Читать книгу Spoelklippies in stormwater - Elza Radmeyer - Страница 5

3

Оглавление

’n Uur of wat later loer Hugo onderlangs na die meisie wat so stil langs hom in die motor sit. Van die huis af tot nou het sy nog nie boe of ba gesê nie. Sy boei hom onwillekeurig. Die broekpakkie is vervang deur dieselfde vormlose rok van gister. En sedert die episode in die kraal skram haar blik weg wanneer hy na haar kyk. Miskien wás hy ’n bietjie kras met haar.

Ag, nou ja, besluit hy toe die stilte hinderlik raak, miskien moet hy maar die minste wees en haar om verskoning vra. Hy skraap sy keel. “Luister, ek is jammer ek was so vies vir jou daar in die kraal, maar ek glo jy’t goed geweet die koei gaan my skop.”

“Hoekom het jy daarop aangedring dat ek saam met jou dorp toe kom?” vra sy heeltemal iets anders.

Hy loer weer vinnig na haar, maar sy sit by die venster en uitkyk. “Jy moet tog jou oupa se medisyne gaan haal?”

“Jy kon mos agtergekom het ek wou nie saamry nie.”

“Hoekom wou jy nie saamry nie?” vra hy verbaas.

“Sommer nie.”

“Dis ’n swak antwoord. Of is jy bang Willem sal nie daarvan hou dat jy saam met my dorp toe ry nie?”

Haar kop draai vinnig na hom toe, maar voordat hy haar blik kan vang, kyk sy weer weg venster toe. “Dit het niks met Willem te doen nie.”

Haar woorde laat hom frons. “Wanneer trou julle?”

“Hoekom wil jy weet?”

Hy lig sy skouers. “Nuuskierigheid … belangstelling … Dis tog ’n normale vraag, is dit nie?”

“Ek weet nie.”

“Gaan dit ’n groot of ’n stil troue wees?”

“Wat gaan dit jóú aan of dit ’n stil of ’n groot troue gaan wees?”

“Jong, jy klink steeds kwaad vir my. Ek hét mos om verskoning gevra. Kan ons nie liewer vriende wees nie?”

Sy draai haar kop skeef om hom agterdogtig aan te kyk. “Vriende! Jy’t tog seker genoeg vriende?”

“’n Mens kan nooit te veel vriende hê nie.”

“Dit sal seker ’n stil troue wees. Oupa het nie geld om te mors nie, en Willem gee nie onnodig geld uit nie.”

“Is ons nou vriende, ek en jy?”

Sy sug hardop. “Ek soek nie vriende nie.”

Hy mik om na haar te kyk, maar die pad is te sleg. “Hoekom sê jy so? Wat verhinder jou om met my vriende te wees?”

“Mans!”

Sy spoeg die woord so veragtelik uit dat hy tog na haar kyk en deur ’n slaggat in die pad ry wat die motor laat wip. “Is jy teenoor alle mans só giftig?”

“Julle is almal dieselfde!”

“Behalwe Willem. Wat maak hóm dan ’n uitsondering?”

Hy was onvoorbereid daarop dat sy in trane sou uitbars. Die motorbande skuur op die stofpad soos hy rem. “Wat is verkeerd?” vra hy toe die motor tot stilstand kom. Maar sy huil só dat sy hom nie kan antwoord nie. En toe hy sy arm vertroostend om haar skouers wil sit, klap sy dit so gewelddadig weg dat hy maar tot teen sy deur skuif en geduldig sit en wag dat haar uitbarsting tot ’n einde moet kom.

Toe haar snikke opdroog, druk hy sy sakdoek in haar hand. “Droog af jou trane. Ek kan jou nie dwing om vir my te sê waaroor jy ontsteld is nie, maar ek hou nie daarvan dat jy jou gramskap op mý uithaal nie.”

Hy skakel die motorenjin aan en trek kalm weg. Dis lank stil voordat sy snuiwend sê: “Ek is jammer. Ek sal jou sakdoek was wanneer ons terug is by die huis.”

“Jy’t nog nie lus om my te vertel waaroor jy gehuil het nie?”

“Jy sal nie verstaan nie.”

“Het dit iets met jou verloofde te doen? Het julle rusie gemaak?”

“Nee.”

Hy trek sy skouers op. “Ek kan jou nie raad gee of troos as ek nie weet waaroor dit gaan nie.”

“Is jy baie lief vir jou meisie?” vra sy uit die bloute.

“Dis ’n persoonlike vraag. Hoekom wil jy weet?”

“Ek wonder maar net of jy al verkeerde dinge met haar gedoen het?”

“Soos wat?”

“Verkeerde dinge, man!” En terwyl hy nog wonder of sy bedoel wat hy dink sy bedoel: “Toe maar, jy hoef nie te antwoord nie. Ek ken mans, julle lieg baie maklik.”

Sy wenkbroue lig. “Dis darem kras om so te veralgemeen. Dit verbaas my. Ek kan skaars glo dis ’n verliefde meisie wat só praat.”

“Wanneer trou jy en jou meisie?”

Haar vraag betrap hom onkant. “Ons het dit nog nie bespreek nie.”

“Het jy haar baie lief?”

“Ek … sal verkies om nie nou ’n uitleg van my verhouding met Mandy te gee nie.”

“Jy kan maar daar onder die koelteboom voor die stasie stilhou,” beduie sy. “Solank jy by die telefoonhokkie besig is, sal ek gou Oupa se medisyne gaan haal.”

“Breggie!” roep oom Piet Seningnek in Soetbos se kaartjieskantoor uit. “Kyk gou ’n bietjie hier! Is dit dan nie Karlientjie wat daar oor die straat loop nie?”

“Dis sy, oom Piet.”

“Sy’t netnoumaartjies uit hierdie grênd mouster onder die peperboom uitgeklim.”

“Dis tant Gesie se stiefseun se motor.”

“Nou waar’s Gesie? Ek sien haar dan genêrens nie.”

“Lyk my sy’t nie saamgekom nie. So oom se luck is uit.”

“Haai, Breggie, wil jy vir my sêg lat Karlientjie en die man alleen in die motor rondry?”

“Wat is dan daarmee verkeerd, oom?”

“Jy vraag nog! Wat dink jy gaan Willem met Karlientjie aanvang as dit tot sy ore moet kom dat sy en ou Gesie se stiefseun alleen rondflenter?”

“Willem! Ag, wat sal hy nou daaroor te sê hê?”

“Jy weet maar net nie. Is oorlat jy nie vir Willem ken nie!”

“Nou hoe goed ken oom hom dan?”

“My ore en oë is oop, Breggie. Ek luister maar so wat die mense sê.”

“Dis net jaloesie. Dit lyk my die hele dorp is jaloers op Willem, nou beskinder hulle hom.”

“En vir wat sal hulle jaloers wees op Willem?”

“Oor hy so ’n vooruitstrewende boer is, dis hoekom!”

“Hy’t homself nog nie bewys nie. En, Breggie, jy kan maar dink wat jy wil, ek weet van beter.”

“Wat weet oom van Willem af? Oom bly kilometers ver van hom af.”

“Ja, maar die manne saam met wie hy in die kroeg kuier, bly nie so ver van my af nie. Hulle het baie stories oor hom te vertelle.”

“Watse stories?”

“Nee, o, lappiesland, dié moet jy maar self uitvind. Netnoumaar sêg hulle dit kom van mý af, en voor ek sien, klap die tronk se traliehekke agter my toe.”

“Wat het oom vandag weer dorp toe gebring?”

“Ek moes kom medisyne haal by die korpoerasie vir Blommetjie se kalf. Die dier wil net vrek, lyk dit vir my. Toe dag ek, terwyl ek nou hier is, sal ek maar sommer by jou kom hoor wanneer en hoe laat die Kaapse trein hier verbykom.”

“Hoekom wil oom weet?”

“Maar ek vraag sommer!”

“Oeee, ek weet! Daar’s ’n weduwee op die trein, nè?”

“Het jy tog nie my briewe oopgestoom nie, Breggie?”

“Haai, oom! Wanneer moes ek dít nou gedoen het? Ek was dan nog gister besig om die pos te sorteer toe oom teruggekom het van Willem se bakkie af.”

“Nou maar hoe weet jy dan van die weduwee wat hier verbykom met die trein saam?”

“Ek het net geraai.”

“Jy! Jy is glads te hans! Wanneer kom die trein? Sêg my nou lat ek kan loop.”

“Op dieselfde dag en uur as altyd.”

“Nee, dan’s dit goed. Enne, Breggie, jy praat nie met die anner mense oor die weduwee op die trein nie, gehoor. Ek wil nie die ganse Soetbos se mense hier op die stasie hê nie.”

“Hang natuurlik af …! O ja, waar’s my biltong?”

“Ja, toe maar, man. Ek sal Maandag vir jou twee biltonge bring. Ek had g’n tyd vanmôre vir sulke bogtery nie. Nou dan groet ek maar eers. Dag, Breggie.”

Hugo kyk op sy horlosie toe Mandy vakerig antwoord nadat dit die meisie van die sentrale hoe lank geneem het om sy oproep deur te skakel. Dis nog maar halfnege. Tog voel dit vir hom soos twaalfuur!

“Haai, ou slaapkous,” groet hy plaerig. “Hoe gaan dit?”

“Hugo!” klink haar stem verras in sy oor op. “Waar’s jy? Het julle voorspoedig gery?”

“Ek is behoorlik in die boendoes, jong. Ja, ons het voorspoedig gery, dankie. Maar jy moet die wêreld hier sien! Net vlaktes, en van die slegste paaie wat ek in my lewe nog teëgekom het.”

“Hoekom het jy nie gisteraand gebel nie? Ek het gewag vir jou oproep.”

“Ek kon nie. Tant Gesie se broer het nie ’n telefoon in die huis nie.”

“Waarvandaan bel jy dan nou?”

“Uit die dorp. Nie dat ’n mens dit ’n dorp kan noem nie, want hier gaan net mooi niks aan nie. Hier is nie eens ’n tennisbaan nie!”

“Wat gaan jy doen om die tyd om te kry?”

“Ek gaan gewis nie lank hier bly nie.” Sy mond gaan al oop om vir haar te sê sy moet solank vir hulle plek in Durban bespreek, maar dan kom Karlien oor die straat gestap en plotseling steek die woorde in sy keel vas.

“Dis net ’n bietjie ver om alleen terug te ry,” verander hy vinnig van denke. “Ek hoop maar net tant Gesie besluit om nie die hele tyd hier te kuier nie.”

“Verlang jy darem so ’n bietjie na my?” vra sy flikflooierig.

“Ja, ek mis jou nogal,” sê hy half afwesig met sy blik op Karlien.

“Is daar baie jongmense daar?”

“Jongmense? Nee, ek het nog nie jongmense gesien nie. Behalwe Karlien en Willem.”

“Karlien? Is dit nou die Sukkeljan se kleinkind?”

“Ja, dis sy.”

“Hoe oud is sy?”

“Miskien so negentien, twintig. Dis moeilik om haar ouderdom te skat.”

Karlien klim in die motor en verdwyn uit sy gesigsveld.

“Is sy mooi?” klink Mandy se stem in sy oor op.

Hy frons. “Hoekom vra jy so uit? Jy’s tog nie jaloers nie, is jy?”

“Hoekom antwoord jy my nie?”

“Toe maar, jy’t niks om jou oor te kwel nie.”

“Maar ís sy mooi?”

“Wel, sy’s nie lelik nie.”

“Ek vertrou nie die vrede nie. Jy moenie op haar staan en verlief raak nie, hoor.”

“Daarvoor hoef jy nie bang te wees nie. Sy’s glad te outyds en buierig.”

“Drie minute is verby. Wil u nog praat?” klink die sentralemeisie se stem sangerig in sy oor op.

“Nee, ons maak klaar, dankie.” En tot Mandy: “My kleingeld is op. Ek bel jou anderdag weer.”

“Gedra jou, hoor!”

“Jy ook. Tot siens.”

Toe hy die hoorbuis terugplaas, bly hy ’n rukkie peinsend in die hokkie staan. Die dinge wat Karlien op die pad kwytgeraak het, haar vraag of hy en sy meisie verkeerde dinge doen … Kan dit wees dat sy en Willem … Is sy nie dalk swanger nie? Maar sy ken haar verloofde dan nog net drie maande …

Karlien sug toe sy in die luukse motor met sy sagte sitplekke plaasneem. ’n Mens mag nie begeer nie, dink sy, maar as sý so ’n motor gehad het, sou Willem haar nooit weer gesien het nie. Sy sou haar oupa saamgevat en iewers in ’n groot dorp of stad gaan werk soek het. Vir ’n oomblik of wat oorweeg sy dit selfs om Hugo se motor te steel en daarmee weg te jaag. Maar sy kan nie waffers bestuur nie. En sê nou sy gaan ’n kind kry? Niemand sal vir ’n swanger vrou werk gee nie.

Die ondersoekende blik wat Hugo op haar rig toe hy in die motor klim, laat haar kriewelrig voel. Dis asof hy dwarsdeur haar klere kyk, selfs deur haar vel kan sien. En omdat dit haar so weerloos laat voel, reageer sy aggressief.

“Vir wat kyk jy so na my? Het jy ’n bloutjie by jou nooi geloop?”

Hy skakel die motor aan sonder om weg te kyk. “Ek het gedag ons is nou vriende,” sê hy gemoedelik. “Hoekom is jy so iesegrimmig?”

“Die pad is vóór die motor. Kyk daar as jy wil kyk.”

“Die pad interesseer my nie,” raak hy moedswillig en skakel die motor sonder meer af. “Dis baie lekkerder om na jou te kyk.”

Sy rem ontsenu aan die plastieksakkie waarin oupa Sukkeljan se medisyne is. “Hou op om so na my te kyk. Wat sien jy?”

“Wat ek sien? Ek sien ’n meisie wat haar baie dapper voordoen, maar wat ek glo glad nie so dapper is nie. Wat pla jou dat jy so liggeraak is?”

“Niks pla my nie.” Toe kyk sy op en skrik maak dat haar oë rek. “Ry! Maak gou!”

“Hoekom?” vra hy verbaas oor haar erns.

“Daar kom Willem se bakkie aan, man! Hy maak my dood as hy sien ek het saam met jou gery. Toe, ry nou!”

Hy weifel, maar trek dan tog weg om met ’n ompad deur die dorp weer by die pad huis toe aan te sluit.

“Hoekom sal Willem jou doodmaak as jy saam met my ry? Is hy jaloers?”

“Ja.”

Dit raak weer stil tussen hulle. Hugo probeer homself oortuig dat hy sy neus uit Karlien se sake moet hou. As Karlien met ’n onbeskofte buffel wil trou, is dit mos haar saak.

“Watse werk doen jy?” vra sy later.

“Ek is ’n makelaar.”

“Wat doen ’n makelaar nou eintlik?”

“Ek help mense om hul geld goed te belê sodat dit meer word en nie minder nie.”

“Kan jy vyftig rand ook vermeerder?”

“Vyftig rand. Dis ’n bietjie min.”

“Dis al wat ek het.”

“Miskien moet jy spaar tot dit ’n bietjie meer is.”

Sy gee ’n suggie. “Ek help net partykeer in die drankwinkel uit as die meisie wat daar werk siek is. Dit gaan maar swaar om te spaar.”

Toe hulle voor Sonderwater se plaashek stilhou, wil Karlien uitklim om die hek te gaan oopmaak, maar hy keer haar. “Ek sal die hek oopmaak.” En ondanks sy voorneme om sy neus uit haar sake te hou, draai hy hom tog skuins in die sitplek om na haar te kyk. “Miskien moet jy nog ’n keer dink voor jy met Willem trou. As hy onredelik jaloers is, gaan dit die lewe vir jou baie onaangenaam maak.”

“Vir wat sal jy jou oor my kwel?” vra sy bitsig. Maar dan, tot haar konsternasie, voel sy hoe dit weer skielik warm word agter haar ooglede.

Toe haar blik versluier en sy haar kop venster toe draai, leun hy oor om haar kop terug te draai. “Hoekom ruk jy jou so op oor alles wat ek sê?” eis hy. Maar toe hy sien daar loop ’n traan oor haar wang, en daar op daardie oomblik ’n onsinnige begeerte in hom opkom om dit weg te soen, los hy haar asof sy ’n vuuryster is wat hom brand. Hy kan amper nie vinnig genoeg uit die motor klim om die hek te gaan oopmaak nie.

Die laaste entjie na die werf lê hulle in ’n ongemaklike stilte af. En daar aangekom, is albei ewe haastig om uit te klim. Sy hardloop dadelik die huis binne, maar hy dwaal weg en bevind homself ’n rukkie later op die klipkoppie aan die agterkant van die huis. Wat hom besiel het om so ’n onsinnige begeerte te kry! Hy sal sy kop moet laat lees!

Karlien rol om en om in haar bed toe dit nag word. Sy wonder hoekom Hugo so vinnig uitgespring het om die hek te gaan oopmaak. Hy hou seker nie van ’n tjankbalie nie. Sy haat haarself omdat sy nie haar trane kan beheer nie. En hoekom praat sy haar alewig so vas in sy teenwoordigheid? Sy sal baie versigtiger moet wees. Sy’t hom nou al klaar laat agterkom sy’s bang vir Willem. Netnoumaar kom hy nog agter hoekom ook. En wat gaan hy dán van haar dink!

Die volgende dag wil tant Gesie weet waarom sy so ongelukkig lyk. “Jou hele gesig loop afdraand. Wat is fout?”

“Tante verbeel tante dinge. Waaroor sal ek ongelukkig wees?”

“Is dit nie dalk Willem wat jou ongelukkig maak nie?”

“Wat laat tante so dink?” vra sy versigtig.

“Jy lyk vir my glad nie na ’n verliefde meisie nie. Dink jy Willem is die regte man vir jou?”

“Wat dink tante van hom?”

“Ek kan my nie indink dat jy met hom wil trou nie. Julle pas glad nie by mekaar nie. En ek verstaan nie dié oorhaastige verlowing nie. Hoekom het julle so vinnig verloof geraak?”

Karlien voel hoe haar onderlip begin beef. Sy koes haastig weg om die rooi hen se eiers uit die nes onder ’n verwaaide struik te haal. “Wanneer weet ’n mens of dit die regte man vir jou is, tante?”

“Wanneer jou hele wese blom, en dit voel of jy altyd onder die sterre loop. Beslis nie wanneer jou gesig lyk soos een wat op pad is begrafnis toe nie. Het jy Willem lief, of wil jy maar net met hom trou oor jy ’n man wil hê?”

“Ek soek nie ’n man nie, maar …”

“Maar wat?” dring tant Gesie aan toe sy onbeholpe swyg.

“Oupa sê Willem sal ’n goeie man vir my wees.”

“Gmf! En oor jou oupa sulke bog praat, is jy bereid om met hom te trou! Is jy dan rêrig só bang jy sal nie ’n man kry nie?”

“Ek het nie eintlik ’n keuse nie, tante. As ek met Willem trou, is Sonderwater verseker van ’n toekoms. Trou ek nie met hom nie, dan … gaan hy die water wat ons van Fonteintjie af kry, afsny.”

“Het hy so gesê?”

Sy knik haar kop. “Ja, hy het.”

Tant Gesie se mond val oop. “So wragtig! Maar so ’n … watsenaam! Het jou oupa dan nie ’n kontrak gesluit gehad met ou Bottelnek nie?”

“Die kontrak het verval met die verkoop van Fonteintjie aan Willem.”

“Dis nou vir jou ’n ding. Ek nou is jy bereid om met Willem te trou oor ’n bietjie water!”

“Sonder water beteken dié plaas niks nie, tante. Ons móét van Fonteintjie af water kry om te oorleef.”

“Maar dis mos pure bog dat jy met ’n mansmens gaan staan en trou om jou oupa se plaas aan die gang te hou. Dit nogal ’n man vir wie jy nie eens lief is nie! Ek meen te sê, jy lýk nie verlief nie.”

“Nee, ek het hom nie lief nie, maar … ek is lief vir Oupa. En vir die diere.”

“Dis verstaanbaar, ja, maar jy moet onthou jou hele toekoms is op die spel. Weet Sukkeljan van Willem se dreigement?”

“Nee, ek kan dit nie oor my hart kry om hom te vertel nie. En tante moet ook nie. Dit sal hom ontstel. Sy hart keil hom juis so op in die laaste tyd.”

“Jy kan jou nie in ’n liefdelose huwelik begewe nie, Karlien. Trou is nie perdekoop nie! En die bietjie wat ek van Willem gesien het … Nee, ons sal ’n ander plan moet maak.”

“Ek het my verstand al suf gedink, tante. Daar is nie ’n ander plan nie.”

“Onsin. Daar is vir elke probleem in die lewe ’n oplossing. Het jou oupa al geboor vir water hier op die plaas?”

“Dit kos te veel om ’n boorman te laat kom. Oupa het nie soveel geld nie. Ons leef maar skraps.”

“Hm, ja, ek het so agtergekom. Miskien moet ek jou saamneem wanneer ons teruggaan stad toe. As jy daar ’n werk kry, kan jy spaar totdat julle genoeg geld het om te laat boor vir water.”

“Wat word dan van Oupa hier op die plaas? Wie gaan hom versorg?”

“Hm, ja, die naaste plaas is Fonteintjie. Maar Willem sal nie na hom omsien nie. Nie as hy met sulke dreigemente smokkel nie. Is hier nie iemand wat julle kan huur nie?”

“Net Fytjie. Sy kom nou twee keer ’n week in. Maar ons kan haar nie meer kere bekostig nie.”

“Ek sal met haar gesels,” sê tant Gesie. “Al moet ék haar betaal om jou oupa te versorg.”

Maar waar gaan sy vir Karlien werk kry? wonder sy terwyl hulle huis toe stap. Werk is skaars.

Toe, asof in antwoord op haar soeke na ’n oplossing,onthou sy van Hugo se geskeide vriend, Marius! Dié was mos nog laas op soek na ’n oppasser vir sy kind wat effens gestrem is. Dít kan werk!

Spoelklippies in stormwater

Подняться наверх