Читать книгу Soekers na die son - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

Isabé kry hom waar haar intuïsie haar heen gelei het – op Ou Werwe. Sy stap die verwaarloosde huis binne, tref hom in die kombuis met sy karige ameublement aan. Ou Werwe se opstal word net gedurende skeertyd gebruik.

Hy sit met sy rug na haar gekeer … met ’n glas in die hand. Hy het die voetstappe gehoor en toe hulle in die kombuisdeur aarsel, sê sy bars stem: “Wie jy ook al is, maak dat jy wegkom. Ek wil niemand sien nie.”

“Jy hoef nie na my te kyk nie, dan sal jy my nie sien nie. Maar jy sal na my luister.”

“Verdomp, Isabé!” Hy kom woedend orent. “Indien jy nie goed gehoor het nie, ék is nou die baas van Ou Werwe en ek sê trap!”

Sy stap egter ongeërg na die kombuisrak, haal ’n glas af en sit dit langs syne neer. “Gooi vir my ook in.”

“Wat?”

“Ek sê ek sal ook iets drink. Ek het dit ook nodig.”

Hy kyk haar nog met strak oë aan. “Wat het jy hier kom soek?”

“Ek weet self nie.” Sy gaan sit op ’n stoel aan die ander kant van die tafel. “Ek wil net by jou wees.” Sy stoot haar glas nader. “Ek het nog nooit so na aan jou gevoel soos vandag nie.”

Sy mondhoeke smaal en hy maak die bottel oop. “Juis vandag toe jy uitvind ek is nie regtig jou broer nie?”

“Ja. Juis vandag … vandag dat ek ’n broer so verskriklik nodig het.” Sy neem ’n sluk. “Waar kry jy dié goed?”

“Dit was in my motor.” Hy neem weer plaas. “As jy simpatie kom uitdeel het …”

“Moenie ’n swaap wees nie, Nols! Ek het nie simpatie om uit te deel nie. Ek het simpatie nodig.”

Hy kyk haar verward, wantrouig oor die rand van die glas aan. “Waarvan praat jy, of is dit ’n soort sielkundige benadering wat jy probeer toepas?”

“Ek is te suf getob om enigiets sielkundig te probeer uitwerk.”

“Getob? Waaroor? Oor watter soort ma ons gehad het?”

Sy woorde skok haar soos haar woorde netnou in die begraafplaas vir Elise geskok het. “Nee, dit het eintlik niks met ons ma te doen nie. Maar terwyl ons nou van haar praat … Sy was regtig nie so sleg soos jy dink nie, Nols.”

“Sê wie? Die dame wat weet wie haar pa is, wat weet dat sy ’n Retief in murg en been is?”

“Ek begryp jou bitterheid, Boetie …”

“Moenie vir my Boetie sê nie! Ek is nie jou boetie nie.”

“Maar jy is. Ons het dieselfde ma. Maar al was jy van geen kant my boetie nie, sal jy dit nog altyd bly, Nols. Want vandat ek my verstand gekry het, was jy my broer. Ek het jou al dertig jaar lank lief as my broer. ’n Enkele paar woorde kan nie daardie liefde sommer net afsny of laat verdwyn nie. Nols, sal jy dit onthou wanneer jy weer by Pa en Ma kom?”

Hy draai sy kop weg, sy oë hard. “Moenie met my van Pa praat nie. Hy is nie my pa nie. Hy is ’n man wat my twee-en-dertig jaar lank bedrieg het, my in ’n gekkeparadys laat voortleef het.”

“Omdat hy jou liefgehad het, nog altyd liefhet. Nols, besef jy dat as Oupa nie ingegryp het nie, Pa jou nooit die waarheid sou vertel het nie? Besef jy dat hy sy eie vlees en bloed tekort sou gedoen het ter wille van jou? En hoekom sou hy dit doen? Omdat jy so ’n wonderlike mens is? Nee, my broer. Jy is glad nie so wonderlik nie. Hier sit en drink jy jou skok soos ’n onvolwasse bogsnuiter weg. Hy sou dit doen net om één rede: omdat hy jou liefhet. Wees bitter teenoor enigiemand anders, maar nie teenoor Pa nie, Nols. Hy het vir jou pa gestaan toe jou eie pa sy rug op jou gedraai het.” Sy druk haar vingers ’n oomblik om syne wat die glas vasklem. “Jy is nie regtig kwaad oor Paradys noudat jy die waarheid weet nie, nè, Nols? Dit gaan nie soseer om Paradys nie.”

“Nee. Dis natuurlik ’n groot teleurstelling, maar … Magtig, Isabé, om skielik op ’n dag te moet hoor jy is nie wat jy nog altyd gedink het jy is nie. Dink jy dis ’n grap? Kan jy jou voorstel hoe hierdie hele omgewing gaan skinder en agter my rug lag? Die grote Nols Retief wat toe nooit ’n Retief is nie! Afgejaag van Paradys na Ou Werwe se verwaarloosde werf!”

“As hulle agter jou rug vir jou gaan uitlag, sal jy self die oorsaak daarvan wees. Maar as jy hulle kan wys dat jy hierdie ding soos ’n man kan vat, dat jy van Ou Werwe ’n pragplaas kan maak soos Paradys is, sal niemand vir jou lag nie, Nols. Hulle sal jou respekteer en bewonder. En jy kán dit doen, Boetie. Ek weet jy kan. Want jy is meer ’n Retief as ek. As hulle my bloed trek en toets, sal hulle weet ek is ’n Retief. Maar dis al. Maar jy … jy het van kleindag af aan oupa Nols se voete gesit. Van kleindag af is jy die Retief-karaktertrekke en -eienskappe ingevoer soos met moedersmelk. Jy is deur Pa en Oupa ingeplant in Paradys se aarde. Hulle het jou laat wortel skiet daarin, laat groei, geleer om dit lief te hê, hoe om dit te respekteer en te behandel sodat dit weer alles aan jou kan teruggee. Jy is geleer om trots te wees om ’n Retief te wees, en dit is jy vandag nog – ’n Retief. Dis wat jý ís wat van belang is, wat deurslaggewend is, Nols … nie wie of wat jou pa of jou ma was of is nie.”

Hy kyk haar ietwat verbaas aan. Sy praat so dringend, met ’n soort koorsigheid in haar oë.

“Jy kan maklik praat.”

“Ek praat nie maklik nie. Ek wéét waarvan ek praat, maar jy sal nie nou verstaan nie. Dis ook nie ek wat nou ter sprake is nie. Dis jy.” Sy gee ’n sug, neem ’n klein slukkie van die brandewyn. “Jy weet, ek het al baie oor hierdie ding gedink. Ons mense is te gesteld op oorsprong, waar ons vandaan kom, uit wie ons kom. Is dit werklik van soveel belang? Is wat jy self is, wat jy self in die lewe vermag, nie die belangrikste nie?” Sy kyk reguit in sy oë, en dis amper of sy pleit. “Elke mens is tog ’n mens uit eie reg, nie waar nie? As jy ’n mens is wat die respek van jou medemens afdwing deur die lewe wat jy lei en deur wat jy in die lewe bereik het, maak dit saak of jy ’n ellelange familieregister kan toon en of jy ’n onbekende pa gehad het?”

Hy skud sy kop, sy brein reeds half beneweld deur die drankies en die bitterheid en ontnugtering in hom. “Ek verstaan nie heeltemal wat jy wil sê nie, Isabé. Ek weet net een ding: dit was vir my nog altyd belangrik dat ek ’n Retief is … een van die Retiefs van Paradys. En nou is ek dit nie, was dit nooit gewees nie. Vir sekere mense is sulke dinge miskien nie so belangrik nie. Vir ander is dit. Vir mý is dit. Ek besef vandag eers hóé belangrik, noudat ek gehoor het ek is dit nie.” Hy neem ’n groot sluk. “Dis of … alles onder my skielik padgegee het … Ek voel soos ’n mens voel wanneer jy aan die stap is, en skielik is daar nie meer grond onder jou voete nie. Jy is skielik aan die val en jy weet nie hoe ver en tot waar nie.”

“Maar jy kan probeer om jou balans terug te kry en waar jy ook al grondvat, op jou voete te lande te kom.”

“Ja. Jy kan probeer … maar jy sal die wete altyd in jou omdra jy is nie meer waar jy was nie. Jy het ver geval. Jy is onder, nie meer bo nie.”

Sy stoot haar glas weg, staan op, lê ’n hand op sy kop, spreek hom aan op die ou kindernaam: “Nollie, jy moet hierdie ding verwerk, asseblief!”

“Ja. Dis wat almal gaan sê, maar dis omdat dit nie hulle is wat dit moet verwerk nie. Dis maklik om vir ’n ander te vertel hoe hy ’n situasie moet hanteer as jy goed weet jy sal self nooit voor so iets te staan kom nie.”

“Ons het almal dinge om in ons lewens te verwerk, my boetie. Laat ek jou vandag iets vertel. Wat ék moet verwerk, is veel groter as jou probleem. Jy sal my nou nie glo nie, maar wat nou vir jou na so ’n onoorkomelike probleem lyk, is kinderspeletjies teen myne.”

Hy kyk haar skerp aan. “Waarvan praat jy? In watter moles is jy?”

Sy glimlag effens, ’n onpeilbare glimlaggie. “Jy kan dit ’n moles noem. Maar ek gaan nie nou daaroor praat nie. Jy sal nie nou verstaan nie.”

Hy staan op. “Maar jy dink jy verstaan myne.”

Sy knik, sug weer, lê haar kop ’n oomblik teen sy bors. “Jy het gelyk. Elke mens se probleme is uniek vir homself, net deur homself oplosbaar en nie op voorskrif van ’n ander nie. Want dis net jy wat werklik weet wat jy in jou hart omdra, net jy wat jou heil self moet uitwerk. Niemand anders kan jou lewe vir jou lewe.” Sy staan terug, kyk hom vas in die oë. “Goed, Nols. Ek gaan nie aan jou voorskryf hoe jy hierdie ding wat jou getref het, moet hanteer nie. Maar net dít.” Sy tel die bottel op, hou dit omhoog. “Wanneer jy môreoggend weer nugter is, hoop ek jy sal besef hierdie goed kon nog nooit enigiets oplos nie. Tot siens, my boet.”

Dis twee bekommerde mense wat haar op die stoeptreetjies van die groothuis inwag.

“Het jy hom gekry?”

“Ja, Pa.”

“Waar is hy?” vra Elise met dikgehuilde oë.

“Op sy erfplaas.”

“Sy …? Jy bedoel, Ou Werwe?”

“Ja.”

“Hoe … hoe gaan dit met hom?”

“Hy gaan hom vanaand dronk drink en môre gaan hy ’n bul van ’n kopseer hê. Wanneer dit verby is, gaan sy verstand hopelik weer begin werk.”

“Ag nee, my kind! Hy …”

“Los hom, Ma. Los vir Nols doodstil. Hy moet sy eie manier vind om hierdie ding te verwerk. Julle kan dit nie vir hom doen nie.”

Elise se trane begin weer loop. “Maar ons wil net graag by hom wees, hom laat verstaan dat ons hom liefhet en …”

“Ek weet, Ma,” sê sy teer. “Maar hy weet dit reeds. Hy weet dit.”

“Maar ons wil so graag help … iets doen om …”

“Ek weet, Ma. Daar is iets wat julle vir hom kan doen.”

“Wat?”

“Julle kan vir hom bid.” En vir my ook, Ma! Veral vir my!

Helgard sug en slaan sy arms om sy vrou se skouers. “Isabé is reg, my skat. Laat ons Nols eers alleen laat en vir hom doen wat ons kan: bid. Kom ons gaan eet nou. Rita wag met die kos.”

Elkeen neem sy plek aan die groot eettafel in. Almal probeer die leë plekke wat daar is, miskyk.

“Waar is Janneman dan?” wil Isabé tog weet.

“Hantie het netnou na Nols gesoek en toe het ons maar besluit Janneman moet oorgaan na die Hefers en hulle inlig oor die stand van sake. Hulle sal dit tog die een of ander tyd moet hoor. Hulle moet die besonderhede ken voordat dit rugbaar word. En miskien is Janneman die regte mens om dit oor te dra.”

Elise baklei teen haar eie beterwete toe sy driftig laat hoor: “Ek kan nie sien hoekom dit allemanspraatjies moet word nie. Niemand hoef te weet hoekom Oupa sy testament so opgestel het nie. Hy kon tog met sy goed maak wat hy wou.”

“My vrou, hierdie ding sal nie stil gehou kan word nie, en jy weet dit. Almal wonder nou al wat het in Nols Retief se testament gestaan. En almal gaan daaroor verbaas wees en wonder en gis.”

“ ’n Mens kan dink wat jy wil, maar nie sê wat jy wil nie!”

“Ja, Elise, maar ons almal weet daardie spreekwoord beteken niks nie. Partykeer is dit verstandiger om liewer met die volle waarheid vorendag te kom as om mense kans te gee vir allerhande gissings en bespiegelinge. Dit kan groter skade aanrig.” Hy kyk na sy dogter. “Wanneer moet jy weer terug?”

“Ek sal môre moet ry, Pa. Ek is oormôre weer aan diens.”

“Ek wens so jy kon nog ’n paar dae bly, my kind,” sê Elise. “Ons het jou nou hier nodig en ek sou nog graag ’n bietjie met jou wou gesels.”

Maar Isabé skud die kop. “Ek sal moet terug. Dit kan nie anders nie. Ek sal kyk wanneer ek weer ’n naweek kan vry kry.”

“Ons sal ook net ná die testament gelees is, moet ry,” laat Arnold hoor. “Die kinders is aan die eksamen skryf. Ek moet eenvoudig môre in die skool wees. Jy moet maar laat weet wanneer ek iets moet teken of so, Helgard.”

“Ja, natuurlik. Ons sal moet klaarmaak. Freek Combrinck sal nou elke oomblik weer hier opdaag.”

’n Rukkie later sit die klompie weer in die sitkamer en luister na Freek Combrinck se egalige stemtoon. Net Janneman en Nols junior is nie daar nie.

Die res van die testament is soos almal verwag het dit gaan wees en niemand opper enige beswaar nie.

Nadat Combrinck weer vertrek het, laat Helgard half ongemaklik hoor: “Arnold, voel jy gelukkig oor jou deel? Ek, of dan my seuns, erf al die grond …”

Arnold se blik is oop en eerlik, sy stem opreg: “Waaroor ek baie bly is. Ek is nie ’n boer nie, en jy weet dit. Ek en Rita het nie kinders nie. Dis net reg dat jou kinders die grond kry. Jy moet onthou ek en Rita het eintlik reeds al van Pa geërf toe ons destyds op sy koste verder gaan studeer het. Dit het hom ’n mooi klompie uit die sak gejaag. Nee, my broer, ek is heeltemal tevrede. Wees gerus.”

Helgard kyk sy broer dankbaar aan. Vroeër jare, toe albei nog jonk was, kon hulle mekaar nie altyd so goed vind nie. Maar met die jare kom wysheid, leer jy om verdraagsamer teenoor jou eie en ander se foute te wees. Helgard is steeds spyt dat dit nie sy broer beskore was om kinders van sy eie te hê nie. Rita het wel een keer verwag, maar iets het halfpad verkeerd geloop en sy het die baba verloor. Sy het nooit weer daarna swanger geraak nie.

Hy vra skielik: “Hoekom het jy en Rita nooit kinders aangeneem nie?”

Arnold haal sy skouers op. “Ag, jy weet hoe dit gaan. Ná die miskraam het ons maar bly hoop Rita sou weer swanger raak. Toe ons wakker skrik en daaraan dink dat ons maar ’n kind moet aanneem, het ons reeds al aangestap in die jare en, ek moet erken, ook al in ’n vaste patroon verval. Selfsug, jy weet. ’n Kleintjie sou toe net ontwrigting meebring waarvoor ons nie kans gesien het nie. Ons lewe egter hierdie leemte so vol in ons loopbane dat ons nie meer daarvan bewus is nie.”

“Ek het verneem jy is ’n baie knap onderwyser,” laat Helgard met broederlike trots hoor en Arnold lag.

“Ek sou dit graag wou glo, al weet ek van al die gebreke wat daar maar is. Rita is egter ’n briljante kindertuinonderwyseres. Die kind wat deur haar hande gegaan het, is seker van die regte grondslag. Ek kan die Here nooit genoeg dank dat Hy haar in my lewe gestuur het nie. As dit nie vir haar was nie …”

Albei se gedagtes loop die lang pad van die verlede terug, tot by daardie jaar toe die jong Arnold van die grens af huis toe gestuur is nadat hy sy een been verloor het. Vir Paradys se mense was dit ’n moeilike tyd. Nols Retief se twee seuns het toe albei deur ’n krisis gegaan. Helgard en hul voorman, Jan Vermaak, se dogter, Elise, se verhouding het pas skipbreuk gely. ’n Verbitterde Helgard het toe sommer oorhaastig met die blonde Lida getrou en ingestap in ’n ongelukkige huwelik wat ’n paar jaar later tragies beëindig sou word deur die dwelmverslaafde Lida se selfmoord. Arnold, ewe verbitter oor die wrede slag wat hom getref het, het in so ’n mate in selfbejammering verval dat hulle selfs gevrees het hy is geestelik geknak. Toe het Rita by een van die plaaslike dokters begin werk en dit was sy wat die jong, hartseer Arnold Retief weer geleer het om te lag en te aanvaar dat hy met een been deur die lewe moet gaan – en nie net móét nie, maar kán gaan en nogtans gelukkig wees. Ná hulle troue was dit sy wat besef het Arnold is, benewens die feit dat hy nie in murg en been ’n boer is nie, ook nie fisiek opgewasse vir die taak nie. Dis sy wat hom geïnspireer het om verder te gaan studeer en, meer om hom by te staan as met die bedoeling dat sy self sukses sou behaal, saam met hom vir verdere studie ingeskryf het. Vandag is hulle ’n onderwyserspaar wat ’n groot aanwins is vir hulle skool en hulle gemeenskap.

Helgard se lippe plooi in ’n glimlag. “Onthou jy nog hoe jaloers jy geraak het op jou kunsbeen wat Rita Stompie genoem het? Jy het gevoel sy gee meer aandag aan hom as aan jou. As ek reg onthou, wou jy Stompie ’n slag in die plaasdam gaan versuip!”

Arnold lyk effens verleë, maar hy moet tog lag en erken: “Ja. Ek was hopeloos verlief en siek van vrees dat sy van my weggeneem sou word. Selfs my kunsbeen was ’n potensiële mededinger.”

“Dis nog steeds!” terg Rita met warm oë en Elise voel ’n knop in haar keel van dankbaarheid dat die lewe so mooi vir hierdie vrou uitgewerk het. Haar blik gaan na haar eie man, en sy moet weer sluk. Die lewe het ook vir haar so mooi uitgewerk. Sy het soveel stof tot dankbaarheid. As alles net wel is met Nols … En daar is nog iets wat vaag hinder. Isabé … Isabé het ’n probleem … maar sy wil nie nou daaroor praat nie. Dit moet iets van taamlike omvang wees, want Isabé was van kleins af baie selfstandig. Sy en Helgard was nog nooit bekommerd oor haar nie. ’n Verstandige en selfstandige jong vrou wat weet wat sy wil. Miskien is dit juis hierdie twee eienskappe wat gemaak het dat sy op dertig nog nie ’n man na haar sin kon kry nie. Isabé moet ’n sterk man kry, ’n man wat in alle opsigte haar meerdere sal wees, want sy moet na hom kan opkyk om hom te kan respekteer. Intuïsie vertel die moederhart dat Isabé se probleem met ’n man te doen het … ’n spesifieke man … maar as sy dié man gevind het, wat kan die probleem dan wees? Is hy miskien reeds getroud? wonder sy vlugtig. Dan weet sy tog instinktief dit gaan nie dáárom nie. Isabé is te koelkop om emosioneel by ’n ander vrou se man betrokke te raak. Dis hoekom sy so ’n bekwame operasiesuster is. Maar wat is dan fout?

“Elise, ons moet ry.”

Sy knip haar oë vinnig, keer na die hede terug. Rita en Arnold is reeds aan die groet. Sy stap saam motor toe.

“Sê baie liefdegroete aan Elske en Vegter, hoor? En sê hulle moet ’n slag kom kuier.”

“Ek sal sê. Hulle wou baie graag vir die begrafnis kom, maar daar was ’n paar krisisse wat hulle nie kon laat nie. Jy weet hoe daardie liewe vriende van ons is. Sterkte, Elise. Ons dink aan julle.”

“Dankie, Rita. Julle moet mooi ry.”

In die sitkamer van die Hefers is dit ’n rukkie stil nadat Janneman vertrek het. Die drie mense wat agterbly, is besig met hul eie gedagtes … en bekommernisse. Die stilte word eindelik verbreek.

“Wel, dis nou vir jou ’n ding.” Maria Hefer se oë is peinsend.

Stilte. Dan ’n sagte snik.

“Ek kry hom so verskriklik jammer! O, as ek net kan weet waar hy nou is, gaan ek dadelik na hom toe.”

Hantie se pa skud ook verslae sy kop. “Ja, dit moet ’n groot skok vir hom gewees het. Hy sal wel hiernatoe kom, my kind. Moenie so bekommerd wees nie.”

“Maar hy het my nóú nodig, Pappa. My hart breek vir hom.”

“Jou pa is reg. Dis nie nodig om jou so erg te ontstel nie. Ruk jou reg en begin liewer nugter oor die saak dink.”

“Wat bedoel Ma? Waaroor moet ek dink? Al waaraan ek kan dink, is hoe Nols in hierdie oomblikke moet voel.”

“Hantie, vergeet ’n slag van Nols en dink aan jouself. Besef jy wat vandag se … ê … ontdekking vir jóú inhou?” Maria Hefer se stem klink koud.

Hantie en haar pa kyk haar verward aan.

“Waarvan praat Ma?”

“Ek praat daarvan dat jy jou besluit om met Nols te trou in heroorweging sal moet neem.”

“In heroorweging neem? Ons is reeds verloof. Wat bedoel …?”

“Verlowings word verbreek ook … en hierdie een moet liefs een daarvan wees.”

“Maria! Wat praat jy nou?” Haar man se stem klink geskok, en sy pen hom met haar oë vas.

“Wil jy my vertel, Johan, dat jy sal toelaat dat jou dogter met ’n man trou van wie ons nie weet wie hy is en wat sy oorsprong is nie?”

“Ma!”

“Wag nou, Maria. Jy is nou net ontsteld …”

“Natuurlik is ek ontsteld! Maar dit beteken nie dat my verstand ophou werk het nie. Nols Re- … Nols weet nie eens wie sy pa is nie. Hoe weet ons watter … ê … ellendes hy miskien aan sy kinders kan oordra? Oorerflike siektes en sulke goed.”

“Ma!” Hantie is op haar voete, haar oë vurig. “Daar is niks met Nols verkeerd nie!”

“Hoe weet jy? Hoe kán jy weet? Dit waarvan ons kennis dra, is in elk geval nie aanbevelingswaardig nie. Sy ma was verslaaf aan pille en het selfmoord gepleeg. Nou vind ons uit sy was boonop ’n los vrou …”

“Ma, bly stil!”

“Moet ek stilbly omdat ek die waarheid praat, Hantie? Dis feite wat ek opnoem, dan nie? En sy pa was ’n losbol wat hom oorsee uitgerinkink het en toe hy tuis kom sy rug op sy verantwoordelikheid gedraai het. ’n Swak karakter, met ander woorde. En jy wil met die kind wat uit twee sulke mense saamgestel is, gaan trou?”

Hantie voel paniek in haar opbou. Sy het nog altyd geweet haar ma is ’n snob. Sy weet egter sy staan weerloos en magteloos teen haar aantygings … want dit ís feite wat sy opnoem.

“Ma ken Nols van kleins af. As daar iets … iets swaks … iets sleg in hom was, moes dit teen hierdie tyd al uitgekom het. Ma kan niks teen hom as persoon sê nie. Gister was alles nog reg. Toe was Ma ingenome met die idee dat ek met Nols Retief van Paradys gaan trou. Maar hy is nog dieselfde mens. Hy bly die man wat ek liefhet, en ek gaan met hom trou … met of sonder Ma se goedkeuring. Ek is drie-en-twintig.”

“Hantie! Ek sal nie toelaat dat jy só met my praat nie! Reg. Gister was hy nog Nols Retief van Paradys. Maar wat is hy vandag? ’n Naamlose sonder Paradys. Daar is ’n groot verskil, weet jy?”

“Pa! Pappa …”

Hantie wend haar desperaat na haar pa, sien hoe hy met sy een hand voor sy gesig sit, stil, roerloos. “Pa …?”

Die hand sak eindelik en Johan Hefer lyk skielik heelwat ouer as net ’n paar oomblikke gelede. “My kind … miskien het jou ma gelyk. Miskien moet jy weer oor die saak nadink.”

“Pa!” Die skok en ontnugtering lê naak op die skraal gesiggie. “Ek kan sulke woorde van Ma verwag, maar Pa …”

“My kind, dit gaan nie om naam of plaas nie, nie by my nie, Hantie. Jy weet dit. Maar jou ma het ’n saak aangeroer wat ons nie sommer kan ignoreer nie. Jy moet aan die toekoms dink, aan jou kinders, Hantie. Daar kán dalk iets oorerfliks wees … Hoe sal ons weet?”

Sy veg terug … weet dis tevergeefs. “Wat van die honderde en honderde kinders wat deur mense aangeneem is? Sê nou maar ek het op ’n aangenome kind verlief geraak? Sou Pa-hulle dieselfde houding ingeneem het?”

Haar pa sprei sy hande oop. “Ek weet nie, Hantie. Ek weet regtig nie … My dogtertjie, moenie só na my kyk nie, asseblief! Ons is lief vir jou, Hantie. Ons dink aan jóú, aan jou toekoms, aan jou geluk, aan jou kinders wat jy hopelik eendag sal hê. Dis nie dat ons …”

“Laat staan maar die verduidelikings, Pa. Ek weet wat Pa wil sê.” Sy draai weg van hulle, kyk blindelings teen die skildery teen die muur vas. “Ek sal nie van Nols afstand doen nie. Julle moet dit weet. As ek en Nols nie trou nie, sal dit net om een rede wees. Net één: As hy my self in die pad steek.”

“En die risiko’s wat jy gaan loop?”

Die harde, ontnugterde oë kyk weer ’n wyle na haar ma. “Is mý risiko’s. Net myne. Ma hoef nie bang te wees nie. Ek sal nie op julle skouers kom huil of by julle om hulp kom aanklop as daar dan iets moet gebeur nie. Wees gerus.”

Dapper woorde – domastrant, ondeurdag – vir ’n meisie wat maar nog so ’n kort entjie op die lewenspad gestap het.

Soekers na die son

Подняться наверх