie. Hy bly eers agter om sy sake af te handel. Die dorpsmense is hartseer om in September (1896) van Emily afskeid te neem en tientalle mense sien haar af – met ’n orkes wat haar straataf tot by die stasie begelei.

Die trein is onderweg na Cleveland, Ohio50 waar Emily ’n tyd lank by vriende van haar skoonsuster Nora (Leonard se vrou) kuier voordat sy verder na Mexiko reis – ’n rit wat vyf dae duur. Emily is die een wat nuwe moontlikhede vir haar en John moet ondersoek, terwyl hy sy sake in Virginia afhandel. Uiteindelik koop sy met haar erfgeld ’n plaas in Mexiko waarop reeds koffie, piesangs, pynappels en vanilla geplant is en laat teen £80 ’n huis daarop bou. Die plaas is so afgeleë dat Emily dit nooit sien nie.

Dae, weke en maande gaan verby, maar John daag nie op nie.

Danksy nuwe vriende wat Emily gemaak het, word sy ’n regeringskontrak aangebied waarvolgens John vars vleis aan Mexiko-stad kan lewer. Emily het net 12 uur om te besluit of sy die konsessie van £1 200 gaan koop. Met wat oor is van haar erfgeld, gaan sy dié waagstuk aan.51

Die hele winter van 1896 wag Emily vir John in Mexiko, terwyl sy Spaans en geskiedenis leer, en soms skilder. Maande lank hoop sy …

John was waarskynlik teen April 1897 bankrot, want sy winkel met al die voorraad daarin word verkoop en kort daarna verlaat hy Virginia “sonder om eers hand te skud”. Volgens ’n berig in The Virginian is hy onderweg na Chicago om Emily te ontmoet en daar met haar te trou; van daar gaan hy na Mexiko waar ’n nuwe hoë posisie glo op hom wag.

Dit blyk egter dat alles nie só rooskleuring was nie: Die man wat sy winkel gekoop het, moet dit dadelik weens regsaksies sluit, want John is insolvent. Boonop is Virginia se beurs leeg nadat hy ’n jaar lank die burgemeester was.52

Emily hoop steeds om met John herenig te word en reis na Chicago om hom daar te ontmoet. Onderweg daarheen ontplof die trein se enjin en sy sien hoe die drywer se liggaam deur die lug trek. Voor die deur van haar kompartement lê die verbrande lyk van die stoker.

Was dit dalk ’n voorbode van wat sou volg? Emily glo steeds sy en John gaan in die huwelik tree, waarskynlik droom sy van haar eie kinders, maar uiteindelik kom daar niks van nie.53 Bevele word teen John uitgereik om weens slegte skuld in die hof te verskyn.54

Vir ’n tyd lank in 1897 keer Emily terug na Engeland om haar familie te besoek. By haar het sy ’n trourok én in dié tyd kom kuier John by haar en die familie in Brittanje, maar min is oor dié besoek bekend.55

Met die trourok in haar tas, reis Emily vroeg in 1898 weer na Mexiko soos sy en John afgespreek het. Intussen is ’n brief van hom op pad na haar om te sê sy moet haar vertrek uitstel, maar dit bereik haar nie betyds nie.56

In Mexiko is daar geen spoor van John nie. Binne enkele weke is Emily op pad terug huis toe, na Londen en haar oom Arthur en tante Mary, lord en lady Hobhouse.

Te midde van al dié onsekerheid en reise, verloor Emily ook die plaas in Mexiko. Wat verkeerd gegaan het, is nie duidelik nie, maar daar is ’n sterk vermoede dat John Emily finansieel misbruik het. Hy wou moontlik nooit regtig met haar getrou het nie. Emily was egter opreg verlief, wou graag met hom in die huwelik tree en het geglo dit sou gebeur. Oor dié seer het sy nooit geskryf in dokumente wat behoue gebly het nie.

Tog is daar iets wat Emily haar hele lank bewaar het: Die bruidsluier wat sy nooit gedra het nie. Dit is van die fynste kant gemaak.

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier

Подняться наверх