Читать книгу Emily Hobhouse: Geliefde verraaier - Elsabé Brits - Страница 9
4
ОглавлениеAnderkant trane
“Those truckloads of women and children unsheltered and unfed – bereft of home, bearing the vivid recollection of their possessions in the flames – and that mass of the ‘sweepings’ of a wide military ‘drive’ – flocks and herds of frightened animals bellowing and baaing for food and drink – tangled up with wagons and vehicles of all sorts and a dense crowd of human beings – combined to give a picture of war in all its destructiveness, cruelty, stupidity and nakedness such as not even the misery of the camps (with their external appearance of order) could do.”
Emily Hobhouse, naby Warrenton, April 1901
Emily is die enigste vrou op die trae troepetrein na Bloemfontein.
Wanneer die trein onderweg stilhou, sien sy op die stasies nie ’n enkele ander vrou nie. Sy moet haar pad tussen die soldate oopbeur om van die stasie-maaltye in die hande te kry.
Meestal kry sy niks te ete tussen die honderde malende soldate nie; die kosmandjie van die Kaapse vriende is haar redding: Brood, appelkooskonfyt en kakao. Sy sou later vir weke lank van dié soort kos leef sodat sy later nie ’n appelkoos “meer kan aanskou nie, wat nog te sê eet”.133
Die landskap is vir haar vreemd, met die onbekende plantegroei, die hitte, stof en ongewone rotsformasies; die alleenheid van die veld; die gebrek aan bome en skadu, en die buitengewone stilte.134
“Dit was wonderlik om die ganse nuwe wêreld wat my met sonsopkoms begroet het te sien en hoe die son oor die stil Karoo opkom … Op die tweede dag was daar aaklige stofstorms afgewissel deur donderstorms. Die sand het deur die toe vensters en deure gedring, in my oë en ore gekom en my hare rooi verkleur – dit het soos ’n tafeldoek oor alles gaan lê …
“Van Colesberg af was dit doods. Die landskap het dood en stil gelyk, heeltemal sonder lewe sover die oog kon sien – net karkasse van perde, muile en beeste met ’n stom smart in die verbleikte bene.”135
Toe Emily op 24 Januarie in Bloemfontein aankom, val dit haar dadelik op dat die hele stad deur die Britse militêre owerhede beheer word.136 Almal se bewegings word dopgehou en daar is orals soldate. Niemand kan iets doen sonder die Engelse se toestemming nie.
Sy slaap die aand in ’n klein hotelletjie nadat sy haar treintrok met die noodvoorrade gevind en gereël het dat dit afgelaai word. Die volgende dag stuur Caroline Fichardt, ma van Charles wat sy in die Kaap ontmoet het, haar rytuig vir Emily.
Caroline laat weet hulle word reeds ingevolge krygswet dopgehou en Emily kan net by hulle tuisgaan indien genl.maj. George Pretyman, militêre goewerneur van Bloemfontein, skriftelik toestemming gee. Caroline is bekommerd indien sy skeef trap, sal haar twee dogters en Charles gestraf word. Emily gaan sien Pretyman dadelik.137
Hy kom byna iets oor toe hy hoor sy wil by Caroline, wie se man ses maande gelede oorlede is, tuisgaan omdat sy glo “’n bitter vrou” is, maar Emily het dadelik ’n gerusstelling gereed: “My besoek sal dalk ’n versagtende uitwerking op haar hê.”138 Pretyman gee teësinnig toestemming dat sy by die Fichardts in hul pragtige woning, Kaya Lami, kan tuisgaan.
Emily gebruik die kans om Pretyman vir ’n permit te vra om die kampe suid van Bloemfontein te besoek. Sy laat hom goed verstaan sy is nie daar om die militêre owerhede se werk vir hulle te doen nie, maar om raad te gee en die vroue en kinders se omstandighede in die kampe te ondersoek en hulp te verleen waar sy kan. Oral kom sy agter dat plase voor die voet afgebrand word en dat nog konsentrasiekampe in die Vrystaat en Transvaal opgerig word.
Ook uit sy opmerkings is dit duidelik dat Kitchener die Boere minag. Oor die vroue sê hy: “Die vroue het die mans oortref in hul verbittering en toewyding tot die stryd en daar was net een manier om hulle tot hul sinne te bring – die ‘swakste klas’ moet in die kampe aangehou word.”139 Wat hom betref, is die vroue “barbare met ’n dun lagie vernis oor”.140
Dit is maar net Emily se tweede dag in Bloemfontein en sy is reeds ontgogel deur die offisiere wat geen plan het hoe om aan die vroue klere te verskaf nie. Sy draai nie doekies om nie: “Crass male ignorance, stupidity, helplessness and muddling. I rub as much salt into the sore places of their minds as I possibly can, because it is so good for them; but I can’t help melting a little when they are very humble and confess that the whole thing is a grievous and gigantic blunder and presents an almost insoluble problem, and they don’t know how to face it.”141
Die konsentrasiekamp by Bloemfontein is sowat 3 km van die dorpskern, teen die suidelike hang van ’n koppie in die dorre veld sonder ’n enkele boom. Daar is 2 000 vroue, 900 kinders en ’n paar mans – die “hands-up men” (hensoppers) – in die kamp. Dit is mans wat vrywillig die wapen neergelê het en van wie die meeste ’n eed van neutraliteit afgelê het.142
Die eerste vrou wat Emily daar ontmoet, is mev. P. J. Botha. Daar is niks in haar tent nie – net vlieë, hitte, haar vyf kinders en ’n swart meisie. Verskeie ander vroue kom in om ook hul stories te vertel. Saam lag en huil hulle “in swak Engels en swak Afrikaans”.143
Terwyl hulle daar sit, seil ’n slang die tent binne en algar hardloop uit. Emily takel die slang met haar sambreel totdat ’n man opdaag en die ongedierte van kant maak.144
Oor die volgende paar dae vertel die vroue een ná die ander hul verhale vir Emily: Hoe hul plaashuise en gesaaides afgebrand is, hul vee keelaf gesny of gewond gelaat is om te vrek; hoe hulle dae lank op waens en/of treine gery het en in die kamp ingedwing is … Dit is verhale van verlies, blootstelling, hongersnood, siekte, pyn en verlange. “Die vroue is wonderlik, hulle huil baie min en kla nooit … Net wanneer dit weer diep in hulle sny vanweë hul kinders se lyding, vlam hulle op.”145
Binne vier dae kom Emily agter wat die aard en omvang van die ellende in die kamp is. Selfs die mees basiese lewensmiddele ontbreek. Daar is nie eens kerse nie. Dit word net gebruik indien iemand baie siek is. Daar is geen seep nie, en daar was nog nooit.
Daar is nie ’n lykstent nie; die dooies lê in die hitte tussen die mense totdat hulle begrawe word. Oral sit vlieë dik en pikswart. Daar is gemiddeld ses mense in een klein tent, maar in baie gevalle is daar tussen nege en tien.146
Daar is nie ’n skool vir die kinders nie. Daar is omtrent geen hout of kole om enige drinkwater of kos te kook nie en die Modderriver se water is vuil. Ingewandskoors kom oral voor. Water is beperk tot twee emmers vir agt mense – om te drink, te was en te kook. Die kos is nie naastenby genoeg nie.
Dit is “moord om die kampe aan die gang te hou” wat seker al 50 000 mense huisves, besef Emily.
Haar voorstel aan kapt. Albert Hume, wat aangewys is om haar aan te hoor, is om ’n warmwatertenk van die spoorweë te kry en almal se water daarin te kook. Die 50 koeie wat veronderstel is om melk aan die kampinwoners te lewer, is so maer en uitgeteer hulle lewer net vier emmers melk per dag. Sy is ook bekommerd oor die “native camp” met sowat 500 mense wat versorging nodig het.147
Emily teken noukeurig die rantsoene aan soos dit op 16 Januarie 1901 in die Bloemfontein-kamp uitgemeet is:
“Vlugtelinge”
Meel of mieliemeel: 1 pond per dag
Vleis: ¾ pond per dag
Koffie: 1 ons per dag
Suiker: 2 onse per dag
Sout: ½ ons per dag
“Ongewensdes”
Mieliemeel (of “samp”, aartappels, meel, rys): ¾ pond per dag
Vleis: 1 pond, twee keer per week
Koffie: 1 ons per dag
Suiker: 2 onse per dag
Sout: ½ ons per dag
Kinders onder 6 jaar (“Vlugtelinge”)
Meel of mieliemeel: ½ pond per dag
Vleis: ½ pond per dag
Melk: ¼ blikkie per dag
Suiker: 1 ons per dag
Sout: ½ ons per dag
Kinders onder 6 jaar (“Ongewensdes”)
Mieliemeel: ½ pond per dag
Vleis: ½ pond twee keer per week
Melk: ¼ blikkie per dag
Suiker: 1 ons per dag
Sout: ½ ons per dag148
Emily se plan is om aan die hand van ’n ooggetuieverslag die “ander kant van die oorlogstorie” te vertel, ’n alternatiewe narratief as die een wat die militêre owerhede en die Britse politici aan die wêreld voorhou. Sy begin om individuele vroue se verhale neer te pen (wat uiteindelik in haar boek The Brunt of the War and Where it Fell verskyn).149 Sy wil ook met die inligting wat sy inwin, ’n verslag vir die South African Conciliation Committee in Engeland opstel.
Dag ná dag loop Emily van tent tot tent waar mense haar oral nader roep: “Kom kyk, suster.” (Baie van die vroue het Emily as ’n verpleegster beskou en vandaar die benaming.)
’n Baba van ses maande wat in sy ma se arms lê en snak na sy asem.
Kinders wat uitgeteer weens masels niks anders kan doen as lê nie.
’n Jong vrou van 24 jaar wat op die grond lê, besig om te sterf.
Emily vervies haar vir kapt. Hume wat meen sy is te simpatiek teenoor die kampinwoners en stuur hom om brandewyn vir die sterwende vrou te gaan haal.150
’n Man stap nader en vra dat sy na sy seun moet kom kyk wat al drie maande siek is. “It was a dear little chap of four and nothing left of him except his great brown eyes and white teeth from which the lips where drawn back, too thin to close. His body was emaciated.”
Ontsteld roep Emily vir Hume nader. “‘You shall look,’ I said. And I made him come in and showed him the complete child skeleton. Then at last he did say it was awful to see the children suffering so …” Nogtans was daar geen melk vir die sterwende kind nie.
“I can’t describe what it is to see these children lying about in a state of collapse – it is just exactly like faded flowers thrown away. And one hates to stand and look on at such misery and be able to do almost nothing.”151
Die Britse soldate kyk haar aan asof sy tegelyk ’n dwaas, idioot én verraaier is. Sy glo die materiële verwoesting en die lyding van die liggaam is een ding, maar die ergste van ’n oorlog is die morele moeras wat daaruit ontaard en alles besmet, skryf Emily.
Dit is in dié tyd dat sy Lizzie van Zyl152 in die hospitaaltent in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp raakgesien het. Op die bekende foto van ’n uitgeteerde Lizzie lê die pop wat Emily vir haar gegee het, langs haar.
Die Engelse verpleegster sê vir Emily dit is die 7-jarige Lizzie se ma se skuld dat haar kind so lyk omdat sy die kind uitgehonger het. Emily byt swaar aan dié storie en vra mense in die kamp daaroor uit. Sy hoor die uithonger-bewering het sy oorsprong by die Van Zyls se bure wat sogenaamde “Vlugtelinge” was terwyl Lizzie se ma as ’n “Ongewensde” geklassifiseer is omdat haar man steeds in die oorlog geveg het. As “Ongewensdes” het die Van Zyls minder kos as die “Vlugtelinge” gekry.
Lizzie se ma het haar later uit die hospitaaltent verwyder omdat daar nie behoorlik na haar omgesien is nie. Emily het later berig hoedat sy Lizzie, “nie veel meer as ’n geraamte nie”, in die leë tent gaan sien het waar sy op ’n klein matrassie gelê en in die warm tent na asem gesnak het. Sy het vriende op die dorp gekry om vir Lizzie ’n moeselien-kappie te maak om die vlieë van haar kaal kop weg te hou. “Ek was besig om ’n karretjie vir haar te laat maak sodat sy na buite getrek kon word, maar voordat die hout in die hande gekry kon word, het die koue nagte gekom …”153
Lizzie het vroeg in Mei 1901 gesterf, moontlik aan ingewandskoors. Ander algemene siektes was masels, kinkhoes, skarlakenkoors, bronchitis, diarree onder babas, witseerkeel en longontsteking. Min mense in die kampe was regtig gesond.154
Die atmosfeer in Bloemfontein is so neerdrukkend dat Emily verlam en geïntimideerd voel “like being in continual disgrace or banishment or imprisonment. Some days I think I must cut and run ( … ) The feeling is intolerable. To watch all these Englishmen taking this horrible line and doing these awfull things …”155
Sy is begaan oor die beeld van haar land, en die skade wat Engeland aanrig; nogtans bly sy patrioties. “As die Engelse mense maar net ’n bietjie verbeelding wil gebruik en die hele ellendige toneel kan sien en dan sê hoe lank sulke wreedheid nog verduur moet word …”
Van haar tante Mary wil sy weet of dié nie ’n brief in dié trant in die Londense Times kan skryf nie, wat mense sal laat luister en glo en verstaan; iets wat hul gewete sal aanraak nie? “Is Engeland bang om haar prestige te verloor? Wel, in dié land is dit reeds verlore.”156
Die dag voordat Emily vertrek om die eerste van die ander konsentrasiekampe te besoek, ontmoet sy die vrou van pres. M.T. Steyn, Rachel Isabella Steyn (née Fraser)157 of “Tibbie” soos die Skotse benaming was. Emily het haar enkele dae tevore in Bloemfontein sien stap, met ’n soldaat wat agter haar loop, omdat die Engelse haar nie vertrou nie. “A handsome woman, dignified and self-controlled,” skryf Emily later. Die twee vroue gesels lank en innig en hou dadelik van mekaar.
Van Emily sê Tibbie: “Sy was een beeld schoon vrou, uiters intelligent en werklike hart en siel om verbetering in die kampe te weeg te breng. Ons is verskrikilik veel aan haar verskuldig want was dit nie vir haar nie sou die sterfte syfer veel veel hoger onder die vroue en kinders gewees het.”158
Emily het Pretyman onder geen wanindruk gelaat oor wat sy van sy kamp dink nie. Wat haar die meeste gegru het, is die toestand van die toilette. Die slopemmers is nie gereeld uitgegooi nie en die reuk by die tente wat wind-af gestaan het, was aaklig.159
Pretyman laat nie op hom wag om haar verdag te maak nie. Emily het vooraf gesê haar sending is nie-polities, skryf hy aan Milner, maar hy hoor sedert haar aankoms “het die vlugtelinge in die kamp skielik uitgevind hulle word swak behandel en hulle behoort meer geriewe te kry. Ek kan sien sy het baie simpatie met ons vyande … Ek is bevrees dié soort fanatikus sal nie ons saak goed doen nie.”
Nogtans doen Pretyman ook ’n verbasende erkenning: “But at the same time I could not help in my heart agreeing with her that this policy of bringing in the women and children to these camps, is a mistaken one.”160
Op 2 Februarie 1901 vertrek Emily op haar eie in ’n goederetrein na Norvalspont, sowat 195 km suid van Bloemfontein. Sy is in ’n vreemde, snikhete, stowwerige wêreld. In haar briewe aan tante Mary is die adres: “The Land of Nod” – die plek oos van die Bybelse Eden waarheen Kain verban is nadat hy sy broer, Abel, doodgeslaan het.
Ná wat sy by Bloemfontein aangetref het, vrees Emily wat by Norvalspont op haar wag waar daar 1 500 mense in die kamp is. Sy is egter beïndruk met die kamphoof, kapt. Du Plat Taylor, omdat die kampinwoners nie water uit die Oranjerivier hoef te gebruik nie, maar fonteinwater wat met ’n pyp aangelê is. Die kos is effens beter as by Bloemfontein en daar is nie ’n uitbraak van siektes nie, hoewel almal wat na die hospitaaltent toe gaan, daar sterf. Daar is ’n skool vir die kinders, maar klere word dringend benodig.
Die meeste mense in die Norvalspontkamp is “oorlogsgevangenes”, soos Emily hulle noem, terwyl die minderheid “Vlugtelinge” is. Sy let oral in die kampe op dat hulle by verre die minderheid is en dat hulle in groot markiestente gehuisves word met meubels en ander luukshede. Die militêre owerhede hou egter steeds teenoor haar vol dat die meeste mense “vlugtelinge” is wat vrywillig na die kampe gekom het.
Van hier haal Emily die trein na Aliwal-Noord, sowat 155 km oos van Norvalspont. Die dorp het net 800 inwoners, maar die konsentrasiekamp huisves reeds 2 000 mense. Ook hier is sy beïndruk met die kampkommandant, maj. Apthorp, wat die kamp netjies hou en sorg dat die inwoners twee keer per week gedroogde groente en aartappels kry.161
Emily deel klere uit. Soos in al die ander kampe, is hier nie seep nie. “Mans dink nie aan sulke dinge nie … Hulle sê net: ‘Kyk hoe vuil is dié mense.’”162
Terwyl Emily van die een kamp na die ander reis, neem die owerhede toenemend kennis van haar doen en late. Maj. Hamilton Goold-Adams, wat Pretyman intussen opgevolg het, laat weet vir Milner:
“Miss Hobhouse has been playing the dickens with the women in the camps.” Sy, Tibbie Steyn, Maynie Fleck en Caroline Fichardt “veroorsaak ’n groot mate van onrus deur onder dié mense die swaarkry te benadruk wat hulle ervaar”.
“Ek het betroubaar verneem dat mej. Hobhouse hier is namens die Liberale Party om inligting in te samel vir hul doeleindes. Sy het omsendbriewe rondgestuur aan verskeie individue om oor hul omstandighede uit te vra en of hul plase afgebrand is.”163
Op haar beurt beskryf sy Goold-Adams as energiek, oop en minsaam, maar met beperkte verstand. Sy kon dit nie verduur dat sulke mans die lot van vroue en kinders bepaal nie. Sy het klaarblyklik ook nie veel agting vir hul militêre vermoëns gehad nie en het nie gedink hulle is in staat om genl. Christiaan de Wet aan te keer nie. Daar is “too much riding and shooting and picnicking and polo and golf playing for war to have much place. (…) All those Tommies asleep upon the line and all the badly kept offices. Oh dear it is dreadful … it is remarked as a surprise when an officer does behave like a gentleman.”164
Die mense in die konsentrasiekampe lig haar in dat hulle nooit onder Britse gesag sal staan nie. Op hul beurt minag en haat die Engelse die “Dutch” en wys dit by elke moontlike geleentheid, terwyl die Boerevroue geskok is oor die barbaarse optrede jeens hulle deur mense wat hulle gemeen het ’n beskaafde nasie is.
Op 21 Februarie (1901) is Emily terug in Bloemfontein – waar talle briewe van oorsee op haar wag. Haar tante, lady Hobhouse, vertel dat lord Hobhouse gehelp het om die nuwe koning, Edward VII, wyle Victoria se seun, te beëdig. Kate Courtney laat weet dat die South African Women and Children Distress Fund-komitee vergader het nadat hulle haar briewe ontvang het; hulle sal by ’n bank in Kaapstad nog £500 vir haar beskikbaar stel.165 Die geld kon nie gou genoeg kom nie, want die nood in die kampe is bitter groot.
Onderwys het Emily altyd na aan die hart gelê. Sy kry die plan om ’n paar van die meisies met die meeste potensiaal uit die kampe te kry en hulle vir skoolopleiding te stuur. In Bloemfontein is daar ’n “Dames-instituut” (later herdoop tot die Eunice High School), wat volgens haar inligting een van die beste meisieskole in die land is. Sy kies vier meisies uit: Hettie en Lizzie Botha, Eunice Ferreira en Engela van Rooyen, almal tussen 14 en 18 jaar. (Die Botha-meisies is die kinders van mev. P. J. Botha (née Stegman) wat sy die eerste dag in die kamp ontmoet het en wat Emily ywerig bygestaan het.) Dit kos £100 om die meisies ’n jaar lank daar te hou; skoolgeld, klere en losies ingesluit.166
Dit neem briewe tussen Suid-Afrika en Engeland tot ’n maand om hul bestemming te bereik. Die komitee is nog huiwerig om dit vir publikasie aan die koerante te stuur. Hulle weet nog nie sy was al in drie konsentrasiekampe nie; net dat sy daarheen op pad was en van die inligting wat sy in die Kaap ingesamel het.
Daar is vermoedens in Engeland dat dit nie goed gaan in die kampe nie, maar inligting is baie skraps. Intussen bly die sterftesyfer in die kampe klim. Emily vergelyk dit met die plattelandse gemeente van haar kinderdae in St. Ive waar daar sowat 2 000 mense was. ’n Begrafnis was ’n yslike gebeurtenis, “maar hier word tussen 25 en 30 lyke per dag weggedra”.167
“Hulle beskuldig my daarvan dat ek politiek praat, terwyl ons net van siekte en dood gepraat het. Hulle het beswaar gemaak teen my ‘simpatieke toon’, maar juis dit was nodig, met woord en daad. Die sterftes is baie stil gehou, en na ’n tyd is die lyke teen sonsopkoms weggedra. Pleks daarvan om deur die dorp te beweeg, het hulle die begraafplaas van die ander kant af benader. Baie is saam in een graf begrawe.”168 Die sterftesyfer is nou 200 tot 390 per 1 000 mense, berig Emily.169
Sy gaan spreek die nuwe kampkommandant by Bloemfontein, kapt. Trollope, oor die hoë sterftesyfer. Hy wil sarkasties weet of sy nie maar almal in die Vrystaatse kampe van klere sal voorsien nie! En sal sy nie ook geld gee vir die oprigting van ’n kinderhospitaal nie?
Emily laat hom goed verstaan dit is die Britse regering se verantwoordelikheid om ’n hospitaal te bou. Omdat sy nie toegelaat is om al die kampe te besoek nie, onderneem sy om in dié wat sy wel mag besoek, aan die vroue en kinders – nie die mans nie – klere te gee.170
Intussen stuur van die Kaapse vroue, onder leiding van Caroline Murray, ook klere en kos na die kampe. Emily vra herhaaldelik dat die mense in die kampe wat familie het wat na hulle kan omsien, vrygelaat moet word, maar daar kom dadels van. Nadat sy aangedring het op meer verpleegsters, kom daar darem vier Engelse vroue uit die Kaap aan, maar een van hulle is pal dronk en nog een se kwalifikasie is vervals.
Soggens neem Caroline (Fichardt) se kar en perde Emily na die kamp buite Bloemfontein, maar heeldag loop sy heen en weer in die hitte en stof, van een tent na die ander. Saans stap sy die twee myl terug na die Fichardts se woning. Dit is elke dag haar roetine, ook Saterdae en Sondae. Sy rus feitlik nooit. Stadig maar seker word die toestande effe beter in die kampe, maar Emily wens steeds die “jingo’s wil self hierheen kom om te sien wat aangaan”.171
Emily kom nou elke dag ene ds. Adrian Hofmeyr teë wat die kampinwoners op sy manier bearbei. Hy probeer die “ongewensde” vroue oortuig om moed op te gee dat die Boere nog die oorlog kan wen. Ook Piet de Wet, ’n broer van genl. Christiaan de Wet, probeer die vroue oorreed om hul mans te oortuig om op te hou veg. Die vroue hoor hulle geduldig aan, maar keer dan die rug op hulle en stap weg.
Kitchener het nou op drie maniere begin om in alle erns die oorlog te beëindig: Deur die verskroeide-aarde-beleid nog meer ongenaakbaar toe te pas (selfs kerke is afgebrand en alle vorms van kos is vernietig); die konsentrasiekampe is uitgebrei en nuwes is gestig; en die Boerekommando’s in die veld is soos vee aangejaag en met die hulp van doringdraadheinings tussen blokhuise vasgekeer.
Laat in Februarie 1901 wil die Britse minister van oorlog, St. John Brodrick, van Kitchener weet wat in die veld en in die kampe aangaan. Hy hoor vroue en kinders van kommandolede wat steeds veg, kry net halwe rantsoene. Kitchener ontken dat daar halwe rantsoene is, maar sê koffie en suiker word wel vir sulke mense verminder. “Die rantsoene is genoeg en die families in die kampe is tevrede en gemaklik,”172 beweer hy.
Op 25 Februarie word ’n debat in die Britse Laerhuis gevoer waartydens gevra word dat die afbrand van plase, die verwoesting van private eiendom en die plasing van vroue en kinders in kampe sonder behoorlike huisvesting en kos stopgesit moet word. Op vrae antwoord Brodrick dat dit die vroue vrystaan om die kampe te verlaat as hulle wil.173
Drie dae later ontmoet lord Kitchener en genl. Louis Botha mekaar in Middelburg (Transvaal) vir vredesamesprekings waartydens Kitchener eis dat die twee Boererepublieke oorgee en hul onafhanklikheid inboet deur Britse kolonies te word. Botha weier.174
Om die kampe minder na ’n militêre operasie te laat lyk, word dit nou deur ’n sogenaamde burgerlike administrasie oorgeneem. Amptenare, ook die soldate wat daar werk, moet voortaan siviele klere dra, nie meer kakie-uniforms nie.
Dit flous Emily nie. “So we play at pretending the war is over … It is hollow and rotten to the heart’s core,” skryf sy aan haar broer Leonard.
“Ons het regoor die land groot ‘ongemaklike gemeenskappe’ van mense gestig wat julle vlugtelinge noem en wat julle sê julle beskerm, maar hulle noem hulself krygsgevangenes, word onder dwang aangehou en verag jul beskerming. Die hele doel is natuurlik om Chamberlain in die parlement te hou en om te sê die land is gevestig en burgerlike administrasie het begin. Dit is ’n klug.”175
Emily raak so uitgeput van die harde werk in die kamp, die emosionele druk om na mense se verhale te luister en om selfs op Sondae te werk wanneer sy voorrade sorteer, dat sy besluit om ’n dag in die bed te bly en te rus. Nie vir lank nie; sy neem die pen op en skryf aan haar broer om iemand te probeer kry om aandag te kom gee aan die konsentrasiekampe vir swart mense. Sy het nie tyd om ook daarna om te sien nie, “maar van die bietjie wat ek hoor, is dit baie nodig”.
Sy vra ook die Bloemfonteinse vroue-organisasie “The Loyal Ladies League” om die saak te ondersoek. Sy het egter nie veel hoop daarvoor nie, want “al het hulle gesê hulle sal, kon ek sien hulle is nie die regte soort mense om van enige nut te wees nie. Hulle het sommer vooraf gesê daar is geen siekte, swaarkry of sterftes onder daardie mense (swartes) nie.”176 Nadat Emily die Loyal Ladies ontmoet het, kom die Bloemfontein Post daarvan te hore en berig dat van die vroue ontsteld is, veral omdat Emily daarop aangedring het dat aandag ook aan die swart kampe gegee word.
Van toe af word al haar briewe gesensor, maar dit keer haar nie om foto’s wat in die kamp geneem word, aan haar broer te stuur nie.
Die omstandighede druk al hoe swaarder op Emily, veral die neerdrukkende bepalings van die Krygswet. Sy is gefrustreerd en woedend oor wat sy in die binneland sien en dat die mense by die huis nie daarvan kennis neem nie. En nog erger: Dat die Liberale Party klaarblyklik nie veel daaraan doen nie.177
Pligsbesef kry die oorhand oor haar frustrasies en uitputting. Sy wil veel meer kampe besoek, soos dié by Kroonstad en Kimberley, maar ook die “groot en belangrike kampe” in Transvaal. Kitchener weier egter dat sy verder noord as Bloemfontein reis. Sy skryf nog twee keer om toestemming hiervoor te kry, maar albei kere weier hy.
Vroeg in Maart 1901 vertrek Emily weer na die suidelike kampe in die Vrystaat nadat sy haar werk in die Bloemfontein-kamp in die hande van ’n groepie vroue gelaat het. Al het sy ’n permit vir die Kimberley-kamp gekry, mag sy nie suid van Norvalspont gaan nie en moet eers na De Aar reis en van daar noord na Kimberley. Hoe sy die permit vir Kimberley gekry het, laat Emily nie blyk nie, want dit is 165 km noordwes van Bloemfontein.178
Op 4 Maart is sy by Springfontein sowat 145 km suid van Bloemfontein waar sy tuisgaan by ds. Sandrock, ’n Duitse sendeling en sy gesin, wat ook veg om liggaam en siel aanmekaar te hou. Die kamp by Springfontein is kleiner, die mense armer en meer verlate as wat sy nog teëgekom het.
Emily het drie kiste klere saamgebring en sit op die Sandrocks se stoep waarheen van die kampinwoners in groepe aangeskuifel kom. Hulle is “byna naak”, maar Emily het genoeg klere om elke dag sowat 60 mense te klee.
“Sommige is bang, ander lamgelê en nie in staat om hul verlies te begryp nie. Party word verswelg deur hul trane, ander is stom en hul oë droog, al waaraan hulle oënskynlik kan dink, is ’n uitsiglose en brandarm toekoms. Sommige gloei van trots omdat hulle ter wille van hul land gevangenes is. ’n Paar vroue wat skaars geklee is, het rokke gemaak van die growwe bruin kakiekomberse.”179
Die bloese wat van Engeland gestuur word, sit knap aan die vroue. Vir die “well-developed Boer maiden who is really a fine creature” is dit veels te klein. Kan enige “out-out women’s sizes” asseblief aangestuur word? vra sy vir tante Mary.
By Springfontein is daar niks om mee vuur te maak nie en al kry mense vleis en mieliemeel, kan hulle dit nie gaarmaak nie, want die veld is dor en droog. “Ek het gedink Kitchener word as ’n groot organiseerder beskou, maar is dit goeie organisasie om so min vooruit te dink en so min voorsorg te tref dat duisende mense neergeplak word op plekke waar niks gereed is om hulle te ontvang nie?”180
Van hier vertrek Emily vir ’n tweede besoek aan Norvalspont. Onderweg skryf sy oudergewoonte briewe – altyd met planne om oplossings te vind.
Weer opper sy teenoor die Distress Fund-komitee die nood in die swart konsentrasiekampe en doen ’n beroep op die komitee (in dieselfde brief aan haar tante) om mense te stuur om die behoeftes te ondersoek. Sy verneem daar is talle en groot kampe vir “natives” waar die sterftesyfer ook hoog is. Hoekom stuur die Society of Friends – die Kwakers – wat reeds mense in Suid-Afrika het wat noodleniging verskaf, nie iemand nie? Of die organisasie Aborigines’ Protection Society, stel sy voor.181 182
Vir Emily as ’n oortuigde liberalis was dit voor die hand liggend dat daar nie onderskeid tussen die nood van wit en swart moet wees nie. “In my camps there are many kinds of nationalities. They are all suffering alike and it is not always possible to pick out the pure Boer and leave those mixed or intermarried. Often there are little black servant girls whipped up and carried off with their mistresses and these need clothing. Decency demands that all should be provided …”183
In die kamp by Norvalspont (waar Emily op 8 Maart aankom) sit sy en die kampdokter gou vas, want hy is van die soort “wat nie sy mond kan oopmaak sonder om vloekwoorde teenoor die Boere te gebruik nie”. Dit maak haar skaam “in die naam van die Engelse”. Hy is volgens haar “’n onuitstaanbare, gemene vent” en sy sê dit ook vir hom.184
By dié kamp het die owerhede daarin geslaag om 28 Boeremans te oorreed om vir die Engelse te veg. Emily verfoei dit omdat sy glo dit is ’n Engelse offisier nie waardig om so laag te daal nie, veral omdat dié mans reeds die eed van neutraliteit afgelê het. “I long to escape from this network of lies and horror,” is haar versugting.185
Twee dae later wil sy per trein verder reis, via Noupoort na Kimberley, maar sy moet die hele dag in die stasie se wagkamer sit omdat dit te gevaarlik is om te reis. Daar is kanonvuur in die lug en volgens gerugte is die Boere in die nabyheid. Teen tienuur die aand het die trein nog nie aangekom nie en al raad is om in die plaaslike stafoffisier se kantoor op die grond te slaap.186
Later stap sy na buite om vars lug te kry en die spoorwegoffisier volg haar. Skamerig bied hy aan dat sy in die kondukteurswa, wat hy as slaapplek ingerig het, kan oornag. Hy sal elders gaan slaap. So verlig is sy oor dié goedhartigheid, dat sy op die bedjie neerval en begin huil.
Toe sy rondkyk, sien sy hy het vir haar ’n bad voorberei en die bed opgemaak. O, dit was ’n wonderlike nag, skryf sy. Vir haar is hy, ene Pates, byna soos ’n heilige.
Die volgende dag vertrek die trein uiteindelik na De Aar waar hulle ure lank oorstaan. Sy rus in die stasiewagkamer, maar die wag gooi haar daar uit. Die trein na Noupoort kom eers die volgende oggend om vieruur.
Emily sien etlike treine wat op pad is na Kaapstad. Die versoeking is groot om in te klim en ’n einde te maak aan die eindelose gewag in die middel van nêrens. Sy dwing haarself om anderpad te kyk, want die versoeking is byna te groot om te weerstaan.
Dit is ’n melankoliese reis vir Emily; sy voel siek en sy weet boonop dat hulle verby slagvelde moet ry: Belmont, Graspan, Modderrivier, Magersfontein … In die verte sien sy telkens loopgrawe en grafte.187
Uiteindelik kom sy op 12 Maart in Kimberley aan waar sy in die Queens Hotel, 20 minute se stap van die kamp af, tuisgaan. Die kampkommandant is ene maj. Wright vir wie Emily vinnig opsom as grof, lui en “’n ongeërgde ou man”. Daar is geen verpleegster in die kamp nie en die tente is oorvol en vuil, terwyl talle van die inwoners masels en kinkhoes het.
Een van die ongelukkige inwoners is ’n mev. Douw wat saam met haar kinders, onder wie ’n baba van 17 dae, deur genl. Paul Methuen en sy soldate op haar plaas gevange geneem is. Sy het Methuen gesmeek dat hulle hul donkie kon saamneem omdat dit al melk was wat die baba kon drink. Hy het ingestem, maar die donkie het in die Kimberley-kamp verdwyn. Hulle het die baba koeimelk probeer ingee, maar die kind het bly kwyn.188
Toe Emily in die kamp kom, is ’n nuwe donkie in die hande gekry, maar die baba was reeds erg verswak. “Hy het nog gelewe toe ek die oggend daar was,” skryf Emily, “maar teen die middag was hy dood. Hulle het my nader gewink om te kom kyk hoe die klein dingetjie uitgelê is – met ’n wit blom in sy klein handjie. Onskuldig en vermoor.”189
Om die smart te probeer verlig, het Emily vir mev. Douw swart materiaal gekoop vir ’n rok om in te rou; ’n gepaste geskenk van Engeland, het sy gemeen. Sy wonder hoe Methuen se vrou sou gevoel het as dit haar baba was.190
Die vroue in Kimberley is bitter en antagonisties, meer as in enige van die ander kampe waar Emily al was; nie teenoor haar nie, maar oor wat met hulle gebeur het. Sy wens sy kon ses van die jong meisies Engeland toe stuur om vir die Britse kabinet te vertel wat hier in die naam van Engeland gedoen word, “want ’n mens kan nie ’n argument teen hulle wen nie”.
Die vroue vertel vir haar dat van hulle na Vryburg se stasie gebring is deur groot groepe gewapende swart mans wat aan die Engelse kant veg. Die vroue het dit as “verskriklik” ervaar. Al meer hoor sy van plase wat afgebrand word deur swart mense terwyl daar soms geen Britse offisier teenwoordig is nie.
In ’n lang brief aan haar broer Leonard skryf Emily: “Jy moenie dink dat ek net die slegte gevalle uitkies om van te vertel nie. Ek gaan die tente lukraak binne en teken aan wat hulle my vertel, en verlaat die kamp sonder om dié mense te sien wat die ergste dinge beleef het.”191
Emily wil terugkeer Bloemfontein toe, maar sy het nie ’n permit daarvoor nie en Pretyman, wat nou in Kimberley gestasioneer is, maak dit nie vir haar maklik nie nadat sy hom met die kindersterftes in sy kamp gekonfronteer het. Hy is kwaad. Dit is onkundige ma’s wat met boererate hul eie kinders se dood veroorsaak, is sy verweer.
Nee, besluit hy, sy kan ’n permit vir ’n reis na De Aar of Kaapstad kry, maar nie na Bloemfontein nie.
Nou moet Emily besluit wat haar te doen staan. Dalk terug Kaap toe om nog ’n treintrok vol klere te kry? Maar intussen het sy gehoor daar is ’n kamp by Warrenton geopen en daar is ontsettende nood. Dalk moet sy soontoe én Mafeking toe gaan? Uiteindelik besluit sy op die Kaap; sonder voorrade kan sy nie werklik die nood help verlig nie.
Intussen het die South African Conciliation Committee by lord en lady Hobhouse se huis in Mayfair, Londen vergader om Emily se briewe voor te lees, terwyl sy weer alleen op ’n trein vol siek Tommies op pad Kaap toe is. Sy versorg die siek soldate en kook vir hulle kos; stap saam met hulle in die veld wanneer die trein ure lank êrens staan.192 Onderweg sien sy treintrokke vol gewapende swart mans en sê vir haarself: Dis naïef om te dink hulle is nie deel van die oorlog nie.
Op 24 Maart (1901) kom Emily in Kaapstad aan waar sy weer by Caroline Murray tuisgaan. Sy spreek ’n groot vergadering mense in die stad anderhalfuur lank toe oor presies wat in die kampe aangaan. Sy is waarskynlik die enigste mens wat soveel van die kampe self besoek het.193 Die pakkie briewe aan haar wat sy in die stad ontvang, is “erg gesensor, selfs twee maal”.194
Emily ontmoet sir Walter Hely-Hutchinson, die nuwe goewerneur, wat haar die nodige permitte gee om Warrenton én Mafeking te besoek. Hy is ook baie behulpsaam om tonne klere, wat die Kaapse vroue help insamel het, per trein na die verskillende kampe te stuur. Dié keer laat lewer Emily dit regstreeks by die betrokke kampe af. Die rit van Kaapstad na Kimberley duur vyf dae, maar sy is vasbeslote om die mense in dié kamp weer in hul nood by te staan.
Die treinreise is uitputtend en eensaam; daar is niemand met wie Emily kan praat oor wat sy werklik voel en dink nie. Telkens neem sy haar toevlug tot pen en papier en skryf uitvoerige briewe aan die familie in Engeland, al loop dit eers onder die sensors se skêr deur. Al koop sy ’n eersteklaskaartjie en is sy ure voor die tyd op die stasie, kry sy selde ’n sitplek in dié waens. Die Engelse offisiere druk haar eenvoudig uit die pad en sit net waar hulle wil. “Eersteklas hier is soos derdeklas by die huis, enigiets minder is vuil en dit stink.”195
Vier dae later is sy weer onderweg na Mafeking toe die trein op Warrenton stilhou. Hier tref sy 310 vroue aan wat in die kerk en skoolgeboue ingedruk is omdat daar geen tente vir hulle is nie. Nóg honderde vroue en kinders is op pad nadat al die Boerekommando’s van Hoopstad ook gevange geneem is, deel ’n jong Britse kaptein haar op die trein mee.196
Êrens buite Warrenton op pad na Mafeking sien Emily langs die treinspoor ’n toneel wat haar haar lewe lank bybly:
’n Malende massa mense, wit en swart.
Gevange vroue en kinders.
Soldate.
Duisende diere van alle soorte. Perdekarre en waens. Die diere bulk dors na kos en water.
Die vroue en kinders se gesigte is vertrek van die pyn weens blootstelling, honger en uitputting. Dit gee die wreedheid en verskrikking van oorlog op sy duidelikste weer.
Emily is tot in haar siel geskok. Sy weet hulle is op pad na Warrenton en daar is nie eens ’n enkele tent nie, om van kos en medikasie nie te praat nie. Dinge gaan vir hulle almal net vererger. Sy weet, want sy was pas daar.
Boonop is dit 9 April 1901, haar 41ste verjaardag.
Die volgende dag kom sy die eerste keer in Mafeking aan: “… a lonely, lonely spot. Mafeking itself feels like the end of the world and the camp seems like driving six miles into space.”197
Dit is die oudste kamp waar sy nog was. Dit bestaan reeds byna ’n jaar. Daar is 900 mense. Die kampinwoners is baie verbaas dat ’n Engelse vrou hier in die gramadoelas opdaag, klaarblyklik omdat sy vir hulle omgee. Drie dae lank is sy elke dag in die kamp waar sy die mense uitvra, opteken wat aangaan en probeer om die militêre owerhede te oortuig om die omstandighede te verbeter.198
Ook hier is geen seep nie, en baie mense het nie komberse nie. Emily deel klere uit en kry sewe kampvroue om haar met alles te help. ’n Sekere mev. Coetzee (’n “interessante karakter”) begin skielik wroeg omdat die Engelse soveel omgee dat hulle ’n vrou gestuur het om die Boere se lyding te ondersoek.
Die toneel langs die treinspoor buite Warrenton spook steeds by Emily. Op 13 April is sy terug op dié dorp. Van die meer as 300 mense van vroeër is daar nou net 150, maar op die stasie is nog twee treinvragte vol mense, op oop steenkooltrokke. Oral waar sy verneem, blyk dit dat niemand geweet het dat dié mense – sowat 240 van hulle – hier sou aankom nie. Niemand kan help nie en niemand weet waar om brandstof of ketels laat op ’n Saterdagaand in die hande te kry nie.199
Wanneer Emily twee dae later weer by die Kimberley-kamp aankom, verneem sy dat sewe kinders dood is in die paar dae dat sy weg was. Dit reën en dis koud in die tente wat feitlik almal lek. Die vleis wat die mense kry, is vol maaiers en dié wat daaroor kla, kry nie weer vleis nie.200
Onderweg na Bloemfontein klim Emily by die Springfontein-kamp van die trein af. Tot haar skok is daar nou 3 000 mense waar daar voorheen 500 was. Op die stasie tref sy nog 600 vroue en kinders aan wat verplig word om sonder enige skuiling in oop treintrokke in die son, reën en wind te sit. Hulle is al twee dae lank daar. Dit is nóg erger as wat sy by Warrenton beleef het.
Dit is ’n Sondagoggend. Clara Sandrock, dogter van die Duitse sendeling op Springfontein, het Emily se trein sien aankom en kom met ’n kan koffie vir haar aangehardloop. Emily gebruik niks daarvan nie en gee die koffie en ál haar kos, ’n “tweepennie-brood” en ’n blikkie ingelegde vleis, vir die vroue in die oop treintrokke.
Die kinders huil van die honger, want hulle het drie dae laas iets geëet. Emily gee vir Clara geld om al die kos te koop wat sy in die hande kan kry, en gee nog ’n opdrag: “Leave the church today.”201
Dit is vir Emily aaklig om die vroue en kinders net so te los, maar haar permit laat haar net toe om Bloemfontein toe te gaan. Met ’n swaar gemoed klim sy weer op die trein, net betyds voor dit vertrek. Die vroue en kinders moet sy in die snerpende koue in die buitelug agterlaat. Sy het haar dik grys tjalie aan, selfs dan is dit steeds bitter koud.202
Net omdat Emily by Caroline Fichardt in Bloemfontein tuisgaan, is Caroline se permit ingetrek sodat sy nie meer na hul plaas Brandkop kan uitry om haar man se graf te besoek nie.
By die kamp kom Emily agter dat die getal vroue en kinders gedurende die ses weke dat sy weg was, so te sê verdubbel het tot 4 000 siele. “My kampwerk groei so vinnig dat ek voel dit is amper onmoontlik om daarmee voort te gaan.”203
“It is endless and hopeless,” skryf sy aan tante Mary. “Ek voel verlam in die aangesig daarvan. Ek reken geld is van min hulp en daar is oomblikke wanneer ek dink dit sal wyser wees om op te hou probeer en my eerder huis toe te haas om die feite te gaan oordra en te pleit dat alles moet end kry.”204
Die kamp word net groter, verseker Goold-Adams haar nadat sy weer met hom gaan praat het. Intussen is 62 mense hier dood. Die dokter is siek en twee Boeremeisies wat as verpleegsters opgelei is, het ook gesterf.205
Steeds is daar nie seep in die kampe nie. Die amptelike antwoord wat Emily kry, is dat dit ’n luukse is en dat die soldate ook nie seep kry nie. Voer vir die maer koeie – haar oplossing sodat hulle meer melk vir die kinders kan lewer – is volgens die owerhede te kosbaar. En nee, spoorwegketels kan nie bekom word om water in te kook nie. Die ketels kan van bakstene gebou word, maar dit is te duur.206
Die toestand van baie van die mense wat Emily in die Bloemfontein-kamp gesond agtergelaat het, laat haar nou geskok. “Siekte en dood is afgedruk op hul gesigte.”207
Emily is oortuig dat indien daar nie ’n aanhoudende instroming van dokters, verpleegsters, ander werkers, kos, klere en beddegoed is nie, sal niks verbeter nie. Die sterftekoers trek nou by 20 persent en daar is geen hoop dat dit sal afneem nie. Emily pleit by Goold-Adams om die toestand in die kamp te probeer verbeter, maar hy lig haar in dat inwoners van Transvaal en die Vrystaat nou in kampe geplaas word; “a new sweeping movement has begun”.208
Vir oulaas probeer sy by die noordelike kampe, soos die een by Kroonstad, uitkom. Weer eens vra sy Goold-Adams se toestemming, weer weier hy. Nou is hy baie reguit en sê die rede daarvoor is dat sy “persoonlike simpatie met die mense toon”.
Verbaas antwoord Emily dat dit presies is wat sy gekom het om te doen – en om mense met hul persoonlike probleme by te staan. Hy glo “geskenke” kan bloot meganies uitgedeel word sonder om persoonlik by mense betrokke te raak.
“Ek sê ek kan nie so werk nie. Ek moet die mense soos mede-skepsels hanteer en in hul sorge deel.”209 Dit is toe dat Emily besef haar persoonlike simpatie word verwar met politieke simpatie. “It was no question of political sympathy. On that score I always maintained a negative attitude.”210
Sy is geskok om in ’n koerant Kitchener se bewering te lees: “Die rantsoene is genoeg en die families in die kampe is tevrede en gemaklik.”211 Sy weet hulle is “ellendig, ondervoed, siek en sterwend”212 en besef dat wat aan die Britse publiek voorgehou word, leuens is.
Dit het Emily by ’n punt gebring waar sy ’n belangrike besluit moet neem: “To stay among the people, doling out small gifts of clothes, which could only touch the surface of the need, or return home with the hope of inducing the Government and the public to give so promptly and abundantly that the lives of the people, or at least the children might be saved.”213
Ná veel bepeinsing besluit sy om die euwel by sy wortel aan te pak, by hulle wat dit begin het en die mag het om dit te beëindig. Bespreek vir my plek op ’n skip na Southampton, skryf sy vooruit aan Caroline Murray.
Op pad Kaap toe hou die trein weer by Springfontein stil. Tot Emily se afgryse is dieselfde groep van sowat 600 vroue en kinders tien dae later steeds op die stasie.214 Daar is geen water of toilette nie en weinig kos.
Sy tref ook die bejaarde oom en tante van pres. Paul Kruger daar aan. Die ou dame is half naak ondanks die koue. Emily trek haar eie onderrok uit en gooi dit oor die vrou.
Van die ander vroue klou aan Emily vas in die hoop dat dié engelfiguur hulle uit hul ellende sal verlos. “The picture photographed in my mind can never fade,” skryf Emily later.
Dis bitter koud, maar daar is geen skuiling vir die vroue en kinders nie. Party probeer onder die treintrokke slaap. Ander het ’n seil in die hande gekry en daaruit ’n skuiling probeer prakseer.
Onder een van dié skuilplekke sit ’n vrou met haar kind op haar knieë. Die baba is vinnig besig om te kwyn.
’n Paar druppels brandewyn sal dalk die kind se lewe red, maar nêrens op die stasie is so iets te kry nie. Emily stuur ’n boodskap na kapt. Gostling, die kampkommandant, maar hy laat weet sy voorraad is beperk.
Emily is by toe die kind in stilte sterf.
“The mother neither moved nor wept. It was her only child. Dry-eyed but deathly white, she sat there motionless looking not at the child but far, far away into depths of grief beyond all tears. A friend stood behind her who called upon Heaven to witness this tragedy and others crouching on the ground around her wept freely.
“The scene made an indelible impression upon me. The leading elements in the great tragedy working itself out in your country seemed to have gathered under that old bit of sailcloth whose tattered sides hardly kept off sun, wind or rain.”215
Ná dié uitputtende oggend het sy nog genoeg stamina om die konsentrasiekamp aan te durf waarheen sy moet voetslaan. Kapt. Gostling volg haar soos ’n skaduwee, knoop kamma-onskuldige geselsies aan en stuur kort-kort die gesprek in ’n politieke rigting, maar Emily is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie en rep nie ’n woord oor enigiets wat na politiek ruik nie. Laataand haal sy weer die trein wat stadig aankruie na die suide. Die volgende dag klim sy by Norvalspont af en gaan oudergewoonte na die konsentrasiekamp waar sy die dag deurbring.
Laatmiddag stap sy terug stasie toe om die trein te haal, maar moet daar hoor die trein Kaap toe kom eers die volgende dag. Nou het sy geen slaapplek nie, want elke beskikbare bed op die dorp word deur die weermag beset. Terug na die kamp. Dit is reeds pikdonker toe sy by ’n ou bekende, ene mev. Boshoff, se tent aankom en dié is maar te bly om haar te sien. Vroegoggend kruip Emily uit om net ná sewe die trein te haal.216
Toe Emily op 5 Mei in Kaapstad aankom, het sy ses dae laas gewas. Sy is onbeskryflik vuil, van kop tot tone oortrek met rooi stof. Party dae kon sy nie eens êrens haar hande was nie. Vir rus is daar egter weinig tyd, want sy moet dadelik besluit of sy oor twee dae met die Saxon gaan vertrek, of nog wag. Die skepe is boonop propvol.217
Binne ’n uur besluit sy om so gou moontlik die seereis aan te pak.
Ook op die Saxon, tot Emily se groot verbasing, is niemand anders nie as sir Alfred Milner.218 “Daar sit sy edele op ’n podium, alleen in al sy glorie. Hy het die kaptein ingelig dat hy met niemand wil meng en met geen vrou wil praat nie. Maar hy het met my kom praat toe die wind en golwe dit toegelaat het,”219 skryf Emily aan Caroline Murray.
Dit is nutteloos dat sy “die Taal”220 by mense aan boord leer, deel Milner se privaat-sekretaris Walrond haar mee, want sy behoort nie toegelaat te word om weer na Suid-Afrika te kom nie. Emily vermoed dis hy wat allerlei skinderstories oor haar op die skip versprei, want baie keer hul rug op haar. Tog kry sy weer ’n geleentheid om met Milner te gesels toe die skip Madeira aandoen en almal die uitsig van die dek af bewonder.
Op ’n manier weet Emily dat militêre spioene in Bloemfontein haar dopgehou en allerhande onwaarhede oor haar aan Milner verstrek het, soos dat sy onmin in die kampe gesaai het. Nie minder nie as 60 verslae oor haar is aan Milner gestuur en dis nou haar kans om hom daarmee te konfronteer. Dit is ’n laeklasmens wat bereid is om ’n spioen te wees, deel sy hom mee, “en dit is darem baie informante om te betaal”.221
Sy benadruk dit weer dat sy nie om politieke redes in Suid-Afrika was nie en vertel Milner ook hoe kapt. Gostling haar probeer uitlok het om politieke uitsprake te maak. Dit wil vir haar voorkom of hy haar glo.
“There were two Alfred Milners – there was the charming, sympathetic, gracious and cultivated man, whose abilities and culture found rather a desert in South Africa, and whose liberal leanings were in contrast to the military men surrounding him. And there was the politician who had given his word to carry out the ideas of the English statesmen and felt bound in honour to do so. The clash must have given him many dolorous moments of agony.”222
Emily groet Milner met dié woorde van die skrywer Macrobius toe ’n Romeinse soldaat deur Augustus Caesar onskuldig gestraf is: “Caesar, as jy oor ’n eerbare man wil laat navraag doen, sorg dat jy eerbare mense kry om dit te doen.”223
Emily is op 24 Mei 1901 terug in Engeland nadat sy 5½ maande tevore na Suid-Afrika vertrek het. Hoe presies sy die nood in die konsentrasiekampe onder die Engelse publiek se aandag gaan bring op ’n manier wat nie aanstoot sal gee nie, maar simpatie sal wek, weet sy nog nie.
Wat sy wel weet, is dat sy na haar belewing van die konflik in Suid-Afrika ’n intense afkeer van oorlog en alles wat dit meebring, ontwikkel het. Sy sien duidelik wat oorlog aan mense doen en pen dit neer:
“You can no longer be an individual, you are one of a herd – and that herd preserves itself by the reversal of the principle of virtue. Untruth, lies, hatred, inhumanity, destructiveness, spying, treachery, meanness innumerable, suspicion, contempt, unfair dealing, illegality of every kind flourish and become as it were the ‘virtues of war’.
“The atmosphere thus created is a moral miasma.” 224