Читать книгу Klopdans van die liefde - Elza Rademeyer - Страница 5

3

Оглавление

Douvoordag die volgende oggend klop Pennie aan Janie se woonsteldeur. Sy slaak ’n sug van verligting toe die meisie ongedeerd haar opwagting in die deuropening maak.

“Dis ’n verrassing,” begroet Janie haar. “Kom binne. Ek het so pas koffie gemaak.”

“Ek het net kom kyk of jy veilig is,” sê Pennie.

“Of ek veilig is?” vra Janie verbaas. “Wat sou ek dan oorgekom het?”

“Ek bedoel, ek het net kom hoor hoe dinge gisteraand tussen jou en Pieter Wasserman verloop het?”

“Dit was wonderlik!” borrel dit opgewonde oor Janie se lippe. “Ek het nooit geweet ’n opvoering is só fantasties nie! Dit was die wonderlikste aand van my lewe! En Pieter is net so ’n fantastiese man. Hy’t hom wonderlik gedra!”

“Wel, ek hoop nie hy was so wonderlik dat jy besluit het om hom verniet te laat wegkom met jou gunste nie.”

“Dit moes hom baie geld gekos het, die kaartjies vir die opvoering. En hy’t boonop ’n yslike doos sjokolade vir my gekoop.”

“So, jy’t hom laat wegkom sonder betaling! En wat nou van jou woonstelhuur en –”

“Dokter verstaan my verkeerd! Pieter is ’n ware gentle­man. Hy’t nie eens een keer in die rigting van bed toe gaan gepraat nie. Eintlik het hy die meeste van die tyd oor dokter gepraat.”

Pennie laat val amper die koppie koffie wat Janie pas aan haar oorhandig het. “Oor my?”

“Ja. Hy wou alles van dokter weet.”

“Hoekom? Soos wat?”

“Ek dink hy is verlief op dokter. Maar hy wou nie vir my sê hoe lank en waarvandaan julle mekaar ken nie. Ek kon aflei dat julle mekaar nie baie goed ken nie, want hy’t nie eens geweet hoe oud dokter is of hoe lank dokter al by die hospitaal werk nie.”

“Verlief se voet! Ons ken mekaar van geen kant af nie. Ek bedoel, ons ontmoeting was heel toevallig. Hy’t my maar net opgelaai oor hy my handsak platgery het.”

“Hy’t niks daarvan gesê nie,” sê Janie. “Hoe het dit dan gebeur?”

“Hy’t soos die duiwel om die draai gekom. As ek nie teruggespring het op die sypaadjie nie, het hy my ook platgery. Gelukkig was dit darem toe net my handsak wat in die slag gebly het.”

“Waar het dit gebeur?” vra Janie nuuskierig.

“In Kampsbaai. Goed, ek sal toegee dat ek ’n bietjie onverskillig was deur nie op te let vir aankomende verkeer nie, want dit was net nadat ek van Anton se ontrou uitgevind het. Maar dit het Pieter Wasserman nie die reg gegee om die spoedbeperking te oorskry nie!”

“Hoe dit ook al sy, hy was baie nuuskierig oor dokter. Hy wou weet of dit regtig verby is tussen dokter en Anton. Ek dink Anton moet sy kop laat lees. Om te dink hy verkies ’n ander meisie bo dokter!”

“Mans is maar so. Die gras lyk altyd vir hulle groener aan die ander kant van die draad.”

“Ja, ’n mens kan weinig mans vertrou. Maar ek dink Pieter is anders. Ek glo nie hy sal sy meisie verkul nie.”

“Dis wat jy jou verbeel! Hy sal maar nes al die ander wees. Vir al wat ons weet, is hy nog straks getroud ook.”

“Dan sou hy mos nie so uitgevra het na dokter nie.”

“Wat wou hy dan nóg weet?”

“Allerhande dinge. Hy was baie verbaas toe ek vir hom sê dokter was die ander dag agt en twintig. Hy’t seker gedink dokter is twintig of so, want dokter lyk mos nie naastenby na agt en twintig nie.”

“Wat het hy met my ouderdom uit te waai?” vra Pennie vererg.

“Ek sê nog steeds hy is verlief op dokter.”

“Onsin. Waar kom jy aan so ’n lawwigheid? Ons was seker nie eens ’n volle halfuur in mekaar se geselskap nie. Wat het hy oor homself te sê gehad?”

Janie dink eers. “Noudat dokter dit noem, hy’t nie eintlik oor homself gepraat nie. Ek weet nie eens watter soort werk hy doen nie.”

“Nou sien jy! Dit wys jou duidelik hy’s nie te vertrou nie.”

“Wel, hy was beslis nie daarop uit om my te misbruik nie. En ek glo nie hy’s getroud nie. Hy is eenvoudig nie die soort man wat sal jok nie.”

“Daarvan moet jy glad nie so seker wees nie. Waar gaan jy nou geld kry om jou woonstelhuur te betaal?”

Janie se gesig val en haar oë verdof. “Ek weet nie. Ná gisteraand voel ek nie meer lus vir customers nie. Ek wens ek kon ook ’n eerbare lewe lei.”

“Ai, Janie, ons sal ’n plan móét maak.”

“Ag, dokter weet nie hoe hard ek al probeer het nie. Maar al die plekke soek mense met geleerdheid. Soms wens ek daardie stiefpa van my het nog geleef. Ek sou hom voorwaar vermoor het!”

“Dan was jy in ’n nog groter gemors. Hy en jou ma is in elk geval albei dood, dus sal dit nie help om ’n wrok te koester nie. Ons moet aan jou toekoms dink. Jy’s nog bloedjonk, jy kan nie jou lewe op hierdie manier slyt nie. Maar ons kan later weer daaroor gesels. Ek moet gaan klaarmaak om werk toe te gaan.”

Toe Pennie by ongevalle kom, vra John tot haar verbasing of sy dink Janie sal deug as ’n huishoudster vir ’n bejaarde egpaar.

“Ek sal haar vra. Dis moeilik vir my om jou vraag te beantwoord, want ek ken haar nie baie goed nie. Net van groet en nou en dan ’n paar woorde wissel. Ek weet nie of sy enigiets weet van kosmaak en huiswerk nie.”

“Hoor by haar. Ek het gister toevallig gehoor een van my vriende se ouers soek ’n huishoudster. Hulle is welaf, maar bejaard en nie so gesond nie. En dankie dat jy gisteraand saam met my gaan fliek het. Ek het die prent nogal geniet.”

“Dis ek wat vir jou dankie moet sê. Ek het dit ook geniet.”

“Dit het vir my so gelyk en ek is bly. Miskien sal dit jou help om minder oor Anton se dinge te tob.”

“Ek tob nie oor hom nie.”

“Maar jou lewenslus is darem nog nie wat dit was nie, en jou oë blink ook nie soos dit vroeër geblink het nie.”

“Genade ons, word ek dopgehou?”

“Nee, ek is maar net oplettend.”

“Dis nie nodig om my elke dag soos ’n skoukoei te takseer nie. Ek belowe jou, ek is klaar oor Anton. Ek sal my beslis nie doodtreur oor hom nie.”

Dit raak spoedig weer ’n besige dag, maar Pennie is bly daaroor. Hoe meer werk, hoe minder tyd om aan Anton te dink. Of aan John se opmerksaamheid. Die mansmens is werklik meer oplettend as wat sy gedink het. Want al voel sy bitter teenoor Anton, is dit nog telkens asof iemand haar hart met ’n mes sny wanneer sy aan hom dink.

Nadat sy die middag by haar woonstel gekom en gestort het, besluit sy om vir Janie te gaan sê van die werk as huishoudster wat sy moontlik kan kry. Geklee in ’n wit kortbroekie draf sy sommer kaalvoet met die trappe aan die agterkant van die gebou op na Janie se woonstel toe.

Dog toe Janie haar woonsteldeur in ’n deurskynende kamerjapon kom oopmaak, weet sy sommer dis die verkeerde tyd. Dis amper nie eens nodig vir die meisie om te fluister sy’t ’n customer nie.

Sy draf teleurgesteld terug na haar woonstel. As dit nie was vir die customer nie, sou Janie haar vir koffie genooi het. Sy sou darem vir ’n rukkie geselskap gehad het. Nou is dit weer net sy, die beknoptheid van haar woonstel en haar verlange na Anton. Of nee, korrigeer sy vinnig haar gedagtes. Laat sy liewer sê haar herinneringe aan Anton.

Toe sy haar kombuisdeur wil oopsluit, glip die sleutelhouer uit haar hand om bo-op haar kaal toon te lande te kom. “Eina, dessit!” ontglip dit haar onnadenkend.

“Wat ’n gewigtige woord uit so ’n fraai mondjie.”

Sy skrik haar buite weste vir die mansmens agter haar rug. Nogal Pieter Wasserman. “Wat soek jý hier?” vra sy oorbluf.

“Gee vir my die sleutel dat ek oopsluit.”

Sy doen dit sonder om te dink. Eers toe hy saam met haar die woonstel binnegaan, tref dit haar dat hy homself binnegenooi het.

“Knip jou oë,” sê hy. “Wat staar jy my so aan?”

“Wat kom maak jy hier? Ek het jou nie genooi om in te kom nie.”

“Jy gaan my tog nie summier die deur wys nie, gaan jy? Ek sou eerder sê jy moet my om verskoning vra.”

“Verskoning, vir wat?”

“Vir die soort meisie met wie jy vir my ’n afspraak gereël het.”

Nou hoekom sou Janie vir hom gesê het sy is ’n prostituut? wonder Pennie, blosend van die skuldgevoel wat haar oorval. Sy raap vinnig die ketel op en stap daarmee wasbak toe om onder sy blik uit te kom. Praat dan sommerso oor haar skouer: “Jy’t op ’n metgesel aangedring en ek het gereël dat jy een kry. Of julle die aand geniet, of nie geniet het nie, het niks met my te doen nie.”

“Lyk ek regtig vir jou na die soort man wat my met prostitute sal ophou?”

Hy hoef nie te weet sy voel skuldig nie, besluit sy en antwoord egalig: “Dit staan mos nie op die mans wat hulle met prostitute bemoei se voorkoppe geskryf nie. En soos ek mans ken . . .”

“Is almal net op soek na ’n lekker tyd,” voltooi hy haar sin toe sy betekenisvol swyg.

“Presies. Daar sê jy dit nou self.”

“So jy is daarvan bewus dat Janie ’n prostituut is.”

“Ek het haar dit nog nooit sién bedryf nie, dus wat my betref, kan dit stories ook wees.”

Hy lag onverwags. “Dis te hope dat jy haar dit nog nie sien bedryf het nie. Maar dat jy dink alle mans is dieselfde, is ’n misverstand. Ek sal vir jou die teendeel bewys.”

“Jy hoef niks aan my te bewys nie. Ek gee nie om wát julle doen nie.”

“Weet jy hoekom het ek ingestem tot jou blind date?”

“Nee. Want pleks dat jy my vir my moeite bedank, kom staan en trap jy my nou uit oor ek vir jou ’n prostituut as date gekry het. Asof dit mý skuld is dat jy te sleg is om self vir jou ’n meisie te soek.”

“Die enigste rede hoekom ek ingestem het om haar as metgesel saam te vat, is omdat jy te hardekwas was om saam met my te gaan en ek gehoop het om jou darem weer te siene te kry wanneer jy my aan haar gaan voorstel. Toe pypkan jy my nog daarmee ook deur ’n briefie teen jou deur te los.”

“Dit is net ’n duidelike bewys dat ek niks met jou te doen wil hê nie. Hoe gouer jy my dus uitlos, hoe beter.”

Hy gee weer ’n laggie. “So maklik laat ek my nie verjaag nie. Maak nou daardie koffie en kom sit hier dat ons kan gesels. Daar is baie van jou wat ek nog nie weet nie, en andersom. Ons het dus heelwat om vir mekaar te sê.”

Sy hele houding sê vir haar hy bedoel elke woord. Hy gaan hom waaragtig nie uit daardie stoel lig nie. Sy kan hom natuurlik met die ketel kookwater gooi, maar dis darem te drasties. Om handgemeen met hom te raak, sal ook nie help nie. Hy lyk na ’n sterke derduiwel. Dus haal sy tog maar teësinnig die koppies uit die rak. Of dalk nie heeltemal so teësinnig nie, want sy bewonder nogal sy vasbeslotenheid. ’n Man wat op alles ja en amen sê, kon sy nog nooit eintlik respekteer nie.

Hy snuif die geur van die koffie behaaglik in toe sy dit voor hom neersit. “Dit ruik heerlik!”

“Daar mag dalk gif in wees.”

Sy hartlike lag doen snaakse dinge aan haar. Dis asof ’n te styf gespanne kabel iewers in haar skietgee. “Ek het dit net uitgelos oor ek bang was jy sien ek gooi dit in,” korswil sy versigtig.

“Ja, jy moet in jou pasoppens wees vir my. Ek lyk maar na so ’n dom ou. Kyk hoe gou het ek uitgevind wat Janie se beroep is.”

“Skaam jou. Jy’t haar tog seker nie tot ’n bekentenis gedwing nie?”

“Nooit nie. Ek dwing nooit mense tot ’n bekentenis nie. Sy weet nie eens ek het uitgevind sy is ’n prostituut nie.”

“O? Maar hoe weet jy dit dan?”

Hy kyk haar vas in die oë en glimlag effens. “Omdat jy dit so pas vir my gesê het. Ek het dit maar net vermoed. Dinge wat sy in onbewaakte oomblikke kwytgeraak het, en die manier waarop sy sommige van my vrae omseil het.”

Pennie kyk hom vererg aan. “So jy’t my goedsmoeds uitgelok!”

Hy roer sy skouers. “Ek wou maar net my nuuskierigheid bevredig.”

“Dis gemeen van jou!”

“Net so gemeen as wat dit van jou was om my aan ’n prostituut uit te veil.”

“Verskoon my! Dit was jý –”

Hy lig sy hand. “Toe maar, ek gooi handdoek in. Dit wás alles my skuld. Ek moes jou in die eerste plek nie ’n kans gegee het om my te ontduik nie. Dit was die eerste en laaste keer. Van nou af gaan ons paadjies saam loop en basta met die res van die wêreld.”

Pennie kom agter haar mond het oopgeval. Sy klap dit vinnig toe. “Hoe bedoel jy . . . van paadjies?”

“Jy weet goed wat ek bedoel. Ons gaan doen wat alle verliefde paartjies doen. Saam fliek, saam uiteet, saam opvoerings toe . . . alles saam doen.”

Haar oë rek. Wat makeer die man, is hy mal? wonder sy. Of is daar fout met haar ore, hoor sy verkeerd?

“Hoekom staar jy my so verbaas aan?” vra hy. “Jy wil tog nie hê Anton moet dink jy treur oor hom nie, wil jy?”

“Anton? Wat weet jy van Anton?”

“Janie het vir my gesê dis die naam van die ou oor wie jy so gehuil het dat jy amper voor my motor beland het.”

“Wat het hý met die saak te doen?”

“Ek wil jou help om oor jou gevoel vir hom te kom.”

“Ek het nie ’n gevoel vir hom nie! Ek bedoel, dis verby, ek is klaar met hom!”

“Regtig? Dan is dit goeie nuus,” sê hy en stoot sy leë koppie terug. “In daardie geval het jy geen verskoning om nie môreaand saam met my uit te gaan nie. Jy kan besluit wat ons gaan doen. Of jy lus is vir fliek, vir uiteet of wat ook al.”

Sy raap haar gedagtes bymekaar. “Jy moet jou kop laat lees. Ek is geensins van plan om my met jou te bemoei nie.”

“En ek is geensins van plan om jou uit te los nie,” sê hy. “Ons sal maar sien wie uiteindelik gaan wen.”

“Jy is verskriklik arrogant!”

“En jy’s verskriklik eiewys,” sê hy met ’n sydelingse blik op sy horlosie toe hy opstaan. “Ek sal ongelukkig nou moet gaan, want ek het oor ’n halfuur ’n belangrike afspraak. Maar ek sien jou weer môreaand. Ek sal jou agtuur kom oplaai.”

Sy loop verdwaas agter hom aan voordeur toe, oorweldig deur sy verwaande doelgerigtheid. En geensins daarop bedag dat hy haar by die deur skielik sal nadertrek om haar te soen nie!

Vir ’n wyle is sy te verskrik om te worstel. En dalk vertolk hy dit verkeerd, want sy greep verstewig om haar lyf en sy tong beur teen haar lippe. Om haar teë te sit, gaan nie werk nie, besef sy. Hy is te sterk vir haar. Die beste sal wees om maar net apaties te staan en wag dat dit tot hom deurdring dat sy soen geen uitwerking op haar het nie. Dat hy net sowel ’n houtpop kan soen!

Sy hou haar oë oop. Maar raak so skielik en so intens bewus van sy aantreklikheid dat sy vinnig haar oë toeknyp. Dis egter so goed of sy het nie ooglede nie. Sy sien steeds die profiel van sy gesig; sy digte swart hare, lang syagtige wimpers, die effense skynsel van baardstoppels op sy sonbruin wange, daardie sensuele lippe . . . ’n Onverwagse trilling van ekstase gly teen haar rug af en haar verstand swymel. Die houtpop kry lewe. Haar lippe gaan oop en ’n snakkie van genot ontglip haar toe sy soen verinnig. Duisende sterre val eensklaps uit die lug en omring hulle. Haar voete lig van die grond af . . .

Daar is iets triomfantliks in sy oë toe hy sy mond wegneem om haar in die oë te kyk. Sy voel bedwelm en dronk, asof onder hipnose. “Jy moet mooi bly,” sê hy effens hees. “Sien jou môreaand.”

Hy het lankal die voordeur agter hom toegetrek en gery, toe staan sy nog vasgenael op dieselfde plek. Dis soos ’n droom waaruit sy nie kan wakker skrik nie. Ook geen begeerte het om uit gewek te word nie. Eers toe die bure langsaan se voordeur met ’n harde slag toeklap, raak sy weer bewus van die werklikheid.

Maar sy sukkel om tot verhaal te kom. Wat het haar besiel? Sy raak liggies aan haar lippe en wange wat koorsagtig gloei, en weet nie mooi of dit nog van die hartstog is wat so onverwags die oorhand oor haar gekry het, en of dit van skaamte is nie. Miskien sal koue water haar tot nugterheid skok. Haar bene voel bewerig toe sy badkamer toe loop. Die water help so ’n bietjie vir die warm koorsigheid, maar dit kan nie dit wat gebeur het ongedaan maak nie.

Die leë koppies op die kombuistafel is nog ’n bewys dat sy nie droom nie. Sy’t nie net toegelaat dat ’n wildvreemde man haar soen nie, sy’t meegedoen en so meegevoer geraak dat sy gehoop het hy hou nooit op nie! Hoe kon sy? Hoekom het haar emosies nooit so handuit geruk as Anton haar gesoen het nie? Sy’t sy soene ook tog geniet, maar dit het nooit so ’n oorweldigende hartstog in haar ontketen nie. Sy was ten alle tye in beheer van haarself.

Wat moet Pieter van haar dink? wonder sy toe sy wasbak toe loop met die vuil koppies. Dat sy sommer ’n goedkoop flerrie is wat val vir elke man wat haar soen? Hy gaan bepaald nie ’n hoë dunk van haar hê nie.

Vanselfsprekend slaap sy sleg. Twee botsende stemmetjies laat haar rondrol. Die een stemmetjie sê Pieter Wasserman is ’n uiters gevaarlike man, sy moet so ver moontlik uit sy pad bly. Maar die ander stemmetjie sê Pieter is net ’n man wat weet wat hy wil hê. Hy het oombliklik op haar verlief geraak tydens hul ontmoeting in die straat, en hy is die soort man wat nie gras onder sy voete laat groei nie. Sy durf dit eintlik ook nie waag om haar oë toe te maak nie, want dan beleef sy weer daardie soen. Oor en oor . . .

Sy is moeg geworstel met die twee stemmetjies toe sy die volgende oggend opstaan om te gaan werk, en daar is steeds geen uitsluitsel by haar oor wat haar te doen staan nie. Moet sy saam met hom gaan, of moet sy nie?

Wat gaan die ergste wees? As Pieter opdaag, of as hy nie opdaag nie? loop en wonder sy die middag op pad huis toe. Sy weet nie. Sy weet eerlikwaar nie. Dit sal natuurlik beter wees as hy nié opdaag nie. Dan sal sy weet om geen notisie van die vorige aand se episode te neem nie. En daag hy op . . . Hoe gaan sy dit regkry om nie weer onder sy hipnotiese invloed te swig nie?

Die opgewondenheid in haar toe die horlosie se wysters agtuur nader, is onkeerbaar. Hoe hard sy ook al probeer om die opwinding in haar te onderdruk, hoe minder kry sy dit reg. Haar ore mis nie die dreuning van ’n enkele voertuig wat in die straat voor die woonstelgebou verbyry nie. Toe sy een hoor stilhou en ’n deur hoor klap, moet sy haar inspan om nie soos ’n nuuskierige bakvissie deur die venster te loer nie. Sy wag ademloos op die lui van haar voordeurklokkie.

Maar toe sy die deur oopmaak, val haar opgewondenheid so plat soos ’n gebakte koek as die oond se deur te gou oopgemaak is. Want dis nie Pieter wat voor haar staan nie. Dis Anton!

“As Mohammed nie na die berg wil kom nie, dan kom die berg maar na Mohammed toe,” sê hy terwyl hy met sy gipsbeen verby haar skuur om ewe luiters op ’n stoel te gaan neersak. “Ons kan nie so aangaan nie, ons moet praat.”

Sy raap haar sinne bymekaar. “Wat kom soek jy hier? Ons het niks om oor te praat nie!”

“Jy maak ’n fout,” sê hy. “Ons het baie om oor te praat. Maak toe die deur en kom sit.”

“Ek het nie tyd om te sit of vir praatjies nie. Ek is op pad uit.”

“Waarheen?”

“Dit traak jou nie.”

“Saam met wie gaan jy uit?”

“Saam met . . . met ’n man. My nuwe vriend, as jy móét weet.”

“Is jy ernstig? Wil jy vir my sê jy’t al klaar ’n ander ou?”

“Ja.”

“Vergeet dit! Jy is myne, en myne sal jy bly.”

“Anton, luister, ek het nie tyd of lus om met jou te redekawel nie. Jy het my verkul, so dis klaar en verby tussen ons. Aanvaar dit asseblief en loop voor . . . my vriend opdaag.”

“Nie voordat jy na my geluister het nie. Daardie dinge wat jy gehoor het by my huis . . . Dit was ’n onskuldige storie. Ek en Monica ken mekaar al van ons kinderjare af. Sy is ’n aktrise. En al wat ons gedoen het, was om haar rol vir ’n volgende prent te oefen. Ek kan verstaan dat dit vir jou verdag voorgekom het, maar ek gee jou my woord van eer dat daar niks ongehoords tussen ons plaasgevind het nie. Ek het net die manlike rol vertolk soos dit in die prent gesien gaan word.” Hy vroetel in sy sak en bring ’n papiertjie met ’n telefoonnommer te voorskyn. “Hier is Monica se nommer. Bel haar en vergewis jouself dat ek die waarheid praat.”

“Dink jy regtig ek is só naïef om jou storie te glo? Maar al het ek ook, verander dit nie die feit dat ek nie langer in jou belangstel nie.”

“Wat bedoel jy? Probeer jy my die trekpas gee?”

“Ja. Hoe gouer jy jou ry kry, hoe beter.”

“So maklik raak jy nie van my ontslae nie. Ek sal loop wanneer ék wil.”

“Ek skrik nie vir jou dikvelligheid nie. As jy nie nou dadelik loop nie, bel ek die polisie om jou te kom verwyder!”

Hy lag smalend. “Hoekom wil jy my so graag weg hê voor jou vriend opdaag? Is jy bang ek vertel hom dinge van ons twee wat sal sorg dat sy danigheid met jou soos mis voor die son verdwyn?”

“Dinge soos wat?” vra sy uitdagend. “Daar het nooit iets tussen ons plaasgevind waaroor ek my hoef te skaam nie. Genadiglik nie.”

“As dit is wat jý hom wysgemaak het, is dit jou saak. Hy sal anders dink as ek met hom klaar is.”

Sy gesig is so ernstig dat sy hom geskok aanstaar. “Bedoel jy jy gaan leuens aan hom opdis om hom . . .”

“Hy sal nie dink dis leuens nie,” sê hy komkommerkoel toe sy swyg om na woorde te soek. “Dus, as ek jy is, bel ek hom en kanselleer die afspraak.”

“Dreig jy my?”

“Noem dit wat jy wil.”

Hy is waaragtig doodernstig, dring dit tot haar deur. So ernstig dat dit haar koue rillings gee. Maar sy hou haar dapper. “Oor my dooie liggaam sal ek die afspraak kanselleer. Hy gaan in elk geval nou enige oomblik opdaag.”

“Goed, as dit jou houding is, sal jy maar die gevolge moet dra.”

Verslaentheid veroorsaak dat sy woordeloos na hom staar. Sy het hom leer ken as ’n man wat kort van draad is en nie teenkanting duld of van kompetisie hou nie. Maar dat hy só ’n hardvogtige mens is, het sy nie kon dink nie. En hoekom het sy nooit voorheen die swak trekke op sy gesig raakgesien nie? Daardie afwaartse trek van sy mondhoeke en swak ken . . .

“Wat staan jy só na my en kyk? Hoekom gaan maak jy nie liewer vir ons koffie terwyl ons op jou sogenaamde vriend wag nie? Miskien kry ons dan rustig die haakplekke tussen ons uitgestryk.”

Haar mond gaan oop om hom weer eens te vra om te loop, maar die skril geluid van die deurklokkie laat haar swyg. Sy loop met ’n beswaarde gemoed voordeur toe. Pieter kon nie op ’n meer ontydige oomblik opgedaag het nie, dink sy . Dit is nie soos sy haar hul weersiens voorgestel het nie. Wat gaan hy dink van Anton wat hier in haar sitkamer sit? En Anton? Sy is daarvan oortuig hy sal nie skroom om haar te beswadder nie.

Klopdans van die liefde

Подняться наверх