Читать книгу Emily Hobhouse: Geliefde verraaier - Elsabé Brits - Страница 8
3
Оглавление’n Visie wat soos ’n saad groei
“The constantly renewed picture of women and children homeless, desperate and distressed, formed and fixed itself in my mind and never once left me. (It) became a vision of vivid reality wherein I saw myself amongst the sufferers bearing relief. I never doubted then that I should go …”
Emily Hobhouse in haar onvoltooide outobiografie, 1900
“The case for intervention is overwhelming …” Volgens die oggendkoerant waaruit Emily daardie somersoggend in 1899 aan die ontbyttafel vir lord en lady Hobhouse voorlees, is dít die woorde van Alfred Milner, goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, in ’n telegram aan Joseph Chamberlain, die Britse koloniale sekretaris.57
“Dit beteken na my mening oorlog,” is lord Hobhouse se somber opmerking. Almal om die ontbyttafel is ontsteld oor die “donker wolk van oorlog” wat die hele somer lank in Brittanje in die nuus is.
Vir Emily is die nuus van ’n komende oorlog “ongelooflik”, maar sy besef dit is duidelik onvermydelik. Tog is dit ’n tyd van kalmte en vrede in haar lewe waarin sy lang ente saam met haar oom en sy hondjie, Meg, gaan stap en sy en haar tante met die kar en perde op uitstappies gaan. Lord en lady Hobhouse het nie kinders nie en behandel Emily soos ’n eie kind, maar sy voel sy “kan nie baie vertroulik met hulle praat nie”.58
Lord Hobhouse dien as regter in die regering se geheime raad (privy council), wat meebring dat hy ook nie openlik sy mening – onder meer sy teenkanting teen die dreigende oorlog in Suid-Afrika – kan lug nie.
Die spanning in Suid-Afrika het ’n lang aanloop gehad. Ná die Eerste Vryheidsoorlog (16 Desember 1880-23 Maart 1881) tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en Brittanje is die Transvaal aan die Boere, of burgers,59 teruggegee en het hulle ’n mate van selfregering gekry.60 Die Britse regering het steeds die mag behou rakende buitelandse beleid en wetgewing insake swart mense, maar in 1884 is groter binnelandse beheer aan die Transvaal toegestaan.61
Die oomblik toe goud egter in 1886 aan die Witwatersrand ontdek is, het alles verander en sogenaamde Uitlanders, die meeste van hulle Britse onderdane, het die land binnegestroom. Kort voor lank wou hulle stemreg en seggenskap in die myne hê62 en het beweer hulle word “deur die Boere onderdruk”.63
Cecil John Rhodes, wat gedroom het van ’n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag, het in 1890 eerste minister van die Kaapkolonie geword. Die land was reeds omring deur Britse kolonies. Rhodes wou beheer oor die goudmyne hê en al manier was om die Transvaal in te val in die hoop dat dit die Uitlanders sou opstook.
Rhodes se vriend Leander Starr Jameson en sy huursoldate, asook sommige Uitlanders, het die Transvaal oor Nuwejaar in 1895/’96 via die destydse Betsjoeanaland (Botswana) ingeval. Hulle is egter deur die Boere verslaan voordat hulle Johannesburg kon bereik, maar die “Jameson-inval” het die vertroue tussen Boer en Brit finaal geknak.64
Rhodes het as eerste minister bedank, maar sy beeld het nie in Brittanje skade gely nie.65 Chamberlain, die Britse koloniale sekretaris en ’n geswore imperialis, het klaarblyklik die Jameson-inval gesteun.66 Om die Vrystaat en Transvaal te annekseer en met die Kaap en Natal te laat saamsmelt, sou die juweel in die imperiale kroon wees met die Britse vlag wat van die Kaap tot in Kaïro wapper.67
In reaksie hierop het die Afrikaners al meer nasionalisties geraak en groter waarde aan hul identiteit begin heg. In die Kaapkolonie het al meer Afrikaners hul volksgenote in die noorde begin steun in hul anti-Britse sentiment. Die Uitlanders het al sterker uitdrukking gegee aan hul gegriefdheid: Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle die meerderheid van die wit bevolking uitmaak en het hulle met ’n petisie op Brittanje beroep om hulle te help om gelyke regte – veral stemreg – te verkry.68
Chamberlain stuur sir Alfred Milner, die nuwe goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris, om met Paul Kruger, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), in Mei 1899 in Bloemfontein te vergader om dié probleme te bespreek. Pres. M.T. (Theunis) Steyn wil allesbehalwe oorlog hê en nooi hulle na Bloemfontein om daar gesprek te voer. Maar Milner is beslis, hy wil Kruger dwing om aan die Uitlanders ná vyf jaar se verblyf stemreg te gee.69 Kruger weier, hy dring aan op sewe jaar. Boonop verlang hy vergoeding vir die Jameson-inval en vra dat Swaziland by die Transvaal ingelyf word.
Op 5 Junie 1899 verbreek Milner die onderhandelinge70 en stuur die later berugte en emosioneel gelade telegram aan Chamberlain waarin hy onder meer sê die Uitlanders is weinig meer as slawe: “The case for intervention is overwhelming … The spectacle of thousands of British subjects kept permanently in the position of helots, constantly chafing under undoubted grievances, and calling vainly to Her Majesty’s Government for redress, does steadily undermine the influence and reputation of Great Britain … ”71
Chamberlain se doel was om die Britte tuis se harte teen Kruger te verhard, maar toe die president later wel instem dat die Uitlanders ná vyf jaar se verblyf stemreg kan kry op voorwaarde dat Brittanje nie weer in die ZAR se sake inmeng nie, het Chamberlain niks skietgegee nie.72
Op 8 September 1899 stuur Engeland 10 000 soldate na Natal. Chamberlain het gemeen die Boeremagte is net ’n “papiertier” en dat dié magsvertoon Kruger sou flous om terug te keer na die onderhandelingstafel. Volgens hom was dit onwaarskynlik dat oorlog sou uitbreek, maar indien dit gebeur, sou die Britse soldate reeds op hul pos wees.73
Toe Kruger die volgende dag van die troepemag verneem, het hy aanvaar dat oorlog onvermydelik was. Jan Smuts, die 29-jarige prokureur-generaal van Transvaal, het met hom saamgestem. Later daardie maand berig die koerante dat nog 47 000 soldate uit Engeland gestuur word om die Transvaal op 28 September binne te val. Vinnig begin die Transvaal asook die Vrystaat, wat hom by sy natuurlike bondgenoot skaar, mobiliseer.74
Op 9 Oktober stuur die ZAR ’n ultimatum aan Brittanje: Onttrek die soldate wat reeds hier is uit Suid-Afrika, dié wat onderweg is, mag nie aan wal kom nie, en laat daar arbitrasie wees. Brittanje word 48 uur gegun om daarop te reageer. Die Britse regering, gesteun deur die publiek wat verontwaardig is oor die ultimatum, wys dit van die hand.
Emily sien ’n plakkaat van die ultimatum wat op Trafalgar-plein opgeplak is en besef dat die laaste hoop op vrede daarmee heen is: “It sounded the death knell of tens of thousands of people completely innocent of its cause and it bore within it seeds of things worse than death for England,” skryf sy oor dié oomblik op die plein.
Daaragter sien sy die motief vir die aanstigting van die konflik: ’n “aptyt vir goud en grond”.75
Die Anglo-Boereoorlog76 (ook die “Suid-Afrikaanse Oorlog” of “Tweede Vryheidsoorlog” genoem) breek op 11 Oktober 1899 uit.77 Die volgende dag vind die eerste skermutseling plaas toe ’n Boeremag van 800 man onder leiding van genl. Koos de la Rey by Kraaipan tussen Vryburg en Mafikeng ’n Britse garnisoen gevange neem nadat hulle ná ’n geveg van vyf uur oorgegee het.
Drie weke nadat die oorlog uitgebreek het, word die South African Conciliation Committee in Engeland deur liberale Britte gestig wat teen die oorlog gekant is. Die president van die komitee is die 67-jarige Leonard Courtney, later lord Courtney van Penworth, ’n gesoute politikus en voormalige adjunkspeaker van die Laerhuis.78 Sy kiesafdeling is Liskeard in Cornwallis, naby St. Ive waar Emily grootgeword het. Sy vrou, Catherine (Kate), is ook dadelik aktief betrokke by die komitee. Die voorsitter van die komitee is Frederick Mackarness, wat voorheen ’n regter in die Kaap was en nou ’n Liberale LP is. Die ander prominente bestuurslid is die markies van Ripon, ’n politikus, en sy vrou, die markiesin van Ripon.
Emily ken die Courtneys, want Kate (née Potter) is die suster van haar neef Henry Hobhouse V se vrou, Margaret. Sy is ook ’n suster van die beroemde Britse maatskaplike hervormer Beatrice Webb. Sy raak gou by die komitee betrokke, wat ten doel het om betroubare inligting oor die oorlog te versprei en voorspraak wil maak vir welwillendheid tussen die Afrikaners en Engelse. Hulle wil ’n vredevolle skikking hê en nie die “betreurenswaardige konflik” wat reeds begin het nie.79
Emily werp haarself “heelhartig in die saak” in ’n land wat oorgeneem is deur “oorlogskoors”. Daar is verskeie vergaderings by lord en lady Hobhouse se huis in Brutonstraat 15, Mayfair in Londen. In hierdie stadium woon Emily nou al ’n paar maande in die woonstel Rossetti Garden Mansions 21 in Chelsea, Londen.80 Sy deel dit met ’n jong mediese student van Indië, Alice Sorabji. Dié familie is ou vriende van lord en lady Hobhouse. Die woonstel is baie naby aan die Courtneys se huis in Cheyne Walk waar ook talle komiteevergaderings gehou word.
Op 15 Januarie 1900 word die komitee se werksaamhede amptelik aangekondig. Die lede is pasifiste en geheel en al teen die oorlog gekant. In ’n kort tydjie kry hulle 400 briewe van steun.81 Emily is die ere-sekretaris van die komitee se vrouetak.
“Die waarheid en rede (vir die konflik) word verduister ... Die opgewondenheid (oor die oorlog) word deur die pers en op kansels aangeblaas,” skryf Emily.82
“We are glad if we are but a light burning on a rock in the midst of the flood of jingoism – feeling that ours is the side of justice and of wisdom,” skryf Kate Courtney aan Emily se broer Leonard.83 Die jingo’s waarteen hulle gekant is, is ’n deel van die Britse bevolking wat glo hul land is altyd reg en weet die beste. ’n Groot deel van die Britse pers was deel daarvan.
Die kongres van die Liberale Party word in Februarie in Londen gehou en Emily woon dit by. Sy geniet elke oomblik daarvan – maar tog met ’n belangrike voorbehoud: “Liberales regs van ’n mens en liberales links van ’n mens … Daar is nêrens eens ’n koue Konserwatiewe windjie nie.” Sy is wel beswaard dat hulle louwarm is en dat hulle nie ’n enkele vrou uitgenooi het om hulle toe te spreek nie.
“Dit is soos om jou sterkste arm af te sny, of hoe?” vra Emily, want dit is die vroue wat die Liberale Party steun en die harde werk doen, maar die minderwaardige poste beklee.84
Sy besluit die vroue moet ’n meer prominente rol speel en ’n groot protesvergadering teen die oorlog hou. Kate Courtney stem met haar saam en daar word besluit dat ’n massavergadering in die Queen’s Hall gehou sal word. Emily se woonstel in Chelsea word die hoofkantoor van waar sy en ander vroue van 8 uur soggens tot 11 uur saans werk om ’n algemene verset teen die oorlog te probeer mobiliseer.85
Teen 24 Mei 1900 word die Vrystaat en op 5 Junie die Transvaal deur Engeland geannekseer en kort daarna word krygswet afgekondig.86 Die Boeremagte het dié anneksasies nie as wettige verowerings beskou nie en het hulle tot guerilla-taktiek gewend om die stryd voort te sit.
Lord Roberts, opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, waarsku in ’n afkondiging dat Boere wat aanhou veg, persoonlike verliese sal ly. Indien enige spoor- of telegraafverbindings beskadig of ontwrig word, sal die huise in die omgewing afgebrand word.
Dit is op papier die begin van die verskroeide-aarde-beleid,87 hoewel huise al so vroeg as Maart 1900 op bevel van Roberts afgebrand is wanneer kommandolede die huise as skuiling gebruik het.88 Ingevolge dié beleid is plaashuise met hul inhoud, asook skure en buitegeboue, afgebrand. Lewende hawe soos skape, beeste, varke en hoenders is doodgemaak. Landerye en die veld is aan die brand gesteek, terwyl hele dorpe in sommige gevalle ook in die slag gebly het. Teen Januarie 1901 is dit voor die voet gedoen en honderde plase in die Vrystaat en Transvaal is onbewoonbaar agtergelaat.89
Volgens Roberts was dit ’n strafmaatreël vir weerstand teen die nuwe Britse bewind.
Duisende vroue van regoor Engeland woon die Conciliation Committee se massavergadering in Londen uit protes teen die oorlog by, onder hulle ook lede van die Women’s Liberal Federation. “Our protest was more largely due to our proud desire for England’s honour and our horror lest her rectitude be marred by an unjust act,” skryf Emily.90
Die vroue aanvaar die aand in die Queen’s Hall vier voorstelle:
1That this meeting of women brought together from all parts of the United Kingdom condemns the unhappy war now raging in South Africa as mainly due to the bad policy of the Government – a policy which has already cost in killed, wounded and missing over 20 000 of our bravest soldiers and the expenditure of millions of money drawn from the savings and toil of our people, while to the two small States with whom we are at war, it is bringing utter ruin and desolation.
2That this meeting protests against the attempts to silence, by the disorder and violence, all freedom of speech, or criticism of Government policy.
3That this meeting protests against any settlement which involves the extinction by force of two Republics whose inhabitants, allied to us by blood and religion, cling as passionately to their separate nationality and flag as we in this country do to ours.
4That this meeting desires to express its sympathy with the women of the Transvaal and Orange Free State and begs them to remember that thousands of English women are filled with profound sorrow at the thought of their suffering, and with deep regret for the action of their own Government. God save the Queen. ”91
Dis betekenisvol dat die laaste resolusie deur Emily geskryf en voorgelees is. Dit bevat woorde wat in die komende jare nuwe en konkrete betekenis in haar lewe sou kry: “sympathy”, “women”, “sorrow”, “suffering”, “regret”…
Sy het sterk daaroor gevoel dat dié behoorlik opgeteken word as ’n bewys van hoe baie van haar landgenote die oorlog bejeën.
Die vergadering trek baie aandag, veral van die jingo-media wat afkeurend en volgens Emily “vol foute” daaroor berig. Op die sypaadjie voor haar woonstel kom skryf mense die name van die Boeregeneraals in groot wit letters.92
In Julie gaan Emily saam met David Lloyd George na Liskeard om daar op ’n vergadering die besware teen die oorlog te propageer. Hy is ’n Liberale lid van die Laerhuis en ook vurig teen die oorlog gekant.
Die dorpsaal is die aand volgepak, baie van Emily se vriende uit haar kinderdae is ook daar,93 maar die “patriotiese” oorlogsgesindes ontwrig die vergadering so erg dat nie een van die sprekers ’n toespraak kon lewer nie.
Emily kry darem ’n paar woorde in: “Ek dink julle sal saamstem dat Haar Majesteit die koningin van wie julle sing, skaam sou wees vir haar onderdane van Cornwallis indien sy hier was. Dis vir my vreemd dat mans van Cornwallis nie na ’n (toespraak van ’n) vrou van Cornwallis wil luister nie.”94
Die grootste deel van die gehoor het egter net méér oproerig geraak en toe stoele en ander voorwerpe na die verhoog gegooi word, moes Emily en Lloyd George die aftog blaas.
Ysreën val toe ek in Liskeard na die saal stap waar Emily-hulle al die beledigings moes verduur. Dit lyk soos ’n tipiese skool- of kerksaal waarin seker so 800 mense op stoele kan sit. Die verhoog is ruim en geskik vir ’n dorpskonsert.
Met die nou trappie op na die verhoog waar Emily gesit en luister het na die jingo’s se sang, krete en geskreeu ... Na die sydeur waar hulle uitgevlug het om van die oproerige skare te ontsnap.
Dit was die begin van die einde van baie van Emily se vriendskappe. Ná dié dag, in hierdie saal in Julie 1900, het van haar naaste vriende en familie haar verwerp.
“There followed a storm of abuse from relatives and acquaintances, some of whom even attacked me in the press. I lost the majority of the friends of my girlhood and it was a great loss. There was a divergence of principle at that time which broke many a bond, and taking up the work publicly I would not escape a painful severance of old ties.”95
Toenemend hoor Emily nuus uit Suid-Afrika dat haar land in stryd met beskaafde oorlogspraktyke “huise afbrand en met dinamiet opblaas”. Dit haal enkele koerante in Engeland, maar die Britse publiek is nog in die duister oor die omvang van die verwoesting,96 skryf sy. Enkele briewe van Britse soldate verskyn in die pers en beskryf die “aaklige tonele, wat hulle tot hul eer, grotendeels erg ontstellend vind”, skryf Emily.97
Sy is diep ontsteld oor die gebeure en besef dat dit haar voor ’n keuse gestel het wat nie ontwyk kan word nie. “Thus the constantly renewed picture of women and children homeless, desperate and distressed formed and fixed itself in my mind and never once left me. It became my abiding thought. The thought deepened to torture and by a kind of second-sight such as had often visited me in my life the whole became a vision of vivid reality wherein I saw myself amongst the sufferers bearing relief. I never doubted then that I should go and that, be the obstacles what they might, they would be surmounted.”98
Sy weet mense kan dalk lag vir dié “visioen”, maar sy lees in die werk van George Eliot dié “second-sight” is soos ’n diepe wete wat mettertyd ’n beeld van ’n nuwe, alternatiewe werklikheid vorm.
“Anyhow, explain it as you will, it was a curious and most solemn feeling that possessed me and nurtured in the quiet of the country, it grew into a definite plan when I returned to the solitude of my Chelsea flat. No one yet knew of my intention nor excercised any influence upon me. I thought out my plan.”99
En dít is om dáár te wees – in Suid-Afrika. Om daar ’n verskil te maak.
Daarvoor het sy geld nodig en met die oog daarop wil sy ’n fonds stig. Leonard Courtney en sy vrou is die eerste mense vir wie Emily van haar plan vertel. Hy loop op en af in die vertrek, gaan staan voor die venster en lug sy bedenkinge: Daar is te min inligting oor wat werklik in Suid-Afrika aan die gang is. Hoe sal die geld ingesamel word? Hoeveel sal voldoende wees? Sal die regering dit toelaat? Hoe sal die geld versprei word?
Emily probeer al die vrae beantwoord. Teësinnig spreek Courtney tog sy seën uit oor die projek; dit is al wat Emily in daardie stadium wou hê. Sy soek inligting – die feite oor die oorlog – sodat sy dit kan voorlê wanneer sy mense om geld nader.
Die moeilikste is om uiteindelik die goedkeuring van oom Arthur en tante Mary te kry. Met briewe van ondersteuning van gesiene mense in die Kaap en Londen, besoek sy hulle in Mayfair. Hulle is skepties, maar ondersteun haar tog. Hulle wil haar nie verhinder om te gaan nie, maar voel nog nie sterk genoeg oor die saak om haar geldelik te steun nie. Emily het dít nie verwag nie, maar sy berus daarby; solank sy net op hul emosionele steun kan staatmaak.100
Tante Mary, wat wel instem om in die fonds se komitee te dien, gebruik haar invloed en skryf aan Joseph Chamberlain om amptelike goedkeuring vir die fonds te kry. Die aard van die fonds, die South Africa Women and Children Distress Fund, is nie-polities, filantropies, nasionaal en het as doel om die vroue en kinders van Boer én Brit wat haweloos gelaat is deur die oorlog, van kos en klere te voorsien of te red. Die fonds het mans en vroue as lede, lig sy hom in.101
Terwyl Emily hieraan werk, word die eerste wapenneerlêers – lede van die Boere-kommando’s wat besluit het om nie verder te veg nie – en hul gesinne, in September 1900, in sogenaamde “beskermingskampe” in Bloemfontein en Pretoria geplaas. Volgens die Britse militêre owerhede is dit gedoen om hul veiligheid te verseker en vir hul vee voorsiening te maak. Vroue en kinders wat geen ander heenkome gehad het nie weens die verwoesting van die plase, is ook soontoe gestuur. Daar was dus volgens die owerhede geen wesenlike verskil tussen die beskermingskampe en die konsentrasiekampe nie.102
Die Britte het dit vlugtelingkampe genoem omdat dit impliseer die vroue en kinders van mans wat nog veg, gaan vrywillig daarheen, maar dit was nie die geval nie. Die werklike redes was dat hulle soontoe geneem is sodat hulle nie meer hul mans kon ondersteun nie. Nog ’n rede was dat die Britte geglo het die Boere sal hul wapens neerlê as hulle besef hul gesinne is in die kampe.103
Emily werk ses maande lank om steun vir haar projek onder invloedryke mense in Brittanje en Suid-Afrika te werf. Oor die reaksie van sommige skryf sy: “The chilling attitude of some accounted most saintly, the lack of imagination in others whose known gifts pre-supposed imagination – the feat of those with big reputations lest those should be marred – all left an indelible impression on my mind.”104
Haar broer Leonard maan haar teen siektes in Suid-Afrika, maar Emily steur haar nie daaraan nie. “Vir my het die lewe nie veel aantrekkingskrag nie,” antwoord sy, “die Boere sterf reeds.” Wat van al die geskinder oor haar? “Dit ervaar ek reeds in Engeland en ek is al gehard daarteen.”
Jy gaan te gou, maan Leonard.
Ontbering en hongersnood wag nie vir die regte politieke oomblikke nie,105 antwoord Emily.
Hoe sal die Kaapse vroue oor haar planne voel? Sy skryf aan Caroline Murray (née Molteno), vrou van dr. Charles Murray wat simpatiek is jeens die Boere. Sy het die egpaar in Londen ontmoet toe hulle daar op besoek was. Emily deel hulle mee dat sy die slagoffers van die oorlog wil kom help, al meen sommige dít sal die regering sy plig teenoor die vroue en kinders laat versaak. Dalk sal sulke hulp die mense “se harte teenoor ons ’n bietjie versag”, hoop Emily.106
Caroline se broer Percy Molteno, haar suster Betty en haar broer John Charles, ’n lid van die Kaapse parlement, is ook betrokke by aksies wat teen die oorlog gemik is.
Teen die einde van November 1900 skryf Emily aan Caroline dat sy binnekort onderweg is Kaap toe en bedank haar dat sy by hulle in Kaapstad kan tuisgaan. Sy is verlig dat sy uiteindelik kan vertrek – iets waarvoor sy nie langer kan wag nie.107 Sy het £300 vir haar fonds ingesamel; ’n skaflike bedrag, maar klein vergeleke met die nood wat verlig moet word. Vir Emily is dié sending egter niks minder as ’n roeping nie:
“Deeply I had felt the call. Passionately I resented the injustice of English policy. Whole heartedly I offered myself for relief to the distressed. Carefully step by step I prepared the way. Sternly I economised and saved. Greatly I felt the wrench and anxiety for my aged relatives. But never did the vision fade of those desolate women and children, nor the certainty that I must go to them.”108
Om geld te spaar, reis sy tweedeklas op die Avondale Castle wat op 7 Desember na die Kaap vertrek.
Die maand tevore is Horatio Herbert Kitchener tot bevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika bevorder nadat hy tweede in bevel was onder lord Roberts. Kitchener, pas tot generaal bevorder, het kort tevore teruggekeer van die Soedan waar hy die goewerneur-generaal was; twee jaar vroeër het hy die bloedige veldslag van Omdurman in Kartoem gewen waarin sowat 10 800 Soedanese en 48 soldate aan Britse kant gesterf het.
Kitchener is ’n 50-jarige alleenloper en bekend daarvoor dat hy vroue nie kan verdra nie. Hy laat glo ná die verlies van ’n jeugliefde net ongetroude mans naby hom toe en staan nooit onderhoude aan vroue toe nie.109
Terwyl Emily ter see is, stuur Kitchener ’n memorandum aan sy offisiere. Die vroue en kinders wat na die konsentrasiekampe gestuur word, moet in twee kategorieë verdeel word: Die gesinne van wapenneerlêers en neutrale burgers; en dié wie se mans, seuns of pa’s nog veg. Die laaste groep moet as “Ongewensdes” (Undesirables) bekend staan. Voorkeur moet in alle opsigte aan die eerste kategorie gegee word, is sy opdrag.110
Emily lees boeke oor Suid-Afrika en leer soveel as moontlik “Boer Dutch”, soos sy na die ontwikkelende Afrikaans verwys. Sy het reeds lesse in Londen ontvang, want sy hou reeds van “die Taal” omdat dit soveel humor, teerheid en poëtiese gevoel kan oordra.111
Sy is alleen onderweg – ’n 40-jarige vrou op pad na ’n warm, stowwerige land op ’n kontinent en sy mense wat sy glad nie ken nie, in alle opsigte soveel anders as haar eie land.
Én daar woed ’n oorlog.
Twee dae ná Kersdag 1900 vaar die Avondale Castle die hawe van Tafelbaai binne. Die doelgerigte vrou wat in Suid-Afrika aankom, is intellektueel gevorm en het ’n sterk mening oor verskeie sake, veral wanneer morele waardes op die spel is. Sy skryf onvermoeid briewe en versoekskrifte in elegante, eietydse, dikwels dramatiese Engels wat getuig van ’n wye woordeskat waarmee sy gereeld skrywers en digters aanhaal.
Sy het staalblou oë met ligte,112 golwende hare wat sy wegkam van haar voorkop en aan die agterkant van haar kop liggies saambondel. Haar hare maak groterige kartels, maar dit krul nie. Sy begin grys word; dit laat hier en daar strepe in haar hare.
Emily – 1,72 m in haar sokkies – se houding is fier en regop; sy is lank en statig, goed geklee en bewus van haar stand. Sy is alles behalwe “dumpy”,113 maar “klein van bou” en met ’n kenmerkende effense arendsneus.114
Emily is oorweldig deur Tafelberg se prag en die “pienk-goud van die sonsopkoms”. Die skip het al vieruur die oggend aangekom, maar die hawe is só vol dat sleepbote die passasiers aan wal moet bring. Emily is haastig en neem die eerste een wat sy in die hande kan kry.
Weens die oorlog is daar ’n geharwar in die hawe waartydens Emily haar bagasie verloor, wat sy eers twee dae later terugkry. Sy gaan tuis by Caroline Murray en haar man, dr. Charles Murray, in Kenilworth waar etlike vriende en kennisse haar kom verwelkom, onder andere Mary Sauer (née Cloete), vrou van die Kaapse politikus Jacobus Wilhelmus Sauer.115
Laatmiddag sit Emily op die stoep en eet vye en appelkose met ’n mak meerkat op haar skoot, “asof ek hom my lewe lank ken”. Die dae aan boord van die skip het sy meestal gebruik om “Boer Dutch” by ander passasiers te leer.116
Nou is die volgende groot uitdaging: Hoe gaan sy in die noorde van die land kom? Verblyf sal nie ’n probleem wees nie, want sy kry talle uitnodigings om op plase oor te bly. Intussen verneem sy van 4 000 vroue en kinders “in ’n soort gevangeniskamp in Johannesburg”. Mense vertel haar dat nóg 600 plaashuise die afgelope week afgebrand is.117 Dit is die eerste woord wat Emily van die bestaan van konsentrasiekampe hoor (hoewel dié term toe nog nie algemeen gebruik is nie).
In die eerste dae van Januarie 1901 begin sy ’n prentjie vorm van vroue en kinders wat in “vlugtelingkampe” geplaas word. “Daar is nie duidelikheid hieroor nie, maar erge bekommernis heers in die Kaap oor familielede in die Vrystaat en Transvaal … In Engeland het ons niks gehoor van die bestaan van sulke kampe nie. Meer as ooit tevore het ek gevoel ek moet daar uitkom.”118
Orals waar sy kuier, ontmoet sy vroue wat na die Kaap gedeporteer is nadat hul huise afgebrand is en hulle alles verloor het. Wat aan haar vertel word, is “vernederend en hartverskeurend” en om ure lank simpatiek daarna te luister, is meer as wat sy gedink het menslik moontlik is, skryf sy op 6 Januarie (1901) vanaf Schoongezicht, die plaas van die politikus John X. Merriman. Wat nog meer onrusbarend is: Sy verneem van talle kampe waarin vroue en kinders aangehou word. “Daar is erge vrees oor die toestande in hierdie kampe.” Niemand weet hoeveel daar is nie, “maar hulle neem toe”.119
Emily skryf aan sir Alfred Milner, goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris, en versoek om hom persoonlik te spreek. Haar eerste poging is onsuksesvol toe Milner se sekretaris laat blyk “die toestand van vroue en kinders” sal haar nie naby die belangrike sir bring nie en sy moet maar wag. Gouer as wat sy egter verwag het, word sy op 8 Januarie 1901 vir middagete genooi.120
By haar het sy voorstellingsbriewe van haar tante, lady Hobhouse en haar neef Henry Hobhouse V,121 ’n lid van die Britse parlement. Henry en Milner is sedert hul studentedae aan Oxford vriende.122
Maar ’n verlammende vrees (“I am in a blue funk”) pak Emily beet. Sy is bang sy kry nie haar boodskap oortuigend aan Milner oorgedra nie. Dié 48-jarige vrygesel is nou die goewerneur van Transvaal én die Vrystaat, asook van die Kaap, en steeds die Britse hoë kommissaris.
“En soos gewoonlik in tye van geestelike of emosionele druk, het my hart so woes geklop, ek kon skaars asemhaal. Indien ek faal, sou alles waarvoor ek maande lank geswoeg het, tot niks kom nie en ’n ontelbare aantal lewens sal verlore wees.”123
Sy is alleen op die trein onderweg van Kenilworth na die goewerneurswoning Government House (die latere Tuynhuys) in Kaapstad. In haar handsak soek sy na iets koesterends. Daarin is ’n brief van Kate Courtney, en onderaan het haar man ’n boodskappie geskryf: “I add two words, be prudent, be calm … ”
Dit laat haar effens kalmeer, maar dit duur nie lank nie, want sy het gehoop om Milner alleen te spreek maar sy moet middagete saam met hom en agt ander mans nuttig. Sy ken nie een van hulle nie.
Milner wil sommer oor ete al voor al die ander mans met Emily gesels, maar sy pleit: “Net 15 minute ná ete, asseblief.”
Milner: Ek het te veel werk.
Emily: Ek is juis hier om oor werk te praat.
Milner gee toe.
Ná die ete neem hulle op ’n sofa in sy woonkamer plaas en begin heftig menings lug. “We went at it hammer and tongs for an hour.” Sy sorg dat Milner onder geen illusies oor die gees van die Boerevroue verkeer nie, want sy het baie van hulle ontmoet: “How do you think will you govern thousands of Joans of Arc?” wil sy weet.
Sy vra ook vir treintrokke om haar proviand en klere saam te neem na die binneland. ’n Afrikanervrou moet haar asseblief vergesel.
Verbasend genoeg, erken Milner dat die verskroeide-aarde-beleid ’n fout was. Hy het self gesien hoe vroue in treintrokke vervoer word en dit het hom “ongemaklik” gelaat. “Uiteindelik stem hy in om my versoek aan te stuur dat ek die kampe as ’n verteenwoordiger van die Engelse beweging besoek, en dat ek ’n Hollandse meisie kan saamneem as verteenwoordiger van Suid-Afrika …” Daar is egter ’n voorwaarde: Lord Kitchener, opperbevelvoerder van die Britse magte, moet dit goedkeur.124
Nou het Emily nie veel hoop nie. Die kanse dat hy, die “Slagter van Kartoem” en boonop ’n vrouehater, “twéé vroue sal verwelkom weens die moeilikheid wat hy vir homself op die hals gehaal het om duisende te hanteer” is skraal.125
Toe Emily vertrek, is sy oortuig sy en Milner gaan as vriende uiteen. “Everyone says he has no heart, but I think I hit on the atrophied remains of one. It might be developed if he had not, as he says he has, made up his mind to back up the military in everything. He struck me as amiable and weak, clear-headed and narrow.”126
Terwyl sy op ’n antwoord van Kitchener wag, versamel Emily getuienis van binnelanders uit die noorde wat daarin geslaag het om die Kaap te bereik. Sy ontmoet ook mense soos die kerkleier dr. Andrew Murray, lady en sir Henry de Villiers, die hoofregter, en sir William Bisset Berry, die Speaker.
Op 17 Januarie ontvang Emily ’n brief127 van Milner dat Kitchener per telegram ingestem het dat sy na die Vrystaat kan reis, maar op sekere voorwaardes. Twee daarvan is dat die verste noord wat sy mag gaan, Bloemfontein is en dat sy verkieslik nie ’n “Dutch lady” saamneem nie. Dit is slegte nuus, want Emily het gehoop mev. Elizabeth Roos, ’n bekende gemeenskapsleier, kan saamreis as ’n tolk met die Boerevroue, asook om sekere dorpe en plekke te vind.128
In Kitchener se telegram verwys hy na die “Dutch Refugee women kept out of their homes by the Boers”. In sy logika was dit alles baie eenvoudig: Sodra die laaste Boere oorgee, is die oorlog verby en kan almal huis toe gaan – ook die vroue en kinders. Gevolglik was die omgekeerde ook logies, hoewel hy dit nie openlik sou erken nie: As die Boere dan nie wil oorgee nie, moet hul vroue en kinders maar die spit afbyt.
Emily het die telegram soos goud bewaar, nie hieroor nie, maar oor die toegang wat dit haar besorg het. Bo-aan het sy geskryf: “This was Kitchener’s telegram which I carried everywhere in the camps.”
Sy besluit om Milner weer te spreek. Kan iets nie gedoen word nie sodat sy ook ander kampe verder noord kan besoek? wil sy weet.129
Milner stem in om ’n treintrok beskikbaar te stel vir die goedere wat sy wil saamneem, maar meer kan hy nie doen nie; Kitchener het die laaste sê.
Sy begin dadelik om kos, klere, komberse en ander benodigdhede te koop, maar die pryse is hoog en sy het net die £300 wat sy in Engeland ingesamel het. Aan Leonard skryf sy sy het ses ton klere en ses ton kos gekoop, maar dit gaan steeds nie genoeg wees nie. Sy hoop die Conciliation Committee kan nog geld stuur, want “dit sal vreeslik wees om met leë hande daar aan te kom wat binne weke die geval sal wees … ”130
Op Maandag 21 Januarie pak Emily van vroegdag tot laataand die treintrok op Kaapstad se stasie, maar sy is hartseer toe dit skaars halfvol is met wat sy kon koop. Intussen het sy Charles Fichardt131 van Bloemfontein ontmoet wat nou in die Kaap “op parool” is (wat beteken dat hy onderneem het om na Bloemfontein terug te keer). Hy bied aan dat sy in Bloemfontein by sy ouerhuis kan tuisgaan wanneer sy daar is.
Die aand daarna sien ’n groot klomp nuwe vriende Emily by die Kaapstadse stasie af. Hulle het ’n kosmandjie, ketel, konfyt en brood, asook vrugte, vir haar ingepak.
Alleen durf sy die tog na die onbekende, ’n neerdrukkende wêreld van konflik en verwoesting, aan.
Oor die afskeid op die stasie en die nagtelike treinrit skryf Emily: “It was a glorious night. Their kindness had been unceasing and I felt I had in them a solid background in case of need. But as the train moved off towards the strange, hot, war-stricken north with its accumulations of misery and bloodshed I must own that my heart sank a little and I faced the unknown with great trepidation, in spite of the feeling that the deep desire of months which had laid so urgent a call upon me, was indeed finding accomplishment.”132
Sy is onderweg op ’n reis wat haar lewe dramaties sou verander.