Читать книгу Klopdans van die liefde - Elza Rademeyer - Страница 3
1
Оглавление“Ons tee is seker nou al yskoud,” sê dokter John Uys toe hy en sy dameskollega die dienskantoor van die ongevalle-afdeling binnegaan.
“Ja,” sê dokter Pennie de Villiers. “Nugter weet waar almal weer vandag aan hul skete en kwale kom. En dis nog maar Donderdag, die hele naweek lê nog voor!”
“Jy is darem Saterdag af,” sê John. “Dis mos jou vry dag. Maar arme ek . . . Om te dink ek moet gebreekte arms spalk en snywonde toewerk terwyl ek ’n kaartjie in die losie het vir Saterdag se groot rugbytoets! Dis om van te huil!”
Pennie skink die tee en sit sy koppie met ’n glimlag voor hom neer. “Ek sal nogal graag wil sien hoe jy lyk as jy huil! Maar voordat jy in trane uitbars, hoekom ruil ons nie ons vry dae uit nie? Dan werk jy môre in my plek en ek werk Saterdag in jou plek?”
John stamp amper sy koppie tee om van opgewondenheid. “Sal jy? Sal jy regtig?”
“Ja, hoekom nie? Ek stel nie soveel in rugby belang dat ek die toets sou gaan kyk nie. In elk geval nie alleen nie. En Anton kan tog nie gaan nie.”
“Jy is ’n skat!” sê John. “Ek wonder of Anton weet wat hy aan jou het. Hoe gaan dit met hom?”
“Goed,” sê Pennie. “Hy is net gefrustreerd oor sy hulpeloosheid, en oor hy nie sy motor kan bestuur met die gips aan sy been nie. Hy verwyl nou maar sy tyd met boeke, maar lees was nog nooit een van sy geliefkoosde stokperdjies nie.”
“Dit sal seker die laaste keer wees wat hy self sy huis se dak probeer verf. Maar wat hoor ek?”
“Jy hoor reg,” sê Pennie. “Dit ís die sirene van ’n ambulans. Hier gaan ons al weer! Ook maar goed die tee is al koud. Nou kan ons dit ten minste vinnig wegsluk.”
Daar is nie tyd vir verder gesels deur die dag nie. Eers laatmiddag toe hulle die ongevalle-afdeling verlaat, herinner Pennie hom aan hul gesprek van vroeër die oggend. “Onthou nou om môre te kom werk en nie Saterdag nie.”
“Asof ek dít sal vergeet! Wat gaan jy nou môre doen?”
“Wat ek Saterdag sou doen. Woonstel skoonmaak en wasgoed was. En ’n draai by Anton maak.”
“Dra my groete aan hom oor, en sê vir hom hy moet jou baie mooi oppas, anders vry ek jou van hom af.”
Pennie glimlag toe hy wegdraai na die dokterskwartiere op die perseel van die hospitaal. Sy kan haar nie voorstel dat John ooit ’n meisie die hof sal maak nie. Hy is beslis nie die soort man vir soetsappigheid of mooi woordjies nie. Hy praat nooit eens van ’n meisie nie. Net van motorwedrenne, rugby, krieket en sy pokeraande saam met die manne.
Sy is kwalik in haar woonstel ’n entjie van die hospitaal af toe die telefoon in haar sitkamer lui. Soos sy te wagte is, is dit Anton. “Ek dood van verveling,” kla hy. “Wat doen jy vanaand?”
“Ons het ’n dol dag gehad. Ek voel nogal moeg en het gedink om vanaand vroeg in die bed te klim. Maar ek –”
“Kom jy nie kuier nie?” onderbreek hy haar. “Jy weet mos ek kan nie vir jóú kom kuier nie. Hoe gaan ek die aand alleen omkry?”
Sy vervies haar. “Ek sê jou dan ek is moeg. Hoe gaan jy voel as ek sit en slaap in jou geselskap?”
“Goed,” sê hy onmiddellik opgeruk. “As jy dan nie wil kom kuier nie, maak wat jy wil.”
Sy frons vererg toe sy ’n klikgeluid in haar oor hoor. Maar dan lig sy haar skouers. As dít sy houding is, kan hy krepeer in sy verveling! Dis nonsens dat sy moet spring elke keer dat hy sy vingers klap.
Die voorval verhinder haar nie om lekker te slaap nie, want sy is daaraan gewoond dat hulle oor elke bakatel woorde wissel. Sy weet ook dat hy dit nie eens weer sal ophaal wanneer hy haar sien nie, want hy vergewe en vergeet net so maklik as wat hy iets ondeurdags kwytraak. Dit is maar soos sy hom leer ken en leer liefkry het.
Haar woonstel se deurklokkie maak haar die volgende oggend wakker. Sy kan kwalik glo dis al negeuur toe sy vinnig haar kamerjapon aanpluk om voordeur toe te draf, terwyl sy wonder wie dit kan wees. Niemand behalwe John weet tog dat sy by haar woonstel te vinde sal wees nie. Sou daar dalk ’n krisis by die hospitaal opgeduik het?
Maar tot haar groot vreugde is dit haar vriendin Tersia. Hulle ken mekaar al van skooldae af. Nie dat hulle heeldag en aldag kontak met mekaar het nie, maar dis juis wat die verrassing soveel groter maak.
“Kom binne,” nooi Pennie gul. “Verskoon net dat ek nog in my pajamas is. Ek het my totaal verslaap!”
“Jy verdien die rus. Ek het gedink jy is aan diens en was daar by ongevalle aan. Dit lyk maar woes daar. Die wagkamer sit propvol pasiënte. John moet lelik bontstaan.”
“Hoe is dit dan dat jy nie by die skool . . . O, ek het vergeet. Dis mos vakansie. Geniet jy nog die skoolhou?”
“Ja, wat. Maar ek gee glad nie om dat dit nou vakansie is nie. Die kinders kan ’n mens nogal uitput. Dit knor om hulle op die regte pad te hou, want hulle word met soveel versoekings gekonfronteer. Veral dwelms. Die dag toe die skole gesluit het, het ons skoolhoof ’n man met ’n sak vol dwelms buite die hek betrap waar hy dit aan die kinders wou verkoop. Ek hoop hulle prop hom vir ewig in die tronk.”
“Het julle baie probleme met dwelms by die skool?”
“Nie so erg nie. Maar daar is kinders wat dit gebruik. En dié wat dit nie wil doen nie, word verstoot of so geboelie dat hulle kwalik die versoeking kan weerstaan om mee te doen. Maar dis nou genoeg van die skool. Vertel my liewer hoe dit met jou gaan.”
“Baie goed. Ek het geen klagtes nie.”
“En met Anton?”
“Ook goed, behalwe dat hy sy been gebreek het. Hy wou sy huis se dak verf en toe val hy van die leer af. Gelukkig is net sy been gebreek, want hy’t bo-op die sementtrappe na sy voordeur geval. Hy kon sy nek gebreek het! Hoe gaan dit met jou en Naudé se liefdesake?” wil Pennie weet toe sy die ketel optel om dit by die wasbak vol water te maak.
“Dis uit tussen my en Naudé.”
Pennie steek vas en kyk verbaas na Tersia. “Ag, nooit! Wat het gebeur?”
“Mans kan mos nie aan een meisie getrou bly nie. Ek het vermoed daar is iets aan die gang tussen hom en een van die nuwe leerkragte, maar die spreekwoord sê nie verniet die liefde is blind nie. Toe betrap ek hulle in ’n leë klaskamer in mekaar se arms.”
“Wanneer was dit?”
“Twee weke gelede.”
“Ag nee. Dan moet dit mos bitter moeilik vir jou wees. Ek meen, om elke dag nog teen hulle te moet vaskyk by die skool ook!”
“Moenie vir my vra waar ek die krag vandaan kry nie, maar ek hou my kop hoog. Dis verniet of ek hulle sal laat agterkom ek het seergekry.”
“Sou julle dan nie binnekort verloof geraak het nie?”
Tersia glimlag wrang. “Ons sou. Maar nou ja, dit wys jou maar net weer: alle mans kry onmiddellik voete van klei wanneer ’n mooi vlindertjie met fladderende wimpers hul pad kruis.”
“Ek byt die vlinder wat Anton se pad kruis se kop morsaf,” probeer Pennie ’n ligter wending aan die gesprek gee. “Sy sal sleg lyk as ek met haar klaar is.”
“Ag, jy weet mos ek is nie die bakleierige soort nie. Sy kan hom maar vat as sy hom wil hê. Ek begin in elk geval al hoe meer wonder of ek hom regtig liefgehad het. En hom terugvat sal ek nooit, al kruip hy ook sy broekspype deur.”
Tersia nuttig saam met Pennie ontbyt en hulle gesels heerlik. Maar toe dit elfuur raak, staan sy op om te ry. “Ek wil my woonstel ’n slag ordentlik gaan skoonmaak.”
“Dit was my plan ook vir die dag,” sê Pennie. “Maar nou is ek nie meer lus daarvoor nie. Kan ek saam met jou ry tot in Kampsbaai, dan gaan kuier ek vir Anton? Hy kan mos nie bestuur met sy been in gips nie. Ek het hom ook nie vertel van my en John se uitruiling nie; hy gaan dus lekker verras wees as ek daar aankom.”
“Jy is meer as welkom om saam met my te ry, maar hoe gaan jy weer by jou woonstel kom as hy jou nie kan terugbring nie?”
“Ek kom sommer met die bus terug. Daar is ’n halte nie ver van sy huis af nie. Dit sal lekker wees om ’n slag te sit en rondkyk en nie self te bestuur nie. As jy my net so tien minute sal gee om gou aan te trek?”
“Natuurlik. Ek is nie só haastig nie.”
Toe Pennie ’n rukkie later terugkeer na die sitkamer, sê Tersia dadelik: “O, maar jy lyk mooi! Die blou kleur van jou rok harmonieer perfek met die blou van jou oë en jou swart hare. Anton sal sy oë nie van jou kan afhou nie. Geen wonder hy wil verloof raak nie. Hy’s seker bang iemand raap jou voor sy neus weg.”
“Dit sal die eerste keer wees dat Anton my in dié rok sien,” sê Pennie. “Ek het net gedink ek moet ’n slag ’n verandering maak voordat hy moeg raak om my oor en oor in dieselfde klere te sien.”
“Wie behartig nou sy fabriek terwyl hy siek is?”
“Hy’t gelukkig onlangs ’n nuwe bestuurder aangestel met wie hy nogal taamlik tevrede is. Ek kry die man net jammer, want soos ek Anton ken, sal hy elke dag ’n volledige verslag wil hê van alles wat daar aangaan. Ek dink nie Anton is die maklikste baas om voor te werk nie.”
“Jy sal my moet beduie waar Anton woon,” sê Tersia toe hulle Kampsbaai binnery.
“Jy kan my by die volgende straathoek aflaai. Ek stap sommer die bultjie uit na sy huis toe. Dis nie ver nie.”
“Sê groete vir hom,” sê Tersia toe Pennie uit die motor klim. “En onthou, nou is dit jou beurt om weer vir my te kom kuier.”
“Ek sal jou groete oordra, en sterkte vorentoe.”
Terwyl Pennie met ’n smal straatjie na Anton se huis hoër op teen die berg stap, flits die herinnering van hul eerste ontmoeting weer deur haar gedagtes. Die verjaardagpartytjie van een van haar kollegas; die aantreklike man wat dadelik haar oog gevang het; hul sydelingse blikke na mekaar . . . Maar natuurlik het albei van hulle ander metgeselle vir die aand gehad. Dit het hom egter nie daarvan weerhou om haar vir ’n dans te nader en haar adres te vra nie. En die volgende aand toe haar deurklokkie lui, was hy daar!
Dit sal môre net mooi ses maande gelede wees, onthou sy. Dis jammer sy’t nie eerder daaraan gedink en vir hom ’n presentjie saamgebring nie. Maar nou ja, haar besoek sal al klaar vir hom ’n verrassing wees.
Nadat sy die trappies na sy voordeur bestyg het, steek sy vir ’n wyle vas om terug te kyk. Wat ’n pragtige uitsig! Die blou van die see, die wit strand en skuimende brandertjies, die boomryke omgewing en singende voëls . . . Dit gaan heerlik wees om hier te woon.
Sy steek haar hand uit om die deurklokkie te lui, maar bedink haar. Hy sal nie voordeur toe kan kom met sy gipsbeen nie en dalk is sy huishulp nie op die oomblik in die huis nie. Aan die agterkant van die huis is daar ’n sydeur wat sy huishulp gebruik. Dit is gewoonlik ongesluit en is digby sy slaapkamer. Sy sal sommer daar ingaan.
Toe sy egter by die deur kom, steek sy vas. Wat gaan dan nou in Anton se kamer aan, wonder sy verward. Dis mos ’n meisie wat sy so stuitig deur die oop venster hoor giggel. Dit is nie in haar aard om mense af te luister nie, maar toe sy Anton hoor sê: “Wag nou, hoekom is jy so haastig?” bly sy fronsend staan.
“Ek wil aantrek,” hoor sy die meisie sê. “Kan jy dink wat jou huishulp gaan sê as sy ons saam hier in die bed betrap!”
“Dit sal nog lank wees voor sy terugkom, man. Kom lê nog net so vir vyf minute in my arm, toe?”
Pennie retireer verdwaas. Sy weet nie of sy haar ore moet glo nie. Dit kan tog nie wees nie! Haar verbeelding speel met haar parte. Sy skud haar kop. Miskien droom sy! Dis Tersia se vertelling van wat met háár gebeur het wat veroorsaak dat sy ook nou so ’n nare nagmerrie beleef. Sy kyk om haar rond. Dis tóg Anton se huis . . .
“Ek sal Saterdag weer kom kuier,” kom dit vanuit die kamer.
“Nee, maak dit Sondag,” klink Anton se stem op. “Ek verwag môre kuiergaste.”
Pennie draai verward weg en verdwyn geluidloos om die hoek van die huis na die voordeur se kant toe. Sy moet eers uit hierdie nare nagmerrie ontwaak, haar sinne bymekaar kry voordat sy aanklop. Maar toe val haar blik op ’n wit motortjie wat bykans heeltemal verskans agter die twee groot bome aan die oorkant van die straat staan. Sy droom nie, dring dit tot haar deur. Daardie motor en die gegiggel . . .
’n Lamheid oorspoel haar. Sy moet konsentreer om die trappe af te klim tot in die straat. Maar die werklike skok tref haar eers halfpad op pad na die bushalte. Hoe kon hy! Háár Anton! Sy sluk aanhoudend. Maar toe kom die snikke. So rou en hees dat sy haastig agter ’n paar struike langs die sypaadjie skuiling soek. Eers rou, later kermend. Sy kan haarself net nie keer nie. Sy was nog nooit van die huilerige soort nie, maar daardie gegiggel . . . En sy stem . . . Elke keer dat sy haar neus snuit, hoor sy dit weer en begin die trane van voor af.
Totdat iemand skielik om die struik loer en verbaas sê: “Maar my hetetjie, is dit tog nie dokter Pennie nie?”
Pennie skrik haar trane skoon weg. “Gits, Siena, waar kom jy vandaan? Ek bedoel . . .”
“Meneer Anton het my kafee toe gestuur om vir hom sigarette te gaan koop. Maar hoe kom dokter Pennie dan hier? En waaroor die trane?”
“Ek . . . e . . . Wie is daar by Anton, Siena?”
Siena se gesig kry ’n agterdogtige uitdrukking. “Moenie vir my sê sy is al weer daar nie!”
“Wie is sy?” dring Pennie aan.
“Nee, ek ken nie haar naam nie. Sy ignoreer my soos ’n stopstraat. Maar die kuiery van haar . . . dis nie ’n goeie ding nie. Was doktertjie daar by die huis?”
“Ja, maar . . . ek het hulle nie gesien nie. Net gehoor praat en . . .”
“Toe maar,” sê Siena vertroostend toe Pennie se woorde verswelg word deur ’n snik. “Moenie huil nie. Meneer Anton is dit nie werd nie. Ek het dié moeilikheid sien kom. Daardie merrie se gekuier hier amper elke dag . . . As jy my vra, het sy kop uitgehaak!”
“Kom sy baie hier?” wil Pennie deur haar snikke heen weet.
“Ja,” sê Siena en staan nader om haar arm om Pennie se lyf te slaan. “Ek sal eerlik met jou wees, want dis beter om nou seer te kry en klaar. Dis al meer as twee weke se ding hierdie. Ek het vermoed iets is nie pluis nie, want elke keer dat sy hier kom, moet ek vir meneer Anton gaan sigarette koop. En nie by die kafee hier naby nie, elke keer by die een daar ver anderkant die hotel. Die kafee hier naby hou dan nou kwansuis nie meer die soort sigarette aan wat hy rook nie. Ek weet dit moet vir jou bitter swaar wees om dié dinge aan te hoor, dokter Pennie. Maar dis beter dat dit nou op die lappe kom as wat meneer Anton aanhou om jou te bedrieg.”
“Is sy mooi?” vra Pennie, tipies vrou.
“Sy’s nie vir mý mooi nie. Haar hare is te rooi en te woes. Maar ’n man dink mos nie met sy verstand nie. Ek kan nie verstaan wat oor meneer Anton se lewer geloop het nie!”
Pennie slaak ’n suggie en druk die vertoiingde snesie terug in haar sak. “Wat ook al, ek sal hom nooit weer vertrou nie.”
“Nee, ek sou ook nie as ek jy was nie. Maar ek sê nou vir jou een ding: As hy háár vat, werk ek nie ’n dag langer vir hom nie.”
“Bly maar stil oor die besigheid. Moenie vir Anton sê ek was hier by sy huis nie, hoor?”
“As jy so sê . . . Maar waar is jou motor dan?”
“Ek het ’n geleentheid tot hier gekry en gaan sommer met die bus terug.”
“Foei tog, nou moet jy nog in jou droefheid tussen ’n klomp mense op ’n bus ook gaan sit.”
“Ek sal dit wel oorleef.”
“Dit glo ek, want jy’s ’n sterk meisie. Maar ai tog, ek is so spyt. Ek het dan nou al in my verbeelding gesien hoe ek gaan help om jou en meneer Anton se kindertjies groot te maak.”
“Daarvan kan jy vergeet,” sê Pennie. “Ek is klaar met mans en kinders en alles!”
Sy durf nie weer huil nie, besluit Pennie toe sy aanstap om die bus te haal. Haar snesies is gedaan. Sy sal soos Tersia maak en haar kop hoog hou. Ten minste sal Anton nie die voorreg smaak om haar af te sê nie. Sy sal hóm die trekpas gee. Laat hy daardie giggelende skepsel vat! Laat hy met haar trou. Laat hy doen net wat hy wil!
Haar treë raak driftig. Om te dink sy wou hom verras. Wat ’n verrassing was dit nie! Ongelukkig vir háár en nie vir hom nie. Om te dink hy’t die dag voor hy sy been gebreek het nog van verloof raak gepraat! Selfs toe sy van moegheid kla, gesê dit sal nie meer lank wees dat sy so hard moet werk nie, want sy vrou moet by die huis bly en hul kinders grootmaak.
Mog hy en juffrou Giggel kinders by die dosyne hê! Mog hulle . . . Haar ontstelde gemoedstoestand veroorsaak dat sy so byna die motor wat met ’n spoed om die draai kom te laat gewaar toe sy die straat na die bushalte wil oorsteek. Sy spring gelukkig betyds terug, maar haar handsak glip uit haar hand en om alles te kroon, slaan sy soos ’n sak patats op die sypaadjie neer toe haar voet agter die randsteen haak.
Haar handsak is nie so gelukkig soos sy nie. Die motor se wiele tref dit met ’n knarsgeluid. Sy vlieg orent en raap die sak op voordat nog ’n motor daaroor kan ry, maar die chaos binne-in die handsak laat haar sommer van voor af in trane uitbars. Haar botteltjie duur parfuum is daarmee heen en die sak se voering is besmeer met lipstiffie en poeier. Ook haar identiteitsdokument is sopnat en besmeer. Wat ’n gemors! Nugter weet hoekom sy nie met een van haar eie voertuie gery het nie! Maar dan sou sy seker nie geweet het wat sy nou weet nie. Want Anton en juffrou Giggel sou haar motor of motorfiets hoor stilhou het . . .
“Kan jy nie kyk waar jy loop nie!” klink die ergerlike stem van ’n man skielik langs haar op. “Dit was so amper of ek het jou raak gery.”
“Dis oor jy soos die duiwel gejaag het!” snou sy hom ewe ergerlik toe. “ ’n Mens sou sweer hier is nie iets soos spoedbeperkings nie!”
“Ek is haastig.”
“O, haastig! En daarom kan jy jaag soos jy wil!” Sy vlek die handsak oop en druk dit onder sy neus. “Kyk die skade wat jy aangerig het. Hierdie parfuum het my ’n fortuin gekos! Kyk hoe lyk my handsak!”
“Waar bly jy?” val hy haar onbeskof in die rede. “Kom klim in my motor dat ek jou kan wegbring.”
“Nee dankie. Ek laat nie my nek breek deur jaagduiwels nie.”
“Dis jý wat onverskillig was. Jy kan dankbaar wees jy is nie net so platgery soos jou handsak nie! Kom nou, ons kan nie hier staan en redekawel nie.”
“Dis nie ek wat redekawel nie. Jy het geen skade opgedoen nie, so gaan klim in jou motor en kry jou ry.”
“Ek bied jou ’n geleentheid aan. Vir die laaste keer: ry jy saam of nie?”
“Dink jy ek is so mal om my deur ’n wildvreemde man te laat verongeluk? Nee dankie!”
Hy draai om, maar sy hoor hom brom: “Vroumense! Beduiwelde goed!”
“Haai, wat sê jy daar? Wie gee jou die reg om te sê ek is beduiweld?”
Hy draai om en sy oë spuug vuur. Maar toe hul blik ontmoet, gee hy plotseling ’n kuggie en sy stem is heelwat sagter toe hy sê: “Ek is jammer. Het jy ’n probleem?”
Sy veranderde houding ontsenu haar vir ’n wyle, want sy kan dink hoe sy lyk met haar rooigehuilde oë. Dog, simpatie is die laaste ding wat sy wil hê. “Moenie dink oor jy met ’n duiwel vir ’n vrou sit dat almal soos sy is nie!”
“Ek hét gesê ek is jammer. Wat kan ek doen om jou te help?”
Sy skielik sagte oë doen haar nie goed nie. Haar tong haak vas en haar traankliere begin van voor af werk.
“Hier,” sê hy toe sy die vertoiingde snesie uit haar handsak haal. “Gebruik my sakdoek en laat my toe om jou huis toe te neem.”
Haar blus is uit toe hy haar aan die arm neem en na sy motor stuur. Dit sal nie help om teë te stribbel nie, besef sy. Die motor gaan baie vinniger wees as ’n bus. Sy moet so gou moontlik by die huis kom voordat haar miserabele toestand haar in ’n verdere moles dompel.
“Waar woon jy?” vra hy toe hulle wegtrek.
Sy snuit eers haar neus in sy sakdoek voordat sy die adres verskaf.
“Voel jy beter?” wil hy ná ’n rukkie weet.
Sy knik haar kop en verwens sy simpatieke houding, want dit laat haar net nog meer ellendig voel.
“Waar werk jy?”
Sy noem die naam van die hospitaal.
“Jy is dus ’n verpleegster,” maak hy sy eie afleiding. “Geniet jy dit om met siek mense te werk?”
Sy knik weer haar kop.
“Jy is nie lus vir gesels nie, nè?”
Sy skud haar kop. En al sy pogings om haar verder aan die praat te kry, misluk dan ook jammerlik.
“Ek is jammer ek het jou laat skrik,” sê hy weer toe hy voor die woonstelblok stilhou. “En ek is jammer oor jou handsak. Kan ek vir jou ’n ander botteltjie parfuum koop?”
Sy snuit haar neus. “Nee.”
“Wat is jou naam?”
“Pennie de Villiers.”
“Ek is Pieter Wasserman. Aangename kennis.”
Sy hou die sakdoek na hom uit. “Dankie dat jy dit vir my geleen het.”
“Jy kan dit maar eers hou en was,” sê hy. “Ek sal dit op ’n ander dag by jou kom haal.”
Natuurlik sal hy nie ’n besmeerde sakdoek wil terughê nie, dink sy ’n bietjie verleë. Sy druk die sakdoek in haar handsak en haal haar beursie uit. “Ek sal vir jou geld gee om ’n nuwe sakdoek te koop.”
“Nee dankie. Jy sal my nie glo nie, maar daardie sakdoek het nogal sentimentele waarde vir my.”
“Dan sal ek dit was en by die kantoor van die verpleegsterstehuis los. Jy kan dit daar gaan afhaal.” Toe klim sy uit en loop na haar voordeur toe.
Vanselfsprekend sleep die res van die dag langsaam verby. Van woonstel skoonmaak kom daar niks. Vir wie of wat moet die woonstel skoon wees? Dit sal haar pas om in die stof te versmoor. En die aand toe die telefoon lui en sy Anton se stem herken, skakel sy onmiddellik haar selfoon af. Ook die foon in die sitkamer se prop trek sy uit. Van slaap kom daar egter min.
Is dit haar preutsheid wat Anton na die arms van ’n ander meisie gedryf het? wonder sy vir die soveelste keer. Sou sake anders verloop het as sy meer toegeeflik was? Het hy gelieg toe hy gesê het hy respekteer haar gevoelens oor voorhuwelikse seks en dat hy nie daarop sal aandring nie? Hy wás die laaste tyd baie opgeruie en vatterig . . .
Elke keer dat die snikke kom, druk sy haar kop in die kussing om dit te smoor. Sy sal nie huil nie! Sy sal hom uit haar gedagtes verban en nooit weer aan hom dink nie!