Читать книгу 'n Stukkie van jou hart - Elza Rademeyer - Страница 4
2
ОглавлениеToe Amanda uiteindelik Darlingsdrift se kerktoring, waarvan Riekie haar oor die telefoon vertel het, in die verte gewaar, hou sy stil. Sy klim moeg uit die motor. Dis versengend warm en honderde sonbesies sing in haar ore. Ten minste is daar bome by Darlingsdrift, dink sy toe die bloedige son haar vinnig laat terugklim in die motor om die laaste stuk van die stofpad aan te durf. ’n Vieslike pad vol gate en dwarrelende stofwolke.
Sy onderdruk haar teleurstelling toe sy Darlingsdrift binnery. Riekie het gesê dis ’n klein en eenvoudige plekkie, maar sy het nie gedink dit sal só treurig en verlate lyk nie. Bome is daar wel, maar die huisies langs die hoofstraat is vervalle. Sy rem vinnig toe daar asof vanuit die niet ’n varksog met agt kleintjies voor haar oor die stofstraat skarrel. Wat nog? Sy haal die papiertjie met Riekie se woonadres uit haar sak, en ry dan versigtig verder volgens die aanwysings.
Toe sy voor die huis stilhou, kom Riekie dadelik uit die spreekkamer gestap. Amanda se hart ruk toe sy sien hoeveel Riekie agteruitgegaan het sedert hulle mekaar ’n maand gelede in Pretoria gesien het. Die feit dat sy haar vriendin kan help, verdryf dadelik haar twyfel oor haar nuwe blyplek.
“My oë is al seer gekyk vir jou,” sê Riekie met ’n glimlaggie wat duidelik inspanning verg. “Ek was bang jou moed sou jou begewe wanneer jy die stofpad vat, en dat jy net daar sou omdraai Pretoria toe.”
Amanda strek haar stram lyf nadat hulle gegroet het en kyk nuuskierig rond. “Ten minste het júlle ’n oulike plek,” sê sy. “Boomryk en ’n grasgroen grasperk. Ek het begin dink die hele dorp gaan wees soos daar by die ingang. Huise wat lyk asof dit sommer net daar langs die pad neergeplak is om van te vergeet. En varke! Jy sal my nie glo nie, so ’n entjie hoër op het daar ’n vark met agt kleintjies voor my oor die straat gehardloop.”
Riekie lag. “Dis oom Jorrie se ou sog. Sy’t seker weer ontsnap uit die hok. En ja, dit lyk maar treurig daar by die dorp se ingang. Na die rivier se kant toe raak dit darem beter. Maar kom ons gaan in, jy is seker dors.”
Nadat hulle tee gedrink het, wys Riekie haar hul huis en die spreekkamer.
“Nou ja, nou moet jy my beduie hoe om by die gastehuis te kom,” sê Amanda nadat sy Janus gegroet het. “Daar is niks waarvoor ek nou meer lus is as vir ’n lekker stort nie.”
“Tant San is jou te wagte,” sê Riekie. “Sy voel baie vernaam dat sy nou ’n dokter as loseerder gaan hê. Jy moet onthou die gastehuis is nie regtig soos ’n gastehuis nie, dis meer ’n losieshuis. Tant San hou net twee kamers uit vir besoekers en reisigers. Al die ander kamers word deur permanente inwoners beset. Sy sit drie maaltye per dag voor. En die mense wat nie in die middag daar kan eet nie, kry toebroodjies werk toe. Ek glo jy gaan baie lekker daar bly.”
“Hoeveel permanente inwoners is daar?”
“Ek dink saam met jou sal julle sewe wees. Twee onderwysers, ’n rekenmeester, ’n weduwee met twee kinders, en twee hoërskooldogters wie se ouers hulle hierheen gestuur het om hulle weg te kry van verkeerde invloede in die stad.”
Riekie beduie die pad, en toe Amanda voor die gastehuis stilhou, skep sy darem nog ’n bietjie moed. Die klipgebou is bepaald nie nuut nie, maar dis groot en netjies. En daar is ’n tuin met groot bome en lowergroen grasperke wat op die oog af reg rondom die huis strek.
Die voordeur word oopgemaak nog voor sy die klokkie kan druk. Dit verg nie veel verbeelding om te weet dis tant San wat voor haar staan nie. ’n Goedige gesig met lewendige donker oë wat haar onbeskaamd van kop tot trone betrag, voorskoot om die ronde lyfie gebind.
“Jy is seker die doktertjie?”
“Dis reg, Amanda Strydom. En u is seker mevrou . . .?”
“Tant San, almal noem my so. Kom binne, dokter. Ek gaan wys jou sommer dadelik waar’s jou kamer, en dan sal ek een van die huishulpe stuur om jou te kom help aflaai.”
Dis ’n lekker ruim kamer met ’n eie badkamer én dit kyk uit oor die dorpie, merk Amanda dadelik op. Die huis sit teen ’n bult en die tuin strek tot amper onder in ’n klofie, met die dorp aan die oorkant. Sy kyk rond totdat sy Riekie-hulle se huis en spreekkamer sien. Dis sommer naby. As haar motor dalk breek of iets, sal sy deur die klofie kan stap tot daar. Die kamer is ook heerlik koel.
“Terwyl jy uitpak, stuur ek vir jou ’n glasie vrugtesap,” praat tant San agter haar. “Jy is seker dors, en dis nog goed ’n uur voordat ons eet. Etenstyd is saans seweuur. Maar as jy laat moet werk, sal ons vir jou kos hou. Ontbyt is van sesuur tot agtuur. En oor die middae moet jy maar sê . . . As jy nie hier kan kom eet nie, sal ek vir jou ’n kospakkie saamgee.”
Daar ís darem ’n beter deel van die dorp, dink Amanda toe sy weer voor die venster gaan staan nadat sy klaar uitgepak en gestort het. Meer moderne huise nader aan die rivier, soos Riekie gesê het. Maar dit bly nog steeds ’n klein plekkie. Sy hoef amper nie haar kop te draai om die hele dorp in oënskou te neem nie. Dog, dit sal nie help om nou bekommerd te wees oor die mal perd wat sy opgeklim het nie. Sy is nou hier, en sy sal uithou. Al is dit net om aan Chris te bewys dat sy van sterker stoffasie is as wat hy dink. Dit herinner haar: sy moet hom bel om te sê sy het veilig aangekom.
“Ek wed jou jy is klaar spyt jy’s daar,” sê hy. “Hoe lyk die plek?”
“Nie sleg nie. Beter as wat ek verwag het,” jok sy blatant. “Dis nie ’n groot dorp nie, maar dis ver van agterlik.”
Hulle praat nie lank nie, want hy moet teater toe. Sy knipper haar oë toe sy haar selfoon afskakel. “Moenie nou huil nie,” praat sy fluisterend met haarself. “Dis te laat vir trane. Jy is by omdraai verby, Amanda Strydom.”
Toe daar êrens in die huis ’n klokkie lui, onthou sy dat tant San gesê het etenstyd word met ’n klokkie aangekondig. Sy stap uit en kyk op en af in die lang gang, volg dan maar die rigting waarin sy twee jong meisies sien stap. Seker die twee skooldogters, dink sy.
Tant San wag vir haar by die eetkamer se deur om vir haar te wys by watter tafel sy moet sit.
Amanda kyk verlangend na die tafeltjie in die hoek wat vir net een mens gedek is. Maar asof tant San haar gedagtes kan lees, sê sy: “Daardie tafeltjie is waar Paul Sauerman sit. Jy kan hier by die groot tafel tussen Elna en Ilse sit.”
Die twee skooldogters glimlag vriendelik en een skuif op om vir haar plek te maak. “Tant San glo seker ons twee is te stout om langs mekaar te sit,” giggel sy. “Nou kom druk sy vir dokter hier tussen ons in sodat ons nie weer mekaar se kos kan gaps nie.”
Amanda maak spoedig kennis met almal wat die vertrek binnekom. Sy kom agter sy word nuuskierig beloer terwyl hulle eet, maar sy steur haar nie daaraan nie. Almal maak grappies en betrek haar by die geselskap, behalwe die vrou wat regoor haar sit. Welma, die weduwee met twee seuntjies, Pietertjie en Hansie. Sy praat egter met niemand nie, so Amanda glo sy is maar net nie die spraaksame soort nie. Paul Sauerman se tafel bly leeg. Hy’t seker gaan kuier, of hy werk dalk nog, dink Amanda, teen haar sin nuuskierig.
Ná ete ry sy weer na Riekie en Janus toe sodat hulle die hospitaaltjie vir haar kan gaan wys. Wat sy te wagte was, weet sy nie, maar beslis nie dat dit só primitief sou lyk nie. Veral die teatertjie. Dis uiters beknop en die bietjie toerusting wat daar is, is so outyds en verslete dat sy amper te bang sal wees om dit te gebruik vir die verwydering van ’n toonnael, laat staan nog vir mangel- of blindedermoperasies!
Daar is net een pasiënt in die hospitaal, ’n vrou.
Sommer net vir observasie omdat sy van maagpyn kla. Dit laat Amanda weer wonder of Janus nie mans genoeg sou wees om alleen die mas op te kom nie. Waarin het sy haar begeef! As Chris dít moet sien, sal hy regtig glo sy het van haar trollie af geraak.
Amanda is vroeg die volgende oggend op, en sy is eerste in die eetkamer. Johanna, een van die huishulpe, bring die kos tafel toe. Sy sit ’n kospakkie langs Amanda se bord neer.
“Mevrou San het gesê dokter het gesê dis nie nodig om iets te ete saam te gee nie, maar dokter moet eet, want ’n mens se kop kan nie reg werk as jou maag leeg is nie.”
In Pretoria het Amanda meesal net ’n stukkie beskuit en koffie vir ontbyt genuttig, maar die kos is so geurig en lekker voorberei dat sy haar bord dolleeg eet. Sy is besig om haar koffie te drink toe haar oog ’n beweging by die deur vang. Dis ’n man met gitswart hare en ’n ontstellend aantreklike gesig. Hy kyk haar vir ’n oomblik stip aan, knik dan sy kop in ’n groet en beweeg na die tafeltjie in die hoek.
Dit moet Paul Sauerman, die rekenmeester, wees, flits dit deur haar gedagtes. Maar hoekom loop hy so moeilik? Is hy met ’n gebrek gebore, of het hy dalk polio gehad? Toe hy gaan sit en in haar rigting kyk, slaan sy vinnig haar blik neer. Sy sal wel die een of ander tyd hoor wat die probleem is.
Een ding is seker: sy mankheid doen geen afbreuk aan sy aantreklikheid nie.
Toe sy haar koffie klaar gedrink het, loop sy na sy tafel toe en steek haar hand uit. “Ek is Amanda Strydom.”
Hy kom effens orent en neem haar hand. “Paul Sauerman.”
“Aangename kennis. Tant San het genoem jy is ’n rekenmeester,” probeer sy ’n geselsie aanknoop. Maar hy knik net sy kop.
“Ek neem aan jy is ’n vaste inwoner hier?”
“Ja.”
“Hoe lank woon jy al hier?” probeer sy nog ’n keer.
“Vyf maande,” sê hy en lig sy vurk om dit na sy mond te bring. Dis duidelik dat hy nie lus het om met haar te praat nie.
“Geniet jou dag,” sê sy dus maar en loop geaffronteer by die eetkamer uit. Wat verbeel hy hom, die ou suurknol!
Amanda het nooit kon dink dat die spreekkamer só besig sou wees nie! Dis ook nie lank voordat sy agterkom Riekie is moeg nie. “Gaan huis toe en gaan rus ’n bietjie,” sê sy teen elfuur vir haar vriendin. “Ek voel nou vertroud genoeg met die omstandighede hier om jou deel van die pasiënte te kan oorneem.”
“Jy hoef my nie ’n tweede keer te nooi nie,” sê Riekie. “Maar moenie glo dit gaan elke dag so woes nie. Hierdie stormloop is aan jou te danke.”
“Aan my! Hoe so?”
“Nuuskierigheid. Almal wil sien hoe die nuwe dokter lyk.”
Amanda kom gou agter Riekie was reg. Haar volgende pasiënt is oom Jorrie. Sy “siekte” is bepaald niks anders as onverbloemde nuuskierigheid nie.
“Ek verstaan van Riekie oom boer met varke?” probeer sy op ’n stadium sy uitvraery ontwyk.
“Nee, ek sal nou nie sê ek boer met varke nie. Maar my ou sog het darem drie weke gelede agt kleintjies gekry. Mooie goedjies.”
“Oom moet net versigtig wees dat hulle nie weer uit die hok kom en ’n ongeluk veroorsaak nie. Dit was so amper of hulle het gister onder my motor beland.”
Oom Jorrie ruk hom dadelik op. “Dit sal jou leer om ordentlik te ry. Op ons dorp is nie plek vir jaagduiwels nie.”
“Ek het nie gejaag nie – gelukkig nie. Maar hier kan mense van ander plekke af opdaag wat nie varke in die straat te wagte gaan wees nie.”
“Dan sal dit maar net jóú soort mense wees. Die mense wat hier bly, se familie is almal ordentlike mense wat stadig ry. Wat makeer ek?”
“Ek kan nie ’n ernstige fout vind nie. Niks wat ’n bietjie salf en ’n pynpil nie sal kan regmaak nie.”
“Is ook al wat julle stadsdokters ken: pille en salf. Los dit maar. Ek het genoeg daarvan by die huis.”
Haar volgende pasiënt is Klara Havenga. “Dokter, jy moet gou maak. Ek moet terug poskantoor toe. Darlingsdrift se mense dink mos die wêreld sal vergaan as hulle by die poskantoor kom en hy’s gesluit. Maar hierdie pyn op my maag het gemaak dat ek nou nie anders kon nie.”
Terwyl Amanda besig is met haar ondersoek, word sy weer eens met vrae bestook. Nee, haar ouers leef nie meer nie. Ja, sy gaan net tydelik hier uithelp. Ja, Darlingsdrift is maar klein teenoor Pretoria, maar sy glo sy sal dit kan uithou hier. Ja, sy het ’n mansvriend in Pretoria. Nee, sy weet nie wanneer hy vir haar gaan kom kuier nie.
Die derde pasiënt is tant Miems, sewentig jaar oud, wat kla dat sy in die nag so benoud word dat dit voel asof sy nie kan asem kry nie.
“Rook u?” vra Amanda fronsend nadat sy na die geroggel van tant Miems se longe geluister het.
“Ja, dokter. Maar nooit meer as vyf en twintig op ’n dag nie.”
“Het tante al gehoor van emfiseem?”
“Ja, ou tannie Koekemoer is mos daaraan dood. Hulle sê dit was te aardig. Sy’t behoorlik versmoor oor sy nie kon asem kry nie.”
“Ek het slegte nuus vir tante: dis wat met jou ook sal gebeur as jy nie dadelik die rokery los nie.”
“Doktertjie, jy vra darem nou baie!”
“Ek weet dis nie maklik nie, maar daar is nie ’n ander uitweg nie. Rook is mos in elk geval nie só lekker nie. Jy maak dit net onaangenaam vir ander mense wat dit moet inasem, én vir jouself. Ek meen, die duurste parfuum kan nie eens die rookreuk verbloem nie.”
Tant Miems redeneer nie verder nie, sy bly net stil. En toe sy by die deur uitloop, merk Amanda dat haar rug stokstyf is.
Riekie lag net toe sy haar die middag ná werk van al die manewales in die spreekkamer vertel. “Hulle sal aanvanklik enigeen te lig bevind wat dit waag om hier op die dorp te kom werk. Of jy nou ’n dokter, ’n kafee-eienaar of ’n straatveër is. Maar seker nie al jou ondersoeke het so negatief verloop nie?”
“Nee, daar was darem ’n paar wat my goedgesind was. Maar ek het nie gedink hier woon soveel mense op die dorp nie!”
“Toe maar, dit sal net aanhou totdat almal se nuuskierigheid bevredig is. En jy hoef jou nie te bekommer dat oom Jorrie sal wegbly nie. Hy sal gou hoor jy beskik oor goeie deugde ook, en dan sal hy terugkom om te kyk of dit waar is.”
Hul geselsery word onderbreek deur Janus wat die sitkamer binnekom. “Hoe voel jy?” vra hy vir Riekie.
“Baie goed. Beter as in dae! Amanda se koms is ’n seën. Ek het lekker gerus vandag en ek voel soos ’n ander mens.”
Amanda sien hoe Janus se stroewe gesig verhelder.
“Ek is só bly, my liefling. Jy lyk sommer spanne beter.”
“Haai wag, ek beter nou ry,” sê Amanda, haar hart vol jammerte vir hierdie twee magtelose mense. “Ek wil gaan stort voor tant San se etensklok lui.”
Toe Amanda haar kamer binnegaan en die laai ooptrek om vir haar skoon onderklere uit te haal, merk sy dadelik op dat iemand in die laai gekrap het. Haar kamer was nie gesluit nie, want tant San het gesê sy moet dit ooplos sodat Johanna kan skoonmaak. Sy’t nog gesê haar werkers is betroubaar, só betroubaar dat hulle nie ’n sent van enigiemand sal steel nie.
Dit laat Amanda aan haar beursie dink. Sy trek die tweede laai oop en haal haar beursie uit. Die note is nog almal daar, maar daar is ongetwyfeld van die kleingeld weg. Hoeveel, sal sy nie weet nie, maar sy onthou dat die kleiner sakkie so gebult het dat sy kwalik die ritssluiter toegetrek kon kry, en nou is daar amper niks in nie. Afgesien van die kleingeld vermis sy egter niks.
Wat staan haar te doen? wonder sy terwyl sy stort. Moet sy vir tant San daarvan sê? Uiteindelik besluit sy om stil te bly. Dalk het sy tog maar self die een of ander tyd die kleingeld uit haar beursie gehaal, besluit sy teen haar beterwete.
Riekie was reg. Vir drie dae gaan dit taamlik woes, maar die vierde dag daag daar net ’n paar mense op. Teen drieuur sê Janus Amanda kan maar huis toe gaan.
“Dis Vrydag en die boere wat hul kinders by die koshuis kom haal het, is al almal terug na hul plase. Dit sal nou stil wees. Ek gaan ook huis toe. Die dorpsmense weet almal van die klokkie wat in die huis lui as hulle hier sou opdaag en die spreekkamer is toe. Ek sal jou bel as iets opduik wat ek nie alleen kan behartig nie.”
Toe Amanda by die gastehuis kom en haar kamerdeur oopmaak, betrap sy die dief op heterdaad. Pietertjie, die weduwee se jongste seuntjie, gooi haastig haar beursie en die geld wat hy in sy hand het terug in die laai. Sy gesiggie is die ene onskuld toe hy omdraai.
“Dokter het darem mooi goed in die kamer.”
“Soos wat?”
“Sommer . . .” Hy swaai met sy arm deur die lug. “Sommer alles.”
“Wat maak jy hier in my kamer?”
“Ek . . . Ek het net vir dokter kom sê my magie is vreeslik seer.”
Sy loop tot by die kind en kyk hom stip in die oë. “Hoekom jok jy vir my, Pietertjie?”
Sy blik wyk nie. “Ek jok nie.”
“Van wanneer af is jou maag seer?”
“E . . . van netnou af. Van so ’n rukkie terug af.”
“Nou kom ek wys jou hoe maak ek dit reg.”
“Hoe?”
Sy trek haar skoen uit. “Buk, dan wys ek jou.”
“Nee! Ek sal vir my ma gaan sê! Nee!”
“Ek wil hê jy moet vir jou ma gaan sê. Dan kan ek vir haar sê jy krap in my laaie en –”
“Wat gaan hier aan?” Toe Amanda omswaai, staan Welma agter haar. “Pietertjie, wat gaan hier aan?”
Die kind storm verby Amanda en kry sy ma om die bene beet. “Sy wil my slaan!”
“Hoekom?” vra Welma vir Amanda.
“Laat hy maar verduidelik wat hy hier in my kamer kom maak het,” sê Amanda vies.
“Wat het jy hier kom maak, Pietertjie?”
“Niks. Ek het net vir die tannie kom sê my magie is seer en toe wil sy my slaan.”
“Is dit hoe jy met kinders werk?” vra Welma kwaai. “My arme kind. Kom, Mamma sal self jou magie gesond maak.”
“Doen ook sommer iets aan sy vingertjies sodat hy dit uit ander mense se laaie hou,” sê Amanda bitsig.
“Probeer jy voorgee hy’t in jou laaie gekrap?”
“Dis presies wat ek bedoel. En as jy agterkom hy koop lekkers met geld wat hy nie by jou gekry het nie, vra hom waar hy daaraan gekom het.”
“Wil jy sê my kind is ’n dief?”
“Miskien nog nie. Maar ek stel voor jy dissiplineer hom voordat hy een word.”
Welma stamp die kind voor haar uit. “Laat ons liewer loop voor ek vir jou sê wat ek van jóú dink,” snou sy Amanda met ’n vernietigende blik toe.
Amanda lig haar skouers toe sy die kamerdeur toemaak. Net maar nog ’n flop, dink sy met ’n tikkie ironie. Nugter weet wat ’n mens sal moet doen om almal in dié dorp tevrede te stel.
Gaandeweg leer sy die gastehuis se bewoners beter ken. Sy is nie die enigste wat dink Pietertjie kry te veel liefde en te min slae van sy ma nie. Die twee skooldogters wens dikwels hardop hulle kan hom knip. Welma praat lankal nie meer met die twee onderwysers nie, want sy het met hulle ook ’n potjie geloop oor Pietertjie se onhebbelikhede. Pietertjie se broer is egter die teenoorgestelde, ’n soet, stil kind.
“Dis oor Pietertjie so bedorwe grootgeword het,” vertel tant San vir Amanda. “Sy pa is mos dood net drie dae ná sy geboorte. En omdat dié kind toe nes sy pa lyk, kan hy niks verkeerds doen in Welma se oë nie. Sy bederf hom behoorlik tot in die afgrond.”
“Maar dis verkeerd.”
“Ek weet, maar ek gaan nie die een wees wat dit vir haar sê nie. Welma se tong is so skerp soos ’n skeermeslemmetjie. Ek sien sy praat ook nie meer met jou nie.”
“Dit pla my min,” sê Amanda oënskynlik ongeërg. Maar diep in haar binneste pla dit haar tog. Dis nie lekker om so teenoor mekaar aan tafel te sit en eet sonder om ’n woord met mekaar te praat nie.
“Die twee onderwysers gaan albei met onderwyseresse uit,” lig tant San haar verder in. “En Elna en Ilse gee al weer moeilikheid. Dis elke keer se ding as hulle vir ’n naweek na hul ouers toe was, dwelms wat hulle daar in die stad koop,” fluister sy vertroulik. “Dan kan niemand met hulle huishou voor die goed opgeraak het nie.”
“En Paul?” vra Amanda nuuskierig. “Hoekom loop hy mank?”
“Was mos in ’n motorongeluk. By die dood omgedraai, arme mens.”
Amanda leer ook baie van die dorp se inwoners beter ken, maar dis asof Paul Sauerman in ’n waas van geheimsinnigheid gehul is. Niemand praat oor hom nie, al probeer sy ook versigtig uitvra. Hy meng ook nie met die ander inwoners nie. Al waar sy hom soms sien, is in die eetkamer, maar nie gereeld nie. Baiekeer saans sien sy dat Johanna sy kos na sy kamer neem.
Sy is drie weke op Darlingsdrift toe Amanda half met ’n skok besef dat haar verlange na Chris aan die taan is. Hulle bel mekaar weliswaar elke dag, maar haar hart sit nie meer op loop wanneer sy sy stem hoor nie. Hy glo steeds sy gaan tou opgooi en eersdaags weer in die stad opdaag, maar sy is klaar nie meer so seker of sy wil teruggaan Pretoria toe nie.
Sy geniet veral die plaasbesoeke. Die dorpsmense se nuuskierigheid oor haar het seker tot aanvaarding gelei, want hul besoeke het afgeneem, en niemand blyk meer kwaad vir haar te wees nie. Oom Jorrie het net ’n week nadat hy vir sy eerste ondersoek by haar was, kom vrede maak en vir haar ’n klein varkie as geskenk aangebied. Sy’t moeite gehad om hom te laat verstaan dat sy nie ’n varkhok op tant San se werf kan bou nie.
Eendag toe sy gou van die spreekkamer na die poskantoor stap om seëls te koop, hoor sy toevallig hoe sy deur Klara en tant Miems beskinder word. Dis nie dat sy bedoel het om hulle af te luister nie, maar nuuskierigheid laat haar voor die poskantoor se deur draal.
“Dis waar wat dokter Strydom vir jou gesê het: jy gaan jou nog morsdood rook!” sê Klara.
“Dit was g’n nodig om vir my te sê ek stink nie!” kap tant Miems terug.
“Dink jy dan jy ruik lekker? Natuurlik stink jy. Jou klere, jou hare en alles. Pure rook!”
“Aan wie se kant is jy nou skielik? Net die ander dag nog het jy my vertel die dokter is so hardvogtig, sy’t Welma se kind amper morsdood geslaan. En dit net oor hy in haar kamer gaan kla het oor maagpyn.”
“Ek praat haar nie goed nie, maar . . . Jy weet, Miems, partykeer wonder ek of die storie oor Pietertjie wat geslaan is waar is. Welma wil niks van daardie maakseltjie van haar weet nie, maar hy is ’n stoute wettertjie. Ek kan nie dink dokter sou hom oor so iets onskuldigs wou slaan nie. Vir al wat ons weet, het hy kwaadgedoen in haar kamer.”
“Klara, dink jy sy’t regtig hiernatoe gekom om Janus en Riekie te help?”
“Wat anders?”
“As jy my vra, het sy weggevlug van ’n man af. Ek neem mos gereeld boeke uit by die biblioteek. Weet jy hoeveel keer het ek al gelees van iemand wat platteland toe vlug om weg te kom van ’n man of ’n meisie af?”
“Praat jy! Noudat jy dit noem, sy’t hoeka vir my gesê sy hét ’n vriend in Pretoria. ’n Spesiale vriend! Maar sy’s nou al meer as ’n maand hier en ons het hom nog nie met ’n oog gesien nie. Hier het ook nog nie eens ’n enkele brief vir haar opgedaag nie!”
“Ja, maar nou moet jy weet, die mense het mos deesdae selfone. Hulle skryf nie meer briewe nie. Tog ’n jammerte, want as ek darem dink aan die vryersbriewe wat ek gekry het toe ek nog . . .”
Amanda besluit dis tyd om haar teenwoordigheid bekend te maak. Sy kug hard voordat sy oor die drempel tree. Klara is skielik baie besig met die papiere voor haar op die toonbank, en tant Miems druk haastig die pakkie sigarette wat sy in haar hand gehad het in haar sak.
“Middag, dokter. En hoe gaan dit met dokter?” vra sy met ’n stroopsoet stemmetjie.
Amanda onderdruk haar lag. “Baie goed, dankie, tant Miems. Ek sien tante rook nog steeds?”
“Baie minder, dokter, baie minder. Haai wag, ek moet loop. Dan groet ek maar.”
Klara is ook die ene onskuld. “Waarmee kan ek dokter help?”
“Net ’n paar seëls, asseblief.”
Toe Klara die seëls oor die toonbank stoot, gee sy ’n kuggie. “Hoe kom dokter reg met die mense daar in die gastehuis? Ek meen, is hulle darem gaaf teenoor dokter?”
“Ja, wat. Ons kom baie goed oor die weg.”
“En Paul? Hou hy hom nog so eenkant?”
“Ek ken hom maar sleg. Sien hom net af en toe in die eetsaal.”
“Die arme man.”
Amanda weet sy sal meer oor hom te wete kom as sy vir Klara uitvra, maar sy betaal vir die seëls, groet en loop. Net soos hulle haar beskinder het, sal hulle vir Paul ook beskinder. Sy wil nie daarby betrek word nie. Só nuuskierig is sy nie oor hom nie.
Tog fassineer hy haar by die dag meer en meer. Hy groet haar wel vriendelik wanneer hul paaie kruis, maar dis al. Hy het nog nooit ’n gesprek met haar probeer aanknoop nie. Sou hy ’n meisie hê? Sy motor staan onder dieselfde afdak as hare geparkeer, maar sy sien selde dat hy dit gebruik. Soggens wanneer sy werk toe ry, staan sy motor maar daar en saans as sy terugkom, is dit steeds daar. Die enkele kere dat hy wel na ’n kant toe ry, is hy gewoonlik binne ’n uur of wat terug.
Op ’n dag kry sy ’n geslagte hoender as geskenk by die spreekkamer. Toe sy dit die middag vir tant San in die kombuis gaan gee, word sy genooi om ’n koppie koffie te drink.
“Kom sit ’n rukkie, dokter. Ons kry so min kans om ’n bietjie te gesels. Wat dink dokter van ons dorpie? Jy is mos darem nou al meer as ’n maand hier.”
“Haai, tante, die plek begin al dieper in my hart kruip. Sy mense ook. Waar in die stad sal iemand nou daaraan dink om vir ’n dokter ’n hoender present te gee? En dit was so amper of ek het ’n klein varkie ook gehad.”
“Ja, tog, dié ou Jorrie met sy varke. Die goed is meer in die straat as op hok. Maar so het elkeen maar sy eienaardighede. Kyk vir ou Klara van die poskantoor. Sy’s altyd eerste om te sê Darlingsdrift se mense is ’n klomp skinderbekke, maar daar is niemand op die dorp wat meer stories versprei as sy nie.”
“Ja, sy wou nou die dag by my ook uitvis oor die inwoners hier. Of ek dan nou met hulle regkom, en of Paul hom nog so eenkant hou,” stuur Amanda opsetlik die gesprek in Paul se rigting.
“Paul is maar so ’n eenkantmens,” sê tant San. “ ’n Mens kan hom seker ook nie kwalik neem nie, hy’s deur diep waters.”
“Tante het eenkeer genoem dat hy in ’n motorongeluk was. Wat het gebeur?”
“Ag, jong, waar moet ek begin? Paul en sy broer en daardie merrieperd van ’n vroumens het mos eendag van Bloemfontein af hier by my aangekom; hulle het vir die naweek oorgebly. Dit kon nie hoër of laer nie, sy wou die plaas sien waarop Paul en Theuns grootgeword het – Sannieshof hier in die distrik. Theuns het bestuur, ’n roekelose mannetjie. Ek weet, want ek het gesien hoe spin hy die motor se wiele toe hulle hier wegvlieg. Was ook nie ’n uur later nie, toe kry ons die tyding. Motor omgesmyt kort duskant Sannieshof, en Paul in ’n bedenklike toestand.”
“En toe?” vra Amanda openlik nuuskierig.
“Janus moes met hom deurjaag Bloemfontein toe, Riekie saam agterin die kombi om hom aan die lewe te hou. Theuns en daardie merrie het omtrent niks oorgekom nie, net ’n paar skaafwonde.”
“Die merrie, wie is sy?”
“Jessica de Brie. Glo ’n Nederlander of iets. As jy nou al ’n spektakel in jou lewe gesien het! Pers lippe, naels in al die kleure van die reënboog geverf. Om van haar kleredrag nie te praat nie! Die een dag soos ’n Voortrekkertannie aangetrek en die volgende dag wonder jy hoekom sy nie sommer heeltemal kaal loop nie, so skamel is die kortbroekie en bloes. Ag nee, ’n meisie moet haar nie so mismaak nie.”
“Wat is haar verwantskap met Paul en Theuns dan? Is hulle familie?”
“Sy was verloof aan Paul.”
Amanda se maag gee ’n onverwagte draai. “Paul se verloofde?”
“Ja. Ná Paul en Theuns se pa se dood het hul ma mos Sannieshof heeltemal tot niet laat gaan. Sy was ’n spoggerige vrou, net gekoop en gekoop en die boerdery heeltemal links laat lê, tot hulle feitlik bankrot was. Paul wou graag boer, maar hy was nog in matriek, toe verkoop sy ma die plaas. Ook maar vir ’n appel en ’n ei, want daar was omtrent niks meer van die wild en die beeste oor nie. Theuns het ook so reg na haar geaard. Hom niks aan die plaas gesteur nie, net die geld uitgemors op motors en meisies. Hulle drie is toe saam hier weg Bloemfontein toe, Theuns om daar met ’n bouery te begin en Paul om te gaan leer. Dis toe daar in Bloemfontein waar Paul met die De Brie-vroumens deurmekaar geraak het. Verloof en so verlief soos ’n skoolseun.”
“En toe? Is die verlowing verbreek?”
“Ja. Sy’t mos vir Paul net so gelos terwyl hy daar in die hospitaal gelê en worstel het met die dood. Loop trou waaragtig met Theuns. Seker gedink Paul gaan dit nie maak nie. Toe hy uit die koma kom, hoor hy maar die koeël is klaar deur die kerk.”
“Sjoe, dit was seker ’n harde slag vir Paul.”
“Ja, dit was. Hy was ná die ongeluk nooit weer die mens wat hy vroeër was nie. Want afgesien van haar ontrouheid, moes hy nog sy rugbyspelery ook laat vaar. Hy was nogal vir die provinsiale span gekies, hoor. En lief gewees vir al wat sportsoort is. Tennis, krieket, al daardie dinge. Nou kan hy beswaarlik loop, jy sien mos hoe hinkepink hy. Ek dink al dié dinge het hom bitter gemaak. Hy’t eendag reguit vir my gesê hy sal nooit in sy lewe weer ’n meisie vertrou nie. Maar ek weet nie so mooi nie . . .”
“Wat weet tante nie so mooi nie?” vra Amanda toe tant San swyg.
“Nee, ek hoop maar hy bly by sy voornemens wat daardie Jessica betref. Want die huwelik tussen haar en Theuns het nie gehou nie. Ek hoor hulle is twee maande terug geskei. En nog voor die egskeiding deur was, het sy al hier agter Paul aan begin bel.”
“As Paul nog lief is vir haar, sal hy haar seker terugvat,” sê Amanda met ’n skielike gevoel van teleurstelling. Nie dat sy vir Jessica de Brie ken nie, maar dis asof sy Paul nie kan vereenselwig saam met die meisie wat tant San beskryf het nie.
“Hy’t darem die laaste paar keer wat ek hom gaan roep het taamlik geïrriteerd gelyk met die oproepe. So dalk is hy nie meer so danig oor haar nie. Nou weet ek ook nie of hy maar net vies was oor hy sy werk moes los om met haar te praat nie, want hy werk baie hard. Wou mos in ’n stadium die plaas probeer terugkoop. Maar ek dink hy’t nou dié planne gelos. Hy verdien nie sleg nie, want hy is mos ’n geok- . . . okti- . . .”
“ ’n Geoktrooieerde rekenmeester,” help Amanda toe tant San vashaak.
“Ja, dis wat hy is. Hy doen al die mense van die omgewing se boeke, en hulle sê hy weet wat hy doen. Daar is selfs ryk sakemanne van Kimberley en Bloemfontein wat hul boekhouding en goeters deur hom laat doen. Maar die plaas is intussen so opgebou deur die mense wat dit gekoop het dat hy dit nie nou meer maklik sal kan bekostig nie.”
“Hoe lank is dit nou dat hy hier by tante in die gastehuis woon?”
“Hy’t hierheen gekom nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, so ses maande gelede. Bloemfontein was seker maar te klein vir hom met Jessica en sy broer ook daar. Hy was natuurlik maande lank in die hospitaal, sy heup en bobeen was omtrent vergruis. En hulle het gevrees vir breinskade ook, maar gelukkig skeel daar niks met sy verstand nie. Die motor het mos bo-op hom te lande gekom.”
“Werk hy hier vanuit sy kamer?”
“Ja, en jy moet net sien hoe lyk die plek! Papiere en goed net waar jy kyk. En jy moenie daarmee peuter nie, dan raak hy skoon befoeterd. Johanna en Mary is raadop, want hulle weet nie waar en hoe hulle moet afstof nie.”
“Hoekom kry hy nie vir hom ’n kantoor in die dorp nie? Hier staan so baie leë geboue. Dit sal mos nie baie kos om een van hulle te huur en in ’n kantoor te omskep nie.”
“Ek weet nie. Miskien kruip hy weg . . . skaam dat die mense moet sien hoe hy sukkel om oor die weg te kom.”
Hy kry homself seker jammer, dink Amanda in haar enigheid. Sit heeldag in die kamer en tob oor sy toestand. “En Paul se broer? Kom hulle darem nog oor die weg ná die dinge met Jessica?”
“Ek weet nie veel van Theuns nie. Die stories wat die ronde doen, is dat hy heel goed daarin sit. Hy was darem eendag hier by Paul, kort voor ek gehoor het hy en Jessica gaan skei. Maar ek het nie kans gekry om hom uit te vra nie.”
“Dink tante Jessica was dalk agter Theuns se geld aan?”
“Nee, sy’t g’n geld nodig nie, haar pa is skatryk. Sy is maar sommer net een van daardie soort meisies wat jag maak op al wat ’n man is. En hoe moeiliker om te kry, hoe harder probeer sy. Ons bly ver van Bloemfontein af, maar moenie glo hier kom nie stories by ons uit nie! Sy kry glo alles wat sy wil hê, word bederf tot in die afgrond deur haar pa.”
Hul geselsery word onderbreek deur Mary wat kom sê dat daar ’n reisiger aangekom het wat in die gastehuis wil oornag.
Amanda gaan na haar kamer, maar betrap haarself dat haar gedagtes na Paul bly dwaal. Sou hy nog lief wees vir Jessica? En is Jessica regtig so ’n spektakel as wat tant San wil voorgee? Tant San is nog van die outydse soort; sy sal seker morsdood neerslaan as sy in Johannesburg moet kom en die mense se kleredrag moet aanskou!