Читать книгу 'n Stukkie van jou hart - Elza Rademeyer - Страница 3

1

Оглавление

Dokter Amanda Strydom groet suster Truter vriendelik toe hulle gelyktydig by die hyser opdaag. Maar suster Truter knik net woordeloos haar kop.

“Dit lyk my die pasiënt met die skietwond in jou saal maak goeie vordering,” probeer Amanda ’n geselsie aanknoop nadat die hysbak se deur agter hulle toegegaan het. Toe sy egter weer net ’n kopknik as antwoord kry, bly sy stil.

Hoekom het dié versuurde oujongnooi hoegenaamd ’n tong gekry? wonder sy vies. Sowat van botheid! Nugter weet hoe die personeel met haar oor die weg kom. En tog is saal 3 maklik die mees geordende saal in die hospitaal. Dalk is dit maar net teenoor haar wat suster Truter so bot is; sy hou seker maar nie van haar nie.

Toe die hyser op die grondvlak stop en die deur oopgaan, sê suster Truter egter uit die bloute: “Ek hoop nie u neem dokter Wagenaar wéér terug na hierdie dwaling van hom nie. Daar is ander mans ook op aarde. Betrou­bare mans.” Sy verdwyn soos ’n skim om die naaste hoek.

Amanda kan haar ore nie glo nie. Sy bly net daar buite die hyser staan. Watter vermetelheid! Wat het suster Truter met haar en Chris se dinge uit te waai? Dis tog seker nie jaloesie nie . . . of is dit? Meen te sê, enige meisie sal haar oogtande gee om maar net ’n glimlag van dokter Wagenaar te kry. Asof Chris hom aan háár sal steur! Hy hou nie van mollige meisies nie, wat nog te sê ’n versuurde oujongnooi wat amper sy ma kon gewees het.

Goed, Chris hét ’n dwalende oog, erken Amanda ietwat teensinnig. En ja, sy weet maar alte goed van sy affairs met ander meisies, maar . . . Haar gedagtes stol toe die man onder bespreking juis op daardie oomblik die hospitaal se voorportaal binnekom.

“Hallo, my blouoog,” begroet hy haar met ’n breë glimlag. “En as jy nou hier staan soos iemand wat ’n spook ge­sien het?”

Haar hart wil-wil bolmakiesie slaan, maar sy voel tog ietwat geaffronteer oor sy skielike gemeensaamheid, asof daar geen verwydering tussen hulle bestaan nie.

“Hallo, Chris,” probeer sy neutraal klink. “Nee, ek is eintlik nou van diens af. Ek is op pad huis toe.”

“Het jy ’n harde dag gehad?”

“Nee. Of ja. Dit het nogal by tye ’n bietjie dol gegaan.”

“Hoekom lyk jy so deur die blare?”

“Ag, sommer niks. Hoe was jou dag?”

“Nog heeltyd aan die gang. Maar nie so besig dat ek nie vanaand by jou kan kom koffie drink nie. Sal jy tuis wees?”

Haar hart gee ’n slag. “Ek dink so.”

“Ek sal so agtuur daar by jou wees, oukei?”

Sy staal haar om nie opgewonde te klink nie. “Ja, dit be­hoort reg te wees.”

Hy kyk vlugtig rond en soen haar onverwags op die wang, voordat hy verder loop.

Daar is nuwe veerkrag in Amanda se tred toe sy uitstap by die voorportaal. Hy is klaar uitgekuier met suster Botha, jubel haar hart. Sy’t nie verwag dit sal só gou gebeur nie, dis nog nie eens ’n week nie. Gewoonlik bly hy tot twee weke weg nadat hulle gestry het.

Haar gedagtes is so besig met Chris en sy dinge dat sy nie agterkom daar sit iemand op haar woonstel se stoep nie. Eers toe sy die trappies bestyg en haar oog ’n beweging op die bankie langs die rankplant vang, verstar sy ’n oomblik van skrik.

Maar dan rek haar oë van verbasing en haar mond plooi in ’n breë glimlag. “Riekie!” roep sy verras uit toe sy vinnig nadergaan en die ander vrou omhels.

“Ek hoop nie ek is ongeleë nie?” sê-vra haar vriendin van hul universiteitsdae nadat hulle gesoengroet het.

“Natuurlik nie!” verseker Amanda haar, maar sy wonder tog oor dié onverwagte besoek. Riekie lyk nie gesond nie; sy is besonder maer en bleek. En hoe het sy hier by die woonstel gekom? Daar is nie ’n voertuig in die straat nie. Waar is haar man, Janus? Het sy dalk huweliksprobleme?

“Kom ons gaan binnetoe,” nooi Amanda egter net. “Ek skakel dadelik die ketel aan. Jy is seker dors.”

“Wag eers,” sê Riekie toe hulle by die sitkamer instap. “Kom ons gesels eers ’n rukkie. Ek is nie nou dors nie.”

“Nou goed, vertel my hoe dit met jou gaan,” sê Amanda toe hulle langs mekaar op die rusbank gaan sit.

“Soos jy kan sien . . . besig om dood te gaan.”

“Wat bedoel jy?” vra Amanda onthuts.

“Ek bedoel presies wat ek sê. Ek gaan nie meer lank op hierdie ou aarde wees nie, my maatjie. Drie tot vier maande op die meeste. Dis wat ek vandag gehoor het.”

“Wat is verkeerd?”

“Kanker. Ek het so twee jaar gelede ’n mastektomie ondergaan. Eers die linkerbors, daarna die regterbors. Maar daar was nie keer nie. Die kanker versprei so vinnig dat omtrent al my organe al aangetas is.”

“Ag nee!”

Riekie glimlag dapper. “Toe maar, moet jou nie ontstel nie. Ek het vrede gemaak daarmee. Dis net Janus wat nie wil berus nie; hy bly hoop. Dis juis hoekom ek vandag hier na jou in Pretoria gekom het. Ons was by ’n spesialis in die stad, die hoeveelste een. Elke keer as Janus hoor van iemand wat dalk iets vir my kan doen, vat hy my daarheen. Maar ek weet lankal daar is geen hoop nie.”

“Waar is Janus?”

“Hy het gou die motor na ’n garage geneem. Daar is iets wat hy wil laat versien voordat ons terugry Darlingsdrift toe. Jou buurvrou het gesê jy behoort binne tien minute van diens af te kom, toe sê ek hy kan maar ry, ek wag sommer hier op die stoep vir jou.”

“Ai, ou Riek, wat kan ek sê?”

“Jy hoef niks te sê nie. Ek het my lot volkome aanvaar. Maar as jy kans sien, kan jy my ’n groot guns bewys.”

“Praat, ek luister.”

“Ons kan later daarby kom. Vertel my eers hoe dit met jóú gaan.”

“Goed. Ek het niks om oor te kla nie.”

“En jou liefdeslewe?”

“My liefdeslewe . . .” Amanda kyk weg, fokus op die skildery teen die oorkantste muur. “Jy vra my nou ’n vraag wat ek self nie kan beantwoord nie. Dit ry maar erg skoppelmaai.”

“Hoe so?”

“Ag, die besonderhede sal jou net verveel. Kom ons praat liewer oor iets anders.”

“Gaan jy nog met dokter Chris Wagenaar uit?”

“Hoe weet jy van hom?” vra Amanda verbaas. Sy en Riekie het die afgelope twee jaar bitter min kontak gehad. Ná hul finale eksamen het Riekie en Janus getrou en is hulle Darlingsdrift toe om daar te praktiseer. Die enkele briefies en oproepe het doodgeloop voordat sy vir Chris ontmoet het.

“Ek hoor darem nog gereeld nuus oor jou,” sê Riekie. “Deur Judy Truter.”

“Judy Truter? Wie is dit?”

“Suster Judy Truter. Sy werk mos hier by julle in die hospitaal. In saal 3, dink ek.”

“Jy bedoel . . . suster Truter! My goeiste, van waar ken julle mekaar?”

“Sy kom mos van Darlingsdrift; haar ma is ons buurvrou. So wanneer sy kom kuier, kry ek darem nog nuus oor jou.”

“Genade ons,” sê Amanda verstom. “Ek het nie gedink suster Truter . . . Wel, sy is vir my maar taamlik onverstaanbaar. Ek dink nie sy hou van my nie.”

Riekie glimlag effens. “Inteendeel, sy het die hoogste agting en respek vir jou. Maar ek verstaan jou verbasing. Judy se ma sê sy aard na haar oorlede pa. Hy was glo ook so nors, op die oog af amper ongeskik. Maar hulle is goeie mense; ek kan my nie ’n beter buurvrou as Annemarie voorstel nie.”

“Is dit suster Truter wat jou vertel het van Chris Wagenaar?”

“Ja.”

“Wat het sy oor hom te sê gehad?”

“Niks slegs nie.”

“Jy jok vir my.”

“Nee, regtig. Sy sê hy is een van die briljantste sjirurge wat sy ken.”

“En oor die feit dat ons twee uitgaan?”

“Ek is bang jy raak kwaad as ek vir jou sê.”

“Ek kan raai, want ek is lankal bewus van die skinderstories oor ons wat by die hospitaal in omloop is. Sê maar, ek belowe ek sal nie kwaad raak nie.”

Riekie glimlag weer effens. “Miskien is Judy verkeerd. Maar sy sê sy kan nie verstaan dat so ’n mooi en oulike meisie soos jy jou met Chris bemoei nie, want hy is meer ontrou aan jou as wat hy getrou is. Ek ken hom natuurlik nie, so ek weet nie of dit waar is nie. Jy sal my kan sê of ek haar moet glo of nie.”

Amanda onderdruk haar ergerlikheid jeens suster Truter se geskinder toe sy daaraan dink dat daar destyds nooit geheime tussen haar en Riekie was nie. En dat geen mens beter begrip sal hê vir haar wipplankverhouding as juis Riekie nie.

“Wel, ek sal oneerlik wees as ek ontken dat Chris ’n dwalende oog het. Maar dis nie sy skuld alleen nie. Hy is ontsettend aantreklik – tall, dark and handsome. Die soort voorkoms wat enige meisie aanmoedig tot blatante uitlokking. En ’n man bly mos maar ’n man.”

“Hoe ernstig is jy oor hom?”

“As jy bedoel of ek hom liefhet, is die antwoord ja. Ek kan my nie indink hoe my lewe sonder hom sal wees nie. En ek glo hy het my ook lief, anders sal hy mos nie elke keer na my toe terugkom nie.”

“Het hy al met jou gepraat oor trou?”

“So een of twee keer,” sê Amanda vaag.

“Het hy jou in soveel woorde gevra?”

“Nee, nie regtig nie. Hy praat eintlik net van trou as ons rusie maak.”

“Maak julle dan dikwels rusie?”

“Ja, nogal taamlik gereeld.” Amanda sug diep. “Ag, ons ken mekaar mos, ek kan maar vir jou vertel wat die oorsaak van ons rusies is. Dis oor my outydse opvattings, soos hy dit noem. Jy onthou tog seker hoe ek daaroor voel dat ’n meisie sommer links en regs seksuele verhoudings aanknoop. Ek voel maar nog steeds so, en dis nie vir Chris aanvaarbaar nie. Dan vererg hy hom en gryp sy baadjie om sy drange elders te gaan uitwoed.”

“Maar hy behoort mos jou gevoelens te respekteer.”

Amanda lig haar skouers. “Hy sê ons leef nie meer in die Middeleeue nie, dis nou maar soos hy is. Ek weet jy sal dink ek is mal, dat ek hom na sy peetjie moet stuur. Maar dis ondenkbaar! Ek meen, ons kom darem al amper twee jaar saam.”

“Amanda, jy moet mooi dink. Mans soos hy los nie maklik hul streke nie. Jy moet ook nie dink ’n trouring gaan hom plotseling tot inkeer bring nie.”

“Dis waarvoor ek bang is. Maar dis nou genoeg van my liefdestameletjie. Jy het gepraat van ’n guns wat jy wil vra?”

“Gaan skakel eers die ketel aan. Net ’n halwe koppie flou swart tee vir my, anders bly dit nie binne nie.”

“Vertel nou wat ek vir jou kan doen,” sê Amanda toe sy ’n rukkie later terugkom met die tee.

“Ek wil jou vra om na Darlingsdrift te kom.”

“Wil jy hê ek moet by jou kom kuier?”

“Wel, nie heeltemal net kuier nie. Eintlik wil ek jou vra om Janus in die spreekkamer te kom help tot . . . My kragte neem by die dag af, ek sal nie veel langer vir hom van nut kan wees nie. Ons soek nou al vandat ek begin siek word het na iemand om ons te help, maar sonder welslae. Dokters wil nie op die platteland werk nie, veral nie op ’n plekkie soos Darlingsdrift nie. Dit het my laat wonder of jý nie sal belangstel nie. Al is dit net vir ’n paar maande totdat . . . Wel, totdat Janus weer sy lewe normaal kon hervat ná my dood. Of ander hulp kon kry.”

Amanda se oë rek. “Wat op aarde het jou aan my laat dink?”

“Wel, jy hét destyds in jou briewe genoem dat jy my beny, en dat jy self ook daaraan dink om eendag op die platteland te praktiseer. Weg van die stad se lawaai en dinge.”

“Ja, maar . . . Heng, Riekie, jy dryf my nou in ’n hoek. Ek weet nie eens mooi waar in die wêreld Darlingsdrift is nie!”

Riekie glimlag floutjies. “Taamlik in die boendoe, dis net koppies en vlaktes. Het jy al van Koffiefontein gehoor?”

“So vaagweg. Maar dit sê nog niks vir my nie.”

“As jy hier van Pretoria af ry, vat jy die pad na Petrusburg, en daarvandaan die pad na Koffiefontein. So ’n paar kilometer voor Koffiefontein draai jy regs af na Darlingsdrift, dan is dit nog so dertig kilometer grondpad tot op ons dorpie. Jou naaste groot dorpe is Kimberley en Bloemfontein. Albei is min of meer honderd kilometer van Darlingsdrift af.”

“Sjoe, dit klink regtig asof dit in die boendoe is.”

“Mag wees, maar Darlingsdrift klim gou in ’n mens se bloed. Die dorpie lê langs die Rietrivier. Dis nie ’n wafferse rivier nie, maar dit verleen darem groenigheid en maak dat ons pragtige groot bome langs die strate het. Dis tog jammer jy’t nog nooit vir ons kom kuier nie. Ek is seker jy sal van die plek hou.”

“Ek sal seker, maar . . .”

“Toe maar, ek verwag nie dadelik ’n antwoord nie,” sê Riekie. “Ek hoop maar net jy sal dit oorweeg. En moet asseblief nie teenoor Janus noem dat ek jou gevra het nie. Nie voordat jy ’n besluit geneem het nie. Ek wil nie hê hy moet onnodig opgewonde raak nie.”

“Ek weet regtig nie wat om te sê nie . . . Wat van Chris? Ek bedoel, hy gaan nie daarvan hou dat ek so ver van hom af weggaan nie.”

“Dis hoekom ek jou eers oor jou liefdeslewe uitgevra het. Maar ná wat jy my vertel het, glo ek dis een van die beste dinge wat jy kan doen. So ’n tydjie van verwydering behoort hom tot sy sinne te bring. Want soos dit vir my lyk, verkies hy op hierdie stadium sy brood aan albei kante gebotter, en sal jy vir hom wag totdat jy eendag met valstande en ’n kierie loop.”

Amanda glimlag ten spyte van die seer stekie wat dié op­merking meebring. “Dan sal hy my in elk geval nie meer wil hê nie.”

Riekie neem ’n slukkie tee. “Ek is radeloos, Amanda. Janus sal nooit die mas alleen opkom nie. Hy werk al klaar baie hard, want daar is dae dat ek net nie meer die krag het om agt ure in die spreekkamer deur te bring nie.”

“Vertel my meer van die plek,” sê Amanda ná ’n paar oomblikke van stilte. “Hoeveel pasiënte het julle?”

“Waar sal ek begin? Seker maar by die dorpie self. Darlingsdrift is ’n tipiese plattelandse dorpie – klein, maar sy distrik is groot. Ons het baie pasiënte. Heelwat ouer, afgetrede mense op die dorp, en dan die plaasmense en al hul werkers. Die dorpie het darem ’n hoërskool en ’n koshuis ook. Ons verdien genoeg om gemaklik te leef, maar werk ons nie elke dag dood nie. Soms gaan dit wel rof, maar dan kom daar weer tye dat dit stil is.”

“Het Janus dan werklik hulp nodig?”

“Ja, beslis. Onthou, ons was darem nog altyd twee. Wanneer hy die plase moet besoek, behartig ek die spreek­kamer en hospitaal, of andersom. Daar is nie ander dokters op die dorp nie, en soos jy sal weet, is dit nie ’n grap om dag en nag aan diens te wees nie. By dit alles is daar ook nog sy kommer oor my. Jy kan dink hoe dit sal gaan wanneer ek heeltemal verswak.”

“Maar ek is so gevestig hier. My woonstel is hier en Chris . . . en al die dinge.”

“Ek besef ek vra baie, Amanda. Maar Janus . . . ek móét jou vra ter wille van hom. Jy is die enigste mens aan wie ek kon dink om te vra. Ons sal jou dieselfde salaris betaal as wat jy hier kry, dalk selfs ’n bietjie meer. Ons inkomste is werklik nie sleg nie.”

“Jy weet mos geld is nie ’n kwessie nie,” sê Amanda. “Jy weet tog van my erfporsie ná my ouers en grootouers se skielike dood destyds toe ons nog op universiteit was.”

“Ja. En ek onthou hoe danig sommige manstudente met jou geraak het toe dit uitgelek het dat jy nou ’n skat­ryk meisie is.”

“En Johan Hamman, daardie dosent, onthou jy?” roep Amanda weer destyds se gebeure in herinnering. “Dit was so hittete of hy’t my skoon van my voete af gehad. As dit nie was dat jy my gewaarsku het hy’s net agter my geld aan nie, het ek dalk in die strik getrap en met hom getrou!”

“Dit was ook maar toevallig dat ek daardie dag in die restaurant gehoor het hoe hy by sy vriende spog dat hy besig is om jou die hof te maak, en hoe dit hom uit sy geldelike verknorsing sal red as jy hom die jawoord gee.”

“En was hy nie in die verknorsing nie! Dit het mos toe uitgekom van die onderhoud vir sy buite-egtelike kind wat hy nooit betaal het nie. Sy motor wat teruggevat is, die skuld wat hy by al die winkels gehad het. Ek raak nou nog benoud as ek aan my noue ontkoming dink.”

“Hy was nogal ’n aansienlike man. Maar terloops, hoe voel Chris oor die feit dat jy so baie geld het? Laat dit hom nie minderwaardig voel nie?”

“Hy weet nie van my erfporsie nie – niemand weet daarvan nie. Ek het destyds ’n duur les geleer. Ek het toe al besluit dat die man wat eendag met my wil trou, my moet vat vir wie ek is, nie oor ek geld het nie. Chris weet wel dat ek hierdie woonstel gekoop het, maar hy dink ek betaal nog af daaraan. Maar ons dwaal af. Hoe groot is jul hospitaal?”

“Klein, dis eintlik maar net vir eenvoudige operasies en kraamgevalle. Die ernstiger gevalle verwys ons na Bloemfontein of Kimberley. Dit het al gebeur dat ons self met ’n pasiënt daarheen moes jaag, want Darlingsdrift het nie ’n ambulansdiens nie. Ook nie verkeersmanne nie. Ons het darem ’n kerk, ’n dominee en een brandstofpomp. Maar die mense van die dorp en die hele omgewing is wonderlik. Gasvry en opreg. Hulle slaan ’n dokter en ’n dominee nog as hoogs geërde persone aan.”

“En jul spreekkamer? Het julle toe vir julle ’n spreekkamer by jul huis laat aanbou soos jy destyds vir my geskryf het?”

“Ja, ons het. Die bestaande spreekkamertjie was darem net te klein en te ongerieflik. Ons het nou ’n ruim wagkamer en twee ondersoekkamers. Die pasiënte is tog te opgetoë daarmee, veral met die sagte stoele en tydskrifte waarmee hulle hulle kan besig hou terwyl hulle wag. Net so modern en mooi soos in die stad, het ek anderdag een van die tantes hoor sê.”

Amanda se blik val op Riekie se leë koppie. “Nog ’n bietjie tee?”

“Nee, dankie, niks meer vir my nie,” sê Riekie en kyk op haar horlosie. “Janus sal seker nou enige oomblik opdaag om my te kom haal. Ek kan jou natuurlik nie dwing om ons te kom help nie, maar ek vra jou weer mooi: oorweeg dit, asseblief.”

’n Klop aan die deur en Janus wat binnekom, maak dat hulle nie verder oor Riekie se versoek praat nie.

“Julle gaan tog seker nie vannag nog terugry Darlingsdrift toe nie?” vra Amanda toe sy agterkom Janus is haastig. “Julle kan mos hier by my oornag. My woonstel het ’n tweede slaapkamer.”

“Dankie, dis vriendelik van jou,” sê Janus. “Maar ons gaan ’n ent uit die stad by ’n tante van my oorslaap. Dit maak die pad môreoggend korter. Ons sal nie die spreekkamer vir nog ’n hele dag gesluit kan hou nie.”

Hulle vertrek dan ook dadelik, nadat Janus haastig ’n koppie koffie gedrink het. Daar is trane in albei meisies se oë toe hulle mekaar buite langs die motor omhels. En dis asof sy haarself deur ’n waas hoor toe Amanda vir Riekie fluister dat sy nie heeltemal sonder hoop moet wees om haar binnekort op Darlingsdrift te sien nie.

Hoe kon sy so iets doen? wonder Amanda toe die motor om die straathoek verdwyn. Hoe kon sy haar siek vriendin sulke vals hoop gee?

Sy gaan terug woonstel toe, dwaal doelloos deur die vertrekke. Miskien verstaan Riekie dit nie so nie, dalk glo sy haar bedoeling was dat sy op Darlingsdrift sal gaan kuier. Dít sal sy doen. Maar vir maande daarheen verhuis . . .

Chris se opwagting laat Amanda vir ’n wyle van Riekie en Janus vergeet. Haar hart tamboer in haar ore en haar knieë dreig om te swik toe hy haar dadelik in sy arms neem. Maar toe hy haar soen, kom Riekie se waarskuwende woorde by haar op: Mans soos hy los nie maklik hul streke nie. Jy moet ook nie dink ’n trouring gaan hom plotseling tot inkeer bring nie.

Dit maak dat sy hom wegstoot en agteruit tree.

“En nou?” vra hy verbaas.

“Nee, dis nie só maklik nie, Chris. Jy kan nie elke keer terugkom asof niks verkeerd is nie. Ons kan nie so voortploeter nie.”

“Hoe meen jy nou?” vra hy skynbaar verstom.

“Wat het verkeerd geloop tussen jou en suster Botha?”

“Jy’s tog nie jaloers nie?”

Sy wens sy het eerder haar tong afgebyt as om suster Botha op te haal toe sy sien hoe dit hom amuseer. “Nee, ek is nie jaloers op haar nie. Nie in die minste nie,” jok sy. “Maar ek het die gevoel dat jy besig is om met my te mors. En ek is nie langer daarvoor te vinde nie.”

“Jy weet tog dis vir jou wat ek liefhet. Jy weet ook wat dit was wat my na haar toe gedryf het.”

“Ja, ek weet. Dis dieselfde rede wat jou vantevore na daardie ontkleedanser en die boetiekeienaar gedryf het. Maar as jy nie my preutsheid en outydse opvattings in die toekoms gaan respekteer nie, kan jy nou maar dadelik loop.”

“Sjoe! Hoe lyk dit my jy het vanoggend met die verkeerde voet uit die bed geklim?”

“Nee, ek het net tot die slotsom gekom dat jy jou brood aan albei kante gebotter wil hê. Ek kan nie langer daarmee saamleef nie.”

“Is jy besig om my af te sê?”

Sy lig haar skouers kamma ongeërg. “Dis vir jou om te besluit wat jy wil doen.”

“Eintlik dreig jy my. Ons is nou weer presies by die punt waaroor ons elke keer rusie maak. En dít sonder dat ek nog aan jou geraak het.”

“Ja.”

“En as ek beloftes maak en nie daarby kan hou nie?”

“Dan loop ék.”

Hy lag. “Waarheen nogal?”

“Darlingsdrift toe.”

“Is dit ’n plek of ’n liefdesnessie in jou verbeelding?”

“Dis ’n plek. Ek vertrek in elk geval eersdaags om daar te gaan werk.”

Hy swyg ’n hele rukkie, en dan verskyn ’n bekommerde fronsie op sy gesig. “Jy lyk ernstig.”

“Ek ís ernstig.”

Sy vertel hom van Riekie en Janus se kuiertjie en Riekie se versoek.

“Ek onthou dat jy my vertel het julle was vriendinne op universiteit, maar om darem só iets te vra! Waar in die wêreld is Darlingsdrift?”

“Baie ver hiervandaan, iewers in die Wes-Vrystaat. Kimberley en Bloemfontein is die naaste groot dorpe, albei ongeveer honderd kilometer daarvandaan.”

“Jou vriendin kan gaan doppies blaas met haar siektetoestand en al! Vergeet daarvan, jy hoort hier by my!”

Amanda vererg haar gruwelik. Só moet hy nie van Riekie praat nie. Daar was vir baie jare ’n baie spesiale band tussen haar en Riekie. Boesemvriendinne, dis wat hulle was. Baie soet en suur wat hulle saam meegemaak het. Riekie was vir haar die suster wat sy nooit gehad het nie. Ná haar ouers se skielike motorongeluk was dit Riekie wat haar vertroos en ondersteun het. Wat haar raad gegee het met alles. Hoe durf hy so ongevoelig wees oor haar siekte!

“Wel, jy kan nou maar ’n koronêr skiet, of doen net wat jy wil,” sê sy ergerlik. “Ek gaan Darlingsdrift toe. Ten minste tot ná Riekie se dood, tot ek seker is dat Janus alleen die mas kan opkom. En dit sal van jou affairs met ander meisies afhang of ek terugkom of nie.”

Hulle stry lank oor die saak. Maar hoe meer hy tekere gaan, hoe meer vasberade raak sy. Sy kan agterkom hy verstaan nie haar koppigheid nie. Dit verwar hom beslis, want die vorige kere was sy mos maar te gewillig om hom sonder slag of stoot terug te vat. Juis dít gee haar die moed om te maak asof sy regtig ernstig is daaroor om Darlingsdrift toe te gaan.

Eers nadat hy in ’n onstuimige bui vertrek het en sy kalmer geraak het, wonder sy wat op aarde sy aangevang het. Die rusie het totaal anders verloop as wat sy gehoop het. Sy weet nie presies wat sy te wagte was nie, seker maar dat hy berouvol sou raak en haar sou smeek om te bly. Presies die teenoorgestelde het egter gebeur: hy’t haar kwalik gegroet toe hy loop. Sê nou hy kom nie terug nie?

Daardie nag slaap sy min. Die hele nag is ’n worsteling. Aan die een kant is daar Chris, en aan die ander kant is daar Riekie se maer, bleek gesig met die donker kringe onder die oë. Ook suster Truter se woorde in die hyser, en Riekie se waarskuwing oor mans soos Chris . . .

Vir drie dae sien Amanda Chris glad nie. En toe hulle mekaar op die vierde dag in een van die hospitaalgange raakloop, knik hy net sy kop in ’n groet sonder om ’n woord te sê. Sy vererg haar só dat sy reguit na die superintendent se kantoor stap om haar bedanking in te dien.

Die maand wat sy nog moet werk voordat sy Darlingsdrift toe vertrek, is ’n marteling. Vir die eerste twee weke daarvan ignoreer Chris haar steeds. Toe begin hy versigtig toenadering soek, maar sy weier dat hy na haar woonstel kom. ’n Week voor haar vertrek daag hy egter ongenooid op, en daar is behoorlik donderweer op sy gesig toe sy vir hom sê sy gaan nie haar planne kanselleer nie.

“Ek het uitgevind, die plek is regtig in die boendoe! Jy sal krepeer daar! Dis nie ’n plek waar jy dit sal uithou nie!”

“Miskien, miskien nie. Ek sal nie weet voor ek daar was nie.”

“Vir hoe lank gaan jy weg wees?”

Sy lig haar skouers. “Ek weet nie.”

Hy kom nader en plaas sy hande op haar skouers. “Amanda, los hierdie onsinnige ding wat jy wil aanvang. As jy hier bly, belowe ek jou dat ek nooit weer na ’n ander meisie sal kyk nie. Toe, asseblief, belowe my dat jy sal bly.”

Sy gee ’n weemoedige suggie. “Ek kan nie nou meer kop uittrek nie, Chris, dis te laat. Riekie het al klaar verblyf vir my gereël en alles. Sy kan ook nie meer haar werk behoorlik doen nie. Haar kragte het al so afgeneem dat sy nog net in die oggende vir ’n paar uur in die spreekkamer kan help.”

Dis asof daar ’n verandering by hom is, kom sy in die laaste week agter. Hy respekteer skielik haar “outydse opvattings” en probeer haar nie meer aanhoudend oorrompel met mooipraatjies en liefkosings nie. Dis amper weer soos aan die begin van hul verhouding. Hy neem haar uit vir ete, dra blomme aan, nooi haar vir fliek en gaan kyk selfs een aand saam met haar ’n opvoering, iets waaraan hy nooit erg gehad het nie.

Sy het hul afskeid gevrees. Maar asof die voorsienigheid dit so beskik, word hy die laaste aand na die teater ontbied, om amper deurnag daar te werk. Die volgende oggend toe hy by haar woonstel kom, kan sy sien hy is doodmoeg. Te moeg om met haar te redekawel toe sy vir hom sê haar motor is klaar gelaai en sy is op die punt om te vertrek.

“Jy moet mooi ry en my bel as jy daar aankom,” is al wat hy sê voordat hy haar in sy arms neem.

Sy koester haar in sy warmte, die trane baie naby, maar sy glimlag moedig toe sy na hom kyk. “Dankie, Chris, vir alles wat jy vir my gedoen en beteken het. Ek is jammer ek kan jou nie eens ’n koppie koffie aanbied nie, maar wat ek nie kon inpak nie, het ek weggegee.”

“Moenie dit laat klink asof ons mekaar nooit weer gaan sien nie,” sê hy. “Ek weet jy gaan nie lank weg wees nie. Intussen sal ons mekaar mos darem gereeld bel.”

Haar oë is verblind deur trane toe sy wegry. Sy beeld lyk vaag en verwronge waar hy langs sy motor staan toe sy in die truspieëltjie kyk. Die oomblik toe hy buite sig is, hou sy eers stil sodat sy haar trane kan afdroog. Miskien is sy heeltemal gek, dink sy. Om Chris én haar gevestigde lewe hier te verruil vir ’n gans vreemde plek.

'n Stukkie van jou hart

Подняться наверх