Читать книгу Spoelklippies in stormwater - Elza Radmeyer - Страница 4

2

Оглавление

Ondanks sy misnoeë, snuif Hugo behaaglik toe hy die lekker kerriekos ruik toe hulle die aand by die lig van ’n olielamp aansit. Hy eet veral lekker by sy huis wanneer Sofie siek is en tant Gesie agter die stoof inspring. Maar dit gebeur selde, dink hy half spytig, want Sofie is nie van die sieklike soort nie.

“Ai, maar dit lyk lekker,” sê tant Gesie. “Lyk my jy weet hoe om afval te kook, Karlien.”

“Ja, tante. Dis nog Ouma se resep.”

Afval! Hugo se honger verdamp soos mis voor die son. Hy oorweeg dit om sy bord terug te trek toe tant Gesie dit voor hom opneem om vir hom in te skep, maar toe hy Karlien se groen oë op hom betrap, druk hy vinnig sy hande onder die tafel in.

“Hou oom van afval?” vra sy kamma onskuldig.

Hy voel na stik. Oom! Waar kom sy daaraan om ’n man van dertig te wil “oom”? Sy gaan nie meer skool nie, dus kan sy ook nie só danig jonk wees nie. “Nee, ek eet nie afval nie,” sê hy ongeveins van ergernis.

“Dan sal oom maar brood en konfyt moet eet,” doen sy ongeërg aan die hand.

Tant Gesie laat die lepel met afval oor Hugo se bord huiwer. Sy kyk verbaas na hom. “Maar, Hugo, hoe kan jy sê jy eet nie afval nie? Het jy al ooit in jou lewe aan afval geproe?”

“Nee,” antwoord Hugo ontoegeeflik.

“Nou maar sien. Jy’t sommer klaar besluit voor jy nog weet hoe dit smaak. Nee, mintag, man, proe eers hieraan. Dis koningskos,” en sy skep sommer ’n stewige porsie in sy bord.

Hy kan sien die mense kry swaar, en hy is darem ’n gas in hul huis. En die geur is lekker, dit moet hy toegee. Versigtig steek hy sy vurk in die bord kos.

“Toe, proe nou, man,” por tant Gesie aan. “Die kos is gaar, dit sal jou nie byt nie!”

Hy sluk ongemaklik. Kom dan agter almal sit na hom en kyk. Afwagtend glinster die groen oë regoor hom. Hy bring die vurk na sy mond, proe versigtig daaraan. Dit smaak nie sleg nie, maar …

“Hoe proe dit, oom Hugo?”

“As jy my weer oom noem, dan … dan …”

“Dan, wat?” wil sy weet toe sy woorde hom in die steek laat.

“Dan eet ek nie die afval nie! Dis wat.”

Toe almal uitbars van die lag, voel hy hom verplig om maar saam te lag. Maar, neem hy hom voor, hy gaan Karlien terugkry. Die simpel meisiekind met die bolla het hom uitgelok om van homself ’n gek te maak. En toe hy klaar deur die ondeursigtige brousel op sy bord gewurg het, het sy nog die vermetelheid om te vra of hy nie nog ’n skeppie wil hê nie.

“Nee, dankie. Jy behoort tevrede te wees dat ek jou afval wel beproef het. Ek hoop net julle kook nie elke dag afval nie.”

“Ongelukkig nie. Dis te veel van ’n luukse. Ek maak dit slegs vir baie spesiale gaste gaar.”

Hm, glad nie op haar mond geval nie, dink hy. Sy ly beslis nie aan ’n minderwaardigheidskompleks nie, al kom haar klere uit ’n kanferkis en al lyk sy soos iemand wat nog nooit die binnekant van ’n skoonheidsalon gesien het nie. Dus sal sy seker ook weet hoe om haar buffel van ’n verloofde te hanteer. Die gevoel van jammerte wat sy in hom wou wakker maak, blyk onnodig te wees.

Toe die ete verby is, vra hy beleef of hy hul telefoon mag gebruik.

“Telefoon!” blaf oupa Sukkeljan. “Hier is nie so iets nie, ou seun. Die naaste foun is op Soetbos.” En skaamteloos nuuskierig: “Vir wie wil jy bel?”

“Sommer vir my meisie,” sê Hugo half ongemaklik oor die blatante vraag.

“Jy sal maar van die dorp af moet gaan bel, en hoop jy word nie afgeluister nie, want wat jy vandag oor die telefoon sê, weet die hele wêreld môre van af.”

Dan sal hy maar môre vir Mandy gaan bel, dink Hugo. Hy sien eerlikwaar nie kans om die vieslike stuk stofpad nou aan te durf nie. Om te dink hier is nie eens ’n outomatiese sentrale nie.

Hy slaap sleg. ’n Sitkamerbank is nie juis die gerieflikste bed nie. Tog is hy dankbaar hy het nie by oupa Sukkeljan in die kamer gaan slaap nie, want die snorkgeluide wat uit daardie rigting kom …!

Vroegoggend lê hy nog so tussen sluimer en slaap toe iemand plotseling hier langs hom vra: “Slaap jy nog?”

Hy skrik hom skoon oorhoeks vir die wit gedaante voor die bank. “Hoekom wil jy weet?” vra hy onnosel toe hy Karlien in die skemerte herken.

“Ek gaan die stoof brand maak. Wil jy koffie hê?”

“Ja … Ja, dankie. Dit sal lekker smaak. Maar hoekom slaap jy nie?”

“Dis opstaantyd. Dis amper vyfuur.”

“Vyfuur!” Hy kreun en sak terug op die bank. “Staan jy elke oggend so vroeg op?”

“Ja, dis die lekkerste tyd van die dag. Jy moet kom kyk hoe mooi kom die son op. Die lug ruik so skoon en vars.”

Hy trek die komberse op tot onder sy ken toe sy in die kombuis verdwyn. Dink ’n bietjie, vyfuur in die oggend opstaan om die lug te gaan besnuif! Hy strek sy bene en laat rus sy hakskene oor die leuning van die te kort bank. Lê so en luister na haar gewerskaf in die kombuis.

In sy geestesoog sien hy hoe sy al lyk in ’n kort, byderwetse rok, die bolla los en haar hare gekrul oor haar skouers. Die gedagte aan ’n meer moderne vrou roep egter Mandy se beeld voor hom op. Hy sal tot ’n besluit moet kom, dink hy skuldig. Mandy gaan nie ’n ewigheid vir hom wag nie. Dis al hoe lank dat hy agterkom sy raak ongeduldig.

“Haai! Slaap jy weer?”

“Nee, ek slaap nie. Ek is wakker.”

“Hier’s jou koffie.”

Dit is al ligter in die vertrek en hy kan nou sien die spookagtige kabaai wat sy aanhet, moet ’n nagrok wees. En sowaar, haar hare is nou in ’n poniestert vasgevang. Sy lyk nogal oulik …

“Hoeveel suiker drink jy?”

“Twee.”

Sy oorhandig sy koffie en draai om om te loop.

“Waar gaan jy nou heen?” vra hy.

“Ek gaan aantrek, want ek moet gaan melk.”

“Kan ek jou help?”

“Het jy al vantevore gemelk?”

“Nee, maar dis seker nie te moeilik nie.”

“Nee, dis eintlik vreeslik maklik.”

Sy lyk verrassend anders toe hy ’n ruk later die kombuis binnegaan. Alles behalwe outyds. Sy is in ’n bottelgroen kortbroekpakkie geklee, die twee beentjies welgevorm en sonbruin. Sy sal vanmôre ’n hele paar stadsmeisies die loef kan afsteek, dink hy. Hoekom sou sy dan gister so onooglik aangetrek gewees het?

Karlien is bewus van Hugo se oë wat so goedkeurend om haar dwaal. Dit laat haar selfbewus wonder wat haar makeer het om die pakkie, wat tant Gesie vir haar uit die stad saamgebring het, aan te trek. Dis mos nou moeilikheid soek! Boonop gaan oupa Sukkeljan ’n oorval kry. Hy duld dit nie dat ’n vrou in ’n kortbroek voor ’n man verskyn nie. Eintlik is so iets ’n euwel in die hele gemeenskap se oë. Want, dink sy, toe Susan swanger geraak het, het almal gesê sy’t daarna gesoek. Dis oor sy soos ’n slet die hele dorp kortbroek vol gerits het op haar fiets.

Maar dit demp nie haar begeerte om die waardig geklede stadsjapie ’n bietjie vir die gek te hou nie. Sy help hom met die melkemmer tussen sy knieë op die veldstoeltjie langs Kolletjie stelling in te neem.

“So ja, nou trek jy net die spene. Sy sal so ’n bietjie wag voordat sy haar melk laat kom; jy moet maar net aanhou trek.” Toe los sy hom om by ’n ander koei te gaan sit.

Hy is deksels aantreklik, dink sy van waar sy hom ongemerk tussen haar koei se agterbene deur beloer. Maar juis dít maak dat sy nie van hom hou nie. Aanvanklik het sy ook gedink dat Willem iets is om na te kyk … Willem wat haar twee maande gelede daar op sy plaas syne gemaak het op die oop vlaktes langs die skaap se suiping. Van wie sy nou elke dag moet hoor: Jy behoort aan my … jy behoort aan my …

Hugo kry nie ’n druppel melk uit die koei se spene nie. En toe hy hulpsoekend om die koei se bene loer, betrap hy haar dat sy na hom sit en kyk.

“Is jy seker dié koei hét melk?” vra hy ietwat ongemaklik.

“Natuurlik het sy! Sy gee amper ’n emmer vol elke oggend. Pomp haar so ’n bietjie.”

“Pomp?”

“Pomp haar uier met jou vuis. So, soos ek hier maak.”

Dis net waarvoor sy gewag het. Sy ken mos vir Kolletjie. Toe die koei skop, trek Hugo loshande van sy stoel af en die emmer rol dáár.

Hy kyk onseker na haar toe hy orent kom, nie so seker dat dit nie deur haar toedoen is dat hy handeviervoet in die kraalmis te lande gekom het nie. ’n Oomblik lank glo hy amper sy lyk geskok, die wyse waarop haar oë rek en sy na haar asem hyg, maar dis die groen oë wat haar pret verraai.

Hy het moeite om sy humeur te bedwing. Daar is ’n amper onkeerbare lus in hom om haar oor sy skoot te trek en haar boude vuurwarm te klop. “Geniet jy jou grappie?” wil hy sarkasties weet.

“Grappie?” hou sy haar onskuldig.

Hy skop die leë emmer uit sy pad en loop tot vlak voor haar. “Ek is nie onnosel en stiksienig nie, al kom ek van die stad af. Jy’t geweet die koei gaan skop as ek haar uier pomp, het jy nie?”

Sy byt haar lip vas om nie te lag nie. “Miskien het jy haar te hard gepomp. Sy’t nog nooit geskop as ék haar melk nie.”

“Daar lê jou emmer. Melk haar self.”

Sy kyk hom vol lag agterna toe hy by die kraalhek uitgaan, maar haar lag droog vinnig weg toe sy ’n dreuning hoor en sien dis Willem wat na die plaas toe aangery kom.

’n Gedempte swetswoord glip oor haar lippe. Wat kom soek hy so vroeg op Sonderwater? Is dit jaloesie wat hom hierheen bring? Hy’t haar gister deeglik laat verstaan hy vertrou haar nie saam met die stadsjapie in een huis nie. As dinge net anders was. As sy hom net na sy peetjie kon stuur!

Willem se bakkie hou voor die huis stil net toe Hugo daar aankom. Hy voel hom dus verplig om Willem tegemoet te gaan toe hy uit die voertuig klim. Maar Willem beantwoord nie sy groet nie. Hy wil net bars weet wat Hugo by die kraal gaan soek het.

“Niks nie,” sê Hugo, self nie in die luim vir praatjies ná die stel wat hy in die kraal afgetrap het nie.

“O? Hoekom het jy dan so vinnig daar padgegee?”

“Ek het uitgevind ek het niks daar verloor nie.”

“Dis goed jy’t dit so gou uitgevind,” waarsku Willem. “Onthou, Karlien behoort aan my. Jy bly weg van haar af!”

Hugo kyk die man voor hom oorbluf aan. “Jy dink tog seker nie dat ek binne vier-en-twintig uur ’n verhouding met jou verloofde kon aanknoop nie?”

“Wat het jy dan daar by haar in die kraal gaan soek?”

“Dít,” sê Hugo vererg, “is vir my om te weet en vir jou om uit te vind.”

Willem bal sy vuiste toe Hugo net daar omdraai en die huis binnegaan. “Jy moenie vir jou kom staan en hanskakie hou met my nie, gehoor! Jy ken nog nie vir Willem Potgieter nie!” roep hy agter hom aan, maar toe Hugo geen kommentaar daarop lewer nie, stap hy met afgemete treë kraal toe.

Karlien krimp ineen toe Willem die kraal se hek met sy voet oopskop. En toe hy langs haar kom vassteek met ’n smalende uitdrukking op sy gesig, sluk sy swaar.

“So, dan kuier jy en jou stadsjapie sommer al van die eerste dag af saam in die kraal.”

Sy versit die emmer en trek ywerig aan die koei se spene. Miskien is dit beter om stil te bly.

“Jy stry nie, so jy ís skuldig! Wat het julle gedoen?” En ná ’n rukkie: “Maak oop jou mond en praat met my, Karlien!”

“Ek het niks vir jou te sê nie.”

“Niks te sê nie! Dis wat jý dink, vroumens!”

Die melk spat oor haar bene toe hy die emmer gryp en haar opruk van die stoeltjie af. Sy oë rek toe hy sien wat sy aanhet. “Slet!” snou hy haar toe. “Dis geen wonder die vent was so astrant met my nie. Ek sou dieselfde vermetelheid gehad het as ek so vroeg in die môre saam met so ’n flerrie in die kraal kon kuier!” Sy stem sak skielik tot ’n sisgeluid. “Maar onthou een ding, Karlientjie; jy behoort aan my. Dis met mý wat jy gaan trou. Of dink jy daardie stadsjapie sal vir julle plaas water gee?”

Haar humeur oordonder skielik haar sinne. Sy gryp die emmer met melk wat voor sy voete staan en skiet dit met ’n blitsbeweging binne-in sy gesig uit. Wat ’n fout was, besef sy onmiddellik toe hy haar vasgryp voor sy kan weghardloop.

“Tierkat!” roep hy uit. En hoe harder sy stoei om haar te bevry, hoe meer wellustig raak hy.

Eintlik weet sy sy is te tengerig en swak om haar teen hom te verset. Sy’t dit die dag in die veld by die suiping al uitgevind. Sy arms is soos die tentakels van ’n reuse-seekat. Dit suig haar teen hom vas sodat sy skaars kan asemhaal.

Hy loop voetjie vir voetjie met haar na die verste hoek van die kraal. Druk haar rug so styf teen die klipmuur vas dat dit pyn, maar sy kry nie kans om te kla nie, want sy sopperige mond eis haar lippe op.

Die gedagte om sy tong af te byt kom in haar kop op. Maar dan verstar sy en wag biddend dat hy hom moet uitwoed. En toe hy haar uiteindelik laat los, tuit sy haar lippe. Haar spuugstraal tref hom egter ongesiens teen die rug. By die kraalhek draai hy om.

“Ek kom haal jou môreaand Fonteintjie toe,” sê hy met ’n knipoog. “Dis tyd dat jy weer ’n slag vir jou toekomstige man op die plaas kom kuier. Of wat praat ek alles?”

Haat laat ’n traan oor haar wang biggel toe hy weer omdraai om in sy bakkie te gaan klim. Om te dink daar was ’n kortstondige tydperk wat sy gedink het sy’t die man van haar drome ontmoet. Sy barbaarsheid was nie die eerste maand ná hul ontmoeting sigbaar nie. Dit het eers die dag tot uiting gekom toe hy haar kom oplaai het om konsuis vir haar die veranderinge op sy plaas te gaan wys.

Sy tel die leë emmer op en giet ’n bietjie skoon water daarin om dit uit te spoel voordat sy haar veldstoeltjie na Kolletjie toe verskuif. Daar is ’n hele paar meisies wat jaloers is op haar, wat dink Willem is die vangs van die jaar. Sy’t ook so gedink toe hy die dag ná sy aankoms op Fonteintjie kom kennis maak het. Hy het sommer dadelik by haar begin vlerksleep. Selfs die dag toe hulle daar langs die nuwe suiping uit sy bakkie klim, het sy nog so gedink. Sy het sy soene geniet, maar algaande al meer ongemaklik geraak onder sy intimiteit. Eers toe hy haar wild begin betas het en kreunend begin soebat het, het sy bang geword. Sy het onder sy eisende tong en hande probeer uitkom. Maar haar pleidooie het op dowe ore geval. Sy het te laat begin keer. Hy was te sterk vir haar en hy het gevat wat hy wou hê. En toe hy met haar klaar was, het sy huilend gesê sy gaan haar oupa alles vertel, maar hy het dreigend gewaarsku: “’n Woord van wat hier gebeur het aan enigiemand, en ek gooi die kanaal na jou oupa se plaas toe! Van nou af behoort jy aan my!”

Sy wou nie terugklim by hom in die bakkie nie, maar hy het haar hardhandig ingedwing. Op pad huis toe was sy vas van voorneme om vir oupa Sukkeljan te vertel wat gebeur het. Maar toe hulle by die huis kom, was oupa Sukkeljan weer so siek van sy hart dat ’n ding haar keel toegedruk het. Sy is lief vir haar oupa, lief vir die grond, lief vir elke dier op die plaas. In haar verbeelding het sy die koeie se klaende gebulk gehoor, gesien hoe die dooie hoenders oor die werf gestrooi lê … Oupa Sukkeljan weet tot vandag toe van niks nie. Willem het die volgende dag Calvinia toe gery en teruggekom met die verloofring. Haar oupa glo hy’s ’n goeie man, en het niks teen die vinnige verlowing gehad nie.

Sy sug en staan op om die veldstoeltjies in die kalwerhok te gaan bêre. As haar pa nog geleef het, sou hy ’n plan gemaak het. Haar pa was ’n slim man wat sou geweet het hoe om water van iewers anders af te kry. Maar haar pa is dood toe sy twaalf was en haar ma toe sy vyftien was. Al wat sy oorhet, is oupa Sukkeljan. Vir hom en die diere.

Oupa Sukkeljan kyk haar met ’n hewige frons aan toe sy die huis binnekom. “Watse klere het jy daar aan? Skaam jy jou nie om …”

“Los die kind, Sukkeljan,” kom tant Gesie haar tot hulp. “Ek het dit vir haar gegee. Ons leef nie meer in die depressiejare nie. Dis tyd dat jou oë oopgaan sodat jy kan sien die lewe het verander.”

Oupa Sukkeljan se mond gaan oop, en dan maar weer toe. “Hoekom is daar vanoggend so min melk?” vra hy eindelik met sy oë op die emmer in Karlien se hand. “Het die kalwers weer uit die hok gebreek en die koeie uitgesuip?”

“Seker maar,” antwoord sy en keer vinnig haar rug op tant Gesie en Hugo waar hulle langs die kombuistafel sit.

“Dan moet ons ná brekfis gaan kyk of ons nie iets aan die kalwerhok kan doen om hom sterker te maak nie,” sê oupa Sukkeljan vir Hugo. “Dis oor die kalwers al so groot is. Hulle bars deur alles.”

Hugo skeur sy blik weg van die oulike paar sonbruin beentjies waar Karlien die melkemmers staan en uitwas. “Ek het gedink om net ná ontbyt gou dorp toe te ry.”

“O ja, jy’t mos gisteraand gesê jy wil jou nooi gaan foun. Maar, Karlien, dan kan jy sommer saamry om my medisyne by Bart te gaan optel. Hy sou dit gisteraand saamgebring het van Calvinia af. Jy sorg net eers dat jy vir jou ordentlik aantrek!”

“Ek kan nie gaan nie,” sê sy onthuts.

“Hoekom nie?” vra oupa Sukkeljan ontevrede.

“Oupa, ’n mens bedel nie geleentheid by vreemde mense nie!”

“Maar Hugo is mos g’n vreemd nie. Hy’s dan familie!”

“Hy’s nie familie nie. Aangetroude mense is nie familie nie.”

“Ry saam,” sê Hugo. “Ek sal bly wees as jy saamry, want ek is nie seker of ek die pad sal onthou nie.”

“Ja, toe, Karlien,” moedig tant Gesie haar ook aan. “Dit kan jou net goed doen om ’n bietjie weg te kom van die plaas af.”

Haar groen oë flits vinnig oor tant Gesie en Hugo voordat sy by die binnedeur ingaan sonder om te antwoord.

Hoekom is hy so begerig dat sy moet saamry? vra sy haarself af. Natuurlik sal hy die pad onthou. En vir wat por tant Gesie haar ook nog aan om saam te gaan? Sy is bang vir hom. Wanneer vang hy nie dieselfde dinge met haar aan as Willem nie?

Spoelklippies in stormwater

Подняться наверх