Читать книгу Soekers na die son - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

Nols Retief van Paradys se begrafnis was een van die grootste wat die kontrei nog gesien het. Soos ta’ Vroeteltjie dit ook tereg beskryf het: Die werf het soos die Kaapse Parade gelyk. Net een blink kar op die ander. Hoeveel van al die blink al betaal was, is nou weer ’n ander vraag, maar nie vandag ter sprake nie. Feit is, van heinde en verre het hulle gekom om die laaste eer te kom bewys aan ’n ware ou patriarg, van die laastes van die ou garde. Nie almal was dik vriende met Paradys se gewese baas nie. Nie almal het met hom oor die weg gekom nie. Maar al het jy ook van hom verskil, soms ook sommer heftig op vergaderings en in komitees, het hy altyd respek afgedwing. En vandag, op ’n goeie ouderdom, is hy soos ’n goue, ryp gerf geoes, en die warm aarde van Paradys, waarvan hy vir soveel jare so innig deel was, het hom ontvang.

Alles was baie aandoenlik, soos ta’ Vroeteltjie later tranerig in die ouetehuis gerapporteer het waar sy sedert oom Klappies se dood twee jaar tevore haar intrek geneem het. En daar was kos vir Afrika. Want dis nou een ding wat nie twee is nie, Paradys se mense het nog altyd geweet hoe om te onthaal, en met oordaad, van darie jare toe sy wat Vroeteltjie is die septer in Paradys se kombuis geswaai het, tot vandag dat die liewe Elise die leisels uit haar slapgeworde hande geneem het.

“En wat sê die tistement?” val oom Joachim haar relaas in die rede.

Ta’ Vroeteltjie ruk haar vooroorlyfie ’n bietjie meer regop. Soos altyd wanneer hy haar siel versondig, spreek sy hom aan op sy doopnaam: “Skaam jou, Joachim! ’n Mens lê eers die liggaam in die graf weg voordat jy aan sy aardse goed dink. Het jy geen ontsag vir die dood nie?”

“Ag, ja, toe nou maar, Vroeteltjie. Hy’s klaar begrawe, klaar weggelê, en sy aardse goed moes agterbly. Hy was ’n ou ryk swernoot en almal wonder maar wat daarvan gaan word. Jý ook.”

Ta’ Vroeteltjie snuif haar bekende snuifie, kyk meerderwaardig op die ou oom af. “Ek hoef nie te wonder nie. Ek wéét.”

“Ja? Was jy dan een van sy getuies toe die tistement geteken is?”

“Nee, maar ek weet. Oorle’ Nols het baie dinge met my bespreek … báie dinge. Maar dis vir my om te weet en vir jou om te raai.”

Maar nie een van die mense wat die dag ná die begrafnis in die groot huis se sitkamer vergader is, sou kon raai hoe ingrypend die volgende paar minute op die res van hulle lewens sou inwerk nie. Daar was geen haas om die testament se inhoud te leer ken nie, want die familie het tog geweet wat daarin staan, of in elk geval so min of meer. So het hulle gedink. Die groot begrafnis moes eers verbykom. Daarna kon Nols Retief se testament gelees word.

Die oomblik het nou aangebreek en die man van die bank wat saam met Helgard en Arnold, Nols se twee seuns, mede-eksekuteurs van die boedel is, neem plaas. Hy maak die aktetas oop, haal die inhoud uit, sit dit voor hom op die tafeltjie neer, sit dan weer die tas langs hom op die mat neer. Hy hou sy ooglede neergeslaan. Hy weet wat hierdie mense verwag om te hoor: Helgard, die oudste seun, die boer, erf vanselfsprekend die familieplaas Paradys en die later aangekoopte Ou Werwe. Arnold, die jonger seun, die onderwyser, sal seker die grootste deel van die kapitaal erf. Dit sou ’n regverdige verdeling van die ryk Nols Retief se aardse besittings wees.

Freek Combrinck tel die verseëlde brief op wat bo-op lê. Hy weet nie wat daarin staan nie, maar hy weet wat in die testament staan. En hy weet dat die verklaring vir die vreemde manier waarop die ou man sy besittings nagelaat het, opgesluit lê in hierdie koevert …

Hy maak liggies keel skoon, begin dan: “Oom Nols het dié dag toe hy sy laaste testament opgestel het, versoek dat hierdie brief voor die testament gelees moet word. Volgens hom sal dit die inhoud van sy testament verduidelik.” Hy hou die brief omhoog. “Soos u almal kan sien, is dit verseël. Deur oom Nols self. Ek self dra geen kennis van wat daarin staan nie. Ek breek nou die seël voor u almal se oë.”

Die familie kyk vlugtig, onderlangs na mekaar, verbasing in die oë. Nols Retief was altyd ’n man vir reguit praat, op die man af. Hy was ook nie iemand wat dinge onnodig gedramatiseer het nie. Dat ’n brief ter verduideliking die lees van die testament vooraf moet gaan, is só buite sy aard dat dit almal verbaas. Wat op aarde kon hy gedurende sy lewe só in sy hart omgedra het dat hy nie reguit kon praat nie, maar liewer ’n verseëlde brief moes agterlaat?

Freek Combrinck begin lees: “Hierdie brief is eintlik bedoel vir Helgard en Nollie, maar aangesien dit ’n familiesaak is, verdien die res van die familie ook ’n verduideliking van die redes waarom ek my testament opgestel het soos dit is.”

Pa en seun kyk vinnig, vraend na mekaar. Toe voel Helgard sy vrou se hand op sy arm. ’n Oomblik kyk hy af in haar verskrikte oë. En dan tref dit hom soos ’n weerligstraal: Elise se vermoede is reg. Net soos sy, weet hy ook waarom dit alles gaan.

Met ’n gevoel van verbystering bring hy weer sy aandag terug na Combrinck wat met ’n uitdrukkinglose stem begin lees:

“Helgard, ek kan Paradys nie aan jou bemaak nie, omdat ek weet jy sal Nollie dit eendag laat erf. Paradys is ’n familieplaas, die bloedsweet van die Retiefs, en dit moet in die Retiefgeslagte bly. Daarom bemaak ek Paradys aan Janneman, jou en Elise se seun, die enigste seun wat werklik joune is. Nollie is nie ’n Retief nie, maar ons het hom almal lief soos ons eie bloed, daarom laat ek aan hom Ou Werwe agter. Jy, as my oudste seun, het egter die volle vruggebruik van beide plase tot die dag van jou dood.” ’n Swaar, dik swye hang ’n oomblik in die vertrek, voordat die brief afgesluit word: “Nollie, Oupa was al die jare lief vir jou, al het ek geweet jy is nie my eie bloed nie. Ek hoop jy sal my vergewe hiervoor, maar dat jy ook sal verstaan dat ek nie anders kon nie. Ek weet en glo jy sal ’n waardige erfgenaam vir Ou Werwe wees. Geteken: Arnoldus Johannes Retief.”

Wanneer jy met die publiek moet werk, leer ’n mens om jou gevoelens dig te hou. Dis dan ook net die ervaring van jare wat Freek Combrinck se gesig onleesbaar hou en hom die brief laat neersit en skynbaar kalm na die testament laat reik. Maar dit sing in sy brein, soos ook in die ander s’n: Klein Nols nie ’n Retief nie! Nols Retief nie werklik ’n Retief nie!

Sy mond wil net oopgaan om te begin lees toe daar ’n onderbreking kom. Iemand staan op, staan ’n oomblik roerloos, swaai dan om en begin uitstap.

“Nols!” Elise is op haar voete. “Nols! Nols, kom terug!”

Die jong man swaai in die deur om, sy gesig strak. “Waarvoor? Ek het mos klaar gehoor wat my so goedgunstiglik geskenk is. Iemand wat nie ’n ware Retief is nie, kan sekerlik nie méér verwag nie?”

Helgard staan vasgepen in sy spore, hoor hoe sy vrou begin snik terwyl hy stom vra: Waarom, Pa? Waarom nóú, Pa? Hoekom? Hóékom? Nols was nog altyd my seun, Pa! Vir my was hy nooit minder as my eie seun nie!

Dis Rita, Arnold Retief se vrou, wat ’n arm om die huilende Elise slaan, terwyl haar man ook opstaan en Freek Combrinck direk aanspreek: “Kan u liewer vanmiddag weer kom, meneer Combrinck? Ek dink nie een van ons sal nou juis inneem wat u gaan lees nie.”

“Seker, meneer Retief. So … ê … drie-uur se kant?”

Arnold knik net, sy oë reeds weer bekommerd op sy ouer broer gerig. “Helgard, jy moet na hom toe gaan … verduidelik … Dit was vir hom ’n vreeslike skok.”

“As hy ooit na my sal luister. Ai, Arnold … hoekom het Pa dit gedoen?”

Arnold sug. “Ek verstaan hoe jy moet voel, maar … hy het sy redes gegee. By hom was dit ’n geval van waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit. Ons mag hom nie te hard oordeel nie, Ouboet. Paradys was sy lewe.”

“En wat van Nols se lewe?” Helgard sluit ’n oomblik sy oë. Hy is wit om die mond. “Ek bid net die Here dat hy krag sal ontvang om hierdie ding reg verwerk te kry, anders …”

Skielik hoor hulle hoe ’n motor met skreeuende bande wegtrek. Elise ruk haar nat gesig uit haar hande op. “Gaan keer hom, Helgard! Hy gaan verongeluk!”

“Nee, los hom.” Isabé lyk self bleek en gespanne. “Los hom uit, Pa. Laat hom eers alleen.”

“Maar hy is ontsteld … hy gaan verongeluk …”

“Los hom, Ma! As ek hy was, sou ek ook nou alleen wou wees.” Haar oë flits na haar pa en stiefma en dit lyk asof sy nog iets wil byvoeg, maar sê dan net kortaf: “Verskoon my.”

“Waarheen gaan jý nou?”

“Ek voel ook om vir ’n rukkie alleen te wees, Ma. Los my ook liewer net eers uit.”

’n Verdwaasde Janneman voeg hom by die twee broers. “Pa …? Pa, maar is dit wáár? Ek bedoel … hoe kan Nols nie … regtig … Waar kom dié storie vandaan?”

Helgard sug, lê sy hand swaar op die jong man se skouer. “Dis waar, Janneman,” erken hy dan met moeite. “Nols ís nie my kind nie. Maar dis ’n lang storie. Ek dink nie ek sien nou kans om te verduidelik nie. Dis so onnodig, hierdie ding. Dit kon gebly het.”

Arnold skud sy kop. “Miskien nie, Ouboet. Paradys is werklik Janneman se regmatige erfenis. Jy moet my verskoon, maar wat dit betref, wil ek met Pa saamstem.”

“Ja, Arnold, maar die maniér waarop dit gedoen is! Hoekom het hy nie die saak openlik met my bespreek nie? Hoekom op so ’n skokkende manier die waarheid aan die kind tuisbring?”

“Sou dit gehelp het as Pa die saak met jou bespreek het?” Arnold se oë is simpatiek, maar sy woorde reguit. “Sou jy werklik vir Nols kon vertel hy is nie jou kind nie en dat hy daarom nie kan verwag om eendag Paradys van jou te erf nie?”

Die twee broers kyk mekaar ’n oomblik vas aan. Uiteindelik knik Arnold. “Jy sou dit nie kon regkry nie, Helgard. Jy sou hom Paradys laat erf het.”

“Ja, goed. Dit is so.” Sy stem klink weerbarstig, verdedigend. “Want hy was vir my my seun, werklik my seun. Ek het totaal vergeet hy is nie regtig nie.”

“Daarom het Pa geen ander keuse gehad as om self op te tree nie. Probeer verstaan hoekom hy dit ook op hierdie manier gedoen het, Helgard. Hy het ook nie die hart gehad om dit vir Nols openlik in sy gesig te sê nie. Hy was tog ook baie lief vir sy Nollie, soos jy voor jou siel weet.” Die klein Nollie het namate hy ouer geword het, by almal Nols geword, maar selfs op twee-en-dertigjarige ouderdom was hy vir sy oupa steeds Nollie.

Helgard se adamsappel beweeg hewig op en af. “Hoekom kon hy hom dan nie ook so aanvaar nie, as Nollie, óns Nollie nie?”

“Omdat hy nie net een kleinseun het nie, Helgard. Daar is nog een, en een van sy bloed en sy vlees. Jy het Pa geken, Ouboet. As daar een ding is waarvan ons as sy kinders van hom kan getuig, is dit dat Nols Retief sy plig teenoor sy kinders geken het. En so het hy ook sy plig teenoor sy nageslag geken. Ek kry dit nie reg om Pa hieroor te veroordeel nie. Ek het hom beter verstaan as jy. Julle twee was te eners. Ek verstaan hoekom Pa hierdie ding gedoen het. Soos hy ’n plig teenoor Nollie het – en hy het hom ’n plaas laat erf – het hy ook ’n plig teenoor Janneman, en sy plig en regverdigheidsin het hom gesê dat Paradys Janneman se regmatige erfenis is.”

Helgard sug en sak op ’n stoel neer, vee met die vingerpunte oor sy oë. “Ek is nou te ontsteld om die saak so helder en nugter soos jy te beredeneer, Arnold. Dit maak in elk geval my kommer oor Nols nie minder nie. Ek ken my seun. Nols kan soms ’n bietjie irrasioneel word as dinge nie verloop soos hy dit verkies nie. En hierdie ding …”

Arnold knik. Hy verstaan maar alte goed. Nols kan soms ’n heethoof wees en hy is self bekommerd oor die gevolge wat vandag moontlik vir hom kan inhou. Maar Nols sal maar, soos alle mense die een of ander tyd in hulle lewens, moet aanvaar dat daar dinge is wat jy nie kan verander nie, en leer om daarmee saam te leef. Nols Retief het hom immers nie summier uit sy testament gelaat nie, maar hom Ou Werwe gegee – ’n plaas in alle opsigte gelykstaande aan Paradys. Dis net die opstal wat verwaarloos is. Niemand het ooit daaraan aandag gegee nie, want die jong Nols was so oortuig daarvan dat hy eendag Paradys sou erf. Dis Janneman wat maar later sou moes sorg dat Ou Werwe bewoonbaar gemaak word. En nou is die bordjies skielik verhang …

Eenkant in die groot sitkamer sit die twee skoonsusters bymekaar. Nes Janneman netnou, kan Rita nie anders as om te vra nie: “Elise, is dit regtig waar? Is Nols nie Helgard se kind nie?”

“Nee. Toe Lida met Helgard getroud is, was sy reeds twee maande swanger – by ’n man wat sy op ’n oorsese reis ontmoet het.”

Rita skud haar kop, steeds verdwaas. Sy en Elise is so na aan mekaar, maar van hierdie intieme besonderhede het sy nooit kennis gedra nie.

“Maar hoe het dit dan gebeur dat Helgard met haar getrou het? Hy moes tog bewus gewees het van wat aangaan.”

“Hy was nie. Toe Nollie sewe maande ná hulle huwelik gebore is, het hy geglo die kind is vroeggebore. Dis wat Lida met behulp van haar dokter almal wysgemaak het. En almal het dit geglo, behalwe ta’ Vroeteltjie. Sy was baie skepties, maar sy het nooit daaroor gepraat nie – behalwe teenoor my, en ek wou destyds natuurlik niks met die Retiefs van Paradys se sake te doen hê nie. Dit was eers toe Lida my self die volle verhaal vertel, dat ek sekerheid gekry het oor die saak. Dit was net voor sy selfmoord gepleeg het. Sy het ’n brief aan Helgard nagelaat waarin sy alles gebieg het, maar ek en Helgard het besluit niemand sal ooit weet nie, veral nie oupa Nols nie. Rita, ek kan nie dink wáár hy hieraan gekom het nie! En wánneer?”

“Hy moet dit egter op die een of ander manier uitgevind het, en toe besluit het hy sal ook maar die swye bewaar … tot hy sy testament moes opstel. Arme Pa. Ek glo hy het nie sonder hewige stryd tot hierdie besluit gekom nie, Elise.”

“Nee, ek besef dit. Ek verstaan ook hoekom hy dit gedoen het. Hy kon nie uit jammerte vir die een ’n onreg teenoor die ander pleeg nie. Die feit dat hy Ou Werwe net so aan Nols gee, bewys tog dat hy hom werklik liefgehad het en dat hy teenoor hom meer as regverdig wou optree. Maar sal Nóls dit so insien?” Sy staan op. “Ek wil gaan kyk waar Isabé is. Dit was vir haar ook ’n groot skok. Dit kon ek sien. Ag, mag die Here gee dat Nols nie iets onverantwoordeliks aanvang nie! Hy kan soms so impulsief wees.”

Teen haar beterwete probeer Rita troos: “Hy is darem al twee-en-dertig, Elise. As hy eers ’n bietjie oor die saak gedink het, sal hy besef dis darem nie doodsake nie. Daar is trouens nog baie om voor dankbaar te wees. Hy sal altyd Nols Retief wees. Hy het ’n plaas geërf en is verloof aan ’n pragtige meisie. Hy het alle rede om hom reg te ruk en ’n mooi toekoms vir homself op te bou, al is dit dan op Ou Werwe. Gaan kyk waar is Isabé. Sy hét baie ontsteld gelyk. Moet jou nie oor die kos bekommer nie. Ek sal daarna omsien.”

Met die besorgdheid van ’n moeder in haar hart stap Elise die groothuis, soos dit bekend staan, uit en tref haar seun op die stoep aan waar hy peinsend voor hom staan en uitstaar. Vir die eerste keer besef sy dat nie net Nols se lewe hierdeur ontwrig is nie. Dit raak hulle almal, miskien nog die meeste vir Janneman. Die twee broers was nog altyd baie na aan mekaar, en met hernieude kommer in haar hart wonder sy hoe hierdie ding hulle verhouding gaan beïnvloed.

Sy sit haar arm om sy middellyf en hy druk haar ’n oomblikkie vas, sê sag: “Ek voel verskriklik sleg oor hierdie ding, Ma.”

“Ons voel almal jammer, my seun, maar hoekom sleg voel? Jy dra tog geen skuld …”

“Maar ek vóél skuldig. Dit voel vir my dis ék wat Nols van Paradys beroof het. Ek is die een wat hom nou uitdruk …”

“Maar dis onsin, Janneman! In werklikheid sou jý beroof gewees het as Oupa nie hierdie ding reggestel het nie. Paradys kom jóú werklik toe.”

Hy skud sy kop. “Ma, ek verstaan nog nie kop of stert van hierdie hele besigheid nie. As Pa dan nie Nols se pa is nie … wie ís dan sy pa?”

Elise aarsel. Dis so ’n delikate saak … Maar die waarheid sal die een of ander tyd moet uit. “Ons weet nie, Janneman,” erken sy dan sag.

Sy oë kyk ongelowig op haar af. “Wéét nie! Maar hoe is dit moontlik?”

“Lida, Nols en Isabé se ma, was op ’n buitelandse toer toe sy ’n man ontmoet het op wie sy dolverlief geraak het. Die dag toe hulle terugkom in Suid-Afrika, ontdek sy eers op die lughawe dat ’n vrou en twee kinders op hom wag.”

“So ’n lae lak! Maar Pa … hoe het hy dan so gou in die prentjie gekom?”

“Hy het haar ’n paar dae nadat sy terug was, op ’n partytjie ontmoet. Hulle is baie kort daarna getroud. Nols is sewe maande daarna gebore.” Sy sug. “Ons kan later verder praat. Ek wil nou eers vir Isabé gaan soek.”

Janneman hou haar terug. “Net ’n oomblik, Ma. Hoe kan julle só seker wees Nols is nie maar Pa se kind nie?”

“Omdat sy my persoonlik die waarheid vertel het en ’n brief aan jou pa nagelaat het waarin sy ook eerlik gebieg het dat sy reeds vir Nollie verwag het toe hulle getroud is.”

“Maar hoekom toe nie die man opspoor …?”

“Sy het geen naam genoem nie, Janneman. Lida is met daardie geheim graf toe.”

Janneman slaan met die palm van sy hand teen die stoeppilaar, sy gesig strak, sy stem grof: “Dis ’n helse ding hierdie, Ma. Dit gaan Nols breek. Hy is trots, baie trotser as ek. Om nou te moet uitvind hy is nie ’n Retief nie. En boonop weet hy nie eens wie sy pa is nie … Die arme Hantie.”

“Hoekom sê jy so? Hy is baie lief vir Hantie.”

“Ek weet … maar dis nie net Nols wat seerkry en vorentoe nog meer gaan seerkry nie. Dit raak vir Hantie ook.”

Elise kyk haar seun skerp aan. Nie vir die eerste keer wonder sy of Janneman nie meer van sy broer se verloofde hou as wat goed is vir hom nie. Juis oor die groot kommer in haar, klink haar stem kortaf: “Moenie onsin praat nie. Daar is genoeg spoke uit die verlede opgejaag sonder dat jy nog spoke vir die toekoms ook moet optower. Hantie is lief vir Nols en sy sal hom deur hierdie krisis dra, ek weet dit.”

Sy stap vinnig weg voordat hy haar nog meer kan ontstel en hy kyk haar agterna, sê dan sag: “Ek hoop so, Ma. Ek hoop van harte so.”

Elise tref haar stiefdogter eindelik tussen die grafte in die ou familiekerkhof aan. Vir ’n oomblik huiwer sy by die hek, laat haar blik oor die grafte dwaal. Daar is die twee grafte van die eerste Nols Retief en sy vrou, daarnaas oupa Nols se vrou se graf met syne, vars bedek met kranse, net langsaan. Daar is die graf van Helgard en Arnold se suster, Annabel, wat as jong vrou in ’n motorongeluk dood is, en die graf waarlangs Isabé nou staan: dié van haar ma, Lida, Helgard se eerste vrou. ’n Entjie verderaan lê daar nog twee grafte, dié van haar eie pa, Jan Vermaak, sy lewe lank voorman op Paradys, en oom Klappies s’n, ta’ Vroeteltjie se oorlede man. Dié ou oom en tante het jare gelede toe oupa Nols se vrou hom ontval het, hul intrek in Paradys se groothuis geneem as huishoudster en tuinier. Twee mense wat, hoewel nie deur bloed nie, dan wel deur liefde en troue diens so innig deel van die Retiefs en Paradys geword het dat aan hulle die eer beskore is om ook ’n laaste rusplek in Paradys se aarde te vind. Snaaks, dink sy toe sy stadig nader stap na die meisie by die graf, hoe die mens se lewe van lief en leed, van hartstog en aanvaarding, van opstand en geluk op die end deur die witgekalkte mure van ’n kerkhof begrens word. Sy kyk af op die steen, lees die naam, geboortedatum, sterfdag en wonder: Was al die trane, die opstand, die sielswroeging, die bietjie vreugde en die bietjie lag dit werd, Lida?

“Sê my, ma Elise, is ek nie miskien ook ’n hoerkind nie?”

Haar kop ruk regop. Sy kyk geskok in die harde oë voor haar vas. “Isabé, moenie daardie woord gebruik nie!”

“Hoekom nie? Dis tog wat julle vandag vir Nols vertel het. Hy is ’n …”

Elise val haar vinnig in die rede: “Ek sal jou die verhaal vertel soos jou ma dit self vir my vertel het. Dan sal jy weet Nols is nie wat jy hom genoem het nie. Hy was maar net die resultaat van ’n jong meisie se liefde en goedgelowigheid. Miskien vind jy ook nog eendag uit dat ’n vrou wat werklik liefhet, soos klei word in die hande van die man wat sy bemin. Jy word weerloos, Isabé. Hoe hard jy ook al probeer vashou aan beginsels en norme en wat ook al, breek daar die oomblik aan dat jy van alles vergeet. Dis dan wanneer jy slegs bewus is van jou liefde vir ’n man en volgens ’n oeroue wet van die natuur aan hom wil behoort, móét behoort, al verg dit ook wát. Moenie jou ma veroordeel nie. Sy het maar net liefgehad. Dit was haar sonde. Nols was haar kind van liefde.” ’n Oomblik streel haar vingerpunte teer oor die meisie se wang. “Jy hoef nooit te twyfel nie, Isabé. Pa is werklik jou pa.”

Die oë swaai blind weg, kyk oor die witgekalkte kerkhofmuur na waar die rantjies en die horison saamsmelt.

“Ma moet die woorde onthou wat Ma vandag vir my gesê het.”

“Watter woorde?”

“Hoe ’n vrou is wanneer sy liefhet – waarlik liefhet. Ek mag Ma miskien weer eendag daaraan herinner.”

Sy draai om, begin wegstap en Elise kyk haar fronsend agterna. Wat sou sy bedoel …? Kan dit wees dat Isabé eindelik iemand ontmoet het vir wie sy werklik begin omgee het?

Sy stap vinnig agterna. “Isabé? Wag!” Sy bereik haar effens uitasem, kyk die jong vrou deursoekend aan. “Toe jy eergister hier aangekom het, het jy gesê daar is iets wat jy met my wil bespreek, maar dit kan wag tot ná die begrafnis. Wil jy nie nou daaroor gesels nie?”

Die kop skud. “Nee, Ma. Dit moet maar nog ’n rukkie wag. Dis nie nou die regte tyd om daaroor te praat nie. Met hierdie skok van Nols … Laat dit maar bly.”

“Isabé …” Sy bring haar met ’n hand op haar arm tot stilstand. “My meisiekind, jy is ons kind, net soos Nols en Janneman. Daar is altyd tyd vir jou ook. Ek wil graag hoor wat jy vir my wil sê. Jou geluk is vir my net so belangrik soos hulle s’n. Wat wou jy met my bespreek?”

Maar die kop skud weer. “Julle het almal op die oomblik meer as genoeg om te verwerk en te hanteer, Ma. Ek wil nie nog daaraan toevoeg nie.”

Elise frons, kyk Isabé vraend, bekommerd aan. “Dan het jy ’n probleem? Ek het dan gedink …”

“Wat het Ma gedink?”

“Dat jy … goeie nuus vir my het.”

Daar is ’n meewarige, stywe glimlag om die jong vrou se lippe. “Soos wat? Dat ek eindelik ’n man raakgeloop het, want ek was darem al dertig?”

Elise frons. Sy hou nie van die trant waarop dit gesê word nie.

“Wel, ja, eintlik was dit wat ek gehoop het. Maar die feit dat jy al dertig is, het niks daarmee te doen nie. Isabé, jy weet ek wens jou in my hart alle moontlike geluk toe, ook huweliksgeluk. Jy was nog altyd ’n wonderlike dogter vir ons, en jy sal so ’n wonderlike vrou en moeder uitmaak. Niks sal vir my en Pa groter vreugde verskaf as dat jy die dag Paradys toe kom en ons vertel jy het ’n man opreg liefgekry en dat jy gaan trou nie.”

“Dis groot woorde daardie, Ma. Groot woorde. Ek weet Ma bedoel dit baie opreg, maar baie keer sê ’n mens dinge waarvan jy die omvang nie werklik besef nie. Nee, ek gaan die saak nie hierdie keer met julle bespreek nie. Op ’n ander dag. Net een ding: onthou hierdie laaste woorde van Ma ook, asseblief. Kom ons gaan nou terug. Ek wil vir Nols gaan soek.”

Soekers na die son

Подняться наверх