Читать книгу Spoelklippies in stormwater - Elza Radmeyer - Страница 3

1

Оглавление

“Breggie,” sê oom Piet Seningnek sameswerend by Soetbosstasie se kaartjieskantoor, “is dit dan nie Willem en Karlientjie van ou Sukkeljan wat daar onder die peperboom in die bakkie sit nie?”

“Einste, oom Piet,” sê Breggie en skuif die opgehoopte administrasie ledig rond. “Wag glo vir oom Sukkeljan se suster. Sy kom kuier.”

“Met die trein?”

“Nee, hulle sou glo vanmôre vroeg met ’n motor uit die Kaap vertrek het.”

Oom Piet rek sy lang nek. “Húlle?”

“Oom Sukkeljan se suster en haar stiefseun. Oom onthou mos nog seker vir tant Gesie?”

“Natuurlik onthou ek haar. Maar het ek dan nie gehoor haar derde man het ook afgesterf nie?”

Breggie knik haar kop, tuit haar lippe en borduur gretig: “Ja. Tant Soes van Kromdraai sê sy’t so drie maande ná tant Gesie se man se afsterwe, daardie tyd toe die spesialis in die Kaap oor haar vrouegoeters moes gaan, vir tant Gesie in een van daai groot sentrums in die Kaap raakgeloop. Tant Soes sê dit sal haar nie verbaas as tant Gesie nóg drie mans oorleef nie, so goed lyk sy.”

“Nè! Hoekom kom hou sy dan hiér vakansie? Hier’s mos g’n mans nie?”

“Haai, en wat dan van oom?”

“Ek? Nee, maar ek soek mos nie vrou nie!”

Breggie se oë vonkel. “Nie? Nou maar hoekom het oom dan na ‘Die Opsitkers’ toe geskryf?”

Oom Piet se nek gee ’n sweepslag. “Waar kom jy dááraan?” protesteer hy verontwaardig.

“Ag, moenie worry nie … Ek sal niks sê van al die pos wat oom so skielik uit al die uithoeke van die land kry nie.”

“Jy!” raas oom Piet onkant betrap. “Hulle moes liewer vir Karlientjie die werk hier op die stasie gegee het. Haar mond is nie so los soos joune nie.”

Breggie laat rus haar elmboë op die toonbank en laat sak haar stem. “Het oom darem al iemand in die oog? Oom het tog seker gesê hulle moet kiekies saamstuur, of hoe?”

“Breggie, man, hou op bog praat. Hoe laat dink jy gaan die Jaans’burg-trein intrek?”

Breggie kyk op haar horlosie. “Hy moes eintlik al hier gewees het. Oom kom seker pos haal?”

“Ja, en jy moet nou nie weer soos laas keer van my pos laat agterbly nie, gehoor. Jy’t my in behoorlike moeilikheid laat beland by die mannetjie van die korpoerasie wat met die pampiere werk.”

“Dit was nie mý skuld dat oom die koöperasie se rekening hier op die toonbank laat lê het nie. Dis oor oom so opgewonde was oor al die briewe van die eensame weduwees en die verleidelike geskeide vrouens!”

“En wie sê altemit vir jou daar was briewe van geskeides? Ek hou my g’n met enige vrou op nie! Daar kom die trein nou net om Garingboom se draai. Hoe laat dink jy sal Gesie hier aankom?” praat hy alles sommer in een asem.

“Hoekom wil oom weet? O! Seker om posseëls te spaar!” antwoord sy haar eie vraag. “En tant Soes het hoeka vir my gesê tant Gesie sit glo góéd daarin. Sommer ordentlik van ál drie mans geërf! As oom nou tant Gesie se vierde man word …”

“Jy’s skoon van jou verstand af, Breggie! Ek soek g’n ’n vrou om my in die graf in te leef nie!”

“Maar sê nou oom oorleef haar? Dink net hoe ryk gaan oom dán wees. Oom sal ’n splinternuwe motor kan koop!”

“My mouster makeer g’n niks nie. Hy’t my nog almelewe gebring waar ek wil wees. As ek vir my ’n nuwe kar wil koop, dan doen ek dit sonder om met ryk weduwees te bodder. Maar seg my, Breggie, hoekom sit en wag Willem en Karlientjie dan nou hiér vir Gesie?”

“Tant Gesie onthou seker nie meer die pad Sonderwater toe nie. Sy was donkiejare laas hier.”

“Hm, ek sien, ja. Nou maar hier is die trein nou. Ek gaan gesels dan maar so ’n bietjie daar by Willem en Karlientjie. Sal jy vir my kom roep as jy die pos uitgeklaar het?”

“Goed, oom.”

“En, Breggie, jy hou jou mond uit my pos en dinge uit, nè!”

“Ja … e … hang natuurlik af …?”

“Wat bedoel jy?” dreig oom Piet.

“Wel, as oom volgende keer vir my ’n stukkie biltong saambring …”

“Maar my lappiesland, dis mos afpersing!” bestraf oom Piet toe Breggie veelseggend swyg.

Sy lig haar skouers. “Ek sê maar net.” Toe keer sy haar rug op oom Piet om kastig met ander dinge besig te raak en wag tot sy voetstappe wegsterf voordat sy haar omdraai om hom met ’n goedige glimlag agterna te kyk.

Hugo Burger trap geïrriteerd rem toe hy sien dis al weer net slaggate voor hom in die pad. Hy loer skrams na die vrou langs hom in die motor en sug toe hy sien hoe tevrede en selfvoldaan sy lyk. Wat hom besiel het om in te stem om saam met haar te kom vakansie hou in die gramadoelas!

Die ellelange stofpad blyk geen einde te hê nie. Om hom is dit net vlaktes en nogmaals vlaktes. En die stof … dit koek in sy hare, sy neusgate, tussen sy tande, kleef aan sy beswete hande! Niks, maar niks op aarde sal lekkerder as ’n stort wees nie. Hy sal selfs ’n rivier met krokodille trotseer om van die sweet en stof ontslae te raak!

“Dis nie meer so ver nie,” sê tant Gesie, asof sy haar stiefseun se gedagtes kan lees. “Seker nog so vyftig kilometer.”

Sy hart sink. Nog vyftig kilometer van dié uiterste ellende! As hy geweet het dis hoe die Moordenaarskaroo lyk, het hy die vrou wat so kortstondig met sy pa getroud was met liefde op die trein gesit om alleen te gaan vakansie hou. Geen ordentlike mens hou só vakansie nie!

Sy gedagtes gaan met heimwee terug na sy vorige vakansiebestemming. Mauritius, met sy aanloklike strande en wuiwende palms; sonnige Orlando; die Kaaiman-eilande met hul unieke voëlspesies, die Drakensberge hier in sy eie land, waar ’n mens suiwer, verfrissende lug kan inasem …

“Ek hoop ons is nog op die regte pad,” slaan tant Gesie sy verbeeldingsvlug hok.

“Wat laat tante dink ons kon verdwaal het?” vra hy benoud. Hy verseg om haar Ma te noem, al hou hy sommer baie van haar.

“Nee, dis net dat die wêreld skielik vir my so half onbekend lyk.”

“Moet ek omdraai?”

“Nee, ry maar aan. Daar was tog nêrens ’n afdraaipad nie.”

“Waarvan leef die mense hier? Ek sien dan g’n dier of lewe nie?”

“Dis skaap- en bokwêreld. Hier’s volstruise ook, sover ek weet. Maar jy moet jou nie verbeel dis altyd so dor en vaal hier nie. Jy moet in Augustus, September sien hoe die wêreld oortrek is van die blomme!”

“Blomme … in dié dor landskap?”

“Blomme, ja. Nes in Namakwaland. Maar vir wat is jy so suur?”

Hy koes vir nog ’n gat in die pad en vee selfbejammerend deur sy hare. “Is dit altyd so moordend warm hier?”

“Nooit gesien nie! In die winter sny die koue deur murg en been!”

Hy sug vir die soveelste keer. “Wat doen die mense hier vir ontspanning?”

“Ontspanning? Wat bedoel jy met ontspanning?”

“Sport. Is hier darem ’n swembad of tennisbaan?”

“Daar was nie in mý tyd nie. Soetbos het darem ’n kroeg.”

“Is dit die enigste ontspanningsgerief? Om te drink?” Die afkeer drup uit Hugo se stem.

“Ag, daar is so af en toe ’n dans op een van die plase as iemand verjaar. Ai, en hoe lekker was dit nie altyd nie! Ek ís al so lus vir ’n langasemwals met konsertina en kitaar. Maar vir wat wil jy dan nou so besig wees met ontspanningsgeriewe? Ek dag jy’s so kapoet gewerk dat jy net wil rus?”

Hy kan nie glo dat sy aan dans kan dink op so ’n snikhete dag nie. “As tante beplan dat ons drie weke lank hiér moet bly, gaan ek mos uitgerus raak, en wat doen ek dán?”

“Daar’s oorgenoeg werk op die plaas om jou besig te hou. My broer en daardie kleindogter van hom is smôrens van voor hanekraai af aan die gang. Jy kan help melk, hoenders kosgee, eiers uithaal, skape en bokke ontwurm, slag. Jy sal geen tyd hê om verveeld te raak nie.”

Hugo kry al meer sy bedenkinge. Toe sy stiefma gevra het of hy nie lus is om saam met haar by haar broer en dié se kleindogter op hul plaas te gaan kuier nie, het hy gedink dit sal lekker wees om ’n deel van die land te sien waar hy nog nie voorheen was nie. Dat dit salig sal wees om ’n slag weg te breek van die welvarende sakemanne en hul juweelbehangde gades in hul ontwerpersklere. En dat ’n vakansie weg van Mandy af klaarheid sal bring oor die gevoel wat hy vir haar koester. Maar nou weet hy nie meer so mooi nie. Om darem sy kosbare verlof in só ’n verbeeldinglose landskap te slyt!

“Daar’s Soetbos se kerktoring!” roep tant Gesie duidelik verlig uit ná wat vir hom soos ’n ewigheid voel. “Pasop net vir die draai hier voor. Daar is ’n brug net anderkant die draai, as ek reg onthou. Van daardie soort waaroor net een motor op ’n slag kan ry.” En toe hulle oor die bruggie ry: “Laas toe ek hier was, was die rivier so vol dat ’n mens niks van die brug kon sien nie. Alles toe onder die water.”

Hy kan hom dit kwalik indink. Daar is nie eens ’n poeletjie onder die brug nie. Net sand en klippe. Toe hulle om die laaste draai gaan en die kerkgebou voor hulle opdoem, skep hy verlig asem. Om net weer op ’n teerpad te kan ry! Maar sy verligting is van korte duur toe tant Gesie sê hy moet stadiger, want as hy só jaag, is hy dorp uit voordat hy kan stilhou. Van teerstrate is daar geen sprake nie!

“Kyk, daar staan ’n bakkie by die stasie,” beduie tant Gesie in die rigting van ’n peperboom en ’n paar verweerde sinkgeboue. “Dit sal Karlientjie wees. Gaan hou sommer daar stil.”

Hugo maak soos sy sê en daar is ’n beklemming in sy bors toe hy uitklim en sy blik oor die omgewing laat dwaal. Hy’t geglo Soetbos sal ’n oase in die woestyn wees. Maar behalwe die kerk wat lyk asof dit darem onlangs geverf is, sien hy net ’n afgeskilferde gebou waarop daar sommer met die hand geverf staan: Koöperasie. Langsaan is ’n ewe verweerde gebou waarop staan: Soetbos Hotel en Kroeg. Die kafee se advertensiebord is só verroes dat dit ewe goed nie daar hoef te gewees het nie. Die sinkgehuggies by die peperboom blyk sweerlik die stasiegebou te wees. En as daar meer as tien huise in die hele dorp is, eet hy sy stowwerige hemp met knope en al op.

“Is dit die dorp?” vra hy verslae, maar tant Gesie is al by die bakkie en hoor hom blykbaar nie. Hy stap om die motor, steek dan verbaas vas. Die meisie wat uit die bakkie klim om tant Gesie tegemoet te kom … Lyk Karlientjie só? Hy weet nie mooi wat hy verwag het nie, maar beslis nie dat sy stiefma se familie nog uit die dae van die Voortrekkers dateer nie! Die meisie lyk soos iets wat uit ’n museum ontsnap het! Dik bolla, ’n rok wat beslis niks met die hedendaagse modes te make het nie, en plat, swart skoolskoene …

“Kom,” wink tant Gesie hom nader, “dat ek jou aan Karlientjie kan voorstel.”

Toe Karlien haar hand uitsteek, kyk sy hom vol in die oë en daar gaan oombliklik ’n verlammende krieweling met sy rug langs. Sy’t die mooiste oë! Albastergroen oë wat hom takserend betrag voordat sy haar hand ferm uit syne trek.

“Ek hoop u sal die vakansie hier by ons geniet,” sê sy sonder veel oortuiging.

“Ek is seker ek sal,” maak Hugo ’n moordkuil van sy hart.

Karlien stel die man wat saam met haar uit die bakkie geklim het aan hulle bekend as Willem Potgieter. ’n Fris, ruwe kêrel wat amper Hugo se hand vergruis toe hulle groet.

“En van watter Potgieters is jy?” vra tant Gesie onbeskaamd toe sy ook met die robuuste kêrel blad skud.

“Hy boer op Fonteintjie,” gee Karlien antwoord. “Tante sal hom nie ken nie, want sy mense bly almal in die Kalahari. Willem het drie maande gelede Fonteintjie van oom Isak Bottelnek gekoop.”

“So, dan is jý mos my ou broer se nuwe buurman.”

“Ja,” sê Willem. En voeg trots by: “Ek is ook Karlien se toekomstige man. Ons is verloof. Wys jou ring vir hulle, Karlien.”

’n Oomblik lank lyk dit vir Hugo asof die meisie huiwer, maar dan tree sy na vore om haar linkerhand na tant Gesie uit te hou.

“Verloof!” sê tant Gesie stomgeslaan. “Maar jy het dan niks daarvan geskryf nie?”

“Ek … het seker vergeet,” sê Karlien vaag en in dieselfde asem: “Ons moet ry. Oupa sal wonder waar ons so draai.”

“Wie ry waar?” wil tant Gesie weet.

“Julle kan agter ons aanry,” sê Willem bot, ooglopend vies oor tant Gesie se gebrek aan entoesiasme. Hy wurm sy groot lyf agter die stuur in en beveel sommer oor sy skouer vir Karlien om in te klim.

“Ek vertrou nie dié skielike verlowing nie,” sê tant Gesie toe Hugo wegtrek agter die brullende bakkie aan. “Hoe goed kan Karlientjie hom ken as hy nog maar drie maande hier woon? Ek hou ook nie van ’n man wat so koponderstebo is nie. Kan ’n mens nie in die oë kyk nie.”

Hugo lig sy skouers. “Miskien was dit liefde met die eerste oogopslag.”

“Ek dink dis eerder oor die arme kind nie van beter weet nie. Miskien moet ek my ou broer bearbei dat sy saam met ons teruggaan stad toe. Dat sy kan agterkom sy kan veel beter vaar as om met so ’n krokodilnek van ’n man te gaan staan en trou.”

Hugo besluit om maar stil te bly. Hy moet in elk geval verbete konsentreer om sy motor agter die stofwolke van Willem se bakkie op die sinkplaatpad te hou. Tog moet hy toegee dat Karlien ’n mooi gesiggie het. As sy ’n bietjie moeite doen met haar voorkoms, sal sy die koppe laat draai.

Willem bedank ’n uitnodiging om vir koffie te bly toe hulle uiteindelik hul bestemming bereik. “Nee, dankie, oom Sukkeljan,” sê hy vir tant Gesie se broer. “Oom weet mos ek het koeie om te melk. Ek sal maar op ’n ander dag kom koffie drink. Wanneer ek en Karlien getroud is en sy my met die melkery kan help.”

Hugo sien hoe hy na Karlien toe loop en haar in so ’n knelgreep beetkry dat hy half en half vir haar part seerkry. Hy sien hom ook iets in Karlien se oor fluister voordat hy haar los en in sy bakkie klim.

Tant Gesie kyk die vertrekkende bakkie agterna en wend haar kopskuddend tot haar broer. “Sukkeljan, wat gaan hier aan? Vir wat het jy toegelaat dat Karlien haar aan daardie krokodilnek staan en verloof?”

“Praat jy van Willem?” wil oom Sukkeljan half verstom weet. “Daar is mos niks met die man verkeerd nie. Hy sit goed daarin, so hy sal goed vir Karlientjie sorg.”

“Hoekom ry hy dan so ’n flenter van ’n stuk bakkie?”

“Hy’t ’n motor ook. Maar hy kan mos nie dié klaar ry op die sleg paaie nie.”

“En net oor hy goed daarin sit, dink jy dat hy Karlientjie gelukkig …”

Die twee ouer mense se geredekawel vervaag. Dis ’n vreemde wêreld met ewe eienaardige mense waarin hy hom bevind, flits dit deur Hugo se gedagtes. Hy het al gehoor tant Gesie noem haar broer Sukkeljan, maar hy’t nie gedink dis ’n bynaam wat hardop gebruik sal word nie. Hy kyk meewarig om hom rond. Só ’n plaas het hy nog nooit in sy lewe gesien nie. Daar is geen teken van landerye of ’n tuin om die rou baksteenhuisie met sy twee verwaarloosde buitegeboutjies nie. Die werf is dor, met ’n paar Karoobossies hier en daar, ’n moeë boom en ’n verroeste ou sinkskuur eenkant in die veld. Selfs die paar hoenders en die hond lyk moedeloos met die lewe. En hy wil steeds versmag van die dors en hitte, maar niemand steur hulle aan hom nie.

Wat hy nie weet nie, is dat Karlien sien hoe hy hom styf teen die huis se muur aandruk in ’n poging om te probeer skuiling soek teen die son, en dat ’n eienaardige gevoel haar bemeester. ’n Gewaarwording van iets tussen verlange en haat. Deur haar gedagtes refrein dit: Jy behoort aan my … Onthou, jy behoort aan my …

“Ek sal jou gaan wys waar jy slaap,” sê sy kortaf vir hom in die verbystap en maak die kombuisdeur oop.

Dis so donker en beknop in die huis dat hy hom twee maal teen meubelstukke vasloop voordat sy vir hom ’n slaapkamer aanwys waarheen hy tant Gesie se tasse kan bring. “Sy slaap hier by my in die kamer. Jy kan by Oupa in die kamer slaap, of op die bank in die voorhuis.”

Hugo frons. By haar oupa in die kamer! Het die huis dan net twee slaapkamers?

Karlien mik om uit te loop, maar hy staan die deur vol en gee nie pad nie. Dit ontsenu haar, maar gelukkig gaan die voordeur oop en kom tant Gesie en oupa Sukkeljan ook die huis binne.

“O, daar is julle,” sê tant Gesie. “Sal jy ons tasse uit die motor laai, Hugo?”

Hugo stem in en vra of hy dan die badkamer mag gebruik om te stort.

’n Badkamer! Dink die man dalk hy is in Soetbos se hotel? vererg Karlien haar.

“Het julle al ’n badkamer, Sukkeljan?” wil tant Gesie weet.

“’n Badkamer! En vir wat ek sal nou geld op ’n badskamer vermors? Hier ís mos waskomme en bekers in die huis.”

“Ai, tog. En ’n toilet? Is hier darem ’n toilet in die huis?”

“Vir wat?”

Tant Gesie sug radeloos. “Moet julle nog altyd snags buitentoe loop?”

“Kyk, Gesie, in hierdie huis van my word geëet. Nie ge …”

“Ja, los maar,” keer sy haastig. En tot Hugo: “Gaan haal die beker daar op die wastafel in Sukkeljan se kamer dat ek vir jou warm water in die kombuis kan gaan haal.”

“Daar is ’n stort buite onder die boom,” sê Karlien onverwags. “Hy kan dit gebruik, as hy wil.”

“Baie dankie,” sê Hugo opreg dankbaar. “Ek gaan haal net gou eers die tasse uit die motor.”

Toe hy die tasse afgedra het, tref hy tant Gesie alleen in die kombuis aan. “Sukkeljan en Karlientjie is kraal toe om te gaan melk,” deel sy hom mee. “Karlien sê jy moet oppas dat die blik nie op jou kop val wanneer jy gaan stort nie.”

Hy gee haar net ’n betekenisvolle kyk en gaan haal sy swembroek en handdoek uit sy tas. Om te dink dat hy dit so vanselfsprekend ingepak het …

Die son is nie meer heeltemal so geniepsig toe hy ’n rukkie later in sy swembroek, handdoek oor die skouer, na die twee plat geboutjies onder die boom stap nie. Die een is die toilet, sien hy toe hy die deur oopstoot. Hy stap na die ander geboutjie toe en hy kan nie anders as om te glimlag toe hy die kontrepsie van naderby bekyk nie: ’n paraffienblik met gaatjies in die boom gebalanseer op twee dwarslatte met ’n emmer water op die vloer. Hy besluit om eers sy lyf seep te smeer voordat hy op die handgemaakte leertjie sal klim om die water in die blik oor te gooi. ’n Besluit wat hom berou, want toe hy met sy ingeseepte lyf die leer bestyg, kantel dit, en in sy poging om nie te val nie, glip die emmer water uit sy hand. Bedremmeld draai hy die handdoek om sy seperige lyf en gaan soek skoon water.

Die enigste buitekraan wat daar is, is dié van ’n watertenk. En hy’s nog besig om water te tap toe tant Gesie by die huis uitkom en hom gewaar.

“Jy lyk alte snaaks,” lag sy tog te lekker. “Jou hare staan skoon penorent op jou kop van die seep … Jy beter oppas dat jy nie ook jou handdoek verloor nie!”

Hugo kyk haar vies agterna en bots so ampertjies teen Karlien toe hy hom omdraai om met die emmer water terug te keer na die sogenaamde stort.

Karlien het twee maande laas gelag. Maar toe Hugo ná ’n onverstaanbare mompeling so waardig moontlik met sy geseepte lyf en kokketielkuif van haar af wegstap, borrel die lag onverwags oor haar lippe.

Hy hoor haar giggel, en swets gedemp. Net môre, neem hy hom voor, gaan hy terug stad toe. Hoe gouer hy wegkom uit hierdie gramadoelas van stofwolke en vlaktes, en van tuisgemaakte storte en simpel meisiekinders in Voortrekkerrokke, hoe beter! Vanaand nog bel hy vir Mandy en reël met haar om vir hulle plek te bespreek by ’n gesogte gastehuis. ’n Plek met ’n ordentlike badkamer waar jy nie met lere, emmers en blikke met gate in hoef te sukkel nie!

Spoelklippies in stormwater

Подняться наверх